Sunday, November 24, 2013

Die Boodskap van Daniël - 09 (Getroue Daniël)

1.     INLEIDING:
       Sekerlik die wonderlikste etiket wat om enige gelowige se nek gehang kan word, is dié wat om Daniël se nek gehang was en waarvan ons in Dan.6:6 lees ~ Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens. Sal dit nie wonderlik wees as dieselfde etiket ook om elkeen van ons nekke gehang kan word nie! Die probleem is egter dat dit waarskynlik nie altyd van almal van ons gesê sal kan word nie – allermins van my!

       Waarom kon hierdie "etiket" om Daniël se nek gehang word? Daar is sekerlik heelwat redes wat daarvoor aangevoer kan word, maar ten minste drie redes staan vir ons uit:
·           Hy het in ’n vreemde wêreldkultuur geleer hoe om in daardie kultuur te leef, maar nie deel van daardie kultuur te word nie – hy was in daardie kultuur, maar nie van daardie kultuur nie. Paulus sê in Fil.3:20 ~ Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Daniël het nie vasgekyk teen hierdie wêreld nie – teen die Babiloniese Ryk nie – sy oë was gevestig op die hemelse koninkryk vanwaar hy sy Messias verwag het.
·           Hy het alles gedoen asof vir die Here.
·           Hy was ’n man van gebed.

2.     SKRIFLESING:
Daniël 6:1-29 ~ Darius die Mediër het die koningskap oorgeneem toe hy twee en sestig jaar oud was. 2Hy het besluit om honderd en twintig goewerneurs-generaal aan te stel om oor sy hele koninkryk te regeer. 3Oor hulle was daar drie ministers, van wie Daniël een was en aan wie die goewerneurs-generaal verantwoordelik was sodat die koning se belange behoorlik behartig kon word. 4Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel. 5Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie. 6Hulle sê toe vir mekaar: “Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens.” 7Die ministers en die goewerneurs-generaal storm toe by die koning in en sê vir hom: “Mag die koning baie lank lewe! 8Al u ministers en al die goewerneurs, goewerneurs-generaal, raadgewers en administrateurs het met mekaar ooreengekom dat daar ’n koninklike dekreet uitgevaardig moet word. Die dekreet moet baie streng bepaal dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir u, U Majesteit, in ’n leeukuil gegooi moet word. 9Stel dan nou so ’n dekreet op en vaardig dit skriftelik uit sodat dit nie verander kan word nie; dit moet onherroeplik wees, ’n wet van Mediërs en Perse.” 10Koning Darius het toe so ’n dekreet uitgevaardig. 11Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank. 12Daniël se   vyande het in sy huis ingestorm en hom daar gekry waar hy sy God aanbid en Hom om genade smeek. 13Toe gaan hulle na die koning toe en hou die koninklike dekreet aan hom voor. “U het tog mos ’n dekreet uitgevaardig dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid, behalwe vir u, U Majesteit, in ’n leeukuil gegooi moet word.” Die koning het geantwoord: “Ja, en dit staan vas. Dit is ’n onherroeplike wet, ’n wet van Mediërs en Perse.” 14Toe sê hulle vir die koning: “Maar Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom nie aan u bevel en aan die dekreet wat u uitgevaardig het nie, U Majesteit! Hy bid nog drie maal per dag tot sy God.” 15Toe die koning dit hoor, het hy baie sleg gevoel. Hy het ’n plan probeer maak om Daniël te red, en toe die son ondergaan, het hy nog steeds geprobeer. 16Toe storm Daniël se vyande weer by die koning in en sê vir hom: “U Majesteit besef seker dat volgens die reg van die Mediërs en Perse geen dekreet of wet wat deur die koning uitgevaardig is, verander mag word nie.” 17Die koning moes toe die bevel gee, en Daniël is gebring en in ’n leeukuil gegooi. Die koning het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.” 18Daar is ’n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie. 19Die koning is na sy paleis toe en het ’n slaaplose nag deurgebring; hy het niks geëet nie en het niks gedoen om die tyd te probeer verdryf nie. 20Die volgende môre vroeg toe dit lig word, het hy opgestaan en is hy haastig na die leeukuil toe. 21Toe hy naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?” 22Toe antwoord Daniël: “Mag die koning baie lank lewe! 23My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit.” 24Die koning was baie bly en het beveel dat Daniël uit die leeukuil gehaal moes word. Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het. 25Op bevel van die koning is die mense wat vir Daniël verkla het, gebring en in die leeukuil gegooi saam met hulle kinders en hulle vrouens. Hulle het nog nie in die leeukuil grond gevat nie of die leeus was op hulle en het hulle verskeur. 26Koning Darius het toe aan al die volke, nasies en taalgroepe wat oor die hele wêreld gewoon het, ’n skrywe gerig: “Voorspoed! 27Ek gee hiermee opdrag dat in my hele koninkryk die God van Daniël gevrees en geëer moet word. Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie vernietig word nie, sy heerskappy sal nooit eindig nie. 28Hy red en bevry, Hy doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde; Hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered.” 29Dit het goed gegaan met Daniël gedurende die regering van Darius en die regering van Kores die Pers.

3.     VERDERE AGTERGROND:
       Wanneer 'n mens so deur Daniël lees kan jy nie anders as om te wonder wat die sin van Daniël se lewe nou regtig was nie. Op hierdie stadium van sy lewe was hy reeds ongeveer 85 jaar oud; sy volk was steeds in ballingskap in 'n goddelose land; hyself kon waarskynlik nie veel van sy geboorteland onthou nie, want hy is as jong seun weggevoer na Babilon. In sy leeftyd het hy konings sien kom en konings sien gaan en die ergste van alles – al sy insette; profesieë; sy getuienis, ens., het bykans niks gehelp nie, want die konings en die Babiloniese volk was steeds 'n spul goddelose en wreedaardige heidene.

       Dit moes uiters frustrerend en selfs ontmoedigend vir hom gewees het, om te kon ervaar dat hy wat in senior posisies in die regering gedien het en wat waarlik "man van God" was, nie sy volk uit ballingskap kon red nie en nêrens lees ons dat hy iemand "na die Here gelei" het nie – hy was nie 'n Abraham vir sy volk nie en ook nie 'n Moses nie, trouens wat dalk nog die hartseerste van alles was, is dat talle Israeliete – volk van God, so ingesluk was deur die kultuur en goddeloosheid van Babel, dat hulle, toe die volk heelwat later wel toegelaat was deur Kores, om terug te keer na Israel, gekies het om in die land van afgode, in ballingskap te bly!   Bitter min mense het geleer van Daniël en wou leer van Daniël – in mense se oë was hy selfs dalk 'n mislukking en as hy 'n voorganger van 'n gemeente was, sou mense nie twee keer gedink het om na hom te gaan luister nie, trouens hy was verafsku en 'n gehate man in sekere kringe; hy was ook eenkeer ter dood veroordeel, máár – dit het nie vir Daniël om Daniël gegaan nie – dit het vir Daniël oor God gegaan en Daniël was en is tot vandag toe 'n toonbeeld van getrouheid – getrou aan God en nie aan homself nie.

4.     BETROUBAARHEID:
       Daniël het geweet dat sy God 'n getroue God was en dat God ook van hom trou vereis het. Vir hom was die woorde van Deut.32:4 nie net 'n troos nie, maar dit was ook vir hom 'n realiteit en hy het onwrikbaar daaraan geglo – Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar. Let daarop dat Daniël nie hierdie teksvers vir hom geneem het as belofte wat hom vertroos het nie; beloftes waarop hy kon staan en waarhede wat hom kon dra in tye van moeilikheid nie – nee, dit het sy fokus op God gevestig – God is die getroue God; God is die regverdige God; Sý werk is volmaak; Hý is betroubaar en omdat God hierdie getroue en regverdige God is, het hy wat Daniël is, geen ander keuse nie - nee, wíl hy geen ander keuse hê as om getrou te bly aan hierdie wonderlike God nie.

·           Historiese Agtergrond:
       Kom ons keer egter terug na die historiese agtergrond en Daniël se situasie op hierdie stadium van sy lewe.

       Volgens Dan.5:31 was Darius van die Mede, ongeveer 62 jaar oud toe hy Babilon geannekseer het in 539 v.C. Darius was die heerser van die Mediërs en die Perse in die huidige Iran (oos van Babilon), of te wel die land van die Ariërs.
      
       Ons lees egter aan die einde van hoofstuk 5 in v.29 van Kores die Pers wat die regeerder was – hoe moet ons dit verstaan – wie was dan nou eintlik die regeerder – Darius of Kores? Die waarskynlikste verklaring hiervoor is dat die Mede die naam Darius gebruik het, terwyl die Perse dieselfde man, Kores genoem het (amper soos my oudste seun – hier in S.A. is hy Kobus en in Engeland waar hy die afgelope 14 jaar woon is hy James).

       Darius alias Kores het na sy anneksasie van Babilon, 120 goewerneurs- generaal aangestel en drie ministers (v.3) van wie Daniël een van die ministers was. Op hierdie stadium was Daniël ongeveer 85 jaar oud en het hy nog nie aan aftrede gedink nie, trouens hy was só betroubaar en bekwaam dat hy kop en skouers bo die ander twee ministers uitgetroon het, sodat koning Darius hom tweede in bevel van die koninkryk wou stel (v.4).

·           Betroubare Daniël:
       Ons lees in v.5, dat die ander amptenare rede gesoek het om 'n saak te bou teen Daniël sodat die koning hom nie sou bevorder nie. Daniël het egter ook geglo soos Paulus in Fil.3:20 ~ Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag en omdat hy 'n burger van die hemel was, het hy dit wat die Here oor sy pad gebring het om te doen, gedoen en hy het dit gedoen soos wat Paulus later aan die gemeente in Efese geskryf het, hoe hulle hul werk moet doen ~ Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie (Ef.6:6-7). As die werksmag in ons land maar hierdie gesindheid aan die dag kan lê (en dan praat ek nie eens van die regeringslui en staatsamptemare nie), sal ons hierdie land op sy kop draai.

       Ons lees egter in v.4 dat die ander regeerders niks, absoluut niks teen Daniël kon vind om hom in diskrediet by die koning te bring nie – geen luiheid; geen wanadministrasie; geen bedrog; geen omkopery; geen nepotisme; niks nie en daarom moes hulle 'n "Plan B" in aksie stel.

5.     DIE WET VAN MEDE EN PERSE: 
       Die amptenary het besef dat indien Daniël moes kies tussen sy God en die koning van die Perse, die koning van die Perse beslis nie die keuse sou wees nie en daarom moes hulle konflik tussen die wet van God en die wet van die Perse te beweeg bring en dit was hulle "Plan B", want hulle het gedink dat Daniël se sterkste punt, nl. sy godsdiens, sy achilleshiel gaan wees en daarom besluit hulle om 'n voorstel aan die koning te maak ~ Al u ministers (let op hoe lieg hulle – die waarheid was dat slegs twee van die drie ministers so besluit het) en al die goewerneurs, goewerneurs- generaal, raadgewers en administrateurs het met mekaar ooreengekom dat daar 'n koninklike dekreet uitgevaardig moet word. Die dekreet moet baie streng bepaal dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir u, U Majesteit, in ’n leeukuil gegooi moet word (v.8).

       Koning Darius was gevlei – hy gaan aanbid word! Hy bekragtig onmiddellik die dekreet (v.9). Die arme man se ego was so gestreel, dat hy nie besef het wat hy doen nie – totdat hy besef dat sy getrouste onderdaan en minister, die eerste gaan wees wat in die leeukuil gegooi sal moet word en toe hy die dekreet wou omdraai, herinner sy slu ministers hom daaraan dat ’n wet van Mediërs en Perse, onherroeplik was (v.13).

6.     DANIËL SE REAKSIE:
       Wat was Daniël se reaksie toe hy van hierdie dekreet hoor? Sekerlik het die gedagte van kompromie by hom opgekom, want hy moes Jer.25 en 29 goed geken het en daarin kon hy sien dat die einde van sy en sy volk se ballingskap in sig was – wat sou so ’n bietjie kompromie nou regtig saak gemaak het? Die Here sal Sy jarelange en getroue dienskneg tog sekerlik hierdie een keer oorsien en vergewe en dan kan hy bly lewe om saam met sy volk terug te keer na die land van melk en heuning – wat meer is, hierdie dekreet is slegs vir 30 dae geldig en dis mos nie so lank nie, net so ’n kort rukkie kompromie maak, wat meer is, eintlik was dit nie eers regtig nodig om kompromie te maak nie – hy kon maar steeds net in die geheim voort gaan om te bid – agter toe deure; snags in sy bed – wie sal weet? – dit kan mos nie so erg wees nie, maar nie Daniël nie. Nee, hy bly openlik bid – drie keer per dag en die implikasie van vv.11-12 was dat hy dit openlik gedoen het, want sy vyande moes hom gesien het en daarom storm hulle sy huis binne en sleep hom voor die koning. Daniël skaam hom nie vir sy God nie; hy skaam hom nie vir sy godsdiens en sy oortuigings nie – hy is bereid om die prys te betaal – selfs al is die beëindiging van die ballingskap op hande!

Tog moes Daniël bekommerd gewees het, want toe hy hoor van die bevel, lees ons in v.11, het hy gaan bid – nie net het hy dit gedoen om die goddelose amptenary te wys dat hy nie skrik vir mensgemaakte wette nie, maar ten diepste moes hy tog immers ook bekommerd gewees het en vra hy God om hulp en ons weet dat die gebed van 'n gelowige 'n kragtige uitwerking (het) (Jak.5:16). Daniël het nie hierdie gebed gebid omdat hy gedink het dat hy onbesproke voor God gestaan het nie, want hy het sekerlik die woorde van Dawid geken wat gesê het ~ As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie (Ps.66:18), trouens Daniël bid self later in Dan.9:18 ~ Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid. 19Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. Hy het dus geweet dat hy niks, absoluut niks gehad het om op staat te maak nie, behalwe God se genade en soewereine wil.

       Daniël is ’n enkele man wat op sy eie gestaan het vir die Waarheid en hierdie een man se gehoorsaamheid en lojaliteit, sal ons sien, gaan ’n ongekende impak hê – massas is nie noodwendig nodig om "die aarde te laat bewe nie".

       Daar was egter nog een aspek waaroor Daniël beskik het en dit was geloof. Dit is goed en wel om te bid, maar as jou gebed nie gepaard gaan met geloof nie, dra dit nie veel krag nie. Jesus het nie verniet in Mark.11:22-24 gesê ~ Julle moet geloof in God hê! Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê:`Lig jou op en val in die see, 'en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

7.     DANIËL EN GOD SE ENGEL:
       Daniël word egter gearresteer en Darius moet by die wet hou en sy getroue minister moet in die leeukuil gegooi word. Gewapen met geloof; met die Waarheid en gehoorsaamheid, word Daniël in ’n kuil met honger leeus gegooi en om seker te maak dat hy nie ontsnap of hulp van buite kry nie, word die opening met ’n klip en die koning se kenteken op sy ring, verseël. Daniël word aan homself en sy eie lot oorgelaat en tog, net voor hy in die put gegooi word, kom daar ’n vertroostende en selfs bemoedigende woord vanuit ’n totaal onverwagse oord – Darius, waarskynlik onder die indruk van Daniël se getrouheid en geloofsgetuienis sê hy vir Daniël ~ Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red (v.17b).

       Nadat Daniël se lot oënskynlik in die leeukuil verseël is, ervaar die twee menslike hoofkarakters in hierdie drama daardie nag, twee interessante en absoluut uiteenlopende ervarings. Darius kon nie slaap, eet of enige iets doen nie – en Daniël? Daniël se reaksie in v.23 laat dit klink asof hy ’n wonderlike nag se rus agter die blad het en ook geen wonder nie, want die leeus was so mak soos lammetjies, maar nog meer wonderbaarlik, daar was ’n engel in Daniël se teenwoordigheid en dié het die leeus se bekke gesluit gehou – wat ’n ervaring!

       Die koning wat nie kon slaap nie haas hom die volgende oggend na die leeukuil om te sien of Daniël nog lewe! Het jy al so daaroor gedink: Waarom sou hy dit doen? Honger leeus; ’n man word tussen hulle ingegooi; daar is nie uitkom kans nie? Ten diepste moes koning Darius tog besef het dat Daniël se God lewe en dat Hy almagtig is, trouens in v.21 noem hy God, die lewende God – wat ’n getuienis het Daniël nie teenoor hom uitgeleef nie!

       Nadat die koning na Daniël roep, getuig Daniël weer teenoor Darius ~ My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit (v.23). Daniël sê eintlik vir Darius: Dit is die hemelse regbank wat oor my lot besluit het en nie ’n aardse koning nie – die Almagtige God is die Groot Regter en nie ’n aardse koning nie. Hoe ironies ook dat Daniël die koning groet met die woorde ~ Mag die koning baie lank lewe! (v.22), terwyl die heidense Darius sê ~ Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie vernietig word nie, sy heerskappy sal nooit eindig nie. 28Hy red en bevry, Hy doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde (vv.27-28). Weer soos in die geval van Nebukadneser bring ’n aardse en heidense koning, eer aan God in die hemel (4:37)!

       Vol blydskap en dankbaarheid laat die koning Daniël dadelik vry, maar terselfdertyd laat hy almal wat Daniël verkla het, in die leeukuil gooi en die honger leeus het ’n feesmaal – hul bekke is nie meer gesnoer nie – die engel is weg.

       Met Daniël het dit verder goed gegaan (v.29) en ons is nie seker daarvan nie, maar waarskynlik het Daniël nie lank hierna nie, terug gekeer na sy land van geboorte.

8.     AFSLUITING:
       Wat ’n wonderlike verhaal is hierdie van Daniël en die leeukuil nie! Ons het baie meer Daniëls in hierdie land van ons nodig (en mag ek sê in ons gemeente ook?) – Daniëls wat gewillig is om "hul vensters oop te maak" en openlik eer aan God te bring, sodat die wêreld – ook ons vyande dit kan hoor en sien.

       Dit is ook wel so dat baie gelowiges nie soos Daniël uit die bekke van die leeus gered word nie, want ook ons ervaar beproewing en vervolging. In Hebr.11:33 lees ons van geloofshelde ...deur (wie se) geloof hulle koninkryke verower (het), die reg van God gehandhaaf en verkry (het) wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop (’n waarskynlike verwysing na Daniël), maar net twee verse verder lees ons van gelowiges wat doodgemartel is (v.35); ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap (v.36) en in v.37 lees ons van gelowiges wat met klippe doodgegooi, in stukke gesaag en met die swaard vermoor is. Andere weer wat rondgeswerf het in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel, maar die woorde in v.35b was hul diepste verlange ~ ...hulle wou die opstanding tot 'n beter lewe deelagtig word – sommige gelowiges word dus deur God geroep om te getuig en te wen deur te leef, ander weer om te wen deur te sterf, maar aan die einde van die dag wen ons almal ~ As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here (Rom.14:8).

       Ons moet nie moedeloos word as ons getuienis oënskynlik nie suksesvol is nie – ons moet gehoorsaam en getrou wees en soos Daniël ons geloof ten alle tye uitleef, want al kom net een persoon deur ons lewe tot bekering, was dit die moeite werd. Daniël (en moenie sy vriende vergeet nie) was sy lewe lank sy lewe lank ’n geloofsreus in Babilon, maar nêrens lees ons van massa bekerings; van ’n herlewing in Babilon nie – nie eens onder sy eie mense nie – net twee mense wat ons van weet, het n.a.v. Daniël se betrokkenheid, die lewende God geprys en erken as Here – Nebukadneser en Darius.

       Daar is egter ’n paar lesse wat ons uit hierdie verhaal van Daniël kan neem en ek noem ’n paar:
·           Die mens se mag is beperk en word gegee en weggeneem deur God.
·           Die belangrikheid en krag van gebed word vir ons pragtig in vandag se Skrifgedeelte beklemtoon.
·           Of ons beskerm word of nie, ons het ’n ewigheid waarna ons kan uitsien en waarheen ons met vertroue op pad is.
·           Dikwels word ons deur beproewing juis bemoedig en versterk in ons geloof – kan julle dink hoe moes Daniël op die spreekwoordelike wolke geloop het na sy nag se ervaring met ’n engel van God en rustige en vreedsame leeus? As God Daniël uit ’n brandende oond en nou weer uit ’n leeukuil kon red, hoeveel te meer kan en sal Hy ons nie uit ons "brande oonde en leeukuile" red wanneer ons Hom daarom vra nie?
·           Hierdie verhaal van Daniël is vir ons ’n voorafskaduwing van iets veel-veel groter – van Een wat ook valslik beskuldig was, maar anders as Daniël, het geen engel Sy moordenaars gestop nie en het Hy die hoogste prys betaal – vir ons! Net soos Daniël hoef ons geen aardse regter te vrees nie, want God is ons Regter en deur Jesus se soendood is ons reeds vrygespreek.

       Wanneer ons, ons vertroue plaas in Jesus Christus vind iets merkwaardigs plaas. Dieselfde krag wat Daniël gered het – dieselfde krag wat Christus uit die dood opgewek het, word ons ook deelagtig ~ ...en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het... (Ef.1:19-20). Hierdie selfde krag het ons reeds uit ’n geestesdood opgewek, maar sal ons ook opwek uit die fisiese dood wat op ons almal wag, waarna ’n ewige saligheid op ons wag!





[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 24 November 2013