Sunday, July 24, 2011

Die Evangelie van Johannes - 03 (Die Vleesgeworde Christus)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.     SKRIFLESING: 
Joh.1:14-18 ~ Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.  Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.15Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.” 16Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God ooit gesien nie.  Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

2.    INLEIDING:
In v.9 word die lesers van die Johannes Evangelie voorberei op die koms van Jesus Christus en hier in v.14 word hierdie profetiese woorde ’n realiteit – die Woord (Jesus Christus) het inderdaad na die wêreld gekom as mens – Hy het vlees geword!  En in vv.16-18 vind ons die rede; die somtotaal; die kulminering (of hoogtepunt) vir Sy vleeswording.

Jesus die Woord is deel van die hemelse werklikheid, maar nou word Jesus die aardse werklikheid en hierdie geestelike en menslike werklikhede t.o.v. Jesus, staan in skrille kontras tot mekaar en dit konfronteer ons met die, wat ons in die teologie noem, die leer van die Goddelike-Drie-Eenheid aan die eenkant en die Vleeswording van Jesus Christus aan die anderkant.  Hierdie gedeelte waarna ons vanoggend kyk is dan ook ’n pragtige inleiding tot lg. leerstuk, nl. die vleeswording van die Seun van God, Jesus Christus.

3.    DIE MENS SE PROBLEEM:
Waarom is dit belangrik dat ons sal kyk na die vleeswording van Christus, m.a.w. waarom was dit belangrik dat Jesus Mens geword het?  Die antwoord lê o.a. opgesluit in vv.16-17 van ons Skriflesing ~ Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Dit gaan dus primêr oor jou en my redding. 

Die probleem waarmee die mens egter gesit het (en steeds sit), is tweërlei van aard:
·           Eerstens lê die mens se probleem op ’n ontologiese vlak.  Om hierdie "groot woord", baie eenvoudig te verklaar, kan ons sê dat dit gaan oor die kennis van die aard en bestaan van ’n wese.  En dit is op hierdie vlak dat die mens "in die moeilikheid raak", want daar bestaan so ’n geweldige gaping tussen God en die mens t.o.v. kennis, dat dit vir die mens onmoontlik is om God werklik te ken, behalwe as God self iets daaraan doen om om Hom aan ons bekend te maak en ons sien in v.18 dat dit presies is wat God gedoen het  ~ Niemand het God ooit gesien nie.  Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.  God moes dus Sy Seun stuur ten einde Hom (die Vader) aan ons bekend te maak.
·           Tweedens lê die mens se probleem op ’n geestelike- en morele vlak en hierdie probleem is deur die mens self veroorsaak en dit is die sonde wat in Adam gepleeg is en soos ons reeds weet, word dit die erfsonde genoem.  Die mens kan homself dus nie losmaak van sy eie sonde, ten einde in die teenwoordigheid van God te kan kom nie.

As ons egter in hierdie sondige toestand bly voortbestaan, kan en sal ons nooit in die teenwoordigheid van God kan kom nie en is dit dus nodig dat ons op een of ander wyse met Hom verenig moet word.  Soos ons egter reeds in vv.16 en 17 gesien het, het God ook hier ingegryp en Jesus na die wêreld as Mens gestuur – ons praat van Jesus se vleeswording en deur hierdie vleeswording van Jesus het God en Mens een geword.  Wat ons egter altyd moet onthou is dat Jesus nooit regtig een van ons geword het nie.  M.a.w. die mensdom is nie nou skielik geheilig of gered nie.  Nee, dit beteken bloot dat Jesus tegelykertyd God en Mens geword het, maar Mens sonder sonde – Hy het dus mens geword, sonder om Sy Goddelikheid prys te gee.

4.    DIE VLEESGEWORDE CHRISTUS:
Daar is meer as genoeg Bybelse getuienis dat Jesus volkome Mens was terwyl Hy hier op aarde was.  Hy is in ’n vrou (Maria) verwek en hy is gebore nes enige ander mens en is groot gemaak nes al die ander kinders van Sy tyd.  Hy het dus nie net op ’n dag skielik uit die niet verskyn nie.  Ja, ons weet dat Maria se swangerskap uniek was in dié sin dat geen man by Jesus se verwekking betrokke was nie, maar behalwe vir dit was Jesus as fetus en tot en met sy geboorte niks anders as enige ander mens nie – Hy het dus beskik oor ’n menslike liggaam.

Jesus het ook beskik oor ’n geslagsregister of stamboom soos enige ander mens.  Matteus en Lukas verskaf aan ons die genealogiese lyn waaruit Jesus gebore is.  Hy het dus voorouers gehad en waarskynlik ook bepaalde gene, net soos enige ander mens, van hulle ontvang.

Jesus se ganse lewe hier op aarde getuig daarvan dat Hy ook oor ander menslike eienskappe beskik het.  Ons lees bv. in Luk.2:52 ~ En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.  Hy het verstand gehad; Hy het oor liggaamlike eienskappe beskik en Hy het ’n aangename en gewilde persoonlikheid gehad.  Sy liggaam was waarskynlik meer volmaak as ons s’n, omdat Hy nie gebuk gegaan het onder die gevolge van die sonde nie en gevolglik nie fisies afgetakel is nie- maar Hy het ’n liggaam gehad.

Ons lees in Matt.4:2 ~ Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.  Jesus het dus honger geword.  Jesus het dors gehad (Joh.19:28); Hy het moeg geword nadat Hy ver gereis het (Joh.4:6 ~ Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit).  Die feit dat Jesus na Homself verwys in Joh.8:40 as man (sien N.I.V., N.A.S.B., E.S.V., ens. – die Grieks: ἄνθρωπος [anthropos /anth·ro·pos/]) is verder bewys dat Hy waarlik mens was.  Johannes getuig daarvan dat Jesus ’n fisiese liggaam gehad het ~ Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak... (1Joh.1:1)

Jesus openbaar emosies – Matt.9:36 ~ Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry....  In Matt.26:37 sien ons dat Jesus bedroef en beangs geraak het, maar Hy het ook vreugde ervaar (Joh.15:11).  Hy het kwaad geword (Mark.3:5) en verontwaardig geraak (Eng. = "indignant") (Mark.10:14).  Ook het hy verbaas gestaan oor die geloof wat die hoofman oor ’n honderd in Luk.7:9  geopenbaar het.

Ons moet natuurlik besef dat sommige van hierdie emosies nie noodwendig bewys van Jesus se menslikheid is nie, want ons lees ook in die Woord, dat God die Vader bepaalde emosies openbaar (bv. liefde en medelye).  En tweedens moet ons ook besef dat sommige van hierdie emosies wat negatief mag voorkom, soos bv. dat Jesus kwaad geraak het, op so ’n wyse geskied het, dat Hy nie in die proses gesondig het nie ("heilige woede") (Matt.21:12-17).

Jesus het oor merkwaardige kennis beskik; Hy het vrae gevra; Hy het na die sinagoge gegaan en het oor ’n wonderlike gebedslewe beskik en so kan ons aangaan – Jesus het waarlik beskik oor menslike karaktereienskappe – Hy was voorwaar Mens.

Nog ’n aspek wat ons moet aanspreek wanneer ons na Jesus se vleeswording kyk is die hele kwessie t.o.v. Sy maagdelike geboorte.  Hierdie is ’n saak wat al meer en meer in ons dag (eintlik nog altyd) in die spervuur is, met mense soos Prof. Sakkie Spangenberg e.a. (die "Nuwe Hervormers") wat openlik verklaar dat Jesus nie uit ’n maagd gebore is nie.

Wanneer ons na die maagdelike geboorte van Jesus kyk, moet ons besef dat die klem nie soseer val op die feit of Jesus se geboorte maagdelik of nie maagdelik was nie, maar eerder of die swangerskap van Maria deur die Heilige Gees bewerkstellig is of nie – die klem val dus eerder op die ingrepe van die Gees al dan nie. 

Ons moet ook verder besef dat Jesus se maagdelike geboorte nie nodig was vir Hom om God te kon wees nie (ontologies), maar dit is nodig (kenteoreties) sodat ons as mense kan weet dat Jesus, waarlik God is.

Die leerstuk van die maagdelike geboorte van Jesus, word op hoofsaaklik twee teksgedeeltes gebaseer, nl. Matt.1:18-25 en Luk.1:26-38, asook Jesaja se profesie in Jes.7:14 ~ Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem.  Benewens hierdie twee verwysings uit die Nuwe Testament en Jesaja se profesie, is daar nie veel ander teksverwysings wat hierdie leerstuk ondersteun nie, maar omdat ons glo dat die Woord geïnspireer is, is hierdie paar verwysings en die enkele andere, voldoende bewys dat Jesus wel uit ’n maagd gebore is.

Die feit dat Jesus uit ’n maagd gebore is, is van kardinale belang.  Indien Jesus bloot net die produk sou wees van gewone menslike gemeenskap, sou Hy net gewoon mens gewees het en nie God-Mens nie.

Ons kan onsself die vraag afvra waarom die maagdelike geboorte dan werklik nodig was?  Ons kan dit opsom in vier punte:
·           Eerstens herinner Jesus se maagdelike geboorte ons daaraan dat ons wedergeboorte bo-natuurlik is.  Johannes sê in 1:13 ondubbelsinnig dat ons wedergeboorte nie ~ ...van nature (is) nie (en ook) nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar (ons) is uit God gebore.   Wat Johannes dus hier wil beklemtoon, is die feit dat ons wedergeboorte nie deur ons eie toedoen geskied nie en dat ons dus nie daarin kan roem nie.  Net so wys die maagdelike geboorte van Jesus vir ons daarop dat ons as mense nie eens die eerste stap tot redding, nl. die geboorte van Jesus, kon inisieer nie.
·           Tweedens herinner Jesus se maagdelike geboorte ons daaraan dat ons redding in totaliteit, ’n genadegawe is.  Maria was dus ook nie in hierdie proses enigsins ’n besondere vrou nie – sy was maar net ’n begenadigde deur wie God, Sy Seun Jesus in die lewe laat bring het.  Ja, dit is waar dat Maria besondere geloof en toewyding aan die dag gelê het (Luk.1:38), maar sy het niks besonders gehad om te bied nie, trouens sy het nie eens ’n man gehad nie en haar verloofde wou van haar skei toe hy hoor dat sy swanger was – Waarom?  Matt.1:19a ~ Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie.  Dit was ’n skande om ’n buite-egtelike kind in daardie dae te verwag het (soos wat dit vandag nog steeds die geval behoort te wees!) en die mense het ’n buite-egtelike swangerskap ernstig en op grond van die Wet van Moses veroordeel, trouens die ongelowige Jode het juis hierdie feit, nl. dat Jesus volgens hulle, buite-egtelik verwek is, teen Hom gehou toe hulle met Hom geredeneer het oor die feit dat Abraham hulle Vader was – hulle het o.a. vir Jesus gesê ~ Ons is nie uit owerspel gebore nie... (Joh.8:41).

Vir ’n jong vrou dus, wat op daardie stadium van haar ongetroude lewe, eintlik nie in staat was om swanger te raak nie, omdat al wat wet en morele opvatting daarteen ingedruis het, het die geboorte van Jesus as Genadegawe aan die mensdom ’n soveel groter realiteit gemaak.
·           Die maagdelike geboorte van Jesus is voorts ’n bewys van die uniekheid van Jesus die Redder.  Al kon God dit so gewil het dat Jesus se vleeswording sonder die maagdelike geboorte, geskied het, dien Jesus se bo-natuurlike wyse van geboorte op die uniekheid van Jesus as Mens wat op ’n uitsonderlike wyse afgesonder is deur God, vir ’n baie spesiale taak, nl. die volmaakte redding van diegene wat in Hom sou glo.
·           Laastens, is die maagdelike geboorte van Jesus, bewys van God se mag en soewereiniteit oor die mensdom.  Ja, dit is so dat God by verskeie geleenthede, die menslik onmoontlike vermag het deur bv. ’n Sara swanger te laat word, terwyl sy biologies gesproke al heeltemal te oud daarvoor was – dink maar net aan die geboorte van Samuel en ook dié van Johannes die Doper self, wie se ma, Elisabet onvrugbaar was.  Die maagdelike geboorte van Jesus beklemtoon dus God se almag en soewereiniteit teenoor die mens se onvermoë om iets soortgelyks te vermag.  Dit is waarom Jesus uit oortuiging kon sê ~ Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik (Matt.19:26).

As ons dan kyk na God se oplossing vir die mens se benarde posisie waarin hy hom bevind a.g.v. die erfsonde, nl. Christus se vleeswording, is daar ’n vyfde aspek wat van kardinale belang is en waaraan Jesus moes voldoen ten einde die volmaakte offer te kon bring en dit is Sy sondeloosheid.  As Hy nie sondeloos was nie, sou Hy nie die volmaakte "Offerlam" kon gewees het wat die volmaakte offer wat God vir eens en vir altyd tevrede sou stel, gebring het nie.

Daar bestaan hoegenaamd geen twyfel daaroor dat Jesus sonder sonde was nie.  Ons vind verskeie Skrifuitsprake oor Sy sondeloosheid.  Kom ons kyk na ’n paar:
-        Hebr.4:15 ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.
-        Petrus wat baie na aan Jesus was sê in Joh.6:69 die volgende (en hier is die N.A.V. ’n beter vertaling as die O.A.V.) ~ En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.  En in 1Pet.2:22 verklaar hy dat Jesus geen sonde gedoen het nie.
-        Ook Paulus het in 2Kor.5:21 verklaar dat Jesus sonder sonde was.
-        Die belangrikste getuienis aangaande Jesus se sondeloosheid, of anders gestel, Sy volkome heiligheid, kom uit Sy eie mond toe Hy met die Jode wat Hom wou doodmaak, in gesprek was en Hy by implikasie in Joh.8:46a verklaar dat Hy sonder sonde is – Hy het gesê ~ Wie van julle kan sonde by My aanwys?   
-         Jesus het ook Sy dissipels geleer om hulle sonde te bely en om vergifnis daarvoor te vra (Matt.6:12), terwyl daar nêrens in die Skrif getuienis daarvoor is dat Hy ooit enige sonde erken of bely het nie.

Die enigste sonde waarvan die Skrifgeleerdes Jesus beskuldig het, was godslastering, toe Jesus vir die verlamde man wie Hy genees het, gesê het dat sy sonde vergewe word, maar omdat Jesus self ook God is, weet ons dat ook dit nie godslastering en derhalwe sonde was nie (Matt.9:3)

-        Selfs Judas, die dissipel wat Jesus verloën het, het verklaar dat Jesus niks verkeerd gedoen het nie (Luk.23:41).

Jesus het menige keer in situasies verkeer waar Hy sou kon sondig as Hy nie God self en daarom sondeloos was nie, maar Hy het nie en Hy sou ook nie.  Dit is dus baie duidelik op grond van Skrifgetuienis, dat Jesus sondeloos was.

5.    DIE IMPLIKASIES VAN JESUS SE VLEESWORDING:
As ons dan sê dat God die Vader se oplossing vir die gevalle mens se verlore toestand, die vleeswording van Jesus was, moet ons logieserwys vir ons self vra, wat die implikasies dan van Jesus se vleeswording vir ons is.

·           Ons moet eerstens besef dat Jesus se soendood volkome is.  Gedurende die Ou Testamentiese offers, moes die Hoë Priester versoening doen namens die volk se sonde en hy moes in die proses ’n lam sonder gebrek gebruik het.  Ons het egter ook gesien dat selfs die Hoë Priester nie sonder sonde was nie en dat die lam ook nie voldoende was nie en daarom moes die offer op gereelde basis herhaal word, MAAR, Jesus is self Hoë Priester ~ Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele (Hebr.7:26).  Wat meer is, Jesus was ook dié volmaakte Lam.  Johannes het op ’n keer in Joh.1:29 en 36 gesê ~ Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!  Jesus  het dus die volmaakte offer gebring wat die Vader eens en vir altyd tevrede gestel het – Sy offer was dus volkome.
·           Jesus het as Mens, alles (en selfs veel meer) beleef as wat ons as mens ooit kan ervaar en daarom kan Hy, benewens die feit dat Hy God is, beter met ons identifiseer en empatie met ons hê as wat enige mens ooit kan droom om te hê.  Wanneer ons eensaam is; wanneer ons honger het; wanneer ons vervolg word; wanneer ons gepynig word (beide fisies, sowel as emosioneel); wanneer ons hartseer is; ens., het Christus volle begrip daarvoor, want Hy het self ook deur al hierdie dinge gegaan – Hebr.4:15 leer ons ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.
·           Omdat Jesus vir ons in die Woord sê hoe ’n mens behoort te wees – omdat Hy dit self voorgeleef het, openbaar Hy aan ons wie ons werklik is en hoe ver ons tekort skiet en dit moet ons motiveer om meer en meer soos Hy te word.  Dit help ons dus om te vorder op ons pad van heiligmaking.  Dit is dan ook waarom Paulus in Kol.3:9-10 sê ~ Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.

Geliefdes, ons kan vandag steeds saam met Johannes jubel, omdat ons weet dat Die Woord mens geword (het) en onder ons kom woon (het).  Ons het Sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (v.14).

6.    AFSLUITING:
Broer en suster, vriend en vriendin, kan ek weer soos verlede week vir jou sê, dat die wêreld op een van twee maniere gereageer het op die Vleesgeworde, Jesus Christus – sommige het hulle rug op Hom gedraai, terwyl ander Hom in geloof ontvang het.  Hieruit blyk dit dus baie duidelik, dat wanneer mense se pad met dié van die Vleesgeworde Jesus Christus kruis, hulle nooit meer dieselfde is nie, want Jesus konfronteer hulle met ’n keuse – óf vir Hom, óf teen Hom!  Niemand wat met Jesus gekonfronteer word, kan Hom ignoreer nie – jy móét ’n keuse maak en hierdie keuse het geweldige implikasies tot gevolg, trouens dit het ewige – letterlik, ewige implikasies – van die oomblik dat jy die keuse maak tot in ewigheid.  Watter keuse maak jy?  Watter keuse maak jy vandag, want as jy nog nooit vantevore met Hom gekonfronteer is nie, word jy nou op hierdie oomblik met Hom gekonfronteer – Kies jy vir Hom, of kies jy teen Hom?  En as jy vir Hom kies, of reeds in die verlede gekies het, moet jy besef dat ons almal ...Uit sy oorvloed, ...genade op genade ontvang (het)... en daardie ...genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom.  Wat maak ek en jy met daardie genadegawe wat ons onverdiend uit God die Vader se hand ontvang het?  Leef ons asof dit nie deel is van ons lewe nie, of leef ons met dit as primêre fokus en missie vir ons lewe?  Leef ons ’n dankbaarheidslewe vir daardie genade?  Leef ons in oorwinning oor daardie genade?  Getuig ons van daardie genade in ons lewe, maar ook daardie genade wat beskikbaar is vir ’n verloregaande wêreld?

Onthou die woorde van Paulus wat ek ook verlede Sondag aan jou voorgehou het – Rom.10:9-10 sê ~ As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.  Laat ons dan saam met die Woord en saam met Johannes die Doper, getuig van die ware Verlosser en Messias – die Lig, die Vleesgeworde Jesus Christus!


[1]  Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 24 Julie 2011