Sunday, October 27, 2013

Die Openbaring aan Johannes – 50 (Jesus Christus Heers - 01)


1.     INLEIDING:
       Ons kom nou by waarskynlik die mees kontroversiële hoofstuk in die ganse Bybel. Openbaring 20 is waarskynlik dié hoofstuk in die Bybel waaroor die meeste debatte oor die afgelope 18 eeue gevoer is; waaroor die meeste boeke waarskynlik geskryf is en waaroor gelowiges die meeste verskil. Waarom is dit so moeilik om Openb.20 te verklaar? Die hoofrede hiervoor is waarskynlik wat ek reeds aangesny het, nl. die feit dat daar sóveel uitgangspunte in eksegese of uitleg van hierdie hoofstuk is en selfs onder mense wat dieselfde uitgangspunt huldig, bestaan daar verskille. Kom ek verduidelik verder: Daar bestaan hoofsaaklik vier basiese ortodokse benaderings: Ortodoks, omdat elkeen van hierdie basiese benaderings ingesluit is in een of meer van die historiese belydenisskrifte van die kerk.

       Die vier hoof benaderings is die volgende: Daar is eerstens, die Idealistiese benadering (of geestelike benadering); die Historiese benadering; die Futuristiese benadering; en die Preteristiese benadering. Wat alles nog meer verwarrend maak, is die feit dat daar nog letterlik dosyne interpretasies binne elk van hierdie vier hoofstroom-verklarings aangetref word!

       ’n Hoofstuk in die Woord met soveel interpretasie verskille onder vooraanstaande en Godvresende manne, laat my uiters nederig en onbekwaam voel om ’n mening en verklaring hieroor te waag, maar ek kan nie en mag nie sê dat ’n gedeelte te moeilik is en daarom vermy ek dit nie, want die Woord is vir ons "eenvoudige" mense ook gegee om te verstaan en daarom gaan ek in nederigheid en in afhanklikheid van die Gees hierdie stuk aandurf en ek nooi u uit om in dieselfde gesindheid die studie van hierdie hoofstuk aan te durf.

       Let net op, dat ons nooit, maar nooit mag toelaat dat hierdie hoofstuk ons by ’n punt uitbring waar ons as gelowiges se paaie uiteen loop nie, omdat die opgestane Jesus Christus, steeds ons gemeenskaplike fokus is en moet wees.

2.    DIE KONTEKS VAN DIE HOOFSTUK:
       Voor ons na ’n verklaring of verklarings kan gaan kyk, moet ons net eers kyk na die voorafgaande gedeeltes in Openbaring.
-        Eerstens moet ons daarop let, dat die gebeure wat hier in hoofstuk 20 beskryf word, ’n chronologiese opvolg van gebeure in die voorafgaande gedeeltes is. Alles wat dus in hoofstuk 20 geprofeteer word, moet in die lig van die gebeure in hoofstuk 19 oorweeg word.
-        Tweedens moet ons aanvaar dat wat ook al hier in hoofstuk 20 geprofeteer word, iets te doen het met die eerste eeu se gelowiges ~ Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien (Openb.1:1). Ook in Openb.22:6-7 en vers 20 lees ons ~ Toe sê die engel vir my: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee, het sy engel gestuur om vir sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.” 7Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.” ... ... 20Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus!

       Ons sien tog immers in Openb.20:4 dat dit diegene is wat die versoeking weerstaan het om die Dier te aanbid, wat saam met Christus regeer. Soos reeds vantevore aangedui, sien die Futuriste gladnie dat hierdie hoofstuk iets te doen het met die eerste eeu nie. Daarenteen, aangesien ons Openb.19 en ander voorafgaande gedeeltes reeds verklaar het met die eerste eeu se gelowiges in gedagte, moet ons tog immers ook hierdie twintigste hoofstuk van Openbaring in daardie lig interpreteer (anders het ons, ons tyd nou reeds vir weke al lank gemors!).   
-        Natuurlik is dit ook so dat hier sprake is van ’n 1000 jaar –tydperk, maar gesien in die lig van ons uitgangspunt en die eerste eeu se gelowiges, kan ons sê dat hierdie hoofstuk steeds fokus op die eerste eeu se gelowiges en dat die profesie in hoofstuk 20 daar begin, maar dat dit terselfdertyd ook dui op ’n langer tydperk as bloot net die eerste eeu.

       Kontekstueel is die fokus van hierdie hoofstuk dus gerig op die eerste eeu, maar dit is terselfdertyd ’n fokus op gebeure wat nog vir ’n lang tydperk ná die eerste eeu sal voortduur.  

3.    DIE INHOUD VAN DIE HOOFSTUK:
       Ons kan hierdie hoofstuk onder die volgende hoofpunte indeel:
-        Satan gebind (20:1-6)
-        Oorwinning oor die satan (20:7-10)
-        Die finale oordeel (20:11-15)

       Ons kan egter ’n oorkoepelende tema koppel aan hierdie hoofstuk, nl.: Jesus Christus heers!  Ons sal reg deur hierdie hoofstuk sien dat Christus in beheer is en dat Hy heers en Hy sal heers tot en met die wederkoms, waarna Hy Sy Koninkryk aan die Vader sal oorhandig ~ Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. 21Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. 22Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 23Maar daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. 24Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. 25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. 28Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles (1Kor.15:20-28). Wat meer is, jy en ek wat in die Here Jesus Christus ingeplant en wederbaar is, sal hierdie onbeskryflike en hemelse feestelikheid beleef wanneer die Koninkryk aan God die Vader oorhandig word!

4.    SKRIFLESING:
·           Openb.20:1-6 ~ Toe het ek ’n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met ’n groot ketting in sy hand. 2Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind. 3Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word. 4Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer. 5Dit is die eerste opstanding. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. 6Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer. Ons sien in hierdie gedeelte hoe dat die satan vir ’n "duisend jaar" gebind sal wees en hy sal spesifiek gebind wees t.o.v. die misleiding van die volkere.

5.    SATAN GEBIND:
       Gedurende die Ou Verbond het Satan oor die vermoë beskik om die nasies te mislei, maar hierdie mag sou binnekort ingeperk word – nie ten volle nie, maar weliswaar tot ’n groot mate – hy sou dus oor veel minder mag beskik as gedurende die Ou Verbond. Die vraag is egter, presies wanneer is Satan se magte ingeperk? Jesus het hierdie proses van inperking van die satan se magte reeds in Joh.12:31-32 begin ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek. In Kol.2:15 lees ons die volgende ~ Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. In Hebr.2:14-15 staan daar ~ Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.

       Satan is gebind ten tye van Jesus se kruisiging en ons sien dit in die "Groot Opdrag" soos opgeteken in Matt.28:18-20 ~ Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Vantevore kon die satan die nasies mislei, maar na Jesus se kruisiging is die dissipels uitgestuur na al die nasies toe met die belofte van oorwinning.

       Vir ’n geslag lank, na die kruisiging en hemelvaart, het die satan alles in sy mag gedoen om o.a. die "nuwe" kerk van Jesus te vernietig deur die jong gelowiges bloot stel aan o.a. die ergste vervolging denkbaar, maar Christus se belofte in Matt.16:18 dat gelowiges nooit deur die satan oorweldig sal word nie, is gestand gedoen ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.  

       In ons dae wil ons maar al te dikwels dink dat die kerk (die ware Kerk) tog besig is om onder te gaan, want kyk net na die geestelike verval rondom ons – veral as ons kyk na hoe die Afrikaner by name, kerklos raak en selfs meer as dit – selfs ateïsties en totaal liberaal word. Ons vergeet egter dat daar ander plekke op aarde is waar die teenoorgestelde tans aan die gang is. In China is daar geweldige vooruitgang en uitbreiding aan die gang wat die Christendom en die kerk van die Here Jesus betref. Ongekende hoeveelhede mense kom tans in China tot bekering en dieselfde geld vir Iran – soveel so dat die Islamitiese regering nou onlangs, openlik hul kommer  in die media daaroor uitgespeek het – ons moet nie teen ons eie klein wêreldjie vaskyk wanneer ons vir onsself die vraag afvra, of die kerk van die Here Jesus Christus werklik nog vooruitstu nie – ja dit is so dat die satan van tyd tot tyd "sy houe inkry", maar dit is nie ’n globale tendens nie en in die geheel gesien, groei die Christendom met rasse skrede oor die wêreld heen. Ek het bv. baie nou kontak met verskeie voorgangers van gemeentes in Zambië en dit is verstommend om te sien hoe die kerk in Zambië groei en onder hulle leiding weer in ander Afrikalande – en wat meer is, as ek praat van die kerk in Zambië praat ek van kerke wat suiwer is in hulle teologie – gereformeerd in hulle teologie (gaan besoek gerus die Blog van ’n baie goeie vriend van my, by name Conrad Mbewe – wat waarskynlik Afrika se mees gewilde internasionale prediker in regsinnige kringe op die oomblik is en oordeel self – in die VSA word hy die "Spurgeon van Afrika" genoem: http://www.conradmbewe.com/). Of gaan luister gerus na Ronald Kalifungwa (nog ’n baie goeie vriend van my en ook van Lusaka is) se preke –
(http://www.lusaka-baptist-church.org/index.php?option=com_biblestudy&view=studieslist&Itemid=53). En talle ander (Choolwe Mwetwa; Grave Singogo; Emmanuel Sakala; Kennedy Sunkutu; Victor Kanyense; Michael Bewembya om maar 'n paar te noem).

       Hoe dit ook al sy, dit was net na die val van Jerusalem dat die Satan finaal gebind is en die Evangelie tot aan die uiteindes van die aarde begin versprei het – Satan het nie beheer gehad oor die volke van die wêreld nie, want die Evangelie het die wêreld begin verower – die aanklaer van die broeders was ingeperk t.o.v. sy misleiding en kon die kerk van die Here Jesus Christus, die wêreld vanuit die duisternis na die lig begin lei. Weereens net weer ’n terloopse opmerking: Ons moet onthou dat nie alle mense gered is nie – waarskynlik die meerderheid nie (sien o.a. Matt.7:14 ~ Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min) en daarom sal daar steeds duisternis rondom ons wees en sal die duisternis wat reeds bestaan net nog donkerder word – MAAR, God is in beheer en die kerk brei uit op aarde – die Evangelie stu voort én die satan het nie meer die hef in die hand om die nasies te verlei nie – in elke land op aarde vind ons vandag al gelowiges (interessantheidshalwe: Die top 3 lande met die minste gelowiges – maar daar is gelowiges – is Somalië met ’n 0,013% gelowiges van die totale bevolking. Jemen is die tweede "slegste" daaraan toe met 0.014% en Afghanistan met 0,02%. Weliswaar is van hierdie "Christene" o.a. Rooms Katolieke, maar nie almal nie).

       Ons moet egter nog na die "1000 jaar" kyk. Daar staan tog onteenseglik dat Satan vir ’n duisend jaar gebind sal wees (20:2-3), maar dan lees ons ook in v.3 dat hy ná hierdie tydperk van duisend jaar, vir ’n kort rukkie losgelaat sal word. Die vraag is of hierdie 1000 jaar, letterlike jare is en of dit ’n simboliese getal is? Is hierdie ’n tydperk wat in die verlede lê, of in die huidige, of nog in die toekoms? Daar bestaan heelwat teorieë en moontlike verklarings hiervoor.
o    Daar is mense (die Hiperpreteriste) wat sê dat hierdie 1000 jaar, simbolies was van die tydperk tussen 30 n.C. en 70 n.C. (die tydperk tussen Christus se hemelvaart en die val van Jerusalem). Hierdie opsie is beslis nie ’n moontlikheid wat ons kan oorweeg nie. Die blote noem van die tydperk, 'n 1000 jaar suggereer tog immers ’n langer tydperk as bloot die nagenoeg 40 jaar soos deur hierdie groep voorgestel. Wat meer is, die voorstanders van hierdie standpunt leer ook dat Jesus se wederkoms (Sy tweede koms), asook die algemene opstanding en die finale oordeel gedurende 70 n.C. plaasgevind het – hulle sê dat al hierdie dinge in ’n geestelike sin geskied het en dat ons tans in ’n ewigheidstoestand voortbestaan – uiteraard ’n standpunt wat ons kategories moet en kan verwerp – die groep mense wat hierdie standpunt huldig staan bekend as die Hiperpreteriste, of die Panteliste.
o    Dan is daar diegene (die Klassieke A-Millennialiste) wat glo dat hierdie tydperk bloot die tussentoestand van die afgestorwe gelowiges verteenwoordig. Hierdie is ook nie ’n vasgestelde tydperk nie en verskil van gelowige tot gelowige. Dit is m.a.w. bloot net die tydperk tussen die afgestorwene se dood en Christus se wederkoms. Gedurende hierdie tyd regeer die afgestorwene saam met Christus vanuit die hemel. Hierdie standpunt is dié van die Klassieke A-Millennialiste.
o    Derdens is daar dié groep (die Postmillennialiste) wat hierdie 1000 jaar tydperk sien as die era van die kerk, totdat Christus terugkeer. Hierdie tydperk word gesien as ’n vaste tydperk, m.a.w. ’n tydperk met ’n vaste begin en ’n definitiewe eindpunt, maar die 1000 jaar is nie ’n letterlike tydperk nie, maar wel ’n simboliese tydperk. Hierdie is die standpunt van dié groep wat hulself Postmillennialiste, of Optimistiese A-Millennialiste noem.
o    Dan is daar dié groep (die Klassieke Postmillennialsite) wat glo dat die 1000 jaar ’n goue tydperk verteenwoordig wat nog in die toekoms lê en waartydens sendingwerk en evangelisasie geweldig suksesvol sal wees en massa bekerings gedurende hierdie tydperk sal voorkom, wat tot gevolg sal hê dat die wêreld oorwegend moreel Christelik sal wees en derhalwe die wêreld ’n veel-veel beter plek sal maak as wat dit huidiglik is. Let daarop dat hulle nie sê dat die mense noodwendig almal Christene gaan word nie, maar dat die wêreld ’n beter plek gaan word a.g.v. die invloed van die steeds toenemende Christendom. Hierdie groep staan bekend as die Klassieke Postmillennialiste. Hulle glo ook nie noodwendig dat hierdie tydperk ’n letterlike 1000 jaar sal wees nie, maar daar is wel van hulle wat vashou aan die gedagte van ’n vaste of letterlike tydperk van 1000 jaar.
o    In die vyfde plek is daar diegene (die Pre-Millennialiste) wat glo dat die 1000 jaar tydperk in die toekoms lê en dat dit ’n letterlike tydperk van 1000 jaar van fenomenale seën vir die wêreld impliseer. Hulle glo voorts dat Christus se wederkoms net voor die millennium (’n letterlike 1000 jaar) tydperk van seën sal plaasvind. Die aanhangers van hierdie standpunt staan bekend as Pre-Millennialiste (die meeste Charismatiese- en Pinkstergroepe is Pre-millennialiste). Die Pre-Millennialiste verskil van die res van bg. groepe in twee opsigte:
-       Pre-Millennialiste staan en val daarop dat die 1000 jaar ’n vaste tydperk is; en
-       Hulle verwag dat die wederkoms van Christus sal plaasvind voor die millennium (en dan praat ons nie eers oor hul standpunt/oortuigings t.o.v. die "wegraping" nie!).

       Dit is baie duidelik dat elke gelowige tot ’n mindere of meerdere mate in een van bg. kategorieë geplaas kan word. Dit is egter nie altyd so maklik om te sê dat hierdie of daardie standpunt my absolute oortuiging is nie, omdat, soos aan die begin reeds gesê, daar soveel variasies op die tema is. Ekself kan my dus self ook nie heeltemal kategoriseer nie, alhoewel ek my die meeste tuis voel by die Post-Millennialiste en selfs tot 'n mindere mate by die Optimistiese A-Millennialiste.

6.    AFSLUITING:
       Ten slotte wil ek net noem wat ek ook aan die begin gesê het, nl. dat Openb.20 dié hoofstuk in die Bybel is wat die denke en redenasies van baie van die eskatologiese standpunte vorm. Die probleem is egter dat mense en dan spesifiek die Pre-Millennialiste, met Openb.20 begin wanneer hulle hul eskatologie wil definieer, in plaas daarvan om te eindig by Openb.20, want Openb. 20 is die enigste plek in die Woord waar daar gepraat word van 'n duisend jaar en om 'n hele teologie te baseer op enkele verse (vv.1-7), is om die minste te sê, uiters onverantwoordelik.

       'n Verdere vraag wat 'n mens kan vra, is dat indien hierdie duisendjarige vrederyk waarvan die "Dispensasionaliste" praat, dan so 'n prominente tydperk is, waarom praat die Bybel nie méér daaroor nie, trouens ons kan tereg ook aan diesulkes vra, hoe dit moontlik is dat hulle hul teologie kan baseer op ses verse en dít in 'n boek wat die mees beeldryke en waarskynlik ook moeilikste boek in die Bybel is? Wanneer jy iets aan die hand van die Woord wil bewys, moet 'n mens altyd by die voor-die-handliggende begin en vandaar na die  onduidelike en moeilike beweeg – wat hulle nié doen nie.
      
       Openb.20:1 stel dit baie duidelik dat hierdie gedeelte 'n visoen is – daarom dat Johannes in v.1a sê ~ Toe het ek ’n engel uit die hemel uit sien kom... – "sien". Daarom kan die duisend jaar ook nie 'n letterlike 365000 dae wees nie, net soos wat die satan se binding met 'n ketting (20:1), nie letterlik geïnterpreteer kan word nie, net so ook nie die duisend jaar nie.
 
       Volgende keer sal ek dan probeer aantoon hoe ek persoonlik, Openb.20:1-6 interpreteer, wat dan o.a. die verklaring van die 1000 jaar tydperk sal insluit, maar ook waaroor ons gedeelte eintlik gaan, nl. oor die "binding" van die satan en wat dit beteken. Dit is egter belangrik dat ons eers bg. agtergrond moes verklaar en verduidelik.

       Vir nou moet ons besef dat die Koninkryk van Christus, nié iets is wat in die toekoms lê nie en nog minder is dit 'n tydperk wat voorafgegaan sal word met die bloedige en vernietigende slag van Armageddon, waarna Christus in vlees 'n politieke Ryk hier op aarde gaan skep nie. So 'n persepsie en verwagting is presies dieselfde fout wat die Jode van die eerste eeu gemaak het – hulle het 'n politieke koninkryk en koning verlang wat die Romeinse Ryk van daardie tyd kon omvergooi (Joh.6:15; Luk.17:20, 24:21), maar toe Jesus weier om dit te doen, het hulle Hom verwerp.

       Die fundamentele krag van die Koninkryk, is die "Evangelie van die Koninkryk" (Matt.4:23; 9:35) ~ Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie” (Mark.1:14-15). Die primêre funksie dus van die Koninkryk, is die verkondiging van die Waarheid ~ Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê” (Joh.18:37).

       Die Koninkryk van Christus is dus in essensie 'n geestelike Koninkryk wat in die hart van die gelowiges teenwoordig is ~ Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee (Rom.14:17)... ... maar nou het ek myself heeltemal te ver vooruit geloop.



[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gerefprmeerde Baptistegemeente.  Vereeniging – 27 Oktober 2013