Wednesday, March 12, 2014

Deel 1 van 'n kort reeks oor PINKSTER

Die Oorsprong, Betekenis en Tekens van Pinkster



Ons vier binnekort Pinkstersondag, vyftig dae na die opstanding van Jesus Christus of dan tien dae na sy hemelvaart. As ons na die Pinkstergebeure, soos dit in Handelinge 2 beskryf word, sien ons dat  die Heilige Gees, die sentrale Persoon van die Goddelike Drie-Eenheid is in hierdie gebeure.

Die Heilige Gees en sy werk is ongetwyfeld dié Persoon van God van wie ons normaalweg die minste weet.

•   Ons weet dat die Gees van God ons voorsê wat om te doen, en dat Hy ons Leidsman is (Hy lei ons), maar presies hoe dit alles gebeur, is tot ’n groot mate vir ons ’n misterie.
•   Ons weet ook dat baie teologiese strominge, baie onbybels omgaan met die Heilige Gees, of anders gestel, baie kerke se teologiese leer oor die Heilige Gees verskil hemelsbreed van mekaar, of as julle wil, van ons s’n – tot so ’n mate dat baie se uitlewing daarvan grens aan en dit kan selfs geëtiketteer word, as geesdrywery.
•   Baie teologiese strominge meet ook gelowiges se volheid van die besit of van of vervulling met die Heilige Gees, aan o.a. die spreek van vreemde tale en die implikasie vir mense wat nie in tale spreek nie, is dat hulle nog nie die vervulling van of doop met die Heilige Gees ontvang het nie.
•   Hierdie kerke grond hulle standpunt op die Pinkstergebeure waarna ons binnekort sal kyk.

Wat moet ons verstaan onder die Pinkstergebeure en waarom was die Pinkstergebeure nodig?

As ons dIt wil beantwoord, moet ons baie ver terug gaan en wel na Gen.11:1 ~ EN die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde. Hiermee saam vv.5-9 ~ Toe daal die Here neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het. En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie. Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie. So het die Here hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou. Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die Here die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde verstrooi.

Na die Sondvloed (Gen.6) het die mense almal dieselfde taal gepraat en terselfdertyd het die getal mense op aarde ook weer toegeneem, maar terselfdertyd het hulle, hul al meer en meer verset teen God.

Noag se nageslag het  in die omgewing van die berg Ararat gebly en wel in die Sinearlaagte tussen die Eufraat- en Tigrisrivier. Terwyl hulle hier gewoon het, het hulle van boos tot boser geraak en wel tot so ’n mate dat hulle uiteindelik besluit het om ’n toring by Babel te bou – die stad waar hulle almal byeen wou bring.

Die bou van hierdie toring was ’n rebelse optrede teen die opdrag van God in Gen.1:28 om die aarde te vul – Noag se nageslag wou die mensdom, met die bou van hierdie toring, op een plek hou, nl. Babel om sodoende vir hulleself ’n groot naam te maak en ook om te verhoed dat die mense oor die aarde heen verstrooid sou raak – dIt terwyl God die mensdom juis oor die aarde heen wou versprei.

Waarskynlik nog erger was die feit dat die mense, met die bou van die stad en toring, misbruik gemaak het van hul gawes, en was hulle reeds weer besig om die gesag van God te misken en om te doen wat hulle self wou – presies dit wat die duiwel vir Adam en Eva in die Paradys aangebied het.

God sien die mense se ongehoorsaamheid en hulle verwaandheid en daarom besluit Hy om hulle taal te verwar en hulle sodoende uitmekaar te dryf ten einde oor die aarde te versprei. God verdeel dus die mense deur aan verskillende groepe, verskillende tale te gee om te praat. Hierdie handeling van God (nl. om die mense se taal te verwar) het onmiddellik plaasgevind. Die feit dat daar verskillende volke en tale is, is dus vir ons ’n voortdurende herinnering aan die tyd toe al die mense teen die Here in opstand gekom het, en dat die Here hulle op die manier gestraf het (en ly ons nie vandag nog steeds onder die gevolge van daardie sonde nie!).

God het dit o.a. om drie redes gedoen:
·         Om hulle eenheid en gemeenskaplikheid te verbreek.
·         Om hulle arrogansie en ongehoorsaamheid te straf.
·         Om Sy wil vir hulle te vervul, nl. om die aarde te vul.

Onmiddellik nadat God ingegryp het, is die bou van die toring beëindig en het die mense uit mekaar getrek. God laat Hom dus nie dwarsboom deur mense se sonde ten einde Sy wil te vervul nie.

God het egter nie volstaan met hierdie gebeurtenis en sondegevallenheid van die mense of te wel volke nie. Hy was en is nog altyd ’n genadige God en daarom gebeur daar letterlik en figuurlik gesproke, twee aardskuddende gebeurtenisse:
·         God stuur Sy Seun as Verlosser na die aarde om vir die wat in Hom glo, vergifnis van sondes te bewerk.

’n Belangrike vraag ontstaan egter nou – hoe moes die volke wat oor die aarde heen versprei is, hierdie Goeie Nuus hoor – nuus wat hulle nodig gehad het, want onthou hulle is oor die aarde heen versprei; hulle is weggestoot van God se aangesig op grond van hul arrogansie en eie sonde – hulle verkeer dus nog steeds in rebellie teen God – hulle is van God verlate.

Dit bring ons dus by die tweede gebeurtenis wat God laat plaasvind het:
·         Tweedens, God stort Sy Heilige Gees uit – ’n gebeurtenis waarvan daar verskeie profesieë en beloftes gemaak is.

Die uitstorting van die Heilige Gees is alreeds in die Ou Testament geprofeteer deur Joël ~ Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien (Joël 2:28) en v.29 gaan Joël voort deur te sê dat die Heilige Gees oor alle geslagte en ouderdomme uitgestort sal word ~ In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie.

Johannes die Doper sê dat die Heilige Gees sou kom ~ Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 12Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand. (Matt.3:11-12). Die Doper sê dus dat Jesus Sy volgelinge gaan doop met Sy Gees, omdat Jesus self nooit mense met water gedoop het nie, kan dit dus nie anders dat hierdie doop dui op die uitstorting van die Heilige Gees.

Jesus belowe dit egter ook in ~ Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. 27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie (Joh.14:25-27 – sien ook 15:26 & 16:7).

Die uitstorting van die Heilige Gees was egter ook ’n historiese gebeurtenis – ’n gebeurtenis wat in die teenwoordigheid van duisende ongelowige Jode en waarskynlike ander heidene ook plaasgevind het – hoor wat het op daardie dag gebeur – slegs tien dae na Jesus se hemelvaart (Hand.10:10-11) ~ Toe die dag van die “Pinksterfees” aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. 5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.” 12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?” 13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk” (Hand.2:1-13). Die verslag van hierdie gebeurtenis gaan natuurlik voort tot en met v.42.

Wat belangrik is, is om te let op al die verskillende taalgroepe of te wel volke wat op daardie dag in Jerusalem byeen was en wat hierdie gebeurtenis beleef het – wie m.a.w. getuies van hierdie gebeurtenis was:
•    Parthers
•    en Meders
•    en Elamiete
•    en die inwoners van Mesopotámië,
•    Judéa
•    en Kappadócië,
•    Pontus
•    en Asië,
•    Frigië
•    en Pamfílië,
•    Egipte
•    en die streke van Líbië by Ciréne,
•    en Romeine wat hier vertoef,
•    Jode en Jodegenote,
•    -Kretense
•    en Arabiere

Hoor weer wat het al hierdie verskillende volke in vv.6-8 gesê en ek haal aan uit die Nuwe Lewende Vertaling [die NLV is vandag (12 Maart 2014) deur die Bybelgenootskap bekendgestel is in die Paarl – nie dat ek nou gereeld hieruit gaan aanhaal nie, omdat dit oor die algemeen nie ’n goeie vertaling is nie] ~ 6Die geluid van die stromwind en die stemme het ’n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het. 7Hulle was heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe is dit moontlik?” het hulle uitgeroep. “Almal wat hier praat, 8is Galileërs, en tog hoor ons hulle in ons moedertaal praat! (Hand.2:6-8).

Hierdie was ’n wonderlike gebeurtenis en het nagenoeg 3000 jaar ná die bou van die toring van Babel plaasgevind en waar Babel, tale onverstaanbaar gemaak het en mense gedwing het om uit mekaar te spat, verenig die Pinkstergebeure volke en tale op een dag deur die ingrepe van God Almagtig en kan alle mense een persoon se gesprek verstaan, soos wanneer daar getolk word.

’n Verdere merkwaardige feit waarna ons vlugtig moet kyk, is wat in Hand.10:1 vermeld word, nl. dat hierdie gebeurtenis tydens die “Pinksterfees” plaasgevind het. Pinkster was ’n geweldig belangrike fees op die Joodse kalender.

Ons lees veral in Lev.23:15-21 van die “Pinksterfees”. Die “Pinksterfees” vind plaas, presies vier maande voor die Loofhuttefees in die sesde maand, of te wel die maand van Sivan wat tussen Mei en Junie val. Dit is die maand waartydens die koringoes afgehandel is. Gedurende die maand Sivan vind die tweede Feesseisoen plaas, nl. die “Pinksterfees” – ook bekend as die Fees van die Werke. Tydens hierdie fees moes die Jode verskeie offers gebring het, waarvan die belangrikste, die “Beweegoffer” was (Lev.23:20). Die Jode beweer ook dat God die Wet aan Moses gedurende hierdie fees aan hulle gegee het en daarom kan hierdie fees ook gesien word as die ontstaan van Judaïsme (die Joodse geloof), omdat die Joodse geloof hoofsaaklik wentel om die Wet van Moses.

Tydens hierdie fees, is daar sprake van twee brode.  Die eerste brood het die volk van God verteenwoordig, terwyl die tweede brood verteenwoordigend was van die heidene (Eng. = "gentiles").  Waarom is hier ’n tweede brood in die offerproses gebruik?  So vroeg as Sinaï het God al vir die volk Israel laat verstaan dat hulle nie die alleenreg op God het nie en dat God ook heidene onder Sy genadeverbond insluit.  Die Jode was egter blind vir hierdie faset van God se genade – soveel so dat selfs die Jode wat Christene geword het gedurende die eerste eeu na Christus, gesukkel het om hierdie feit in die gesig te staar, daarom dat God in Hand.10 en 11 aan Petrus verskyn het en aan hom ’n gesig gewys het (die doek wat uit die hemel neergelaat en opgetrek is), nl. dat die heidene ook ’n plek in die Koninkryk van God het en dat hy wat Petrus is, asook die ander Apostels, hul bediening en verkondiging van die Woord moet uitbrei na die heidene en dat die opdrag in Matt.28:19-20, nl. ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het, nie net op die Jode van toepassing was nie, maar op alle mense – ook die heidene.

Terwyl Moses die Wet van God ontvang het, het iets tragies onder die volk plaasgevind.  Toe Moses van die Berg af terugkeer, het hy gevind dat die volk afvallig geraak het en dat hulle ’n goue kalf gemaak en aanbid het en terselfdertyd het hulle ’n uitspattige fees gevier – hulle rig dus ’n heidense beeld op om as plaasvervanger vir God te dien.  Op daardie dag het 3 000 Israeliete gesterf as gevolg van hul beeldaanbidding (Eks.32:28) – hierdie getal is baie belangrik om te onthou, want ons sal later weer na hierdie getal verwys (interessant die voorkoms van die getal 3000 wat kort voorkom, nie waar nie?).

Nog ’n interessante ritueel rondom hierdie fees, is dat die Jode (tot vandag toe nog), tydens die fees, die verhaal van Rut voorlees. Hulle doen dit om ’n paar redes. Eerstens vorm hierdie verhaal ’n pragtige agtergrond vir die oestyd wat in die maand Sivan plaasvind, want  Rut het ook die oes beleef en dit is dus ’n baie geskikte verhaal vir die oestyd.  Tweedens vertel hierdie verhaal ook van Rut die heidense vrou, wat die God van Israel leer ken en liefkry het, deur Naomi haar skoonmoeder, wat ’n Jodin was.  Die Jode sien dus uit na die dag wanneer Jood en heiden, God saam sal dien en aanbid deur middel van die Messias-Verlosser.  Verder trou Boas, wat ’n "tipe-Christus" is, met die heidense vrou Rut om daardeur ook die heidene in te sluit by die "heilige lyn" wat uiteindelik tot by Christus sal lei – Rut, die heidense vrou, word nie net ingesluit in die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie, maar word ook voorgeslag van Dawid en uiteindelik Jesus Christus die Verlosser – en tog verstaan die Jode dit nie – tot vandag toe nie!

Tydens hierdie “Fees van die Weke”, word daar ook sewe skaaprammetjies sonder gebrek geoffer, asook ’n jong bul en twee ramme.  Ten einde die volk se afhanklikheid van God te demonstreer, moes die twee brode en die twee lammers as “Beweegoffer” aan die priester gegee word om geoffer te word.  Hierdie “Beweegoffer” is so genoem omdat die priester dele van die offervleis en graan wat geoffer moet word, in die lug "waai" (heen en weer beweeg – Eks.29:24, 26, 27; Lev.7:20-34; 8:27; 9:21; 10:14,15, ens.) as toewydingsimbool teenoor God.  Dit word dus ’n aanneemlike offer vir God, omdat Hy die offer aanvaar en daarop die voedsel wat geoes is seën en ook die volk se sondes vergewe.  Nog ’n rede waarom die priester die vleis en graan rondbeweeg, is dat die volk kan sien dat die vleis en graan geoffer word.  Die oorblywende vleis en graan kom die priesters toe as voedsel.

Behalwe dat niemand moes werk op die dag wat die offers gebring is nie, moes elke boer ook nog die wenakkers (daardie gedeelte aan die punt van die land, waar die osse omdraai) se graan op die lande gelos het, sodat die armes en die vreemdelinge daardie are kon optel vir hulleself.  Dit is dan ook hier op die wenakkers dit Boas vir Rut raakgesien het.

Met hierdie opdragte ten opsigte van die "Beweegoffer" en die wenakkers, is daar deur die volk ook voorsien in die priesters, armes en vreemdelinge se materiële behoeftes.

Christus het egter hierdie fees vervul - hoe het Hy hierdie fees vervul?  In Joh.12:23-24 sê Jesus ~ Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in.  Jesus praat hier van Homself as ’n menslike koringkorrel wat gaan sterf vir die sondes van die wêreld.  Ons weet dat Jesus volkome geregverdig was (sonder sonde en in ’n volmaak heilige verhouding met God) en juis omdat Hy volmaak en sonder sonde was, het die dood en die hel geen houvas op Hom gehad nie (Openb.1:18).  Die wonderlike is verder dat Jesus as Eersteling uit die dood opgewek is ("die Fees van die Eerstelinge") en presies vyftig dae na SY opstanding, is die Heilige Gees uitgestort – dit is presies op dieselfde tyd dat die Jode in Jerusalem byeen was vir die “Pinksterfees”, of te wel die “Fees van die Weke”!

Die uitstorting van die Heilige Gees het op presies dieselfde dag plaasgevind waarop die Jode die twee brode geoffer het.  Op daardie dag het 3 000 Jode onder die prediking van Petrus tot bekering gekom!  In plaas van die 3 000 wat sterf in die woestyn a.g.v. hulle sonde, red die Here nou 3 000 op hierdie selfde gedenkdag! 

Ons het ook gesien dat hierdie gebeure in Sinaï die geboorte van die Judaïsme was, maar hier op Pinksterdag, terwyl Petrus preek, vind die geboorte van die Nuwe Verbond en daarmee saam die geboorte van die Nuwe Testamentiese kerk plaas!  Die Ou Verbond met al sy feeste en seremonies is afgesluit.  Die Judaïsme wat gebaseer is op die Wet van Moses word vervang met ’n godsdiens wat gebaseer is op Christus Jesus se soendood en God die Vader se genadeverbond.

Die vervulling van die “Beweegoffer” waar twee brode heen en weer beweeg is en wat beide die Jode en die heidene verteenwoordig het, vind ons in die samevoeging van beide Joodse gelowige en heidense gelowige, deur die Heilige Gees in die Bruid van Christus - die Nuwe Testamentiese Kerk. 

Iets waarna ek vantevore al verwys het, was die feit dat hierdie twee brode nie ongesuurde brode was nie, maar brode met suurdeeg.  Die betekenis hiervan is natuurlik dat die kerk nie onbesproke is nie, trouens dit is vol sonde.  Ons sien dit in Lev.2:11 ~ Geen graanoffer wat vir die Here aangebied word, mag suurdeeg in hê nie. Julle mag geen suurdeeg of heuning verbrand as ’n vuuroffer vir die Here nie.  Die Nuwe Testamentiese kerk sal ook nie sonder sonde wees, tot en met Christus se wederkoms nie (Ef.5:27).

In die Ou Testamentiese “Fees van die Weke”, is daar tesame met die brode wat geoffer was, ook verskeie vleisoffers gebring en hierdie offers is almal vervul deur die offer wat Christus aan die kruis gebring het.

As Jesus nie gekruisig was en weer opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel nie, sou die Heilige Gees nie uitgestort gewees het nie.