Sunday, October 31, 2010

Die Eerste Brief van Petrus - 16 (Die Uitverkorenes en God se Tyd vir Oordeel)

1. SKRIFLESING:

1Pet.4:17-19 ~ Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie? 18 “As ’n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van ’n goddelose en ’n sondaar?” 19 Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen. 

2. INLEIDING:

Petrus sê vir ons dat die tyd van God se oordeel aangebreek het en wanneer dit gebeur, dui hy vir ons aan dat daar twee objekte vir God se oordele is, nl. die gelowiges en ook die ongelowiges. Petrus verskaf egter ook aan ons twee oplossings t.o.v. die hantering van God se oordele.

3. DIE VOORWERPE VAN GOD SE OORDEEL:

Kom ons kyk na die objekte van God se oordeel en eerstens sal ons sien dat Petrus sê dat ons as gelowiges die eerste objek van God se oordeel is.

· Die Gelowiges:

Petrus begin hierdie perikoop met ’n eienaardige opmerking, nl. ~ Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. Ten einde te verstaan wat Petrus met hierdie uitdrukking bedoel, sal ons eerstens moet kyk na wat hy bedoel wanneer hy sê ~ die oordeel het aangebraak. Tweedens sal ons ook moet vasstel wat hy bedoel met die uitspraak, dat die oordeel ...by die huis van God (begin).

Die woord “oordeel” in v.17 is in die Grieks krima en beteken letterlik om te oordeel, of om in ’n proses van oordeel te verkeer. Wanneer ons na die onmiddellike konteks van hierdie perikoop kyk, weet ons nou al dat die ontvangers van Petrus se brief vervolging en beproewing ervaar en ook te wagte moet wees. Die vraag is egter of die gelowiges aan wie Petrus skryf, dan geoordeel gaan word? Het God hulle dan nie vrygespreek op grond van Christus se soendood aan die kruis nie? Waarom gaan hulle en ons nogtans geoordeel word?

Hierdie uitdrukking van Petrus word grootliks ontleen aan verskeie teksverse in die Ou Testament. Kom ons kyk na o.a. Eseg.9:5-6 ~ Ek het gehoor die Here sê vir die ander manne: “Gaan agter hom aan deur die stad en slaan dood! Moenie verskoon nie, moenie jammer kry nie! 6 Maak dood en roei uit die oumense, die jongmanne en jong vroue, die kinders en vrouens; moet net nie raak aan dié wat die merk het nie. Begin by my heiligdom!” Hulle het toe begin met die ou manne voor die tempel (sien ook Sag.3:9; Mal.3:1-3). Wie word in hierdie geval nié dood geslaan nie? V.6 ~ ... moet net nie raak aan dié wat die merk het nie. Hier sien ons dat die uitverkorenes van God geen leed aangedoen word nie – hulle word nie doodgeslaan nie, want hulle dra die merk. Let egter op dat die verwoesting by die heiligdom begin – dit kan vir ons dui op elkeen wat in die heiligdom is, maar nié die merkteken dra nie.

Wat is hierdie merk? In Openbaring 7 ontvang die vier engele opdrag om die land en die see te tref, maar ’n vyfde engel het hulle opdrag gegee om eers te wag ~ ... Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël (Openb.7:3). Ons sien dus dat al die uitverkorenes eers ’n merk op hul voorhoofde moes ontvang, alvorens die oordele van God die aarde sou tref. Hierdie merk waarvan Esegiël dus praat, is presies dieselfde merk waarvan ons in Openbaring lees. Hierdie merkteken is die teken van uitverkiesing en dit vrywaar God se uitverkorenes van Sy oordele.

Dít antwoord egter nog steeds nie ons vraag t.o.v. 1Pet.4:17 wat die oordeel wat by die huis van God moet begin, behels nie.

Hierdie oordeel is nié die eindoordeel waarvan Openbaring praat nie. Die oordeel waarvan Petrus hier skryf, is die tugtiging waardeur God se kinders gaan, ten einde ons op die regte pad te bring en ons op die regte pad te hou. Hebr.12:7 is vir ons hier ’n pragtige voorbeeld van hierdie tugtiging ~ Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ’n kind wat nie deur sy vader getug word nie? Dit is dus ’n proses waardeur ons as gelowiges gaan om gelouter te word. Petrus sê self in 1Pet.1:6-7 dat ons kosbaarder vir God is, as goud en daarom moet ons deur hierdie lewe gelouter en gesuiwer word. Dit herinner aan Mal.3:2-3 ~ Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers. 3 Soos iemand wat silwer smelt en suiwer, so sal Hy as regter gaan sit om die Leviete te suiwer, om hulle te louter soos goud en silwer, sodat hulle aan die Here ’n offer kan bring wat bestaan uit regdoen.

Die oordeel wat Petrus se lesers en ons as wedergeborenes dus ervaar, is vervolging en beproewing wat hulle o.a. onder die Jode en Romeine, maar ook a.g.v. die versoekinge van hulle eie vlees ervaar, maar God gebruik dit alles om hulle te louter en “suiwerder goud” te maak voor die Here Jesus hulle kom haal. En wanneer Christus hulle kom haal, sal Hy soos in die gelykenis van die skape en die bokke in Matt.25:31-46, vir die gelowiges wat uitgebeeld word as skape, sê: Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit (v.34).

Die lesers van Petrus se brief en so ook ons, se loutering en oordeel het dus reeds begin die dag toe ons tot geloof gekom het in Christus en sal aanhou totdat Christus ons kom haal.

Ons het reeds vantevore geleer dat Christus die volmaakte offer gebring het, ten einde versoening te doen vir God se oordeel oor die erfsonde – daardie sonde wat ons verdoem het tot die ewige dood, maar ons as uitverkorenes is in Christus ingeplant, daarom sál ons die ewige lewe beërwe.

Ons gaan egter nog elke dag gebuk onder die sondesmet en daarvoor moet en kan ons steeds in hierdie lewe tugtiging verwag. Let wel, dit het niks te make met ons uiteindelike redding nie – daarvoor het Christus reeds betaal, maar hierdie daaglikse sonde moet ons bely en vergifnis voor vra én ons daarvan bekeer, anders moet ons tugtiging in hierdie lewe verwag. En dit is presies wat v.17 dan ook beteken ~ Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God.

Om die antwoorde op ons aanvanklike vrae dus te beantwoord, het ons gesien dat God se oordele reeds in hierdie lewe begin en wel met sy uitverkorenes, ten einde ons te suiwer en ons geloof te versterk.

Ter wille van enige moontlike onduidelikheid moet ek net enkele opmerkings maak oor die uitdrukking ~ As ’n gelowige beswaarlik gered word (1Pet.4:18a). Hierdie uitdrukking beteken nié dat God te swak is om ons te red nie, of dat ons só sondig is dat dit baie moeilik vir Hom sal wees om ons te red nie. Ook beteken hierdie uitdrukking nié dat ons groot moeite sal ervaar om onsself te red nie, want ons kan nooit uit eie krag gered word nie, maar enkel en alleen deur God se genade.

Hierdie uitdrukking is waarskynlik ontleen aan Gen.19:15-26, toe God, Lot wou red uit Sodom. Dit was vir God geen probleem om Lot te red nie, maar Lot was onwillig. Hy het getalm om uit die stad te vlug; hy het met die engele geredekawel en uiteindelik moes hy aan die hand gevat word en uit die stad getrek word. Kort daarna het die stad in vlamme opgegaan, toe swael en vuur daarop geval het. Lot was gered, maar hy het dit net-net gemaak, deurdat die vuur hom amper verteer het – hy was dus gered deurdat hy uit die vuur geruk is.

God se oordeel begin dus by Sy kinders – by ons en die rede hiervoor is om ons te louter ten einde ons te help om te groei in heiligmaking.

· Die Ongelowiges:

Tweedens sê Petrus dat die ongelowiges objekte vir God se oordeel is. Trouens, Petrus sê in die woorde van Paulus in 1Kor.3:15, dat gelowiges ...gered (sal) word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is, of soos die O.A.V. dit stel, ...soos deur vuur heen. Petrus sê dan ook in v.18a ~ As ’n gelowige beswaarlik gered word, hoe sal ’n sondaar gered kan word – v.18b ~ ...wat word dan van ’n goddelose en ’n sondaar? Hoeveel erger sal die oordeel oor die ongelowiges dus nie wees nie! In 2Tes.1:5-9 sê Paulus ~ Dit alles is ’n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly. 6 God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7 en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8 in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9 Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.

Ten spyte van ons swaarkry en beproewing en loutering in hierdie lewe, bied God uiteindelik aan ons genade en redding. Hierdie beproewing gaan nie lank aanhou nie. Indien ons getrou bly tot die dood toe, sál God aan ons in die woorde van Openb.2:10, die kroon van die lewe skenk.

Die ongelowiges en sondaars daarenteen, verkeer tans reeds in ’n staat van veroordeling en verdoeming. Wat gaan van hulle word as ons as gelowiges soos deur vuur heen gered word?

Let op hoe verwys Petrus na die goddeloses – hy noem hulle mense sonder God (goddeloses) en sondaars.

Wanneer ons as gelowiges beproewing ervaar, weet ons steeds dat verheerliking op ons wag. Die ongelowiges daarenteen het geen vooruitsigte van ’n ewige heerlikheid nie, trouens Jesus sê in Matt.23:29 tot en met 33 ~ Ellende wag vir julle,... “Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel? Die hel wag op die goddeloses en die sondaars! En in 2Tes.1:8-9 sê Paulus ~ Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9 Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.

Tye van vervolging en beproewing is terselfdertyd geleenthede om as liefdevolle getuies op te tree teenoor diegene wat beproewing ervaar. Dit was nie die aardbewing wat die tronkbewaarder in Filippi (Hand.16:26-34) primêr na die Here gelei het nie, maar Paulus se liefdevolle bemoeienis met hom.

As gelowiges mag ons nie weerwraak soek teen ons vervolgers nie. Nee, ons moet eerder vir hulle bid en die waarheids-evangelie met hulle deel.

Ons het dan eerstens hier gesien dat God se oordeel by Sy kinders begin en die rede hiervoor is om ons te louter ten einde ons te help om te groei in heiligmaking. En tweedens is die ongelowiges, die objekte van God se oordeel en verdoemenis.

4. DIE OPLOSSING VIR GOD SE OORDELE:

Petrus verskaf nou aan ons raad oor hoe ons op die oordele van God in hierdie lewe moet reageer en hy doen dit deur twee dinge vir ons te noem:

· Vertrou jou lewe toe aan jou Skepper:

Hy sê in v.19 ~ Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil.... Hier verwys hy natuurlik na gelowiges wat ly en onderwerp word aan beproewing en juis omdat hulle gelowiges is. Dit motiveer hom om raad aan hulle te gee, want hy is besorg daaroor dat hulle in die proses van swaarkry moontlik mag sondig en daarom waarsku hy hulle en sê hy vir hulle om ...hulle lewe toe (te) vertrou aan die getroue Skepper.

Die woord “toevertrou” in Grieks is paratithemai en dit is dieselfde woord wat Jesus gebruik het toe Hy Sy siel aan God toevertrou het – letterlik beteken dit dus om jouself ten volle en onvoorwaardelik te gee (in Engels gebruik ons die woord “commit”). Dit is wat Petrus sê ons moet doen wanneer ons beproewing en loutering ervaar: “Commit” jouself aan God. Vertrou jou lewe toe aan God. Gee jouself aan die Here. Leef in toewyding en gehoorsaamheid aan God en Sy Woord.

Ons doen onsself dus geen guns wanneer ons ’n bewustelike of onbewustelike aanhanger van Dr. Lewis Sperry Chafer (l.w. nie Francis Shaefer van L’Abri-faam nie) is wat reeds in 1918 vorendag gekom het met die baie bekende, dog onbybelse konsep wat hy verkeerdelik gebaseer het op 1Kor.2:15-3:3, nl. twee groepe gelowiges – vleeslike en geestelike gelowiges. Hierdie is vals teologie. Chafer het geleer dat die vleeslike Christen se lewe gekenmerk word deur ’n lewenswandel wat ooreenstem met dié van wêreldlinge, maar volgens Chafer is so ’n Christen steeds gered, want hy glo in Christus se kruisiging en verlossing. Gedurende die tagtigerjare het Campus Crusade (ek weet nie of dit tans nog so is nie) en talle hedendaagse charismatiese kerke, grond hul teologie o.a. op hierdie onbybelse konsep.

Geloof wat hom nie onderwerp aan die soewereine gesag en heerskappy van God nie, is niks anders as ongeloof nie.

Die Woord is ondubbelsinnig en baie duidelik daaroor dat ons Christus Jesus moet vertrou vir ons redding van sonde én ons moet ons toevertrou (“commit”) en onderwerp aan Sy gesag. Hand.2:36 sê dit baie duidelik ~ Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Geen belofte van verlossing word ooit in die Woord gerig aan mense wat weier om Christus se heerskappy oor hul ganse lewe te aanvaar nie, trouens Christus het in Matt.15:7-9 (O.A.V.) gesê ~ Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Jesus veroordeel dus alle mense wat Hom eer en aanbid met hul lippe, maar nie met hul lewe nie.

Paulus se woorde aan Timoteus in 2Tim.1:12 behoort vir ons motivering te wees en moet ons voorop in ons gedagtes hou wanneer ons gelouter word ~ Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou. En daarmee saam, 1Pet.2:5 ~ Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.

Petrus sê dus vir ons, dat dit baie belangriker is om na ons siel om te sien as na ons fisiese toestand en materiële omstandighede. Die gelowige se siel verkeer dus in groter gevaar as die liggaam. Ons moet dus ons siel “oppas”, deur ons volkome toe te wy aan Christus, want Hy is ons Skepper en getrou aan al Sy beloftes.

· Hou aan om te doen wat reg is:

Petrus verskaf nou aan die einde van v.19 vir ons ’n tweede stukkie raad oor hoe ons God se oordele moet hanteer, nl. ~ ...hou aan om goed te doen. Paulus sê in Rom.2:7 ~ ...aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe.

Beteken hierdie “goed doen” waarvan Petrus hier praat, dat ons, ons besig moet hou met goeie werke waardeur ons, ons eie verlossing kan bewerkstellig? Natuurlik nie! Petrus wil eerder deur hierdie opmerking vir ons sê, dat ons te midde van beproewing en loutering moet voortgaan om die goeie werk as gelowige te doen, al is dít dan ook die rede waarom ons beproewing ervaar en waarom ons vervolg word, want wanneer ons voortgaan om te doen wat reg is, toon ons daardeur ons vertroue in die Vader, dat Hy ons sal “deurdra” deur ons “seisoen” van beproewing; dat Hy aan ons die oorwinning sal skenk; dat Hy aan ons die oorwinnaarskroon sal skenk en dat Hy ons sal vertroos.

Hoe kan ons weet en waar vind ons riglyne oor wat dit is om goed te doen? In God se Woord! Om goed te doen beteken dus dat ek my sal verlustig in God se Woord en sal toepas wat Hy in Sy Woord aan my leer. Ons moet besef dat gehoorsaamheid in die Woord, nie ’n byvoegsel tot geloof is nie. Geloof en gehoorsaamheid is so verweef, dat dit nie van mekaar geskei kan word nie.

Ons moet ook onthou dat geloof meer en meer ’n werklikheid in my lewe word wanneer ek getoets word. God se doel in die gelowige se lewe is om sy geloof te louter tot dit ’n werklikheid in hul lewe word. God maak geloof ’n al groter realiteit in my lewe deur loutering. Oswald Chambers sê: Turning intellectual faith into our personal possession is always a fight – not just sometimes. God bring ons in omstandighede om ons geloof te leer; om ons te louter en ons geloof ’n realiteit te maak.

Ons as gelowiges moet gehoorsaam aan die Woord leef en daarom moet ons, ons lewe oorgee aan die Here deur ’n lewe te leef wat spreek van goeie dade, ongeag van wat met ons gebeur.

5. AFSLUITING:

Petrus sê aan ons dat ongelowiges baie keer ten spyte van hul sonde en onheilige optrede, oënskynlik skotvry daarvan afkom, maar hy sê dat ons nie moedeloos daaroor moet raak nie, want as ons as God se kinders, nou al so swaar kry, hoe verskriklik sal dit nie vir hierdie ongelowiges wees wanneer God hulle gaan straf nie. Ons as gelowiges moet dus nooit verontreg voel nie. Ons word maar net getug en gesuiwer en dit alles werk vir ons ten goede mee, sodat ons die ewigheid saam met Christus in besit kan neem wanneer Hy ons kom haal. Diegene wat egter nie na die evangelie van God wou luister nie, sal ’n ewige straf ontvang.