Sunday, September 29, 2013

Openbaring Ontsluit – 48 (Die Koms van die Koninkryk - 01)


1.     INLEIDING:
Wanneer ons kyk na hierdie gedeelte uit Openb.19, het ons voorwaar nodig om ’n paradigma skuif te maak (sommige in elk geval). Vir baie jare en uit die meeste oorde word hierdie gedeelte gesien as die tweede koms van die Here Jesus Christus, wat nog iewers in die toekoms lê. Hierdie gedeelte bring dan ’n radikale onderskeid tussen hoofsaaklik vier hoofdenkrigtings in die teologie, nl. aan die eenkant, die Pre-Millennialistiese siening (of "dispensationalism") en die Historiese Pre-Millennialisme en aan die anderkant, die A-Millennialisme en Postmillennialisme.

Die dispensasie-siening leer dat Christus na ’n tydperk van erge verdrukking wat sewe jaar sal duur, sal terugkeer – dit lê dus nog steeds in die toekoms. Nadat Hy gekom het, sal Hy Sy Koninkryk op aarde setel en vir ’n duisend jaar hier regeer. Wat egter belangrik is, is om ook te noem, dat die gelowiges "weggeraap" ("rapture") sal word voor die sewe jarige verdrukking op aarde sal losbars (aldus die "Dispensasionaliste" of Pre-Millennialiste). Daar is egter ook verskeie strominge in hierdie siening – sommige sê dat gelowiges ’n ietsie van die verdrukking sal beleef en dan weggeraap sal word; andere (die oorgrote meerderheid) sê dat die gelowiges voor die verdrukking weggeraap sal word en dan is daar ook ’n groepie wat leer dat die gelowiges aan die einde van die verdrukking, weggeraap sal word. Een ding waaroor hierdie groepe egter saamstem, is dat die wegraping en die wederkoms van Christus baie duidelik onderskeibaar sal wees en dat die wederkoms sal plaasvind ná ’n toekomstige "groot verdrukking". Dit is belangrik om te beklemtoon dat hierdie groep mense glo dat Christus se Koninkryk, eers ná Sy tweede koms gevestig sal word – Sy Koninkryk bestaan reeds, maar Hy moet nog eers ingehuldig word as Koning en Sy aardse heerskappy hier op aarde sal vir ’n 1000 jaar duur. Hierdie groep word in ons dae, veral verteenwoordig deur die Charismatiese- en Pinkstergroepe en dan word talle kerkgangers en oningeligte gelowiges in ons tradisionele Gereformeerde kerke (bv. N.G.-, Gereformeerde- en Hervormde gemeentes), op sleeptou geneem deur ’n geweldige aanslag wat geloods word deur boeke en films wat die Pre-Millennialistiese teologie verkondig (boeke soos bv. die "Left-behind" reeks en letterlik duisende ander).

Die klassieke Pre-Millennialisme (klassieke "Dispensasionaliste"), glo dat die wegraping en die wederkoms ter gelykertyd gaan plaasvind, maar hulle stem saam met die Pre-Millennialiste, dat Christus se Koninkryk vir ’n duisend jaar ná die wederkoms, hier op aarde gevestig sal wees.

Die A-Millennialiste en Postmillennialiste (wat lg. aan betref hys ek my vlag hier), stem saam met die klassieke Pre-millennialiste, nl. dat die wegraping en die wederkoms tegelykertyd sal geskied ~ Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; 17daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees (1Tes.4:16-17). Daar bestaan egter ’n fundamentele verskil wat betref die siening oor God se Koninkryk. Die A- en Postmillennialiste sê dat Christus nié ná die wegraping, of anders gestel, ná Christus se tweede koms (wederkoms), Sy Koninkryk hier op aarde kom voortsit of vestig vir ’n 1000 jaar nie. Nee, ons glo dat Christus sal kom om Sy reeds bestaande Koninkryk te voltooi, of beter gestel, te vervul. Christus het rééds Sy Koninkryk betree, met die hemelvaart en Hy sit stééds op Sy troon en regeer tans vanuit die hemel. Sy wederkoms aan die einde van tyd, sal Sy Koninkryk vervul, waarop die ewigheid onmiddellik sal volg – sonder ’n tussentydse millennium (1000 jaar tydperk) dus.

Die doel van ons studie vandag, is egter nie om in detail in te gaan op die verskillende eskatologiese modelle nie – waarom nie? Baie eenvoudig: Omdat Openb.19:11-21 niks te make het met Jesus  Christus se wederkoms nie! Dit klink dalk ’n bietjie vergesog en radikaal vir sommige, maar ek glo ek sal daarin slaag om dit te bewys en ook aan te toon dat Christus se Koninkryk reeds meer as 2000 jaar gelede gevestig is – "hê dus net ’n bietjie geduld met my".

Ek sê dus, dat hierdie verse niks te doen het met Christus se tweede koms nie, maar dit het alles te doen met Jesus se antwoord op die dissipels se vraag oor gebed in Matt.6 en Luk.11 en dan spesifiek t.o.v. van die woorde ~ ...laat u koninkryk kom... (Matt.6:10a; Luk.11:2).

Openb.19 begin met ’n glansryke visioen van die Here Jesus Christus as Oorwinnende Regter – hierdie gedeelte, net soos die res van Openbaring, handel dus oor Jesus Christus ~ Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.” (Openb.19:10). Christus se Koninkryk is ten volle van stapel gestuur en Hy regeer voorwaar en in Openb.19:11-16 sal ons ten minste twee heerlike waarhede t.o.v. hiervan sien.

Vandag gaan ons na twee fasette van Christus kyk, nl. Christus die Oorwinnaar en Christus die Regeerder.

2.    CHRISTUS DIE OORWINNAAR:
·           Openb.19:11 ~ Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was ’n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Hier word van Christus gepraat en ons sien dat Hy getrou is en dat Sy oordele regverdig is. In die Bybel word die woord "perd" gebruik om oorlog of ’n veldslag te simboliseer en ’n wit perd is simbool van oorwinning. Christus word derhalwe hier in v.11 gesien as die Oorwinnaar wat op Sy wit perd ry. Hoe weet ons dat hier na Christus verwys word? In Openb.1:5 word daar spesifiek na Christus verwys as die geloofwaardige getuie (die getroue getuie – O.A.V.) en in 3:14 as die geloofwaardige en ware getuie (getroue en waaragtige Getuie – O.A.V.). Hy wat die Getroue en Waaragtige genoem word, het met regverdigheid (geregtigheid) gekom om te oordeel en oorlog te voer. Die Ou Testament is vol van soortgelyke "oordeel-taal" en dan spesifiek verwysende na Jesus Christus, bv. Ps.72:2 ~ ...sodat hy regverdige beslissings oor u volk sal vel en aan die verdruktes reg laat geskied, so ook bv. Ps.96:11-13 ~ Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, die see en alles daarin moet druis, 12die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in die bos moet hulle verheug 13voor die Here, want Hy kom, Hy kom om oor die aarde te heers. Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.

       Hoor net wat Jesaja t.o.v. Christus geskryf het ~ ’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra. 2Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. 3Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie en nie oordeel volgens hoorsê nie. 4Hy sal die armes billik verhoor en die ootmoediges in die land regverdig oordeel. Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring.5Hy sal regverdig en betroubaar regeer (Jes.11:1-5). Jeremia het iets soortgelyks gesê ~ Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek vir Dawid ’n regverdige spruit sal laat opskiet, ’n koning wat verstandig sal regeer. Hy sal die reg eerbiedig en regverdig regeer in sy land. 6In sy tyd sal Juda gered word en sal Israel veilig woon. Sy naam sal wees: Die Here regeer regverdig oor ons (Jer.23:5-6).

       Tot hier sien ons dus dat, ongeag van watter gebeurtenis hier in Openb.19 gepraat word, dit duidelik is dat Christus gaan kom as die volmaak, getroue, ware en regverdige Regter – Hy is die absoluut Betroubare!

3.  CHRISTUS DIE REGEERDER:
·           Openb.19:12-16 ~ Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was ’n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: Die Woord van God. 14Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. 15Uit sy mond het daar n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige. 16Op sy klere, by sy heupe, was daar n Naam geskrywe: Die Koning van die konings en die Here van die heersers.

       Christus is nie alleen betroubaar nie, maar Hy is ook die Onbegryplike en dit sien ons hier in v.12 (...wat niemand anders ken nie...). Jesus word hier beskryf as Een met oë wat soos ’n vuurvlam is (O.A.V.). Dit spreek van Christus se rein en alsiende oog van oordeel – Hy ken ons harte deur en deur. Hy weet as ons bitterheid koester, of vreugde, of haat, onreinheid, of hartseer, ens. Ons moet besef dat Hy glad nie verander het sedert die visioen aan Johannes gegee is nie – Sy oë is steeds soos vuur – en dit is op ons gerig!

Vers 12 sê ook vir ons dat daar baie heerserskrone op Sy kop is. Die Grieks vir "krone" in hierdie teksvers, is διάδημα (diadēma), wat spreek van ’n koninklike kroon en is tekenend van oorwinning. Ons het al vantevore hierdie selfde woord gesien, maar toe was dit gebruik t.o.v. God se vyande (bv. Openb.12:3; 13:1), maar in daardie gevalle het dit gedui op valse gesag – Christus alleen beskik oor alle gesag op aarde en in die hemel ~ Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt.28:18 – sien ook Ef.1:20-21; Fil.2:9; 1Pet.3:22). Jesus is die Heerser oor die konings van die aarde (Openb.1:5). Wanneer ons aan hierdie waarheid t.o.v. Christus se gesag en Koningskap dink, hoef ons nooit enige heerser of despoot te vrees nie [selfs in ons werksituasie – of huwelike(?)] – Christus is die "aller" Heerser.

       In Openb.19:16 sien ons dat die naam, ...Die Koning van die konings en die Here van die heersers, op Christus se klere en wel by Sy heupe geskrywe was en in v.13 sien ons dat Sy Naam, Die Woord van God is, maar nou sien ons hier in v.12 dat daar ’n naam op Hom geskrywe is, wat niemand anders ken nie. Wat beteken dit? Het ons hier te doen met ’n teenstrydigheid, of is dit bloot net nog ’n naam wat niemand ken nie? Die woord "ken" wat hier gebruik word, beteken dikwels om iets te besit. Wat hierdie gedeelte in v.12 dus wil sê, is dat ons as gelowiges Hom kan ken as ...die Woord van God, of ...Die Koning van die konings en die Here van die heersers ens., maar ons sal nooit in hierdie lewe, die volle omvang en betekenis van Sy Name en daarom Sy karakter kan ken nie, ons beskik bloot net nie oor die nodige verstand en insig om dit te begryp nie – Net Christus en Hy alleen kan die volle betekenis daarvan verstaan en verduidelik, want Hy is die Besitter van daardie Name – net Hy kan die volle omvang en betekenis van die majesteit van Sy wese verstaan.

       Christus is derhalwe ook die Onbegryplike, maar dank die Here – ons kan Hom ook ken! Ons kan Christus reeds in hierdie lewe ken as Here en Redder, maar eendag in die ewigheid sal ons Hom ten volle leer ken in al Sy heerlikheid! Die voorwaarde vir lg. is egter die wedergeboorte.

·           Johannes sê vir ons dat die klere wat Jesus aangehad het, in bloed gedoop was (O.A.V.). Ons kan tereg vra waarom hier gepraat word van Christus se klere wat met bloed deurweek is. Kom ons kyk na Jes.63:1-6 en dit behoort aan ons ’n antwoord te verskaf ~ Wie is dit wat daar aankom uit Edom, wat daar uit Bosra kom met bloedrooi klere aan? Wie is so indrukwekkend met daardie rooi klere aan, so vol krag? Dit is Ek, die Here, Ek wat oorwinning aankondig, wat magtig is om te red. 2Waarom is u klere so rooi, waarom lyk dit soos dié van iemand wat die wynpers trap? 3Ek alleen het die wynpers getrap, niemand van die volke het My bygestaan nie. Ek het op hulle getrap in my toorn, Ek was  woedend en Ek het hulle getrap. Hulle bloed het op my klere gespat, en Ek het my klere daarmee rooi gemaak. 4Ek het besluit om nou my vyande te straf; die tyd van verlossing vir my volk het aangebreek. 5Ek het rondgekyk, maar daar was niemand om te help nie, Ek was ontsteld toe niemand My bystaan nie. Ek het self opgetree, my woede het My bygestaan. 6Ek het volke getrap in my toorn, Ek het hulle laat steier deur my woede, Ek het hulle bloed oor die grond laat vloei.

       Hier in Jesaja sien ons Christus as Seun van God wat red wie Hy wil en dan spesifiek hier is dit die bloed van hulle wat Hom verwerp, wat op Sy klere spat en dit is hierdie selfde bloed – dié van diegene wie Jesus verwerp as Verlosser, wie se bloed, Christus se klere deurweek het in Openb.19:13. Ons moet na die konteks kyk hier en ons sien dat dit in hierdie gedeelte gaan oor Christus wat in ’n geveg betrokke is, daarom dat ons sê dat die bloed hier, dié van die veroordeeldes is.

       Die leërs in die hemel wat Christus op wit perde gevolg het, kan verwys na die engele, maar dit is meer waarskynlik dat hier verwys word na die Kerk – die Kerk in die hemel. Hierdie moontlikheid word dan ook deur die meeste kommentare ondersteun.

Soos wat Christus op Sy triomftog ry, sien Johannes ’n skerp swaard wat uit Sy mond kom en waarmee Hy die nasies gaan tref, waarna Hy hulle met ’n ystersepter gaan regeer. Omdat die swaard uit Sy mond kom, is dit duidelik dat dit nie ’n fisiese swaard is nie, maar ’n uitbeelding van God se gesproke Woord. In Ef.6:17 word God se Woord dan ook as ’n swaard beskryf ~ ...en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Die oorlog waarvan hier ter sprake is, is dus ’n geestelike oorlog en die uiteinde van hierdie geveg is dat Christus die oorwinning gaan behaal en die nasies met ’n ystersepter gaan regeer. Hierdie beeld kom direk vanuit Ps.2:9 ~ ... Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos ’n kleipot, asook Ps.110:2 ~ As die Here die septer, simbool van u mag, uit Sion aan u oorhandig, heers dan oor u vyande!

En die naam wat op Christus se heupe geskryf staan ~ ...Die Koning van die konings en die Here van die heersers (v.16)? Hierdie is presies dieselfde naam as wat in 1Tim.6:15b aan Hom toegeken word.

4.     AFSLUITING:
Hoe vind ek en jy vanoggend baat by hierdie gedeelte uit Openbaring? As ons sê dat hierdie Skrifgedeeltes in Openb.19 aansluit by Matt.6 en Luk.11, dan moet ons tog uit vanoggend se boodskap vir onsself kan sê wat dit vir ons beteken. Ons het begin deur te sê dat Hy die Oorwinnaar is en ons sê ook dat Hy die Regeerder is. Daarmee saam bely ons ook dat Hy die Getroue; Geloofwaardige; Betroubare; Alsiende Regeerder is wat reeds in hierdie tyd regeer as Oorwinnaar en Koning. Wat egter besonder belangrik is, is dat ons in ons persoonlike lewe moet fokus op Sy Getrouheid; Sy Geloofwaardigheid en verder Hom in totale oorgawe moet toelaat om in ons lewens te regeer.

Die Nagmaal is dan juis ook 'n simbool van die feit dat Christus in Sy getrouheid, op geloofwaardige wyse aan die kruis vir ons sonde gesterf het en deur die Nagmaal vandag te gebruik, proklameer ons teenoor mekaar; teenoor die wêreld en teenoor die geesteswêreld, dat Christus die dood oorwin het en dat Hy derhalwe as Oorwinnaar vandag vir ons 'n plek berei in die hemel waar Hy as Regeerder vandag steeds regeer en dat Hy ons as Betroubare weer eendag sal kom haal.

Daar kan laastens ook geen twyfel bestaan oor die feit dat hierdie gedeelte handel oor die komende Messias nie, maar die vraag is: Na watter koms word hier verwys? Is dit ’n verwysing na Sy finale terugkeer na die aarde, of is hierdie ’n verwysing na ’n geestelike "wederkoms"? Soos aan die begin gesê, sal die meeste mense sê dat hierdie ’n verwysing is na Christus se tweede en finale koms – die wederkoms, maar die vraag is: Pas die beeldspraak van hierdie gedeelte by ’n tweede wederkoms-beeld? Ek glo nie. Om hierdie vraag op te klaar sal ons egter moet wag tot volgende keer.




[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente.  Vereeniging – 29 September 2013