Tuesday, June 14, 2011

Die God van die Bybel - 01 (Waar kom alles vandaan?)

1.     INLEIDING: 
Voor ’n mens met ’n Bybelstudie kan begin, glo ek moet ons eers die volgende vraag beantwoord:  Is daar ’n God?  Wanneer ’n mens sê dat jy godsdienstig is, of dat jy ’n kerklidmaat is, of dat jy ’n Christen is, moet jy sekerlik vir jouself eerstens kan sê of daar wel ’n God is, want as daar geen God is nie, of as dié God wat jy aanbid, nie die ware God is nie, is jou geloof, of jou godsdiens tog sekerlik sinneloos en puur verniet.  En daarom moet ons vasstel of daar waarlik ’n God is en of daardie God, wel dié God – die enigste, ware God is.

As jy dalk nou op ’n stadium in jou lewe is waar jy twyfel oor wie nou eintlik reg is en wie verkeerd, moet jy ook vasstel wat die waarheid is, want daar is allerlei stemme wat deesdae opgaan oor allerlei sake en elkeen het sy eie oortuiging en standpunt.  As dit by godsdiens kom, is daar twee brandende vrae wat deesdae aan die orde is:
·          Watter God is die ware God – daar is die God van die Bybel.  Daar as Allah van die Koran, daar is Boeddha van die Boeddhiste en daar is ’n magdomgode wat veral die Hindoes aanbid?
·          Hoe het alles ontstaan – Big Bang of die Bybelse God wat alles geskep het?

Ek glo stellig dat bg. twee vrae met een antwoord, beantwoord kan word.  Ons sal D.V. vorentoe waarskynlik weer en weer na beide vrae verwys en ander aspekte daarvan weer bekyk.

2.    IS DAAR ’N GOD?:
Ons moet eerstens vasstel of daar ’n God is en dit is geen maklike taak nie, aangesien God veronderstel is om onsigbaar te wees en indien dit Hy was wat hierdie heelal geskep het, hoe kan ek dit weet?

Ek kyk baie graag speurverhale op die TV – Reekse soos "White Collar", "Castle" en CSI New York en dit is presies hoe ’n mens te werk moet gaan om hierdie vrae te beantwoord – jy moet speurwerk doen.

Ek wil met ’n belaglike vergelyking begin:  Gestel jy word een oggend wakker en sien dat daar ’n olifant op jou huis se dak is [2].  Hoe die olifant daar gekom het weet jy nie en indien iemand hom daar gesit het, is hy nie meer op die toneel nie.  Jy wil weet hoe die olifant daar gekom het.  Nog belangriker dalk, is hoe jy hom daar gaan afkry.  Waar begin jy om hierdie situasie te ondersoek en by antwoorde uit te kom?

Wel, eerstens sal ’n mens sekerlik na die fisiese getuienis kyk – dit wat daar voor jy oë afspeel en wat fisiese teenwoordig is op die toneel.  Jy gaan tog sekerlik soek vir voetspore; ’n leer of hyskraan.  Jy sal om die huis loop op soek na enige verandering of versteurings in jou tuin.  Jy sal met die bure praat, ens.  Wat jy ook al mag vind, kan jou op die spoor plaas ten einde hierdie raaisel op te los – jy gaan dus kyk, dink en vrae vra.  Uiteindelik plaas ’n mens al die stukkies inligting bymekaar en hopelik sal jy dan ’n antwoord vind, of kan jy ten minste ’n baie goeie gevolgtrekking maak.

Dit is presies dieselfde metode wat ons moet navolg ten einde vas te stel of die God van die Bybel, die ware God is en of Hy die Skepper van die heelal is of nie.

Enige goeie speurder sal vir jou sê dat jy altyd getuienis wat jy vind, moet naspoor waarheen dit jou ook al mag lei.  Goeie wetenskap is dus altyd objektief – dit is konkreet en vas en seker – dit hang nie in die lug nie en dit is nie raaiwerk nie.  Jy kyk dus na die getuienis, of alle getuienis, al lyk dit hoe onwaarskynlik of absurd.

As jy dus wil besluit of jy in God wil glo, moet jy na die getuienis kyk en ’n besluit neem.  Die teenoorgestelde is egter ook waar – As jy nie in God wil glo nie, moet jy egter dieselfde doen.

Wanneer ons die bestaan van God en/of die oorsprong van die skepping wil bewys of teenstaan, is daar drie velde in die wetenskap wat ondersoek moet word:
·          Kosmologie (Afdeling van die metafisika wat die wêreld as ’n geordende stelsel of kosmos beskou) – anders gestel, dit is ’n studie oor hoe die heelal gevorm is.  Wat kan wetenskaplikes dus vir ons vertel van hoe die heelal tot stand gekom het en wat kan ons daarvan aflei - of God daarby betrokke was al dan nie.
·          Fisika en astronomie (sterrekunde).  Fisici vertel aan ons hoe dinge in die heelal werk – bv.:  Indien die olifant van jou dak afval, sal die fisici vir jou sê dat dit as gevolg van swaartekrag is.
·          DNA en genetika (Studie, wetenskap van oorerwing en variasie).  DNA is basies die handleiding t.o.v. proteïne, of selle wat die boustene van alle lewende dinge is. 

Nadat ’n mens hierdie drie fasette van die wetenskap ondersoek het, sal jy in ’n beter posisie wees om die belangrikste besluit van jou lewe te neem, nl. Wie die Skepper van die heelal is.  En wanneer jy daardie besluit geneem het, is die volgende vraag: Wat gaan jy daaromtrent doen?

3.    DIE OMVANG VAN DIE HEELAL:
Een van die mees verstommende dinge wat rondom ons is, maar wat ons nie elke dag regtig raaksien nie, is die wêreld rondom ons – die lugruim – die heelal.  Net die wêreld rondom ons, is gevul met biljoene mense (in 2009 – 6,775 biljoen.  China alleen het 1,331 biljoen mense; Indië – 1,155 biljoen en Suid-Afrika – 49,32 miljoen) – en om te dink dat elkeen sy eie storie kan vertel en sy eie begeertes koester!  As hierdie mense sy aan sy in rye van 3 000 sou staan, en elke ry 1 m. uitmekaar is, sal die kolom mense ongeveer 3 km. breed vanaf Beitbrug tot in die Kaap strek.

Die hoogste berge toring ongeveer 9 000 m bo seevlak uit.  Op sy diepste is die oseaanbedding 10 000 m (10 km) onder seevlak!  Die aarde se middellyn is ongeveer 13 000 km., wat beteken dat die aarde se omtrek by die ewenaar, ongeveer 40 000 km. is.  Hierdie ronde stuk massa wat al vir eeue deur die ruimte sweef, weeg nagenoeg 6 000 miljoen miljoen miljoen ton!

Dan praat ons nie eens van die see en die lewe daarin nie.  Maar luister ’n bietjie na hierdie feite oor die hemelruim:  Die son se middellyn is 108 maal dié van die aarde (nl. 1,4 miljoen km.).  Dit impliseer dat daar meer as ’n miljoen aardbolletjies in die son sou kon pas.  Die son se vlamme bereik hoogtes van tot 800 000 km.  Dit is tweemaal die afstand van hier na die maan.  Die son straal soveel energie uit, dat dit elke sekonde 4 miljoen ton ligter word.  Elke sekonde se sonenergie is genoeg om die aarde vir ’n miljoen jaar te voorsien van al sy energie behoeftes (geen beurtkrag vir ’n miljoen jaar nie!).  Daar is egter soveel energie in die son oor, dat dit nog vir miljoene jare sal brand voor dit teoreties gesproke sou uitbrand.

Wanneer ons kyk na die sonnestelsel, sien ons dat ons sonnestelsel op hierdie stadium amptelik uit 9 planete bestaan, met ongeveer 30 mane wat almal saam om die son wentel.  Die aarde is die kleinste planeet in ons sonnestelsel en Jupiter die grootste – daar sal 1 300 aardbolletjies in Jupiter pas.  Mercurius (die naaste planeet aan die son) is ongeveer 60 miljoen km. van die son.  Die aarde, 150 miljoen km en Pluto (die verste), ongeveer 6 000 miljoen km.  Elkeen van hierdie planete beweeg in sy eie wentelbaan om die son, teen ’n snelheid wat veel-veel groter is as die spoed van ’n koeël uit ’n geweer en wat meer is, hulle handhaaf hulle spoed en hulle onderskeie bane en dit geld ook vir die mane wat om die planete wentel.

Wanneer ons verder die ruimtes in beweeg, kan ons nie meer met kilometers regkom nie, want die afstande is nou te groot – nou het ons ’n ander maatstaf nodig.  Lig beweeg teen 300 000 km./sek. – dit is 7½ keer om die aarde in ’n sekonde.  Hieruit het sterrekundiges ’n lengtemaat ontwikkel.  ’n Ligsekonde is derhalwe 300 000 km.; ’n ligminuut is 60 keer verder; en ’n ligjaar is 10 miljoen miljoen kilometer.  Hiervolgens is die maan 1⅓ ligsekondes van ons af; die son 8½ ligminute en Pluto 5½ ligjare.  En ons naaste ster?  Alfa Centauri is 4⅓ ligjaar van ons af.

Kom ons beweeg nog ’n entjie verder.  Ons sonnestelsel is deel van ’n groter sterrestelsel of galaksie – die Melkweg.  Dit is die breë gordel sterre wat mens op ’n helder aand van horison tot horison kan sien strek.

Ons Melkweg bestaan uit minstens 100 000 miljoen sterre soos ons son (sommige reken daar is baie meer).  En ons son is glad nie een van die grotes of warmste nie.  Antares is 97 miljoen keer groter as ons son.  En Sirus wat 9 ligjaar ver is, is so warm dat die aarde sou smelt en in damp opgaan indien dit so naby as die son aan ons sou kom.

Die gemiddelde afstand tussen die Melkweg se sterre is ongeveer 30 ligjare (300 miljoen miljoen kilometer).  Die Melkweg is nie bolvormig nie, maar lyk eerder soos twee omgekeerde pierings wat op mekaar neergesit is.  Die deursnit daarvan is 100 000 ligjaar en die "hoogte" op sy dikste is omtrent 20 000 ligjaar.  En wag hiervoor – die Melkweg roteer in sy geheel!  Hoe vinnig?  As mens van ’n omtreksnelheid sou kon praat, is dit in die orde van 1,5 miljoen km/uur, of te wel 420 km/sekonde.  Wie se verstand kan dit verwerk?  Die omwentelingsperiode van die Melkweg?  225 miljoen jaar!

Nog is dit nie die einde nie.  Galaksies kom tipies in groepe voor en ons Melkweg is deel van ’n tros van ongeveer 30 galaksies.  Die grootste galaksie in hierdie groep waarvan ons deel is, is M31 wat nagenoeg twee maal so groot soos ons Melkweg is (ons Melkweg is die tweede grootste) en bestaan uit twee maal soveel sterre as ons Melkweg.  Sterrekundiges is nie seker hoeveel sulke galaksies daar in die heelal is nie, maar hulle reken dat ons in terme van miljoene moet dink [3].

Met al hierdie duiselingwekkende afstande en groottes, is daar nog iets wat fenomenaal is en daar word in die wetenskap daarna verwys as die entropiese beginsel ("anthropic principle").  Dit maak die punt dat die heelal so fyn ingestel is, dat dit lewe op ’n spesifieke plek (ons atmosfeer) moontlik maak – in hierdie onmeetbare heelal, is daar ’n spikkeltjie waar alles so haarfyn in balans is, dat ons daar kan lewe – en nêrens anders nie!

Nog iets wat onbeskryflik wonderbaar is, is die hele gedagte van swaartekrag.  Dit maak nie saak waar jy in die heelal verkeer nie – daar is altyd kragte wat van alle kante op jou sal inwerk, sodat jy in volmaakte balans verkeer.  Daarom dat galaksies en planete en mane en die mens, perfek in hul bane en plekke bly – dit skiet nie maar net weg op ’n onkeerbare en wisselende trajek nie – daar is natuurlik uitsonderings soos verskietende sterre en die gasvlamme uit die son, ens., maar punt is, dit beweeg ook nie maar net onwillekeurig in allerlei rigtings nie – daar is steeds beheer en kragte wat op daardie objekte inwerk.

4.    DIE BEGIN VAN DIE HEELAL:
Die meeste kosmoloë glo dat hierdie fenomenale heelal waarin ons, ons bevind ontstaan het met ’n Groot Knal ("Big Bang").  Eenvoudig beskryf, beweer hulle dat alle materie in een bondel saamgevat was, maar baie, baie styf saamgepers in ’n klein ruimtetjie.  Hierdie kosmoloë beweer dat voor die bestaan van die bondeltjie, daar niks was nie!  En toe, skielik het hierdie bondeltjie ontplof en het al die deeltjies van die saamgeperste materie na buite geskiet en die heelal gevul – hou in gedagte dat hierdie partikels oorspronklik niks was nie en toe in ’n klein bondeltjie saamgepers en toe, na die ontploffing is daar genoeg materie om die ruimte te vul soos wat ons pas gesien het!  Van hierdie materie, noem hierdie kosmoloë, fotons.  ’n Foton is volgens hulle klein partikels wat lig kan verskaf.  Hierdie fotons het dus die lig in die ruimte verskaf toe die klein bondeltjie materie ontplof het.  Die "Big Bang" het dus ’n groot ontploffing van lig behels.  Belaglik?  Besluit jy maar self. 

Die kosmoloë se teorie wil nogal so effens bekend klink as jy al die Bybel gelees het – spesifiek Gen.1:1-3 ~ In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.  3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”  En daar was lig.

Die vraag wat aan die kosmoloë gevra kan word, is: Waar kom die materie wat die klein bondeltjie gevorm het, vandaan?  Sommige kosmoloë sal vir jou sê dat dit soms gebeur dat materie, vir geen rede net uit ’n vakuum te voorskyn kom en dit is dan, volgens hulle, waar die oorspronklike materie vandaan gekom het – dit het sommer net verskyn!  So ’n redenasie is egter nie baie wetenskaplik nie.  Wetenskap gaan oor waarneembare gebeurtenisse, m.a.w. iets of iemand moes die materie daar in die ruimte geplaas het, voor dit ontplof het.

’n Tweede argument het sy oorsprong  by ’n Moslem met die naam van Kalam wat ’n paar eeue gelede geleef het.  Daar word dan ook gepraat van die Kalam-argument wanneer daar na sy argument verwys word.  Kalam het gesê dat niks nuuts geskep kan word sonder ’n bron nie.  Terug by ons olifant – iemand of iets moes die olifant m.a.w. op jou huis se dak geplaas het.  ’n Ander voorbeeld:  As daar vuil modder voetspore op jou vrou se mat in die sitkamer is, moes iemand dit tog veroorsaak het – dit het dus nie vanself daar gekom nie.  Hierdie argument maak meer sin as sommige kosmoloë se argumente!

Hierdie argument laat ons dus met ’n baie belangrike vraag:  Wie of wat het die oorspronklike materie of die heelal soos ons dit vandag ken, geskep?  Dit is dus klink klaar duidelik, dat ons hier te doen moet hê met ’n Skepper.

Dit is ook baie duidelik en wetenskaplikes stem hieroor saam, nl. dat die heelal ’n beginpunt, of -oomblik het.  En as dit ’n begin het, moet dit tog ook ’n bron hê.  Daar moes dus tog ’n God gewees het.

Die Woord van God verduidelik aan ons waar en hoe die heelal begin het:  Gen.1:1 ~ In die begin het God die hemel en die aarde geskep.      

Die vraag is egter:  Is die God van die Bybel die Skepper van die heelal?  Is daar nie dalk ’n ander god nie?  Ons sal D.V. volgende keer hierna kyk.


[1]Mannebybelstudie – Aangebied deur Kobus van der Walt van ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) te Meyerton op Dinsdagaand 14 Junie 2011
[2]Erkenning aan Lee Strobel vir hierdie beeld en wyse van redenasie – Geneem uit sy boek "The Case for a Creator for Kids".  2006.  Zonderkids.  Grand Rapids. Mich.  p.89
[3]Inligting oor aarde, sterre, heelal, ens. geneem en verwerk uit ’n blaadjie geskryf deur Nico van der Walt met die titel "Die Stoffie in God se Hand" – Verkrygbaar op Nico se BLOG by: http://knibbels.blogspot.com/2011/06/knibbel-no18-die-stoffie-in-god-se-hand.html

No comments:

Post a Comment