Sunday, October 6, 2013

Die Openbaring aan Johannes – 49 (Die Koms van die Koninkryk - 02)


1.     INLEIDING:
       Ons het die vorige keer gesien dat die gebeure waarna ons tans kyk in Openb.19, onmiskenbaar verwys na die komende Messias. Die vraag waarmee ons egter die vorige keer afgesluit het, was of die koms van Christus in ons gedeelte onder bespreking, ’n finale terugkeer na die aarde is en of dit ’n geestelike "wederkoms" is? ’n Verdere vraag wat ons gevra het, is of die beeldspraak wat in ons teks gebruik word, pas by ’n finale wederkoms-beeld al dan nie? Ek het ook gesê dat ek nie glo dat die beeldspraak strook met ’n finale wederkoms van Christus nie.

       Kom ons kyk na die bekende Hand.1:9-11 ~ Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.” Hierdie is ’n baie duidelike verwysing na ’n liggaamlike en sigbare terugkeer van Christus na die aarde. Ons weet én bely dat Jesus fisies (teenoor "geestelik"), histories (teenoor "mities") en letterlik (teenoor "geestelik") liggaamlik uit die dood opgestaan het, want Hy het o.a. kort na Sy opstanding saam met Sy dissipels geëet (Joh.21:1-14) en Thomas het selfs aan Hom geraak (Joh.20:26-29).

       Die dissipels het Jesus dus SIEN opvaar, terwyl ’n wolk Hom WEGGENEEM het, totdat hulle Hom nie meer kon SIEN nie. Christus se hemelvaart was dus fisies en sigbaar. Let egter ook op wat die die twee mans in wit klere vir hulle gesê het ~ Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het (Hand.1:11). Het Jesus opgevaar na die hemel op ’n wit perd? Nee, Hy het nie! Het ’n menigte soldate wat geklee was in wit klere, Hom die hemel in gevolg? Verseker nie! Wolke word baie pertinent genoem in Handelinge, terwyl daar nie sprake is van wolke in Openb.19 nie. Met dit in gedagte kan ons dus nie sê dat Christus se tweede koms, of dan liewer, Sy finale koms, dieselfde is as die koms waarvan Openb.19 praat nie.

       Ons het dan nou gesien wat hierdie koms NIE is nie, maar ons het nog nie gesê wat hierdie koms wel is nie. Van watter of wat se koms word hier geprofeteer? Ek is oortuig daarvan dat dit hier gaan oor God se oordeel oor Jerusalem in 70 n.C., ten einde Sy Koninkryk ten volle in te lyf, of van stapel te stuur en te vestig en wat oor die wêreld heen sou versprei – dit was dus ’n geestelike koms.

       In Dan.2 het Daniël al geprofeteer oor hierdie geestelike koms van Christus en die vestiging van Sy Koninkryk (ons het al vroeër daaroor gepraat), asook oor die gelyktydige val van die Romeinse Ryk. Ons leef vandag in God se Koninkryk en hierdie Koninkryk het in al sy heerlikheid gekom, toe Christus in 70 n.C. Sy vyande in die eens "heilige stad" uitgewis het.

       Nog ’n rede waarom hierdie "Openb.19-koms" gesien kan word as Christus se oordeel wat gekom en ontvlam het teen die Israel van die Ou Verbond en daarom Jerusalem en die Tempel as simbool van die Ou Verbond, is die woorde van Jesus in Matt.24:29-31 ~ “Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 30Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. 31Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.” Die onmiddellik voorafgaande verse gee ’n weerspieëling van die vernietiging van Jerusalem en die tempel in 70 n.C.  

Kort na die verdrukking van daardie tyd... (v.29) sal ...die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn (v.30). Let op, hier word nié gesê dat Christus fisies na die aarde gaan kom nie – hier word gepraat van die teken van die Seun van die mens. Die verwoesting van Jerusalem was dus die teken dat Christus Sy Koninkryk in die hemel in ontvangs geneem het en sal elkeen erken dat die Seun van die Mens na die Vader gegaan het in wolke van heerlikheid ~ Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd (Dan.17:13-14). Dit is eers hierna dat Sy boodskappers – Sy "engele" of "boodskappers" met die Evangelieboodskap sou uitgaan, ten einde Sy uitverkorenes vanuit al die windrigtings van die aarde bymekaar te maak.

Openb.19 praat verseker van die triomf of segetog van die Woord van God – die oorwinning van die Evangelie van Jesus Christus. Die vraag is of hierdie triomf eers plaasvind ná Christus se tweede koms? Verseker nie! Dit gaan ...kort na die verdrukking van daardie tyd begin (Matt.24:29). Die Joodse tempel was die laaste bastion tussen die Christendom en wêreld evangelisasie, maar toe die tempel eers vernietig is, kon Christus se Koninkryk met rasse skrede en met brute krag vooruitgaan. Dit is hierdie beeld wat verder in Openb.19 verklaar en uiteengesit word.

Ook moet ons net kennis neem daarvan (weereens) dat Openbaring in tydsgleuwe saamgevat word, wat gebeure beskryf ...wat binnekort moet gebeur (Openb.1:1). Daar is geen bewyse of enige rede dat Openb.19 uitgesluit is van hierdie opmerking wat Jesus aan Johannes gemaak het nie.
                                  
Dit wil ook voorkom asof Openbaring ’n uitgebreide weergawe van Jesus se Olyfberggesprek was (Matt.24:1-25:46; Mark.13:1-37; Luk.21:5-36) en daar bestaan geen twyfel daaroor dat die Olyfberggesprek juis gaan oor die vernietiging van Jerusalem en die tempel.

Laastens, kan vermeld word dat hierdie "koms" van Jesus soos weergegee in Openb.19, en wat na 70 n.C. verwys, ook in Mark.9:1 gesien word ~ Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sal sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie. Jesus het hier met Sy dissipels en ’n groep mense gepraat (Mark.8:34). Die parallelle vers in Matt.16:28 is selfs nog duideliker ~ Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie. Ek dink hierdie gedeeltes spreek vanself!

Daar is mense wat beweer dat Jesus hier oor Sy eie verheerliking gepraat het. Die probleem met so ‘n standpunt lê presies by dit wat Jesus gesê het ~ Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat... Ons sien dat Jesus se verheerliking presies ses dae na hierdie gesprek plaasgevind het. Die implikasie van Jesus se woorde dat sommige nog sal lewe om Sy koms te ervaar, impliseer dat sommige nie meer sal lewe nie. Die vraag is of Hy so ’n uitspraak sal lewer, slegs ses dae voor die vervulling van Sy woorde? Dit is dan asof Hy gesê het ~ "Oor ses dae sal Ek my Koninkryk betree – en so tussen hakies, sommige van julle sal dan nog leef!"  Hierdie uitspraak dui tog daarop dat die "koms" waarvan Jesus hier praat eers oor ’n paar dekades sou plaasvind en nie oor net ses dae nie. MAAR, dit impliseer ook nie dat hierdie "koms" eers oor eeue van daar af sou plaasvind nie – Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat....

Om op te som: Openb.19 is ’n wonderlike profesie van die oorwinnende Evangelie onder die Heerskappy en Leierskap van Jesus Christus. Die nasies sal oorweldig word deur die Evangelie! Die wêreld sal deur die Evangelie bereik word! Natuurlik, negeer en verkleineer Openb.19, nie Jesus se toekomstige fisiese terugkeer nie – dit gáán plaasvind soos geprofeteer in teksverse soos Hand.1:9-11; 1Tes.4:13-18; 1Kor.15:51-58; ens. Die Woord van God beklemtoon egter nie die wederkoms van Christus nie, want Sy tweede koms hoef nie plaas te vind om Christus daardeur te bewys as die Oorwinnaar nie – Hy het rééds oorwin en die Evangelie oorwin vandag en elke dag en sal aanhou oorwin, totdat Christus weer op die wolke verskyn! Wanneer Hy eendag terugkeer sal Hy Sy Koninkryk aan die Vader oorhandig (1Kor.15:24-28), maar die oorwinningsmars van die Evangelie vind elke dag plaas!

Die tweede koms van Christus is ’n heerlike waarheid, maar word nie in Openbaring geleer nie. Dit wat Openbaring leer handel eerder oor onse God en Vader wat regeer en dat ons Hom daarom met vertroue en in blydskap kan volg in die geestelike oorlog wat rondom ons woed.

       Ons het hier te doen met ’n visioen oor wat gaan gebeur nadat die vyand verslaan is. Vir ’n hele geslag lank het die Judaïste die Christene erg vervolg, maar nou is dit verby. Die tempel was vernietig en die vervolging het tot ’n einde gekom. Daar gaan egter nieteenstaande, ’n grusame toneel hom steeds afspeel.

·           Openb.19:17-21 ~ Toe het ek ’n engel by die son sien staan. Hy het met ’n harde stem uitgeroep en vir al die roofvoëls, wat hoog in die lug vlieg, gesê: “Kom, kom bymekaar vir die groot feesmaal wat God gereed maak! 18Kom eet die vleis van die konings, die vleis van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe, klein en groot.” 19Toe het ek gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs by-mekaargekom het om oorlog te maak teen die Ruiter op die wit perd en teen sy leër. 20Die dier is toe gevange geneem en saam met hom ook die vals profeet wat die wondertekens vir die dier gedoen en daarmee die mense mislei het wat die merk van die dier aanvaar en sy beeld aanbid het. Hulle twee is lewend in die vuurpoel gegooi wat met swael brand. 21Die ander mense is doodgemaak met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van die Ruiter op die wit perd. Al die roofvoëls het hulle dik geëet aan die vleis.

       Hierdie is die tweede feesmaal wat in hierdie hoofstuk beskryf word. Die eerste was die huweliksmaal van die Lam in Openb.19:1-10. Hier het ons egter nou die groot feesmaal wat God gereed maak. Kom ons kyk na hierdie gedeelte onder die volgende 4 opskrifte:
Ø  Die Uitnodiging na die maaltyd
Ø  Die Voorbereiding van die maaltyd
Ø  Die Voltoïïng van die Maaltyd
Ø  Die Toepassing van die Maaltyd.

Ø  Die Uitnodiging na die maaltyd:
Christus se vyande is verslaan en nou word die voëls van die hemel (die lug) genooi om die vleis van beide mens en dier te kom geniet – hulle wat tydens die slag "geval" het (gesneuwel). Vir daardie tyd was die mees vernederende ding wat met ’n mens kon gebeur, om onbegrawe gelaat te word. Dit is wat so betekenisvol was van Isebel se dood (2 Konings 9:30-37). Die feit dat sy nie dadelik begrawe is nie, was simbolies van die Jode se haat vir haar.

       Die liggame van diegene wat in die slag van Jerusalem geval het, is ook nie begrawe nie en is daar weereens oneer gebring aan hulle wat gesterf het – die vyande van God. Josefus skryf dat die mense binne die stadsmure van Jerusalem, teen die einde van die slag, die dooies oor die stadsmure begin gooi het en was dit so erg, dat die dooie liggame begin ophoop het buite die stadsmure. Josefus vertel verder dat die aasvoëls aan die lyke begin vreet het. Die beeld wat dus hier geskets word, is dié van die Evangelie se vyande wat oorwin is en aan wie geen eer betoon is nie. Weereens stem hierdie beeld ooreen met dié van die heilige stad wat onder die hand van die Babiloniërs geval het ~ “Mens, so sê die Here jou God, sê vir al die voëls en vir al die roofdiere: Kom bymekaar, kom, versamel van alle kante af rondom die offermaaltyd wat Ek vir julle aanbied, die groot slagting op die berge van Israel; kom eet vleis en drink bloed. 18Julle sal vooraanstaande mense se vleis eet en die bloed drink
van regeerders van die aarde, almal in so ’n goeie kondisie soos die vet ramme en bulle van Basan. 19Julle sal vet vleis eet tot versadigens toe en bloed drink tot julle dronk is, dié van my offermaaltyd wat Ek vir julle aanbied. 20Julle kan julle aan my tafel versadig eet aan perde en strydwabemannings, aan dapper vegters en allerlei soldate,” sê die Here my God (Eseg.39:17-20).

       Die uitnodiging word nou weer uitgereik. Vantevore het sonde só erg geraak, dat God dit verwoes het en het die voëls van die hemel vrylik gevreet aan die lyke – 'n herhaling van hierdie gebeure rondom Jerusalem is weer op hande.

Ø  Die Voorbereiding van die maaltyd: Verse 19-20 toon vir ons aan waar die karkasse vandaan gekom het ~ Toe het ek gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs by-mekaargekom het om oorlog te maak teen die Ruiter op die wit perd en teen sy leër. 20Die dier is toe gevange geneem en saam met hom ook die vals profeet wat die wondertekens vir die dier gedoen en daarmee die mense mislei het wat die merk van die dier aanvaar en sy beeld aanbid het. Hulle twee is lewend in die vuurpoel gegooi wat met swael brand. Eerstens sien ons hier ’n beskrywing van die geveg: Die Romeine ("die dier") en Judaïsme ("die vals profeet") wat saam span om oorlog teen die Lam te voer. Soos reeds voorheen aangetoon, het die Romeine geglo dat indien hulle die tempel verwoes, hulle beide Judaïsme én die Christendom sou vernietig – hulle het geglo dat hierdie twee, vertakkings was van dieselfde geloof. Die doel van die Romeine was dus om beide Judaïsme, sowel as die Christendom te vernietig.

       Tweedens het ons hier te doen met die oorwinning wat behaal is. Waar die Romeine geglo het dat hulle "twee voëls met een klip" kon doodmaak, het God daarenteen, "twee voëls met een klip gedood" in hierdie veldslag:
1.    Hy het toegelaat dat die gelowiges se vyande, die Jode uitgewis word, en
2.    Hy het die Christene bevry van Joodse vervolging.

       Wat egter ook merkwaardig is, is dat Nero nie lank voor die val van Jerusalem, gesterf het en het die vervolging van gelowiges daarmee saam tot ’n einde gekom – wel, ten minste vir ’n tyd lank.

       Die ...vuurpoel ...wat met swael brand... is ’n afbeelding van die hel. Daar bestaan geen twyfel daaroor dat Nero in die hel gewerp is met sy dood en so ook die Joodse leiers. Hierdie einste leiers is deur Jesus, kinders van die duiwel genoem  (Joh.8:44). Die huidige vervolging het tot ’n einde gekom. Die vervolgers het die maal vir die aasvoëls geword.

Ø  Die Voltooiing van die maaltyd: Die slotvers van hierdie gedeelte kan verwarrend wees ~ Die ander mense is doodgemaak met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van die Ruiter op die wit perd. Al die roofvoëls het hulle dik geëet aan die vleis (v.21). Wat presies word hier uitgebeeld? Ons het nou al gesien dat die swaard nie ’n fisiese swaard is nie, maar wel tekenend is van God se Woord. Matt.24:32-35 verskaf meer lig hierop ~ “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. 33So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur. 34Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 35Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

       Die profesie van v.21 is nie dié van ’n fisiese terugkeer van Christus ten einde Sy vyande te vernietig nie, maar eerder dat Sy vyande sal omkom d.m.v. Sy Woord. Hulle is uitgewis, omdat daar geskryf staan dat hulle uitgewis sou word. Hulle het gesterf a.g.v. Sy Woord. As ons kyk na Deut.28:26 sien ons dat God die Israel van die Ou Verbond, gewaarsku het dat indien hulle Hom nie gaan gehoorsaam nie, Hy hulle gaan vernietig en dit is presies wat gebeur het ~ Al die voëls en die wilde diere sal aan jou lyke vreet, en niemand sal hulle verjaag nie.  

Ø  Die Toepassing van die maaltyd: Behalwe dat Openb.19 handel oor die vestiging van Christus se Koninkryk, moet hier tog immers ’n boodskap opgesluit lê in hierdie gebeure wat 1 943 jaar gelede plaasgevind het. Ons moet besef dat hierdie gedeelte net soveel vir ons te sê het, as wat dit vir die Jode van 2000 jaar gelede gesê het. Luister na wat David S. Clark in sy kommentaar oor Openbaring skryf: But does the conquest of this rider on his white horse pertain only to the Roman Empire? Must we be ever dealing with things that are dead and buried centuries ago? Is there nothing in all this that touches and vitalizes the church of the present day? Or are we never to get beyond the dry dust of the catacombs?... Let the church remember that this rider on the white horse is the living Jesus, that He is in the forefront of every battle, that just as he conquered the beast and the false prophet, so He will conquer every enemy... The rider on the white horse is still riding on. Let the church follow, clothed in linen, white and fine.

       Laat ons as gelowiges weet en seker weet dat Christus reeds die oorwinning behaal het en laat ons derhalwe ook in hierdie wêreld ingaan met die vaste vertroue en wete dat elke geveg wat ons in Sy Naam gaan veg, reeds gewen is!




[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente.  Vereeniging – 06 Oktober 2013