Sunday, July 17, 2011

Die Evangelie van Johannes - 02 (Die Aankondiging)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.     SKRIFLESING: 
Joh.1:6-13 ~ Daar was ’n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. 9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.

2.    INLEIDING:
In v.6 sien ons iemand wat skielik op die wêreldtoneel verskyn, maar dit is nie sommer so ’n man nie!  Dit is ’n man met ’n baie spesifieke roeping en opdrag.  Hy was ook ’n voorbeeld van uitnemende nederigheid en ons sien dit wanneer hy bv. van Jesus sê ~ Hy moet meer word en ek minder (Joh.3:30).  Hierdie man se naam is Johannes die Doper en hy was deur God gestuur om te getuig van die Lig wat sou kom.  En waarom moes hy van hierdie Lig getuig?  Ten einde die mensdom voor te berei vir dié Een se koms deur wie hulle tot geloof en redding kon kom.

Hierdie Johannes was nie die outeur van die Evangelie van Johannes nie.  Hierdie Johannes was ’n baie eksentrieke man.  Hy was van priesterlike afkoms – sy Pa was die priester van Abia (1Kron.24:10) en sy ma was Elisabet wat een van die dogters van Aäron was (Luk.1:5).  Sy geboorte is deur ’n engel aangekondig en hy is ses maande voor Jesus gebore.  Hy het sy jare voor die koms van Jesus, in die berge tussen Jerusalem en die Dooie See deurgebring.  Hy het skielik in die openbare oog gekom na Jesus se geboorte, maar voor Jesus bekend geraak het. 

Johannes die Doper was ’n prediker en het groot gehore aangetrek en mense uit al die uithoeke het na hom kom luister.  Die sentrale tema van sy prediking was die noodsaak aan bekering en hy het in die proses, dosyne mense gedoop.  Hy was ’n uitgesproke man en het nie geskroom om die Sadduseërs en die Fariseërs, "Addergeslag" te noem nie (Matt.3:7).

Ook Jesus het van "Die Doper" gehoor en na hom gekom om gedoop te word, waarop Johannes, Jesus aangedui het as die lang verwagte Messias wat sou kom om die volk van hul sonde te verlos (Matt.3:13-14).

Na ongeveer ses maande se openbare bediening, het dit baie skielik tot ’n einde gekom toe hy Herodes die heerser oor Israel, tereg gewys het oor die feit dat Herodes met sy broer se vrou Herodias getrou het (Luk.3:19), waarop Herodes hom in die tronk gegooi het en waar hy kort daarna in opdrag van Herodes, onthoof is.  Johannes se volgelinge het sy koplose liggaam gaan begrawe en Jesus het by die aanhoor van die nuus van Johannes se dood gesê ~ Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het, en julle was gewillig om julle ’n rukkie in sy lig te verheug (Joh.5:35).

3.    JESUS CHRISTUS DIE LIG:
Terug by die Apostel Johannes, skrywer van hierdie Evangelie.  Ons sien in hierdie openingsverse van ons Skriflesing, dat Johannes nie veel aandag skenk aan "die Doper" nie, want soos ons verlede week gesien het, is hy nie werklik geïnteresseerd in allerlei historiese detail nie, maar eerder in die Vleesgeworde Christus se missie en lering.

Johannes sê vir ons dat Johannes die Doper gekom het, om te getuig van die Lig – hy is dus nie self die Lig nie, maar slegs getuie van die Lig wat aan die kom was.  Wat of wie is hierdie Lig?  Ek het 21 kommentare geraadpleeg en almal gaan van die veronderstelling uit dat die Lig na Jesus verwys, maar ek wou weet hoe hulle daarby uitkom – hoe weet hulle dat die Lig nou spesifiek Jesus is.  Die antwoord lê opgesluit in vv. 9-13 wat saam gelees moet word ten einde aan ons te sê wat of wie hierdie Lig is.  Kom ons kyk dus weer daarna ~ Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.  Die Lig waarvan Johannes moes getuig, was Skepper van hemel en aarde.  Hierdie Lig was die Een wat deur Sy eie mense (Israel) verwerp was.  Dit begin al meer klink asof hierdie Lig, Jesus kan wees, nie waar nie? 

Vers 12 sê dat die Lig, die Een is wat die reg gee aan diegene wat in Hom glo, om kinders van God genoem te word en ons weet tog op grond van die Skrif, dat net Jesus Christus by magte is om lewe te gee aan diegene wat Hom aanneem en wat weergebore word deur God (1:12).  Hierdie Lig waarvan Johannes getuig is dus niemand ander as Jesus die Christus nie.

Joh.3:19-21 ondersteun hierdie getuienis ~ En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.

Lig en duisternis is herhalende temas in Johannes en volgens 1Joh.1:5 is God die Lig ~ Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.  Johannes sê voorts in Joh.12:35-36 ~ Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. 36Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.” Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.  Jesus verwys hier na Homself as die Lig.

Hierdie Lig is ’n verwysing na Jes.49:6 waar daar ook oor die Lig gepraat word ~ Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring nie; Ek maak jou ’n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik. Asook 1Joh.2:8 ~ Tog is dit ook ’n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe. Dat dit werklik so is, is te sien in Jesus en ook in julle, want die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds  – ’n duidelike verwysing dus na Jesus die Christus.

Ons het ook verlede week gesien dat Jesus, die Woord genoem word en hier in v.14 sê Johannes baie duidelik, dat die Woord – Jesus by ons kom woon het, want dit is net Hy wat enersyds die Woord is, maar andersyds ook Seun van die Vader is.

4.    ONS GETUIENIS:
Johannes getuig dus van Jesus Christus die Verlosser wat gekom het om Homself aan ons te openbaar, sodat ons deur die genade van die Vader en die werking van die Heilige Gees, in Hom kon glo en sodoende wederbaar kon word en kinders van God kon word.

Wat baie belangrik is t.o.v. Johannes se getuienis en waarvan ons baie duidelik kennis moet neem, is die feit dat hy onomwonde verklaar dat hý nie die Lig is nie (v.8), maar wel Jesus Christus, trouens hy sê in Joh.1:27 (O.A.V.) ~ ...dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie.  Hierdie feit is belangrik en ons moet deeglik daarvan kennis neem, sodat ons nie sal begin roem in onsself wanneer ons suksesvol getuig van Jesus nie, of wanneer mense onder ons bediening tot bekering sou kom nie.  Net soos wat Johannes maar net instrument in die hand van die Here was, net so is ons ook as ons "suksesvolle" bedieninge het, of as ons "suksesvol" getuig van Hom.  Wanneer ons in onsself sou begin roem, sal die Here ons getuienis stop sit.

Tweedens moet ons besef dat Johannes nie net ’n lewende getuienis was nie.  M.a.w. hy het nie net ’n heilige lewe gelei en sodoende van Jesus getuig deur sy optrede, spreke en voorbeeld nie.  Nee, hy het getuig.  Die woord "getuig" is in die Grieks, μαρτυρέω [martureo /mar·too·reh·o/] en beteken letterlik om te getuig t.o.v. toekomstige gebeure en ons kan tog nie oor toekomstige gebeure (soos in die Woord verstrek) getuig, as ons dit nie mondelings doen nie.  Die Here Jesus het self ook in Matt.28:20 vir ons gesê dat ons nie stil moet bly nie en Paulus sê in Rom.10:14 ~ Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?  En hierdie woord "preek" (κηρύσσω / kēryssō) verwys in die Grieks na iemand wat die Evangelie van Christus proklameer of uitdra, met die doel om te oortuig – dus nie net leraars nie.  Ons, wat onsself Christene noem, het dus almal ’n verantwoordelikheid om te getuig – om die Blye Boodskap uit te dra.  

Derdens moet ons getuienis van so aard wees dat die eindresultaat by die persoon teenoor wie getuig word, geloof in Jesus Christus tot gevolg sal hê.  Johannes ...moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom (1:7).

5.    DIE DOPER SE GETUIENIS:
Ons moet egter ook na ’n ander kardinaal belangrike gedeelte in ons Skriflesing kyk en dit is vv.12-13, maar net voor ons daar kom, net enkele opmerkings oor vv.10-11. 

Johannes praat hier van mense wat Jesus sou verwerp.  Wie is hierdie mense?  Ons kan hierdie mense in basies twee groepe verdeel, nl. die Jode wat bly vaskleef het aan die ou verbond – hulle wat Jesus verwerp het en vandag nog steeds uitsien na die koms van húlle messias, maar hom nooit sal vind nie.  Aan die anderkant vind ons die heidene wat met Jesus, óf deur Sy algemene openbaring (die getuienis van die skepping), óf Sy spesifieke openbaring (Evangelisasie; die Woord, God se spesifieke openbaring van Homself, ens.) gekonfronteer word en Hom nogtans verwerp as Verlosser.  Joh.3:19 verduidelik dit vir ons baie mooi ~ En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg.

Kom ons kyk egter na vv.12-13.  In die Johannes Evangelie vind ons ses vorme van getuienis:
·           Eerstens is daar die getuienis van Jesus Christus self – Hy sê in Joh.8:14 ~ Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie.
·           Tweedens sien ons in Joh.8:18 dat God die Vader ook getuig en die N.I.V. stel dit baie mooi en duidelik ~ I am one who testifies for myself; my other witness is the Father, who sent me.  Ook 1Joh.5:9 ~ Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun.
·           Die derde Persoon wat oor Jesus getuig, is die Heilige Gees ~ Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig (Joh.16:13-14).
·           Ons weet ook dat die Woord getuig oor Jesus Christus.
·           Ons sien ook hier in ons Skriflesing dat Johannes die Doper spesifiek geroep en gestuur was om van Jesus te getuig.
·           En laastens is daar die getuienis van gewone gelowiges, soos jy en ek.

Waarom noem ek hierdie ses voorbeelde van getuielewering?  Omdat ons bemoedig en gemotiveer moet word daardeur, want die Here ag jou getuienis waardevol genoeg om deel uit te maak van die vyf ander monumentale vorme van getuienis teenoor die wêreld oor die Persoon en werk van die Here Jesus Christus.

Hier in vv.12-13 vind ons dan Johannes die Doper se getuienis aangaande Jesus die Messias en wat hy hier in enkele woorde sê, is in werklikheid ’n mondvol.

In die eerste 9 verse van Johannes sien ons hoe dat die heerlikheid van Jesus Christus besing word, maar in skrille kontras daarmee vind ons terselfdertyd die mens se verwerping van die Verlosser; die Logos; die Woord; die Lig – Jesus Christus.  Die mensdom in geheel het Hom verwerp en die Jode wat van beter moes geweet het, a.g.v. die feit dat hulle tot nou "volk van God" was, het Hom ook verwerp.  Vir wie het Hy dan gekom?  Waarom getuig die Doper dan – is alles nie puur verniet nie?  Nee, daar is goeie nuus saam met die duistere prentjie wat Johannes skilder – daar was tóg ’n klein groepie mense wat uiteindelik, deur die eeue heen tot derduisende sou groei, wie Jesus nié verwerp het nie.  Johannes noem hulle in v.12 ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.  Daar was dus tog ’n groep mense wat Hom nie verwerp het nie - ... dié wat in Hom glo!

Hierdie vers is sekerlik een van dié verse in die Bybel – iets soos ’n goue sleutel wat die res van die Skrif en die Ewige Lewe oopsluit vir diegene wat deur God uitverkies is!

Die kruks van hierdie vers lê opgesluit in die tweede gedeelte waar ons sien dat God die mense wat in Hom glo, die reg gee om Sy kinders te word.  Die implikasie van hierdie uitdrukking is dus dat die mens nie uit eie wil kan of wil glo in Jesus nie.  God besluit wie Hy gaan toelaat om in Hom te glo.  Die mens kan dus nooit self die inisiatief in hierdie "proses" neem nie – nee, God neem die inisiatief!  Matt.22:14 sê ~ Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.  En Paulus sê in Ef.1:4 ~ So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.  Petrus sê in 1Pet.1:2 ~ Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.  God kies dus uit, wie Hom gaan dien en in Hom glo en dan eers, nadat die Heilige Gees dit in ons harte gewerk het, glo ons in Jesus Christus. 

Ons moet dus besef dat geen mens uit homself weergebore kan word nie – dit is presies die fout wat Nikodemus begaan het toe hy vir Jesus in Joh.3:4 gevra het ~ Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?  Nee, dit is waarom v.13 vir ons sê ~ Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.  N.a.v. hierdie vers sien ons dus dat ons nie as gelowiges, gebore kan word nie – ons word nie as goeie mense gebore nie; ons kan nie deur die kerk gered word nie; ons kan nie op grond van ons ouers se geloof gered word nie; ons kan nie op grond van ons eie besluit gered word nie – net God kan ons red!

Joh.1:12 sê egter ook ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo.... Ons moet Hom dus ook aanneem en ons moet ook glo – dit vra dus ook optrede van ons kant – God en die mens werk dus gelyk in sy of haar wedergeboorte.  Of anders gestel, God werk nooit buite die mens om nie – daar is tog nêrens enige gelowiges wat deur God gered is en nie in Hom glo nie; wat nié sy lewe onder God se beheer plaas nie; wat nié van Jesus Christus getuig nie; wat nie oorloop van vreugde en dankbaarheid teenoor God vir die genade wat Hy in die gelowige se lewe uitgestort het, ten einde hom te red nie – die gelowige moet ook glo!

6.    AFSLUITING:
Die wêreld het op een van twee maniere gereageer op die Lig, Jesus Christus – sommige het eenvoudig hulle rug op Hom gedraai, terwyl ander Hom in geloof ontvang het.  Hieruit blyk dit dus baie duidelik, dat wanneer mense se pad met dié van Jesus Christus die Lig kruis, hulle nooit meer dieselfde is nie, want Jesus konfronteer hulle met ’n keuse – óf vir Hom, óf teen Hom!  Niemand wat met Jesus gekonfronteer word, kan Hom ignoreer nie – jy móét ’n keuse maak en hierdie keuse het geweldige implikasies tot gevolg, trouens dit het ewige – letterlik, ewige implikasies – van die oomblik dat jy die keuse maak tot in ewigheid.  Watter keuse maak jy?  Watter keuse maak jy vandag, want as jy nog nooit vantevore met Hom gekonfronteer is nie, word jy nou op hierdie oomblik met Hom gekonfronteer – Kies jy vir Hom, of kies jy teen Hom?  En as jy vir Hom kies, of gekies het, moet jy besef dat daar nêrens in die Skrif sprake is van gelowiges wat swyg oor hulle kindskap nie – hulle getuig daaroor en hulle getuig voortdurend daaroor, omdat hulle nie genoeg kan kry van God se genade in hulle lewe en die feit dat Hy hulle uitverkies het nie, daarom dat Rom.10:9-10 sê ~ As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.  Laat ons dan saam met die Woord en saam met Johannes die Doper ook getuig van die ware Verlosser en Messias – die Lig, Jesus Christus!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 17 Julie 2011