Sunday, March 2, 2014

Die Boodskap van Daniël - 14 (“Goeie nuus, slegte nuus. Goeie nuus, slegte nuus”)

1.     INLEIDING:
       Wanneer iemand wat sy doktorale studies gedoen het oor die kwantumteorie, aan my begin verduidelik presies wat  hierdie teorie behels, sal hy nog nie eens ’n tweede keer asem geskep het nie, dan het hy my reeds “verloor”. Wanneer ’n mens na vandag se Skrifgedeelte kyk, nl. die tweede gedeelte van Daniël 9, kan jy bloot by die deurlees van hierdie gedeelte dalk presies net so voel – jou kop draai reeds met die lees van die tweede vers, want jy verstaan daar niks van nie en dit maak hoegenaamd nie sin nie en jy besef ook dat hier ’n resep is vir massiewe misleiding en kan ’n mens jouself net indink wat alles met hierdie verse gemaak kon word vanuit ’n eskatologiese oogpunt (eskatologie = die leer van die laaste dinge).

       Ons kan en mag egter nie hierdie gedeelte maar bloot net oorslaan omdat dit ’n menslik gesproke onverstaanbare teks is nie, want Paulus sê tog immers in 2 Tim.3:16-17 ~ Die hele Skrif (dit sluit dus elke vers en elke jota en tittel in) is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. Ons kan dit dus waag om in afhanklikheid van die Heilige Gees hierdie gedeelte te lees en Hom te vertrou dat Hy hierdie gedeelte vir ons sal “oopmaak”.

Ek wil my egter net vir ’n oomblik in die rede val en iets baie kortliks verduidelik n.a.v. ’n vraag wat Riaan en Jeanne my verlede week ná die boodskap gevra het. Die vraag was: Indien Daniël die volk se sonde bely het en God gehoor gegee het aan Daniël se pleitrede en die volk vergewe het en herstel het as volk in Israel, impliseer dit dus dat ek bv. vir my verlore kind kan bid; sy sonde voor die Here bely en vra om vergifnis en dat die Here hom/haar dan sal vergewe? Die kort antwoord hierop is ja en nee! Wat bedoel ek? Ons moet eerstens verstaan dat Israel, God se verbondsvolk was en daar derhalwe ’n baie unieke verhouding tussen God en Sy volk bestaan het, met profete en leiers deur wie Hy tot die volk gepraat het en deur wie die volk met Hom kon praat; daar was bv. Hoë Priesters wat namens die volk sondebelydenis gedoen het en dit is hulle vergewe ens. Aan die anderkant bestaan daardie unieke situasie nie t.o.v. ons volk en nasie nie en is die Nuwe Verbond geskoei op ander voorwaardes en beloftes waarop ek nie nou wil ingaan nie, maar eerstens moet ons besef dat elke individu sy eie sonde voor die Here moet bely en hom daarvan bekeer. Wat ons wel kan doen, is om enersyds bv. ons kind se sonde voor God te bely (te noem – die VAW vertaal dit o.a. met “jou oortuiging openlik verklaar”) en Hom te vra om daardie kind onder sondebesef te bring, sodat daardie kind sy sonde kan herken, erken en bely en hom daarvan bekeer. Ons kan egter andersyds ook die Here vra om Sy genade oor daardie kind uit te stort deur die gevolge van sy sonde, gering te hou – soos John Piper bv. saam met sy vrou gepleit het dat sy rebelse seun (voor sy bekering) net nie ’n meisie swanger sal laat raak nie, want dit is bepaalde straf op sonde wat daardie kind die gevolge van sou moes dra, selfs al sou hy (wat wel gebeur het) later tot bekering kom. As jou kind bv. homoseksueel is en derhalwe in sonde is, kan jy steeds jou kind se sonde voor die Here bely en Hom vra om jou kind genadig te wees, deur hom van sonde en straf en geregtigheid te oortuig, maar ook dat hy bv. nie HIV/vigs sal opdoen terwyl hy in sonde is nie. Terug na ons Skrifgedeelte egter.    
 
2.     GOEIE NUUS, SLEGTE NUUS (vv.19-23):
Ons moet steeds in gedagte hou dat Daniël besig was om tot die Here te bid en sondebelydenis te doen t.w.v. die volk, toe hierdie visioen tot hom gekom het.

Ek het gesê dat Daniël se gebed die konteks vorm vir die visioen wat hy ontvang het en terwyl hy die profesie van Jeremia oor die terugkeer van die volk na Israel in Jer.31:31-33 lees, bid hy vir die vervulling van hierdie belofte van God deur Jeremia. Hy moes opgewonde gewees het en vol afwagting en hoop vir ’n wonderlike en geseënde tyd wat voorgelê het vir hom en sy volksgenote – ’n tyd van gehoorsaamheid aan God en ’n  tyd van ’n hernuwing van God se verbond met Sy volk. Hy het waarskynlik ook in sy geestesoog die herbou van die tempel gesien en ’n volk wat God in waarheid en opregtheid weer aanbid.

       Ons sien in vv.19-23 dat Daniël onmiddellik, trouens terwyl hy nog bid, ’n antwoord op sy gebed ontvang ~ Terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en by die Here my God pleit vir sy heilige berg, 21terwyl ek nog so aan die bid was, het Gabriël, die man wat ek die vorige keer in die visioen gesien het, by my aangevlieg gekom. Dit was die tyd van die aandoffer. 22Hy het my kom inlig en vir my gesê: “Daniël, ek het gekom om jou deeglik in te lig. 23Toe jy met jou smeekgebed begin het, is daar ’n antwoord gegee, en ek het gekom om dit vir jou te vertel, want God het jou lief. Gee dus ag op wat ek sê, sodat jy die visioen kan verstaan.

       Terwyl Daniël bid, verskyn die Engel Gabriël aan hom. Wat meer is, die engel sê in v.23 vir Daniël dat sy gebed verhoor is, omdat die Here hom lief het.
      
       Die koms van die Engel Gabriël na Daniël het verder daartoe bygedra dat die visioen wat hy gaan ontvang, vir hom geïnterpreteer sal word deur Gabriël self en dan veral vv.24-27, waar dit spesifiek gaan oor Jerusalem en die tempel wat herbou gaan word.

       Hier gaan in hierdie visioen ’n reeks van opeenvolgende goeie en slegte nuus weergegee word. Die eerste stuk slegte nuus is dat die herbou van die stad en tempel gepaard sal gaan met swaarkry, maar die goeie nuus is dat die lang verwagte Messias binnekort sou kom en Hy sou spesifiek na Jerusalem kom. Die heel beste nuus is egter dat die Messias die finale offer vir sonde sou bring, maar daarop gaan daar egter weer slegte nuus volg, nl. dat baie van die volk hierdie aanbod van vergifnis van sonde gaan verwerp en daarom sal die stad Jerusalem en die tempel weer verwoes word. Ons vind dus ’n reeks van goeie nuus en slegte nuus en goeie nuus en slegte nuus en dit is die opsomming van die visioen wat Daniël ontvang.

3.     SEWENTIG TYDPERKE (vv.24-27):
       Verse 24-27 lei tot wyd uiteenlopende interpretasies. Sonder om in detail daarop in te gaan wil ek net vinnig die eerste twee noem en dan sal ons by die derde standpunt stilstaan wat ek en ander Gereformeerdes deur die eeue, handhaaf. Kom ons lees egter net eers v.24 ~ Daar is sewentig tydperke vir jou volk en vir jou heilige stad vasgestel. In dié tyd sal daar aan die goddeloosheid en die sondes ’n einde gemaak word en sal daar versoening gedoen word vir die oortredinge. Dit is die tyd waarin ’n blywende geregtigheid tot stand gebring sal word, waarin die profesie en die visioen tot vervulling sal kom en die tempel heringewy sal word.

·           Eerstens is daar die groep wat reken dat hierdie visioen dui op die tydperk van Antiochis IV wat beskou word as die Antichris van die Ou Testament – hy het as koning tussen 175
en 164 v.C. geregeer oor die Siriese deel van die Alexandrynse Ryk.
·           Tweedens is daar die groep wat beweer dat hierdie visioen heenwys op die eerste koms van Christus en dan op die ou end,  spesifiek op die gebeure “aan die einde van die dae”.
·           Derdens verwys hierdie visioen na die koms van Christus; die afhandeling van Sy soendood en die verwoesting van Jerusalem en die tempel wat sou volg op die verwerping van Hom as Messias deur die massas. Aanvanklik sal Daniël die fisiese herbou van die Jerusalem en die Tempel sien, maar die Engel gaan hom lei om verder as bloot net die fisiese te kyk – hy wil Daniël se geestesoë ook verlig en hom lei om uiteindelik die dieper betekenis van hierdie visioen te sien.

       Die tydperk waarvan hier gepraat word, is een van sewe tydperke, of letterlik, “sewentig sewetalle” soos die OAV dit vertaal (v.25)., ofte wel sewentig maal sewe jaar wat gelyk is aan 490 jaar (Lev.25:8; 26:34). Aan die einde van hierdie 490 jaar sal ses dinge plaasgevind, of tot vervulling gekom het (die sg. “terminus ad quem” – dit wat te doen het met Christus se eerste Advent – 4 weke voor die koms van Christus):
·           ’n Einde sal gemaak word aan goddeloosheid (v.24).
·           ’n Einde sal gemaak word aan sonde (v.24).
·           Versoening sal gedoen wees vir oortredings (v.24).
·           Blywende geregtigheid sal tot stand gebring word (v.24).
·           Die profesie en visioen sal tot vervulling kom (v.24).
·           Die Tempel sal gesalf word (v.24).

       Wat hierdie laaste punt betref het ons gesien dat die NAV van v.24b as volg lees ~ ...en die tempel (sal) heringewy sal word. Die OAV lees as volg ~ om wat hoogheilig is, te salf. Die NKJV vertaal dit nog beter en wel met ~ ...And to anoint the Most Holy. Die NAV is dus hier uiters (om die minste te sê) verwarrend vertaal, omdat hier nie verwys word na die fisiese Tempel nie, maar na die geestelike soos verpersoonlik deur Christus. Wat meer is, die Hebreeuse woord “salf” of “salwing” word vertaal met Messias en die Griekse woord met “Christos” – ’n duidelike verwysing dus na die Here Jesus Christus en nié na die tempel soos baie mense beweer nie. Daar bestaan ook geen gronde vanuit die Woord om te sê dat die herboude Tempel, wat in elk geval weer in 70 n.C. verwoes is, gesalf sou moes word nie, maar wel Christus Jesus – Hy is dus die Tempel wat gesalf sal word.

       Dit blyk uit hierdie gegewens baie duidelik dat hierdie visioen van Daniël dus gaan oor die werk van Christus en is v.24 dus ’n oorsig oor die volle sewe tydperke.

4.     NEGE-EN-SESTIG TYDPERKE (v.25):
       In v.25 kry ons met ’n wiskundige probleem te doen en kom ons kyk of ons dit uitgewerk kan kry ~ Jy moet nou goed verstaan, vandat die opdrag gegee is dat Jerusalem herstel en herbou moet word, totdat ’n regeerder kom wat deur God uitverkies is, sal sewe tydperke wees. Twee en sestig tydperke lank sal Jerusalem opgebou bly, met strate en verdedigingslote, maar dit sal moeilike tye wees.

       Ek het netnou gesê dat ons hier met ’n wiskundige probleem te doen het, maar dit is so ’n ingewikkelde berekening dat ek Donderdagoggend die hele oggend vas gesit het en “somme” van alle kante af gemaak het. Daar is eers volgens Daniël en n.a.v. Jer. 33:7, gedurende die helfte van die vierde eeu v.C. begin met die herstel van Jerusalem tot haar volle prag en glorie en dit het volgens v.25, 7 tydperke geduur (49 jaar) – dit bring ons by 401 v.C. Trek ons nou 62 tydperke af (434 jaar) bring dit ons by 33 n.C. – die jaar waarop daar bereken word dat Christus gekruisig is en dit klop alles baie mooi, maar twee dinge is belangrik om hier in gedagte te hou – die eerste nie so belangrik nie, nl. dat 450 v.C. ’n geskatte datum is, maar dan die heel belangrikste – ons praat hier van 69 tydperke, terwyl v.24 verwys na die “voltooide verbondsjubileem” wat na Christus verwys, nl. 70 tydperke. Wat het geword van daardie een tydperk (7 jaar) wat net “weg” is?

       Ek het in my soeke, tien  kommentare geraadpleeg en die enigste gevolgtrekking waartoe ek kon kom, is dat niemand regtig weet wat hierdie getalle behels nie, en hoe ons hierdie een “verlore tydperk” moet verklaar nie, soveel so dat kommentators deur die bank sê dat hierdie gedeelte die moeilikste gedeelte in die ganse Ou Testament is om te verklaar en tog is daar ’n moontlike verklaring, maar later meer daaroor.

       Die tragiese rondom hierdie uiters ingewikkelde teologiese vraagstuk waarop geen teoloog van statuur dit wil waag om ’n “bo-alle-twyfel-uitspraak” te lewer nie, is dat die Dispensasie teoloë (Charismate-/Pinkstergroepe/wegraping, ens.) nou kom en hulle bou hul hele “duisendjarige vrederyk-teorie” op hierdie “verlore een jaar” (dit word die “gap-theory” genoem) – dit is om dit liggies te stel, uiters onverantwoordelike teologie en omgaan met die Woord van God, om nou hulle eie verklaring te gee, deur (eenvoudig gestel) te sê dat hierdie een tydperk, verwys na 7 jaar en dit is ’n volheidsgetal en daarom wys dit op die sg. “duisendjarige vrederyk”. Hierop wil ek egter nie nou ingaan nie, omdat die tyd dit nie toelaat nie en dit nie die fokus van vandag se boodskap is nie.

       Wat moet ons dan maak met hierdie vers? Wat ons wel kan sê, is dat ons weer hier te doen kry met slegte en goeie nuus. Die eerste sewe tydperke wat aangekondig word is God se onmiddellike reaksie op Daniël se gebed, nl. dat die stad Jerusalem wel binnekort herbou sou word. Jeremia se profesie van herstel sal dus na sewentig jaar, gedeeltelik vervul word, maar Daniël word deur Gabriël daarop voorberei dat die tyd tydens die restourasie van Jerusalem en die daaropvolgende twee-en-sestig sewes, ’n tyd van swaarkry en beproewing gaan wees en Jerusalem sal nie die volkome veiligheid ervaar wat Jer.33:16 suggereer nie ~ In daardie dae sal Juda gered word en Jerusalem sal onbesorg woon en genoem word: Die Here verskaf reg aan ons. Dit beteken dus dat die Messiaanse Regeerder, Jesus Christus eers Sy verskyning sal maak aan die einde van die nege-en-sestig sewes- tydperk!
       Hoe hierdie tydperke waarvan die engel Gabriël getuig dan ook al uitgerol moet word, sê hy vir Daniël dat die beloofde Messias aan die einde van hierdie tydperke sal kom. Hier in v.25 word verwys na Christus as die Regeerder en daarmee koppel Gabriël, Christus aan die profesie wat Miga tweehonderd jaar vantevore gebring het ~ Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede! (Miga 5:1). Daniël het net soos die res van die Jode uitgesien na die koms van die Messias en hier sê die engel vir Daniël wanneer Hy gaan kom – net so hartseer dat die Jode, jare later, nie Jesus herken het toe Hy wel gekom het nie!

5.     DIE KOMS VAN DIE MESSIAS, DIE GESLAFDE (v.26)
In v.26 volg daar weereens slegte nuus vir Daniël ~ Aan die
einde van die twee en sestig tydperke sal ’n regeerder onskuldig doodgemaak word. Die stad en die heiligdom sal verwoes word deur die volk van ’n ander regeerder wat op die toneel sal verskyn. Die einde sal kom soos ’n oorstroming; daar sal oorlog wees tot die einde toe, rampe soos besluit is.

       Gabriël maak aan Daniël bekend dat die lang verwagte Messias gedood gaan word na die nege-en-sestig sewes, of te wel na nagenoeg 483 jaar. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word is כָּרַת [karath /kaw·rath]. Wat letterlik beteken om gewelddadig te sterf, wat natuurlik op Jesus se kruisdood dui en hierdie is ’n bevestiging van Jesaja se profesie in Jes.53:8 ~ Terwyl hy gely het en gestraf is, is hy weggeneem, en wie van sy mense het dit ter harte geneem dat hy afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is gestraf oor die sonde van my volk.

       Dit is tragies as ’n mens daaraan dink dat die dissipels nie hierdie profesie in herinnering geroep het toe Jesus gesterf het en hulle uitsigloos en hartseer was nie! Hulle moes Daniël baie goed geken het en hulle het selfs dieselfde naam vir Jesus gebruik, nl. Messias, die Gesalfde Een – ’n naam wat net twee keer in daardie spesifieke Hebreeuse vorm in die ganse Ou Testament gebruik is, nl. in Ps.2:2 en dan ook in Dan.9:25. Petrus het bv. hierdie selfde Hebreeuse naam gebruik toe Jesus vir hom in Matt.8:27-29 gevra het wie die mense sê Hy is.

       Daar word egter nog slegte nuus met Daniël gedeel, nl. dat die stad en die heiligdom, of te wel die Tempel weer gedurende hierdie tyd waarvan die engel praat, verwoes gaan word deur ’n ander volk en leier en ons weet teen hierdie tyd dat hier verwys word na die Romeinse Ryk en Nero en spesifiek na generaal Titus wat Jerusalem tydens die Paasfees binne geval het en volgens historiese getuienis (die geskiedskrywer Josefus) is meer as 600 000 Jode gedood.

6.     DIE NUWE VERBOND:
       Die vorige slegte nuus word egter nou weer opgevolg met goeie nuus in v.27 (OAV) ~ En hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.

       Hier in v.27 staan ’n paar dinge vir ons uit:
·           Hier is o.a. sprake van ’n ooreenkoms wat aangegaan word;
·           Die afskaffing van offerandes;
·           ’n Ding wat ’n gruwel in die oë van God is, asook die oordeel oor die verwoester.

·           ’n Ooreenkoms:
Wie is die “een” (die OAV praat van “regeerder”) waarvan hier in v.27 sprake is? Is dit die “wêreldheerser” van die “Dispensasie teologie”, want hulle bou hulle teologie rondom die “wêreldheerser”, of die “Antichris” om v.27 – of is dit iemand anders? As ons na die konteks kyk, sien ons dat daar van v.24 tot v.26 gepraat word van Jesus Christus as Regeerder en Gesalfde – hierdie hele gedeelte is dus Messiaans van aard en daarom kan dit nie anders nie as dat v.27 ook verwys na Christus.

Wat is hierdie verbond wat Christus dan nou oënskynlik aangegaan het en is hierdie week wat hier ter sprake is dalk die verlore week waarvan ons vroeër gepraat het? Hierdie verbond wat hier ter sprake is, is die verbond wat Christus gesluit het in die tyd wat Hy hier op aarde was, met diegene wat hul geloof in Hom geplaas het – Hy het dus Sy Nuwe Verbond met alle gelowiges kom bevestig in hierdie tyd, nl. die genade verbond, deur Sy bloed aan die kruis te stort.

·           Die afskaffing van offerandes:
       Gedurende hierdie tydperk wat Jesus dan Sy Nuwe Verbond kom bevestig het, het Hy ook ’n einde gemaak aan die Ou Verbond en daarom het die slagoffer en spysoffer opgehou – Sy bediening op aarde het dan ook presies die helfte van een week periode geduur, nl. drie en ’n halwe jaar.

       ’n Vraag wat onmiddellik ontstaan, is nou wat van die laaste drie en ’n halwe jaar? Dit wil lyk asof Daniël dit in die lug laat hang, maar ons moet enersyds verstaan dat arme Daniël dit self baie moeilik ervaar het om hierdie profesieë te verstaan, daarom dat daar in Dan.12:8-9 die volgende staan ~ En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge? En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe. Die “tyd van die einde” – Openb.5:1-5 verskaf vir ons groter duidelikheid oor hierdie tweede gedeelte van die week in v.27 ~ In die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek ’n boekrol gesien wat aan die voor- en aan die agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël was. 2Toe het ek ’n sterk engel gesien wat met ’n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?” 3Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 4Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 5Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak” (Openb.5:1-5). Die seëls was ontsluit en die inhoud van Openbaring was onthul – iets wat Daniël nie in sy tyd kon sien of ervaar nie. Openb.12 vertel dan vir ons wat gedurende die tweede helfte van die sewe dae van Dan.9:27 gebeur het. Daardie tydperk is vervul gedurende die eerste eeu, kort na Jesus se hemelvaart en wel in 70 n.C.

·           ’n Gruwel in die oë van God:
       Omdat die Jode nie Jesus as die Messias herken en erken het nie, het  Hy toegelaat dat die Tempel en daarmee saam die hele Jerusalem vernietig word en natuurlik soos reeds gemeld, derduisende Jode.

7.     AFSLUITING:
Wat beteken hierdie Skrifgedeelte vir ons in ons dag?
·           Ons kry hier ’n pragtige blik op die samestelling van die kanon van die Bybel. Ons sien hoe dat verskeie profesieë mekaar ondersteun  en bevestig – bv. Jeremia en Daniël.
·           Ons het ook gesien dat gebed (in hierdie geval Daniël en gebed) ’n fundamentele verband tussen die lees van die Skrif en gebed daarstel. Na die mate dat ons kennis van God deur die lees van die Woord verdiep, sal ons gebedslewe ook verdiep.
·           Met die lees van Daniël en dan spesifiek hierdie gedeelte in Daniël 9 sien ons hoe God se verhaal deur die eeue heen ontvou.
·           Hierdie Skrifgedeelte van vanoggend wys net soos die res van die Ou Testament, pragtig heen na Christus Jesus.
·           Dit is baie duidelik (vertrou ek)  uit vanoggend se prediking (en dit word bevestig deur die geskiedskrywes van die wêreld) dat God ’n baie spesifieke tydsrooster vir die wêreld se geskiedenis het en dat Hy uiters getrou by Sy tydskedule hou en dat Jesus Christus aan die einde van hierdie tydskedule weer sal kom om diegene wie teen Hom gerebelleer het te veroordeel, maar om ook genade te betoon teenoor diegene wie die knie voor Hom gebuig het.
·           Al werk God noukeurig volgens Sy plan, gebruik Hy nogtans mense soos Daniël en Petrus en Jeremia en my en jou, om hierdie plan ten uitvoer te bring – al is dit ook net as ek en jy teenoor iemand anders getuig van God se goedheid in ons lewe.

·           Al het duisende Christus destyds verwerp en miljoene Hom steeds verwerp, het Hy Sy verbond met alle gelowiges herbevestig en hierin lê hoop vir die ergste sondaars in hul donkerste oomblikke. Al het ons op die ergste moontlike manier teen God gesondig, is daar hoop vir ons; is daar vergifnis beskikbaar vir elkeen van ons; is daar redding en uiteindelike verheerliking wat wag op elke gelowige – dit is waarom Paulus in 1 Kor.6:9-11 die volgende sê ~ Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. 11En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 02 Maart 2014