Sunday, January 20, 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 01 ("Gaan dan heen...")


1.    INLEIDING:
       Martin Luther het gereeld hierdie bekende Latynse uitdrukking gebruik: simul justus et peccator. Om sin te maak van hierdie uitdrukking kan ons na ’n verduideliking van Tim Keller kyk, waar hy kortliks die betekenis van die Evangelie verduidelik: The Gospel isn't simply the ABC's of Christianity, but the A-through-Z. The Gospel doesn't just ignite the Christian life; it's the fuel that keeps Christians going every day. Once God rescues sinners, His plan isn't to steer them beyond the Gospel but to move them more deeply into it. After all, the only antidote to sin is the Gospel – and since Christians remain sinners even after they're converted, the Gospel must be the medicine a Christian takes every day. Since we never leave off sinning, we can never leave the Gospel.

       Keller sê dus, dat gelowiges steeds die Evangelie nodig het ná wedergeboorte, omdat gelowiges steeds sondaars is en derhalwe voortdurend vergifnis nodig het vir hul sondesmet. Ons het dus die Evangelie op daaglikse basis nodig – en dit is presies wat Luther ook sê: Gelyktydig geregverdig en sondig ("simul justus et peccator ").

       Jerry Bridges sê ook dat gelowiges die Evangelie net so broodnodig het as ongelowiges en dan sê hy, dat gelowiges se gebrekkige geestelike groei, toegeskryf kan word aan ’n gebrekkige kennis en insig in die Evangelie. Hy sê verder dat gelowiges nie harder moet probeer om soos gelowiges te leef nie, maar eerder om die onbeskryflike werk van Christus aan die kruis beter te verstaan en wanneer hulle dit beter verstaan, dan met ’n groter bewustheid van God se genade in elke faset van sy lewe, sy dag te leef.


2.    AGTERGROND:
       Ek wil vanoggend in tandem met die Brief aan die Hebreërs, begin kyk na die boek van Jona en vanoggend sal ons net na die eerste 3 verse kyk.

       Wanneer ons na Jona se verhaal kyk, sal ons die Evangelie van Jesus Christus in aksie sien, want sy verhaal is ’n verhaal van sonde en genade, van wanhoop en verlossing en terselfdertyd sal ons ook ons eie lewe in Jona se lewe weerspieël sien en besef dat ons sonde geweldig groot is (soos Jona s’n), maar dat God se genade nog groter is!

       Hierdie boek is vernoem na die sentrale karakter in die boek, nl. Jona, seun van Amittai (1:1). Die boek Jona verskil van die ander profetiese boeke in dié opsig dat dit ’n verhaal is van wat met ’n profeet gebeur wat God se opdrag verontagsaam het. Jona moes die oordeel van die Here oor Nineve, die hoofstad van Assirië, gaan aankondig. Na ’n reeks buitengewone gebeurtenisse het Jona tog onwillig gehoorsaam, maar hy was baie ontevrede toe God Hom tog oor Nineve ontferm het.

       Al word daar deurgaans van Jona in die derde persoon gepraat, kan ons nie aanvaar dat hy nié die outeur van hierdie boek is nie, trouens daar is meer as een voorbeeld in die Ou Testament waar outeurs van boeke na hulself verwys het in die derde persoon. Wanneer ’n mens in gedagte hou wat alles oor Jona geskryf word, klink dit na eerstehandse ervaring en kennis en kan die aanname gemaak word dat dit wel Jona was wat hierdie boek geskryf het – ons kan dit dus ’n outobiografiese weergawe van Jona se lewe noem.

       Volgens 2 Kon.14:25 het Jona van die dorpie Gat-Gefer naby Nasaret in Israel gekom. Hy het iewers gedurende die agste eeu en ook net voor die profeet Amos, opgetree as profeet na die noordelike stamme.

       Die verhaal van Jona is ’n drama wat homself afspeel tussen God en Jona. Jona se naam beteken letterlik "duif" en hy word sommer met die intrapslag in die eerste vers van Jona aan
ons bekend gestel.

       Jona word in opdrag van God, van sy tuisland Israel, na Nineve gestuur om daar te preek. Nineve was die hoofstad van die antieke Assiriese Ryk, wat in 612 v.C. deur die Babiloniërs en die Mede verower is. Ons sal in Jona 3:3 sien dat die stad, ’n "baie groot stad" genoem word (ook 4:11). Op ’n stadium in die geskiedenis was die stad dan ook as die grootste stad in die wêreld beskou. Nineve was geleë op die walle van die Tigrisrivier in die huidige Irak.

       Wat verder interessant is, is dat bykans al die ander profete van  God, nie in ’n vreemde land teen die vreemde volke en lande geprofeteer het nie, maar Jona was die enigste profeet wat deur God na ’n buitelandse volk toe moes gaan ten einde God se boodskap van oordeel teen hulle te bring, maar terselfdertyd geweier het om die opdrag van God uit te voer! Jeremia getuig in Jer.20:7-9 van die uiters moeilike taak wat aan profete van God opgelê was, maar dat hulle nogtans nie daarvan afgewyk het nie ~ U het my mislei, Here, en ek het my laat mislei. U was te sterk vir my, U het gewen. Ek word heeldag uitgelag, almal spot met my. 8Elke keer as ek my mond oopmaak, moet ek skree, moet ek roep: “Daar is geweld, daar is verdrukking!” Om die woord van die Here te moet aankondig, beteken vir my net vernedering en bespotting heeldag deur. 9En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie en nie meer in sy Naam praat nie, dan word dit in my soos ’n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie. Ek is moeg van weerstand bied daarteen, ek kan nie meer nie.

       Gepraat van profete – Profete het God se Woord aan die volk bekend gemaak en in die geval van Jona, moes hy dit aan ’n klomp heidense buitelanders gaan bring – dit is dus niks anders as sendingwerk nie en wanneer ’n mens kyk na sendingwerk in die Ou Testament, besef ’n mens dat dit deel van God se opdrag aan die volk Israel was, toe Hy aan hulle opdrag gegee het om ’n seën vir ander nasies te wees (Gen.18:18).

       Net ’n laaste gedagte voor ons na die eerste gedeelte van Jona kyk: Daar is baie mense wat die boek van Jona afmaak as ’n fabel, maar indien iemand dit sê, moet so ’n persoon ook sê dat die deurtog van die Israeliete deur die Rooi See, ook ’n fabel is en dat die water wat uit die rots in die woestyn gevloei het, ook ’n fabel is, want dit is alles "ewe onmoontlik". As dít iemand se oortuiging is, is hy op ’n baie gladde "slip-and-slide" en begin sy geloof in die Woord van God en uiteindelik in God self, inmekaartuimel; ook tuimel so ’n persoon se geloof in Christus se opstanding en in Christus self, inmekaar, ens. Die ironie van die saak is dat Jesus self in die gebeurtenis rondom Jona geglo het, toe Hy o.a. van die teken van Jona gepraat het en dat Hy self getuig het van Jona in die maag van die groot vis (Matt.12:38-41). Augustinus het reeds in 409 n.C. getuig van mense wat gelag het oor Jona se verhaal – niks is nuut nie!                                                           

3.    SKRIFLESING:
       Jona 1:1-16 ~ Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” 3Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy ’n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af. 4Maar die Here het ’n kwaai storm oor die see laat opkom. Daar was ’n baie sterk wind op die see, en die skip wou uitmekaar breek. 5Die matrose het bang geword, en elkeen het tot sy god om hulp geroep. Hulle het die vrag van die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Maar Jona was onder in die skip waarheen hy afgegaan het om te gaan slaap. Hy het vas geslaap 6en die kaptein het na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie vergaan nie.” 7Toe sê die manne vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind oor wie hierdie ramp ons tref.” Hulle het lootjies getrek en Jona is aangewys. 8Toe vra hulle hom: “Vertel ons tog waarom hierdie ramp ons tref. Wat werk jy? Waarvandaan kom jy? Uit watter land en van watter volk is jy?” 9Jona het hulle geantwoord: “Ek is ’n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” 10Die manne het baie bang geword en vir Jona gesê: “Wat het jy nou aangevang?” Hulle het te wete gekom dat hy van die Here af wegvlug: Jona het hulle dit self vertel. 11Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?” Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword. 12Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.” 13Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle. 14Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.” 15Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar. 16Die manne het toe baie bang geword vir die Here en hulle het vir Hom ’n offer gebring en geloftes afgelê.

4.    GAAN DAN HEEN...:
       Wanneer ’n mens in die Ou Testament lees van God wat ’n opdrag aan een van Sy profete gee, begin dit gewoonlik op dieselfde wyse as wat Jona 1:1 begin, nl. ~ Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom – ’n Woord van die Here het tot die profeet gekom... Gewoonlik het God dan, óf die boodskap wat oorgedra moes word, aan die profeet gegee (bv. Joël 1:1; Miga 1:1; Sef.1:1; Mal 1:1), en/of God het baie spesifieke opdragte aan die profeet gegee (bv. 2 Sam.7:4; 1 Kon.17:2, 8; 21:17) en dit is dan ook die geval hier met die profeet Jona (sien 2 Kon.14:25). Ons weet nie hoe God met Jona gekommunikeer het nie, maar feit is dat Jona in v.2, ’n opdrag van God ontvang.

       In v.2 van ons Skriflesing, gee God opdrag aan Jona om na die stad Nineve in Assirië te gaan, ten einde die inwoners aan te spreek oor hul gedrag – ’n vreemde heidense volk wat deur God gewaarsku word! Dit is asof Jona dieselfde woorde van God ontvang as wat sy volksgenote van nagenoeg 800 jaar later van Jesus ontvang het ~ Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies... (O.A.V. – Matt.28:19a) – Jona se reaksie was egter anders as Jesus se dissipels s’n.

       Soos ons reeds gesien het, was dit een ding vir ’n profeet om ’n opdrag van God te ontvang en sy volksgenote aan te spreek oor sonde, maar Jona kry opdrag van God om na ’n heidense nasie te gaan en dieselfde boodskap aan hulle te gaan gee – en dit is nie sommer só ’n nasie nie; dit is Assirië – die groot vyand van Israel; die goddelose, heidense opponente van Israel! Wát ’n opdrag aan die bykans onbekende Jona! God is egter ’n God van die nasies en al die nasies in die wêreld is verantwoording verskuldig aan God vir hulle geestestoestand.

       Ten spyte van wie die volk was en hoe Jona, of enige Israeliet oor Nineve gevoel het, sê God nogtans ~ Gaan dan heen.... Hierdie is ’n soewereine en Goddelike opdrag. Dit is die Koning van alle konings wat aan die woord is. Dit is die Koning van alle volke wat opdrag aan Jona gee ~ Gaan dan heen....

       Dit is egter tegelykertyd ook die regverdige en genadige God wat aan die woord is – ’n genadige God wie se genade ook beskikbaar is vir die "grootste sondaar" denkbaar – ook vir Nineve.   

       In hierdie opdrag aan Jona, gee God nie veel inligting aan sy profeet nie. Sy opdrag is kort en kragtig ~ ...spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is (v.2b). Daar is geen verduideliking nie; geen detail nie; geen vooruitskouing van wat die eindresultaat gaan wees nie. Wat meer is, as ons na die Hebreeus kyk, sê God aan Jona – Gaan dadelik – moenie uitstel nie!

       Waarom Nineve en wat moet ons neem uit hierdie situasie? Vir baie eeue, was die naam Nineve, sinoniem aan alles wat boos is. Wat meer is, Assirië was verantwoordelik vir die verwoesting en oorname van Israel. Assirië staan egter nou self op die drumpel van verwoesting, want Nahum het dit geprofeteer ~ Ellende wag vir jou, bloedbevlekte stad; jy is vol bedrog, gevul met buit, jy hou nie op met roof nie! ... ... 5Ek tree teen jou op, sê die Here die Almagtige: Ek sal al jou klere uittrek, Ek sal volke jou kaal liggaam laat sien, koninkryke die skande van jou naaktheid. 6Ek sal jou aan minagting prysgee, Ek sal mis op jou gooi, en van jou so ’n spektakel maak 7dat elkeen wat jou sien, van jou af sal padgee en sê: “Nineve is verwoes! Wie is daar wat hom jammer kry? Waar sal ek gaan soek na mense wat jou kan troos? (Nah.3:1-7).

       Ten spyte van hierdie haatlike en sondige en magtige land, stuur God steeds vir Jona na hierdie land en stad. God is voorwaar ’n genadige God en ’n God wat red en vergewe, dié wie hulle voor Hom verootmoedig – die haatlikste vyand kan dus tog uiteindelik genade ontvang! Vir Jona egter, is hierdie opdrag erger as ’n doodsvonnis en hy is kwaad vir God, daarom dat hy in 4:2 pleit dat God hom liewer moet doodmaak. Jona het geen genade vir ’n verlore volk nie en dit staan in skrille kontras met God Almagtig se genade vir hierdie selfde volk.
      
5.    JONA HET ANDER PLANNE:
       Jona weet dat God oor politieke- en rassegrense heen, verlossing skenk, want Jona 4:2 suggereer dit en ons sien ook dat Jesus niks daarvan gedink het om oor grense heen met mense om te gaan nie (bv. Joh.4 en 8; Mark.2:15; Luk.5:12; Joh.4), maar hierdie opdrag is een te veel vir Jona en in teenstelling met ander profete, soos Jesaja wat in Jes.6:1-10 vir God gesê het ~ ...Hier is ek, stuur my, sien ons in v.3a dat Jona net die teenoorgestelde gesindheid openbaar ~ Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona het ander planne gehad – Jona se plan was nie God se plan nie.

       As ’n mens mooi daaroor dink was Jona se optrede eintlik lagwekkend – om vir God weg te hardloop; om te dink dat Jona gedink het hy kan vir God ontduik – hy vlug van sy geboorteland Israel na Tarsis, deur op ’n skip te klim en saam met hulle weg te vaar! Daar bestaan meningsverskil oor waar Tarsis werklik is – sommige reken dat dit ’n hawestad aan die kus van Spanje was, terwyl andere weer reken dat dit noord van Israel geleë was en wel aan die suidkus van die huidige Turkye. Hoe dit ook al sy – Jona vlug na ’n plek waar hy oënskynlik dink, God hom nie sal kry nie – as hy maar net gedink het aan die woorde van Dawid in Ps.139:7 ~ Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? As Jona maar net besef het, dat hierdie nie ’n geveg is wat hy alleen sou veg nie, trouens hy sou maar net die boodskapper wees; die instrument in God se hand, terwyl die eintlike saak tussen God en die inwoners van Nineve gelê het. Wat meer is, in hierdie situasie dink hy glad nie eers aan die woorde van die Here aan een van sy "voorganger-profete" nie ~ Niemand kan in ’n geheime plek wegkruip sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here (Jer.23:24).

       Jona se "wegvlug" van God af, is nie net futiel nie, maar ook sondig, want God is alomteenwoordig en Hy weet presies waar Jona hom bevind en Jona is terselfdertyd besig om sy verantwoordelikheid teenoor God te versaak – hy is ongehoorsaam aan dit waartoe God hom geroep het en daarom is hy in sonde. Hier is ’n verdere stuk ironie in Jona se wegvlug en dit is dat hy maar net na ’n ander heidense land gaan – niks anders as Nineve nie, behalwe dat hy daar sy mond sal kan hou en homself nie bloot hoef te stel aan moontlike vervolging en selfs die dood nie.

       Hoe dom; hoe oningelig; hoe ongehoorsaam is Jona nie, maar ook – hoe bang is arme Jona nie! Ten minste sou ’n mens verwag het dat Jona met God sou redeneer oor hierdie opdrag, soos Moses by die brandende bos, (Eks.3:11- 4:17) en Elia toe hy in die wildernis was en gekerm het oor die feit dat hy moes vlug vir Isebel (1 Kon.19:4-14), maar nee, Jona hardloop soos hond met sy stert tussen sy bene weg hawe toe en hy klim op ’n skip – hy het geen verskoning nie – hy staan skuldig voor God! Om van God af weg te vlug, impliseer opstand en rebellie teen God, want elke mens is eer en aanbidding en navolging van die lewende God verskuldig!

       Is ons nie maar net soos Jona nie? Elke keer wat ons sondig sê ons net soos Jona: My manier van doen is die beste – nie God se manier nie. My wysheid is die beste – nie God se wysheid nie! Wanneer ons dit sê, het ons nie noodwendig ons geloof verloor nie. Nee, dit is eerder ’n geval dat ons "geloofsfokus", verskuif het – van God af, na onsself toe – ons word ons eie god en dit is die wortel van ons probleem, nl. ’n voortdurende begeerte om ons eie god te wees en dit in opsigself is sonde!

       Net soos wat ons die Evangelie elke dag van ons lewe nodig het om in heiligmaking te groei, net so het ons vriend Jona die Evangelie in sy lewe broodnodig gehad op daardie oomblik.

       Natuurlik was dit nie net Jona wat van die aangesig van die Here af probeer vlug het nie – Adam het dit gedoen – of sal ons sê, het dit probeer doen – hulle het probeer om wyser as God te wees en in plaas daarvan dat hulle God dien, moet hulle uiteindelik wegkruip vir God – maar Hy vind hulle! In Adam se geval het God ~ ...na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” 10En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip” (Gen.3:9-10).

Kaïn het dit gedoen nadat hy sy broer Abel vermoor het hy gedink dat God dit nie sou sien nie en daarom vra God aan hom in Gen.4:9 ~ “Waar is jou broer Abel?” en Kain antwoord: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?” God weet egter wat Kaïn gedoen het, want God sê vir hom ~ ... Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My (Gen.4:10).

Al drie hierdie gevalle hou egter vir ons wonderlike implikasies in. Adam kruip weg vir God; "Suiker kan nie in Kaïn se mond smelt nie"; Kaïn dink hy kruip weg vir God, deurdat hy "onskuldig speel" en Jona vlug van God se aangesig – en tog; en tog...  God laat nie een van hierdie Bybelfigure aan hulle lot oor nie. Hulle word beskerm deur God. Adam kry nog ’n kans – weliswaar buite die Paradys; Kaïn word nie summier van die aangesig van die aarde af gevee nie; Jona word gered deur ’n groot vis en uitgespoeg op ’n strand en kry nog ’n kans. God hou hulle in Sy algemene genade in die lewe en beskerm hulle en dit is hoe God se genade ook in ons lewe werk – Hy verlaat en verwerp ons nie wanneer ons sondig nie; Hy laat nie toe dat rebellie teen Hom seëvier nie – Hy is en bly in beheer en Hy red ons telkens uit "die bek van die leeu" (2 Tim.4:17) en gee ons keer op keer nog ’n kans op grond van Christus se soendood.

Net ’n waarskuwing hier: Ons kan nie onverpoosd voortgaan en onophoudelik bly wegvlug van God nie, want dan loop ons die gevaar om die woorde van Openb.3:16 te hoor ~ Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.

6.    AFSLUITING:
       Jona was baie duidelik en direk deur God geroep om ’n bepaalde taak te volvoer, maar ons het gesien dat Jona ander planne gehad het – hy het nie kans gesien vir hierdie opdrag van God nie en dit was waarskynlik een, of ’n kombinasie van redes, nl. die feit dat hy te bang was om na hierdie verskriklike heidense land te gaan en/of omdat hy besef het dat die boodskap wat God aan hom opgedra het om aan die Nineviete te bring, waarskynlik kan lei tot die bekering van sommige van hulle en dit moes ’n onaanvaarbare gedagte vir hierdie gebore en getoë Jood gewees het – heidene wat deel word van God se Koninkryk en dan is hý nogal die instrument in God se hande om dit te bewerkstellig – nooit!

       Jona ontvang ’n roeping en opdrag van God wat hy ontduik – waar staan ek en jy t.o.v. die roeping en opdragte wat ons van God ontvang?
·           Ons is geroep om elke dag tot eer van God te leef;
·           Ons is geroep om voortdurend in gehoorsaamheid met die Woord se opdragte te leef;
·           Ons word opgeroep tot gebed;
·           Ons word geroep om die Waarheid en die Evangelieboodskap uit te dra aan ’n verloregaande wêreld........

       Waar staan jy en ek t.o.v. hierdie roeping, of is ons ook besig om ons eie planne te maak? Hardloop ons ook gedurig weg van die Here?
      
       Ons kan nie van God af wegvlug nie en daarom is dit soveel beter om jou maar net oor te gee aan God se wonderlike attribuut, nl. Sy alomteenwoordigheid, maar ook Sy genade. Wanneer ons nie kans sien vir hierdie roeping op ons lewe nie, moet ons enersyds weet dat ons nie van God se aangesig af kan wegvlug nie, maar hierdie spesifieke karaktereienskap van Sy alomteenwoordigheid, moet ook vir ons ’n bemoediging en vertroosting wees, want waar ons, ons ook al bevind en wat ons ook al moet doen – hoe moeilik ook al, Hy is by ons; Hy weet wat ons deurmaak; Hy weet wat ons nodig het en Hy sal ons nooit begewe en nooit verlaat nie (Hebr.13:5). Verder moet ons ook vashou aan Jesus se bemoediging in Luk.22:32 ~ Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.


[1]  Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 13 Januarie 2013.