Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die
teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige
Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1. INLEIDING:
Ons verlede week gesien dat Jesus, ons as
Sy broers beskou en ons het na die implikasies van hierdie uitspraak van Hom
gekyk en o.a. gesien...:
·
Dat
ons dieselfde Vader as Jesus het;
·
Dat
ons mede-erfgename saam met Jesus is;
·
Dat
Jesus, die Vader se Naam aan ons bekend maak in die gemeente;
·
Dat
ons ’n toekoms in Jesus het;
·
Dat
ons die aanvanklike houvas van die satan oor ons, nie meer hoef te vrees nie;
·
Dat
ons die dood nie meer hoef te vrees nie;
·
Dat
Jesus ons ewige Hoë Priester is.
2. SKRIFLESING:
Hebr.3:1-6
~ Daarom, broers wat vir die Here
afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig
let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely. 2Hy
is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele
huis van God. 3Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as
Moses, net soos die een wat ’n huis bou, meer eer waardig is as die huis. 4Elke
huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het. 5Moses
was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat
God nog sou sê. 6Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis
van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou
aan wat ons hoop.
Wanneer ons vanoggend na hierdie gedeelte
gaan kyk, sal ons sien dat die Hebreërskrywer vir ons ’n vergelyking tref
tussen, aan die eenkant Jesus wat getrou was aan God en aan die anderkant, Moses
wat getrou was aan God.
Daarna
sal hy ’n kontras tref tussen Jesus wat getrou is oor God se huis en Moses
wat getrou in God se huis was. Ons struktuur sal dus as volg daaruit sien:
1. Die
Vergelyking (v.2):
o
Jesus
was getrou aan God (v.2a)
o
Moses
was getrou aan God (v.2b)
2. Die
Kontras (vv.3-6):
oJesus
– getrou oor God se huis (vv.4, 6)
oMoses
– getrou in God se huis (v.5)
As ons dan na v.1 van ons Skriflesing
kyk, sien ons dat die apostel die hoofstuk met die woord "daarom" begin en ons weet mos nou al, dat wanneer ’n
gedeelte met hierdie woord begin, moet ons vra waarom sê hy "daarom"?
As ons dit wil beantwoord moet ons terug gaan na ons vooraf gedeelte. Tot nou
het ons dan gesien dat die Heilige Gees deur die Hebreërskrywer met die
gelowige Jode in ’n, waarskynlik klein gemeentetjie iewers in die omgewing van Rome
gepraat het, terwyl hulle die een oog op Jesus gehou het en met die ander oog
teruggekyk het na die Judaïsme waaruit hulle gekom het.
’n Verdere interessantheid wat ons hier
in v.1 aantref, is die feit dat gelowiges vir die eerste keer
"broers" genoem word en dit is o.a. omdat hulle Christus as oudste
broer het en omdat alle gelowiges Christus as oudste broer het, is hulle ook
broers (en natuurlik susters) van mekaar.
Die skrywer hang egter nog ’n etiket om
sy broers in hierdie gemeentetjie se nekke, want hy sê vir hulle dat hulle ...vir die Here afgesonder... is. Letterlik staan daar, Daarom,
broers, julle wat heilig is...
Die skrywer praat dus hier met mense wat deur Christus se soendood geheilig is
– heilig verklaar is – sonder sonde dus in die oë van die Vader!
Die skrywer gaan egter voort en hy sê dat sy
broers in die gemeente, ...deelgenote
is van die hemelse roeping.
Die Griekse woord vir "deelgenote" is μέτοχος (metochos)
en beteken
letterlik om kamerade of metgeselle van mekaar te wees. Hulle is
dus kamerade of metgeselle van die hemelse roeping en ons sien die hemelse
roeping omskryf in Hebr.11:14,16, is ~ Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na
’n vaderland... ...16Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is
die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie;
trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak.. Hulle roeping (en
ons roeping) waaraan
hulle deel het, omdat hulle geheilig is deur Christus, is om die ewige
heerlikheid saam met God, tegemoet te gaan (en om te dink
hulle is alreeds saam met die Hebreërskrywer in daardie hemelse stad – die nuwe
Jerusalem wat vir hulle en vir ons wat in Christus Jesus is, gereed gemaak is!).
Die skrywer van die brief gaan voort en
hy sê vir hulle dat hulle noukeurig op Christus moet let. Die ESV sê: Therefore....consider Jesus. Die woord wat vir
"consider" gebruik word, of dan "let op", is in die Grieks,
κατανοέω
(katanoeō) (kata-na-hy-hou) en impliseer aandag en voortdurende
waarneming, of om versigtige oorweging te skenk aan iets sodat jy dit ten volle
kan verstaan. Die skrywer wil dus vir sy lesers sê, dat hulle ernstige aandag
moet skenk aan wie en wat Jesus werklik is en wanneer hulle dit gedoen het en
verstaan – wérklik verstaan wie Jesus is, sal hulle ook verstaan dat Jesus die
allehoogste Apostel is wat deur God gestuur is, maar ook die volmaakte Hoë
Priester – Jesus Christus wat alles verteenwoordig en veel-veel meer is, as wat
enige mens maar kan begeer! In die lig hiervan doen die skrywer ’n ernstige
beroep op sy lesers om Jesus die Christus na te volg en Hom te eer. Trouens hy
sê vir sy lesers dat hierdie hul hoogste- en hemelse roeping moet wees – hulle
moet hulleself in die woorde van Paulus in Fil.3:14 ~ (in)span om by die wenstreep te kom, sodat (hulle) die
hemelse prys kan behaal waartoe God (hulle) geroep het in Christus Jesus.
Ons het nou al gesien dat Jesus ons
Voorspraak genoem word, ook ons Verlosser; ons Oudste Broer, ens., maar die
benaming, "Apostel" is ’n
nuwe benaming wat die Hebreërskrywer hier aan Jesus toeken. Wanneer ons egter
na die Griekse betekenis vir apostel kyk, nl. ἀπόστολος (apostolos),
besef ons dat dit
’n baie gepaste naam vir Jesus Christus is, want die letterlike betekenis van "Apostel"
is, die "Gestuurde".
3. DIE VERGELYKING:
Tot nou het ons dan gesien hoe die
Hebreërskrywer stap vir stap sy argument ontwikkel, nl. dat Jesus groot bo
alles en almal is, Hy is groter as die engele; Hy is die Outeur van ons
verlossing, maar ook groot genoeg om mens te kon word ten einde verlossing vir
ons te bewerkstellig. Sy aandag verskuif egter nou na Moses, wat deur die Jode
as die grootste van alle mense beskou is en hy vergelyk Moses met Jesus.
Baie van die Jode het Moses selfs groter
as die engele beskou en daarom kon hy in hulle oë selfs groter as Jesus gewees
het. Ons sal dan ook sien dat die skrywer in sy beredenering, nie eenkeer vir
Moses verkleineer of kritiseer nie. Hy aanvaar dat Moses ’n groot leier was,
maar hy dui aan dat Jesus nog groter – veel-veel groter as Moses is.
o
Jesus
was getrou aan God:
In Hebr.2:17 het ons reeds gesien dat
Jesus as ’n getroue Hoë Priester beskryf is en nou hier in v.2a word dieselde
byvoeglike naamwoord vir Hom gebruik, maar nou word dit spesifiek gebruik om
Jesus se getrouheid t.o.v. die uitvoering van Sy roeping waartoe God die Vader
Hom geroep het en wat Sy Vader aan Hom toevertrou het, te beskryf. Hierdie
roeping van Jesus word o.a. bevestig in Hand.2:36 ~ Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat
julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! Die beeldspraak wat hier gebruik word,
is die van ’n hofmeester wat aangestel is oor die huishouding van iemand
belangrik.
Wat
die skrywer dus wil sê is dat Jesus getrou was teenoor Hom (die
Vader) wat Hom geroep en aangestel
het.
Jesus se primêre oogmerk met Sy
vleeswording was om die taak wat God aan Hom opgedra het, uit te voer. Hierdie doelgerigte
gehoorsaamheid van Jesus, nl. om na die aarde te kom en uiteindelik in ons plek
te kom sterf, word pragtig en profeties vooruitgewys in die woorde van Ps.40:8-9
~ Daarom het ek gesê: “Hier het ek
gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is. 9Om u wil
te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.” Die feit dat Christus volkome
gehoorsaam aan Sy Vader was, verskaf aan ons enorme sekuriteit, want net soos
wat Hy aan Sy Vader getrou en gehoorsaam was, net so kan ons die vaste
versekering hê dat Hy ons vertroue, volkome en volmaak waardig is.
o
Moses
was getrou aan God:
V.2b van ons Skriflesing begin met die
woord, ...net so... Die skrywer tref dus ’n
vergelyking hier tussen Christus en Moses en hy sê dat, net soos wat Christus
getrou was, net so was Moses getrou, trouens die Vader het die volgende in
Num.12:7-8 van Moses gesê ~ Maar
met my dienaar Moses is dit anders Hy is die betroubaarste in my diens.8Met
hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die
gestalte van die Here. Waarom was julle dan nie bang om só met my dienaar
Moses te praat nie?”
Dit het veertig jaar geneem om Moses voor
te berei op sy roeping om die volk uit Egipte te lei en toe vir ’n verdere
veertig jaar het God vir Moses kragtig gebruik. Moses was egter nie Christus en
derhalwe nie God nie en daarom praat die skrywer eers oor Christus se
getrouheid en dan oor Moses s'n.
4. DIE KONTRAS:
In vv.3-6 word daar vir ons ’n kontras
geskilder tussen Christus en Moses. In hierdie verse sal ons sien dat Moses
bloot dienskneg is, terwyl Jesus, Seun van God is.
o
Jesus
– getrou oor God se huis:
Die skrywer borduur voort op sy standpunt
en verduideliking dat Jesus groter is as Moses, deur in v.4 te sê ~ Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een
wat alles gebou het. Die
Griekse woord vir "huis" hier, is οἶκος (oikos) wat na mense verwys. Hier word dus
verwys na die "Ware Israel", waarvan die volk Israel slegs ’n beeld
is. Die Ware Israel is daardie groep mense wie se vertroue en geloof in
Christus Jesus gevestig is en gevestig bly; dit is mans en vrouens wie nooit
ophou jubel in die hoop waarop hulle hul harte geplaas het nie. Hierdie
woordjie "hoop" is dan ook ’n sleutelwoord in Hebreërs. Ons
Afrikaanse woord bevat ’n element van onsekerheid (bv.
ons hoop dat dit binnekort warmer sal word). Die Hebreërs se hoop was egter anders en so ook Ware
Israel (die gelowiges) se hoop. Dit bevat ’n sekerheid en ’n
vaste oortuiging en Paulus, in sy brief aan Timoteus, beskryf hierdie hoop
pragtig deur een woord of naam daaraan te koppel wanneer hy sê ~ Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus in
opdrag van God ons Verlosser en van Christus Jesus ons Hoop
(1 Tim.1:1).
As ons as gelowiges dan praat van "hoop", kan ons maar net sê dat ons
hoop voorwaar en volkome in Christus Jesus is – en wat ’n hoop het ons nie in
Hom nie!
Omdat God die bouer van die Ware Israel
is, is Hy dus groter as Moses en die apostel bevestig dit vir ons in v.3 waar
hy sê ~ Maar Jesus is groter heerlikheid
waardig geag as Moses, net soos die een wat ’n huis bou, meer eer waardig is as
die huis.
Omdat God dan die volmaakte Bouer is van die
huis waarvan ons in v.4 lees, nl. Sy huis (die
Kerk/gelowiges), is Sy
belofte ook dat Hy getrou oor God se huis sal waak. Die vyfde punt van die "Five points of Calvinism"
leer ons dat almal wat deur God verkies is en deur Christus verlos is en aan
wie geloof geskenk is deur die Heilige Gees, vir ewig gered is en hulle word in
die geloof gehou deur die krag van die Almagtige God en sal dus volhard tot die
einde toe. Christus is die Een wat die Vader se Huis, veilig bewaar – Joh.3:16
~ God het die wêreld so lief gehad dat
Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan
nie maar die ewige lewe sal hê.
Fil.1:6 ~ Ek is veral ook daarvan oortuig dat
God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal
voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. En dan veral Joh.10:29 ~ Dié wat my Vader vir My gegee het, is die
belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Christus is getrou oor God se huis –
niemand wat ín Christus Jesus is, sal dus verlore gaan nie Jesus is dus by
uitnemdheid getrou aan God se huis!
o
Moses
– getrou in God se huis:
Die een uitstaande karaktereienskap van
Moses was sy getrouheid – hy het gedoen wat God van hom verwag het. As hy bv. nie gereageer het op God se roeping
by die brandende bos en God se opdragte getrou uitgevoer het nie (Eks.3:2), sou die Farao bv. nie die Woord van
God gehoor het nie; of Israel sou dalk by die Rooisee omgedraai het en terug
gekeer het na slawerny in Egipte. Moses was egter getrou! Hy was getrou in sy
diens aan die Here en hy lei God se volk van Egipte na die Beloofde Land.
Die Hebreërskrywer wil m.a.w. vir ons sê
dat Moses op dieselfde wyse getrou was as Christus. Ons moet egter daarop let
dat die skrywer hier ’n bepaalde volgorde handhaaf wanneer hy skryf oor
Christus en Moses se getrouheid – eers Christus en dán Moses.
Moses was egter nie ’n volmaakte mens nie
– soos reeds gesê – hy was nie God nie en daarom het hy ook soms onvolmaak
opgetree – net soos wat hy tydens die eerste jare van sy roeping moord gepleeg
het toe hy ’n Egiptenaar dood geslaan het, net so het hy ook in die wildernis
van tyd tot tyd gestruikel. Hy het bv. die rots by die Meribawaters met sy staf
geslaan, terwyl God uitdruklik vir hom gesê het om met die rots te praat – die
gevolg van hierdie ongehoorsaamheid was natuurlik dat die Here vir Moses en Aäron
gesê het dat hulle nie die Beloofde Land sou binnegaan nie (Num.20:1-13). Oor die algemeen was Moses egter
baie getrou en gehoorsaam.
Ons het dan nou gesien dat beide Jesus en
Moses getrou was in, soos v.2 dit stel, ...die hele huis van die Here. Eerstens moet ons daarop let dat
hier nie verwys word na ’n gebou (bv. kerkgebou) nie.
Moses was volgens die Hebreërskrywer ’n
getroue dienskneg in die Huis van die Here. As ons na die woorde in 1 Kor.4:2
kyk, sien ons dat daar staan ~ En
verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word. En dit is presies wat Moses was –
God het hom vir presies dit geprys, maar hierdie woorde was in Christus op
volmaakte wyse vervul en dit is baie duidelik regdeur die Nuwe Testament. Dit
is bv. baie duidelik in Joh.7:16 ~ Jesus
het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van
Hom wat My gestuur het
en Joh.12:49 ~ Ek
het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My
opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat. Hier getuig Jesus self van Sy volmaakte diensknegskap
Wanneer die Hebreërskrywer dan sê dat
beide Jesus en Moses getrou was in die Huis van die Here en omdat Christus
veel-veel hoër was as Moses, moet ons verstaan dat Christus die Huis van die
Here bou, terwyl Moses net ’n getroue leier in die Huis van die Here was – die
Bouer is tog sekerlik groter as enige van Sy instrumente en Moses was bloot net
’n instrument in die hand van die Here.
Die Hebreërskrywer sê dus vir sy lesers,
om terug te keer, of steeds vas te hou aan die Judaïsme, of om aan die Judaïsme
se groot leier Moses vas te hou, is om vas te hou aan ’n simbool van die
realiteit – ’n instrument van realiteit, maar om aan Jesus Christus vas te hou,
is om aan die realiteit self vas te hou – daarom is dit beter om vas te hou aan
die Een wat getrou is OOR die Huis van die Here (Jesus
Christus), eerder as die
een wat getrou is IN die Huis van die Here (Moses).
5. AFSLUITING:
Ons het gesien dat Christus die gelowiges
in stand sal hou, maar ons moet ten slotte net kan kyk na ’n paar baie
belangrike woorde in v.6b. Daar staan geskrywe ~ ... ...as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan
wat ons hoop. Van
watter hoop word hier gepraat? Ons het vroeër gesien dat ons hoop – ons
vooruitsig is, om met die koms van Christus, verheerlik te word en ’n ewige
lewe tegemoet te gaan. Wat egter hier belangrik is, is die woordjie
"AS". Dit klink skielik asof die skrywer vir ons wil sê dat ons nie té
gerus moet wees oor ons hoop nie – AS ons maar net kan bly vashou,
sê hy. Die skrywer eindig hierdie gedeelte van sy brief dus met ’n waarskuwing
en ons sal die ontwikkeling hiervan in die res van die hoofstuk sien. Daar is
dus meer daaraan om Christus na te volg en deur te druk tot die einde toe, as
om bloot net ’n goeie begin te maak.
Ja, ons moet begin en daarom is die vraag
of jy al waarlik begin het met hierdie reis op pad na ’n ewige bestemming? 2
Kor.13:5 ~ Stel julle self op die proef en
ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat
Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.
As jy wel sekerheid het daaroor dat jy in
Christus is – dat jy gered is; dat jy deel is van die Huis van die Here, dan sê
die skrywer, moet jy vashou en deurdruk tot die einde toe.
Hoe kan jy weet dat jy deel uitmaak van
die Huis van die Here? Daar is verskeie mense wat allerlei lyste saamgestel het
van ware merktekens van geloof en elkeen van hulle is sekerlik korrek, maar die
gevaar bestaan dat ’n mens baie maklik wetties oor die saak kan raak en verval
in allerlei werke ten einde jou saligheid te probeer bewerkstellig. Ek dink dat
die Woord van God vir ons die beste "lys" (nie
minder nie as 24 punte)
verskaf waaraan ons onsself kan meet en ons vind dit in Rom.12:9-21 ~ Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en
hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor
mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. 11Moenie
in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. 12Verbly
julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. 13Help
die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. 14Seën
julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. 15Wees
bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. 16Wees
eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die
nederiges. Moenie eiewys wees nie. 17Moenie kwaad met kwaad vergeld
nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18As dit moontlik is, sover
dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Moenie self
wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar
staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die
Here. 20“As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy
dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom
vuurrooi van skaamte.” 21Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin
nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
[1]Boodskap deur
Kobus van der Walt te Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 05 Augustus 2012