Monday, August 22, 2011

Die Evangelie van Johannes - 05 (Getuie vir Jesus)


1.     SKRIFLESING: 
Joh.1:29-34 ~ Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 30Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar ’n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’31Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”  Hom gebly. 33Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’34Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”   

2.    INLEIDING:
Hierdie gebeure vind plaas die dag nadat die afvaardiging van die Sanhedrin, nl. die Priesters en die Leviete, Johannes die Doper gekonfronteer het.  Hy is nou besig om te preek en om mense te doop, maar die volgende oomblik het hy vir Jesus (wat pas uit die wildernis terug gekeer het) na hom sien aankom en hy hou opeens op waarmee hy besig was en hy lewer waarskynlik die heel belangrikste getuienis wat nog ooit deur enige mens t.o.v. Jesus Christus gelewer is – hy sê ~ Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (v.29b). 

Met hierdie getuienis beklemtoon die Doper, die heel belangrikste feit t.o.v. Jesus, nl. die Lam van God wat gekom het om versoening te bewerkstellig tussen God en die mens.

3.    JESUS DIE LAM VAN GOD (vv.29):
Dit word baie algemeen aanvaar dat die benaming wat Johannes hier vir Jesus gebruik, nl. die Lam van God, na die Paaslam verwys.  Ons weet dat Jesus gedurende die Paastyd gekruisig is en dat Hy die "Offerlam" was wat die volmaakte offer gebring het ten einde versoening vir ons sondes te bewerkstellig.  Dit is egter terselfdertyd interessant dat die baie bekende teoloog, Leon Morris in sy boek "Reflections on the Gospel of John" (p.37), beweer dat dit nié die ware betekenis van hierdie benaming, "Lam van God" is nie.  Ek wil nie nou op al sy argumente ingaan nie.  Wat ek wel kan sê, is of die uitdrukking "Lam van God" nou ’n verwysing na die Paaslam is of nie, Jesus wel ’n gawe (geskenk) van God die Vader was om ons sonde weg te neem en soos die Paaslam, het Hy die finale en volmaakte offer gebring wat versoening tussen God en ons bewerkstellig het.

In v.30 verwys Johannes na Jesus as die Een wat hom vóór is.  Hierdie is ’n bykans identiese herhaling van die woorde in 1:15.  Hierdie uitdrukking plaas vir ons juis die klem op wie Jesus ís en nie op wát Hy doen nie – daarom dat dit nie werklik belangrik is dat ons sal weet wat die uitdrukking, "Lam van God" regtig beteken nie, maar eerder oor wié Jesus is – Johannes verwys dus na Jesus se Godheid en dít is wat belangrik is.

4.    JOHANNES ONTMOET DIE REDDER (vv.31-33):
In vv.31-33 verduidelik Johannes dat hy nie geweet het Wie Jesus was nie.  Johannes se roeping was om Jesus aan die mense van Israel te openbaar of bekend te maak en dit is waarom hy sê dat hy gekom het om met water te doop, want sy doop (met water) was slegs ’n teken – teken van die Messias wat aan die kom was en wat met die reinigingskrag van die Heilige Gees gaan doop.

Die mense van Israel moes hul sonde bely en hulle daarvan bekeer en hulle dan laat doop as teken van hul bekering.  Met hierdie optrede het Johannes Israel voorberei op die koms van die Messias. Steeds het Johannes egter nie geweet Wie Jesus was nie – hy het dus net getrou aan sy roeping opgetree.  God het egter vir Johannes gesê hoe hy sal weet Wie Jesus is, nl. ~ Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. Of soos die O.A.V. dit nog duideliker stel ~ Ek het die Gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.

Hierdie spesifieke vers het nou onlangs tot ’n interessante gesprek gelei, toe twee "Jehova se Getuies" by ons huis aangeklop het en na ’n tyd wat ons in gesprek met mekaar was en ek aan hulle sê dat hulle ’n vals Jesus verkondig, omdat hulle die Drie-Eenheid ontken, het hulle presies hierdie vers aangehaal en vra hulle my hoe dit dan moontlik is dat Christus en die Vader en die Heilige Gees een kan wees as dit nodig was vir die Heilige Gees om Jesus te vervul?  Hierdie is natuurlik ’n subtiele verdraaiing (of is dit so subtiel?  Dalk eerder, ’n flagrante en doelbewuste verdraaiing) van hierdie teksvers en getuig dit van uiters gebrekkige en foutiewe eksegese.

Jesus is nie by hierdie geleentheid vervul met die Heilige Gees nie.  Wat hier gebeur het, was dat die Heilige Gees in die vorm van ’n duif op Jesus neergedaal het, ten einde Jesus, aan Johannes te openbaar.  Dit was egter ook ’n baie spesiale salwing deur die Heilige Gees waardeur Jesus se openbare optrede en sending amptelik begin het en Hy toegerus is om die Evangelie te verkondig en soos Jesaja dit pragtig stel in Jes.61:1-3a ~ Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ’n blye boodskap te  bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is, 2om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos, 3die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer.

Die Gees wat op Jesus in die vorm van ’n duif gekom het, is ook in ooreenstemming met Jes.11:2 waar staan ~ Die Gees van die Here sal op hom rus:  die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.  Ook Jes.42:1 ~ Hier is my dienaar, Ek stel hom aan.  Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns.  Ek laat my Gees op hom kom, hy sal my wil aan die nasies bekend maak.

5.    JOHANNES STEL DIE REDDDER BEKEND (v.34):
Wanneer ons kyk na v.34, kom Johannes met hierdie fenomenale uitspraak, nl. ~ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.  Johannes getuig van Jesus Christus, trouens Johannes is die heel eerste getuie vir Jesus! 

Toe Johannes vir Jesus sien, het hy geweet dat dit die Verlosser is en net soos die dissipels ná Johannes, was ook hy ’n ooggetuie van Jesus, daarom dat hy sê ~ Ek het dit gesien....  Net soos wat Petrus in 2Pet.1:16 gesê het ~ Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien., net so getuig Johannes nie van Jesus op hoor-sê nie.

Vers 34 begin met die woorde ~ Ek het dit gesien....  Waarna verwys die woordjie "dit"?  Sekerlik sou hy tog nie na Jesus verwys as "dit" nie.  Nee, Johannes verwys hier na die Heilige Gees wat in die vorm van ’n duif op Jesus neergedaal het en daardeur het hy geweet dat hierdie Man, die Verlosser, Jesus Christus is (v.33).

6.    ONS GETUIENIS:
Deur die eeue heen was daar, soos Johannes en Jesus se dissipels, derduisende getuies wat die Blye Boodskap uitgedra het na al die uithoeke van die aarde.  Die vraag is, waarom doen hulle dit?  Wel een van die redes is omdat hulle harte oorloop van vreugde en dankbaarheid vir God se reddingsgenade in hul lewens en dit is die boodskap wat hulle met ’n verloregaande wêreld wil deel.  ’n Ander rede is dat hulle die geestelike nood in die mensdom raaksien en hulle die antwoord en oplossing vir hul nood met hulle wil deel. 
·           Die heel belangrikste rede egter, is dat ons opdrag van die Here self ontvang het, om die Evangelie van Jesus Christus met ’n verloregaande wêreld te deel.  Dit is die eerste beginsel wat ons in gedagte moet hou wanneer ons in gehoorsaamheid reageer op die opdrag van die Here om te getuig.  Ons vind hierdie opdrag ook in Luk.19:13 toe Jesus die volgende gelykenis vertel het ~ Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom’.  Hoe moet ons handel dryf?  Die antwoord vind ons in Hand.1:8 toe Jesus Sy laaste opdragte aan Sy dissipels gegee het ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld - ...julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.  Ons as dissipels van Jesus Christus, het opdrag ontvang om te getuig.

Hierdie woord "getuig" kom meer as ’n honderd keer voor in die Woord en natuurlik hang dit van die konteks en die Hebreeuse, of Griekse betekenis af, wat met hierdie woord bedoel word.  Wat die betekenis in o.a. Hand.1 betref, asook verskeie ander teksverse soos bv. Matt.10:5-7; Matt.28:19; Mark.16:20; Rom.10:14; Matt 18:28; Hand.4:33, ens. is dit baie duidelik dat elkeen van ons wat onsself dissipels van Jesus Christus noem, opdrag ontvang het om te getuig.  Ook Petrus sê dat ons getuies van Jesus se opstanding moet wees – bv. Hand.10:42 ~ Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies.
·           Daar is egter ’n tweede beginsel wat ons in gedagte moet hou wanneer ons getuig van Jesus en dit is dat ons verbaal moet getuig.  Ons optrede en lewe moet van Christus getuig ja, maar wanneer ons dit so sien, is dit asof ons die wa voor die perde inspan.  Ons moet eers verbaal getuig (onthou dit is die opdrag van die Woord soos wat ons nou net gesien het) en nadat ons verbaal getuig het, moet ons lewe, ons woorde bekragtig.  Ons moet onsself dus baie ernstig afvra of ons werklik getuies vir Christus is, as ons nie oor Hom met andere praat nie, maar net ’n vroom lewe wil voorhou, m.a.w. ons moet onsself afvra of ons gehoorsaam is aan die opdrag om te verkondig, soos o.a. in Hand.10 aan ons gegee is.

Ons sien nêrens in die Woord enige weergawe van mense wat tot wedergeboorte gekom het, bloot op grond van iemand anders se vroom lewenswyse nie, trouens elke weergawe van ’n bekering het gepaard gegaan met ’n mondelingse getuienis daarna.  So sien ons bv. in Joh.9:38 hoe dat die blindeman wat genees is, na sy genesing gesê het ~ Ek glo, Here!  Die Samaritaanse vrou in Joh.4 sê tydens haar eerste ontmoeting met Jesus, dat Hy ’n Jood is (v.9).  In v.12 sê sy dat Hy groter is as die patriarg Jakob.  In v.19 sien ’n mens hoe haar begrip van Jesus groei toe sy sê dat Hy ’n profeet is en uiteindelik sien ons in v.29, dat sy haar waterkruik net daar by die put laat staan het en terug dorp is om vir die mense te gaan sê ~ Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?  

Johannes die Doper getuig hardop van Jesus wanneer hy in ons Skriflesing (v.29) sê ~ Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 

7.    AFSLUITING:
As ons dan getuies vir Jesus wil wees, moet ons oor ’n boodskap beskik en Johannes die Doper verskaf aan ons die raamwerk vir hierdie boodskap:
·           Eerstens is Johannes ’n getuie van WIE Jesus Christus is – dit is waarom hy sê ~ Hy is die Seun van God (v.34). Dit is waar ons getuienis teenoor die wêreld ook moet begin – by die Seun van God.  Jesus was nie bloot net ’n mens wat sy lewe opgeoffer het vir andere nie – nee, Hy het Sy lewe geoffer, ten einde ons los te koop van God se wraak op ons sonde en net Hy as Seun van God kon daardie volmaakte offer gebring het, want net Iemand wat sonder sonde was kon hierdie offer bring.  Waarom is dit verder belangrik om in ons getuienis by Jesus te begin?  Omdat Hyself God is en hier kan ons verwys na verse soos bv. Joh.10:30 ~ Ek en die Vader is een en Joh.14:9 ~ Wie My sien, sien die Vader.
·           Tweedens getuig Johannes oor wat Jesus gedoen het – hy sê in v.29 ~ Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!  Jesus was van die begin af daar, omdat Hy, soos ons pas gesien het, God is; Hy was betrokke by die skepping, ens., maar die fokus van Christus se werk vind ons in Sy dood aan die kruis. 

Johannes noem Jesus "die Lam van God" – hy weet dat die Jode teenoor wie hy getuig, alles geweet het van die offerlam wat deur die loop van die vorige klompie eeue deur die volk Israel geoffer is en hy gebruik hierdie kennis van die Israeliete om te getuig van Christus die Offerlam.  Hy weet dat die Jode die verhaal van hul vader Abraham geken het en hoe God ’n offerlam voorsien het om in die plek van Isak geoffer te word.  Die Jode het onthou hoe hulle voorouers, die Paaslam se bloed aan die deurkosyne moes verf ten einde die doodsengel van hul gesin af weg te hou, ens.  Die Jode het geweet dat verlossing die dood van ’n plaasvervanger vereis het.

Johannes gebruik hierdie kennis van die Jode ten einde hulle daarop te wys dat Jesus gekom het om as Plaasvervanger op te tree vir diegene wat in Hom glo.  As gelowiges moet ons hierdie selfde kennis van die Lam van God gebruik om vir mense te vertel van Jesus se plaasvervangende offer.
·           Derdens wys Johannes in v.33 daarop dat Jesus die Een is wat die Heilige Gees aan Sy volgelinge sou gee, of anders gestel dat Jesus in die lewe van gelowiges sou kom leef.  Daarom, wanneer ons van Jesus getuig, praat ons nie net van Wie Hy is en wat Hy gedoen het nie, maar ook wat die resultaat van geloof in Jesus Christus is, daarom dat Johannes in v:12 sê ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Net ter afsluiting, enkele riglyne t.o.v. getuielewering:
·           Ons moet onsself voortdurend afvra of getuielewering vir ons ’n prioriteit is.
·           Ons moet entoesiasties wees oor ons geloof in Jesus Christus.
·           Ons moet opreg wees in ons geloof en lewenswandel.
·           Ons moet voortdurend op die uitkyk wees vir geleenthede om te getuig.
·           Ons moet voorbereid wees om ten alle tye en onder alle omstandighede te getuig.
·           Ons moet altyd Christusgesentreerd wees.  Ons moet die gekruisigde en verrese Jesus Christus verkondig.

Ons het gesien dat die Heilige Gees op Jesus gerus en Hom bemagtig het vir Sy roeping hier op aarde.  As ons na Rom.5:5 kyk is dit dieselfde Heilige Gees wat ons ook bemagtig om o.a. getuies vir Jesus te kan wees, maar dit is terselfdertyd ook deur dieselfde Heilige Gees dat ons gemotiveer kan raak om ons roeping as gelowiges na te kom deur te getuig.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 21 Augustus 2011