Thursday, June 30, 2011

Die God van die Bybel - 02 (Is die Bybel Betroubaar?)

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.     INLEIDING: 
Ons het vir mekaar gesê en daaroor saamgestem, dat die heelal waarna ons die vorige keer gekyk het, nie maar net uit ’n groot knal" ("big bang") kon ontstaan het nie, maar dat ’n Opperwese agter die skepping moes gewees het.  Die vraag is wie is hierdie Skepper?

As ons bely dat ons gelowiges is, nee, dat ons Christene is, moet ons vir onsself afvra of die God van die Bybel wel die Skepper is, want die Bybel sê so en ten einde dit vas te stel, sal ons moet vasstel of die Bybel wel betroubaar is – is dit wel die ware Woord van die Almagtige God van die heelal en indien die Bybel wel betroubaar is, moet die God van die Bybel, die ware God wees en derhalwe ook die Almagtige Skepper van hemel en aarde.

2.    IS DIE WOORD VAN GOD BETROUBAAR:
Ons as Christene kry baie dikwels met mense te doen wat sê dat ons geloof nie die ware geloof is nie, omdat die Bybel vol foute is.  Sommige beweer dat die Koran van die Moslems die ware "Bybel" is, of die "Boek van die Mormone" wat deur Joseph Smith geskryf is, ens. Wanneer ons wil vasstel of die Bybel betroubaar en outentiek is, moet ons na bepaalde dinge gaan kyk ten einde die betroubaarheid vas te stel. 

Daar is egter twee toetse wat aangelê kan word ten einde die akkuraatheid en korrektheid van die Bybel te bepaal en dit word die "Eksterne- en Interne Toets" genoem.

3.    EKSTERNE TOETS:
Eerstens moet ’n mens na die historiese getuienis van die boek gaan kyk.  Tweedens moet ’n mens na die geografiese getuienisse gaan kyk.  Verder moet ’n mens vasstel of die verskillende weergawes, konsekwent is.  Is die karakters in die Bybel, betroubare mense?  Is daar enige lewende getuienisse, of steeds bestaande en betroubare verslae oor die Bybel wat ondersoek kan word?

Net soos met "ons olifant op die huis se dak" in die vorige studie, moet ons ook hier dus ondersoek instel ten einde die betroubaarheid van die Bybel te bepaal.

·           Historiese Getuienis:  Daar is talle getuienis dat Jesus ’n werklike mens was wat nagenoeg 2000 jaar gelede in Palestina geleef het.  Hy was nie ’n koning of ’n aardse heerser nie en Hy was ook nie gebore uit ’n gesiene familie nie.  Hy het vir nagenoeg 3 jaar rond beweeg in Palestina en oral gepreek waar Hy gekom het, voor Hy voor die owerhede gedaag is.

Verskeie ander historici het ook deeglik kennis geneem van Jesus:
-        Tacitus was ’n Romeinse historikus – waarskynlik die bekendste en mees geloofwaardige historikus van sy tyd wat bv. in 70 n.C. omvattend verslag gelewer het oor die val van Jerusalem en in 110 n.C. beskryf hy die wreedhede waaraan gelowige martelaars (Christene wat vir hul geloof gesterf het) onderwerp was.  Wanneer hy verslag lewer oor hierdie vervolging noem hy dan ook dat die Christene navolgers van Jesus van Nasaret is en dat hulle hul naam ook van Hom gekry het.  Hy het dus geweet van Jesus en sy skrywes dui ook ondubbelsinnig op die lewe van ’n baie bekende Persoon met die naam van Jesus van Nasaret.
-        Suetonius was ’n ook ’n Romeinse historikus wat in 120 n.C. oor die gebeure in 49 n.C. in sy boek "The Life of Claudius" verslag lewer.  Hy beskryf o.a. van ’n reeks opstande in Rome wat gelei het tot Keiser Claudius se verbanning van die Joodse gemeenskap in die stad.  Volgens hom was die bron van al die moeilikheid, ’n man
met die naam van "Chrestus".
-        Josefus, ’n baie bekende Joodse historikus het verskeie verwysings gemaak na Nuwe Testamentiese gebeure.  Hy skryf bv. oor Johannes die Doper en die dood van Herodes Agrippa, wat ooreenstem met die weergawe in Hand.12:19-23 ~ Herodes het hom laat soek, en omdat hulle hom nie kon kry nie, het hy die wagte verhoor en bevel gegee dat hulle doodgemaak moet word. Hierna het Herodes van Judea af na Sesarea toe gegaan en ’n tyd daar gebly. 20Die mense van Tirus en Sidon het hulle die woede van Herodes op die hals gehaal. Daarom het hulle saam ’n afvaardiging na hom toe gestuur. Nadat hulle vir Blastus, die koning se kamerheer, op hulle hand gekry het, het hulle vrede gevra, omdat hulle land van die koning s’n afhanklik was vir lewensmiddele. 21Op die vasgestelde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en hulle toegespreek. 22Die mense het toe geskreeu: “Dit is ’n god wat praat, nie ’n mens nie!” 23Op daardie selfde oomblik het ’n engel van die Here hom getref, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Herodes is deur wurms verteer, en het gesterf.  Josefus het ook geskryf oor die Apostel Jakobus se dood wat weer ooreenstem met Hand.12:1-2 ~ In dié tyd het koning Herodes party van die gemeentelede laat vang en hulle mishandel. 2Hy het vir Jakobus die broer van Johannes met die swaard laat doodmaak.  Hy skryf ook oor Jesus se kruisiging as volg:  "And there rose about this time a wise man, if indeed we should call him a man; for he was the doer of marvellous deeds, a teacher of men who receive the truth with pleasure.  He led away many Jews, and also many Greeks,  This man was the Christ.  And when Pilate had condemned him to the cross on his impeachment by the chief men among us, those who had loved him at first did not cease; for he appeared to them on the third day alive again, the divine prophets having spoken these and thousands of other wonderful things about him: and even now the tribe of Christians, so named after him, has not yet died out".

Talle ander geskiedskrywings bestaan en bevestig die lewe van Jesus – die gedagte is egter nie dat ons nou in te veel detail hieroor sal verval nie.  Die wonder van hierdie geskiedskrywings, is dat dit in die meeste gevalle deur nie-Christene geskryf is, wat die verhale dus soveel meer gesaghebbend maak.

·           Geografiese Getuienis:  ’n Verdere vraag wat gevra moet word, ten einde die betroubaarheid van die Skrif te bepaal, is of bepaalde geografiese detail soos verstrek in die Bybel, wel korrek en waar is.  ’n Baie eenvoudige antwoord kan op hierdie vraag verstrek word, nl.:  Ja, al die plekke bestaan, of het bestaan.  Baie van die plekke kan vandag nog fisies besoek word (bv. Bethlehem, Jerusalem, Rome, ens.) en ander is wel bekend al bestaan dit dalk nie meer nie.  ’n Mens kan bv. vandag nog die oorblyfsels, of ruïnes van die gemeente in Efese se vergaderplek besoek (in die huidige Turkye)

Argeologiese ontdekkings word voortdurend gemaak wat die bestaan van plekke, mense en dinge soos opgeteken in die Bybel, steeds bevestig.  Ons lees bv. in Joh.5:1-2 van so ’n herontdekte plek ~ Hierna was daar weer ’n fees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan. 2By die Skaappoort in Jerusalem was daar ’n bad met die Hebreeuse naam Betesda. Dit het vyf pilaargange gehad....  ’n Bad met die presiese afmetings en beskrywing is oopgegrawe deur argeoloë.  Daar is steeds ’n baie diep put by Sigar waarna Joh.4:4-6 verwys as die Fontein van Jakob.  So is daar talle ander plekke wat in die Woord beskryf of genoem word, wat steeds uitgegrawe word, of wat steeds bestaan.

Die vlak baaitjies waar Jesus aan die noordkus van die See van Galilea gepreek het, is daar en onverwagsee storms wat losbreek oor die See van Galilea, kan steeds beleef word.  Die Tuin van Getsemane, die Olyfberg en Golgota is steeds daar.  Nie-Christen getuienis bestaan vandag nog dat misdadigers op Golgota gekruisig was.  Die hoë kranse van Gádara waar die trop varke (omtrent 2000) afgestorm het (Mark.5:9) is wel daar.  En wanneer die Bybel praat van ’n dagreis of twee dae se reistyd, is dit werklik die realistiese reistyd wat benodig word wanneer daardie spesifieke afstand te voet afgelê moet word (bv. Luk.2:44).

Lukas vermeld bv. in die boek Handelinge, die name van 32 lande, 54 stede en 9 eilande en elkeen van hierdie plekke kon d.m.v. argeologie bevestig word – dieselfde kan egter nie van enige van die ander "heilige boeke" van die wêreld gesê word nie.  Daar kan bv. geen bevestiging in Amerikaanse argeologie gevind word om die "Boek van die Mormone" te bevestig nie – trouens, argeoloë sê dat daar geen ooreenkoms is... "...between archaeology of the New World and the subject matter of the book".  Argeoloë het dus geen plek, stad, persoon of name kon vasstel van wat in die Mormone se boek geskryf is nie.

·           Die Konsekwentheid van die Verhale: Daar bestaan net een verhaal van Jesus.  Daar is wel vier verskillende weergawes (Matteus, Markus, Lukas en Johannes) wat deur vier verskillende mense geskryf is, maar hulle skryf al vier oor een en dieselfde Jesus – net vanuit vier verskillende hoeke.  Daar is heelwat ooreenstemmende verhale in die eerste drie Evangelies, maar die onderliggende getuienis is dieselfde.

Daar kom wel enkele verskille t.o.v. bepaalde gebeurtenisse voor in die Evangelies, maar dit is soos wanneer jy ’n prent vir ’n groepie mense vir een minuut sal wys en na die minuut vir elkeen vra wat hy gesien en onthou het – daar sal verskillende invalshoeke en verskillende ervarings wees t.o.v. dieselfde gebeurtenis en nie een sal noodwendig onwaar wees nie.

Daar is ook mense wat beweer dat die verhale van die Bybel honderde jare na die gebeure eers geskryf is en omdat die mense nie so goed kan onthou nie, is alles dus nie waar nie.  So ’n argument is egter nie aanvaarbaar nie, omdat Markus en Lukas bv. voor 70 n.C. geskryf is en dus maar ongeveer 30 jaar na Jesus se hemelvaart opgeteken is.  Matteus is kort daarna geskryf.  Wat meer is, die meeste Sendbriewe is selfs voor die Evangelies geskryf.  Daar is dus, wat jare aan betref, nie veel langer na die werklik gebeurtenis geskryf, as iemand wat vandag oor die Grensoorlog of selfs die Tweede Wêreldoorlog sou skryf nie – en ons aanvaar hierdie geskrifte oor lg. twee oorloë bv. as outentiek.  Toe die Nuwe Testament geskryf is, was daar nog baie mense in die omtrek wat in Jesus se tyd geleef het en wat dus die gebeure en Jesus se lering kon staaf.  Die skrywers het dus nie hierdie weergawes uitgedink of opgedis nie.

·           Ander Getuienisse: Die Nuwe Testament het begin as 27 boekrolle en is oorspronklik in antieke Grieks geskryf.  Tale manuskripte is die afgelope klompie eeue opgegrawe wat die verhale in die Nuwe Testament bevestig – ja, so het die spelling hier en daar verskil, maar nooit was die effek daarvan so ingegrypend dat dit die outentisiteit van die Bybel in twyfel getrek het nie.  T.o.v. mindere afwykings tussen die verskillende manuskripte sê geleerdes soos Norman Geisler en William Nix die volgende:  "The New Testament, then, has not only survived in more manuscripts than any other book from iniquity, but it has survived in purer form than any other great book – a form that is 99,5% pure".  Dr. Ravi Zacharias van Cambridge Univeristeit sê: "In real terms, the New Testament is easily the best attested ancient writing in terms of the sheer number of documents, the same span between the events and the documents, and the variety of documents available to sustain or contradict it.  There is nothing in ancient manuscript evidence to match such textual availablility and integrity"

Dit is uit bg. dus duidelik dat die Nuwe Testament, die mees betroubare antieke dokument in die wêreld is.

Argeologie het bv. verskeie beweringe oor die inkonsekwentheid of betroubaarheid van die Woord weerlê – beweringe wat vandag nog steeds by sommige universiteite geleer word.  Die "JEPD Documentary Hypothesis" leer bv. dat Moses nie die Pentateug (die eerste vyf boeke van die Bybel) kon geskryf het nie, omdat niemand in Moses se tyd kon geskryf het nie – totdat argeoloë die "Black Stele" ontdek het – dit was ’n tablet wat uit hiërogliewe bestaan het en wat die volledige wette van Hammurabi bevat het.  Was dit na Moses, of voor Moses geskryf?  Voor Moses, trouens, nog voor Abraham (ongeveer 2000 v.C.)!  Die Pentateug is ongeveer in 1700 v.C. geskryf. 

In 1974 is daar 14000 Tablette in die noorde van Sirië, by ’n plek met die naam van Ebla ontdek en daar beweer dat dit van ongeveer 2500 v.C. dateer – honderde jare dus voor Abraham en hierdie tablette bevestig beskrywings van die kultuur en lewenswyse van daardie tyd soos bv. beskryf in Gen.12-50.


Argeologie bevestig dus gereeld die historiese akkuraatheid van die Bybel.  So word die Hebreeuse teks van die Ou Testament bv. bevestig deur die Dooie Seerolle wat tussen 1947 en 1956 ontdek is, asook die Septuaginta (’n Griekse vertaling van die Ou Testament wat reeds gedurende die 3de eeu voor Christus geskryf is); die Samaritaanse Pentateug en die Targums (antieke paragrawe van die Ou Testament), asook die Talmud (leringe en kommentare wat verband hou met die antieke Hebreeuse geskrifte).  

Die hoeveelheid Nuwe Testamentiese geskrifte is egter nog veel meer as die Ou Testamentiese geskrifte.  Daar bestaan meer as 5000 Griekse manuskripte; omtrent 8000 Latynse manuskripte en ’n verdere nagenoeg 1000 manuskripte in ander tale (Siries, Kopties, ens.) en bo en behalwe hierdie manuskripte bestaan daar letterlik duisende aanhalings uit die Nuwe Testament wat gemaak is deur die vroeë kerkvaders – en almal stem ooreen!  In teenstelling hiermee bestaan daar maar slegs sowat 20 manuskripte wat die werke van Griekse en Latynse skrywers soos Plato, Aristoteles, Caesar of Tacitus, onderskryf.

As gevolg van die Joodse Skrifgeleerdes se geweldige puntenerigheid t.o.v. die bewaring en korrektheid van die Ou Testament is die oorskryf van die Ou Testamentiese teks deur uiters streng wette gereguleer en is daar sorg gedra dat die suiwerheid en korrektheid van die teks nie in gedrang gekom het nie – hierdie feit is dan o.a. ook deur die Dooie Seerolle bevestig.

4.     INTERNE TOETS:
Waarop staan die Woord self, ten einde te bewys dat dit betroubaar en outentiek is?  Johannes bv. maak daarop aanspraak dat hy fisies teenwoordig was by Jesus en dat hy dus ’n betroubare getuie is – Joh.19:35 ~ Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo.  Ook v.24 ~ Dit is die dissipel wat oor al hierdie dinge getuienis aflê en dit beskrywe het, en ons weet dat sy getuienis waar is.  Ook Petrus sê dieselfde – 1Pet.5:1 ~ As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word en wat daarop volg.

Die beste weergawe van ’n Interne Toets, is waarskynlik die woorde van Lukas in Luk.1:1-4 ~ Daar is baie wat onderneem het om ’n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. 2Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. 3Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. 4So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is.

5.    TEN SLOTTE:
Uit bg. uiters beknopte en gebrekkige voëlvlug (a.g.v. tydsbeperkinge) oor van die verskillende wyses om vas te stel of die Bybel wel die Woord van God is, behoort dit alreeds baie duidelik te wees dat ons sonder twyfel kan sê dat die Bybel wel die Woord van God is.  Hierdie Bybel van ons spreek van die ware-, lewende- en Skepper God en daarom kan ons met vrymoedigheid slegs na die Woord kyk om vas te stel wie en wat God dan werklik is.  Ons gaan dan D.V. volgende keer na die karakter van God begin kyk en daarom ook meer intensief in die Woord van God betrokke raak ook.


[1] Mannebybelstudie – Aangebied deur Kobus van der Walt van ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) te Meyerton op Dinsdagaand 28 Junie 2011