Thursday, December 25, 2014

Die Essensie van Jesus se Maagdelike Geboorte

1.     SKRIFLESING:
       Luk.1:26-38 ~ In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ’n maagd in Nasaret, ’n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” 29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” 34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?” 35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, ’n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ’n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.” 38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.
 
2.     TEKSVERSE:
       Luk.1:34-35 ~ 34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?” 35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek.

3.     INLEIDING:
       Ons vier vandag die geboorte van Jesus Christus die Verlosser en Koning en wanneer ons die Christusfees vier, gaan dit oor veel meer as bloot net skaapwagters; ʼn baie spesiale ster wat oor Bethlehem gehang het; oor Wyse manne uit die ooste; ʼn krip in ʼn stal, ens. Daar is soveel ander aspekte wat ons met mekaar moet en kan deel op hierdie spesiale dag – so sien ons o.a. een ander baie belangrike aspek van Jesus se vleeswording in ons Skriflesing en dit is dat Hy uit ʼn maagd gebore was en dit is op hierdie aspek dat ek ons aandag vanoggend wil vestig.

       Die vraag wat by die ongewone en ongeredde man op straat (en moontlik ook talle gelowiges) bestaan, is waarom nou juis ʼn maagd? Was dit werklik nodig dat Jesus uit ʼn maagd gebore moes word?

       Ons hoor gedurig en veral die afgelope paar jaar en spesifiek vanuit Post-Moderne kringe, dat Jesus nié uit ʼn maagd gebore was nie, of dat dit nie belangrik is nie. Ek sê die afgelope paar jaar, maar eintlik is dit iets wat al vir jare, trouens vir eeue deur mense gesê word. Satan weet ook dat die Skrifwaarheid t.o.v. van Jesus se maagdelike geboorte ʼn essensiële waarheid is wat hy ten alle koste moet teëstaan, want wanneer mense dít in twyfel begin trek, het hy as die vyand gewen.

       Reeds tydens Jesus se aardse bestaan het Hy te doen gehad met hierdie vertwyfeling en selfs openlike oortuiging by mense, nl. dat Hy nie uit ʼn maagd gebore is nie ~ Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?” (Joh.6:42). Toe die Jode, Jesus wou doodmaak en Hy in Joh.8 ʼn gesprek met hulle gevoer het, het hulle o.a. vir Hom gesê ~ Julle doen wat julle vader gedoen het.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net die een Vader, naamlik God” (Joh.8:41). Hulle het dus reguit vir Jesus gesê dat Hy ʼn buite-egtelike baba was en daardeur Sy maagdelike geboorte verwerp. Baie mense het deur die afgelope eeue (en selfs vandag nog) geglo dat Jesus ʼn buite-egtelike kind van ʼn Romeinse soldaat was (Bethlehem was op die hoofroete van die Romeinse soldate wanneer hulle op kruistogte vertrek of terug gekeer het). Daar bestaan nog verskeie ander legendes oor wie Jesus se biologiese pa nou regtig was, maar die primêre doel met sulke standpunte en verduidelikings (tot vandag toe), is primêr om die waarheid t.o.v. Jesus se vleeswording en Sy aanspraak dat Hy die Verlosser is, te verwerp en verdag te maak.

4.     WAAROM DIE MAAGDELIKE GEBORE?
       Behalwe dat Jesaja in Jes.7:14 geprofeteer en gesê het ~ Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem [(OAV) let op die NAV wat alreeds die maagdelikheid van Maria tot ʼn mate wegvertaal het], moet daar tog ʼn rede wees waarom Jesus uit ʼn maagd gebore moes word – ten einde dit te beantwoord, moet ons terugblaai na Genesis 3 en ons lees daar van die sondeval – Adam wie se sonde aan sy nageslag toebedeel is (daarom ook ons, omdat ons almal nageslag van Adam is) ~ Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!” 23Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is. 24Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ’n vlammende swaard wat heen en weer beweeg (Gen.3:22-24). Later in Gen.6:5 lees ons die volgende ~ Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was... en dan staan daar verder in v.7 geskryf ~ ...Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.” God het die volste reg gehad om dit te doen en omdat Hy ʼn heilige God is, haat Hy sonde en iemand wat volhard in sonde, het God nie lief nie en staan derhalwe skuldig voor God. Dit is daarom duidelik dat die gevalle mens ʼn reddingsplan nodig gehad het, want die mens self kan nie ʼn verlosser voorsien nie en daarom moes die Verlosser van God kom.

       Dit was verder nodig dat Jesus uit ʼn maagd gebore sou word ten einde daardeur God se ingrepe in die mens se redding te beklemtoon, geen wonder dat Maria in v.34 vir die engel gesê het ~ ...Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?”, waarop die engel haar geantwoord het met ~ ...Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek (v.35).

       Waarom kon die Joodse hoëpriester, of enige ander mens nie ʼn offer gebring het, of steeds bring, om hierdie erfsonde voor God te bring en vergifnis vir die volk (vir ons) te vra nie? Waarom was ʼn Verlosser wat uit ʼn maagd gebore moes word, nodig om versoening tussen God en die gevalle-mensdom te bewerkstellig? Omdat Paulus in 1Tim.2:5 sê ~ Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus. Wat Paulus dus hier sê is dat daar geen ander wyse is as om deur Christus met God die Vader versoen te kan word en met die Vader gemeenskap te kan hê nie, maar dit impliseer veral, dat nét Christus versoening vir ons sonde kan doen – daar is dus net een manier om gered te kan word en dit is deur Jesus Christus, daarom dat Hyself ook in Joh.1:12 gesê het ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

       Ons moet egter nog steeds die vraag beantwoord, waarom dan ʼn maagdelike geboorte?
·           Eerstens het ons gesien, dat die mensdom verlossing, of redding nodig gehad het – redding en verlossing wat geen sondeoffer deur ʼn hoë priester of watter mens ook al, kon bewerkstellig nie – redding en versoening was nodig wat geen mens, maar net God kon bewerkstellig, daarom was dit nodig dat Jesus Christus as Hoë Priester moes kom, om hierdie offer aan die Vader te bring.
·           Tweedens, was die maagdelike geboorte nodig ten einde die bo-natuurlike van die koms van Jesus te beklemtoon – dit was nie maar net ʼn gewone menslike daad nie – dit was bo-natuurlik; dit was God self wat Sy Seun na die wêreld gestuur het. Sy lewe het met die bo-natuurlike, met die Goddelike begin, nl. die maagdelike geboorte en dit sou afgesluit word met die bo-natuurlike, met die Goddelike, nl. die opstanding uit die dood.
·           Derdens moet ons verstaan dat die erfsonde en die verlore toestand van die mens (alle mense), van geslag tot geslag oorgedra is [Adam se sonde wat tot gevolg gehad het dat alle mense verlore is – Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het (Rom.5:12)]. Ten einde die erfsonde te kanselleer en uit die weg te ruim, was die maagdelike geboorte nodig, want daardeur was die Vader van die Seun wat gebore sou word, sondeloos (omdat Hy God self is) en sodoende kon die sonde tot die dood nie verder oorgedra word nie (daardie “DNA” is afgesny, omdat die Vader ʼn heilige God is en sonde derhalwe nie verder oorgedra kon word nie).
·           In die vierde plek, was die maagdelike geboorte noodsaaklik, sodat dit duidelik kon blyk, dat hierdie gebeurtenis uit God se inisiatief voortgespruit het. Dit is waarom Hyself in Luk.1:31 die aankondiging gemaak het ~ Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. God het nie toestemming van Maria of enige iemand anders gevra nie – dit is Hy wat soewerein opgetree het, ten einde Sy volk van hul sondes te verlos (Matt.1:21).
·           Laastens dui die maagdelike geboorte van Jesus daarop dat Hy ten volle mens, maar terselfdertyd, ten volle God is ~ Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Joh.1:14).

5.     AFSLUITING:
       Jesus se maagdelike geboorte is krities belangrik vir die Christelike godsdiens en Bybelse teologie, want dit beskerm die aard van Christus as Mens en God. Hy moes van God gebore gewees het ten einde Seun van God te wees. Hy moes terselfdertyd uit ʼn vrou gebore word, ten einde Seun van die mens te kon wees en daarom het hierdie genadige wonderwerk, terselfdertyd die mens Maria en God die ewige God, bymekaar gebring en word die God-mens, Jesus Christus gebore. Hierdie aard van Jesus om beide God en Mens te wees lê aan die hart van die Christelike geloof, want as ons die Goddelikheid van Jesus ontken, het die Christendom geen bestaansreg nie

       Om die maagdelike geboorte van Jesus te verwerp, is om Jesus se goddelikheid te verwerp. Net so belangrik dit is om Christus se goddelikheid te bevestig deur die opstanding, net so belangrik is dit om Sy goddelikheid te bevestig deur die maagdelike geboorte en om Christus se goddelikheid te verwerp, is om Christus Jesus as tweede persoon van die Drie-Enige God te verwerp ~ Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is. 2Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. 3En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is (1Joh.4:1-3).


       Ons vier vandag die geboorte van Christus Jesus en daarom bring ons eer aan God in hierdie dag, want... ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie” (Joh.3:16-18).

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Donderdag 25 Desember 2014