Monday, June 6, 2011

Openbaring Ontsluit - 36 (Die Wynsak en die Wynpers - 01)

1.     INLEIDING:
Ons het al baie keer van die woord "Apokalips" gehoor – hierdie woord word veral baie gebruik in die "dispensasie- romanskrywers" ("dispensationalist") Tim LaHaye en Jerry B. Jenkins se "Left Behind" romanreeks [lw.:  Ek beveel hierdie boeke hoegenaamd nie aan nie, omdat dit vanuit ’n "dispensasie" ("dispensationalist") agtergrond, of ’n pre-millennialistiese agtergrond geskryf is en derhalwe onbybels is.  Hierdie romanreeks was en is niks anders as ’n geldmaakstorie nie – so ongeveer 5 jaar gelede is daar al 70 miljoen kopieë van hierdie boeke verkoop en die rolprent wat op hierdie boeke gebaseer is, het op een aand (21 Okt. 2005) op 3200 skerms in die V.S.A. vertoon!  So tussen hakies, daar het nie te lank terug nie, ’n soortgelyke roman die lig gesien wat ek self nog nie gelees het nie, maar dit kan dalk die moeite werd wees om dit te lees, aangesien dit vanuit ’n postmillenialistiese agtergrond geskry is – die boek se titel is "The Last Disciple" en is geskryf deur ene Hank Hanegraaff en Sigmund Brouwer – verkrygbaar by – sien ook "The Last Sacrifice" deur dieselfde outeurs:

Hoewel ek titel "Die Wynsak en die Wynpers" vir hierdie studie oor Openb.14 gegee het, kon ’n mens ewe maklik die titel van "Die Vrug van God se Wraak" aan hierdie gedeelte toeken, want ons gaan in hierdie gedeelte sien hoe dat God, Sy wraak gaan uitstort oor ’n afvallige nasie, en wel tot so ’n mate dat bloed regoor die land van Israel gaan vloei.  Dit is ’n harde en dalk selfs wrede verhaal, maar dit is terselfdertyd ’n baie leersame en opbouende verhaal.  Hierdie gedeelte skets vir ons die verhaal van ’n volk wat hulleself in ’n geweldig bevoorregte posisie bevind het, deurdat God aan hulle, die geleentheid geskenk het, om gered te kon word – trouens hulle het bekend gestaan as God se volk!  Dit was dié volk met wie God in ’n unieke en besondere verbond getree het, maar in plaas daarvan het hulle uiteindelik God se wraak ervaar!  Ons gaan dus hier sien (en mag dit vir ons tot ’n tydige waarskuwing dien) wat die implikasies daarvan is, indien iemand (of ’n volk), God se verbond verwerp.  Daar is egter ook ’n element van groot vreugde wat in hierdie hoofstuk vir ons uitgelig word, want ons sien Jesus Christus wat aan die regterhand van God die Vader sit en Hy heers en regeer oor die ganse heelal – Sy Koninkryk. 

Ons sal egter ook weer sien hoe dat ’n groepie getroue dienaars van God gered en gelei word, te midde van die uitstorting van God se wraak op hul volksgenote.  

Openb.14 is ook iets van ’n tussenpouse-hoofstuk, voor ons met die "bak-", of "skaal-" oordele van hoofstukke 15-16 begin.

2.    VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
·           Openb.14:14 ~ Toe het ek ’n wit wolk gesien. Op die wolk het daar Iemand soos die Seun van die Mens gesit. Hy het ’n goue kroon op sy kop gehad en ’n skerp sekel in sy hand.  Hierdie laaste gedeelte van Openb.14 begin met ’n gesig van dié Een wat op die punt staan om die oesproses van die land van Palestina te begin en iets van die detail van hierdie oesproses word vir ons in hierdie vers weergegee.  Johannes sien Iemand op ’n wit wolk, wat vir hom soos die Seun van die Mens, nl. Jesus Christus, lyk.

Wanneer ons 'n beskrywing in die Woord kry van "Een wat op die wolke is", word dit altyd gesien as ’n beskrywing van Christus en dit is hierdie gesig wat Johannes sien – dit is soortgelyk aan Daniël se gesig wat hy in Dan.7:13 gesien het ~ My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 

Hy sien die Here Jesus op ’n wit wolk met ’n goue kroon op Sy kop.  Die "goue kroon" is natuurlik simbool van vorstelikheid (koningskap).

·           Openb.14:15-20 ~ ’n Engel het uit die tempel uitgekom en hard geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die tyd het gekom om te oes. Die aarde is ryp vir die oes.”  16Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel ingesteek op die aarde, en die aarde is afgeoes. Toe het daar ’n ander engel uit die tempel wat in die hemel is, uitgekom. Hy het ook ’n skerp sekel gehad. 18Nog ’n ander engel het van die altaar se kant af gekom. Hy het mag oor die vuur gehad en het met ’n harde stem geroep na die engel wat die skerp sekel het, en vir hom gesê: “Steek jou skerp sekel in en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want sy druiwe het ryp geword.” 19Die engel het toe sy sekel op die aarde ingesteek. Hy het die wingerd op die aarde afgeoes en die oes in die groot parskuip van God se toorn gegooi. 20Die parskuip, buitekant die stad, is getrap. Uit die parskuip het daar bloed uitgekom wat tot aan die tooms van die perde geraak en sestien honderd kilometer ver gestrek het.  Hier word twee insamelings ("harvests") beskryf.  Die eerste word hier in vv.15-16 beskryf en die tweede in vv.17-20.  Vv.15-16 beskryf vir ons die redding van God se uitverkorenes terwyl die insameling soos beskryf in vv.17-20 beskryf God se oordeel oor diegene wat Christus as Verlosser verwerp het. 

Hier in die tweede gedeelte word ’n pragtige beeld vir ons gegee waar diegene wie ingesamel word, vergelyk word met druiwe wat geoes word en in "die parskuip van God se toorn" gegooi en getrap word.  Hierdie staan in skrille kontras met die beeld wat Jesus in Matt.9:14-17 gebruik het ~ In dié tyd het die volgelinge van Johannes na Jesus toe gekom en gevra: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas glad nie?”  15Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan treur solank die bruidegom nog by hulle is? Maar daar kom ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas.  16“Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want die nuwe lap skeur die klere nog verder, en die gat word net groter.  17“’n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy altwee.” 

Die vers waarop ek u aandag spesifiek wil vestig, is dié van v.17 ~ waar Jesus praat van "wyn" en "wynsakke".  In Jesus se dae was druiwesap en wyn in wynsakke geberg en indien nuwe wyn (druiwesap) in nuwe wynsakke gegooi sou word, sal die wynsak uitsit of rek, namate die sap fermenteer en wyn word.  Indien hulle egter nuwe wyn in ’n ou sak wat reeds gerek was, sou gooi, sou die ou sak, a.g.v. die fermentasieproses, uiteindelik bars, want die vel sou teveel rek.  Dit impliseer dus dat net nuwe wynsakke gebruik sou word vir nuwe wyn.

Wanneer die Here Jesus van ’n wynsak praat, verwys Hy na Sy Bruid, die kerk.  En die wyn verteenwoordig die Nuwe Verbond.  Die beeld wat dus gebruik word, is dié van gelowiges wat onder die Nuwe Verbond gered word en in nuwe wynsakke (die kerk) geplaas word.  Diegene wie egter Christus verwerp (soos hier in Openb.14) word in God se wynpers gewerp – die wynpers van God se wraak ("wrath").  Daar is dus ’n baie duidelike onderskeid tussen ’n wynpers en ’n wynsak.  Daar moet ook op gelet word, dat diegene wie in die wynpers is, nie God se wraak kan ontkom nie, maar diegene wie in die wynsak is, word egter gevrywaar van God se wraak.  Mense is dus óf in die wynpers, óf in die wynsak – daar is geen alternatief nie!  Wat meer is, in watter een van die twee jy jou ook al bevind, jy is daar omdat God dit in Sy soewereiniteit, so gewil het, want Hy is die Here van die oes (Luk.10:2). 

Ons sien in v.1 van hierdie hoofstuk, dat Christus, die Lam genoem word.  Daar word nagenoeg 26 keer in Openbaring na Hom as die Lam verwys.  Dit is ’n pragtige beeld wat van Hom geskilder word as Hy die Lam genoem word, want dit spreek van Sy onuitspreeklike liefde vir Sy kudde – die gelowiges wat aan Hom behoort.  Die gevaar bestaan egter en dit is ongelukkig ’n realiteit by baie mense, dat daar net aan Christus op ’n sentimentele wyse gedink word (daarom dat so baie sal sê, maar God sal hom/haar nie in die hel werp nie, want Hy is dan ’n God van liefde, ens.).   Ja, Hy is die Lam wat sonde vergewe; wat liefdevol is en wat red, maar Hy is ook ’n Lam met ’n Kroon.  Dit is baie goeie nuus vir diegene wat in Hom gered is, maar dit is baie slegte nuus vir diegene wat ongered is, want hulle gaan verseker deurloop onder die "Gekroonde Lam" se ewige oordeel.  Daar is egter in Jesus Christus, hoop vir jou indien jy ongered is.  Indien jy glo in Christus as Saligmaker en jy bely jou sonde en bekeer jou, sal die wraak van God van jou afgeweer word.

Ons gelese gedeelte uit Openb.14 is ook baie duidelik daaroor dat dié Een wat in beheer staan van die insameling, die Lam met die Kroon op Sy kop is.  Dit is daarom nie ons taak om te onderskei tussen die wat "in wynsakke gegooi gaan word" en "diegene wat in die wynpers gegooi" gaan word nie.  Ons kan m.a.w. nie met sekerheid sê wie aan God behoort en wie nie – daardie kennis behoort aan die Drie-Enige God alleen.  Ons moet maar net die gelykenis van die onkruid in gedagte hou ~ Hy het nog ’n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ’n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’28Hy antwoord hulle: ‘Dit is ’n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’29Nee, sê hy, as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe."...   36Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”  37Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. 38Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; 39die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele. 40“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. 41Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, 42en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. 43Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.  “Wie ore het, moet luister” (Matt.13:24-30; 36-43).  Vanuit ons perspektief, lyk die onkruid baie dikwels soos die graan en daarom moet ons uiters versigtig wees om nie te gou te verklaar dat die een of daardie een gered of ongered is nie.

Ons het reeds gesê dat daar twee insamelings is, nl. dié van die gelowiges en die van die ongelowiges.

In vv.14-15 word daar verwys na die Seun van die Mens wat met ’n sekel in die hand sit.  Die eerste keer dat daar na ’n sekel verwys word in die Woord, is in Deut.16:9 ~ Sewe weke moet jy tel; vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan word, moet jy sewe weke begin tel (O.A.V.).  Hier in Deuteronomium word die sekel geassosieer met die Ou Testamentiese Pinksterfees – dit was die Fees van die "Eerste Vrugte" wat aan die begin van die jaarlikse oestyd in Israel gehou is [sien my preek:  "Die Feestye van God se Volk – 03 (Die Pinksterfees)" – oor hierdie onderwerp – verkrygbaar op my BLOG by http://diewaarheidmaakvry.blogspot.com, gedateer 17 April 2011].  Die eerste opbrengs van die lande ("Eerste Vrugte" – "first fruits") was God se geskenk aan die landbouers, met die belofte dat daar nog meer vrug van die lande af "aan die kom" is vir God se getroue dienaars.

Dit is belangrik om daarop te let (ons het dit al vantevore gesien), dat die woord "aarde" in v.15, na Palestina verwys.  Waarom is dit belangrik om hiervan kennis te neem?  Want dit is vir ons ’n onteenseglike aanduiding dat die eerste oes wat ingebring gaan word, vanuit Israel sou kom.

Ons het ook reeds die 144 000 waarvan hier ter sprake is, vantevore in Openb.7:1-8 en 14:1 "ontmoet" en die vermelding van die 144 000 hier is bloot net ’n verduideliking vir ons oor hoe hulle "ingesamel" is – hulle is geoes of ingesamel deur die verheerlikte "Oes-insamelaar", of "Maaier", die Here Jesus Christus. 

Dit mag vir ons vreemd voorkom dat die eerste "opdrag" aan Jesus om die oes in te samel, van ’n engel kom, want sekerlik kan ’n engel tog nie opdragte gee aan Christus wat die Goue Kroon dra nie.  Waarom sê die engel dan hier aan Hom om die sekel in te steek en die oes van die land af te haal?  Daar is twee belangrike Evangelie gedeeltes wat lig op hierdie vrae kan werp:
·           Joh.4:31-38 ~ Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog ’n stukkie.” 32Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” 33Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?” 34Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. 35Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.” 
·           Matt.9:35-38 ~ Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak. 36Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie. 37Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar
die arbeiders min. 38Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Al het bg. twee gebeurtenisse by twee verskillende geleenthede plaasgevind, vind ons hier een sentrale tema.  In die eerste gedeelte verseker Jesus Sy dissipels dat die "landerye" gereed is om geoes te word.  Wat Jesus dus hier vir Sy dissipels sê (as Hy dit vir hulle sê, impliseer dit tog dat dit op daardie oomblik in die geskiedenis en tydens hul bediening, die geval is), is dat daar ’n groot getal mense is wat ronddwaal op soek na die Evangelie.  Die tweede gedeelte pas pragtig aan by die eerste.  In die tweede gedeelte vergelyk Jesus, Evangelisasie en sending met ’n oes.  Hy voeg by deur te sê dat die oes groot is, maar dat die arbeiders in die veld of te wel, op die land, min is.  En dan voeg Hy ’n baie belangrike opdrag by ~ Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.

Ons het vroeër in Openbaring gesien dat die afgestorwe heiliges wat ’n marteldood gesterf het, uitgeroep het tot God ~ Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde? (Openb.6:10).  Die Here het vir hulle gesê dat hulle nog ’n rukkie langer moes wag, maar uiteindelik het Hy hulle gebede verhoor.  Dit wat hier in Openb.14 geskets word, is presies dieselfde.  Die "opdrag" van die engel, is in werklikheid die gebede van die heiliges wat hy aan Christus oordra.  Hulle bid dat daar arbeiders in die oes gestuur sal word en weereens sê Christus:  "Net nog ’n klein rukkie, want die oes sal binnekort ingebring word".  Al laat Christus Hom nie hiet en gebied deur enige iemand nie (ook nie engele), luister en hoor Hy wel ons gebede.  Die kerk het vir 40 jaar gely, maar nou kan die oes ingebring word.

Daar bestaan talle verklarings vir die oes wat ingebring moet word.  Watter standpunt jy ook al mag aanhang, daar is een ding wat soos ’n paal bo die water staan – daar gáán ’n oes


bymekaar gemaak word.  Maar kom ons oorweeg egter twee moontlike verklarings hiervoor:
·           Hierdie kan ’n prentjie skilder van Christus wat vir ’n tydperk van 40 jaar tot en met die verwoesting van Jerusalem in 70n.C., die oes ingebring het.  Die 144 000 word hier in 14:4, die "eerste vrugte" genoem.  Die sekel, soos reeds gesê, was die eerste keer vermeld in Deuteronomium en daar is die sekel geassosieer met die Ou Testamentiese Pinksterfees en die eerste opbrengs van die oes.  Daarom kan die oes van 14:15-16, ’n beeld wees van die redding van die eerste geslag kerklidmate, met die belofte dat nog vele meer na 70 n.C. gaan inkom
·           ’n Tweede moontlike verklaring is dat dit ’n prentjie skilder van ’n groot hoeveelheid mense wat in Palestina gered word en dan bewaar word van God se oordeel wat oor Jerusalem losbrand.

Die verklaring vir die beeld van "die oes wat ingebring" word, kan óf die van ’n menigte gelowiges wees wat vanuit die laaste geslag van die Joodse-era (die einde van die Ou Verbond) gered word, óf dit is ’n beeld van ’n menigte van God se uitverkorenes wat beskerm word gedurende die jare net voor, asook gedurende en net na die val van Jerusalem in 70 n.C.  Watter verklaring ook al die korrekte, dit is en bly ’n heerlike en wonderlike beeld van God se genade in die lewe van ’n menigte.  God se oordeel sál op een of ander stadium losbrand teen die mensdom, maar daar sál ’n menigte wees wat ook hierdie oordeel sal vryspring, nl. hulle (ons) wat deur God se uitverkiesende genade in Christus Jesus ingeplant is! 

Ons sal D.V. volgende week voortgaan met die res van ons verklaring van Openb.14:15-20.


[1]Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging)  Sondagaand 05 Junie 2011