Sunday, September 1, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 23 ("Die Onvergeeflike Sonde")

1.    SKRIFLESING:
       Ons Skriflesing handel vanoggend oor opsetlike sonde wat iemand begaan. Só opsetlik en só erg, dat géén offer, versoening tussen God en daardie mens kan bewerkstellig nie – daardie veelbesproke "onvergeeflike sonde".

Hebr.10:26-39 ~ Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. 27Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. 28As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. 29Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? 30Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld;” en verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” 31Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val. 32Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. 33Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. 34Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n besitting het wat beter en blywend is. 35Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. 36Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. 37Nog net “’n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. 38En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.” 39Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.

2.    INLEIDING:
       Dit is belangrik dat ons vanuit die staanspoor sal besef van wie die Apostel hier praat – hy praat van mense wat bely dat hulle gelowiges is, maar wat dan hul rug keer op hul geloof, Hy praat derhalwe nié hier van sonde en tekortkominge wat alle ware en opregte gelowiges beleef nie – hy het tog immers al in 4:14-16 gesê dat gelowiges, genade sal ontvang om weer met vrymoedigheid na God se genadetroon te kan terugkeer ~ Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. Die Evangelie van Jesus Christus is dus ’n boodskap van genade en liefde en barmhartigheid – máár die Evangelie van Jesus, is egter óók ’n boodskap van veroordeling en verdoemenis vir diegene wat nié daarop reageer nie, of hul rug daarop draai.

3.    GELOOFSVERSAKING:
       In hierdie gedeelte gaan dit vanoggend dan spesifiek oor geloofsversaking en dan moet ons vir onsself dadelik uitmaak wat presies is geloofsversaking? Dit is nie die eerste keer dat die Hebreërskrywer waarsku teen geloofsversaking nie. Hy het die eerste keer in 2:1 daarna verwys, toe hy gesê het ~ Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie. Hy praat vir ’n tweede keer hieroor in 3:12 ~ Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. In 4:1 verwys hy weer daarna ~ Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. Hebr.6:4-6 is veral ’n ernstige waarskuwing ~ Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, 5die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het 6en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting.

       Wat gebeur as iemand afvallig raak, of dan sy geloof versaak? Van wie word hier gepraat? Hier word gepraat van mense wat eens verklaar het dat hul gelowiges is, en hulle die kennis van die Waarheid ontvang het en dan op ’n stadium, willens en wetens (doelbewus en moedswillig) sondig en hul rug op God draai en Hom verwerp en die Evangelie afmaak as ’n leuen. V.29 beskryf hierdie sonde aan die hand van drie grafiese beelde:
·           Om Jesus en alles wat Hy ons geleer het, te verag en te verwerp. Die OAV beskryf dit nog meer grafies, wanneer dit so ’n persoon beskryf as iemand wat die Seun van God vertrap, soos wat ’n soldaat op sy neergevelde vyand se dooie liggaam sal trap (die ESV en NASB praat van "trampled under foot").
·           Tweedens sê die skrywer dat geloofsversaking gelykstaande daaraan is om die bloed van die verbond te minag, asof dit sommer maar net alledaagse en gewone bloed is – dit is iemand wat op ’n keer in sy lewe gesê het dat Jesus se bloed, sy sonde afgewas het en hom geregverdig het, maar beskou nou daardie bloed as van nul en gener waarde. So ’n persoon verwerp dus Jesus se versoeningswerk aan die kruis.
·           Derdens sien ons in v.29, dat iemand wat afvallig raak, ’n belediging vir die Heilige Gees is en daarom sonde teen die Heilige Gees pleeg.

       Hierdie selfde sonde waaroor die Hebreërskrywer hier skryf, word ook deur Jesus in Luk.9:62 beskryf, as iemand wat die hand aan die ploeg slaan, maar aanhoudend omkyk na wat agter is en dan gaan die Here Jesus voort en Hy sê dat so iemand, nie geskik is vir die Koninkryk nie!

4.    DIE GEVOLGE VAN GELOOFSVERSAKING:
       Kom ons keer egter terug na v.27. Wat is die gevolge vir iemand wat die rug op Jesus Christus keer? Die Apostel noem aan ons twee dinge wat met so ’n persoon gebeur:
·           Eerstens is daar geen versoening vir so ʼn persoon nie; geen offer meer wat so ’n persoon se sonde kan wegneem nie (v.26b). Die enigste offer wat enige persoon kan regverdig, is die offer wat Jesus Christus gebring het. Indien Christus se offer verwerp word, word enige hoop op redding verbeur – die geleentheid tot redding is vir ewig verby; die ewige lewe is vir ewig verbeur – niks, absoluut niks kan dit ongedaan maak nie – geen offer nie en Jesus se offer het Hy eenkeer gebring – Hy gaan dit nooit weer herhaal nie, want Sy offer was voldoende ~ Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe (OAV - Rom.6:10).
·           Tweedens wag daar vir so ’n persoon, maar net een uitkoms – nog ’n groter oordeel as vir ander verlorenes – v.27 ~ Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer – God se oordeel! So ’n persoon val in die hande van die heilige God. Hoor wat sê Petrus in 2 Pet.2:20-21 ~ Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin. 21Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die heilige gebod wat aan hulle oorgedra is.

       Hierdie persoon sny homself van God se genade af – hy word ’n vyand van die kruis en daar wag ...’n verskriklike oordeel en ’n gloeiende vuur vir hom – en dit alles op grond van sy eie keuse! Dit is waarom daar in v.31 staan ~ Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val. Ons sal in 12:29 sien dat onse God, ’n verterende vuur is. Hierdie is ook in ooreenstemming met die profetiese woorde van Sefanja in Sef.1:18 ~ Nòg hulle silwer nòg hulle goud sal hulle kan red op die dag wanneer die toorn van die Here losbreek, wanneer die hele land verteer word deur die vuur van sy woede. Hy bring vernietiging en skrik oor al die inwoners van die land.

       Baie mense dink dat die God van die ou verbond en die God van die nuwe verbond nie dieselfde God is nie – volgens hulle is God van die ou verbond, ’n onwrikbare, gevoellose en genadelose God, terwyl die nuwe, ’n liefdevolle, barmhartige en genadige God is. Ons moet egter verstaan dat God se liefde en genade aan die eenkant en Sy wraak en oordeel oor sonde aan die anderkant, in beide Testamente geleer word – ja, dit is so dat ons ’n meer gedetailleerde prentjie geskilder kry van God se liefde en genade in die Nuwe Testament as in die Ou Testament, maar ons kry terselfdertyd ’n baie meer intense beskrywing van Sy oordeel in die Nuwe Testament – dink maar net aan bv. Openbaring.

       Anders gestel, God is nie minder verdraagsaam t.o.v. sonde in die Nuwe Testament, as in die Ou Testament nie, trouens Hy straf sonde in die Nuwe Testament, juis meer intens as in die Ou Testamentiese tydperk, omdat ons wat in die Nuwe Testamentiese tydperk leef, veel meer lig ontvang het ~ God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan (Hand.17:30-31).

       Ons hoor baie keer dat mense sê dat daar nie "groot sondes" en "klein sondes" is nie, maar hier in Hebr.10:28-29 sien ons tog iets daarvan ~ As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. 29Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? Wat ons dus hier sien, is dat daar geen groter sonde is, as die sonde van geloofsversaking nie en wat meer is, die oordeel daarop is ook die heel grootste van alle oordele.

       ’n Voorbeeld van groter sonde as ander, is bv. dié waar Jesus vir Pilatus gesê het dat Judas se sonde groter was as dié van Pilatus ~ U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld (Joh.19:11). Jesus het dit ook in Luk.12:47-48 duidelik gemaak, dat oordeel en straf in ooreenstemming met die oortreding of sonde is ~ Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal ’n swaar straf kry. 48Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal ’n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word (Luk.12:47-48).
      
       Dit is dus duidelik, dat diegene wie die geloof in die Here versaak, ’n groter sonde begaan as ander en dat so ’n persoon swaarder straf te wagte kan wees as ander verloregaande mense.

5.    ONTHOU EN VOLHARD:
       Na hierdie verskriklike veroordeling wat mense wat hul geloof versaak het, opgelê is, kom die Hebreërskrywer nou in vv.32-39 en wil hy mense wat reeds die Lig gesien het – wat reeds kennis dra van die Waarheid, aanmoedig om ’n stap verder te gaan, anders mag hierdie veroordeling van die voorafgaande klompie verse, ook op hulle van toepassing wees.

       Ons moet verstaan dat die apostel bewus was daarvan, dat baie mense in die gemeentes aan wie hy geskryf het en wat intens betrokke was by die kerk en wat bekend gestaan het as Christene – hulle het selfs gedeel in die vervolging wat teen die kerk geloods was, maar wat nog nie opregte gelowiges was nie. Hierdie ongelowige Jode in die gemeentes was so aangetrek deur die Evangelie; deur Christus se liefde; Sy beloftes en Sy lering, dat hulle die Judaïsme die rug gekeer het, maar hulle het nog nie waarlik in die Evangelie geglo nie.

       Hierdie Jode was intellektueel verlig deur die Waarheid – hulle het al die basiese beginsels van die Evangelie geken, maar hulle het nog nie waarlik geglo nie, maar die apostel moedig hulle aan om ’n stappie verder te gaan en daarom sê hy vir hulle in vv.32-34 ~ Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly.... Hy sê dus vir hulle: Hoe verskriklik sal dit nie wees as julle, nadat julle al so ver gekom het en soveel gedoen het; soveel vervolging ervaar het en soveel ingeboet het in die lewe, op die ou einde die lig verloor wat julle al begin sien het – nadat julle so naby was – moenie nou tou opgooi nie – moenie nou die ewige lewe versaak nie. Byt vas en plaas julle vertroue in Christus Jesus, sodat julle deel kan word van Sy Koninkryk. Moenie wees soos die man waar die saad op die klipbanke gesaai is nie, maar soos die een waar die saad in vrugbare en goeie grond gesaai is (Mark.4:16-20)! 

       Die openingswoorde in v.32, nl. "dink terug" is in die OAV "onthou" en hierdie woord "onthou" in die Grieks, is ἀναμιμνῄσκω (anamimnesko) en beteken meer as bloot net om te onthou – dit beteken letterlik in hierdie spesifieke verband, dat hulle die Waarheid wat hulle tot nou toe gehoor het en dít wat hulle tot nou ervaar en gesien het, baie ernstig moet oordink en opnuut weer moet rekonstrueer en uitpluis en verstaan, want dit sal ’n baie sterk teenvoeter wees teen die uiteindelike terugval in ongeloof.

       In 35-39 gaan die skrywer voort en moedig hy sy lesers (en natuurlik vir ons ook) aan om nie net te "onthou" nie, maar ook om vas te hou aan die feit dat ware geloofsvertroue, uiteindelik uitloop op ’n groot beloning – dit beteken dus dat as hulle hierdie vertroue sou neerlê, hulle daarmee saam hul beloning sou verloor. Hierdie beloning is die moeite werd om voor te stry en voor te veg en al die verwerping en vervolging wat daarmee gepaard gaan, die hoof te bied, want in die woorde van Paulus in Rom.8:18, is hy ~ ...daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Hierdie heerlikheid waarna die Hebreërskrywer verwys, is die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir (ons) in bewaring gehou word, waarvan Petrus ook in 1 Pet.1:4 van praat en elkeen wat hierdie erfenis in besit neem, sal ...die oorwinnaarskroon van 2 Tim.4:8 ontvang, nl. ’n ~ ...lewe by God en, gaan Paulus voort, hierdie oorwinnaarskroon en gepaardgaande lewe by God, sal ...op die dag dat die Here Jesus Christus, die regverdige Regter weer kom, vir my gegee word, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

       Wat het hierdie mense nodig? Wat het ons nodig? V.36 ~ Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. Hierdie groep mense het hoop gehad, maar hulle hoop was nie sterk genoeg nie – hulle het God se wil nie volkome uitgeleef nie, omdat hulle nie ten volle in Christus Jesus geglo het nie en voor dit nie gebeur nie – voor hulle nie God se wil ten volle uitleef en hul vertroue ten volle in Christus plaas en vestig nie, sal hulle nie dit wat belowe is, in ontvangs kan neem nie. Hierdie lesers het die beloftes van die Waarheid geken; hulle het hulle verheug daarin; hulle het selfs daarvoor gely, maar hulle het dit nog nie volkome ontvang nie – hulle is die mense waarvan Jesus in Matt.7:22-23 praat ~ ...Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’23Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.

       In v.37 haal die skrywer aan uit Jes.26:20 wanneer hy skryf ~ ...Kruip ’n rukkie weg totdat God klaar is met straf. Hierdie aanhaling uit Jesaja is gegrond op Hab.2:3, waar die koms van Christus die Messias geprofeteer is. Christus is dus die Een wat gaan kom in die Ou Testament, maar Hy is ook die komende Verlosser in die Nuwe Testament – die regverdige Regter, waarna o.a. Matt.3:12 dan ook verwys ~ Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand.

       Vir ons in die huidige bedeling, voel dit asof Christus nooit gaan kom nie, maar ons moet in gedagte hou dat die Jode presies dieselfde gevoel het en uiteindelik hét Hy gekom (al was dit slegs nagenoeg 600 jaar na Habakuk) en net so sál Hy ook weer kom – die Here het dit minder as 2000 jaar gelede reeds belowe ~ Terwyl Hy weggaan (dit is Jesus se hemelvaart) en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het (Hand.1:9-11).

       Die Hebreërskrywer wil derhalwe net soos die profete Jesaja en Habakuk van ouds, vir sy lesers en vir ons sê: Hou vol; volhard, want dit is nie meer lank nie, dan gaan julle die prys wen, want die Vader weet reeds wanneer Christus gaan kom – die tyd is reeds bepaal – hou moed; Hy kom; wy julleself toe aan Hom.

       In v.38 gaan die skrywer voort met sy aanhaling uit Habakuk en hy sê dat "vrygespreektes" net vir ’n rukkie nog moet uithou en die beproewing van hierdie aardse lewe verduur, want die heerlikheid wat hierna gaan volg, gaan ewigdurend wees. Wie is hierdie "vrygespreektes"? Gal.2:19-20 ~ Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. ’n Vrygespreekte persoon, is dus iemand wat deur Christus se offer, geregverdig is en wat op grond van geloof leef, m.a.w. hy het elke greintjie van eie -verdienste en selfstandigheid neergelê en is sy verlossing geheel en al afhanklik van Christus se soendood. Paulus sê in Gal.3:11, dat niemand op grond van die wet vrygespreek, of geregverdig word nie, maar op grond van sy geloof.

       Dit is interessant, dat ’n Joodse Rabbi, gedurende die derde eeu, by name Rabbi Simla gesê het dat Moses 365 verbiedende en 248 positiewe bevele gegee het. Dawid sê die Rabbi, het dit gereduseer tot 11 bevele in Ps.15; Jesaja het dit in Jes.33:14-15 verder afgeskaal tot 6 bevele; Miga tot 3 in Miga 6:8, terwyl Habakuk dit alles in een saamgevat het, nl. ~ Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe (Hab.2:4b – die woorde wat dan ook hier in Hebr.10:38 aangehaal word).

       Wat beteken hierdie woordjie geloof? In die Grieks is dit πιστεύω (pisteõs) en beteken dit letterlik om in iets of iemand te glo; om jou vertroue volkome in iets of iemand te plaas. Waarin glo gelowiges dus? In wie of wat plaas gelowiges hul vertroue? In kort wat glo gelowiges, ten einde gered te word? Ef.2:8-9 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Gelowiges lewe deur geloof en nie deur sien nie (2 Kor.5:7). Johannes vat dit alles baie mooi saam in Joh.3:36 ~ Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom. Ons vind ’n pragtige voorbeeld hiervan, reeds so vroeg as Gen.15:6 ~ En hy (dit is Abraham) het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.

       Om dan terug te keer na Hebr.10:38 – ’n "Vrygespreekte" is dus iemand wat in Christus Jesus glo en aan Jesus Christus vashou vir sy redding en op niks anders staatmaak as net Christus se soendood aan die kruis nie – so iemand sien ons in v.38, sal lewe, maar indien hy terugdeins van hierdie waarheid, sal hy uitgespoeg word deur die Here (in die woorde van Openb.3:16) – v.38 sê ~ ...het ek (die Here) niks meer aan hom nie.

       Die Hebreërskrywer sluit hierdie gedeelte af deur sy lesers te bemoedig en te motiveer, deur vir hulle te sê ~ Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.

6.    AFSLUITING:
       Een van die karakters in C.S. Lewis se klassieke verhaal, "The Narnia Chronicles", is Aslan wat ’n uitbeelding is van Christus en Lewis sê die volgende van Aslan: He is not a tame lion. Elke keer dat Aslan in die verhaal praat, bestaan daar geen twyfel oor wie in beheer is nie – Aslan! Dit is wie en wat ons Here Jesus Christus is ~ ...kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek (Openb.5:5). Jesus, die Leeu uit die stam van Juda is in beheer en Hy is nie Iemand om mee te speel nie en daarom behoort elke mens erns te maak met sy geloof en toewyding aan Jesus Christus.

       Waar laat hierdie Skrifgedeelte van vanoggend ons? Die ewige lewe (die hemel) is die ewige bestemming van elke gelowige en niks, absoluut niks kan enige gelowige uit die hemel hou nie, behalwe wanneer ons daarin misluk om te volhard tot die einde toe. Ons het vroeër in Hebreërs reeds gesien dat die geheim om te kan volhard tot die einde toe, daarin geleë is dat ons, onsself voortdurend aan die Woord in al sy vorms sal blootstel (prediking; onderlinge byeenkomste; persoonlike Woordstudie en gebed) en om voortdurend ons oë gefokus te hou op Jesus Christus as ons groot Hoë Priester.

       Mag die waarskuwing in Hebr.10 vir elkeen van ons voortdurend dien as aanmoediging om v.39 in opregtheid te kan proklameer ~ Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe Daarmee saam, mag Ps.119:11 egter ook vir ons in hierdie verband altyd voorop staan ~ Aan U beloftes hou ek vas. Dit weerhou my van sonde teen U.


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 01 September2013.