Monday, October 4, 2010

DIE EERSTE BRIEF VAN PETRUS ~ 13 (“Bemoediging en Implikasies vir Uitverkorenes”)

Indien u hierdie boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkinsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING:
1Pet.4:1-6 ~ Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het: 2 vir die res van sy aardse bestaan word sy lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God. 3 In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. 4 Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle. 5 Hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat klaar staan om oor die lewendes en die dooies te oordeel. 6 Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe.

2. INLEIDING:
Ek wil vanoggend met u gesels oor ons as gelowiges se optrede te midde van vervolging en verwerping.

Petrus skryf hierdie brief in ongeveer 65 n.C. vanuit Rome, aan die gelowiges in die westelike landstreke van Klein-Asië. In 1:1 spreek hy hulle aan as vreemdelinge in die verstrooiing. Ons het dus hier te doen met, óf Joodse gelowiges wat a.g.v. die verstrooiing soos beskryf in Hand.8:4, o.a. in Klein-Asië gebly het, óf dit was gelowiges wat só ontuis in hul eie omgewing gevoel het a.g.v. hul geloof, dat hul soos vreemdelinge gevoel het. Hierdie gelowiges het dan ook baie swaar gekry en is hulle uitgestoot uit die samelewing en het hulle vervolging en verwerping ervaar oor hul Christenskap.

Te midde van hul vervolging en beproewing, kom Petrus en hy bemoedig hulle wanneer hy hulle in v.1 ook “uitverkorenes” noem. Hierdie uitdrukking “uitverkorenes” het vir die gelowiges baie moed en sekuriteit verskaf, omdat hierdie titel (“uitverkorenes”) vir hulle die versekering gegee het, dat hulle gered was; dat God hulle geloof in stand sal hou en dat hulle dus niks te vrees het oor die ewigheid nie. Petrus was natuurlik ook baie slim (ek wil amper sê: hy was “heilig-slinks”) om hulle hier aan die begin van hierdie gedeelte van sy brief so te noem, omdat hy so bietjie later vir hulle gaan sê dat hulle te midde van swaarkry, nooit hierdie versekering van redding uit gedagte moet verloor nie.

En juis omdat hulle uitverkorenes is, hou hierdie identiteit vir hulle bepaalde implikasies in en nodeloos om te sê; omdat ons ook gelowiges is en daarom ook uitverkorenes, hou hierdie selfde identiteit ook vir ons presies dieselfde implikasies in en moet ons, ons derhalwe ook steur aan Petrus se bemoedigende woorde in ons perikoop.

Petrus hanteer hierdie gedeelte in hoofstuk vier dan ook onder die volgende twee punte, nl.:
• Bemoediging vir Uitverkorenes (vv.1-3);
• Implikasies vir Uitverkorenes (vv.4-6).

3. BEMOEDIGING VIR UITVERKORENES:
Petrus skryf in 4:1 ~ Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het. Met hierdie woorde herinner Petrus die gelowiges in Klein-Asië aan Christus se lyding op Golgota, soos wat hy reeds in 3:18 gedoen het, toe hy gesê het ~ Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

Petrus wil nie alleen sy lesers herinner aan Christus se lyding nie, maar hy wil ook dieselfde beginsels wat op Jesus van toepassing was, op sy lesers se swaarkry en lyding van toepassing maak en daarom dring hy daarop aan, dat sy lesers dieselfde gesindheid moet openbaar as hul Verlosser, en dat hulle dit voortdurend in gedagte moet hou, daarom dat hy sê ~ Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen (v.1).

Wat Petrus duidelik hier in gedagte het, is sy woorde in Ef.6:13, toe hy gesê het ~ Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil. Hierdie oproep van Petrus dat sy lesers hul gedagtes moet wapen, is dus nie maar net ’n “kopskuif” wat gemaak moet word nie. Hier is ’n aktiewe en drastiese opneem van bepaalde stukke wapenrusting by betrokke. Ons moet dus ’n daadwerklike wilsbesluit neem en ons ganse lewe – ons gedagtes, ons emosies, ons optrede, hierby aanpas.

Wat beteken dit dan om ons te beklee met dieselfde gesindheid as Christus? Primêr is dit om Christus se voorbeeld wat Hy vir ons kom stel het, onvoorwaardelik en getrou na te volg. En watter voorbeeld het Christus vir ons kom stel? Eerstens sien ons in v.1 dat Petrus vir ons sê dat Christus met die sonde kom afreken het. Jesus was intens betrokke by die mens – van die sondeval in die Tuin van Eden, totdat Hyslef kom klaar speel het met die sonde op Golgota. Maar, dit het lyding aan Sy kant gekos. Ons identifisering met Christus impliseer dus dat ons ook ’n gans ander gesindheid jeens sonde moet hê en daarom moet ons, net soos Christus klaarmaak met sonde in ons lewe, al gaan dit ook gepaard met lyding aan ons kant, trouens Petrus waarsku ons in v.4 en daarna, dat dit nie vir ons maklik gaan wees om sonde nek om te draai nie – dit sál gepaard gaan met lyding, maar indien ons ernstig is in ons navolging van Christus, sal ons hele ingesteldheid wees, om klaar te maak met sonde, ten spyte van lyding. Ons móét dus die sonde aflê (“putting off”).

Maar soos ons al in die verlede gesien het: Wanneer ons iets neerlê, moet ons altyd iets opneem (“putting on”) en ons doen dit deur gehoorsaam te wees aan Christus en dít doen ons deur Sy voorbeeld wat Hy aan ons gestel het, na te volg.

Toe Jesus in die woesteny honger geword het, het die gedagte by Hom opgekom om brood vir Homself te maak – Hy kón immers, want Hy was God, al was Hy hier op aarde in ’n mensgestalte – Hy was dus steeds almagtig, máár Hy het nié toegegee aan die versoeking om dit te doen nie – wat was Jesus se optrede en reaksie, toe die satan Hom aangemoedig het om brood uit die klippe te maak? Jesus het geweet dat dit nié die wil van Sy Vader was om brood uit klippe te maak en sodoende Sy honger te stil nie, want die doel met Sy wildernis ervaring was o.a. juis om te ervaar wat ons soms ervaar en dat Hy derhalwe met ons kon identifiseer en daarom antwoord Hy die satan uit die Ou Testament wanneer Hy vir Hom sê ~ Daar is geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie (Luk.4:1-4 – ’n aanhaling natuurlik uit Deut.8:3).

Jesus het in Matt.16 vir Sy dissipels gesê dat Hy moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en dat Hy dood gemaak moet word en ten spyte van die feit dat Hy óók vir hulle gesê het, dat Hy weer op die derde dag uit die dood opgewek sou word, sê Petrus nogtans vir Hom in Matt.16:22 ~ Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie. En wat was Jesus se reaksie? Hy het vir Petrus gesê ~ Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê. Jesus het Sy Vader se wil te alle tye nagevolg en in hierdie geval was Sy Vader se wil dat Jesus moes sterf, sodat Hy versoening kon bewerkstellig tussen ons en die Vader. Dit was die Vader se wil dat Hy moes sterf en dít is wat Jesus nagestreef het – God se wil. En dit is presies wat ons ook te alle tye moet doen, indien ons ernstig is oor ons dissipelskap van Jesus – indien ons, onsself wil beklee met dieselfde gesindheid as Christus. En waar vind ons God se wil wat ons moet navolg? In Sy Woord.

Wanneer ons, ons dan beklee met dieselfde gesindheid as Christus, vertroos Petrus ons, deur te sê dat, al was Christus sonder sonde (2Kor.5:21) kan Hy steeds met ons identifiseer deurdat Hy ook mens geword het en Hy ook (net soos ons), blootgestel was aan versoekings (Rom.8:3) en selfs die dood (Mark.1:12-13; Hebr.2:10; 4:15), maar in v.2 maak Petrus dit duidelik dat Christus vir die res van sy aardse bestaan nie beheers (was) deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God.

In die lig van Jesus se woorde in Joh.13:15, nl. ~ Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen, verwag Hy dus van ons om soos Hy te lewe; om Sy kruis op te neem en Hom te volg (Matt.16:24) en nie meer ons ou lewe te leef soos toe ons nog heidene was nie. En dan noem Petrus in v.3, die dinge waaraan die wêreld hulself oorgee en hy wil daardeur ons ook maan om ons nie weer aan hierdie dinge skuldig te maak nie, want dan identifiseer ons nie meer met Christus nie en doen ons dus presies dít wat Christus nié gedoen het nie, nl. om toe te gee aan die sonde nie. Wat is die implikasies vir die uitverkorenes indien hulle Jesus se voorbeeld wil navolg?:
• Eerstens sê Petrus in v.3 dat ons, onsself nie moet oorgee aan “losbandigheid” nie. Die Griekse woord wat hier gebruik word is “aselgeia”, wat dui op skaamtelose en onbeteuelde wellus en ’n losbandige toegee aan allerlei vleeslike begeertes. In Ef.4:19 beskryf Paulus hierdie soort mense wanneer hy sê ~ Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ’n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen. In Rom.13:13a waarsku Paulus ons, dat ~ Ons welvoeglik (moet) lewe soos dit in die daglig hoort. In ons huidige konteks kan ons losbandigheid dus sien as iemand wat lewe nes hy wil en dat hy hom nie steur aan die gemeenskap se norme en waardes nie – hy dink bv. niks daarvan om te vloek net soos wat hy wil nie, ongeag van wat die mensdom daarvan mag dink – dan praat ek nie eens van God nie. Ek dink baie van ons hedendaagse kunstenaars maak hulle skuldig aan hierdie losbandigheid, want kru- en vuiltaal is deesdae aan die orde van die dag en dink mense soos ’n Casper de Vries niks daarvan om te swets soos hy goed dink nie – en die tragiek van die saak is dat ons “volkie” dink dat dit baie snaaks is.

Jongmense, veral studente, dink ook niks daarvan om smoordronk op straat te verskyn nie en almal rondom hulle dink ook dat dit skreeusnaaks is.

Mense is nie meer skaam daaroor om te spog met hoeveel keer hulle buite-egtelike omgang met andere het nie en homoseksualisme is nie meer ’n skande nie en so kan ons aangaan – losbandigheid is aan die orde van die dag en Petrus waarsku ons, dat indien ons uitverkorenes is, ons nie meer losbandig mag leef nie.
• Tweedens sê Petrus dat heidene hul skuldig maak aan wellus en dit is niks anders as ’n onbeheersde begeerte na wat verbode is en dit lê spesifiek op seksuele vlak.

Hoeveel keer lees ons nie deesdae ook in koerante van vooraanstaandes wat betrokke raak in buite-egtelike verhoudings en dan is hulle nie eens skaam om daaroor te praat nie. Mense gee hulle al meer en meer oor aan wellus en kan nie genoeg kry van pornografie en bloufilms nie en ons moet bedag daarop wees dat sagte pornografie (of as jy wil – skamel geklede vrouens) voortdurend en onverhoeds op TV verskyn, wat wellus in ons kan laat ontbrand – ons moet dus versigtig wees oor wat ons op TV kyk en ons moet waak daarteen om die televisie sommer net vir ure aan te los.

Nog ’n voorbeeld is bv. masturbasie wat deur sielkundiges aanbeveel word vir eensames, terwyl Mike Cleveland sê. dat masturbasie, “the doorway to slavery” is.

As ons net na statistiek t.o.v. die Internet kyk, kan ons sien dat Petrus nie verniet alreeds nagenoeg 2 000 jaar gelede vir gelowiges gewaarsku het teen wellus nie. Kom ons kyk net na enkele statistiek (en hierdie statistiek is t.o.v. die V.S.A. in 2005 – nie dat dit veel anders hier by ons sal wees nie):
- In 2005 is bevind dat 87% van alle universiteitstudente, virtuele seks beoefen.
- 63.4 miljoen webtuiste-besoekers, besoek “adult websites” dit verteenwoordig 37,2% van alle volwasse Internet gebruikers!
- Of nog meer skokkend dalk is die feit dat meer as 28 000 Internet besoekers elke sekonde, na pornografie kyk op die Internet.
- En elke 39 minute word daar ’n nuwe pornografiese video in die V.S.A. vervaardig wat gratis op die Internet besigtig kan word!
- Die pornografie industrie genereer jaarliks nagenoeg 12 biljoen dollar uit hierdie webtuistes (en hierdie webtuistes word deur slegs nagenoeg 50 maatskappy besit!).
- Die grootste groep besoekers aan Internet pornografie is tussen die ouderdomme 12-17.
- Die woord “seks” is die nommer 1 onderwerp wat op “Google Search” ingetik word . En so kan ons aangaan.

As ons na al hierdie dinge luister, besef ons dat die wêreld waaruit God ons bevry het, toe Hy ons weergebore het, sug na wellus, maar Petrus waarsku en sê dat uitverkorenes hulle nie moet oorgee aan wellus soos die wêreld waarvan ons deel was nie.

• Vervolgens word dronkenskap genoem. Letterlik word hier verwys na die inneem van ’n oormaat wyn – soveel so dat jy sothede begin kwytraak en dwaas optree.
• In die vierde plek verwys Petrus na swelg- en drinkpartye. Die O.A.V. praat van brassery en drinkpartye, wat niks anders is as drink- en fuifpartye.
• En laastens sê Petrus, dat ons nie onsself moet oorgee aan afskuwelike afgodery nie. Soos wat ons al vantevore gesien het, is afgode nie net afbeeldings van gode nie, maar enige iets wat ons belangriker ag as God self – bv. geld; sport, ens. Ons moet ook daarop let, dat afgodery selfs net in ons gedagtes gesetel kan wees.

Van al hierdie heidense begeertes sê Petrus, moet ons, ons weerhou – losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Waarom moet ons onsself hiervan weerhou? Ons moet dit doen om daardeur met Christus te kan identifiseer. Jesus het in Matt.16:24 gesê ~ As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Ons kan nie twee here dien nie (Matt.6:24) – ons kan nie met die een voet in God se Koninkryk staan en met die ander voet in die wêreld nie – ons moet ’n keuse maak en wanneer ons die keuse gemaak het, moet ons, ons gedagtes wapen, of te wel, die volle wapenrusting aantrek.

4. IMPLIKASIES VIR UITVERKORENES:
In v.4 sien ons nou dat die heidene dit vreemd vind dat ons wat eens saam met hulle soos die wêreld geleef het, nie meer kompromie maak en saam met hulle deur hierdie wêreld met al sy plesiere voortdryf nie, trouens hulle sal vind dat ons nou, in die woorde van Ef.5:18 deur die Gees van God vervul is. En wat gaan die gevolg hiervan wees? Petrus sê ons gaan beswadder word; ons gaan beskinder word; ons gaan belaster word!

Wat moet ons reaksie wees wanneer mense ons beswadder?
• Petrus gee vir ons in 1Pet.3:14-16 hierdie bemoedigende woorde ~ Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ’n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15 In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16 Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.
• Ook Paulus het vir ons raad wanneer die wêreld ons beswadder, wanneer hy in Rom.12:19 sê ~ Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.

Petrus sluit in v.6 by Paulus en Lukas aan, wanneer hy sê ~ Hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat klaar staan om oor die lewendes en die dooies te oordeel. Christus is die Here van die lewende en die dooies (Rom.14:9; Hand.10:42) en almal gaan eendag rekenskap gee voor God – ook hulle wat jou nou beswadder, sal moet rekenskap gee daaroor – laat die wraak daarom aan God oor, soos wat ons nou net in Rom.12 gesien het.

Vers 6 is baie moeilik vertaalbaar en daarom ook baie moeilik verstaanbaar. Kom ons kyk net vlugtig daarna:
Die vraag wat ons vir onsself moet afvra, is van wie word hier in v.6 gepraat, wanneer Petrus sê ~ Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is. Die antwoord word vir ons in die tweede gedeelte van hierdie selfde vers gegee. Hierdie dooies, is diegene aan wie die Evangelie verkondig was en wat tot die geloof gekom het. Hulle moes egter na die vlees sterf (net soos wat ons eendag na die vlees moet sterf), omdat daardie deel van die Erfsonde in Adam nié deur Christus se soendood opgehef is nie. Hulle is egter verlos van die ewige dood en van God se oordele, omdat hulle na die gees sou lewe soos God lewe. Dit is dus beter om te ly vir Christus en te sterf na die vlees en te weet dat jou gees onuitblusbaar is – eerder as om die wêreld te kies en verlore te wees.

Dit is só belangrik dat ons onsself moet bewapen met dieselfde gesindheid teenoor die wêreld en sonde en lyding as wat Jesus se gesindheid was terwyl Hy hier op aarde was, want indien ons lyding sonder ’n geestelike ingesteldheid hanteer, kan dit so maklik gebeur – trouens, ek wil so ver gaan as om te sê dat dit beslis sal gebeur, dat ons eerder verbitterd sal word, as om geheilig te word.

Indien ons dus beswadder word en vervolg word oor ons geloof in Jesus Christus en ons doelbewus gekies het om ons gedagtes te bewapen soos wat Petrus in v.1 sê, het ons niks te vrees nie en hoef ons ook nie wraak te neem op ons vervolgers nie, want Christus is die Een wat hulle sal vervolg, wanneer hulle verantwoording voor Hom gaan doen daarvoor.

5. AFSLUITING:

As ons dan so na Petrus en die verklaring van hierdie perikoop geluister het, kan ons baie maklik vanoggend moedeloos wees nog voor ons hier uitloop, maar ons moet vashou aan die Woord en dan spesifiek aan die woorde van Paulus in Ef.3:16 ~ Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word. En ook Fil.4:13 ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Met hierdie Skrifgedeeltes in gedagte wil ek weer vir jou vra:
- Is jou gedagtes gewapen?
- Het jy gebreek met hierdie wêreld en sy plesiere – met dinge soos losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery?
- Is dit jou opregte begeerte om Christus in alles na te volg?

Amen