Sunday, February 2, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 27 (“Moses die Geloofsreus”)

1.     SKIRFLESING:
            Hebr.11:23-29 ~ Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy ’n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie. 24Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. 25Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. 26Die smaad ter wille van die Christus het hy ’n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het. 27Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien. 28Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie. 29Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.

2.     INLEIDING:
       Moses was ’n fenomenale mens – die Jode beskou hom as die grootste van alle mense en die grootste profeet van alle tye. Hy was meer as eenkeer in die teenwoordigheid van God soos geen ander mens ooit was nie (die brandende doringbos – Eks.3:2; op die berg Sinai – Eks.19, ens.). God het direk met Moses gepraat – dit is waarom sy gesig gestraal het toe hy van die Sinaiberg afgekom het, nadat hy veertig dae in die teenwoordigheid van God was (Eks.34:29)

       Moses was ook indirek die Israeliete se wetmaker, want bykans al die wette wat die volk moes onderhou, het Moses se “vingerafdrukke” op gehad. Moses was die Israeliete se groot historikus, want dit is hy wat alles rondom die volk van God se vroeë geskiedenis neergeskryf het – van Genesis tot Deuteronomium.

       Dit is egter nie net die Jode wat Moses besing nie, ook die Woord doen dit in bv. Num.12:3 ~ Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem. Met alles wat hy vermag het, was hy steeds ’n sagmoedige mens! Miskien is dit omdat hy terselfdertyd ’n voormalige moordenaar was en hy sy gebrokenheid en afhanklikheid voor God besef het.

       Nie generaal Moshe Dayan, of kol. Benjamin Netanyahu, of genl. Arieêl Sharon was groter bevryders van die Israelse volk as Moses nie – hy het die ganse Israelse volk uit Egipte na die Beloofde Land gelei – sekerlik een van die grootste optredes van geloof van alle tye, want hierdie nagenoeg veertigjaarlange gebeurtenis, het geloof en uiterste geloof van dag een af geverg en Moses was die man wie hierdie geloof aan die dag gelê het – geloof wat hy van God ontvang het, ten einde God se belofte aan Abraham ’n paar honderd jaar vantevore, in vervulling te bring.

3.     MOSES SE OUERS SE GELOOF:
       Kom ons begin egter by die begin van ons Skriflesing – v.23 praat van Moses se ouers se geloof. Wie was Moses se ouers? Hulle word aanvanklik met die begin van Moses se geskiedenis, nie spesifiek vermeld nie. Ons sien in Eks.6:17 dat hulle Amram en Jogébed (Amram se tante) geheet het. Amram was die agterkleinseun van Levi en sy en Jogébed se oudste kind was Miriam en die tweede was ’n seun, Aäron.

       Hulle woon in Egipte tydens die geboorte van Moses en op daardie tydstip het die Farao die Israeliete geweldig onderdruk, soveel so dat hy in Eks.1:15-16, die volgende opdrag gee ~ Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: 16“As julle ’n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit ’n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ’n dogter is, mag sy bly lewe.” Waarom het hy hierdie opdrag gegee? Net ’n paar verse vroeër – vv.8-10 ~ Toe ’n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, 9het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons? 10Kom ons bedink ’n plan teen hulle sodat hulle nie kan vermeerder nie. Anders kan dit gebeur dat as daar oorlog uitbreek, hulle dalk by ons vyand aansluit om teen ons te veg en ons land te oorweldig.” Die Israeliete het die Farao begin bedreig.

       Ons ken die verhaal van Moses in die biesiemandjie en hoe hy deur die dogter van die Farao gevind is en hoe Moses in die paleis groot geword het. Dit is ook interessant om in Eks.2:2 te lees, dat een van die redes waarom sy ma hom aanvanklik weggesteek het en later in die mandjie op die Nyl weggesteek het, was omdat hy so ’n mooi seuntjie was! Hierdie mooi seuntjie was egter nie net mooi nie, Stefanus het in Hand.7:20 gesê dat hy ook lieflik was in die oë van die Here (beide Afrikaanse vertalings is ongelukkig hier baie gebrekkig vertaal en meld nie hierdie feit nie – sien oorspronklike teks).

       Die feit dat Moses egter mooi was, was nie die primêre rede waarom Jogébed hom weggesteek het nie – kom ons kyk weer na v.23 ~ ...Omdat die ouers van Moses geglo het. Hulle het geglo - dit is die rede waarom hulle hom weggesteek het - omdat hulle geglo het. Wat het hulle geglo? Hulle het geglo dat Moses geoormerk was vir “groter dinge” en omdat Antieke Hebreeus baie moeilik is  om te vertaal, dink ek dat ’n mens meer moet lees in die uitdrukking dat Moses ’n baie mooi babatjie was, nl. dat sy ouers gesien het, of net geweet het, of nog nader aan die waarheid, gelei was deur die Heilige Gees om te weet dat hierdie babatjie deur die Here gebruik gaan word – dat hierdie babatjie die voortsetting was van die heilige lyn wat na Christus sou lei. Hulle het saam met hul voorvader Abraham vasgehou aan God se beloftes soos wat Jesus self in Joh.8:56 getuig het ~ Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms (dit is Jesus se koms) sou sien, en hy het dit gesien en was bly.

4.     MOSES SE GELOOF:
       Wat verder wonderlik is, is die feit dat die Here die voortreflikhede in die sondige Egiptiese koningshuis uitgebuit het, om sy dienskneg Moses by uitnemendheid op te lei om die volk te kon lei en wat meer is, sy eie moeder voed hom in die koningshuis op – ’n absolute wen-wen kombinasie (Eks.2:1-10)!

       Teen die ouderdom van veertig moes Moses ’n keuse uitoefen: óf hy word ’n volbloed Egiptenaar met bepaalde voordele, trouens geweldige voordele; óf hy skaar hom by sy volksgenote, die Israeliete en ons lees in v.24 ~ ...toe hy groot geword het, (het hy) geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter.

       ’n Mens sal geneig wees om te dink dat Moses met ’n eie-ma wat hom opgevoed het, nie eintlik ’n keuse gehad het, as om ’n Israeliet te wees nie – ja dit is so en dit het beslis ’n belangrike rol gespeel, maar v.24 begin deur te sê ~ Omdat Moses geglo het.... en ja, daarin het sy ma verseker ook ’n reuse rol gespeel, maar soos ons verlede week gesien het, is dit God wat geloof aan die mens skenk (o.a. Rom.12:3; Hebr.12:2a en 1 Tim.1:13-14) en hierdie geloof in die enige ware God, is deur God self aan Moses geskenk en omdat Moses geglo het, het hy gekies om na sy “wortels” terug te keer en te weier om die ...seun van die Farao genoem te word.

       In teenstelling met Josef, het Moses besluit dat dit beter sou wees om sy volk te dien deur nié in die koningshuis aan te bly nie en in geloof, die swaarkry en veragting van sy volk deur die Egiptenare, te verduur en in geloof en gehoorsaamheid God se roeping op te neem en die volk deur die wildernis na die Beloofde Land te lei. Josef was nie verkeerd en in sonde deurdat hy in Egipte aangebly het en al die weelde en status te geniet wat hy wel geniet het nie, maar die verskil tussen hom en Moses was dat hy deur God geroep was om onder daardie omstandighede God en sy volk te dien, terwyl Moses geroep was om onder heeltemal die teenoorgestelde omstandighede God te gehoorsaam en sy volk te dien.

       Ek het vroeër melding gemaak van die Jode se hoë aansien van Moses, maar wat egter wel waar is van Moses, is die feit dat hy ook gesien kan word as ’n tipe van Christus. Lukas skryf in Handelinge dat die Here Moses geroep het as redder van die volk (v.35). Moses beskou homself egter nie as redder van die volk nie, maar hy sien Christus as die komende Messias, wanneer hy in Deut.18:15 sê (en Lukas herhaal hierdie woorde ook in Hand.7:37 wanneer hy getuig oor Moses) – Moses het gesê ~ Die Here jou God sal ’n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. Daar is egter meer aan Moses wat ’n mens herinner aan Christus en wat hom daarom ook verder ’n tipe van Christus maak – sy lewe was net so bedreig as baba, soos Jesus se lewe – beide dreigemente het gekom van heidense regeerders; deur die gehoorsaamheid van beide Amram en Jogébed (wat Moses betref) en Josef en Maria (wat Jesus betref), is die lewens gespaar van beide Redders. ’n Verdere merkwaardige ooreenkoms is dat beide Moses en Jesus skuiling gevind het in Egipte (Matt.2:13).  Beide Moses en Jesus het gelowig groot geword en deur hul geloof, getrou gebly aan die Vader en gevolglik die uiteindelike bestemming van God se volk bepaal het – in Moses se geval die Israeliete, Abraham se fisiese nageslag en in Jesus se geval, Abraham se “geestelike nageslag”. Moses het sy volksgenote vanuit fisiese slawerny gelei na fisiese vryheid in die Beloofde Land; Jesus lei ons vanuit geestelike slawerny na geestelike vryheid in die geestelike Beloofde Land.

       Moses kon ook ewe maklik die rykdom en gemak en menslike sukses verkies het wat hy sou kon hê as hy gekies het om die seun van Farao se dogter genoem te wees, maar hy het geweet dat God hom geroep het en daarom was hy bereid om alles prys te gee t.w.v. sy gehoorsaamheid aan God en daarom word daar deur die Hebreërskrywer in v.25 gesê ~ Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê.

       Ons moet begryp dat Moses geweldige geloof nodig gehad het om die onmoontlike taak wat op hom gewag het, te volvoer (en die onmoontlike Israeliete), maar ook terwyl hy homself in die situasie bevind het. God het egter die nodige geloof aan hom geskenk. Moses het ook geweet dat die moeilikheid en swaarkry wat op hande was, hoegenaamd nie vergelykbaar is met die ewige heerlikheid wat wag op hulle wie hul geloof en hoop in Jesus Christus die Verlosser plaas nie. Paulus stel dit baie mooi in 2 Kor.4:17 wanneer hy sê ~ Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Moses het hierdie selfde ewigheidsperspektief gekoester.

       Iemand van geloof kies dus ’n pad van gehoorsaamheid en as daar swaarkry mee gepaard gaan, dan kies hy ook dit, maar hy doen dit nie uit dwang nie, maar met ’n gewillige en blymoedige hart. Ons as gelowiges moet bereid wees om Christus te volg te midde van en ten spyte van swaarkry.

       Waarom het Moses kans gesien om die skatte van Egipte prys te gee? V.26 ~ Die smaad ter wille van die Christus het hy ’n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het – ter wille van Christus, omdat hy na die beloning uitgesien het. Nie net het Moses dit gedoen t.w.v. die beloning nie, maar ook t.w.v. Christus en dit opsigself is belangrik, want ook hier word dit beklemtoon dat Moses ’n toekomsvisie en ewigheidsperspektief gehad het – Moses het vooruitgekyk na die komende Messias, soos wat ons ook voortdurend terug moet kyk na die “reeds-gekome” Messias. Moses was dus bereid om swaar te kry t.w.v. Christus en daardeur geïdentifiseer te word met sy Verlosser ~ Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie (Matt.10:38).

       Ons lees in v.27 van Moses wat Egipte verlaat het sonder dat hy bang was vir die woede van die koning. Ons weet dat hy Egipte by twee geleenthede verlaat het – die eerste keer was nadat hy die Egiptenaar vermoor het (hoor julle – vermoor! Sonde! Geloofshelde was nie volmaakte mense nie!). Die tweede keer was toe hy die volk uit Egipte gelei het. Die vraag is, na watter geleentheid verwys die Hebreërskrywer hier – die eerste of die tweede keer dat Moses, Egipte verlaat het?

       Hierdie eksodus van hom verwys na die tweede eksodus – die keer toe hy die volk uit Egipte gelei het. Toe hy egter die eerste keer weggegaan het, het dit gepaard gegaan met vrees, want hy het pas ’n Egiptenaar vermoor en hy vlug weg. Die vraag is of hy dan mensevrees gehad het? Het hy die Farao gevrees? Die antwoord hierop is, nee. Hy het nie die Farao of die regstelsel van Egipte “per se” (as sodanig) gevrees nie, maar hy het gevrees dat sy optrede tot gevolg kon hê dat hy nie meer as verlosser van sy volk kon optree nie, want sou hy gearresteer word en tereg gestel word, sou hy nie meer sy roeping, nl. om die volk uit Egipte te lei, kon volvoer nie – dit is waarvoor hy gevrees het, want v.27a sê baie duidelik dat ...hy Egipte verlaat (het) sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Selfs die feit dat Moses gevlug het, was vir hom ’n daad van geloof ~ ... Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien (v.27b).

       Dit is so dat Moses eers sowat 40 jaar later geroep was om die volk uit Egipte te lei, maar op hierdie stadium dat hy die eerste keer gevlug het, moet ons besef dat hy hoogs waarskynlik reeds ’n intieme en besondere (ten spyte van sy moorddadige optrede) verhouding met God gehad het en dat hy dalk alreeds ’n roeping t.o.v. sy volk in sy gees ervaar het – hoor bv. wat God self van Moses gesê het ~ Luister na wat Ek sê: As daar ’n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en praat Ek met hom in drome. 7Maar met my dienaar Moses is dit anders Hy is die betroubaarste in my diens. 8Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte van die Here. Waarom was julle dan nie bang om só met my dienaar Moses te praat nie?” (Num.12:6-8). Moses het ’n buitengewone verhouding met die onsienlike God gehad en was die onsienlike God vir hom ’n groter realiteit as die sienlike Farao.

       Moses se ballingskap het 40 jaar geduur, maar ook dit kon hy geduldig hanteer en verduur, want hy het geweet dat God in beheer van sy lewe is, maar veral omdat hy in God die onsienlike geglo het (1 Tim.1:17). Die feit dat hy gevlug het uit Egipte was dus nie gemotiveer deur mensevrees nie, maar juis sy geloof in God en die wete dat God, “’n plan vir sy lewe gehad het”.

       Na veertig jaar se ballingskap en die bevestiging van God se roeping op Moses se lewe (die vuurvlam uit die doringbos – Eks.3) keer Moses terug na Egipte en ervaar hy uiteindelik weerstand van sy eie mense  deurdat hulle hom as leier verwerp het – hoor wat sê hy in Eks.6:11 vir die Here ~ Die Israeliete luister nie eens na my nie, hoe sal die farao nog na my luister? Hy het nou beide die Farao en sy volksgenote wat teen hom is, maar hy vrees nie een van die twee nie en hy volhard deur te doen wat God vir hom gesê het om te doen.

       Hierdie gehoorsaamheid van Moses se geloof lei tot optrede – v.28 ~ Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie. Moses tree in geloof op. Hy neem God op Sy Woord en hy glo dat God die lewens sou spaar van die eersgeborenes van dié families wie die Paaslam se bloed aan hul huiskosyne geverf  het.

       Moses het egter ook in hierdie geval, weer vooruit gekyk na die Offerlam wie se bloed jare later op Golgota sou vloei t.w.v. die vergifnis van die sonde van diegene wie in Christus glo en daarom stel hy die Pasga in, daarom dat hy in Eks.12:14 sê ~ Hierdie dag moet vir julle ’n gedenkdag wees. Julle moet dit as ’n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit ’n vaste instelling wees wat hulle moet vier. Dit herinner ’n mens aan die instelling van die Nagmaal deur ons Here Jesus en die gereelde gebruik van die Nagmaal deur die vroeë kerk, nie waar nie (Luk.22:14-20; Hand.2:42; 20:7; 1 Kor.10:16)?

       Die instelling van die Pasga was dus nie vir Moses bloot net ’n stuk seremoniële optrede nie, maar ’n instelling wat voortgespruit het uit gehoorsaamheid aan God se opdrag, maar ook opregte geloof en vertroue in die belofte dat die doodsengel nie die Israeliete sou aanraak nie.
      
5.     DIE ISRAELIETE SE GELOOF:
Moses het na die instelling van die Pasga en die dood van die Egiptenare se eersgeborenes, die Israeliete uit Egipte gelei, maar hulle was skaars onder die dwingelandy van die Farao uit, toe sit sy weermag hulle in hulle strydwaens agterna. Die Israeliete word gestuit deur die Rooisee en die Egiptenare is aan die kom – vir hulle was dit nou tyd dat God Homself moet bewys as die God van die onmoontlike, want sonder Sy ingrepe was daar geen kans om die naderende soldate te ontduik nie – die volk het begin twyfel en vreesbevange geraak, maar dit was Moses wat hulle bemoedig en aanspoor om in God te glo, toe hy gesê het ~ Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. 14Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg (Eks.14:13-14) – weereens Moses se geloof, wat sy mede-Israeliete bemoedig, sodat ook hulle kon glo.

Moses het, soos ons nou net in vv.13-14 gesien het, hulle aangespreek en bemoedig en dan v.29 ~ Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het. Ongelukkig was dieselfde gelowige Israeliete se geloof later maar wankelrig en het almal wat uit Egipte getrek het, a.g.v. hul ongeloof, in die woestyn gesterf en derhalwe nie in die Beloofde Land ingegaan nie.

Hierdie gebeurtenis by die Rooi See is ’n wonderlike voorbeeld vir ons van hoe een persoon se geloof andere kan motiveer om ook te glo. Ons sien hierdie feit ook regdeur die kerkgeskiedenis met mense soos bv. Martin Luther, Calvyn en vele ander, wie se geloof duisende ander se geloof verander, versterk en gebou het. Ons moet dus nooit die krag en impak van geloof onderskat nie, ook nie die invloed van ons geloof op andere en andersom nie.

       Dit is interessant hoe ons parallelle kan trek tussen die Rooi See-gebeure en die doop van gelowiges. Vir die Israeliete was die Rooi See se water, simbool van geloof en redding, maar vir die ongelowige Egiptenare was dit simbool van dood. Dieselfde geld natuurlik vir Noag en die ongelowiges wat in die groot vloed omgekom het. Wat die doop betref, is die water teken van die gelowige se geloof en redding. Paulus vergelyk dan ook die Israeliete se deurgang deur die Rooi See met die doop ~ Broers, ek wil julle daaraan herinner dat ons voorvaders almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het. 2Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop (1 Kor.10:1).

6.     AFSLUITING:
       Wat beteken al hierdie feite rondom Moses se geloof vir ons vandag?

       Ons het vandag gesien en geleer dat geloof behels om God op Sy Woord te neem en uit te stap in vaste vertroue dat Hy getrou aan Sy Woord sal bly – geloof aanvaar dus God se beloftes (in Sy Woord) onvoorwaardelik. John MacArthur het op ’n keer gesê: “When we have nothing but His promise to rely on, His help is the nearest and His presence the dearest to those who believe.” 

       Moses was juis die mens wie hy was, omdat hy gekies het om op God te fokus en nie op die Farao nie en dit is presies waar ons ook moet wees – wanneer ons bang is vir die wêreld – bang is wat ander mense mag dink en sê van ons, kan ons nie God se seën en beskerming verwag nie en kan ons selfs Sy dissipline in ons lewe verwag, maar wanneer ons ons situasie aan Hom toevertrou en in Hom rus en getrou aan Hom bly, is die wonderlike belofte in Openb.2:10 ook op ons van toepassing ~ Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.

       Die les van geloof is dus gehoorsaamheid. Wanneer God praat, reageer die gelowige en tree hy op – hy doen wat God van hom verwag, anders bedrieg hy homself en daarom moet ons gereeld vir die Here vra om ons gehoorsaam te maak en te hou en ons moet mekaar aanmoedig om gehoorsaam te wees.

       Net soos wat Moses presies geweet het wat God se wil vir sy lewe was omdat God direk met hom gepraat het, weet ons ook wat God se wil vir ons lewe is, want ons het Sy Woord en ons moet dit net “hoor” (die Woord lees en bestudeer) en daarop reageer, deur te doen wat Hy van ons verwag.

       Die wêreld het niks om aan vas te hou nie – hulle kan nie die lewe met vaste vertroue binnetree nie, maar ons kan, want ons het die beloftes van God om op te staan – wat ’n wonderlike troos en bemoediging!

       Moses het die geloof wat hy nodig gehad het vir ’n menslik gesproke onmoontlike taak, van God ontvang – net so sal God altyd getrou wees, soos in die geval van Moses en ook aan ons geloof skenk wanneer ons dit nodig mag hê – of dit nou vir ’n bepaalde roeping is of om ’n terminale siekte te hanteer, of wat ook al. Sommige van ons word geroep om God onder beter omstandighede as andere te dien (dink aan werksomstandighede; dink aan luukshede, of gebrek), maar maak seker dat jy wel in die omstandighede verkeer waartoe God jou geroep het en maak seker dat jy tevrede en vergenoegd is met jou omstandighede – solank jy binne God se wil is, sál Hy aan jou die nodige geloof gee om jou bepaalde omstandighede te hanteer en te verduur (goed of sleg) – jy moet net seker maak dat jy binne Sy wil is, maar ook met die regte gesindheid en afhanklikheid, binne Sy wil is (goed of minder goed).

       As die paaslam se bloed die Israeliete se eersgeborenes kon beskerm, hoeveel te meer nie die bloed van die volmaakte Paaslam, Jesus Christus nie, want Sy bloed was nie teen ons deurkosyne gesprinkel nie, maar in ons siel! Chrysostom het gesê, “For even now the destroyer is still moving around in the depth of night; but let us be armed with Christ’s sacrifice, since God has brought us out from Egypt, from darkness and from idolatry.”  

       Is ons bereid om alles prys te gee t.w.v. ons gehoorsaamheid aan God?

       Kom sing met gelowige harte die pragtige lied wat Daniel Brink Towner (1850-1919) geskryf het en wat deur John Henry Sammins (1846-1919) getoonset is:
“TRUST & OBEY”
WHEN WE WALK  WITH THE LORD                                     
IN THE LIGHT OF HIS WORD,
WHAT A GLORY HE SHEDS ON OUR WAY!
WHILE WE DO HIS GOOD WILL HE ABIDES WITH US STILL,                         
AND WITH ALL WHO WILL TRUST AND OBEY!

Chorus
TRUST AND OBEY!  FOR THERE’S NO OTHER WAY                           
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO TRUST AND OBEY

NOT A SHADOW CAN RISE, NOT A CLOUD IN THE SKIES,               
BUT HIS SMILE  QUICKLY DRIVES IT AWAY;             
NOT A DOUBT NOR A FEAR NOT A SIGH NOR A TEAR,                       
CAN ABIDE WHILE WE TRUST AND OBEY!

Chorus
TRUST AND OBEY!  FOR THERE’S NO OTHER WAY                           
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO TRUST AND OBEY

NOT A BURDEN WE BEAR, NOT A SORROW WE SHARE,                 
BUT OUR TOIL  HE DOTH RICHLY REPAY:
NOT A GRIEF NOR A LOSS NOT A FROWN NOR A CROSS,               
BUT IS BLESSED IF WE TRUST AND OBEY!

Chorus
TRUST AND OBEY!  OR THERE’S NO OTHER WAY                           
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO TRUST AND OBEY

BUT WE NEVER CAN PROVE THE DELIGHTS OF HIS LOVE                                
UNTIL ALL ON THE ALTAR WE LAY; FOR THE FAVOUR HE SHOWS,                   
AND THE JOY HE BESTOWS,
ARE FOR THEM WHO WILL TRUST AND OBEY

Chorus
TRUST AND OBEY! FOR THERE’S NO OTHER WAY                          
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO TRUST AND OBEY
THEN IN FELLOWSHIP SWEET  WE WILL SIT AT HIS FEET,                          
OR WE’LL WALK BY HIS SIDE IN THE WAY;                                                 
WHAT HE SAYS WE WILL DO, WHERE HE SENDS WE WILL GO;                 
NEVER FEAR, ONLY TRUST AND OBEY!

Chorus
TRUST AND OBEY!  FOR THERE’S NO OTHER WAY                           

TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO TRUST AND OBEY

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 02 Februarie 2014