1. INLEIDING:
Ons
het tot nou toe reeds baie tyd in Openbaring spandeer en veral het ons baie tyd
spandeer aan die val van Jerusalem wat in 70 n.C. plaasgevind het. Sommige van
ons moes ’n totale paradigmaskuif ondergaan het t.o.v. dit wat ons in die
verlede geleer was oor, of geweet het van Openbaring, of wat ons maar so hier
en daar uit gesprekke en dalk selfs uit die wêreldse pers t.o.v. Openbaring
gehoor het – ek wil sover gaan as om te sê dat die meeste van ons (indien
nie almal nie?), ons eie uiters wollerige en baie dikwels
onbybelse siening (nie eens ’n standpunt nie)
van klein deeltjies van Openbaring gevorm het.
Ons
kom nou by ’n gedeelte in Openbaring waaroor daar ook menige verklaring
bestaan, nl. die Maaltyd- of Bruilof van die Lam. Wat is die
betekenis hiervan? Wanneer het dit, of gaan dit plaasvind? Wat is die betekenis
daarvan, ens.?
In die voorafgaande gedeelte het ons gesien
dat die sg. "oorspronklike bruid van God" (Israel
en Judaïsma) ’n afvallige, ontrou- en owerspelige vrou
geword het wat uiteindelik deur God se oordele in 70 n.C. getref is.
Die
trant en atmosfeer verander egter nou dramaties in hoofstuk 19, want hier gaan ons
’n vreugdevolle gebeurtenis vind, waar daar lofsange is en ook ’n bruilof – die
oue lê in die verlede en die nuwe word omhels. Trouens, ons vind hier die
instelling en "lansering" van die nuwe verbond in Christus Jesus.
Ons
moet egter voorbereid wees daarop dat hierdie hoofstuk ook nie sonder bloedige
tonele is nie. Ons tref twee maaltye hier aan: die maaltyd van die Lam (19:1-10)
en die “Maaltyd van
God” (19:12-21). Lg. maaltyd is ’n
bloedige toneel, waar die roofvoëls van die hemel uitgenooi word om die vleis
van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die
perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe,
klein en groot, te eet (v.17-18).
Voor
ons in meer detail na hierdie hoofstuk kyk, is daar ’n paar dinge waarvan ons
kennis moet neem:
·
Ons moet voortdurend in gedagte hou
dat God die Vader nog altyd maar net een Bruid gehad het, nl. die ware Israel
van God (dit is al die uitverkorenes deur al die eeue
heen). God se ewige en onvoorwaardelike verbond met Sy
uitverkorenes was nog altyd en sal altyd onaangeraak en vlekkeloos wees.
·
Tweedens moet ons verstaan dat daar ’n
metaforiese betekenis opgesluit lê in die gedagte van God wat
"getroud" is/was met die geopolitiese Israel as volk. Hierdie verbond
met Israel, was ’n voorwaardelike verbond. Soos ons reeds vantevore gesien het,
word God se waarskuwing t.o.v. ’n verbreking van die verbond tussen Hom en
Israel, in Lev.26 en Deut.28 uiteengesit. In kort, indien Israel, God sou
gehoorsaam, sou God haar seën; indien Israel ongehoorsaam is, sal God haar
straf en sal Israel vervloek wees.
·
In
die derde plek moet ons ook daarvan kennis neem dat, voor God (ek sê dit met
die uiterste piëteit) "in die huwelik kon tree" met die Nuwe
Testamentiese Kerk, Hy eers "verlos" moes word van Sy verbond met
Israel. Omdat ’n huwelik, ’n "tot-die-dood-ons-skei-verhouding" is,
moes God Israel "teregstel", vir hul doodsonde van owerspel.
·
Ons moet laastens daarop let dat God
nie eers "in die huwelik getree" het met die Kerk na die verwoesting
van Jerusalem nie. Die huwelik tussen God en Sy uitverkorenes kan al die pad
teruggespeur word tot by die Tuin van Eden – trouens tot voor die skepping al.
Die nuwe verbond was egter eers ten volle ingestel met die val van Jerusalem.
Na aanleiding hiervan vind ons dan dat Openb.19 ’n figuurlike of sinnebeeldige
beskrywing is van God se huwelik met die Kerk.
2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
·
Openb.19:1-5 ~ Hierna
het ek iets gehoor soos die harde geluid van ’n groot menigte in die hemel wat
uitroep: “Prys die Here! Die oorwinning, die heerlikheid en die mag behoort
aan ons God! 2Regverdig en reg is sy oordele, want Hy het die
oordeel voltrek oor die sedelose vrou wat die aarde deur haar onsedelikheid verwoes
het. Hy het die dood van sy dienaars op haar gewreek.” 3Verder
het hulle uitgeroep: “Prys die Here! Haar rook styg tot in alle ewigheid
op.” 4Die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het
gekniel en God aanbid wat op die troon sit. Hulle het gesê: “Amen! Prys die
Here!” 5Toe het daar ’n stem van die troon af gekom wat gesê het:
“Loof ons God, al sy dienaars, dié wat Hom vrees, klein en groot!”.
3.
HALLELUJAH:
Ons vind hier
’n uitgelate gejubel in die lig van die naderende bruilofsmaal. Dit is egter
ook opmerklik dat die Here se majesteit hier besing word – God se ou
verbondsvolk het die verbond met God verbreek, maar God sal steeds verheerlik
word deur Sy Bruid.
In die oorspronklike teks (vv.1-6)
word die woord Halleluja, vier keer gebruik. In die
Hebreeuse teks kom hierdie uitdrukking nagenoeg 26 keer in die Psalms voor (o.a.
Ps.102:18; 104:35; 105:45; ens.). Dit word elke
keer in Engels as "praise the Lord" vertaal. Halleluja is dus ’n
woord wat direk uit die Ou Testament kom.
Soos ek reeds gesê het, kom die woord
“hallelujah”, vier keer voor in hierdie gedeelte waarna ons vanoggend kyk. ’n
Huwelik is altyd rede tot feesviering en dit is presies ook die geval met
hierdie huwelik wat in Openb.19 beskryf word en daarom vier
"hallelujas" in net ses verse!
Die eerste "halleluja" wat
Johannes hoor, was soos die harde geluid van ’n groot menigte in die
hemel. Ons kan nie met sekerheid sê wie hierdie
skare in die hemel is nie, maar hierdie eerste halleluja in v.1 prys God vir
die verwoesting van Jerusalem en dan spesifiek omdat God se oordele regverdig
en reg is (v.2). Ons het al gesien
hoe Jerusalem, ...die
nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het
(Openb.14:8)
en hoe Jerusalem die gelowiges vervolg en gedood het (Openb.6:10)
en o.a. op grond hiervan juig die menigtes in die hemel
en hierdie hallelujas word uitgesing in ooreenstemming met bv. Openb.18:20 ~ Verheug
jou daaroor, hemel, en julle, gelowiges, apostels en profete! God het die
oordeel waarmee sy julle getref het, oor haar voltrek.
Hierdie menigte, het ’n persoonlike verhouding met God en ons sien dit in v.1b
waar hulle sê ~ ...die mag behoort aan ONS God.
Nou loof en prys hulle, húlle God omdat Hy Jerusalem laat val het. Let op, dit
is nie die Palestyne, of Irakiërs (of wie ook al) wat
God loof en prys nie – dit is Sy eie kinders.
Die tweede "halleluja" kom ook
van dieselfde groep van wie die eerste halleluja gekom het en hulle eer God
omdat Jerusalem nie meer sal bestaan nie. Hierdie gebeure herinner sterk aan
Jesaja se profesie teen Edom in Jes.34:10 ~ Dit sal bly brand, dag en nag; die
rook sal aanhou opstyg. Geslagte lank sal die land in puin lê; tot in die
verre toekoms sal niemand ooit weer daar rondtrek nie.
Ons kan moontlik ook hierin, ’n metaforiese verwysing na Gen.19:27-28 sien,
waar die verwoesting van Sodom en Gomorra weergegee word.
Edom het weliswaar weer as volk opgestaan
nadat Jesaja se profesie vervul is, maar hulle het nooit weer in al hul glorie
herrys nie. Op dieselfde wyse is die verwysing na Jerusalem se rook wat opstyg
tot in alle ewigheid, nie ’n letterlike, of fisiese oordeel
nie – dit gaan meer oor haar geestelike oordeel. Op ’n stadium was Jerusalem,
menslik gesproke, God se stad – Sy
woonplek. Jerusalem sal egter nooit weer herstel word tot haar volle glorie
nie. Dit beteken natuurlik nie dat die Jode in Jerusalem nooit gered kan word
nie. Trouens, op grond van Rom.9-11 glo ek dat daar ’n tyd sal kom dat daar
groot hoeveelhede Jode onder die geklank van die Evangelie gered sal word, maar
Jerusalem as stad sal nooit weer die "uitverkore geestelike stad"
wees wat sy op ’n tyd was nie, want haar rook styg op
tot in alle ewigheid.
Die fokus verskuif nou na die derde
"halleluja" in v.4 wat deur die vier en twintig ouderlinge en die
vier lewende wesens uitgeroep word. Hierdie is die laaste
keer dat ons met hulle in Openbaring te doen sal kry. Hulle
"halleluja" word voorafgegaan met die woord "Amen" wat "mag dit so wees", of ’n
betuiging van instemming, beteken. Dit mag dalk nie "goed op die oor
val" om te hoor dat God se kinders "amen" uitroep op Sy oordele
en vernietiging van ’n stad en sy inwoners nie, maar dit is presies wat gebeur
het – al vier-en-twintig ouderlinge in die hemel het saamgestem toe hulle ’n
"amen" en ’n "halleluja" uitgeroep het op God se oordele. Terwyl
die wêreld nie God se oordele oor Jerusalem dalk verstaan nie, het die
ouderlinge in die hemel en die ander hemelwesens, dit beslis verstaan en saam
met God daaroor gestem.
Die vierde "halleluja" som die
lofprysing van God se kinders oor Sy oordele pragtig op. Ons kan weereens nie
met sekerheid sê wie se stem van die troon gehoor word nie (v.5).
Ek glo dat dit ’n berekende besluit sal wees wanneer ons sê dat dit Jesus
Christus se stem is wat van die troon gehoor word en dat Hy Sy broers oproep om
saam met Hom, God te verheerlik ~ Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig
word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy
broers te noem nie. 12Hy sê tog: “Ek sal u Naam aan my broers
bekend maak, in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing” (Hebr.2:11-12).
Hierdie is natuurlik ook ’n ego van Ps.22:23 (O.A.V.) ~
Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.
Ons is Jesus se broers en Hy is ons "Oudste Broer".
Jesus wie se hartstog altyd is om God te
verheerlik, roep Sy broers op om saam met Hom, God te verheerlik oor Sy
geregtigheid. Toe Jerusalem verwoes is, het Christus Sy Koningskap volkome
opgeneem en sal Hy bly regeer tot die einde toe wanneer Hy die Koninkryk weer
aan Sy Vader sal oorhandig (1Kor.15:24-28).
Christus eer Sy Vader omdat Hy nou die nuwe verbond ten volle geïmplementeer
het en die Kerk ontvang opdrag om hulle by die kore van die hemel te voeg en
God te verheerlik omdat hulle die Bruid van Christus geword het. Daar was
oorgenoeg rede vir die Kerk om God te verheerlik oor Jerusalem se val, want die
val van Jerusalem het die weg gebaan vir die nuwe verbond en die gelowiges wat
deel daarvan uitmaak.
4. DIE
NUWE VERBOND GESLUIT:
·
Openb.19:6 ~ Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n groot menigte, soos die
gedruis van ’n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle
het uitgeroep: “Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as
koning.
Ons sien dan hier in v.6 hoe dat Jesus se broers reageer op Sy oproep tot
lofprysing. Die verwysing na ’n groot watermassa en die gedreun van swaar donderweer,
is ’n aanduiding dat daar ’n verbond gesluit is – die nuwe verbond. Ons sien
soortgelyke gebeure met die sluiting van die ou verbond aan die voet van die Berg
Sinaï in Eks.19.
In kort dan, was die verwoesting van
Jerusalem ’n gebeurtenis waardeur Jesus bewys het dat Hy regeer en waartydens
Hy die nuwe verbond volkome ingestel het – dit was ’n gebeurtenis wat aangedui
het, dat die huwelik tussen Hom en Sy bruid binnekort sou plaasvind.
5. DIE
HUWELIK:
Tot
nou het die Kerk, God geloof en geprys vir die huwelik wat op hande is. Indien
ons iets van hierdie huwelik wil verstaan, moet ons iets van die Joodse
huwelike beter verstaan. Die heel eerste ding wat plaasgevind het, is die
verlowing. ’n Verlowing in daardie tye was iets baie meer bindend en gewigtig
as in ons dae. Indien iemand ’n verlowing wou verbreek, moes die verbreking ’n
regsroete gevolg het – daar was dus bepaalde kontraktuele sake wat uitgesorteer
moes word en so ’n verbreking van ’n verlowing was in dieselfde ernstige lig
beskou as ’n egskeiding.
’n
Verlowing het gewoonlik nagenoeg een jaar geduur. Gedurende hierdie tyd sou die
bruidegom ’n huis bou en/of inrig vir sy toekomstige bruid. Wanneer dit
afgehandel is, sou hy na sy bruid gaan en andere wat saam met hom gaan (gewoonlik
jong manne), sal uitroep: "Die bruidegom is op pad!", waarna sy by die groep aangesluit
het vir die voltrekking van die huwelik (gewoonlik vind dit
in die huis plaas waar sy op daardie oomblik bly – gewoonlik haar ouers se
huis). Hierna vertrek die prosessie na die bruidegom se huis
waar die huweliksonthaal plaasvind en so ’n onthaal het tot ’n week lank
geduur. Tydens hierdie fees voorsien die bruidegom en sy ouers gewoonlik al die
eetgoed, asook die wyn (dink aan Jesus se eerste wonderwerk
in Kana toe Hy water in wyn verander het – Joh.2:1-12).
·
Openb.19:7-8 ~ Laat ons bly
wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het
aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. 8God het
haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” Hierdie fyn klere is
die regverdige dade van die gelowiges. Met die
verwoesting van die tempel en Jerusalem het die huweliksvoltrekking tussen Christus en die
nuwe verbondskerk plaasgevind. Wat dus volg,
is die huweliksonthaal van die Lam van God. En dit was iets om oor fees te vier
en jou in te verheug! Hierdie verse verwys na die tydperk tussen Pinksterdag en
70 n.C. Deurgaans gedurende hierdie tydperk het die apostels die kerk voorberei
vir haar huwelik met Christus. Die apostel Paulus stel dit pragtig in
2Kor.11:1-2 ~ Nou wil ek hê julle moet ’n bietjie dwaasheid van my
kant verdra! Ja, verdra my maar! 2Ek waak oor julle met ’n ywer wat
van God kom, want julle is soos ’n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid
en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus.
En in Ef.5:25-27 sê hy ~ Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus
die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26Dit het Hy
gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord
gereinig het, 27sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan
neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.
Paulus se begeerte is om die kerk in Korinte voor te berei ten einde ’n
vlekkelose maagd te wees wat gereed is om in die huwelik te tree met Christus.
Hy wou hê dat die Korintiërs hulle met ganse hart toewy aan Christus die
Bruidegom, sodat hulle deel kon wees van die suiwer Bruid.
Ons moet
ingedagte hou dat die kerk tussen Pinkster en 70 n.C. onder geweldige
vervolging en verguising (beledigings) onder
die hande van eers die Jode en later ook die Romeine, gebuk gegaan het en dit
was nie vir hulle maklik om vlekkeloos te gebly het tot en met die
huweliksvoltrekking nie. In die lig hiervan wou Paulus nie hê dat die kerk (die
bruid) haarself bevlek deur gedurende hierdie
"verlowingstydperk", haarself te ontreinig, of selfs af te skei van
die Bruidegom nie. Die kerk het haarself dus gedurende hierdie tydperk, deeglik
voorberei vir die huweliksvoltrekking en Paulus en die ander apostels het hulle
(die
kerk) aangemoedig en gelei om vlekkeloos te bly. Die ware kerk
het dan uiteindelik vlekkeloos deur die vervolgingstydperk (of
sal ons sê stormagtige verlowingstydperk) gekom en was sy
geklee
in fyn, helder blink klere
(fyn linne – O.A.V.)
en gereed om in die huwelik te tree met die Bruidegom.
Die blink
klere dui op die geregtigheid van Christus, trouens v.8b sê dit ook
ondubbelsinnig vir ons. Die betekenis hiervan is dat ons (wat
deel is van die kerk – die bruid) regverdig verklaar
is deur Christus – ons kan en het dit nie verdien nie, v.8a sê dat dit ons
vergun is om hierdie blink klere aan te trek – ons kan amper sê dat, soos ’n
bruid deur iemand anders aangetrek word (wanneer sy haar
trourok aantrek), net so het ons geen aandeel in die
"aantrek" van ons huweliksrok gehad nie, maar is dit vir ons
aangetrek. Die bruid was gereed vir die huwelik op grond van die toegerekende
geregtigheid van Christus.
Hierdie beeld
van die bruid met haar fyn, helder blink klere
staan in skrille kontras met die beeld wat in Openb.17 en
19 geskilder word van die ontugtige- of sedelose vrou.
6. DIE
GASTE:
·
Openb.19:9 ~ Toe
sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van
die Lam uitgenooi is.” Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en
hulle is waar.” Johannes is steeds in die teenwoordigheid
van dieselfde engel (dié een met die sewe bakke) wat
na hom gekom het in Openb.17:1 en hierdie engel praat weer met hom. Hierdie
uitspraak van die engel wat Johannes moes neerskryf, was die vierde van die
sewe saligsprekinge in Openbaring (die ander: 1:3;
14:13; 16:15; 20:6; 20:7; 22:14). Hier word die
kerk as geseënd, of salig gereken, want sy tree nou in ’n ewige
verbondverhouding met die Bruidegom, Jesus Christus. Hierdie huwelik sal en kan
nooit verbreek word nie en ons het die absolute sekerheid daarvan, omdat God
dit gesê het en Sy woorde is waar (v.9b).
Dit is nogal
hartseer dat die huwelik tussen die Nuwe Testamentiese kerk en Christus
plaasgevind het, omdat die "kerk" onder die ou verbond (die
volk Israel), haar verbond, eensydig met God verbreek
het. Jesus het hierdie feit in een van Sy gelykenisse geskilder ~ Jesus
het weer in gelykenisse met die mense gepraat. 2Hy het gesê: “Met
die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n koning wat vir sy seun ’n
bruilofsfees voorberei het. 3Hy het sy slawe uitgestuur om die
genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4Toe
stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is
reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die
bruilof toe.’ 5“Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur
nie, en die een het na sy stuk grond en ’n ander een na sy werkplek toe gegaan.
6En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. 7Die
koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak
en hulle stad aan die brand te steek. 8“Toe sê hy vir sy slawe:
‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd
nie. 9Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat
julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’10Toe het daardie slawe
uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes
sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword (Matt.22:1-10).
Die Vader het
’n huwelik tussen Sy Seun en Israel gereël. Hy het boodskappers na Israel
gestuur (profete, apostels, ens.) om
hulle op te roep tot hierdie huwelik, maar hulle was nie geïnteresseerd nie.
Hulle het die boodskappers gehoon, afgejak, vervolg en selfs gedood. Die Vader
woes woedend hieroor. Hy het Sy weermag (die Here van die leërskare – bv. 1Sam.1:11)
gestuur om Israel te vernietig. Die vreugdevolle huwelik sou egter voortgaan –
die verskil: andere sal nou betrokke wees in die huwelik met Christus..
Jesus het
hierdie voorval ook vooruit gesien en daaroor gepraat in Matt:8:11-12 ~ Ek sê
vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak
en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. 12Maar
mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite
gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.”
Jesus het self gesê dat daar ’n tyd gaan kom dat Israel as verbondsvolk, deur
God verwerp sal word; en dan sal ’n nuwe bruid – die kerk van Jesus Christus,
omhels word deur die Seun.
Die
bruilofsmaal is egter ’n maaltyd wat in 70 n.C. begin het en steeds voortduur
tot vandag toe. Ons ervaar hierdie maal ook tasbaar en sigbaar, elke keer
wanneer ons deel het aan die Nagmaal.
Toe Jesus
saam met Sy dissipels die eerste Nagmaal geniet het, het Hy gesê ~ Ek sê
vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag
wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink
(Matt.26:29).
Jesus het Sy Koninkryk betree met Sy hemelvaart (Dan.7:13-14).
Tussen die aand van die instelling van die Nagmaal en die hemelvaart, het Hy
nie weer saam met Sy dissipels, deelgeneem aan die Nagmaal nie.
Die Nagmaal
hou veel meer betekenis in as wat baie gelowiges besef – Jesus ontmoet ons elke
keer wanneer ons om die Nagmaalstafel vergader! En dit sal elke keer die geval
wees, totdat Hy sigbaar terugkeer na die aarde ~ ... en,
nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my
liggaam; dit is vir júlle, en wat
daarop volg en dan gaan Hy voort en sê in v.26 ...Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit
die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom (1Kor.11:24-26).
7. AANBID
GOD ALLEEN:
·
Openb.19:10 ~ Toe
het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!”
sê hy toe vir my. “Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat
aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus
wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.”
Met die gesig van die bruid in haar fyn, helder blink klere,
val Johannes op sy knieë voor die engel in ’n poging om die engel te aanbid!
Dit word egter nie toegelaat nie en Johannes se aandag word op God gevestig,
deurdat die engel vir hom sê dat hy God alleen moet aanbid, want hy as engel is
niks meer as ’n blote boodskapper van God, wat gestuur is om Johannes te
begelei deur hierdie visioen wat Johannes ontvang.
Die engel voeg egter iets belangriks by
wanneer hy aan Johannes sê ~ Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges
wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het.
Wat hy vir Johannes sê, is dat die doel met profesie is, om getuienis te lewer
t.o.v. Jesus Christus. Hierdie is ’n uiters belangrike opmerking, want hierdeur
word dit vir ons baie duidelik en ondubbelsinnig verklaar dat Openbaring nie primêr
vir ons (of vir die eerste lesers)
gegee is ten einde ’n kykie in die toekoms te kry en daaroor te bespiegel nie.
Dit is primêr vir ons gegee ten einde ons fokus op Jesus Christus te plaas; om
ons aandag te vestig op die Lam wat in die huwelik getree het met Sy bruid, die
Nuwe Testamentiese kerk. Dit is die verhaal van die Bybel: die verhaal van die "vrou se nageslag wat die slang se kop
sou vermorsel" (Gen3:15).
Die Bybel gaan oor Christus wat die Koninkryk van God vestig en dit is waarop
alle profesieë dui in die Woord – dieselfde geld vir Openbaring. Die kop van
die slang is reeds op Golgota vermorsel én die Nuwe Testamentiese kerk gaan
daagliks voort om die saad van die slang te vermorsel. Wanneer ons, soos die
eerste eeu se kerk, deur moeilike omstandighede gaan, moet ons na Openbaring
kyk en die heerlikheid van Jesus Christus raaksien en in herinnering roep.
Ons hoop moet nie op ’n
"wegraping", of ’n "herstelde Israel", ens. gevestig wees
nie, maar op Jesus Christus en Jesus Christus alleen. Ons hoop lê daarin dat
Jesus ons sonde op Golgota weggeneem het en die feit dat Hy dit bevestig het
met Sy opstanding uit die dood. Ons hoop is daarop gevestig, dat Jesus aan die
regterhand van God se troon sit en oor al die gesag in die hemel en op die
aarde beskik (Openb.12:10).
Ons geniet die Bruilofsmaal van die Lam,
want God het die sedelose vrou van die ou verbond vernietig en ons deur
Christus se geregtigheid by die nuwe verbond ingesluit. Mag ons groei in ons
waardering van die nuwe verbond; in ons waardering en liefde vir die Bruid van
Christus (die kerk) en die mees
belangrike, in ons toewyding aan ons Bruidegom, die Lam van God, die Here Jesus
Christus!
Geliefdes, ons
sê dus vir mekaar, dat die Bruilofsmaal reeds plaasgevind het en in ons geval,
reeds met ons wedergeboorte en dit sal voortduur tot in ewigheid en daarom kan
ons, ons verbly in Christus Jesus en ‘n vaste sekuriteit van ons oorwinning en
ewige bestemming hê.
[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente. Vereeniging – 15 September 2013