Sunday, January 26, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 26 (“Gunsgenote van God”)

1.     SKIRFLESING:
       Hebr.11:20-22 ~ Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms. 21Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun. 22Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.

2.     INLEIDING:
       Johannes de Koning (my voorganger) het op ’n keer in sy Blog gesê: ”’Ag, as my geloof maar net sterk was, dan sou dit darem wonderlik gewees het...as ek hoofpyn kry, dan bid ek net gou en voila...die hoofpyn is weg, as ek bang is vir môre se wiskunde toets , dan glo ek net, en ek kry tagtig persent, as ek reën wil hê dan bestel ek sommer by God presies soveel millimeter ek dink nodig is... Geloof gaan my beskerm teen alle gevare...’ Dis hoe baie mense dink oor geloof. Geloof is ’n towerstaffie om my lewe gemakliker en geriefliker te maak.” (http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.com/)

       Ons moet egter verstaan en daarmee stem Johannes de Koning ook saam, dat indien dit ons uitgangspunt is, mis ons die punt baie ver, trouens as dit ons uitgangspunt en omgaan met geloof is, is ons besig met ’n mensgesentreerde godsdiens en is ons nie besig met ’n Godgesentreerde teologie nie. Johannes gaan voort en sê dan o.a. ook dat God natuurlik ons gebede verhoor as dit gaan oor “onbelangrike” dinge soos bv. ’n hoofpyn, maar dit is nie die hoofsaak van geloof nie.

3.     DIE PATRIARGALE SEËN:
Ons het in ons Skriflesing gelees van Isak wat sy seuns geseën het, ens. en ons sal nou verder daarna kyk, maar ek wil net eers vlugtig enkele gedagtes t.w.v. agtergrond met julle deel oor die “Patriargale Seën” wat so belangrik in die Ou Testamentiese era was, daarom dat Rebekka en Jakob so angstig was dat Jakob sy pa se seën eerste moes ervaar. 

As ons na Gen.27:26-29 en 39-40 kyk, kry ons ’n beter prentjie van die belangrikheid van hierdie Patriargale seën ~ Isak het vir hom gesê: “Kom nader en soen my, my seun!” 27Hy het nader gekom en hom gesoen, en toe hy die reuk kry van die klere wat Jakob aanhet, het Isak hom geseën en gesê: “Kyk, die reuk van my seun is soos die veld se reuk, die veld wat deur die Here geseën is. 28God gee aan jou dou uit die hemel, die rykdom van die aarde: koring en wyn in oorvloed. 29Volke sal jou dien, nasies sal voor jou buig; oor jou familie sal jy heers, jou broers sal voor jou buig. Wie ’n vervloeking oor jou uitspreek, sal self vervloek wees, wie jou seën, sal geseën wees” (Gen.27:26-29). Hiermee saam dan ook vv.39-40 ~ ...Toe Esau daarna begin huil, 39sê sy pa Isak vir hom: “Jou woonplek sal ver van die aarde se rykdom af wees, en ook ver van die dou uit die hemel af. 40Jy sal van oorlog leef en jy sal jou broer dien, maar as jy jou kans afwag, sal jy sy juk van jou nek afgooi.”

’n Patriargale seën was nie bloot maar net ’n gebed wat die ou vader gebid het, waarna hy geglo het dat dit so sou wees nie. Ook was dit nie bloot maar net ’n wens wat die ou vader uitgespreek het nie – deur die loop van die Ou Testamentiese geskiedenis sien ons dat hierdie seën wat uitgespreek was, altyd net so vervul is. In die geval van Isak se seën hét Juda bv. later vir Israel regeer (Gen.49:9-10) en Jakob hét Isak se opvolger in die lyn van Abraham geword, al was die seën vir Esau bedoel. Isak se nageslag was die nageslag van Abraham wat gedeel het in God se belofte dat Abraham se nageslag in die Beloofde Land te ruste sou kom – en dit was so – hulle het die vettigheid van die land gesmaak – nié Esau se nageslag nie, ens. (Gen.15 en 27).

          Al het Jakob en sy seuns nie altyd daarin geslaag om dankbaar te wees vir God se guns nie, was God se liefde groot genoeg vir hulle, om Sy belofte van die Messias wat uit hul nageslag gebore sou word, gestand te doen en die Patriargale seën van hul voorgeslagte kan derhalwe nie té gering geag word nie.

          Die Woord is baie duidelik daaroor dat die Patriargale seën uiteindelik sy vervulling in Christus, die ware Seun van Abraham bereik het en in God se groot genade, het Hy hierdie seën uitgebrei, sodat ons as gelowiges vandag nog steeds daarby ingesluit is ~ En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God (Gal.3:29)..

4.     ISAK SE GELOOF:
       Die Hebreërskrywer help ons om juis te verstaan waaroor hierdie Patriargale seën, maar dan veral ook waaroor geloof werklik gaan en hy doen dit aan die hand van voorbeelde van geloofshelde, soos Isak en Jakob en Josef.

       ’n Verdere interessantheid wat ons in ons Skriflesing vandag sien, is die feit dat die skrywer van hierdie brief fokus op hierdie afstammelinge van die geloofsreus Abraham, se geloof aan die einde van hul lewe en dan spesifiek om seker te wees van die dinge waarop hulle hoop en om oortuig te wees van die dinge wat hulle nie kon sien nie (Hebr.11:1). Hulle het almal geglo dat die dood nie hulle geloof sal teleurstel nie en dat al God se beloftes in vervulling sál gaan.

       Ons sien in v.20 vir Isak – Isak ’n ou man wat aan die einde van sy lewe gekom het. Gewoonlik wanneer mense in hulle ou dag kom, dink hulle en tob hulle en praat hulle baie oor hulle vroeëre lewe – oor hulle kinderdae; oor hulle jongmensdae; oor die vroeë dae van hul huwelik met klein kindertjies ens., want daar is vir hulle geen vooruitsig op iets anders; iets beters na hul dood nie. Hulle klou aan hierdie lewe vas met alles wat hulle het en daarom beleef hulle hul lewens weer oor en oor in hul gedagtes en gesprekke met andere.

       Hierteenoor sê die bekende Matthew Henry, “Though the grace of faith is of universal use throughout the Christian’s life, yet it is especially so when we come to die. Faith has its great work to do at the very last, to help believers to finish well, to die to the Lord so as to honour Him, by patience, hope and joy so as to leave a witness behind them of the truth of God’s Word and the excellency of His ways.

       Isak stel vir ons as gelowiges presies hierdie voorbeeld waarvan Matthew Henry praat – ’n ander voorbeeld as dié van die wêreld – wat doen hy? Hy kyk vooruit en hy glo dat daar ’n toekoms is. Hoor net wat sê die Psalmis in Ps.116:15 (OAV) ~ Kosbaar is in die oë van die Here die dood van sy gunsgenote

       As ons net weer ons gedagtes kan verfris, sal ons onthou dat Isak, in sy ouderdom, mislei was deur sy vrou (Rebekka), deur Jakob te laat optree asof hy Esau was, sodat hy sy vader Isak se seën kon ontvang wat die oudste seun Esau moes ontvang het (Gen.27). Al het Rebekka hom mislei en al het Jakob gelieg, het Isak nie sy seën terug getrek nie, omdat hy aanvaar het dat die seën wat hy afgebid het op sy jonger seun, wel die wil van God was en daarom was sy seën bindend (Gen.27:33; Gen.28:1-4) en al het hy Esau ook later geseën, is die hoofsaak dat Isak geglo het in ’n toekoms en dat sy seën in die toekoms vervul sou word al sou dit nie deur sy eersgeborene wees nie.

       Die kultuurgebruik van destyds was dat die pa die eersgeborene sou seën en dat hy die primêre erfgenaam sou wees, maar God laat Hom nie in die spreekwoordelike en met groot piëteit gesê, menslike blik indruk nie – Hy het reeds die heilige lyn waaruit Christus gebore sou word, van Abraham af bepaal en dit sou deur Jakob loop en nié deur Isak se eersgebore Esau nie – net so sien ons ook heelwat later in die boek Rut, hoe dat God die eerste heiden (die Moabitiese vrou Rut) insluit in die heilige lyn wat na die Verlosser lei – daardeur het Hy natuurlik reeds die “deur oopgemaak” vir heidene (wat ons insluit) om gered te kan word. Al wou Isak dus sy oudste seun seën soos dit die gebruik was, laat God dit nie toe nie en deur Sy soewereine ingrepe wil Hy dit só, dat Jakob geseën word, want dit is die bloedlyn wat God gekies het.

       Philip Hughes stel dit soos volg: “The line of the promise is not the line of the flesh but the line of faith; the true heir is not the outward heir but the inward heir.” Paulus sê in Rom.2:28-29 ~ Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. 29Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God. Hierdie verse het ook ’n verdere implikasie, want indien ons “geestelike Jode” is op grond van wat Paulus hier in Romeine sê, dan is die woorde in Gal.3:29 net so van toepassing op ons en is ons ook deel van Abraham se geestelike nageslag (ons het netnou ook na die teksvers gekyk) ~ En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God. As ons deel is van Abraham se geestelike nageslag, dan is al God se beloftes aan Abraham ook waar van ons en is, o.a. die Beloofde Land ons erfenis.

       Om hierdie feit verder te motiveer, kan ons ook kyk na die verhaal van Saggeus (die hooftollenaar) wat tot bekering gekom het, nadat Jesus hom in die boom raak gesien het en by hom tuisgegaan het. Nadat Saggeus homself oorgegee het aan Jesus, het Jesus hierdie woorde gespreek ~ Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ’n kind van Abraham (Luk.19:9). Waarom sou Jesus vir Saggeus sê dat hy van daardie dag af ’n kind van Abraham is, want Saggeus was tog immers ’n Jood? Dit is omdat Saggeus as gelowige, van daardie dag af deel geword het van Abraham se geestelike nageslag.

       Terug na Isak. Wat was die kruks van hierdie seën en geloof van Isak? Sy vader Abraham het bepaalde beloftes van God ontvang, waaronder die belofte van ’n Verlosser – die Messias wat uit Abraham se nageslag gebore sou word, nl. Jesus Christus en Isak het onwrikbaar geglo dat hierdie beloftes van God deur die nageslag van Jakob vervul sou word – deur die bloedlyn van die “eersgeborene” – in hierdie geval die “eersgeseënde”.

       Ons moet onthou dat Isak in Hebreërs vermeld word as ’n geloofsheld en daarom kan ons aanvaar dat hy ook deur die Here beskou word as ’n  “gunsgenoot”, soos Ps.116 dit uitdruk. Waarom sê ek dat ons dit moet onthou? Omdat Isak, net soos ons, nie altyd ’n onbesproke lewe gelei het nie (ons het ’n vorige keer al gekyk hoe hy o.a. in Gerar oor sy vrou gelieg het en gesê het dat sy, sy suster is – Gen.26:6), net soos sy pa Abraham wat twee keer oor Sara gelieg het (Gen.12:13; 20:2). Hierdie geloofshelde was nie sonder sonde nie (dit gee natuurlik nie vir ons die vrypas om maar te sondig soos ons wil nie, inteendeel!) en net soos Abraham en na hom Isak en ook Jakob en Dawid en vele ander, gebuk gegaan het onder sonde, word ons ook voortdurend besoedel deur sonde en “onvolmaakte” lewens, maar soos ons so dikwels die Engelse uitdrukking gebruik het, “...but for the grace of God!”, het Isak ook genade in die oë van die Here gevind, omdat hy vooruit gekyk het na die komende Messias en die vrede wat Hy sou bring tussen Isak en sy God. Netso kyk ons terug na die Messias, Jesus Christus en omdat ons Jesus se woorde in Matt.20:28 (en ook talle ander Skrifgedeeltes) van harte glo, sal ons en is ons ook gunsgenote in die oë van die Vader ~  So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.

       Christus hét Sy lewe as losprys gegee vir alle sondaars en verloregaandes en dié wie in Hom glo word gunsgenote van God genoem. God laat steeds toe, ten spyte van Isak se beperkinge en onvolmaakte lewe, dat die Messias uit sy nageslag gebore sou word. Isak het geglo – onwrikbaar geglo en daarom het sy geloof as geregtigheid vir hom gedien.

5.     JAKOB SE GELOOF:
       Dieselfde beginsel wat gegeld het met Isak se seën, sien ons by Jakob se seën. Terwyl Jakob op sy sterfbed lê, bring Josef sy twee seuns, Efraim en Manasse na hul oupa, om die Patriargale seën in ooreenstemming met tradisie te ontvang.

       Manasse was die oudste van die twee, maar dit is opmerklik dat Gen.48:13, sy naam tweede noem, maar daar is ’n baie goeie rede daarvoor. Toe Josef se seuns by Jakob kom, is Manasse (die oudste) volgens gbruik, aan Jakob se regterhand geplaas – daardie hand waardeur die “hoofseën” aan die eersgeborene oorgedra is, terwyl die jonger Efraim aan die linkerkant van Jakob stelling ingeneem het. Iets baie interessants gebeur egter tydens hierdie geleentheid en weer kan ons God se soewereine ingrepe hier sien – Jakob kruis se hande, sodat sy regterhand op die kop van Efraim rus en sy linker op die oudste en seën hy m.a.w. eerste vir die tweede oudste, Efraim (Gen.48:14). Dan gaan Gen.48:20 voort ~ ...So het Jakob vir Efraim bo Manasse gestel.
      
       Waarom word Efraim bo Manasse gestel? Net soos in die geval van Isak, wat die tweede seun Jakob geseën het, het Jakob in sy oudag ook onwrikbaar geglo en geweet dat die Messias deur die bloedlyn van die “eersgeborene” – in hierdie geval die eerste geseënde, gebore sou word en gelei deur die Heilige Gees het hy geweet dat die eersgeborene in hierdie geval, nie deel is van die “heilige bloedlyn” waaruit die Messias gebore sou word nie en daarom in weerwil van die tradisie en o.l.v. die soewereine ingrepe van God, kruis hy sy hande en seën hy die tweede oudste, Efraim uit wie se nageslag Jesus Christus later gebore sou word.

       Jakob het nie alleen die “regte seun” geseën nie, maar hy het voortgegaan en presies vertel hoe elkeen van sy kleinseuns se lewe vorentoe sou verloop en hoe God se doel in en deur hul lewens verwerklik sou word (Gen.49). Jakob het nie meer lank oor gehad om te lewe nie, maar steeds kyk hy vooruit en was God vir hom ’n realiteit en God se beloftes het vir hom vas en seker gestaan – Jakob was ’n man van onwrikbare geloof, net soos sy pa Isak en sy oupa Abraham en soos wat die geval met sy seun Josef, die eerste geseënde die geval sou wees.

6.     JOSEF SE GELOOF:
       In v.22 van ons Skriflesing sien ons dat ook Josef aan die einde van sy lewe is en hy maak melding van die uittog van sy volksgenote uit Egipte en hy rig ’n bepaalde versoek tot hulle t.o.v. sy beendere na sy dood. Ons sien in v.22 dat hy so oortuig was dat die Israeliete sou terugkeer na die Beloofde Land, dat hy opdrag gee dat sy beendere saam met hulle terug sal gaan sodra hulle Egipte verlaat. Waarom rig hy hierdie versoek en op grond waarvan het hy geglo dat die Israeliete uiteindelik sou terugkeer na die Beloofde Land? Josef is as jong seun deur sy broers verkoop en het hy in Egipte groot geword; hy was ’n baie ryk en invloedryke man. Hy kon ’n grafkelder gekry het wat gelykstaande, of baie na aan die Farao s’n was. Hy was met ’n Egiptiese vrou getroud – hy het m.a.w. eintlik geen saak met die Beloofde Land meer gehad nie (my een skoondogter is ’n Amerikaanse burger, sy het hier in RSA groot geword; sy’s getroud met ’n Boerklong en sy het geen s’n om terug te keer VSA toe nie – en dit is ook presies wat ’n mens van Josef sou verwag).

       Waarom wou Josef ten minste net sy beendere in die Beloofde Land laat herbegrawe? Primêr op grond van sy geloof in God, wat met sy oupagrootjie Abraham ’n verbond aangegaan het, nl. dat Abraham se nageslag in die Beloofde Land sou bly en hy het vas geglo dat sy nageslag sou terug gaan en hy wou net in hierdie vervulling van God se belofte deel – al was dit dan ook net sy beendere wat daar begrawe sou word en eeue later – let wel, eeue later, ís sy beendere wel in die Beloofde Land herbegrawe (Eks.13:19; Jos.24:32).

       Hierdie gebeure toon aan ons dat Josef onwrikbaar geglo het in God se belofte, nl. dat die Messias uit sy nageslag gebore sou word en daarom die versoek aan Jakob, om ook sy seuns te seën.

7.     AFSLUITING:
       Soos die geval met Josef se voorgeslag, het ook Josef geleef en gesterf sonder om die vervulling van God se beloftes aan Abraham te kon sien, maar dit het hom nie sinies, of gevul
met allerlei vertwyfeling, of aarseling gelaat nie. Nee, Josef se geloof het ver vooruit gekyk – ver verby sy dood – wat God belowe het sál gebeur. Al hierdie ou patriarge het geleer om God te vertrou en Hom op Sy Woord te neem, wat meer is, hierdie manne se geloof het juis vooropgestaan, terwyl hulle op die rand van die graf gestaan het .

            Al drie hierdie geloofshelde het hul onwrikbare geloof in die aangesig van die dood gedemonstreer – ja, hul geloof was soms deur hul lewe wankelrig, maar dit was sterk en onwrikbaar voor hul dood, daarom dat mense sê dat die dood die lakmoestoets vir jou geloof is en daarom word dinge wat op iemand se sterfbed gesê word, ernstig opgeneem, omdat ’n sterwende nie sommer sal lieg nie, want in die skadu van die dood is daar nie meer tyd vir valsheid en voorgee nie, want so ’n sterwende weet dat hy op die drumpel van die ewigheid staan.

       Wat behels hierdie “Hebreërs 11-geloof” van ’n Abraham en Isak, Jakob en Josef?
·           Ons sien deur hierdie geloofshelde se lewe dat geloof, optrede uit oortuiging behels, m.a.w. dit wat ons glo wat in die Woord staan, word die norm vir ons lewe – ons leef daarvolgens.
·           Geloof is om in vertroue op te tree – vertroue dat indien my optrede in ooreenstemming met die Woord geskied, dit reg sal wees en dat God mét my in my optrede sal wees.
·           Geloof behels dat ons God se wil in ag sal neem en ons daarby sal berus.
·           Geloof hou bepaalde beloftes vir ons in, waaronder die ewige lewe – glo jy dit – glo jy dit regtig? Glo jy regtig dat ’n ewige lewe na hierdie aardse lewe op jou wag?
·           Geloof impliseer dat ons deel is van Abraham se “geestelike nageslag” en daarom het ons ook deel aan die beloftes wat God aan Abraham gemaak het t.o.v. die Beloofde Land (in ons geval, ’n geestelike Beloofde Land), asook God se belofte aan Abraham en sy nageslag van die komende Messias (in ons geval, die reeds gekome en opgestane Messias, Jesus Christus) – glo jy dít régtig?

       Abraham en Isak en Jakob en Josef het nie die koms van die Messias beleef nie, maar hulle het steeds onwrikbaar vasgehou aan God se beloftes – sal ons steeds vashou daaraan dat Christus waarlik gaan terugkom, al is dit nie in ons tyd nie?
·           Die ou aartsvaders het God se Woord geglo – geloof impliseer dat ons God op Sy Woord sal neem – doen jy dit? Doen jy dit altyd?

       Geliefdes, glo jy en ek ook onvoorwaardelik in God en op Sy Woord? Waar gaan ons staan t.o.v. ons geloof as ons op die rand van die dood staan? Glo jy dat jy ook ’n gunsgenoot van God is soos Abraham en sy nageslag?
·           Laastens moet ons verstaan en dit is baie belangrik, nl. dat God soewerein is en in beheer van ons lewe is, maar ook van ons geloof – ons kan nie ons geloof bloot net opklits nie – dink daaroor. As ons dink aan Abraham – hy het uit ’n totaal heidense omgewing gekom en hyself was ook ’n heiden, maar God het hom soewerein uitgekies en met hom gepraat en geloof aan hom geskenk ten einde in God te kon glo.

       Verskeie Skrifgedeeltes is duidelik daaroor, nl. dat geloof ’n geskenk van God is en nie iets wat onsself kan bewerkstellig nie – o.a. Rom.12:3 ~ Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming (en dan hierdie woorde) met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. Hebr.12:2a ~ ...die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof; 1 Tim.1:13-14 ~ ...al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. 14Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.


       Laat ons daarom die Here dank vir die gawe van geloof, maar Hom terselfdertyd vra om ons geloof in stand te hou en ons in geloof te laat groei.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 26 Januarie 2014