Sunday, January 13, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 17 ("Jesus Christus ons Ewige Hoë Priester - 02")

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1.    INLEIDING:
       In ons vorige boodskap, het ons gesien dat ’n ieder en ’n elk van ons, sondaars is en omdat God heilig is en derhalwe sonde haat, het ons ’n Hoë Priester nodig wat vir ons die volmaakte offer kan bring ten einde God se wrewel of toorn op ons sonde, af te weer – ons het dan ook gesien dat Jesus Christus hierdie ewige Hoë Priester vir ons geword het.

       Ons het ook gesien dat Melgisedek ’n voorafskaduwing van Jesus se volmaakte en ewige Hoë Priesterlike amp was.

       Laastens het ons ook gekyk na Christus wat die enigste volmaakte geregtigheid is en omdat Hy God is, is daar geen sonde in Hom nie en kan nét Hy dus, volmaakte en finale geregtigheid aan ons skenk.



2.    SKRIFLESING:
       Hebr.7:11-28 ~ Dit was in samehang met die Levitiese priesterskap dat die volk die wet van Moses ontvang het. As hierdie priesterskap volmaaktheid kon bewerk, waarom was dit dan nog nodig dat ’n ander priester volgens die priesterorde van Melgisedek aangestel moes word, van wie daar nie gesê word dat hy ’n priester volgens die orde van Aäron sou wees nie? 12As daar ’n ander priesterskap kom, volg noodwendig ook ’n verandering van die wet. 13Hy van wie hierdie dinge gesê word, behoort juis tot ’n ander stam, waaruit niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie. 14Dit is algemeen bekend dat ons Here van Juda afstam, en in verband met daardie stam het Moses niks oor die priesterskap gesê nie. 15Die saak word nog duideliker as ons daaraan dink dat die ander priester wat te voorskyn tree, ooreenkom met Melgisedek, 16deurdat Hy priester word nie deur die bepaling van die wet oor menslike afstamming nie, maar deur die krag van onvernietigbare lewe. 17Van Hom word getuig: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” 18Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan: 19die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het ’n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader. 20Dit het nie sonder die bevestiging met ’n eed plaasgevind nie. Die Leviete het wel priesters geword sonder die bevestiging met ’n eed, 21maar Jesus met ’n eed deur God, wat vir Hom gesê het: “Die Here het dit met ’n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy is priester vir ewig.’” 22So het Jesus ook van ’n beter verbond borg geword. 23Daar is ook ’n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het. 24Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý ’n priesterskap wat nie op ’n ander oorgedra word nie. 25Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree. 26Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, 27een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het. 28Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met ’n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.

3.    EIENSKAPPE VAN JESUS SE HOË PRIESTERSKAP:
       Ek wil vanoggend verder na Jesus se Hoë Priesterskap kyk en wel n.a.v. die volgende eienskappe:
Christus se Hoë Priesterskap is...:
·         Volmaak (vv.11-19);
·         Ewig (vv.20-25);
·         Algenoegsaam (vv.26-28);
·         En dan wil ek afsluit met iets oor die uitdrukking: "’n Koninklike Priesterdom".

4.    CHRISTUS SE HOË PRIESTERSKAP – VOLMAAK:
       Deurgaans deur die Ou Testament sien ’n mens dat die Ou Testamentiese priesters ’n baie belangrike geestelike rol in die lewe van die Ou Testamentiese Israeliete gespeel het, trouens die indruk wat ’n mens kry wanneer jy deur die Ou Testament lees, is dat die lewe van die Israeliete, om godsdiens, die tempel en die priesters gesentreer het.

       Die rol van die priesters was om as tussenganger op te tree tussen die mens en God (en andersom natuurlik), maar dít was juis die probleem – daar was altyd ’n hindernis tussen die mens en God en dit was die mens se sonde en die Voorhangsel tussen die Heilige en die Allerheiligste in die tempel was dan ook simbolies van hierdie skeiding. Dit was slegs onder die Nuwe Verbond dat hierdie Voorhangsel verwyder kon word, trouens dit het gebeur toe Jesus Sy laaste asem aan die kruis uitgeblaas het ~ Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. 38Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur (Mark.15:37-38).

       Jesus Christus het die volmaakte offer gebring om versoening tussen God en die mens te bewerkstellig en Hy kon dit doen omdat Sy Priesterskap ’n volmaakte priesterskap was – Hy was aangestel as Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek. Dit gaan derhalwe my verstand te bowe dat daar vandag nog steeds mense is wat wil "terug voeter" na die oue toe!  

       Wat was die verskil tussen die aardse hoëpriesters en Jesus Christus as Hoëpriester? Die kort en eenvoudige antwoord is dat die aardse hoëpriesters mense was wat self vol sonde was, terwyl Christus, wat self ook God is, sondeloos is. Dit was natuurlik ook nooit God se bedoeling om die Levitiese Priesterskap vir altyd in plek te hou, maar toe op ’n stadium besef het dat hierdie stelsel nie die gaping tussen Hom en die mens sou vernou nie en dat Hy toe besluit het om Sy Seun na die aarde te stuur nie. Nee, Hy het al vroeg in die Ou Testament gesê dat hierdie aardse priesterstelsel nie vir altyd in plek gaan bly nie, maar dat dit vervang gaan word met ’n beter stelsel – ’n volmaakte stelsel ~ Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.” (Ps.110:4). Hier het God dit ondubbelsinnig gestel dat die beloofde Hoëpriester (Jesus Christus), sou kom en dat Hy nié ’n Levitiese priester sou wees nie, m.a.w. Hy sou vanuit ’n ander priesterlike orde kom (v.17), vanuit ’n ander stam (vv.13-14), nl. die stam van Dawid en die priesterlike orde van Melgisedek.  

       In v.11b vra die Hebreërskrywer ’n vraag en met hierdie vraag impliseer hy eintlik alreeds die antwoord ~ As hierdie priesterskap volmaaktheid kon bewerk, waarom was dit dan nog nodig dat ’n ander priester volgens die priesterorde van Melgisedek aangestel moes word? Met hierdie vraag impliseer hy dat die priesterlike amp volgens die Ou Verbond, nie volmaak was nie en die feit dat Jesus nie van dieselfde orde en/of stam was nie, impliseer dus dat die aardse priesters nié vir die sondaar kon doen wat nodig was nie en daarom was daar nood aan ’n ander Hoëpriester.

       Wat belangrik is om hier te meld, is dat indien die priesterskap van die Ou Verbond verplaas moes word met ’n Nuwe, dan impliseer dit tog ook dat al die Ou Testamentiese wette wat verband gehou het met die priester- en tempeldiens, asook al die rituele, seremonies, offers, ens. wat daarmee gepaard gegaan het, vervang is.     Die hele Ou Verbondsisteem was dus tydelik en onvolmaak van aard – dit gaan derhalwe my verstand te bowe daar nog steeds mense is wat bly "terugvoeter" na die oue!     
      
       Wat was die doel dan met die Levitiese sisteem? Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie sisteem, nié die einddoel opsigself was nie, maar dit was nodig om ná die sondeval en dan spesifiek ná die totstandkoming van God se volk, ’n beter en volmaakte hoop lewendig te hou in die volk se gemoed, totdat dit dan ook uiteindelik in Jesus tot vervulling gekom het. Toe hierdie "beter hoop" tot vervulling in Jesus gekom het, is die oue opsygesit – daarom dat vv.18-19 dan sê ~ Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan: 19die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het ’n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader. Die oue het dus verval, toe Jesus gekom het en dit kón verval, juis omdat Jesus die volmaakte Hoë Priester is – Hoë Priester volgens die orde van Melgisedek.          

5.    CHRISTUS SE PRIESTERSKAP – EWIG:
       Wanneer ons na vv.20-22 kyk, sien ons dat God nooit aan Aäron, of enige iemand anders, met ’n eed bevestig het dat sy priesterskap vir ewig sou duur nie. Met Christus was dit egter ’n ander saak. Ons het netnou na Ps.110:4 verwys en gesien dat God wel met ’n eed belowe het dat Christus se Priesterskap, "vir altyd" sal wees – vir ewig dus, teenoor die Levitiese priesters wie se amp tydelik van aard was. Die diskwalifikasie van ’n ewige priesterskap vir die Levitiese priesters, was die dood self – nie een van hulle kon vir ewig dien nie. Daarteenoor is die Priesterskap van Jesus, ewig van aard omdat Hy vir ewig lewe (nog ’n rede waarom Sy fisiese, historiese en letterlike opstanding so belangrik is). Jesus se Priesterskap is nie oorgeërf soos die Levitiese priesters nie, maar dit is aan Hom gegee deur die Vader

       Die feit dat hierdie Priesterskap vir ewig aan aan Jesus geskenk is, impliseer dat Hy ons ...eens en vir altyd verlos (v.25), maar ook dat ons te enige tyd na Hom kan gaan in gebed, omdat Hy ons "hemelse Verteenwoordiger" is en daarom  ...altyd vir (ons) by God intree (v.25).

       Het u gehoor wat v.25a sê ~ Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos? Jesus Christus verlos vir altyd, vir ewig dus! Die Griekse woord wat hier gebruik word, nl. εἰς (eis) sê egter veel meer as bloot net "vir ewig" – dit is ’n veel swaarder gelaaide woord en sê eintlik dat ons volledig en volmaak verlos word – daar is niks meer nodig nie. Die O.A.V. vertaal dit pragtig en korrek, deur te sê ~ Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree – Hy red volkome!

       Hierdie v.25 is ’n geweldig swaar gelaaide vers, met soveel betekenis en implikasies vir ons – kom ons kyk net vir ’n wyle nog daarna:
·           Dit begin met die woord "daarom" en ons weet nou al teen hierdie tyd, dat wanneer ons die woord "daarom" sien, ons die vraag "waarom?" moet vra – m.a.w. waarom sê die skrywer "daarom? Hierdie opmerking ("daarom") verwys dus na die voorafgaande gedeelte en daar het ons gesien, dat dit oor die feit gaan dat Christus volkome en vir ewig red.
·           Nadat v. 25 dan begin het met "daarom", gaan dit voort om vier elemente van ons redding te bespreek:
-      Eerstens, beskik Christus werklik oor die mag om ons te kan red? Die Hebreërskrywer sê in v.25 dat Christus ons kán red. Ander aardse priesters kon niemand red nie – nie eers tydelik of gedeeltelik nie, maar Christus kan! Die aardse priesters kon intree by God en tydelike dekking vir hul sonde vind, maar hulle kon nooit permanente verwydering van sonde bewerkstellig nie. Jesus Christus daarenteen kan en het permanente verwydering van sonde vir ons bewerkstellig, daarom dat Jesus die enigste weg tot saligheid vir die mensdom is, daar is geen ander weg nie; geen ander middel nie; geen ander mens nie – net Hy en Hy alleen ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Joh14:6).
-      Wat is die doel met redding? Ja, dit is om ons te red van ’n ewige dood, maar hierdie woord red of verlos, omvat die verlede tyd; die teenwoordige tyd, asook die toekomstige tyd. Met ander woorde, ons is vergewe van die erfsonde wat ons in Adam geërf het; ons ontvang vergifnis van die sonde wat ons daagliks begaan (die sondesmet), maar ons word ook verlos, sodat ons volgens v.25, na God kan gaan ~ Daarom kan Hy ook volkome red wat deur Hom tot God gaan. Die doel met redding is dat ons na God kan gaan; dat ons in Sy teenwoordigheid mag en kan verskyn – ons redding lê dus ook nog in die toekoms.
-      Wie word gered? Diegene ...wat deur Hom (dit is Jesus) tot God gaan (O.A.V.). Slegs hulle word gered wat in Jesus Christus glo – ons het dit netnou ook in Joh.14:6 gesien.
-      Vierdens – Die sekuriteit van elke gelowige se verlossing lê opgesluit in die feit dat Christus vir ons intree by die Vader – v. 25b ~ ...omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Wat hier belangrik is om te onthou, is dat Christus nie alleen oor die mag beskik om ons te verlos nie, maar Hy beskik oor die mag om ons vir ewig te red; om ons vir ewig geestelik in stand te hou, sodat ons sál volhard tot die einde toe.

6.    CHRISTUS SE PRIESTERSKAP – ALGENOEGSAAM:
Die Ou Testamentiese Israeliete het nood gehad aan ’n hoë priester wat nie net mag en aansien gehad het nie, maar Een wat heilig en sonder sonde was, want dit is net ’n volmaakte en sondelose Priester wat waarlik versoening vir sonde kan bewerk. Ons as Nuwe Testamentiese gelowiges het presies dieselfde behoefte, maar daar is ’n reuse verskil tussen ons en die Israeliete van ouds en die Hebreërskrywer verduidelik dit vir ons in die laaste drie verse (vv.26-28) van hoofstuk 7 met ’n stelling t.o.v. ons Hoë Priester se karakter en status en dan spesifiek in v.26. Hy sê dat Christus heilig is; dat Hy skuldloos is; dat Hy sonder smet is en dat Hy verwyder is van die sondaars. Alles eienskappe wat ons Hoë Priester se sondelose karakter beskryf – in sterk kontras met die karakter van aardse hoë priesters, nie waar nie? Anders as hulle, hoef Christus nie offers vir Homself te bring nie, trouens Hy hét Homself geoffer.

Die aardse hoë priester het elke keer wanneer hy op die Groot Versoendag in die Allerheiligste ingegaan het om voorbidding vir die volk te doen, ’n skouerkleed en borssak aangetrek wat versier was met twee oniksstene en twaalf halfedelstene en hierdie twee oniksstene was geheg aan die skouerkleed en het elk die name van ses van die twaalf stamme daarop geskryf gehad en aan hierdie skouerkleed was ’n borssak met goue kettings geheg en op hierdie borssak was die twaalf halfedelstene wat verteenwoordigend was van elkeen van die Israelitiese stamme – die aardse hoë priester het dus die name van die volk slegs simbolies saam met hom geneem wanneer hy in die Allerheiligste gegaan het (en onthou, dit het slegs een maal per jaar geskied).

Ons het ’n Hoë Priester nodig wat die reg het om in die teenwoordigheid van God te gaan, ten einde jou en my voor en in die teenwoordigheid van God die Vader te verteenwoordig en net ’n Hoë Priester wat sonder sonde is, of anders gestel – net ’n Hoë Priester wat heilig en skuldloos en sonder smet is en wat verwyder is van sondaars, kan dit vermag en kan by die spreekwoordelike voorhangsel verby tree en in die fisiese teenwoordigheid van God Almagtig staan – dit is wie Jesus Christus is – die volmaakte en enigste ware Hoë Priester! Hy is die Een wie elkeen van ons nodig het – die enigste Een! Ons het niks meer as net Jesus Christus nodig nie – Hy is die Algenoegsame; die volmaakte Hoë Priester wat elkeen van ons individueel aan die Vader opdra en Hy doen dit nie net een keer per jaar nie. Nee, Hy doen dit onophoudelik.

7.    ’N KONINKLIKE PRIESTERDOM:
       ’n Laaste gedagte waaraan ek aandag wil gee spruit voort uit twee Skrifgedeeltes en sluit aan by Christus se Hoë Priesterlike amp en die feit dat Hy ons verlos het:
·           Openb.1:5b-6a ~ Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader.
·           1 Pet 2:9a ~ Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom....
       Uit hierdie verse blyk dit baie duidelik dat elkeen wat deur Christus verlos is, ook priesters is! Wat beteken dit vir jou en my om ’n priester te wees? Waarom het God ons tot priesters gesalf? Wat is die beloftes en die take wat ons as priesters het?

       Om hierdie vrae te antwoord moet ons net weer vlugtig noem wat die Ou Testamentiese priesterskap behels het, asook wat Christus se Hoë Priesterlike werk behels – baie kortliks en opsommend:
·           Die Priesters van die Ou Testament het die taak gehad om die versoeningsdiens tussen die mense en God te behartig. Hulle het dus by God ingetree in die belang van die sondaars en op grond van die offerhande gepleit om God se vergiffenis.
·           Waar die priesters van die Ou Testament hulle bestaan in toewyding aan God moes opoffer, was dít wat Jesus gedoen het, 'n volmaakte vervulling van die Ou Testamentiese priesterskap. Jesus het nie die bloed van diere na God toe gebring nie, maar sy eie kosbare bloed. Die diereoffers kon op geen manier die mens se sonde volkome vergewe nie. Daarom moes dit herhaaldelik oor en oor gedoen word, maar die offer van die Here Jesus was eenmaal, genoegsaam, en afgehandel.

Ons het ook gesien dat Christus vir ons intree by God.

       Wat beteken dit om priesters te wees? Waarom het God ons tot priesters gesalf? In die lig van wat ons gesien het wat die aardse priesters gedoen het, maar ook Christus as ons ewige Hoë Priester, moet ons as priesters ook intree vir andere – 1 Tim.2:1-2 is duidelik hieroor ~ Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense. Hier eindig dit egter nie, want v.2 gaan voort en sê ~ ...vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. Hoe gereeld bid ons vir alle mense? Hoe gereeld bid ons vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen?

Daar is egter nog ’n aspek gekoppel aan ons taak as priesters – meer as net die belangrike taak van ons persoonlike gebede. Ons moet ook offerdiens verrig… nie die soort offerdiens soos die priesters wat diere op 'n altaar offer nie – nee, ons priesterdiens word saamgevat in die woorde van 1 Pet.2:5 ~ Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. Ook Rom.12:1 ~ En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Kom ek lees nog twee verse in hierdie verband, nl. 1 Pet.2:11-12 ~ Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe. 12Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.

8.    AFSLUITING:
       Geliefdes, daar sal nooit ’n geleentheid hom voordoen waar jy na God in gebed gaan en dat Hy jou sal wegwys op grond van jou sonde en afvalligheid nie – nie een keer nie, want Jesus Christus ons Hoë Priester tree elke dag vir ons in en Sy voorbidding is volmaak en absoluut volgens die wil van God en daarom kan ons met vrymoedigheid en met vertroue tot die Vader nader in gebed en kan ek verseker weet dat God die Vader my sál vergewe wanneer ek daarom vra en dat Hy uit genade my sál bystaan wanneer ek vra om hulp.

       As hierdie nie waar was nie; as hierdie boodskap in ons Skrifgedeelte van vandag nie waar was nie, sou ek en jy tot en met ons dood in onsekerheid gelewe het; erger nog, sou ons sonder hoop gelewe het. Hierdie woorde is egter waar, waarom sal ons dan nie met vrymoedigheid na Hom draai en ons ons ganse lewe aan Hom toevertrou nie? Stuart Olyott het gesê: Backsliding is foolishness; apostasy is madness.

       Die vraag wat jy en ek vir onsself vandag moet vra is of ons Jesus ken en dien – dit is al wat belangrik is. Sê jy saam met Paulus ~ ...ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry? (Fil.3:8). Paulus sê vir ons dat ons alles moet neerlê, sodat Christus sentraal kan staan in ons lewe. Ons moet Christus en Sy Koninkryk soek en ons lewe rondom Hom inkleur. Wanneer ons dit doen, dán kan ons, ons lewe bestuur; ons verhoudings in stand hou; ons besigheid bestuur; ons besittings en geld  hanteer, maar dan doen jy dit alles tot eer en verheerliking van Sy Naam.  

       Die lewe as gelowiges, is nié die gehoorsaamheid aan ’n klomp voorskrifte nie en dit is nié ’n worstelstryd in ’n poging om nie te sondig nie. Nee, dit is om Jesus Christus sentraal te plaas in jou ganse lewe. Hy is jou Hoëpriester wat vir jou sondes gesterf het; wat jou verlos het van die ewige hel en daarom lewe jy vir Hom – van uur tot uur, van dag tot dag.


[1]  Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 13 Januarie 2013.