Sunday, August 14, 2011

Psalm 51 (Dawid se Boetelied)

1.    INLEIDING:
Charles H. Spurgeon het van die Psalms gesê:To be saved singing is to be saved indeed

Die Psalms is ’n skatkamer vir ons as gelowiges, want die Psalms is vir ons gegee om te lees en dit te verstaan; om dit te oordink; dit te sing en dit te gebruik as basis vir ’n baie meer intieme aanbidding van God (Ps.100 is ’n klassieke voorbeeld hiervan).  Die Psalms dien ook as bemoediging en opbou van ons geestelike lewens – inkort, dit is vir ons gegee om ons ganse lewe te verander en te verryk.

Die Psalms gee egter ook vir ons ’n kykie in die lewe van die digters, omdat dit so intens deursigtig is en presies sê hoe, wat en wie die skrywers en sangers van die liedere is.

Net voor ons kyk na Psalm 51 – net die volgende t.o.v. die Psalms in geheel:
·           116 van die 150 Psalms het titels en ons moet besef dat hierdie titels outentiek en geïnspireerd is en daarom inherent deel is van die Psalms, want hierdie titels of opskrifte verklaar die Psalm en daarom moet dit gelees word.  As ons bv. na 2Sam.22:1 kyk sal ons almal saamstem dat vers 1 van 2Sam.22 geïnspireerd en van God is en daarom gelees moet word – dit lees as volg ~ Dawid het die woorde van hierdie lied tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit die mag van al sy vyande en uit die mag van Saul.  Wanneer ons na Ps.18:1 kyk, sien ons die presiese woorde van 2Sam.22:1 hier herhaal word as ’n opskrif en kan ons dus nie anders as om te besef dat die opskrifte van die Psalms geïnspireerd is en daarom gelees moet word nie.  Die Psalms is dus Woord van God.
·           Tweedens, moet ons besef dat die Psalms ’n God-gerigte boek is en daarom móét ons dit lees.
·           Derdens is dit interessant om te weet dat 75 van die 150 Psalms deur Dawid geskryf is, terwyl 12 deur Asaf; 1 deur Heman en 2 deur Salomo geskryf is.  Moses het 1 geskryf en 48 is deur onbekende outeurs geskryf.
·           Dawid het die 150 Psalms in vyf boeke of bundels verdeel (Boek 1 = Ps.1-41; Boek 2 = Ps.42-72; Boek 3 = Ps.73-89; Boek 4 = Ps.90-106 en Boek 5 = Ps.107-150)

2.     SKRIFLESING: 
Kom ons blaai na Ps.51.  Ek lees vanuit die O.A.V. omdat die N.A.V. die grondteks baie swak vertaal het en die gees en historiese agtergrond baie min tot glad nie in gedagte gehou het tydens die vertalingsproses nie.

’n Boetelied van Dawid.
VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid,
2     toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.
3     Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.
4     Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
5     Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
6     Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
7     Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
8     Kyk, U het ’n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.
9     Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.
10     Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.
11     Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
12     Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.
13     Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
14     Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ’n gewillige gees.
15     Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
16     Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
17     Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.
18     Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
19     Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
20     Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.
21     Dan sal U ’n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.

3.    BELYDENIS:
Verskeie bekende individue het op hul sterfbed na Ps.51 gegryp en dit voorgedra.  So het beide Sir Thomas More en Lady Jane Grey hierdie Psalm aangehaal toe hulle onderskeidelik onder die regering van koning Henry VIII en Queen Mary as martelare gesterf het.  Koning Henry V het op sy sterfbed gevra dat hierdie Psalm aan hom voorgelees word en William Carey (die bekende sendeling na Indië en ander dele van die Verre Ooste) het gevra dat hierdie Psalm as teks gebruik sal word tydens sy begrafnis.

Ek wil graag hierdie Psalm vanoggend onder die volgende vier hoof- en subopskrifte behandel:
1.    Belydenis (vv.3-9)
-      "Ek het gesondig teen God" (vv.3-4)
-      "Ek is ’n sondaar" (vv.5-8)
2.    Restourasie (vv.9-14)
3.    Lofprysing (vv.15-19)
4.    Voorbidding (vv.20-21)

Andrew Murray skryf in sy boekie, "Confession and Forgiveness", dat ’n Londense sielkundige op ’n dag vir Billy Graham gesê het, dat ongeveer 70% van alle mense in sielsieke inrigtings, daar is omdat hulle nie vergifnis kan ontvang vir bepaalde dade wat hulle begaan het nie en hulle derhalwe met onverwerkte skuldgevoelens en ’n slegte gewete worstel.  Die oomblik dat hulle vergifnis ontvang, sal hulle weer "normaal" kan funksioneer – dit is inderdaad ’n baie interessante waarneming en dit is presies waaroor Ps.51 gaan, nl. vergifnis.

Ps.51 is een van die 7boetpsalms (die ander is 6, 32, 38, 102, 130 en 143) en is waarskynlik die bekendste van die 7. 

·           "Ek het gesondig":
Ten einde Ps.51 reg te verstaan, moet ons kortliks na die agtergrond van hierdie boetelied kyk.  Die skrywer van hierdie Psalm is Dawid en die opskrif van die Psalm (’n Boetelied van Dawid) dui vir ons aan dat hy diep in sonde geval het.  Ons sien in 2Sam.11 dat hy owerspel gepleeg het met Batseba, vrou van Urija.  Nadat hy owerspel gepleeg het, het hy sy sonde onsuksesvol probeer wegsteek, waarop hy Urijatoe laat vermoorhet.  Asof hierdie reeks van sondes nie erg genoeg was nie, begaan hy ’n nog groter sonde en dit is dat hy vir bykans ’n jaar nie berou oor hierdie sondes gehad het nie en dit derhalwe nie bely het nie.  Dit was eers na die dood van sy kind en nadat God die profeet Natan na Dawid gestuur het om hom te konfronteer met sy sonde, dat hy tot ware insig oor sy sonde gekom het. 

Nadat Natan Dawid gekonfronteer het, bely hy sy sonde.  Wat bely Dawid?  In 2Sam.12:13 sê hy ~ Ek het gesondig teen die Here (2Sam.12:13)

Hoor u wat Dawid nié sê nié?  Hy sê nie:Ek het gesondig nie.  Nee, hy sê: Ek het teenGod gesondig.  Ons moet besef datelke keer dat ons sondig, ons nie maar net sondig nie, of dat ons maar net ’n oortredingbegaan het nie. Nee, ons sondig teen God!

Kom ons kyk weer na v.3.  Dawid sê hier dat hy besef dat hy nie vergifnis verdien nie, maar hy pleit om God se onverdiende genade ~ Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid.  Sy en daarom ook ons belydenis en vergifnis word gebaseer op die realiteit van God se genade – God se genade en niks anders nie.

Dawid het ernstig oortree in die oë van God en hy besef dit baie deeglik, trouens hy besef dat hy onder die destydse wetgewing die dood verdien het, want enige opsetlike sonde (wat hy drie keer begaan het) is gewoonlik volgens die Wet, met die dood gestraf en daarom dat hy om genade pleit en in die prosesgebruik hy drie woorde vir sy sonde, nl. "oortreding" (v.3 – "transgressions"); "ongeregtigheid" ("skuld" = N.A.V. in v.4 – "iniquity") en "sonde" (v.4 –"sin").

Dit is ook interessant om te sien dat hy vir elkeen van hierdie benaminge van sy sonde, ’n ander metafoor gebruik – hy vra dat God sy oortredinge sal uitdelg of uitwis.  Die Hebreeuse betekenis is letterlik om sy oortredinge uit te vee soos wat ’n mens ink uit ’n boek sou uitvee ("blot")

Wanneer hy om genade vra t.o.v. sy ongeregtigheid of skuld, vra hy die Here om hom skoon te was daarvan.  Die beeld wat hier gebruik word, is die van ’n antieke wasserywerker wat ’n kledingstuk in water geweek het en dit daarna ingeseep het, dan uitgedraai het en dit laastens weer uitgespoel het ten einde dit behoorlik skoon te kry. 

Laastens vra hy dat hy van sy sonde gereinig ("purify") sal word.

Dawid wil deur die gebruik van hierdie drie woorde wat hy gee vir sy sonde en die drie woorde vir sy vergifnis, die omvang en die intensiteit van sy sonde beskryf, maar ook die geweldige grootsheid van God se genade – hy wil met hierdie drieledige smeking van hom, erkenning daaraan verleen, dat sy vergifnis, ’n lang en deeglike proses sal wees – wat meer is, hy wil dit nie anders hê nie, want hy "bedoel besigheid" as hy om vergifnis vra.  Dit is asof hy sê:Here doen dit asb. – doen dit deeglik, maar dóén dit net asseblief! Hy het vergifnis en verandering nodig en hy begeer dit, al vat dit ook wat!

Dawid weet dat hy gesondig het en die probleem is dat sy sonde altyd voorop in sy gedagtes gaan wees.  Die gevolge van sy sonde kruip in elke hoekie en area van sy lewe in en dit sal vir altyd by hom "spook" – selfs in sy nalatenskap sal hierdie klad altyd voorop staan wanneer daar aan hom gedink word – so dink ons vandag nog aan hom as ’n owerspelige moordenaar.

Die probleem met sonde is dat dit dikwels selfs permanente skade aanrig.Hoor wat het Natan vir Dawid in 2Sam.12:13-14 gesê ~ Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie. 14Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.’n Verdere gevolg van Dawid se sonde was dat hy nie die voorreg sou hê om die Tempel in Jerusalem te bou nie (Hand.7:46; 1Kon.6).

Sonde het altyd gevolge – sommige meer en andere minder intens, maar sonde baar altyd gevolge, ongeag of ons vergewe word of nie.  Ons moet onthou dat sonde, altyd sonde teen God is – dit is rebellie teen God – dit is waarom Dawid die woord "oortreding" eerste vir sy sonde gebruik het.

Wanneer ons sondig – bv., ek vertel ’n leuen – Sê ek net so vinnig in die verbygaan, vergewe my Vader vir die leuen wat ek nou vertel het?  Nie Dawid nie (en natuurlik moet ons op presies dieselfde plek wees) – nee, Dawid erken sy sonde; hy bely sy sonde – hy noem dit dus weer by die naam teenoor die Here; hy ween oor sy sonde en hy erken dat God die volste reg het om hom te straf – Hy sê met ander woorde aan God, dat hy die volle verantwoordelikheid vir sy sonde dra.Sy belydenis is opreg, intens, persoonlik en gedetailleerd.

Die vraag wat ons natuurlik op hierdie stadium kan vra, is hoe dit dan moontlik is dat Dawid na al hierdie oortredings van hom steeds een van God se gunsteling seuns was (Hand.13:22)? Die antwoord is eenvoudig:Dit is omdat Dawid so opreg en eerlik was oor sy sonde en God se eer gesoek het in die hele proses – op hierdie grondslag het God dus steeds ’n rebel wat ’n owerspelige moordenaar was, lief.  Hierdie feit behoort ons baie sterk aan te spreek oor hoe ons oor ons sonde voel; hoe ons, ons sonde sien en hoe ons daarop reageer.

·           "Ek is ’n sondaar":
In verse 5 tot 8 erken en bely Dawid dat hy al van selfs voor sygeboorte af ’n sondaar is, trouens hy erken dat hy van die oomblik van konsepsie af ’n sondaar is ~ Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het (v.7 – N.A.V.).  Hierdie feit laat ’n mens opnuut weer besef wat ’n geweldige oortreding aborsie in die oë van God is – van die oomblik van konsepsie af was Dawid belaai met sonde

4.    RESTOURASIE:
In v.9 verwys Dawid na die hisopplant (nie in die O.A.V.!) wat God moet gebruik om sy sonde weg te neem.  Die hisop was ’n welriekende plant met grys blare en wit blommetjies (Origanum syriacum) en is gebruik as kwas om bloed en/of water te sprinkel tydens verskeie van die reinigings seremonies (Eks.12:22; Lev.14:4-6; Num.19:18).

Na Dawid se sondebelydenis, uiter hy die volgende en pragtige woorde in v.9, nl. ~ Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees.  In die Engelse vertalings vind ons die woorde ~ Create in me a clean heart....Hierdie woord "create", of te wel "skep" is presies dieselfdewoord as wat in Gen.1:1 gebruik word, wat dui op God wat uit niks, iets nuuts skep, m.a.w. net God kan hierdie herskeppingswerk in Dawid se hart doen.  Dit gaan dus nie oor wedergeboorte nie, maar dit gaan daaroor dat Dawid God vra om hom in so ’n mate te verander dat hy God kan dien soos wat God dit van hom verwag.  Net God kan hierdie herskeppingswerk verrig – vergifnis en die genesing van ’n bose hart is ’n wonderwerk en kan net deur God gedoen word.

In v.13 maak Dawid ’n baie interessante opmerking, wanneer hy sê ~ Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.Dalk het Dawid die gebeure in 1Sam.16:14 hier in gedagte gehad toe die Heilige Gees van Saul af onttrek het, maar wat wel belangrik is, is dat hierdie nie ’n verwysing is na die feit dat Dawid dalk sy wedergeboorte verloor het nie; hy is ook nie bang dat hy sy koningskap sal verloor nie – wat hy wel hier wil sê, is dat hy verdien om verlore te gaan; dat hy verdien om ontneem te word van die Heilige Gees.  Nee, hy openbaar hier ’n opregte en hartverskeurende berou oor sy sonde en hy vra in v.14 dat God hom sal restoureer (herstel) ~ Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.

Dawid het vantevore die vreugde van God se kindskap ervaar, maar hy het dit vir ’n tyd lank verloor nadat hy in sonde geval het en daarom vra hy dat God hom sal herstel en daardie oorspronklike vreugde wat gepaard gaan met redding, weer aan hom sal skenk.

5.    LOFPRYSING:
Die bewys dat God, Dawid vergewe het word bevestig in vv.15-19 waar ons sien dat Dawid, God loof en prys omdat God Natan gestuur het om sy sonde aan die lig te bring, sodat sy verhouding herstel kon word met God.Dit moet ook ons gesindheid wees wanneer ons sonde aan die lig kom, want dit maak dit weer moontlik vir ons om in die regte verhouding met God te kan wees.

Uit dankbaarheid lê Dawid egter ook ’n gelofte teenoor Godaf, waarin hy belowe dat hy ander sondaars sal leervan wat God van die mens verwag en wat God se geregtigheid behels, m.a.w. hy sal hulle leer t.o.v. God se heiligheiden die implikasies daarvan vir sondaars.

Hierdie gelofte van Dawid vind sy vervulling in Ps.32 en Paulus wys vir ons dat Dawid die leerstuk van regverdigmaking reg verstaan wanneer hy Ps.32 aanhaal in Rom.4:7-8 ~ Geseënd is die mensewie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word.8Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.Dawid het dus al geweet dat vergifnis slegs op grond van die komende Messias se soendood plaasvind en dat daar geen vergifnis kan wees sonder geloof in die Messias, Jesus Christus nie.

Die gelofte wat Dawid maak om sondaars te leer om op te hou sondig is ook in ooreenstemming met Paulus se woorde in Rom.6:1-2 ~ Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?

6.    VOORBIDDING:
Dawid sluit Ps.51 af met voorbidding vir Jerusalem.  As koning wat in sonde verval het, het hy veroorsaak dat die hele stad en volk van Israel in gevaar verkeer – die stadsmure van Jerusalem wat ’n simbool van sekuriteit is, word bedreig deur die bose en sonde, daarom dat Dawid bid en sê ~ Laat Sion u liefde en u goedheid ondervind:herbou tog die mure van Jerusalem.  21Dan sal die offers wat voorgeskryf is, weer vir U aanneemlik wees:  offerdiere wat heeltemal verbrand word.  Dan sal hulle weer bulle op u altare offer.  Hy bid hierdie gebed sodat Jerusalem en sy inwoners, God se genade sal ervaar en weer in opregtheid hul offers aan God kan bring en dat dit nie blote rituele sal wees nie, maar dat dit vanuit opregte harte kan kom. 

Dawid is dus nie net besorgd oor individuele restourasie nie,maar ook oor korporatiewe restourasie – hy bid ook vir die volk in geheel.

7.    TOEPASSING:
Geliefdes, God begeer van ons dat ons, ons sonde sal bely en indien ons in die woorde van 1Joh.1:9, ...ons ons sondes bely—(is) Hy getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Ons moet besef dat elkeen van ons ook "koning" oor ’n "koninkryk" is.  Of daardie "koninkryk" jou vrou en/of gesin is; of dit jou werk is; jou vriendekring, ens. – jou sonde het ’n effek op daardie"koninkryk" en dit breek die mure van jou invloedsfeer af en jy stel almal in daardie "koninkryk" bloot aan die besmetting en gevolg van jou sonde.  Ons moet altyd in gedagte hou dat wat ons ook al doen, dit ’n effek op ander mense het (goed of sleg).

Die negatiewe gevolge van Dawid se sonde was o.a. dood en vernedering, maar die positiewe kant daarvan (omdat Dawid reg en Bybels omgegaan het met sy sonde) was dat sy verhouding met God herstel was.  Mag ons gesindheid ook altyd een wees van opregte belydenis en bekering van ons sonde en dat ons in liefde ook andere sal leer van wat God van ons verwag en wat die implikasies van God se heiligheid in die mens se lewe is.  Dat ons altyd sal onthou en dit ook vir andere sal leer, dat God koninkryke herstel en beskerm – dat Hy weer die "stadsmure" van ons lewe sal opbou as ons, onsself in opregtheid ootmoedig.

Jesus weet van elke sonde wat ons begaan, want Hy het dit reeds aan die kruis vir ons gedra.  Hy pleit ook by die Vader vir genade en vir reiniging van ons sonde en daarom moet ons, ons geloof in Jesus Christus plaas vir die vergewing van ons sonde, want Rom.3:26-27 leer ons dit ~ Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo

Wanneer ons Ps.51 lees en dink aan ons eie sonde, kan ons saam met Dawid in dankbaarheid sing en God loof en prys, want Hy het Jesus Christus vir ons gegee wat namens ons, vir ons sonde gesterf het aan die kruis op Golgota en waar Hy in Sy menslikheid só met ons geïdentifiseer het, dat Hy namens ons die oordeel van God op Homself geneem het – daardie oordeel wat Dawid, maar ook jy en ek verdien het!

Bid Psalm 51:
·           Vader heel die pyn in my hart oor my sonde.  Ek sien die vernietigende effek van my sonde op ons omgewing, maar ook op die mense rondom en na aan my.  Wees my genadig en barmhartig Here.
·           Here ek het teen U gesondig en help my om soos Dawid in hierdie Psalm, ook my sonde in opregtheid te bely en my daarvan te bekeer.
·           Help my om my te verheug in U liefdevolle tugtiging ten einde my te restoureer.
·           Help my om verantwoordelik om te gaan met die burgers van my "koninkryk" en seën hulle.
·           Rus my toe sodat ek ’n getuienis teenoor hulle kan wees tot U eer.
·           Help my om U te prys soos wat Dawid gedoen het
·           Dankie Here dat U die Heilige Gees aan my geskenk het om die sonde in my lewe uit wys
·           Ek ervaar U liefde deur U tugtiging, want daardeur wil U my herstel, ja U wil my ganse lewe restoureer, sodat ek ’n lofoffer vir U kan wees.