1. INLEIDING:
In die
eerste gedeelte van hierdie Eerste Siklus van die boek van Hooglied, het ons
gesien dat die koning en sy geliefde in gesprek met mekaar was. Ons het ook
gesien dat die minnaar se soene in v.2, verwys na die gelowige se genieting
van Christus se liefde; die geur van sy parfuum in v.3 verwys na die voortreflikheid
van Christus se Naam en in v.4 het ons gesien dat die privaatheid van sy kamer,
vir ons dui op die intimiteit daarvan om in Christus se teenwoordigheid te wees.
Kom ons
kyk dan nou na die tweede gedeelte van hierdie eerste siklus.
2. SKRIFLESING:
Hooglied
1:7-17 ~ “Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou
kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter
’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek?”
Hy:
8Hy:
“As jy dit nie weet nie, mooiste van al die vroue, loop maar
net op die kleinvee se spore en laat jou bokkies wei by die veewagters se
tente. 9“Soos ’n
spogperd in die farao se strydwa, so is jy vir my, my liefling, 10met
jou lieflike wange tussen jou oorbelle, jou nek met sy kettinkies om. 11Ons
sal vir jou oorbelle van goud maak, met silwerknoppies daarin.”
Sy:
12“So lank die koning op sy rusbank gelê het, het my
nardusparfuum se geur versprei. 13Die man wat ek liefhet, is vir
my ’n sakkie mirre wat tussen my borste lê. 14Die man wat ek
liefhet, is vir my ’n bos hennablomme uit die wingerde van En-Gedi.”
Hy:
15“Jy is mooi, my liefling, jy is mooi, jou oë is duiwe.”
Sy:
16“Jy is mooi, man wat ek liefhet, baie aantreklik. Ons
bed is die groen blare, 17ons huis se balke is die seders, sy
daklatte is die
sipresse.
3. DIE BEMINDE
SE VERLANGE (vv.7-8):
Ons as gelowiges gaan gedurig deur fases in ons
geestelike lewe waar ons o.a soms onsekerheid ervaar oor ons posisie in
Christus en selfs van tyd tot tyd, of ons régtig aanvaarbaar in die oë van die
Vader is. Hierdie
selfde onsekerheid het ons by die beminde in vv.5-6 gesien, toe sy gesê het ~ Moet my nie so aankyk omdat ek donker is nie, omdat die son my
gebrand het nie: my broers het my so bruin laat brand, hulle het my die
wingerde laat oppas; ek kon my eie wingerd, myself, nie versorg nie. Die beminde gaan in
v.7 voort deur haar onsekerheid te verwoord, wanneer sy vra ~ ...waar
laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet
ek my agter ’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek?
A.g.v.
haar onsekerheid, verlang die beminde na haar minnaar se teenwoordigheid, of
voortgesette teenwoordigheid en sy spreek hom aan met die gebruiklike antieke
bynaam van die destydse liefdespoësie, nl. "my skaapherder". Sy sê
dan ook dat indien sy nie saam met hom kan wees nie, sy soos ’n versluierde
vrou sal moet optree. Soos verlede keer reeds aangedui, kan hierdie sluier op
óf ’n prostituut dui (Ragab bv. –
Gen.38:14-15), óf dit dui op ’n vrou wat in rou verkeer – ’n vrou wat rou omdat haar
geliefde nie by haar is nie (Eseg.24:17, 22). Beide hierdie
betekenisse dui op haar karakter en haar hartsbegeerte.
Karakter: Sy wil nie agter die
man van haar drome aanloop soos ’n "slegte vrou" nie.
Hartsbegeerte: Sy is ook totaal
"uitverkoop" aan hom en wil daarom by hom wees, omdat hy haar gelukkig
maak.
In v.8 ontvang
die beminde ’n reaksie en antwoord op haar onsekerheid en minderwaardigheid, maar
eers wil ek net daarop wys dat hierdie vers nie noodwendig ’n weergawe van die
minnaar se antwoord op haar vraag is nie. Baie mense sê dat dit die minnaar se
reaksie moet wees, maar daar is waarskynlik ’n groter moontlikheid dat hierdie
reaksie eerder van haar vriendinne gekom het – daarom dat die OAV en die meeste
Engelse vertalings nie die woordjies "hy" en "sy" in hierdie
gedeelte van die dialoog gebruik nie. Die rede hiervoor is omdat die reaksie té
afsydig klink om van die minnaar te kom. Hierdie vers kan dus as volg geparafraseer
word: Indien jy, van alle mense, nie weet
waar jou geliefde homself bevind nie, moet jy eerder na die ander skaapherders
gaan, want jy sal hom daar vind.
Wat sou hierdie reaksie en antwoord op die beminde
se versugting beteken?
·
Eerstens, dui dit vir ons daarop dat die beminde nie een oomblik sonder
haar minnaar wil wees nie.
·
Dit kan egter ook impliseer dat hy nie op daardie oomblik by haar is
nie, maar wel by sy vriende – die ander herders en dat hy besig is om te werk,
of om net bietjie die alleenheid van die natuur opsoek. Almal van ons het tog
alleen tye nodig om dinge te oordink en sommer maar net eenkant te wees.
In
beide hierdie gevalle is daar vir ons as gelowiges ’n les te leer. In v.8 word
daar aan die beminde gesê dat sy maar net op die kleinvee se spore moet loop.
Ons word dus aangemoedig om op dieselfde geloofpad te loop as al die ander
gelowiges voor ons – Abraham, Isak en Jacob het op hierdie geloofpad geloop. So
ook Johannes en Paulus en Jakobus. Ons moet in die woorde van Jer.6:16 vra na
die regte pad wat na die Here lei ~ So sê die Here: Staan by die
kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en
loop dit, dan sal julle rus vind. Of in die woorde van Hebr.6:12
~ Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.
~ Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.
Net
soos wat die beminde uitgegaan het, op soek na haar geliefde, moet ons ook in
die woorde van Hebr.13:13-15 ~ ...uitgaan na Hom toe buitekant die
laer en die smaad dra wat Hy gedra het, 14want ons het in hierdie
wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige. 15Laat
ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan
Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.
4. DIE MINNAAR
SE LOFLIED (vv.9-11):
In vv.9-11
praat die minnaar weer met sy beminde en hy noem haar sy "liefling"
en hy vergelyk haar ook met ’n paar dinge.
·
My Liefling: Eerstens noem hy haar dan
"my liefling". Die betekenis van hierdie Hebreeuse woord kan ook dui
op "my vriend", of "my sielsgenoot", of "my
kameraad". Hierdie uitdrukking is die eerste van nege keer wat dit in
hierdie lied voorkom. Dit dui dus vir ons daarop, dat ons gedurig in die Here
Jesus se gedagtes is en dat ons voortdurend op Sy lippe is. Christus se liefde
vir ons is onbeskryflik groot en intens – Sy liefde is opreg; onveranderlik; sterk
en ewig. Ons vind ’n mooi samevatting daarvan in die woorde van Ps.86:13 ~ ...want
u liefde vir my was groot: uit die dieptes van die dood het U my gered.
Hierdie herhaling van die uitdrukking, "my liefling" dui ook
vir ons daarop dat ons voortdurend op die lippe van die Here Jesus is – Hy is m.a.w.
voortdurend besig om vir ons in te tree by die Vader ~ Wie
kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die
dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (Rom.8:34).
Die
wortelbetekenis van hierdie woord "liefling" is ook om te bewaar en
om te gee op vir iemand, maar dan spesifiek met die klem op die genot daarvan
om te bewaar en om te gee – dit is hoe die Here Jesus oor ons voel – dit
verskaf aan Hom plesier om ons te bewaar en om vir ons om te gee!
·
’n Spogperd: Die minnaar vergelyk
sy beminde voorts met die Farao se spogperde. Egipte was bekend vir haar
uitstaande gehalte en mooi, sterk en statige perde. Salomo moes ook ’n
voorliefde vir spogperde gehad het, want ons lees in 2 Kron.1:16-17, dat hy van
hierdie Egiptiese perde ingevoer het ~ Sy perde was
afkomstig uit Egipte en Kewé. Die handelaars van koning Salomo het hulle in
Kewé gaan koop vir die prys waarop ooreengekom is. 17Uit Egipte is
’n strydwa vir net minder as sewe kilogram silwer ingevoer en ’n perd vir een
en ’n driekwart kilogram. Dieselfde pryse is aan al die Hetitiese en Aramese
konings betaal. Die invoer het deur bemiddeling van die handelaars geskied. Salomo vergelyk sy
beminde met hierdie pragdiere van hom en is dit ’n geweldige kompliment vir haar
om met sulke pragdiere vergelyk te word, want perde was vir mans in daardie tyd
’n kosbare besitting – iets wat getuig het van koninklike status en van skoonheid
– iets waarop die eienaar geweldig trots was.
Wat leer hierdie vergelyking egter vir ons as gelowiges? 1 Pet.2:9-10
verwys na ons as gelowiges as volg ~ Julle, daarenteen, is ’n
uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is,
die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van
Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 10Julle
was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé
geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid
bewys.
Soos
hierdie perde teen ’n hoë prys vanuit Egipte af ingevoer was, net so is ons as
gelowiges teen ’n baie duur prys gekoop en die eiendomsvolk van Jesus Christus
gemaak – 1 Pet.1:18-20a ~ Julle weet tog dat julle nie met
verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde
sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die
kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 20Reeds
voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem.
Hierdie
perde het vir koning Salomo groot plesier verskaf en net so is ons ook ’n
vreugde vir die Here, daarom dat Hy reeds na ons in die vorige vers verwys het
as "my liefling".
Perde
is ook baie wild wanneer hulle jonk is, maar mettertyd word hulle ingebreek en
onderwerp ’n perd hom aan sy eienaar en werk hulle in ’n eenheid saam wanneer
hulle voor die koning se strydwa ingespan word. Dieselfde met ons as gelowiges
– ons is een in Christus Jesus en ons moet ons ook aan Hom onderwerp en in
eenheid met mekaar staan, sodat ons Hom deur ons onderwerping en eenheid kan
verheerlik ~ Lê julle daarop toe om die
eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met
mekaar te lewe (Ef.4:3) en Fil.1:27 ~ ...dat
julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die
evangelie.
Die
kerk van die Here Jesus mag nooit soos ’n trop wilde perde wees nie, maar soos
perde wat ingebreek is en in eenheid saam aan die strydwa trek.
·
Haar Fisiese Skoonheid:
Nog ’n
aspek van hierdie koninklike perde, was dat hulle gesigte, nekke en maanhare, pragtig
versier was met allerlei kleurvolle linte en krale, ens. Die minnaar gaan voort
in v.10 en hy vergelyk sy beminde met die pragtig versierde perde en verwys na
haar pragtige wange en nek wat net so mooi versier is. Vrouens het hulle graag
versier in daardie dae met kettingkies, juwele, nek- en kopbande, neusringe;
armbande; grimering, ens. Hulle het o.a. ook linte in hul hare ingevleg.
Die
geestelike toepassing van hierdie beeld, is dat ons na die beeld van Christus
geskep is en dat ons Sy skoonheid en heerlikheid in hierdie wêreld uitstraal,
d.m.v. die Vrug van die Gees (Gal.5:22-25), asook die opdragte
soos vervat in Jesus se Bergpredikasie (Matt.5:1-12), of in die woorde van
Paulus in Kol.3:12-17 ~ Julle is die uitverkore volk van
God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig,
sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en
vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe
het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle
mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En
die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het
julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe.
Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle
rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid
in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot
eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit
alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
Dit is
so dat al hierdie geestelike genadegawes in ons harte ontspring en daarom
verwys Salomo na sy beminde se pragtige wange en nek, want dit is haar
innerlike skoonheid wat weerklank vind in haar uiterlike voorkoms – dit is
waarom Jesus ook in Matt.5:14-16 vir ons geleer het dat ons ’n ...lig
vir die wêreld (is). ’n Stad wat op ’n berg lê, kan
nie weggesteek word nie; 15ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit
dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die
huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle
goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. Wanneer ons dit sê,
moet ons terselfdertyd besef dat hierdie skoonheid nie deur onsself opgeklits
kan word nie en dat dit ook nie letterlik uit uiterlike versiersels bestaan
nie, maar dat dit uit genade aan ons geskenk word en voortspruit uit ’n opregte
en nou wandel met die Here Jesus Christus ~ Julle skoonheid
moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere
nie. 4Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees:
blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde (1 Pet.3:4).
Christus
sluit hierdie huidige gedeelte af deur in v.11 in die meervoud te praat – nou
sê Hy ~ Ons sal vir jou oorbelle van goud maak, met
silwerknoppies daarin. "Ons" – waarom die
meervoudsvorm? Die Here wil ons daaraan herinner dat ons heiligmaking, ’n
heilige en genadige werk is deur al drie die Persone van die Goddelike
Drie-Eenheid – die Vader, die Seun Jesus Christus en die Heilige Gees. Dit is ’n
tipiese verbondswerk. Ons kan nie self hierdie ...oorbelle van goud,
met silwerknoppies daarin maak nie, want dit sal net op chaos en mislukking
uitloop, omdat ons vlees dit net nie sal toelaat nie. Nee, net God-Drie-Enig
kan dit in ons bewerkstellig. Hy berei ons voor, want Hy doen dit, ...om
die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27sodat
Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets
dergeliks, heilig en onberispelik (Ef.5:26-27).
5. DIE BEMINDE
SE HEERLIKE GEUR (vv.12-14):
Die
verwysing na ’n "rusbank" in v.12, is nie ’n beskrywing van ’n
rusbank soos ons dit ken nie, maar eerder ’n beskrywing van die minnaar se
omgewing waar hy graag tyd deurbring – die weivelde; die gras en die bome. Ons
vind ’n beskrywing van hierdie "rusbank" in 1:16-17 ~ Jy
is mooi, man wat ek liefhet, baie aantreklik. Ons bed is die groen blare, 17ons
huis se balke is die seders, sy daklatte is die sipresse.
Die minnaar
se loflied in vv.9-11 en sy poging om haar nog meer en mooier te versier, het
uiteraard ’n effek en reaksie by die beminde tot gevolg – sy vind haar minnaar
onweerstaanbaar en sy dink terug aan die kere dat sy en haar minnaar tyd alleen
in die natuur spandeer het (sy
"rusbank") en sy dink spesifiek aan die duur parfuum en lekker reukgoed wat sy aan
haar gehad het. Sy verwys in v.12 na die nardusparfuum wat sy aan haar gehad
het. Die nardusolie wat sommige vroue gebruik het, was ’n baie duur en skaars
olie wat afkomstig was van ’n plant wat in die Himalajagebied in Indië aangetref
is. Die skaarsheid, en derhalwe die waarde van hierdie eksotiese reuk, het
hierdie olie baie gesog gemaak, veral as ’n liefdesgeur.
In v.13
verwys sy na mirre wat ’n welriekende gom was wat van bome in Suid-Arabië afkomstig
was. Hierdie reukmiddel was die hoofbestanddeel in die reukwerke wat in die
Tabernakel gebruik was (Eks.30:23-33). Ook was dit
geassosieer met die balsemingsproses van lyke destyds. Mirre was gewoonlik in
vloeistofvorm in klein houertjies gedra, maar ook in vaste vorm, sodat dit in
’n sakkie onder vroue se klere gebruik kon word.
Die
hennaplant waarna in v. 14 verwys word, is ’n struik wat volop in Palestina
voorgekom het en wanneer die blare fyn gedruk was, het daar ’n oranje-rooi tot
geel kleurstof gevorm waarmee vroue hul naels en hare gekleur het, maar die
beminde verwys egter hier na die reuk van die hennaplant.
Sy maak
ook melding van die En-Gedi ("plek van die
wilde-bokke"). Dit was ’n welige oasis langs die suidelike kusgebied van die Dooie
See en was veral bekend vir sy pragtige wingerde en allerlei ander pragtige
tropiese plante waarvan eksotiese speserye en grimering en parfuum gemaak is en
net soos wat Farao se perde die heel beste was, was die produkte van die
En-Gedi die heel beste.
Hierdie
geurmiddels wat die beminde aan haar het, laat ’n mens dink aan Joh.12:3 ~ Toe
het Maria ’n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se
voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek
met die geur van die reukolie. Maria se motief met haar optrede was om haar liefde
vir Jesus te betoon, nadat Jesus oorvloedige liefde aan haar en haar familie
betoon het. Haar liefdesdaad het getuig van onselfsugtige en oorvloedige liefde.
Haar optrede het egter ook getuig van ’n onselfsugtige liefde, waar sy haarself
verneder en neerlê – sy het nie net haar eie kosbare en duur olie op Jesus
uitgegooi nie, maar sy het dit ook met haar hare afgedroog – sy kon haar
diensknegte gevra het om Jesus se voete af te droog, maar sy doen dit self –
met haar hare – daardeur toon sy haar nederigheid en onderwerping aan Jesus.
God die
Vader se Gesalfde moet ook ons Gesalfde wees – laat ons ook ons "olie van
opregte en oorvloedige liefde" op Hom uitstort en laat ons onsself
verneder deur Hom in opregtheid en oorgawe te dien. Laat ons ook die lieflike
geur van Jesus Christus in ons huise duidelik laat ruik, sodat diegene wat in
ons huise inkom, ook daardie heerlike "geur van Jesus" kan ruik.
Is ons
bereid om onsself tekort te doen, t.w.v. Christus Jesus? Is ons bereid om ons
beste vir Hom te gee? Ons gemeenskap met Hom gaan nie net oor onsself nie – dit
gaan oor Hom, sodat die genadegawes in ons kan toeneem; sodat ons opregte berou
oor ons sonde sal hê; sodat ons geloof in Hom kan groei; ons liefde vir Hom;
ons vreugde in Hom; ons hoop op die ewigheid saam met Hom; sodat ons Hom meer
en meer kan verheerlik in en deur ons lewe.
Is ons
na aan Jesus? Is ons verhouding so intiem met Hom, soos die sakkie mirre wat
tussen die beminde se borste lê
Hierdie
drie verse waar die beminde praat van die koning se omgewing waar hy graag
deurbring en haar reukmiddels en grimering wat sy gebruik (vv.12-14), dui vir ons as gelowiges op die beste en baie
spesiale en intieme gemeenskap wat ons met ons Here Jesus geniet.
6. LAASTE
LOFUITINGE:
Die
dialoog tussen die minnaar en sy beminde sluit in vv.15-17 af met twee kort
sinsnedes. Eerstens sê die Minnaar ~ Jy is mooi, my liefling, jy is
mooi, jou oë is duiwe. Weereens is dit Jesus wat hier van Sy Bruid, die
Kerk praat en Hy sê nie mooi dinge vir ons sodat ons goed en selfvoldaan
daaroor kan voel nie, maar dat ons moet besef dat daar besondere skoonheid in
’n heilige lewe opgesluit lê en dat Hy besondere genoeë daarin vind as ons
goeie werke aan die dag lê – goeie werke wat uit genade voortgebring word.
Hy
verwys na oë wat so mooi soos dié van duiwe is – die duiwe van die Midde-Ooste het
groot oë en dit verteenwoordig die prominente eienskappe van die beminde se
skoonheid. Verwysings na en vergelykings met duiwe in die Woord, word
geassosieer met o.a. opregtheid (Matt.10:16
~ Wees...opreg soos duiwe...); met sagtheid, reinheid en eenvoud – en dít is wat
die Here Jesus in ons sien en wil sien.
Die
beminde antwoord haar minnaar in vv.16-17. Hierdie is die kerk wat haar
waardering vir Christus se genade en liefde uitspreek. Die Israeliete het
hierdie uitspraak verwoord, toe hulle in Eks.15:11 gesê het ~ Wie
van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In
lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade!
7. AFSLUITING:
Die
Here Jesus Christus het ons oneindig lief en Hy kommunikeer dit daagliks en
onophoudelik aan ons. Die vraag is, of ons op Sy liefdesuitsprake reageer en
hóé reageer ons daarop? Het ons Hom waarlik lief? Tree ek in hierdie wêreld,
maar ook in my binnekamer op soos iemand wat Hom waarlik lief het? Verlang ek
daarna om saam met Hom op Sy rusbank te wees? Hy noem ons Sy liefling – kan ons
dit waarlik ook vir Hom sê?
[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 14 Julie
2013