Sunday, June 12, 2011

God se Offerwette - 04 (Vredeoffers)

1.     SKRIFLESING: 
Lev.3:1-17 ~ “As iemand ’n maaltydoffer wil bring en hy wil dit aanbied uit sy beeste, kan hy vir die Here ’n bul of ’n koei aanbied, maar sonder liggaamsgebrek. 2Die man sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit by die ingang van die tent van ontmoeting. Die Aäronitiese priesters sprinkel dan die bloed rondom teen die altaar. 3Dan bied hy uit die maaltydoffer vir die Here ’n vuuroffer aan, bestaande uit die vet wat die binnegoed bedek, die vet aan die binnegoed self, 4die twee niere met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niere verwyder word. 5Die Aäroniete verbrand dit op die altaar, bo-op die brandoffer op die vuur. Dit is ’n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.  6“As iemand vir die Here ’n maaltydoffer uit sy kleinvee wil aanbied, kan dit ’n ram of ’n ooi wees, maar sonder liggaamsgebrek.7“As die man ’n skaap as offer aanbied, bring hy dit in die teenwoordigheid van die Here, 8sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit daar voor die tent van ontmoeting. Die Aäronitiese priesters sprinkel dan die bloed rondom teen die altaar. 9Dan bied die man uit die maaltydoffer vir die Here ’n vuuroffer aan, bestaande uit die vet, naamlik die hele vetstert, teen die stuitjie afgesny, die vet wat die binnegoed bedek, al die vet aan die binnegoed self, 10die twee niertjies met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niertjies verwyder word. 11Die priester verbrand dit dan op die altaar. Dit is voedsel, dit is ’n vuuroffer vir die Here.12“As die offer ’n bok is, bring die man dit in die teenwoordigheid van die Here, 13sit sy hand op die dier se kop en slag dit daar voor die tent van ontmoeting. Die Aäroniete sprinkel dan die bloed rondom teen die altaar. 14Dan bied die man uit sy offer vir die Here ’n vuuroffer aan, bestaande uit die vet wat die binnegoed bedek, al die vet aan die binnegoed self, 15die twee niertjies met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niertjies verwyder word. 16Die priester verbrand dit op die altaar. Dit is voedsel, dit is ’n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. Al die vet is die Here s’n.17“Dit is ’n vaste voorskrif vir julle nageslag, waar julle ook al woon: julle mag geen vet of bloed eet nie.”

2.     INLEIDING:
God het aan die Israeliete verskeie offeropdragte gegee wat hulle in getrouheid en opregtheid nagekom het.  Die eerste opdragte t.o.v. hierdie offers word vir ons in Levitikus weergegee.  Hierdie eerste drie offers staan ook bekend as "welriekende offers" en die volgende groep offers staan bekend as soenoffers.

In Lev.1 het God opdrag gegee t.o.v. die Brandoffers.  Ons het reeds gesien dat die primêre klem met die brandoffers, geval het op reiniging en versoening.  Deur die offer is die persoon gereinig van sy sonde en kon hy weer gemeenskap met God ervaar.

In Lev.2 het ons gesien, dat die aanbidder ’n spysoffer as geskenk aan God gebring het en dat hy altyd die heel beste van die eerste oes na die tempel gebring het om aan God geoffer te word, trouens God het aan hulle opdrag gegee om dit so te doen, want Hy is nét tevrede met die heel beste wat ons kan bied.  Hierdie feit impliseer dan o.a. dat die aanbidder sy dank teenoor God kom uitspreek het, vir die gawe van die lewe en dit sluit veral die opbrengs van die oes in.

En nou hier in Lev.3 vind ons ’n uiteensetting van die volgende offer waartoe God Sy Verbondvolk oproep, nl. vredeoffers.  Daar bestaan verskillende benamings vir hierdie derde offer.  Die N.A.V. praat bv. van "die maaltydoffer"; die O.A.V. noem dit "die dankoffer"; die N.I.V. praat van "the fellowship offering"; en die E.S.V., die N.A.S.B., die K.J.V. asook die N.K.J.V. praat van "the peace offering".  Daar bestaan dus heelwat verwarring as dit kom by die naam of titel van die derde offer soos omskryf in Lev.3.
Die Hebreeuse woord wat vir ’n maaltydoffer gebruik word, is שָׁלֵם [shalem /shaw·lame/].  "Shalem" is ’n selfstandige naamwoord wat in die meervoudsvorm geskryf is en beteken letterlik om vrede te ervaar, of om in ’n vredesverbond te staan met iemand, of om in eenheid te staan met iemand.  Die meer bekende Hebreeuse woord vir ons, wat van hierdie woord afgelei word, is שָׁלֹום [shalowm, shalom] wat ook "vrede" beteken.  Hierdie is egter ’n baie moeilike Hebreeuse woord om te vertaal en daar is baie voorstelle oor hoe dit vertaal kan word, maar ’n meerderheid van Hebreeuse kenners reken dat dit eerder vertaal moet word met “vrede” en ek stem hiermee saam en daarom wil ek ook eerder praat van “vredeoffers”, eerder as "maaltyd" of “dankoffers” – “maaltydoffers” is in elk geval verwarrend, veral as ons kyk na die “spysoffers” van Lev.2.

3.    DIE VREDEOFFER:
Die vredeoffer was ’n offer wat gevier was saam met die mense wat ook op daardie stadium saam met die aanbidder in die tempel was.  Dit was ’n vreugdevolle tyd van feesvieringe in die teenwoordigheid van God en dit is moontlik gemaak deur ’n bloedoffer wat versoening tussen die aanbidder en God bewerkstellig het.  Dit gaan egter ook gepaard met seën wat die aanbidder van God ontvang.

Hierdie offer was waarskynlik die mees algemene offer van al die offers en juis as gevolg van die gemeenskaplikheid daarvan – was dit ’n ware fees!  Die aanbidder kon enige van, óf ’n bul of ’n koei sonder gebrek offer (v.1), óf ’n gebreklose skaapram of -ooi uit sy kleinvee (v.6), óf ’n bok (v.12).

Nadat die vereiste ritueel, waar die priester die offerdier se bloed om die altaar gesprinkel het, afgehandel was, is die offer as volg verdeel:  
·           In die geval van ’n bul of koei: ... die vet wat die binnegoed bedek, die vet aan die binnegoed self, 4die twee niere met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niere verwyder word (vv.3-4; vv.9-10), word as ’n brandoffer op die altaar geplaas en heeltemal verbrand. 

In die geval van kleinvee (skape of bokke), is ... die vet, naamlik die hele vetstert, teen die stuitjie afgesny, die vet wat die binnegoed bedek, al die vet aan die binnegoed self, 10die twee niertjies met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niertjies verwyder word (vv.9-10), heeltemal verbrand. 
·           Nadat die vet en die niere, ens. geoffer is, word die res van die vleis onder die teenwoordiges in die binnehof van die tempel verdeel om geëet te word.  Hierdie handeling vind ons nie in Lev.3 opgeteken nie, maar wel in Lev.7:32-34.  Daar sien ons dat die priester, die regter boud en bors ontvang as sy deel om te eet, terwyl die res van die vleis gedeel word met die res van die mense wat ook op daardie stadium in die tempel was.  Dit was uit erkentenis van God se goedheid aan die aanbidder en daarom deel hy hierdie dankbaarheidsoffermaal met ander – ryk en arm.  Voorwaar ’n feestelike geleentheid – almal eet saam!  
·           Met die vredeoffer, moes die aanbidder self die dier voor die ingang van die tabernakel/tempel slag, terwyl die priester die bloed opvang in ’n gewyde skottel of bak, waarna hy dit met ’n spesiale ritueel, teen die kante van die altaar sprinkel.  Wanneer die aanbidder die offerdier slag het hy ook hier, soos met die brandoffer, sy hand op die dier se kop geplaas terwyl hy die dier se keel afsny en dit is gedoen om God se goedkeuring van die offerdier te simboliseer.  Hierdie was ’n baie emosionele oomblik vir die aanbidder, want hy het besef dat as gevolg van sy sonde, dit eintlik sý bloed is wat teen die altaar gesprinkel moes word en sý liggaam wat so voor God in mekaar moes sak en sterf en dat hy nié God se goedheid in sy lewe verdien nie.  Die offerdier se bloed het dus die aanbidder se lewe verteenwoordig.  Hierdie tema, nl. dat ’n mens slegs in die teenwoordigheid van God kan kom en gemeenskap met Hom kon hê, as daar ’n lewe gegee word, word oor en oor vir die volk geleer – slegs na ’n bloedoffer kan die mens God se genade ontvang, of anders gestel:  God se genade in ruil vir ’n plaasvervanger en niks anders as dit sal God tevrede stel nie en kan daar nie gemeenskap wees nie (weereens sien ons hier ’n pragtige heenwysing na Christus se soendood wat heelwat later tydens die aanbreek van die nuwe verbond sou plaasvind).

Hierdie offer (die vredeoffer) is volgens 3:5, nes die vorige twee offers, deur die Here aanvaar as ’n welriekende offer. 

Daar was verskeie geleenthede waartydens vredeoffers aan God gebring is.  Een so ’n geleentheid was om as dankoffer te dien (vandaar die O.A.V. se vertaling van “dankoffer”).  By hierdie geleentheid het die aanbidder God in die openbaar gedank vir alles wat God vir hom gedoen en beteken het.  So ’n offer het dan gewoonlik gepaard gegaan met ’n ongesuurde ring-brood, wat met olie geknie is, of ’n ongesuurde roosterkoek wat met olie gesmeer is, of ’n deeg-mengsel vir ’n ringbrood, wat met olie geknie is (Lev.7:12-13).  Die woorde wat die aanbidder geuiter het tydens hierdie offer, was gewoonlik ’n aanhaling uit ’n psalm.  Ons vind ook opdrag vir die aflê van hierdie tipe vredeoffers in Ps.107:21 ~ Hulle moet dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig.

’n Tweede geleentheid waartydens vredeoffers gebring is, was wanneer die aanbidder ’n gelofte teenoor die Here kom aflos het.  ’n Voorbeeld hiervan is Lev.7:16-18 ~ As iemand ’n offer aanbied om ’n gelofte na te kom of as hy ’n ander vrywillige offer aanbied, word die vleis dieselfde dag geëet. Wat oorbly, mag ook nog die volgende dag geëet word, 17maar wat op die derde dag nog oor is, moet verbrand word. 18As daar tog op die derde dag van die maaltydoffervleis geëet word, word dit nie meer as offer aanvaar nie en tel dit nie in die guns van die offeraar nie. Die offervleis is dan onrein, en wie daarvan eet, is skuldig.  Volgens 1Sam.1:24-28 het Hanna ’n driejarige bulletjie [in die grondteks staan: “drie bulle”, maar as ons na 1Sam.1:25 kyk sien ons dat Elkana-hulle ’n bul (enkelvoud) geslag het en daarom is v.24 waarskynlik korrek vertaal wanneer daar staan ’n driejaaroud bul – die Dooie See rolle lees ook "driejaaroud"...], sestien kilogram meel en ’n kruik wyn na die tempel gebring, ter betaling van haar gelofte, nadat sy die Here gevra het om ’n seun aan haar te skenk en die Here op Sy beurt, Samuel aan haar geskenk het.  

Benewens die verpligte twee geleenthede waartydens vredeoffers gebring moes word, het dit ’n aanbidder vrygestaan om ter enige tyd ’n vrywillige vredeoffer te bring.  Hierdie geleenthede was bloot net ’n uitdrukking van algemene danksegging en die uitspreek van die aanbidder se liefde teenoor God.  Met die bring van hierdie vrywillige offers, was die vereistes dieselfde as vir die ander twee verpligte vredeoffers – die dier moes ook sonder gebrek wees, ens.

Die primêre klem met die vredeoffers het geval op die feit dat die aanbidder in ’n vredevolle verhouding met God gestaan het.  Hierdie offers het dus die boodskap uitgestuur, dat daar niks geskort het met die aanbidder se verhouding jeens God en natuurlik andersom ook nie.  Hierdie vredeoffers was derhalwe die hoogtepunt van die Israeliete se aanbidding van God.

Wat opval in hierdie vredeoffers was die gedeelte wat afgestaan en geoffer is aan God, nl. ...die vet wat die binnegoed bedek, die vet aan die binnegoed self, die twee niere met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niere verwyder was (vv.3-4).  Die simboliek wat geheg word aan hierdie spesifieke dele van die offerdier, dui op die feit dat die aanbidder nét die beste vir die Here gee, maar ook dat hy sy totale wil en lewe aan die Here oorgee.  Hierdie offer was dus ’n gewyde en heilige oomblik en die maaltyd wat daarmee gepaard gegaan het en wat gedeel was met die ander teenwoordiges, was dus ’n heilige en gewyde geleentheid en was nie ligtelik opgeneem nie, want benewens die feit dat die offer ’n gewyde geleentheid was, is die offer, wat absoluut deel was van die offerproses, gebring en geniet in die teenwoordigheid van die Here.  Die feit dat hierdie offer, of dan ’n deel daarvan, geëet kon word, impliseer dat hierdie offer nie die heiligste van die Israeliete se offers was nie.

’n Verdere aspek, is die feit dat die offer geëet moes word op  dieselfde dag as wat die offer gebring is (7:15), maar terwyl die vleis gebraai word, moes die aanbidder ’n openbare getuienis lewer van sy verlossing.  Ps.107:22 bevestig ook hierdie getuienis van die aanbidder ~ Hulle moet dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig.  Indien dit ’n vrywillige offer was, kon die vleis op dieselfde dag, of die volgende dag geëet word (7:16-18).

Ons het ook reeds gesien dat die bloed teen die hoeke van die altaar gesprinkel moes word.  Die rede waarom dit verbode was om die bloed van die offerdier te gebruik vir enige iets anders, was omdat dit gebruik moes word in die proses van versoening – ons vind hierdie opdrag in Lev.17:11-12 ~ Omdat die lewe van ’n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens. Omdat bloed versoening bring deur die lewe wat daarin is, 12beveel Ek elke Israeliet en elke vreemdeling by julle om géén bloed te eet nie.   Die verbod op die gebruik van die vet, was hoogs waarskynlik omdat vet geassosieer was met "net die beste" (dink aan die uitdrukking:  "die vettigheid van die land"), want ’n dier wat vet was, het getuig van versorging, voorspoed en gesondheid.  Deur die vet aan God te offer het die aanbidder dus getoon dat God hom goed versorg, maar dat hy ook net die beste aan God wil bied.

Waarom ’n groot gedeelte van die binnegoed ook verbrand is, is nie bekend nie, maar waarskynlik was dit omdat daardie gedeelte van die ingewande, vir die antieke nasies, die setel van die mens se emosies verteenwoordig het (m.a.w. die wil en ander verwante emosionele instinkte).  Deur hierdie gedeelte van die ingewande vir die Here te gee, het die aanbidder simbolies sy emosies en motiewe, asook sy wil, onder beheer van God geplaas.  So ’n verklaring maak sin, want die vredeoffers het gepaard gegaan met intens emosionele tye, want die volk het in hierdie tyd en tydens vrywillige vredeoffers, God geloof en geprys en allerlei geloftes afgelê en dit het gepaard gegaan met baie emosies – ook die slag van die offerdier (soos reeds gesien) was ’n emosionele gebeurtenis.

Die feit dat die voedsel van die offervleis afkomstig was, het van die vredeoffers ’n ware gemeenskapsmaal gemaak – ook en veral gemeenskap met God, want in feitlik al die ander offers wat gebring word, gee die aanbidder al die vleis of ander produkte aan die Here, maar met die vredeoffers is dit asof God ook weer teruggee aan die aanbidder en almal wat saam met hom is, om in Sy teenwoordigheid te geniet.  Dit toon ook die Here se genadige goedheid teenoor Sy kinders en die vrede wat daar bestaan tussen Hom en Sy verbondskinders.

Die mees bemoedigende aspek van die vredeoffers was egter die feit dat hierdie offer ’n aangename reuk vir God was – Hy hét dus die aanbidder se offer aanvaar en meer nog, dit was vir Hom ’n plesier en aangenaam om hierdie offer te kon ontvang van die aanbidder.

4.    AFSLUITING EN TOEPASSING:
As ’n mens die vredeoffers kon opsom, kan ’n mens dit mootlik as volg doen:  Diegene wie hul harte oorgee aan die Here en in Sy teenwoordigheid verskyn op grond van die feit dat ’n offerdier se bloed gestort is, mag jubel in die feit dat hy in vrede met God verkeer.

Daar bestaan verskeie ooreenkomste tussen die ou verbond se vredeoffers en die nuwe verbond, want dit is alles deel van die ontwikkeling en oorgang van belofte tot vervulling.

In beide die Ou- en Nuwe Testament word die gedagte beklemtoon dat die basis vir die verbond, vrede met God is.  Beide leer ook dat die gelowige van God se oorvloed ontvang en daarom moet hy ook daardie oorvloed deel met die gemeente.  Beide beklemtoon ook ’n gemeenskaplike maal:  Die ou verbond – die deel van die offervleis met medegelowiges.  Die nuwe verbond – die nagmaal.

Die feit dat God ’n deel van die offervleis teruggegee het aan die aanbidder was ’n tasbare belofte van die feit dat Hy nie Sy verbond met die volk sal verbreek nie.  Dit is waar van die ou vredeoffer, maar dit is net so waar van die nagmaal wat ons vandag nog steeds gedenk – God is nie ’n "verbondverbreker" nie. 

Paulus bevestig in Rom.5:1-8, dat daar nou ewige vrede bestaan tussen ons, wat in Jesus Christus ingeplant is en God die Vader ~ God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Ons as Nuwe Testamentiese gelowiges se vreugde oor die vrede wat daar tussen ons en God bestaan, vind uiting in die gebruik van die Nagmaal, wat niks anders as ’n vreugdefees is nie.  Die enigste, dog radikale verskil tussen die voedsel wat die Ou Testamentiese gelowiges van God ontvang het en wat ons ontvang, is die liggaam en bloed van Jesus Christus – ons het nie net ’n gedeelte van ’n bees ontvang om te eet nie – nee, ons het Jesus se volkome en volmaakte liggaam én bloed ontvang.  In Joh.6:51 sê Jesus ~ Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.  Hierdie voedsel wat Hy vir ons gee om te eet, is ’n viering en getuienis van die feit dat ons geregverdig is deur Sy liggaam en bloed.

Met hierdie wete in gedagte, sal elke opregte gelowige dus:
·           Met vreugde en dankbaarheid deelneem aan die sakrament van die heilige nagmaal;
·           Elke keer dat hy iets van die Here ontvang, sal hy Hom in dankbaarheid dank en prys en dit deel met die gemeente.  Dit laat ’n mens dink aan Paulus se woorde in 2Kor.8 waar hy juis hierdie beginsel beklemtoon het, nl. dat die wat ryklik geseën word, dit wat hulle ontvang moet deel met diegene wat nog in gebed verkeer t.o.v. hul behoeftes.
·           Ook moet ons besef dat wanneer ons van God ontvang, ons ook aan Hom moet teruggee.
·           Ons moet voortdurend in gedagte hou dat Jesus se bloed, versoening tussen ons en God bewerkstellig het en dat dit die basis is vir alles wat ons het en ontvang.
·           En laastens, in en deur ons viering en feestelikheid moet ons steeds onthou dat ons, ons lewens voortdurend aan Hom moet toewy.


[1]Boodskap gebring Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagoggend 12 Junie 2011