Die eerste vyf naggesigte wat Sagaria ontvang het, was
geweldig bemoedigend, want elke gesig het getuig van seën en voorspoed wat op
hande is vir Israel. Dit het getuig van die hernude teenwoordigheid van God
tussen Sy volk; die daarstelling van nuwe leiers; die voorspoed wat Jerusalem
gaan beleef; die reiniging van die mense wat gesimboliseer word deur die
reiniging van Josua die priester en ook die rol wat Serubbabel gaan speel in
die herbou van die tempel, terwyl dit alles heen wys na die groot en ewige
profeet en priester, Jesus Christus en dit is Hy wat die Heilige Gees in
oorvloed aan Sy kinders gaan skenk soos bevestig in Joh.14:16-17 ~ Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir
julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik
die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom
nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in
julle sal wees.
Ons sal egter nou in die volgende drie gesigte sien dat, voor
die wonderlike simboliek en beloftes van die vyfde naggesig ʼn realiteit kan
word, nl. die Heilige Gees wat die Kandelaar van olie sal voorsien, sal beide
die volk en die land eers gereinig moet word van alles wat hulle besmet met
sonde en ʼn wig indryf tussen hulle en God. Die volgende drie naggesigte (5:1-6:8), is dus
gesigte van oordeel en daarom moet ons na al drie gelyktydig kyk.
Ons lees in Jes.48:10 ~ Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer
gelouter word nie, Ek het jou gelouter in die smeltkroes van ellende.
Ons sien dus dat die ballingskap die geleentheid aan die Israeliete
gebied het om die hulle geestelik te reinig, maar ons sien ook in Jer.6:29 dat
hulle steeds nie volkome gereinig was nie ~ Die blaasbalk blaas, maar die vuur kry nie
die lood afgeskei nie; die smelter smelt verniet, hy kry die afvalstowwe nie
uitgesmelt nie. Kom ons kyk in ons eerste gedeelte van ons
Skriflesing vir vandag wat hierdie lood – hierdie onsuiwerhede was.
2. DIE VLIEËNDE
BOEKROL (5:1-4):
·
Skriflesing:
Sag.5:1-4
~ Ek het
weer ’n gesig gesien. Daar was ’n boekrol wat in die lug sweef. 2Die
engel het vir my gevra: “Wat sien jy?” en ek het gesê: “Ek sien ’n boekrol wat
in die lug sweef. Dit is nege meter lank en vier en ’n half meter breed” [...sy lengte is twintig el en sy breedte tien
el (OAV)]. 3Toe sê die engel vir my:
“Dit is die vervloeking wat oor die hele aarde strek, want elke dief het tot
nou toe ongestraf gebly, en elkeen wat ’n vals eed aflê, het tot nou toe
ongestraf gebly.” 4Ek stuur die vervloeking, sê die Here die
Almagtige. Dit sal in die dief se huis ingaan, en in die huis van dié wat in my
Naam ’n vals eed aflê. Dit sal daar bly en die huis verwoes, hout en klip,
alles.
Weereens hef Sagaria sy oë op en hierdie keer sien hy ʼn vlieënde
boekrol. Hierdie boekrol was groot (20 el lank en 10 el breed = omtrent 9 meter by 4,5 meter) en
volgens die engel wat die gesig verklaar, het die boekrol ʼn vloek gesimboliseer
wat oor die land uitgestuur word. As ons na Deuteronomium kyk, sien ons dat ʼn
vloek, die gevolg daarvan is, wanneer God se verbondswet verbreek word ~ As
jy nie luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nie al sy gebooie en
voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al
hierdie strawwe oor jou kom en jou tref (Deut.28:15).
Ons moet onthou dat die verbond wat by die Sinai gesluit was,
altyd ʼn belofte van seën ingehou het, maar ook die belofte van straf as daar
nie gehou word by die verbond nie.
Die volk was waarskynlik op hierdie stadium ná die ballingskap
houtgerus, want hulle herbou dan die tempel – hulle doen die regte ding in
hulle oë – hulle maak weer ʼn woonplek vir die Allerhoogste in hulle midde en as
hulle dit doen, sal die Here hulle weer seën soos wat Hy dan belowe het in die
voorafgaande gesigte. Ongelukkig het hulle nie besef of onthou, dat hulle ook
hul harte moes herbou (vernuwe)
en heelhartig terugkeer na die voorwaardes van die verbond nie. Die
gevolg hiervan was ʼn reuse boekrol waarin die voorwaardes van die verbond
uiteengesit is en dit is groot genoeg geskryf, sodat dit duidelik gelees kon
word. Hierdie boekrol is ook teken van God se gesag wat oor die volk hang en
roep hulle op tot verantwoording oor hulle sonde, veral hulle diefstal en
meineed (of te wel
leuens). Hierdie twee sondes wat aan weerskante van die boekrol geskryf staan
(soos die kliptafels
van die wet), het die straf op daardie sondes bevat en die een was in
ooreenstemming met die derde gebod (Eks.20:7 ~ Jy
mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie) en die ander het
die vloek bevat vir oortreders van die agste gebod (Eks.20:15 ~ Jy mag nie steel nie).
Die inwoners van Jerusalem en omgewing was verarm a.g.v. die
ballingskap en het gesukkel om finansieel kop bo water te hou, maar dit was
geen rede om te steel nie en omdat hierdie sonde ʼn oortreding van die
voorwaardes van die verbond was, was dit nie alleen sonde teen medeburgers nie,
maar sonde direk teen God ook.
Die grootte van die rol is ook baie betekenisvol en daarvoor
moet ons na 1 Konings 6:3 blaai ~ Die voorportaal aan die voorkant
van die tempel was tien meter lank, net so lank as wat die tempel breed was.
Die breedte daarvan was vyf meter. Die vlieënde boekrol het derhalwe
presies dieselfde afmetings as dié van die voorportaal van die tempel. Ek het
gesê dat die grootte van die vlieënde boekrol betekenisvol was, omdat die
voorportaal van die tempel juis die plek was waar die priester regsprake (oordeel) gelewer
het. Die implikasie van hierdie ooreenstemmende groottes, is dan dat die volk,
terwyl hulle die tempel herbou, hulle terselfdertyd aandag moet skenk aan die
gemeenskapsonde in hul midde. Hulle kan nie die tempel herbou en verwag dat God
steeds met hulle in ʼn verbondsverhouding moet staan soos in die tyd van die
tempel van Salomo, indien hulle voortgaan en blatante verbondsoortredinge in
hul midde toelaat nie. Die regte vorm van aanbidding vereis dus die regte
leefwyse in die oë van die Here en as dit nie die geval is nie, sal God se
teenwoordigheid in hulle midde nie een van verbondseën wees nie, maar een van
verbondsvervloeking.
In v.3 sien ons egter ook dat die Here in elk geval die diewe
en diegene wie vals ede aflê, gaan straf en die woorde wat hier gebruik word,
nl. ...dit sal
daar bly en die huis verwoes, hout en klip, alles, is in ooreenstemming
met o.a. Lev.14:33-57 wat handel oor ʼn huis wat besmet is met muf en na ʼn
poging deur die priester om dit te reinig, nog steeds besmet is – so ʼn huis moet
in geheel afgebreek word en al die boumateriaal moet op ʼn onrein plek buite die
stad gegooi word. Op dieselfde wyse sal diewe en leuenaars, geen plek vind waar
hulle kan wegkruip nie – hulle sal verwoes word, want in God se oë sal
oortreders van die verbond (hulle wie volhard in sonde) nie ongestraf bly nie.
Daar is twee vrae wat ons sal moet beantwoord:
·
Waarom word hierdie twee spesifieke sondes
uitgelig en die antwoord hierop is waarskynlik omdat dit die twee mees algemene
sondes in Israel op daardie stadium was, maar hierdie twee is verteenwoordigend
van alle ander sondes en dit impliseer dat Israel skuldig is aan die verbreking
van die hele wet. N.a.v. Jak.2:10 is iemand skuldig t.o.v. al die gebooie
indien hy struikel t.o.v. selfs net een van die gebooie.
·
Wat word ten diepste bedoel met hierdie twee
sondes (diefstal en
meineed)? Was dit regtig net so eenvoudig, of het dit meer as net bv. gewone
diefstal geïmpliseer?
Wanneer Sagaria praat van “steel” is dit ʼn ander manier om te
sê dat jy jou naaste benadeel. Net so met meineed - meineed is niks anders as ʼn
blatante miskenning van die heiligheid van God nie. Hierdie twee sondes is dus
net ʼn ander manier om die hele wet en die profete op te som, soos wat Jesus in Matt.22:37-40
gedoen het, toe Hy gereageer het op een van die Fariseërs wat Hom gevra het wat
die grootste gebod is en Hy geantwoord het... ~ Jy moet die Here jou God liefhê met
jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit
is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee
gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele
wet en die profete saamgevat.
3. DIE
VROU IN DIE GRAANMANDJIE (5:5-11):
Die
volgende gesig (die sewende) is baie nou verwant aan die vorige gesig. In hierdie gesig
sien Sagaria ʼn graanmandjie en dit het ook te doen met die verwydering van die
boosheid onder die volk.
·
Skriflesing:
Sag.5:5-11 ~ Die engel wat vir my die gesigte moes
uitlê, het vorentoe gekom en vir my gesê: “Kyk daar! Kyk wat kom daar aan.” 6Ek
het gevra: “Wat is dit?” en hy het gesê: “Dit is ’n graanmandjie wat aankom.”
Hy het bygevoeg: “Dit bevat die sonde van almal op aarde.” 7Toe word
die ronde looddeksel van die mandjie opgelig, en daar sit ’n vrou binne-in die
mandjie! 8Die engel het gesê: “Dit is die goddeloosheid!” Hy het
haar teruggestamp in die mandjie en die looddeksel oor die bek toegeklap. 9Toe
sien ek twee vroue aankom wat met vlerke op die wind sweef, vlerke soos dié van
’n groot sprinkaanvoël. Hulle het die mandjie opgetel en is daarmee die lug in.
10Ek vra toe die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: “Waarheen
gaan hulle met die mandjie?” 11Hy het geantwoord: “Hulle gaan vir
die mandjie ’n huis bou in Sinar. As dit klaar is, sal die mandjie daar op die
plek gesit word waar hy hoort”.
In die gesig wat gehandel het oor die boekrol, is die boosheid
verwyder d.m.v. oordeel, terwyl in hierdie gesig van die vrou in die mandjie, word
afsnyding gebruik om sonde te verwyder.
Nadat die deksel van die mandjie opgelig is, sien Sagaria ʼn
vrou binne-in die mandjie. Net soos die geval met die boekrol is ook hierdie
mandjie baie groter as normaal en beweeg die mandjie oor die land en dit dui op
die wydverspreidheid van sonde onder die volk en die feit dat die vrou aanvanklik
verberg is, mag moontlik daarop dui dat die sonde wat hier ter sprake is, sonde
is wat weggesteek word en nie so duidelik sigbaar is vir die algemene publiek
nie – wat nie openlik bedryf word nie. Wat sou hierdie sonde wees?
Die betekenis van hierdie sonde blyk nie duidelik uit die
onmiddellike konteks nie, behalwe dat die woord mandjie in die Hebreeus, ʼn אֵיפָה [ʾeyphah,
of (verkort), ʾephah /ay·faw/] is. Die OAV is dan ook so
vertaal, asook die meeste Engelse vertalings, nl. dat ʼn “efa” te voorskyn gekom
het. Wat is ʼn “efa”? ʼn “Efa” is ʼn maathouer waarmee graan en meel gewoonlik
afgemeet is, bv. in Rut.2:17 ~ En sy (dit is Rut) het
op die land opgetel tot die aand; en toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was
dit omtrent ’n efa gars. ʼn “Efa” was gelykstaande aan nagenoeg 22
liter. Hierdie “efa” was dikwels deur handelaars misbruik om kliënte mee te
verneuk (soos ʼn skaal
wat nie ge-yk is nie). In Amos 8:4-6 sien ons hoe dat Amos hieroor kla
en in v.5 sê hy ~ ...Ons laat die skaal mos kul soos ons wil!”
Mense wat hul kliënte op so ʼn manier verkul kan maar net beskryf word as boos
en dit is presies wat die vrou in die graanmandjie vir ons wil uitbeeld, nl. boosheid.
Nadat die vrou aan Sagaria gewys is, slaan die engel die
deksel van die mandjie toe en dan sien hy twee vroue figure met vlerke soos die
van ʼn sprinkaanvoël of ʼn ooievaar wat die mandjie wegdra na Sinar, of te wel
Babilon. Babilon was die plek waar die Israeliete vantevore betaal het vir
hulle boosheid. Hierdie boosheid in die mandjie wat op die huidige Israel dui,
word dus weggevoer na ʼn plek waar boosheid hoort, nl. Babilon – die sonde word
afgesny en weggestuur na ʼn plek wat voorberei is daarvoor. Die enigste manier
om met sonde te handel, is om dit met wortel en tak uit te roei; af te sny; te
verseël en “weg te stuur”.
Hierdie twee gesigte klink na slegte nuus, maar dit was ten
diepste baie goeie nuus, want God het hierdeur aangetoon dat Hy steeds nie Sy
kinders sal verwerp a.g.v. hul boosheid nie, dat Hy Sy verbondgesag sal gebruik
om sonde op twee maniere onder die volk uit te roei, nl. oordeel en verwydering
– Hy sal Sy wraak uitstort oor diegene wie hulle nie bekeer nie en Hy sál
daardie sonde verwyder uit die midde van die volk en ware aanbidding sal weer
gevestig word in die midde van die volk. Hierdie belofte van die Here is in
ooreenstemming met Ps.103:12 ~ So ver as die ooste van die weste af is, so
ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af, asook Jes.43:25 ~ En tog is
dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer
aan jou sondes nie.
4. DIE PERDE
EN STRYDWAENS (6:1-8):
Die agste en finale naggesig wat Sagaria ontvang, was dié van
vier strydwaens. Ons sal sien dat hier baie interessante ooreenkomste met die
eerste naggesig bestaan, want in beide is daar sprake van gekleurde perde en
beide eindig met ʼn prentjie van wêreldwye vrede, maar daar bestaan tog ook
bepaalde verskille, want in die eerste naggesig was daar perde, maar nie
strydwaens nie. In die eerste het die perde ingekom om verslag te lewer, terwyl
in hierdie laaste naggesig is die perde angstig om te vertrek. Die kleure en
volgorde van die perde verskil ook in beide hierdie gesigte.
·
Skriflesing:
Sag.6:1-8
~ Ek het weer ’n gesig gesien. Daar
was vier strydwaens wat tussen twee berge uitgekom het, berge van koper. 2Voor
die eerste strydwa was bruin perde en voor die tweede swartes. 3Voor
die derde was wit perde en voor die vierde skimmels. 4Ek het vir die
engel wat vir my die gesigte moes uitlê, gevra: “Wat beteken dit, Meneer?” 5Hy het vir my gesê: “Die
strydwaens het gestaan voor Hom aan wie die hele aarde behoort. Nou gaan hulle
in die vier windrigtings. 6Die strydwa met die swart perde gaan
noord, dié met die wittes gaan agterna, en dié met die skimmels gaan suid.” 7Toe
die skimmel perde wegtrek, wou hulle die aarde deurkruis, maar eers toe die
engel sê: “Spring weg, deurkruis die aarde!” het hulle dit gedoen. 8Die
engel het vir my geskree: “Kyk, dié wat noord gaan, bring die Gees van die Here
daarheen!”
Die feit dat hier sprake is van strydwaens, dui vir ons of op
militêre aktiwiteite, of op ʼn koninklike optog, of beide en in hierdie gesig is
dit wel lg. – die koning is in aantog, maar die krygers op die strydwaens is
gereed om enige oomblik hul pyle af te vuur. Die beeld van ʼn strydwa, of
strydwaens word ook dikwels gebruik om God as die Almagtige Koning en Kryger
uit te beeld ~ For behold, the Lord will come in fire And His chariots like the whirlwind, To render
His anger with fury, And His
rebuke with flames of fire (Jes.66:15 – ESV).
In v.5 sien ons dat hierdie strydwaens aan die Here behoort en
die feit dat hier sprake is van vier strydwaens is om die vier windrigtings te
simboliseer waarin hulle uitgestuur gaan word – oor die wêreld heen. Hierdie
perde en strydwaens wag vir die Here om te sê: Spring weg
en toe hulle die Here hoor sê, spring weg (v.7), toe spring
hulle weg en hulle het die wêreld deurkruis soos wat die opdrag gelui het! Niks
word egter gesê van die ooste nie en ook nie van die bruin perde nie.
Die perde wat na die noorde gaan is op ʼn wraaktog en ons weet
dit omdat daardie perde swart is – hulle missie is om al die volke wie se
aanvalle altyd vanuit die noorde gekom het, se mag te verbreek en te straf –
die skimmelperde gaan suid om Israel se ou vyand, Egipte te straf (waarskynlik is daar geen
sprake van die bruin perde nie, omdat hulle hulself reeds uitgewoed het teen
Babilon en Persië wat in die ooste geleë was).
V.8 dui daarop dat die werk afgehandel is, die volk se sonde is
veroordeel en God se oordeel rus op die onbekeerdes en die boosheid is verwyder
onder die volk en laastens rus God se oordele op die aangrensende nasies – die
vyande van Israel is gestraf (plaaslik en internasionaal) – God se heiligheid en soewereiniteit
vier dus hoogty en nou kan God se Gees rus, maar ook God se volk.
5. TOEPASSING:
Twee onmiddellike teologiese waarhede staan vir ons baie
duidelik uit in hierdie laaste drie naggesigte wat Sagaria ontvang het:
·
God is voorwaar soewerein en in beheer van die
wêreld se geskiedenis (ook
van ons land) en hoor net wat sê Jesaja hieroor ~ Dink aan wat vroeër gebeur het,
lank gelede; Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos
Ek nie. 10Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al
wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil,
doen Ek (Jes.46:9-10).
Hy is inderdaad Koning van die nasies soos Openb.15:3 dit bevestig!
·
Tweedens is God ʼn heilige God wat sonde nie
ongedaan laat nie – ons lees in Ps.115:5-6 die volgende ~ Die Here onderskei tussen
regverdige en goddelose. Wie geweld liefhet, haat Hy. 6Hy laat vuur
en swael reën op die goddeloses, ’n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle
sal drink. 7Die Here is regverdig. Hy het die mense lief wat
regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees.
·
Derdens gaan Dawid voort in Ps.115:7 en lig hy
vir ons ʼn derde eienskap van God uit, wat ook duidelik blyk uit Sagaria se
laaste gesigte, nl. God se genade oor die ootmoediges (hulle wie hul bekeer van hul sonde) ~
Die Here
onderskei tussen regverdige en goddelose. Wie geweld liefhet, haat Hy. 6Hy
laat vuur en swael reën op die goddeloses, ’n skroeiende wind: dit is die beker
wat hulle sal drink. 7Die Here is regverdig. Hy het die mense lief
wat regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees.
·
Vierdens is Christus Jesus die oorwinnaar, nie
net oor sonde nie, maar ook oor die vyand en is Hy die Heerser oor die ewige Koninkryk.
Ons sien hierdie feit regdeur die Nuwe Testament uitgespel, maar ook duidelik
in hierdie naggesigte van Sagaria, maar regdeur die eeue heen ontken soveel
mense dit, of sien hulle dit net nie raak nie, omdat die Heilige Gees hulle
geestesoë nie geopen het nie.
Iets waarna ons egter tog moet kyk, is
die feit dat Sagaria hierdie bemoedigende nuus van die Here ontvang het en die
Israeliete was bemoedig, maar tog, nagenoeg 500 jaar na Sagaria het die volk
nog steeds gebuk gegaan onder buitelandse onderdrukkers, want na die Persiërs (Sagaria se tyd) het die Grieke oorgeneem en na die Grieke,
die Romeine – hoe moet ons dan nou hierdie gesigte verstaan en hoe moet ons die
teologiese waarhede wat voortspruit uit hierdie gesigte verstaan, as dit dan
oënskynlik nie gebeur nie?
Gedurende die eerste eeu na Christus, onder
die Romeinse heerskappy was hierdie verwagting vir ʼn politieke verlosser
alreeds so groot, dat die volk onmiddellik aanvaar het dat Jesus hierdie
verlosser is wat die Romeinse onderdrukking d.m.v. ʼn revolusie of wat ook al
sou stopsit. Hierdie verwagting word bevestig deur Lukas in Luk.19:11 ~ Terwyl die mense na Jesus geluister het, het
Hy nog ’n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het
die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom.
Selfs Jesus se dissipels het ure of dalk selfs minute voor Sy hemelvaart nog so
ʼn verwagting gehad ~ Toe hulle ’n
keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd
dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”
(Hand.1:3).
Die Ou Testament het hierdie verwagting
aangewakker deur bepaalde profesieë wat die meerderheid van die volk nie
verstaan het nie – bv. Jes.52:7 ~ Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van
hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding
bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” Die Jode het deur die eeue heen geglo dat
hierdie Een van wie Jesaja geprofeteer het, hulle van politieke onderdrukking
sou verlos, maar vandag weet ons, met die lig wat Heilige Gees aan ons gee, dat
hier van Jesus Christus die ewige Verlosser gepraat word wat die sonde verlos
van die Israeliete en ook die sonde van die geslagte en volke daarna, wie in
Hom sou glo – Hy wat versoening tussen God en die uitverkorenes kom
bewerkstellig het.
Ja, Jesus het gekom om ook die magte van
hierdie wêreld omver te gooi – Hy hét die Babiloniese- en die Persiese- en
uiteindelik die Romeinse onderdrukkers omver gegooi, maar primêr het Jesus die
bose magte oorwin en gaan hulle aan die einde van die tye finaal verslaan word
en na die geestelike Babilon gevonnis word – Jesus Christus se missie was nie
net plaaslik nie, ook nie net nasionaal, of selfs internasionaal nie – nee, dit
was kosmies van aard, want Jesus het gekom om die boosheid wat agter elke
onderdrukker verskuil staan, te oorwin – ook dié (en laat ek dit maar uitspel) wat agter ʼn Hitler en ʼn Verwoerd en vele
ander gestaan het en nog in die toekoms sal staan – óók die van die “Islamic
State of Iraq” (IS of ISIS), die
Taliban en vele ander – ook individue wat ongeregtigheid, vyandskap, haat,
tweespalt, ens., in ons lewens saai.
Jesus het in en deur Sy dood én
opstanding, reeds die oordeel en doodsvonnis oor die vyand en alle boosheid uitgespreek
en die dag van afrekening kom teen ʼn duiselingwekkende spoed nader ~ Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle
in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus
mee te voer (Kol.2:15)!
Waar staan ek en jy wat hierdie sake
betref? Is ons daar waar Christus jou ook gaan oordeel? Is jy ook ʼn oortreder
van die verbond – die nuwe verbond, of is jy deel van hulle wie glo in Jesus
Christus as kosmiese Regter, maar ook as liefdevolle en genadige Verlosser wat
vir jou sonde aan die kruis op Golgota gesterf het en weer opgestaan het?
Laastens – Oordink en top ek en jy
voortdurend aan en oor ons swaarkry en onaangename situasies – is dit waar ons
fokus voortdurend is, of is ons fokus gefikseer op die toekoms – op die
oorwinning wat Christus vir ons deur Sy kruisdood en Sy opstanding en Sy
hemelvaart bewerkstellig het – op Rom.8:37 ~ Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir
ons liefhet?
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 14 Desember 2014