Sunday, October 20, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 24 ("Ek weet dat ek weet, dat ek weet!")


1.    SKRIFLESING:
       Ons Skriflesing van vandag, is 'n gedeelte wat my oneindig klein laat voel, omdat ek enersyds net opnuut weer besef hoe ver ekself tekort skiet wat my geloof aan betref, maar andersyds ook omdat dit so 'n geweldige intense en swaar gelaaide gedeelte is. Wanneer 'n mens hierdie hoofstuk lees, put jy soveel hoop hieruit en daarom is dit vir alle gelowiges noodsaaklik om hierdie hoofstuk uit Hebreërs, gereeld te lees.

Hebr.11:1-7 ~ Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is. 3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie. 4Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ’n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood. 5Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. 6As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. 7Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

2.    INLEIDING:
       Die lesers van hierdie brief het kennelik geloof in hul lewens nodig gehad, daarom skryf die Hebreërskrywer vir hulle hierdie gedeelte. Soos ek aan die begin gesê het, besef ek maar net opnuut weer watter nood ekself ook aan geloof het en ek glo elkeen van julle ook.

       Dit is maklik om te sê dat ek in Jesus Christus glo (of is dit?); dit is maklik om te sê dat ek van harte glo dat God die hemel en die aarde en alles wat daarop en daarin is, geskape het (of is dit?), maar daar is soveel fasette van geloof wat nie so eenvoudig is nie en dan moet ons ook nog oppas dat ons nie in die vangstrik van "positive confession" val nie. Jy sukkel dalk om werklik te glo dat die Here nog een of ander tyd jou kind gaan red – jy het dalk net op 'n plek gekom waar jy moed opgegee het. Jy is dalk op 'n plek waar jy net nie meer kan glo dat die Here jou van bepaalde slegte gewoontes/sonde of situasies kan of wil red nie. Indien dit wel die geval met jou is, is hierdie hoofstuk en die gedeelte waarna ons vanoggend gaan kyk nét vir jou (en vir my).

3.    GELOOF:
       In v.1 gee die skrywer vir ons 'n pragtige definisie van wat geloof werklik is ~ Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Hoop en geloof gaan dus hand-aan-hand vir die skrywer. Geloof is dus om vooruit te kyk na die dinge waarop ons hoop en dit natuurlik word gebaseer op ons oortuiging dat God 'n betroubare God is. Petrus som dit pragtig op in 1 Pet.1:3 wanneer hy sê ~ Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop. Hoe sterker ons geloof, hoe groter en sterker is ons hoop.

       Die skrywer gee aan sy lesers hierdie definisie van geloof en hoop deur, omdat hy weet dat daar geweldige vervolging op sy lesers wag en dat die sleutel tot oorlewing, gesetel lê in geloof en in hoop. Dit is waarom hy in 10:38, die woorde van Hab.2:4 aanhaal ~ En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie. Geloof lei derhalwe tot hoop en hoop lei weer tot geloof. Sonder geloof kan geen mens hoop hê nie en sonder hoop kan jy ook nie geloof hê nie.

       Ons moet verstaan dat hierdie hoop en geloof, nié 'n gevoel is nie en beslis ook nié positiewe belydenis nie ("positive confession" – "to speak stuff into existence"). Geloof en hoop is gebaseer op 'n absolute vaste oortuiging dat God se Woord onkreukbaar waar is en dat ek daarom 'n hoop kan koester op die positiewe uitkoms van al die beloftes in die Woord – ek weet, dat ek weet, dat ek weet, dat daar 'n ewige en heerlike lewe wag op die gelowige die oomblik as hy afsterwe – want die Woord leer dit en ware geloof is om dit te wéét en daarom het ons hoop op 'n beter en ewige lewe in die hiernamaals. Hoe kan ons weet dat hierdie geloof en hoop eg is? Rom.5:5 ~ ...en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

            Ons lees in v.1a ~ Om te glo, is om seker te wees... Die OAV sê ~ DIE geloof dan is ’n vaste vertroue. Hierdie uitdrukking "om seker te wees", of om "'n vaste vertroue" te hê, kom van die Griekse woord ὑπόστασις (hypostasis) en kan o.a. vertaal word met "fondasie". V.1a handel dan oor dié dinge wat in die toekoms lê en waarop elke gelowige se hart ingestel is en geloof het tot gevolg dat ons substansie/grond het vir ons hoop – geloof vorm die fondasie vir ons hoop – as ons nie oor geloof beskik het nie, sou ons nie enige hoop kon koester nie – nie op 'n opstanding nie (1 Pet.1:3 ~ Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word); nie op die wederkoms van die Here Jesus nie (Titus 2:13 ~ ...terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn); nie op 'n ewige lewe nie (1 Joh.3:2-3 ~ Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is) (verheerliking) en sonder geloof sal ons geen hoop daarop kan koester om eendag saam met Christus te kan regeer nie ~ ...as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer (2 Tim.2:12a).

       In die tweede gedeelte van v.1 skryf die skrywer oor ~ ...die dinge wat ons nie sien nie. Hier gaan hy 'n stappie verder as in die eerste helfte van die vers, want nou impliseer hy 'n reaksie en hierdie reaksie is optrede – die persoon wat glo, lééf sy geloof – sy lewe word toegewy aan dít waarvan sy verstand en gees van oortuig is. Noag is vir ons 'n uitstekende voorbeeld – hy het vas geglo dat dit wat die Here vir hom gesê het, gaan plaasvind en daarom het hy, ten spyte van mense wat hom gespot het en dalk ook ten spyte van die feit dat hy nie eens geweet het hoe om 'n boot te bou nie, sy lewe daaraan gewy het om die Ark te bou – 'n hele 120 jaar lank – "hy het geweet dat hy weet"! Noag se geloof was gebaseer op God se Woord en nie op wat hy kon sien nie. Dit wat hy innerlik geglo het, het hy uiterlik gedoen – geen mens wat buite die Here staan, kan innerlik glo en uiterlik doen nie en daarom weet ons dat God die Gewer van geloof is en dat dit nie deur die mens "opgeklits" kan word nie ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God (Ef.2:8).

       In v.2 bemoedig die skrywer sy lesers, deur hulle daaraan te herinner dat daar baie gelowiges voor hulle (en voor ons) in geloof opgetree het en dat dat dit God nog altyd behaag het en Hy het erkenning daarvoor gegee. Henog (v.5) is 'n goeie voorbeeld hier, deurdat sy geloof God so behaag het, dat God hom persoonlik weggeneem het, trouens 1 Pet.1:5 leer ons ook dat geloof deur God beloon word ~ En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Sonder geloof kan die mens God dus nie behaag nie en sonder geloof kan die mens geen beloning ontvang van God nie – die beloning van 'n ewige lewe.

       Met dit alles in gedagte begin die skrywer en gee hy in vv.3-7 'n beskrywing van geloof en wel aan die hand van die skepping (v.3); geloof en die mens se redding (v.4); geloof en gelowiges se verheerliking (vv.5-6) en laastens die gebrek aan geloof en die gevolglike oordeel van God (v.7).

·           Geloof en die skepping:
       V.3 neem ons terug na die heel begin van die menslike bestaan, nl. tot by die skepping.

       Daar is baie mense, trouens die meerderheid van mense, wat nié die getuienis van die Bybel aanvaar van hoe alles totstand gekom het nie. Die probleem met die skeptici is dat geen mens teenwoordig was toe God die heelal geskep het nie – so vra God dan bv. aan Job ~ Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het (Job38:4). Daar is maar net een van twee maniere om "die waarheid" t.o.v. die skepping te kan bepaal – enersyds om daaroor te bespiegel en met allerlei onwetenskaplike teorieë na vore te kom, soos die evolusieleer (hierdie leer kon nog nooit empiries bewys word nie), of om andersyds, God se Woord daarvoor te neem en dit te glo ~ In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. 3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.... (Gen.1:1-3).

       Wat ook al die mens se oortuiging – in beide gevalle moet geloof toegepas word – óf jy aanvaar en glo wat God gesê het, óf jy glo 'n menslik-uitgedinkte teorie wat nie eens deur die wetenskap bewys kan word nie (daar is voorwaar 'n "missing link"!).

       V.3 vestig ons aandag op die dinge wat ons kan sien – die sterre; die wolke; berge; diere; die mens, ens. en wat meer is, v.3 sê vir ons dat dit alles nié uit iets geformeer is nie, maar deur God wat dit "totstand gespreek" het – Sy Woord het alles totstand gebring. Die "siende" in die natuur lei ons dus om te glo in God die Skepper.  Soos ons SOLA5 geloofsbelydenis dit baie mooi stel: In the beginning the Triune God created the heavens and the earth out of nothing, by the power of his word, in six days according to Scripture. God created everything good and perfect for the glory of his own name. God created mankind, male and female, in his own image. The whole human race is descended from Adam and Eve, the first man and woman. God also created angels as moral, personal and spiritual beings.

·           Geloof en redding:
       In v.4 begin die Hebreërskrywer om die eerste geloofsheld te vermeld uit 'n lys van geloofshelde uit die verlede wat die advent, of naderende koms van Christus, vooraf gegaan het. Hier word Abel dan heel eerste vermeld. Behalwe dat ons in Gen.4 lees van Abel  se geboorte; die feit dat hy 'n veeboer was; van sy offer wat hy aan God gebring het en wat deur God aanvaar was en dan ook van sy geweldadige dood aan die hand van sy broer Kain, weet ons nie veel meer van hom nie. Wat wel van belang is, is dat sy offer meer aanvaarbaar was vir God as Kain s'n en die vraag wat ons kan vra is: Waarom was juis sý offer meer aanvaarbaar? Wat was die verskil tussen sy en Kain se offers?  Ons antwoord lê in v.4a opgesluit ~ Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer aan God gebring as Kain. Hier is twee dinge wat uitstaan:
-       Abel het geglo.
-      Abel het 'n beter offer gebring.

       Heel eerste moet ons verstaan dat dit nie hier gaan oor 'n bloedoffer al dan nie, want eneryds word daar nêrens in Genesis vermeld dat die offer wat hulle gebring het, sondeoffers was waar bloed 'n vereiste was nie. Ook die feit dat Abel vet van sy kleinvee gebring het, dui vir ons daarop dat hierdie offer nie 'n sondeoffer was nie, maar eerder 'n dankoffer (Daarna moet hy van die dankoffer die vet as vuuroffer aan die Here bring: die hele vetstert—naby die stuitjie moet hy dit wegneem—en die vet wat oor die binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is, en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die lewer—by die niere moet hy dit wegneem – Lev.3:9-10).
      
       Die feit dat Abel 'n beter offer gebring het is die kruks van die saak. By implikasie sien ons derhalwe dat Kain by wyse van spreke 'n derderangse offer vir God gebring het en nie soos die latere Levitiese Wette, 'n offer wat die eerstevrugte vereis het nie ~ Wanneer jy vir die Here ’n graanoffer uit die eerste opbrengs van die oes aanbied, kan dit gebraaide koring of stampkoring wees. Jy bied dit aan as die graanoffer uit die eerste opbrengs van jou oes (Lev.2:14). Die feit dat Kain nie 'n diereoffer gebring het en derhalwe 'n bloedoffer nie, is dus nie die probleem nie (Abel het ook nie 'n bloedoffer gebring nie – vet), die probleem wat hier geïmpliseer word, is dat hy nie van sy beste graan gebring het nie – nie van sy eerste opbrengs nie, terwyl Abel wel van sy eersgebore vee gebring het (die heel beste!) – daarvoor word Abel geprys en word sy offer aanvaar.

       Die heel belangrikste egter en dit is wat ons teksvers ook vir ons sê, is dat Abel sy offer in geloof gebring het en daarom het God 'n behae in sy offer gehad. Daarteenoor het Kain nié sy offer in geloof gebring nie – lei ons dit af? Ja, ons kan seker sê dat 'n mens dit hier kan aflei, maar as ons na die konteks van ons Skriflesing kyk, sien ons twee verse verder dat die Hebreërskrywer vir ons sê ~ 6As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. Die implikasie dus – Kain het nie geglo nie.

       Die afwesigheid van geloof implisieer dat God met niks tevrede sal wees wat ons as mens vir Hom bied nie. So gaan baie mense bv. kerk toe op 'n Sondag en dink dat dit God tevrede sal stel, maar as so 'n persoon nie uit geloofsoortuiging kerk toe gaan nie, is sy offer nie 'n aanneemlike offer vir God nie. Ons sal dan ook mettertyd in die volgende klompie verse sien hoe belangrik geloof en die regte gesindheid is, maar later meer daaroor.

·           Geloof en uiteindelike verheerliking:
       Die tweede man in die lys van geloofshelde wat hier in Hebr.11:5 vermeld word, is Henog. Van Henog weet ons ook nie veel nie, trouens al wat ons van hom weet is wat Gen.5:18-24 vir ons leer en daar sien ons dat Henog die pa van Metusalag was en dat hy 365 jaar oud geword het. Hy het baie na aan God geleef, sê v.24 (die meeste vertalings – insluitende die OAV, vertaal dit met, Henog het met God gewandel) en dan sluit v.24 as volg af ~ ...en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na Hom toe weggeneem. Dit is interessant dat, ten spyte van die feit dat daar so min oor Henog in die Woord gesê word, hy nogtans in die Joodse geskiedskrywes en godsdiens, 'n baie belangrike rol speel – so belangrik, dat hy selfs in die Rabbynse tradisie, 'n "tussengangerrol" tussen God en die mens speel en wel op grond van die feit dat hy 'n volmaakte lewe gelei het (volgens die Joodse tradisie).

       Henog was weggeneem – hierdie "wegneem" is nie maar net 'n eufemisme ('n versagtende uitdrukking of omskrywing) vir die woord "dood" soos wat baie moderne teoloë deesdae leer nie – v.5b bevestig tog immers die feit dat hy lewend opgeneem is in die hemel ~ ...sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Indien hy gesterf het, sou dit ook van hom gesê gewees het, soos met al die ander Patriarge.

       Ons vind hierdie selfde uitdrukking, sonder dat hy gesterf het, ook in Luk.2:26 waar daar vir Simeon gesê is dat hy nie sal sterwe voor hy nie vir Jesus gesien het nie – die uitdrukking, "nie sterwe nie" is presies dieselfde as wat daar van Henog gesê is.

       Hierdie wegneem van Henog maak dan ook van hom 'n prototipe (saam met die latere Elia) van die gelowiges wat nog in die lewe sal wees wanneer Christus gaan terugkeer na die aarde – hy sal dus nooit die dood as ervaring smaak nie (1 Tes.4:15-17).

       Waarom word ons deur die Hebreërskrywer verwys na Henog? Omdat dit vir ons die algemene beginsel van v.6 beklemtoon en illustreer ~ As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. Sonder geloof is ons sonder God en sonder God is daar geen hoop vir ons nie ~ In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld (Ef.2:12). En wat is hierdie hoop? Die hoop om Christus se wederkoms positief te ervaar en 'n hoop op 'n ewige lewe te kan hê.

       Henog het oor geloof beskik; Henog het na aan die Here gewandel en daarom het hy oor hoop beskik – sy geloof het dus uitgeloop op verheerliking en daarom het die skrywer van Hebreërs, sy lesers wat vervolging in die nabye toekoms in die gesig sou staar, bemoedig met Henog se voorbeeld – wandel na aan God en julle sal uiteindelik die wenstreep en die gepaardgaande prys behaal ~ Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. 8Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms (2 Tim.4:7-8).

·           Geloof en oordeel:
       Ons sluit ons gedeelte vanoggend af met die derde geloofsheld, nl. Noag in v.7. Noag het net soos Henog, ...met God gewandel (OAV), of soos die NAV dit stel ~ ...naby God geleef. Noag se verhaal vind ons in Gen.5:28-9:29.

       Noag het tussen sy tydgenote uitgestaan as dié een wat geluister het toe hy gewaarsku is; wat vertrou het op die onsienlike en wat opgetree het in heilige vrees – hy het die Ark gebou ten spyte daarvan dat hy die spot en hoon van die mense van sy dag op die hals gehaal het. Hy was m.a.w. 'n man van ware geloof en op grond van sy geloof is sy familie almal gered, maar hy het ook geweet dat dit ...verskriklik (is) om in die hande van die lewende God te val (Hebr.10:31).

       V.7b is 'n interessante vers ~ Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom. Wat die eerste opmerking betref, nl. dat sy geloof 'n veroordeling vir die wêreld was, impliseer nié dat hy self die mensdom veroordeel het nie, want dit is alleen God wat in Sy soewereiniteit en heilige optrede, die mensdom uitgewis het vir hul ongeregtigheid, maar Noag se optrede – sy geloof en gehoorsaamheid, het hulle so aangekla, dat hulle hulself in die proses veroordeel het. Net so kan ons ook kragtige getuies wees en kan ons geloof en gehoorsaamheid tot veroordeling van mense rondom ons dien!

       Vir ons wat die gawe van geloof ontvang het, wag daar 'n onbeskryflike ewigheid ~ God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. 10Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo (2 Tes.1:6-10).

       Die dag van Christus se wederkoms sal nie alleen die dag van redding en verheerliking vir gelowiges wees nie, maar dit sal terselfdertyd die dag van ewige oordeel wees vir hulle wie nie in Jesus Christus geglo het nie. Die wêreld gaan ook geen verskoning op daardie verskiklike dag hê nie, want die Here het die wêreld reeds vooruit gewaarksu deur die Sondvloed – Jesus het dieselfde boodskap aan die wêreld gebring toe Hy gesê het ~ Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie (Matt.24:37-42).

4.    AFSLUITING:
       Alle mense wat in Christus Jesus glo is regverdig verklaar – ja welsiwaar is ons dit nie altyd in die praktyk nie, maar in posisie voor God is ons reeds regverdig verklaar. Ons het Christus se geregtigheid deelagtig geword, die dag toe ons uit genade verlos is en ons, ons geloof in Hom geplaas het (natuurlik ook 'n genade werking) ~ Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus (Rom.3:21-24).

       God die Vader sien ons vandag en tot in ewigheid soos wat Hy Sy Seun, Jesus Christus sien – heilig en regverdig, want deur geloof is ons ín die Seun!



[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 20 Oktober2013.