Sunday, November 17, 2013

Die Boodskap van Daniël - 08 (Die Skrif is teen die Muur)

1.     SKRIFLESING:
       Daniël 5:1-30 ~ Koning Belsasar het ’n groot ete gegee vir sy duisend hoofamptenare en saam met hulle wyn gedrink. 2Toe hy onder die invloed van die wyn was, het hy die goue en die silwerbekers wat deur sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem weggevoer is, laat haal sodat hy en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens daaruit kon drink. 3Toe is die goue en die silwerbekers gebring wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem, en die koning en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens het daaruit gedrink. 4Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip geprys. 5Meteens verskyn daar toe ’n mensehand wat op die gepleisterde muur van die paleis skryf, reg teenoor die kandelaar. Die koning het die hand gesien terwyl dit skryf. 6Toe het die koning bleek geword, hy was baie bang, sy bene het gebewe en hy was lam van die skrik. 7Hy het hard geroep dat die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders ingebring moes word en hy sê toe vir hulle, sy raadgewers: “Enigiemand wat kan lees wat hier geskrywe is en dit vir my kan uitlê, sal ’n koninklike kleed aangetrek word en ’n goue halsketting omgehang word, en hy sal as derde in rang regeer.” 8Al die koninklike raadgewers het ingekom, maar hulle was nie in staat om wat geskryf is, te lees en dit vir die koning uit te lê nie. 9Toe het koning Belsasar nog banger en bleker geword. Ook sy hoofamptenare het verslae gestaan. 10Onderwyl die koning en sy hoofamptenare aan die praat was, het die koningin die eetsaal binnegekom. “Mag die koning baie lank lewe!” het sy gesê. “U moenie so bang en bleek wees nie. 11Daar is ’n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is. In die dae van u voorganger is daar gevind dat hy skranderheid, insig en wysheid het soos dié van die gode. U voorganger, koning Nebukadnesar self, het hom aangestel as hoof van die towenaars, die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders. 12Hierdie man Daniël vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, het buitengewone bekwaamheid en kennis en insig om drome uit te lê, probleme op te los en moeilike dinge te ontrafel. Laat haal nou vir Daniël, en hy sal vir u die uitleg gee.” 13Daniël is toe na die koning toe gebring, en die koning het vir hom gevra: “Is jy die Daniël uit die Judese ballinge wat deur my voorganger die koning hierheen gebring is uit Juda? 14Ek het gehoor dat die gees van die gode in jou is en dat jy oor skranderheid, insig en buitengewone wysheid beskik. 15Die raadgewers, die voorspellers, is na my toe gebring sodat hulle kan lees wat geskryf is, en dit vir my kan uitlê, maar hulle is nie in staat om ’n uitleg te gee nie. 16“Ek het gehoor jy kan dinge uitlê en probleme ontrafel. As jy dan nou vir my kan lees wat geskryf is, en dit kan uitlê, sal daar vir jou ’n koninklike kleed aangetrek word en ’n goue halsketting omgehang word, en sal jy as derde in rang regeer.” 17Toe het Daniël die koning geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke en gee u beloning maar aan iemand anders. Ek sal in elk geval vir u lees wat geskryf is en dit vir u uitlê. 18“Die allerhoogste God het aan u voorganger Nebukadnesar koningskap en mag, roem en eer gegee. 19Vanweë hierdie mag wat God hom gegee het, het al die volke, nasies en taalgroepe vir hom gesidder en gebeef. Hy het doodgemaak wie hy wou en hy het laat lewe wie hy wou; hy het verhoog wie hy wou en hy het verneder wie hy wou. 20Maar toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy uit die koningskap afgesit en het hy sy roem verloor. 21Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en het soos die wilde diere geword; hy het saam met die wildedonkies gebly en moes gras eet soos beeste; hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak. Hy moes erken dat die allerhoogste God mag het oor die koninkryke op aarde en daaroor aanstel wie Hy wil. 22Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. 23U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie. 24Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe. 25“Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’26En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en ’n einde daaraan gemaak. 27‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. 28‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.” 29Daniël is toe op bevel van Belsasar ’n koninklike kleed aangetrek en ’n goue halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang in die koninkryk. 30Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor..

2.     INLEIDING:
       Belsasar verskyn hier in hoofstuk 5 sonder enige aankondiging, of enige agtergrond en die rede hiervoor is omdat die boek Daniël nie bloot net 'n verslag van geskiedkundige gebeurtenisse rondom God se volk is nie, trouens wanneer 'n mens na Daniël kyk en dit vergelyk met geskiedskrywes, besef 'n mens dat Daniël nie veel aandag skenk aan historiese chronologie nie, daarvoor sal 'n mens na ander geskrifte moet gaan kyk.
       Die profeet Daniël is egter meer geïnteresseerd in die geestelike konflik wat onderliggend is aan die geskiedkundige gebeurtenisse in die wêreld en wat op dramatiese wyse na vore kom in bepaalde gebeurtenisse soos weergegee in die boodskap van Daniël. In kort gaan dit dus oor die konflik wat daar heers tussen die koninkryk van hierdie wêreld en die koninkryk van God.
       Hierdie onaangekondigde verskyning van Belsasar laat 'n mens egter met 'n vraag, nl.: Wie is hierdie man, want nêrens in die geskiedskrywes verskyn die naam Belsasar in die lys van konings van Babilon nie.
       In v.2 word na Belsasar verwys as die opvolger van Nebukadneser. Hierdie is egter nie die korrekte vertaling nie en is die OAV en die meeste Engelse vertalings nader aan die waarheid, wanneer dit hierdie verwysing vertaal met dat Nebukadneser die vader van Belsasar was – en tog is dit ook nie heeltemal korrek nie, want Belsasar was die seun van Nabonidus, die laaste koning van Babilonië. Twee verdere vrae ontstaan dan: Indien Nabonidus die laaste koning was, hoe kan daar van Belsasar as koning gepraat word? Tweedens, indien Nebukadneser nie die vader van Belsasar was nie, waarom verwys die Bybel dan op hierdie wyse na Belsasar?
       Sonder om in detail hieroor te verval, net die volgende – en hieroor bestaan daar ook nie heeltemal klarigheid nie:
·           Belsasar was waarskynlik tydelik in bevel van die koninkryk geplaas terwyl sy pa Nabonidus besig was met 'n veldslag gedurende sy 7de tot 11de regeringsjaar.
·           Ons moet egter ook verstaan dat die uitdrukking "vader van..." vele betekenisse kan hê – o.a. verwys dit nie noodwendig na die biologiese Pa van 'n bepaalde persoon nie, maar eerder op 'n verskeidenheid van verhoudinge waarin die twee persone tot mekaar kan staan. So kon die uitdrukking "Pa van...." verwys na iemand se grootvader iewers terug in sy voorgeslag. 'n Voorbeeld hiervan is Abraham, wat die vader van die Jode is. Ons sien bv. in Joh.8:39 dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes vir Jesus gesê het ~ Ons vader is Abraham.
       Net 'n laaste opmerking en dit is dat Nabonidus nie in die Bybel vermeld word nie en kry mens die indruk in Daniël, dat Nebukadneser die heel laaste koning was, maar volgens geskiedskrywes en opgrawings, was Nebukadneser se opvolger, Nabonidus die laaste koning – onthou Daniël is nie 'n geskiednisboek nie.

3.     DIE BANKET (vv.1-4):
       In vv.1-4 sien ons dan dat Belsasar 'n banket of partytjie vir 'n duisend van sy hoofamptenare, vrouens en byvrouens gehou het en hierdie partytjie het gepaard gegaan met 'n wyndrinkery en soos gewoonlik, is daar te veel gedrink en het menige van die partytjiegangers beskonke geraak. Ander voorbeelde van sulke partytjie is bv. dié waarvan 'n mens in Ester lees, waartydens Ahasveros sy vrou Vasti verwerp het en uiteindelik met Ester getrou het. Nog ’n voorbeeld is die bekende fees van Herodes in Mark.6, waartydens die onthoofding van Johannes die Doper geëis is.
       Ons lees in v.3 van ...die goue en die silwerbekers wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem en dit is dieselfde ...voorwerpe van die huis van God, (wat deur Jojakim) na die land Sínear gebring (en) in die huis van sy god (geplaas is). Die feit dat hier in hoofstuk 5 weer verwys word na hierdie voorwerpe, vestig weer vir ons die aandag op die stryd tussen lig en duisternis, want hierdie voorwerpe was van silwer en goud en was gebruik in die Tabernakel in opdrag van God (Eks.30:1-10) en was dus heilige voorwerpe omdat dit gewy was aan God, trouens dit was so heilig dat dit met draaghoute gedra moes word.
      Belsasar kom nou tydens hierdie fees en hy onteer hierdie heilige voorwerpe en laster derhalwe direk teen God, deur wyn uit hierdie voorwerpe te drink en in die proses hierdie heilige voorwerpe te misbruik om eer aan sy afgode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip te bring (v.4). Hoe ernstig het God die verkeerde hantering van Sy heilige voorwerpe beskou? 2 Sam.6:6-7 ~ En toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel. Daarop het die toorn van die Here teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor dié vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf het. Baie mense vind dit moeilik om te verstaan waarom God so ingrypend optree teen die wangebruik van Sy heilige voorwerpe, trouens selfs Dawid het dit nie verstaan nie – v.8 ~ Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het. Wat ons moet verstaan, is dat God heilig is en ons vol sonde is – as God vir Ussa, wat maar net wou help, so gestraf het, hoeveel te meer nie vir Belsasar nie!
            Nie alleen het Belsasar God se heilige voorwerpe onteer nie, maar hy het hom ook openlik geskaar by die afgode en daarom teen God, deur wyn te drink ter ere van sy afgode. In Ps.46:11 sê God ~ Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. In Ps.96:4-5 lees ons die volgende ~ Die Here is groot, al die lof kom Hom toe, ontsagwekkend is Hy bo alle gode. 5Al die gode van die volke is niks: dit is die Here wat die hemele gemaak het. Belsasar het God nie erken nie en hy het nie lof aan God gebring deur sy misbruik van die heilige tempelvoorwerpe nie. God deel nie Sy eer met iets of iemand anders nie en daarom tree Hy op teen enige iemand wat nie eer aan Hom en Hom alleen bring nie.

4.     DIE TEKEN (vv.5-9):
       Soos baie kere is God baie geduldig met sondaars (dink maar net aan onsself), maar met Belsasar se gefuif en laster het God geen geduld gehad nie en Hy tree onmiddellik op – 'n geheimsinnige vinger skryf teen die muur in die banketsaal (NAV = hand; אֶצְבַּע [ʾetsbaʿ /ets·bah/] = vinger – OAV e.a. – korrek = vinger). Hierdie vinger, is dieselfde vinger waarvan die Farao se towenaars in Eks.8:19 gesê het ~ Dit is die vinger van God. Die vinger van God skryf verdoemende woorde op die muur in Belsasar se banketsaal.
       Toe Belsasar die woorde sien het hy doodsbleek geword; sy knieë het gebewe en sy heupe het "losgeraak", wat daarop dui dat hy waarskynlik neergeslaan het op die grond.
            In hierdie vreesbevange toestand roep hy na sy waarsêers en voorspellers, maar nie een van hulle kon hierdie woorde wat teen die muur geskryf gestaan het, verklaar nie en Belsasar het nog bleker geword. Die feit dat niemand hierdie oënskynlik eenvoudige boodskap kon verklaar nie, herinner 'n mens aan die woorde 1 Kor.1:18-19 ~ Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe: “Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig, en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.” Hierdie is natuurlik 'n aanhaling uit Jes.29:14 ~ Daarom gaan Ek nog ongehoorder dinge doen met hierdie volk: die een ongehoorde ding na die ander, sodat die wysheid van sy wyse manne sal verdwyn, die verstand van sy verstandige mense tot niet sal gaan.     

5.     DIE PROFEET GENADER (vv.10-16):
       'n Vrou kom die vreesbevange Belsasar te hulp. Hierdie vrou word in die teks genoem as Belsasar se vrou – die koningin. Daar is baie Bybelverklaarders wat reken dat dit eerder Belsasar se moeder was, want Belsasar se vrouens was reeds in die saal (v.2) en slegs die koningin (die vrou van Nabonidus) sou die reg hê om onaangekondig by die banketsaal in te loop – dit is egter nie belangrik om regtig te weet wie dit nou werklik was nie, wat saak maak, is dat 'n vrou die oplossing tot 'n verklaring aanbied, wanneer se in v.11a sê ~ Daar is ’n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is en dan gaan sy in v.12 voort en sê ~ Hierdie man Daniël vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, het buitengewone bekwaamheid en kennis en insig om drome uit te lê, probleme op te los en moeilike dinge te ontrafel. Laat haal nou vir
 Daniël, en hy sal vir u die uitleg gee, waarop Daniël dadelik na Belsasar geneem is.
       In vv.13-16 het Belsasar allerlei vleitaal gebruik en ook 'n wonderlike belofte aan Daniël gemaak dat indien hy die skrif teen die muur kan verklaar, hy hom derde in beval van die koninkryk sou maak.

6.     DIE PROFEET SE VEROORDELING (vv.17-24):
       Nadat Daniël geduldig gewag het vir Belsasar om klaar te praat, laat blyk hy duidelik dat hy nie beïndruk is met Belsasar se mooi praatjies en beloftes nie en begin hy in vv.17-24 vir Belsasar so bietjie agtergrond gee oor sy voorvader (Nebukadneser) en wat alles met hom gebeur het en hoe God hom gestroop het van sý arrogansie.
       Hy sê ook vir Belsasar dat dit tragies is dat hy nie uit Nebukadneser se situasie geleer en homself voor God verootmoedig het nie en omdat hy dit nie gedoen het nie, het God se geduld met hom opgeraak. Paulus skryf in Rom.2:4-5 ~ God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? 5Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek. Presies dit wat Paulus hier sê, was Belsasar se voorland – God het reeds Sy regverdige oordeel oor Belsasar uitgespreek deurdat Hy dit teen die muur met Sy vinger geskryf het en nou gee Daniël vir die koning die uitleg van dit wat geskryf is.

7.     DIE UITLEG (vv.25-28):
       ...Getel, getel, geweeg en verdeel  26En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en ’n einde daaraan gemaak (v.25-26), of anders gestel: God het jou jare getel en jou regeringstyd is verstreke; jy is geweeg en te lig bevind en jou koninkryk gaan verdeel word en aan die Mede en Perse gegee word.

8.     DIE GEVOLGE (vv.29-31):
       Na hierdie uitleg reageer Belsasar op ’n eienaardige wyse – al het Daniël die koning se aanbod tot bevordering, ens. (v.16) van die hand gewys, hou Belsasar tog by sy belofte en bevorder hy Daniël (v.29), maar ’n mens kry amper die indruk dat hy dit doen om net vir oulaas dalk Daniël en Daniël se God se guns te wen, maar alles is puur verniet, want in v.30 lees ons ~ Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor en daarmee saam het die eens magtige Babiloniese Ryk verdwyn. Belsasar het op die hardste moontlike manier geleer dat God alleen die Almagtige is; dat Hy soewerein is en dat Hy en Hy alleen regeer.

9.     AFSLUITING EN TOEPASSING:
       Wanneer ons na v.22 kyk, sien ons dat Belsasar se sonde ’n keuse was wat hy uitgeoefen het ~ Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. Die voorbeeld van wat van hom verwag was, het nie ver in die verlede gelê nie, maar hy het gekies om te sondig; hy het gekies om in duisternis te leef. Paulus noem hierdie keuse in Rom.8:7, ...vyandskap teen God. Johannes weer, noem dit in 1 Joh.3:4 ~ wetteloosheid (OAV). In Joh.3:19 sê Jesus ~ ...en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. In Joh.5:40 sê Hy ~ Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.

       Daar is ’n paar belangrike lesse te leer uit hierdie verhaal van Belsasar:
·           Sonde is nie passief nie en het altyd gevolge – die een sonde lei tot ’n volgende, of wanneer jy sondig, raak daardie sonde baie maklik ’n gewoonte. Nebukadneser het gesondig deur homself te vereer en daarvoor het God hom ’n tyd lank gestraf met o.a. kranksinnigheid – Eks.20:5 ~ Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Belsasar het nog verder gegaan – hy het God belaster en daarvoor is hy gedood.
       Hierdie is die patroon wat sonde volg – dink aan Jona, sy aanvanklike ongehoorsaamheid het tot uiteindelike rampspoed gelei en so is daar nog vele ander voorbeelde in die Woord
       Paulus som hierdie agteruitgang van sonde in die mens se lewe baie mooi op in Rom.1:21-28 (ek som op) ~ ...omdat, al weet hulle van God, (maar) hulle Hom nie as God eer en dank nie... (v.21); ...gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid... (v.24); ...gee God hulle oor aan skandelike drifte... (v.26); ... (en) brand (hulle) van begeerte... (v.27); ...en omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is. (v.28). Die een sonde lei tot ’n ander en dit raak net erger en erger.
       Met hierdie feit in gedagte moet ons baie versigtig wees hoe ons omgaan met sonde en baie seker maak dat ons nie sonde in ons harte vertroetel nie – voor ons, ons oë uitvee, neem dit hand oor hand toe.
       Ons het ook geen verskoning as ons hierdie dinge weet, maar volhard steeds in ons sonde nie – dit is waarom Daniël vir Belsasar gesê het ~ Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet (v.22).
·           Sonde stel ons bloot aan gevaar. Rom.6:23a sê ~ Want die loon van die sonde is die dood. Belsasar se sonde het hom al nader aan hierdie realiteit gebring, want toe sy sonde die toppunt bereik het, het hy letterlik ’n paar uur later gesterf (v.30). Ons weet dat ’n permissiewe lewe baie dikwels lei tot bv. HIV Vigs en uiteindelike die dood, ens. Ons moet dus versigtig wees om nie onverskillig om te gaan met sonde nie.
·           God is nie onbetrokke en passief nie. Net soos wat sonde nie passief is nie, is God ook nie passief en onbetrokke by die mens se sonde nie. Belsasar se sonde en God se vinger teen die muur het letterlik die boodskap vir Belsasar uitgespel, nl.: die skrif is aan die muur vir jou Belsasar.
       Daar is baie kere dat dit vir ons voorkom asof God glad nie sonde raaksien en/of daarop reageer nie, maar ons moet nie dink dat God nie daardeur geraak word nie, of dat Hy dit vir altyd sal ignoreer nie. John MacArthur het nou onlangs tydens die "Strange Fire- konferensie" gesê, dat dit verstommend is dat God nie die misleiers en meelopers in die ekstreem Charismatiese groepe, oombliklik van die aarde af wegvee nie, maar toe antwoord hy homself deur te sê dat hy aan die anderkant oortuig is daarvan dat God geduldig wag, omdat daar nog mense in hierdie groepe is wat tot bekering gaan kom – dat daar nog uitverkorenes is wat verlos gaan word vanuit daardie groepe en dit is waarom God oënskynlik niks aan daardie sonde doen nie – dit is waarom Hy geduldig is met hul sonde en wat die ander betref wat nie tot bekering gaan kom nie – God se wraak word net meer en meer opgepot teen hulle.
       Ons moet egter ook onthou dat ons primêre roeping as gelowiges is om God in en deur ons lewe te verheerlik en sonde verhoed ons om dit te doen, omdat sonde in ons lewe tot God se oneer strek. Bykomend hierby is natuurlik ook die feit dat ons sonde die Heilige Gees bedroef en dit verbreed net die kloof wat deur sonde veroorsaak word.
       Nebukadneser en Belsasar is nie die enigste twee kontrasterende Bybelfigure nie – dink maar net aan die kontras tussen Kain en Abel – Kain wat God gehaat het en Abel wat God liefgehad het. Dink aan Jakob en Esau – die een word begenadig en gered; die ander verlore. Daar was Dawid en Saul; die elf dissipels en Judas en dan in ons verhaal Nebukadneser en Belsasar.
       Wat is dit wat die verskil tussen twee kontrasterende figure veroorsaak? Wat bepaal dat die twee nie dieselfde is nie? Hoe verklaar ons die geheimenis van iemand wat uitverkies is en gered word en ’n ander wat verwerp word; wie nie uitverkies is nie en derhalwe verdoem word?
       As ons so deur die Woord van God lees, dan kan ons
nie anders as om te besef dat God kies wie Hy wil en verwerp wie Hy wil nie. Die wie God se guns geniet kan Hom maar net dank vir genade onverdiend ontvang!   
       Babilon het twee trotse konings gehad – die een was verneder en God het aan hom ’n berouvolle hart geskenk en sodoende is sy lewe en sy koninkryk vir ’n tyd lank gespaar. Die ander was verneder voor sy vrouens en hoofamptenare, maar hy het homself nie bekeer nie en hy het die hoogste prys daarvoor betaal – Matt.16:26a ~ Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor...? Daarteenoor, as Jesus Christus jou Verlosser en Saligmaker is, mag jy dalk alles in hierdie lewe verloor, maar jy sál die ewige lewe as wins verkry.





[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 17 November 2013