Sunday, August 14, 2011

Die Evangelie van Johannes - 04 (Die Doper se Selfverloëning en Getuienis)


1.     SKRIFLESING: 
Joh.1:19-28 ~Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?” Toe het hy hierdie getuienis afgelê 20en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.” 21Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?” “Nee, ek is nie,” sê hy. “Is jy dan die Profeet?” “Nee!” het hy geantwoord. 22“Nou maar wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?”23Hy antwoord toe: “Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit.” Dit is soos die profeet Jesaja gesê het. 24Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, 25en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?” 26Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. 27Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.” 28Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.

2.    INLEIDING:
Johannes die Doper het die eerste keer op die toneel verskyn, gedurende die somer van 26 n.C.  Hy begin sy bediening in die omgewing van die Dooi See en het algaande, al langs die Jordaanvallei afbeweeg totdat hy by ’n klein plekkie met die naam van Betanië gekom het.

Sover as wat Johannes gegaan het, het hy gepreek en mense gedoop.  Groot getalle mense het hom begin volg en na sy prediking geluister.  Die sentrale tema van sy prediking was deurgaans Jesus Christus, die Lig wat aan die kom is.

Aan die einde van Desember 26 n.C. of aan die begin van Januarie 27 n.C. het Jesus, Nasaret verlaat ten einde Sy taak waartoe die Vader Hom geroep het, van stapel te stuur.  Hy het dan ook uiteindelik by Betanië aangekom waar Hy deur Johannes die Doper, gedoop is.  Nadat Jesus deur Johannes gedoop is, is Jesus die woestynhoogtes in waar Hy versoek is deur die satan.  Na 40 dae in die woestyn het Jesus weer terug gekeer na waar Johannes gepreek en gedoop het.  Die gebeure in ons Skrifgedeelte wat ons so pas gelees het en waarna ons vandag kyk, vind egter plaas, die dag voor Jesus uit die woestyn terugkeer en na Johannes gaan.

Ons sien ’n paar keer in ons Skrifgedeelte hoe dat Johannes die Doper, terwyl hy getuig van Jesus Christus, homself verloën en die fokus op Jesus die Messias vestig.

Nuus oor ’n nuwe prediker en die entoesiasme waarmee sy prediking begroet is, het vinnig die ronde begin doen. Tesame met hierdie nuus het mense waarskynlik ook begin vertel dat Johannes die Doper, die langverwagte Messias is.  Mense het waarskynlik ook gepraat oor sy indrukwekkende oproepe tot bekering en die komende oordeel oor al wat sondaar is.

Ons lees hier in v.19 dat die Jode, Priesters en Leviete na Johannes die Doper gestuur het om hom te ondervra, want ’n vals Messias sou seer sekerlik groot skade op geestelik vlak aangerig het.  Ook is daar hoogs waarskynlik aan die godsdienstige leiers van Israel oorvertel dat hierdie Doper nie baie vleiende dinge oor en van die godsdienstige leiers te sê gehad het nie – julle sal onthou dat ons Matt.3:7 aangehaal het, waar hy o.a. die volgende van die Fariseërs en Sadduseërs gesê het ~ Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?

Die godsdienstige leiers het dus eintlik nie ’n keuse gehad, as om ondersoek in te stel en ’n afvaardiging na Johannes te stuur nie.   Wat met Johannes hier gebeur is dus ’n navraag wat vanuit die hoogste godsdienstige gesagsstrukture tot hom gerig word.  Ons moet onthou dat die Jode op daardie stadium reeds vir etlike eeue in afwagting was op die koms van die Messias en daarom is hierdie navraag dan ook nie vanuit politieke kringe nie, maar wel vanuit godsdienstige kringe – manne wat aan die Tempel in Jerusalem verbonde was, alhoewel die navrae later ’n politieke kleur begin aanneem.

Die afvaardiging bestaan uit Priesters en Leviete.  Ons weet nou al dat die Leviete, afstammelinge van Levi was en hulle taak in die Tempel was om die Priesters met hul dagtake in en rondom die Tempel te help en dan was hulle natuurlik ook die musiekmakers in die Tempel. Die ondervraging van Johannes word waarskynlik gelei deur die Priesters, terwyl die Leviete saam gestuur is om die veiligheid van die Priesters te verseker en enige moontlike opstand, te onderdruk.

Aanvanklik lyk dit nie of hierdie navraag enigsins vyandig van aard was nie, want die Jode wou vasstel of Die Doper nie dalk hul langverwagte Messias is nie, want Johannes was ’n charismatiese, invloedryke en eksentrieke figuur na wie die Jode gestroom het om te luister.

In die afwesigheid van ’n ware profeet van God vir etlike eeue, het daar ook ’n verwagtingby die Jode bestaan dat Elia, die eerste profeet, met die aanvang van God se finale verlossingsplan, weer die profetiese stem onder die volk sou laat herleef en daarom dat die godsdienstige afvaardiging uit Jerusalem, aanvanklik vir Johannes ’n baie eenvoudige vraag vra, nl.:  Wie is jy?  Hulle het dus eintlik vir hom gevra watter belangrike persoon beweer hy, is hy.  Teen hierdie tyd het Johannes waarskynlik al gehoor van die gerugte wat oor hom versprei was en daarom sê hy, sonder om hul vraag direk te beantwoord, Ek is nie die Christus nie (v.20).  Hierop het die Priesters hom gevra, of hy nie dalk Elia is nie – dit opsigself is bewys van die hoë dunk wat die Jode van Johannes die Doper gehad het.

Al het Johannes volgens Luk.1:17, in dieselfde gees en krag as die profeet Elia opgetree en al het Jesus, Johannes later in Matt.7:12, Elia genoem, was hy uiteraard nie letterlik die profeet self nie – dit was egter die letterlike Elia wat die Jode verwag het om terug te keer in lewe, a.g.v. hul foutiewe interpretasie van Mal.4:5 ~ Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag.  Op hierdie vraag of hy Elia is, antwoord hy baie direk en amper kortaf:  Nee, ek is nie.

Hierop vra die priesters vir hom, of hy die Profeet is wat verwag word en omdat hy weet dat hy nie die Messias is nie, antwoord hy hulle nog meer kortaf, wanneer hy sê:  Nee!

Weer vra die priesters vir ’n hom vraag – hulle vra ~ Wat het jy oor jouself te sê? (v.22).  Johannes gee vir hulle ’n antwoord wat ’n bykans presiese aanhaling uit Jes.40:3 is – Hy sê vir hulle ~ Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit.  In Jes.40:3 staan daar ~ Iemand roep: “Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God!  Hier in Jesaja lees ’n mens van God se triomfantlike en verlossende ingang in Jerusalem ná die ballingskap en om die stad voor te berei op die koms van die koning, is ’n boodskapper vooruitgestuur om te waarsku dat die koning op pad was en dat die nodige voorbereidings getref moes word vir sy koms.

Dit is hierdie beeld wat Johannes oproep – die Messias-Koning is op pad en die Jode moet hulle voorberei en gereed maak vir Sy koms, want dit is Jesus die Verlosser wat God se finale redding bring!

Johannes sê dus op ’n baie reguit manier wie hy is, nl. maar net iemand wat die koms van die Here proklameer.  Hy rig egter ook deur hierdie antwoord ’n oproep tot die priesters, dat hulle en diegene aan wie hulle gaan terugrapporteer, hulle moet bekeer – hulle moet dus die pad na hul harte voorberei en enige hindernis wat die koms van die hemelse Koning, Jesus Christus kan verhinder, uit die weg ruim.

3.     JOHANNES SE SELFVERLOËNING:
Ons sien baie duidelik in hierdie gedeelte, net soos in vv.6-8, die eerste getuinenis van Johannes se selfverloëning – hy kon so maklik eer vir homself geneem het, maar hy stel dit baie duidelik aan die Priesters en Leviete, dat hy net die boodskapper was wat van die komende Messias getuig en daarom ontken hy dan ook heftig in v.20 dat hy die Christus is.

Na hierdie verklaring van Johannes begin die navrae skielik ’n politieke ondertoon kry en kry die navrae, die kleur van ’n ondervraging – Hulle vra hom ~ Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?” (v.22).  Die doop was o.a. destyds ’n aanduiding van jou opname in ’n bepaalde groep eendersdenkendes.  So het die Jode bv. mense destyds gedoop wat uit ander heidense volke, hulleself by die Joodse volk aangesluit het.  Die Jode wil uitvind waarom Johannes dan doop en dit nogal Jode wat klaar deel is van die volk!

Hierdie vraag aan Johannes, verskaf aan hom ’n verdere geleenheid om ’n onderskeid te tref tussen sy eie bediening en dié van Jesus wat aan die kom was. Johannes verskaf nie ’n reguit antwoord aan sy ondervraers nie, maar hy verduidelik aan hulle dat hy nie dieselfde doop, doop as wat hulle doop nie, want hy doop met water.  Hy gaan egter verder, deur vir hulle te sê dat die Een wat ná hom kom (verwysende natuurlik na Jesus), met die Gees gaan doop.  Weereens het Johannes deur hierdie antwoord homself verloën en maak hy dit baie duidelik dat hy nie sy eie godsdiens van stapel stuur nie, maar dat hy bloot net mense se aandag vestig op die Redder, die Seun van God.  Ons sal dan ook later sien dat Jesus deur die doop, aan die mense van Israel voorgestel is.

Die vergelyking tussen sy doop ("met water") en Jesus se doop ("met die Gees") is ’n verdere aanduiding van Johannes se nederigheid – al wat hy kan doen is om maar net met gewone water te doop, maar Jesus – Hy gaan die mense met die Heilige Gees doop (Mark.1:5)!  Wat meer is, sê Johannes, Hy wat met die Gees gaan doop, staan hier tussen julle!  Wat bedoel hy met hierdie woorde?  Bedoel hy dat Jesus fisies op daardie oomblik tussen die mense daar by hom gestaan het?  Ek glo stellig nie so nie, want die bekendstelling van Jesus aan die mense, sou eers die volgende dag geskied met Sy doop deur Johannes die Doper en toe die Heilige Gees in die vorm van ’n duif na Jesus neergedaal het.  En Jesus was op daardie stadium ook nog in die woestyn. 

Hierdie uitdrukking van Johannes sê eerder vir die Joodse ondervraers, dat hulle hul moet gereed maak, want dit gaan nie meer lank neem (eeue soos in die verlede nie) voor Jesus aan hulle voorgestel word nie, trouens Hy is deel van hulle geslag – Hy gaan in hulle leeftyd op die toneel verskyn, maar ongelukkig is dit so dat hulle in hul ywer om Johannes as ’n vals Messias te ontmasker, hulle in die proses die ware Messias gaan miskyk!

Tot nou het Johannes ’n paar keer vir die belangrike afvaardiging uit Jerusalem gesê wie hy nié is nie.  Hy sê vir hulle dat hy nié die Christus is nie.  Hy sê aan hulle dat hy nié Elia is nie.  Hy sê aan hulle dat hy nié die Profeet is nie.  Hy kom egter met die teenoorgestelde aanslag en hy sê vir hulle wie hy werklik is.  Hy sê vir hulle dat hy maar net ’n aankondiger is van Christus wat kom.  Hy gaan ook verder deur aan hulle te verduidelik dat hy glad nie so belangrik is, dat dit eens die moeite werd is om hom te ondervra nie, want hy is nie eens werd om dié Een wat na hom kom, se skoene los te maak nie – weereens ’n aanduiding van sy selfverloëning en nederigheid, want dit was destyds die werk van ’n slaaf om sy meester se sandale los te maak en sy voete te was – en Johannes sien homself, selfs laer en minderwaardiger as ’n slaaf wanneer hy homself vergelyk met Jesus.

4.    JOHANNES SE GETUIENIS:
Johannes die skrywer van hierdie Evangelie, wil met hierdie gedeelte oor Johannes die Doper egter nie net vir ons wys op die Doper se selfverloëning nie, hy wil ook vir ons wys op die Doper se getuienis.

Ons sien reeds in vv.6-9 dat Johannes ’n man was wat deur God gestuur was om ’n getuie te wees – God het hom dus geroep om getuie van Jesus die Verlosser te wees.

Kom ons lees net weer die eerste 4 verse van Joh.1 saam en dan wil ek enkele opmerkings daaroor maak ~ Daar was ’n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. 9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.In hierdie paar verse kry ons te doen met 3 stellings:
·           Ons sien eerstens dat Johannes nié self die Lig was nie, maar...
·           Hy was deur God gestuur om van die Lig te getuig, sodat...
·           Alle mense deur hom kon glo.

N.a.v. hierdie drie stellings, sien ons dan ook dat Johannes die Doper in vv.19-28 ontken dat hy die Lig is wat na die wêreld sou kom – hy ontken dus dat hy enigsins die middelpunt van die verhaal is.  In vv.29-34 sien ons hoe dat hy van die Lig getuig en dan spesifiek die klimaks van sy getuienis wat ons in v.34 aantref wanneer hy sê ~ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.

5.     SLOTOPMERKINGS:
Wat moet ons uit Johannes die Doper se selfverloëning leer?

Wanneer ons na algemene beginsels t.o.v. Evangelisasie en getuielewering praat, kan ’n mens sekerlik baie lank daaroor praat, maar al sou ’n mens net by hierdie drie punte bly, sal jou getuielewering effektief wees.

As getuies vir Jesus Christus, moet ons dus besef dat...
·           ...ons nie die antwoord op die wêreld se probleme is nie – ons is dus nie die Lig self nie.
·           ...Jesus Christus alleen is die Lig en die Verlosser en daarom moet ons slegs heenwysers of aanwysers na Jesus wees.
·           En ons moet besef dat ons slegs getuies sal wees met die uitsluitlelik motief, dat mense in Jesus Christus as Redder en Verlosser kan glo.

Ons moet dus nie net getuig ter wille daarvan om te getuig nie – nee, ons motief moet wees dat mense sal glo.  Ons moet egter terselfdertyd onthou, dat dit nie van ons afhang of iemand sal glo nie – dít is die werk van die Heilige Gees.

Ons moet dus van onsself vergeet wanneer ons getuig, maar ons moet ook van ons persoonlike voorkeure vergeet; ons idee van wat reg en verkeerd en aanvaarbaar en onaanvaarbaar is.  Ons moet vergeet van ons velkleur; ons sosiale "stand"; ons ekonomiese "stand"; ons moet selfs vergeet van ons werk en ons ambisies.  Ons moet dink aan die ander persoon en sy behoefte aan ’n Verlosser.  Ons moet ons roeping tot getuielewering en Evangelisasie in gedagte hou.  En ons moet deurgaans dink aan Jesus Christus en die eer wat Hom toekom.

Hoe kan ons vergeet van al hierdie dinge, trouens hoe kan ons vergeet van onsself?  Ons kan van onsself vergeet wanneer ons, ons fokus plaas op Jesus Christus en Sy eer alleen te alle tye soek.


[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt teANTIPAS Gereformeerde Baptiste Gemeente(Vereeniging) - Sondagoggend31 Julie 2011