Sunday, January 18, 2015

Die Tweede Brief van Petrus - 01 (“God se Geregtigheid”)

1.    INLEIDING:
       Ek wil vanoggend met ʼn reeks uit die tweede brief van Petrus begin en ek gaan dit in tandem met Sagaria, waarmee ons al ʼn tyd lank besig is, preek.

2.     SKRIFLESING: 
2 Pet.1:1-2 ~ Van Simon Petrus, ’n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. 2Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!

3.    DIE SKRYWER VAN DIE BRIEF:
Die skrywer stel homself bekend as Simon Petrus. Daar bestaan heelwat meningsverskil oor wie hierdie Simon Petrus is, maar dit word algemeen aanvaar en sonder om op die tegniese redenasies in te gaan, kan ons, net soos die meerderheid teoloë aanvaar, dat dit dieselfde Petrus is wat die eerste brief van Petrus geskryf het en dat hy die apostel Petrus is. Petrus is ʼn verkleinvorm van Samuel en in Aramees is dit Sefas. Die naam Petrus beteken, “God het gehoor”. Jesus het Petrus se naam verander deur die naam Simon wat “rots” beteken, as eerste naam by Petrus te voeg – dit is dus dieselfde Petrus van wie Jesus gesê het ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18).

Petrus identifiseer homself egter nog duideliker wanneer hy sê dat hy, ’n dienaar en apostel van Jesus Christus is. Wat interessant is, is dat Petrus by die titel van “apostel”, dié van “dienaar” byvoeg en dit word doelbewus deur hom gedoen, sodat dit kan aanpas by dit wat hy so bietjie later gaan skryf.

Die woord “dienaar” het ʼn baie ryk betekenis. Petrus wil met die gebruik van hierdie benaming vir sy lesers sê dat hy reg langs hulle staan as dienskneg van die Here Jesus en dat hy derhalwe nie verhewe bo hulle is nie. Hy is m.a.w. net so gereed en bereid, soos sy geadresseerdes, om Christus se opdragte te aanvaar en te gehoorsaam.

Hierdie uitdrukking, “dienaar” of “dienskneg” (̈δοῦλος - doulos) word ook deur Petrus op alle gelowiges toegepas, daarom dat hy o.a. in 1 Pet.2:16 sê ~ Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien.

Dit is egter ook belangrik om kennis te neem van die feit dat Petrus homself in hierdie openingswoorde, identifiseer as ʼn apostel, want daarmee vestig hy die aandag op die gesag wat sy brief dra, omdat hy as gestuurde (dit is wat die benaming “Apostel” beteken) die brief aan sy ontvangers skryf, in opdrag van en met die gesag wat hy van Jesus Christus self ontvang het. Petrus skryf en preek dus nie sy eie woorde nie, maar die boodskap van die Here self – dit is bv. hoe Paulus homself aan die Galasiërs voorgestel het ~ Van Paulus, ’n apostel, en van al die broers wat by my is. Dat ék ’n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het (Gal.1:1).

Met hierdie bekendstelling van Petrus sê hy dus dat hy net soos die ontvangers van die brief, ʼn getroue, gehoorsame en gelowige dienskneg van Jesus is, maar hy sê terselfdertyd dat hy ʼn apostel is en daarom moet die lesers ag slaan op wat hy skryf – dit is in ooreenstemming met Jesus se woorde in Luk.10:16, waar Jesus Sy dissipels bemagtig het met die woorde ~ Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het – die lesers (en daarom ons ook) moet derhalwe ag slaan op die inhoud van hierdie skrywe.

4.    GROETEWOORD:
Ons vind ʼn baie interessante groetewoord aan die begin van hierdie tweede brief van Petrus. Hy spreek die ontvangers van die brief in baie algemene terme aan – hy noem hulle, ...dié wat ...dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het (v.1), maar hierdie ongeïdentifiseerde geadresseerdes, is nie maar sommer net “skimme in die lug” nie – hulle word tog wel geïdentifiseer, sonder dat daar menslike name en vanne en plekke aan hulle gekoppel word. Wie is hulle? Hulle is diegene wie dieselfde geloof as Petrus ontvang het.

Hierdie woord “ontvang” is in die Grieks, λαγχάνω (lanchanō) en in die ESV word dit vertaal met “obtain”. Ten einde hierdie woord beter te verstaan, kan ons o.a. na Luk.1:9 kyk ~ Op ’n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, 9is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand, asook Joh.19:24 ~ Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.” Dit is wat die soldate gedoen het. Hierdie gebeure in Joh.19 was natuurlik ʼn vervulling van die profetiese woorde in Ps.22:19 ~ Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel. Die gebruik van hierdie uitdrukking, “die lot werp” dui op ʼn direkte ingrepe van God self en dra nié dieselfde betekenis as om lootjies te trek of om te dobbel soos in ons moderne samelewing nie.

Hierdie kosbare geloof” wat die lesers dus ontvang het, is nie geloof wat hulle self opgeklits het nie – nee, dit is reddende en saligmakende geloof wat hulle deur God se heilige geregtigheid as genadegawe ontvang het – deur God se soewereine ingrepe en besluit dus. Paulus omskryf hierdie geloof baie mooi in Ef.3:6 ~ En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

5.    GOD SE GEREGTIGHEID:
Dit is geweldig belangrik om kennis te neem van die feit dat hierdie geloof wat aan beide Jood en heiden gegee word, uit God se geregtigheid geskenk word. Daar is twee maniere om na hierdie Griekse woord wat hier gebruik word, nl. δικαιοσύνη (dikaiosynē), te kyk. Enersyds dui God se geregtigheid daarop dat hierdie geloof wat aan Jode gegee word in dieselfde maat aan heidene gegee word – sonder onderskeid dus en net soos daar geen onderskeid tussen die geloof wat die Jode en die heidene ontvang, bestaan nie, net so bestaan daar geen onderskeid tussen die geloof wat Petrus aan die eenkant en sy lesers aan die anderkant ontvang het nie. Die geloof wat Dawid uit genade ontvang het; die geloof van Paulus; die geloof van Spurgeon, ens. is dus presies dieselfde geloof wat jy en ek ontvang het – dit gaan dus nie oor geloof om “berge te versit” nie, maar geloof wat lei tot redding en verlossing. Paulus is nie méér gered as jy nie! Petrus is nie méér gered as ek nie – ons is “ewe veel gered”!

Om hierdie uitgangspunt toe te pas op Petrus se gebruik van die uitdrukking, “God se geregtigheid, klink baie aanloklik, omdat Petrus pynlik bewus was van etnisiteit – so verwys hy bv. na Noag wat deur die vloed heen gespaar was, terwyl die heidennasies almal omgekom het. So verwys hy ook na Lot wat gered is, terwyl die goddeloses uitgedelg is (2 Pet.2:7-8). Hierdie is die een kant van God se geregtigheid, maar daar is ook ʼn anderkant.

Die ander en meer algemene faset van God se geregtigheid word vir ons baie mooi geïllustreer deur Paulus se woorde in o.a. Rom.3:25-26 sê ~ Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo. Hierdie hele saak van “geregtigheid” waarvan Paulus hier praat en natuurlik ook Petrus in die verse waarna ons vandag kyk, is van sulke wesentlike belang dat ons net eenvoudig in meer detail daarna móét kyk.

Hierdie Evangeliewaarheid, nl. regverdiging deur die geloof alleen, lê nie net aan die hart van ons allerheiligste geloof nie, maar dit behoort ook 'n bron van onuitputlike troos en sekuriteit te wees vir elkeen wat vir lewe en dood in Jesus Christus skuil. Ons het al dikwels hieroor gepraat, en vir meeste van julle gaan ek niks nuuts sê nie, maar hierdie is ʼn Skrifwaarheid wat oor en oor met mekaar gedeel móét word.

Martin Luther het gesê dat die kerk by hierdie Waarheid staan of val en ons moet baie seker maak dat ons in ons gemeente, hierdie Waarheid ook as Waarheid glo en leef, want dít bepaal ʼn gemeente se egtheid al dan nie – dit bepaal ook die egtheid van jou en my geloof – staan en val jy daarby?

Die waarheid rondom God se geregtigheid is waarskynlik – nee, is beslis dié Waarheid wat ʼn mens waarlik vrymaak en wanneer jy dit verstaan – wanneer jy dit wérklik verstaan, kan en sal jy nie meer geteister word met allerlei onsekerhede oor jou geloof en redding nie en daarom moet ons baie seker maak dat ons hierdie begrip verstaan en dat ons dit sal omhels in die geloof; dit weer en weer sal oordink en ons lewe daarvolgens sal rig.

Ek het nou net verwys na Martin Luther – hy was die baie bekende Rooms-Katolieke monnik en professor aan die universiteit van Wittenberg (1483–1546). Luther het hom verset teen die kerklike bewering dat mense van hul straf vir sondes vrygestel kon word deur “pouslike aflaatbriewe” te koop. In der waarheid is die geld eenvoudig gebruik om die geldkoffers van die pous in Rome aan te vul, en vir Luther was dit ’n ongehoorde vergryp, te meer omdat hy geglo het dat sondevergifnis slegs van God kan kom. Daarom het hy sy 95 Stellinge op 31 Oktober 1517 teen die deur van die slotkapel in Wittenberg vasgespyker.

Terwyl hy klas gegee het oor Romeine, het hy vasgehaak by Rom.1:16-17 ~ Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. 17In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe. Hy het verstaan dat hierdie twee verse die tema van die hele Romeine-boek is, en as sodanig die sleutel tot die verstaan daarvan. Oor en oor het hy die twee verse gelees en elke keer gestruikel oor die uitdrukking in v.17: "die geregtigheid van God" (OAV). Deur die Middeleeue het die Katolieke kerk geleer (en soveel hedendaagse Christene steeds) dat hierdie uitdrukking oor een van die karaktertrekke van die Here praat, naamlik dat Hy 'n God van geregtigheid is en toorn oor die sonde van mense uitspreek – dit opsigself is natuurlik nie verkeerd nie, máár daar is ʼn ander betekenis ook en in ʼn sekere sin, is dit ʼn veel swaarder gelaaide begrip.
   
As daar één kwessie was wat in Luther se hart gebrand het, was dit Job se vraag ~ ...hoe kan 'n mens regverdig voor sy Maker staan? (Job 4:17; 9:2). Hy skryf daarom in sy outobiografie dat hy mettertyd die uitdrukking begin haat het, en al hoe meer kwaad geword het vir God, want vir baie jare het hy met 'n intense sondebesef geworstel, magteloos om 'n heilige lewe te lei. Die laaste ding wat hy wou hoor, allermins van hierdie boek (Romeine) wat daarop aanspraak maak dat dit die geheim van ewige verlossing dra, was dat hy te doen het met 'n God wat algeheel onverdraagsaam is teenoor sondaars.
   
Een dag (waarskynlik in die herfs van 1514), terwyl hy in die toring van die Augustiniaanse klooster in Wittenberg worstel met die Here, en hy weer hierdie verse oor en oor lees, tref dit hom skielik dat hierdie uitdrukking in die Grieks ook ʼn ander betekenis kan hê en val die sentrale boodskap van die Romeineboek vir hom oop, nl. dat die uitdrukking, “God se geregtigheid” ook kan beteken dat God “geregtigheid” skenk – uitdeel met ander woorde! Hy skryf later n.a.v. hierdie insig: "Toe ek dit verstaan het ek wedergebore gevoel soos 'n nuwe mens, en ek het deur oop deure, God se Paradys binnegestap."

       Só het die sestiende eeuse Reformasie begin en niks sou ooit weer dieselfde wees nie en soos iemand dit eens gestel het: “Opeens is Europa se vensters oopgestoot om die sonskyn van heilswaarheid orals te laat instroom en die duisternis van die Middeleeue te verdring.” Duisende der duisende mense het hierna
(tot vandag toe) God se geregtigheid ervaar.

Om hierdie uitdrukking te verstaan moet ons terug gaan na die begin van die Woord, nl. na Adam. Adam het as hoof van die ganse mensheid opgetree toe hy in sonde geval het. Die effek van sy sonde op sy nageslag was dat hulle (ons), ʼn onveranderbare verlies aan geregtigheid gely het – die mens Adam en sy nageslag het hul geregtigheid verloor, m.a.w. die reg om gemeenskap met God te hê, maar ook die vermoë om sonder sonde te leef. Ons kan dit as volg verduidelik:
·           Eerstens het Adam sy geregtigheidsaard, of toestand van geregtigheid verloor. Hy het nou ʼn
sondige natuur, m.a.w. hy verkeer in ʼn teenoorgestelde toestand as voor die sondeval (sonde is dus die teenoorgestelde van geregtigheid) en hierdie toestand staan dan ook bekend as die erfsonde (of erfsmet) – dit wat ons van Adam geërf het en ons sien en ervaar die vrug daarvan elke dag in ons lewe (ons sondig voortdurend).
·           Tweedens het die mens sy juridiese geregtigheidstand voor God verloor. Ons noem dit ook die erfskuld, want elke mens is nou strafwaardig voor God, selfs nog voordat hy of sy 'n enkele sonde gepleeg het. Die mensheid, as nageslag van Adam, is as sodanig doemwaardig, daarom dat Artikel 15 van die Nederlandse Geloofsbelydenis o.a. sê: “Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is ʼn verdorwenheid van die hele natuur en ʼn oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is.” Hierdie feit word deur verskeie Skrifverwysings onderskryf, soos bv. Ps.51:7 ~ Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het en Joh.3:6-7 ~ Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.

       Die probleem met die erfsonde is dat dit daagliks in alle mense se lewens toeneem, soos wat die mens dag na dag self ook sondig (die sondesmet). God het egter nie die mens net aan sy eie lot oorgelaat nie – die ewige dood en verdoemenis met ander woorde. Nee, Hy het Sy Seun, Jesus Christus as "tweede mens", as "laaste Adam" (1Kor 15:45, 47) – en as Hoof van God se nuwe mensheid – na die wêreld gestuur om die effekte van die sondeval vir Sy mense op te hef (let op: Sy mense – die uitverkorenes). Hoe kan ons dit verseker weet? Kom ons blaai na Rom.5:12-21 en lees dit aandagtig saam ~ Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ’n wet is nie. 14Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. 18Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. 19Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. 20Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. 21Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.

       Wanneer 'n sondaar in alle opregtheid en erns sy volle geloofsvertroue in Christus stel, word hy of sy by wyse van spreke uit Adam uitgehaal en in Christus oorgeplant. Soos wat Adam se sonde aan ʼn sondaar toegereken, oftewel gedebiteer is, so word Christus se verdienste nou aan hom toegereken, oftewel gekrediteer.

Om te verstaan hoe Christus die probleem van ons verlies aan 'n geregtigheidstand voor God aanspreek, moet ons vir 'n oomblik oor die aard van sonde praat (ons eie sonde en ons sonde in Adam).

Alle sonde val in een van twee klasse:
·           Dit wat ʼn mens doen (wat teenstrydig is met die Woord), en...
·           Dit wat jy nalaat om te doen (nie doen wat die Skrif sê gedoen moet word).

       Ons oortree God se voorskrifte, én ons misluk om aan Sy standaarde te voldoen (ons sondes van oortreding is één ding, maar wat van al die dinge wat die Here beveel, wat ons nie doen nie? Vandat ons wederbaar is, haat ons Hom nie meer nie – en dis wonderlik - máár wat daarvan dat ek Hom nie liefhet met my hele hart en verstand en krag, soos dit hoort nie?).

Meeste van ons is deeglik bewus daarvan dat Christus met Sy vernedering en bloed betaal het vir alle sonde wat Sy mense gedoen het; doen en nog sal doen. Die straf wat Hy verduur het, het Hy as my Plaasvervanger gedoen - in my plek. My skuld is aan Hom toegereken – dit is oorgeplaas na Sy rekening, Hy is daarmee gedebiteer... en toe Hy dit betaal het, was dit die einde van my skuld!

Hoeveel van ons besef egter dat hierdie vryspraak op sigself nie genoeg is nie? Wat ek nou gaan sê is kardinaal belangrik! Indien ons net vryspraak ontvang het, was ons maar net weer waar Adam voor die sondeval was – sonder skuld. Die vraag is dus of Christus se vryspraak genoeg is? Die antwoord is, “nee”! Christus moes nog deur aktiewe gehoorsaamheid die loon verdien! Deur positiewe gehoorsaamheid moes hy toegang tot die Boom van die Lewe verkry. Nee, dis nie genoeg om God se gebooie nie te oortree nie, ons moet hulle hóú! Daar is nie net straf om te ontkom nie; daar is loon om te verwerf! Wil jy die ewige lewe beërf, dan moet jy God volkome gehoorsaam en dit is ons grootste probleem, want ons kan dit nie uit eie krag verdien of verwerf nie!

Hierdie onoorkombare dilemma van die sondegevalle mens word egter óók deur Christus aangespreek. Hý het God volkome gehoorsaam – van Sy eerste lewenslig af, tot en met Sy dood aan die kruis. Hy het nie 'n enkele sondige gedagte bedink nie; Hy het nooit enige sondige begeerte, of sondige motief vertroetel nie, want Hy was volkome, ja tot die dood toe, gehoorsaam aan Sy Vader en hierdie selfde gehoorsaamheid word aan elkeen wat waarlik glo, toegereken! Christus se volkome gehoorsaamheid word oorgeboek na sy of haar rekening wat glo! Stel dus jou geloofsvertroue in die verdienste van die Plaasvervanger, en jy word met Sy volmaakte geregtigheid gekrediteer!
 
Dít is waarvan Rom.1:17 praat as dit sê ~ In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe. Dít is die geregtigheid wat God gee. Dít is wat Luther gesien het. Dít is die essensie van regverdigmaking deur die geloof alleen.

Wat beteken dit alles? As iemand anders jou skuld namens jou betaal, skuld jy tog immers niks meer nie en dit is presies wat gebeur het toe jy God se geregtigheid ontvang het. Om te hou by die bekende boehoukundige terminologie van Paulus – in God se kasboek het jy die status van iemand wat die wet van God volkome onderhou, want God het aan jou geregtigheid geskenk – Christus se geregtigheid. Hierdie is derhalwe 'n objektiewe saak, nie 'n subjektiewe nie, m.a.w. dit gebeur buite jou (in God se boeke!), nie ín jou nie. Dit is nié 'n ervaring nie; dit is iets wat jy in die geloof moet vat - omdat God se Woord dit belowe.

Om weg van onsself te kyk, en ons oë op Christus en Sy verdienste vas te nael, is een van die eerste en belangrikste lesse wat 'n Christen moet leer. Dít is die essensie van ons geloof. Dít is dieselfde tipe geloof wat die Israeliete aan die dag moes lê toe hulle geteister was deur slange en hulle bloot net moes opkyk na die koperslang – ʼn heenwysing na Jesus Christus aan die kruis (Num.21:5-9 en Joh.3:14-15) en dít is presies wat ons moet doen – ons oë vasgenael hou op die gekruisigde; plaasvervangende, “gedebiteerde” en verrese Jesus Christus.

So baie gelowiges vasgevang in ʼn maalkolk van verwarring en selfverwyt en vertwyfeling oor sonde en allerlei vrae oor hulle eie wedergeboorte, omdat hulle nie hierdie Waarheid verstaan en vir hulleself toegeëien het nie. Dit is niks anders as ongeloof nie – ja dit is so dat talle Christene nooit hierdie Waarheid – hierdie ander faset van God se geregtigheid van die kansels af hoor nie, maar dit is nie ʼn verskoning nie – ook nie vir ons nie, want keer op keer lees ons daarvan in die Skrif!

Dit wat Adam moes, maar nie kon nie, dit het die Laaste Adam reggekry. Dit wat ons nie kan nie, dit het Jesus Christus vir ons vermag! Ons lees in Gen.3:24 van die gerubs, asook die vlammende swaard wat die toegang tot die boom van die lewe (die ewige lewe) bewaak, maar daardie selfde engele sal vir ons, wie in die geregtigheid van God ingeplant is, met ope arms inwag wanneer ons die ewigheid binnegaan – soos iemand dit eenkeer gestel het – hulle sal vir ons ʼn erewag vorm!
  
Die bekende Amerikaanse kerkleier en teoloog, Gresham Machen, se laaste woorde op sy sterfbed op 1 Januarie 1937 was: "Ek is so dankbaar vir die aktiewe gehoorsaamheid van Christus. Daarsonder is daar geen hoop nie.”

6.    AFSLUITING:
Kom ons kyk net ter afsluiting, kortliks en in die lig van ons Skrifgedeelte vanoggend, na enkele uitstaande kenmerke waaroor ons as gelowiges beskik:
·           Ontvang geloof: Hoe word ons gelowiges – deur geloof te ontvang en dan te glo, maar dit is ook God wat ons geloof in stand hou ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie (Joh.10:28).
·           Dieselfde geloof: Die geloof wat ons ontvang is niks anders as die geloof wat die Apostels ontvang het nie ~ Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het (2 Pet.1:1).
·           Lewensveranderende geloof: Die geloof wat ons ontvang, verander ons ganse lewe ~ Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here (2 Pet.1:2). Wanneer ons genade ontvang en wanneer ons vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar, is en sal ons lewens nooit weer dieselfde wees nie.
·           Reddende- en Saligmakende geloof: In en deur Christus ontvang ons vergifnis en verlossing ~ En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus (2 Pet.1:11).


Amen

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente – Sondagoggend 18 Januarie 2015