Sunday, October 17, 2010

DIE EERSTE BRIEF VAN PETRUS ~ 15 (“Die Uitverkorenes en hul Vuurproef”)

Indien u hierdie boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkinsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING:

1Pet.4:12-16 ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13 Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 14 Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly. 15 As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy ’n moordenaar is of ’n dief of ’n misdadiger of ’n kwaadstoker nie. 16 Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik. 

2. TEKSVERS:

V.12 ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Die uitverkorenes en hul vuurproef.

3. INLEIDING:

Petrus is steeds besig om sy lesers te bemoedig te midde van vervolging en verwerping en ons weet dat Petrus spesifiek praat oor vervolging en verwerping op grond van sy lesers se geloof, want die voorafgaande konteks gaan daaroor en v.16 bevestig hierdie feit ~ Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is.

Ons het reeds verlede week gesien dat hierdie bemoedigende brief van Petrus net so van toepassing is op óns lewe en situasie, want daar is nie een van ons wat nie ook vervolging, of ’n mate van vervolging, of verwerping of isolasie van vriende en familie en werkgewers en bure en die algemene publiek ervaar nie en daarom moet ons luister na Petrus en sy woorde in hierdie brief.

In hierdie gedeelte waarna ons dan gaan kyk vanoggend, sal ons sien dat Petrus eerstens aan ons sê dat ons ’n vuurproef, of te wel beproewing, moet verwag en dan verskaf hy aan ons drie redes waarom dit die geval is. En tweedens sê hy dat ons, ons moet verheug daarin, wanneer ons beproewing ervaar en hy verskaf weer drie redes aan ons, waarom dít die geval is. Kom ons kyk dan eerstens na die feit dat ons beproewing moet verwag en waarom.

4. VERWAG VERVOLGING & BEPROEWING:

Petrus begin hierdie gedeelte van sy brief deur te sê dat ons nie verras moet wees as ons vervolging ervaar nie. Wanneer ons as gelowiges hoor van vervolging, dink ons gewoonlik aan mense wat in donker nat en rotbesmette kelders aangehou en uitgehonger en gepynig word. Gelowiges wat in soutmyne in Siberië met pik en graaf werk in die uiterste koue toestande denkbaar en dan sien ons hulle in ons geestesoog, een na die ander net dood neerval, terwyl die ander gelowiges hulle op lendelam waentjies na ’n groot massagraf toe wegstoot. Of in Nero sy tyd, het ons al gelees hoe gelowiges vir die wildediere gevoer is, of vol teer gesmeer en aan die brand gesteek is, om lig te verskaf tydens Nero se aandpartytjies in die tuin van die paleis. Of die Anabaptiste wat met gewigte aan hul voete vasgemaak, in die meer van Genève gegooi is om te verdrink. Hierdie is maar enkele maniere waarop gelowiges wel deur die eeue heen gely en gesterf het vir hulle geloof.

As ons na Jak.1:2 kyk, sien ons dat hierdie vervolging waarvan hy praat, nie net uit een tipe vervolging bestaan nie, maar dat gelowiges verskeie soorte vervolging kan ervaar. Hy sê ~ My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom. Ook Petrus verwys in 1Pet.1:6 na allerlei beproewings. Hierdie vuurproef waarna hy dan in v.12 verwys, is niks anders as “allerlei beproewings” nie.

Die Griekse woord wat hier gebruik word, is “peirasmos” en beteken letterlik om onderwerp te word aan ’n verhoor of ondersoek, asook om in versoeking te kom, of verlei te word. Hierdie beproewinge waarvan Petrus praat is dus nie net om onderstebo in ’n sel te hang vir jou geloof nie. Nee, dit behels ook diskriminerende optrede teen jou op grond van die feit dat jy jou geloof uitleef.

Dit beteken egter óók dat jy beproewing ervaar wanneer jy deur sonde versoek of verlei word en jy weerstand teen, bv. jou vlees bied, ten einde staande te bly. Ek dink bv. aan my swaer wat na jare se rook, ongeveer twee jaar gelede tot redding gekom het en hy sowat ’n maand gelede besluit het om op te rook, omdat hy oortuig daarvan is dat hy nie net sy gesondheid deur rook ondermyn nie, maar dat hy ook sy getuienis as gelowige met sy rokery daarmee “blaas”, maar ook omdat hy oortuig daarvan is dat die Here dit van hom verwag, op grond van 1Kor.6:19-20 ~ Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20 julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. En tans is hy in ’n bykans, uurlikse stryd teen die gewoonte en verslawing van rook en op hierdie manier ervaar hy geweldige beproewing – beproewing vir en oor sy geloof.

Van ons het al deur tye van werkloosheid gegaan, of allerlei ander soorte beproewing of swaarkry ervaar en wanneer ons deur sulke tye gaan, is ons baie dikwels in die versoeking om te kla oor ons situasie, of ons raak opstandig daaroor, of ons geloof dreig selfs om in mekaar te tuimel – dít is beproewing, want ons moet, as gelowiges veg daarteen dat ons nie toegee aan ons emosies en in die proses dus sondig nie. Daarom sê Petrus ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie (v.12).

Maar waarom bevind ons onsself van tyd tot tyd in sulke situasies? Petrus verskaf aan ons drie redes waarom ons deur hierdie beproewinge moet gaan en waarom ons dit moet verwag:

· Ons vind die eerste rede in die tweede gedeelte van v.12, maar een van die eienaardigste Afrikaanse vertalings vind ons juis hier in v.12. Die N.A.V. en O.A.V. is baie dieselfde (kom ons lees die O.A.V., omdat dit die naaste aan die oorspronklike teks is) ~ Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie. Die N.A.S.B. en die N.K.J.V. en K.J.V vertaal hierdie vers egter korrek ~ Beloved, do not be surprised at the fiery ordeal among you, which comes upon you for your testing, as though some strange thing were happening to you (N.A.S.B.). As ek dus v.12 in Afrikaans kan parafraseer, sal ek dit as volg doen ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie, want dit gebeur juis om julle te toets. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Hierdie woord “toets” is weer dieselfde as wat ons netnou vir beproewing gehad het, nl. “peirasmos” en wat dan letterlik beteken, om onderwerp te word aan ’n verhoor of ondersoek. Hierdie toets of verhoor, of ondersoek waaraan ons onderwerp word, is om ons getrouheid en eerlikheid; ons integriteit; ons eerbaarheid en kuisheid; ons volharding en standvastigheid te toets en ook tot watter mate ons sal toegee aan sonde al dan nie. Hierdie toetse wat oor ons pad gestuur word, kom dus van God ten einde ons karakter en ons geloof en ons heiligmaking te toets en vas te stel of ons die toets gaan slaag al dan nie.

Ons ervaar dus in die eerste plek beproewing om vas te stel of ons die toets slaag.

· ’n Tweede rede waarom beproewing en toetse oor ons pad kom, is om aan ons die geleentheid te bied om, soos v.13 dit stel, ...in die lyding van Christus (te) deel.

Ons moet nie moedeloos raak wanneer beproewing oor ons pad kom nie, want Paulus sê dat ons bemoedig sál word deur Christus Jesus – hierdie is dus ’n belofte vanuit die Woord, waarop ons kan en moet staan wanneer ons swaar kry – hoor wat sê Paulus in 2Kor.1:5 ~ ...want net soos daar vir ons ’n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ’n oorvloed van bemoediging deur Christus. Die woord “bemoediging” hier kan ook vertaal word met “troos”, of “vertroosting”. Miskien sê jy nou vir jouself: Dit mag alles goed en waar wees, maar ek ervaar nou al só lank beproewing en ek ervaar beslis nie Christus se vertroosting nie – wat moet ek dan nou hiervan maak? Miskien kan Paulus vir ons nog meer lig werp op hierdie vraag, wanneer hy in 2Kor.4:10 vir ons sê ~ Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Wat sê Paulus hier vir ons? Ten einde dit te verstaan moet ons net vlugtig na ander verse in Paulus se tweede brief aan die gemeente in Korinte gaan kyk. As ons na die vorige twee verse in 2Kor.4, nl. vv.8-9 kyk, sien ons vier dinge wat vir hom moeilik is ~ In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 9 ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. In 6:3-10 en 11:23-29, verskaf hy nog twee langer lyste van dinge wat lyding aan hom verskaf – kom ons blaai na 2Kor.11:23-29 en dan kyk ons wat hy alles moes deurmaak ~ ...ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. 24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, 25 drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ’n dag en ’n nag in die oop see deurgebring. 26 Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. 27 Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. 28 Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeente. En dan weet ons natuurlik ook dat Paulus uiteindelik as martelaar gesterf het.

Hierdie dood (en lyding) van Jesus wat Paulus in hom saam dra, is sy manier om te verwys na sy eie fisiese en emosionele lyding wat hy ervaar t.w.v. sy roeping as Apostel, maar ook t.w.v. sy roeping as gelowige. Christus het ook gely (en natuurlik – veel, veel meer as ons) t.w.v. sy roeping (Sy soendood aan die kruis), asook Sy getrouheid aan Sy Vader (Sy versoekinge in die woesterny), maar daardie lyding en dood wat Christus ervaar het, was t.w.v. ’n ewige lewe vir óns na die dood en Sy versoekinge en toets in die wildernis, was juis daar, sodat Hy met ons beproewinge kan identifiseer.

Christus se lyding en dood het gelei tot ’n ewige lewe en daarom moet ons identifiseer met Christus in en deur ons lyding en uiteindelike sterwe, want dan kan ons ook identifiseer met die hoop op ’n ewige lewe wat daar in Christus Jesus is. En daarom, wanneer ons swaar kry, moet ons identifiseer met Christus en weet dat ons lyding, omdat ons gelowiges is, sál uitloop op die ewige lewe.

Ek dink ’n pragtige voorbeeld van hierdie waarheid vind ons in Hebr.10:34b ~ ... en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n besitting het wat beter en blywend is. En dan gaan die Hebreërskrywer voort in v.35-38 deur te sê ~ Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. 36 Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. 37 Nog net “’n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. 38 En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.

· Petrus verskaf aan ons ’n derde rede waarom ons beproewing ervaar in hierdie lewe. Gelowiges wat ly in Christus se naam is vervul met hoop, want ons weet dat ons vervul sal wees met onuitspreeklike vreugde met Christus se wederkoms, wanneer Sy heerlikheid openbaar gaan word en elke knie voor Hom sal buig en elke tong sal bely dat Hy God is (Rom.14:11). Hierdie heerlikheid van Christus is egter meer as hoop wat in die toekoms lê – dit is ook ’n teenswoordige hoop, want deur die Heilige Gees is Christus se heerlikheid reeds aan ons geopenbaar. Petrus sê in v.14 dat die Gees van God reeds op ons uitgestort is.

Wanneer Petrus dan sê dat ons beproewing in hierdie lewe moet verwag, motiveer hy dit, deur te sê dat ons daardeur getoets word en tweedens, dat ons daardeur in Christus se lyding deel en laastens sê hy dat ons beproewing moet verwag, sodat ons daardeur gevul kan wees met ’n lewende hoop.

5. VERHEUG JOU IN BEPROEWING:

Petrus gaan egter verder en hy sê in v.14-16, dat ons dankbaar moet wees – dat ons, ons moet verheug as ons beproewing ervaar en hy verskaf aan ons drie redes waarom ons, ons moet verheug in ons beproewing en vervolging:

· Eerstens sê hy dat ons geseën sal word wanneer ons beproewing ervaar. Letterlik staan daar, dat ons geseën sal word as ons IN Christus se Naam ly. Hierdie belofte word ondersteun deur Jesus se belofte in Matt.5:11 – blaai saam met my daarheen. Jesus sê ~ Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg....

Wat hou hierdie seën van God vir ons in? Wat beteken dit as God sê dat Hy ons gaan seën? Blaai net terug na die begin van Matt.5 en wel na v.4 – hier vind ons die “Saligsprekinge” en ek gaan net enkeles lees wat handel oor swaarky en beproewing ~ Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. En v.10 en 11 ~ Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 11 Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. En dan hierdie belofte in v.12 ~ Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

· Petrus gaan egter voort en hy sê dat wanneer ons ly, dit juis ook ’n bewys is dat ons kinders van God is. Wanneer ons as gelowiges dan swaarkry sal ons geseën word en, sê Petrus in 1Pet.4:14b, dat ...dit ’n bewys (is) dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op (ons) bly, of letterlik, ...op ons rus.

As ons dan seën van die Here wil ontvang en daarom gewillig is om beproewing te ervaar, waarsku Petrus ons in v.15 dat ons seker moet maak dat ons motiewe suiwer is – dat ons seker sal maak dat ons bereid is om vir die regte redes te lei en dat ons nie sal dink dat indien ons swaarkry voortspruit uit sonde, ons God se seën sal ervaar nie, want God sal ons nooit d.m.v. sonde beproef nie. As ons dus sondig deur, enersyds kriminele dade te pleeg, soos moord en diefstal, of in kort, om ’n misdadiger te wees, of andersyds, as ons sondig deur bv. kwaad te spreek en in andere se sake in te meng en ons deur hierdie sondige optredes ly en swaarkry, kan ons nie seën verwag nie.

· In 1Pet.4:16 staan daar ~ Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.

Ons het verlede week in v.11 gesien dat ons, ...God in alles (moet) verheerlik. Petrus volg daardie stelling hier op, deur vir ons hier ’n derde rede te verskaf waarom ons, ons beproewing as ’n seën moet beleef, want dit bied aan elkeen van ons ’n uitstekende geleentheid om God deur ons lyding, te verheerlik. Ons moet dit dus altyd in gedagte hou dat wanneer ons met die regte motiewe ly en ons in die Naam van Christus ly, ons deur ons lyding, God verheerlik. En om God te verheerlik is tog immers ons hoogste roeping hier op aarde en daarom, wanneer ons ly, moet ons nie skaam wees daaroor nie en moet ons ook nie kla daaroor nie, trouens ons moet dankbaar en opgewonde wees, want wanneer ons nie sondig wanneer ons beproewing ervaar nie, sál ons God verheerlik.

6. TEN SLOTTE:

Om saam te vat:

· Ons moet beproewing verwag.

· Ons moet bly wees oor ons beproewing, want beproewing bevorder karakter en my geloof en daarom is beproewing ’n seën.

· Dit is ook ’n geleentheid om in Christus se lyding te deel en daardeur ons hoop te vestig op die heerlikheid wat ons in Christus gaan ontvang. Lyding en beproewing bevestig dus ons kindskap in Christus Jesus.

· En laastens, wanneer ons lyding ervaar, moet ons weet dat ons geseën sal word en dat God deur ons lyding verheerlik word – mits ons, ons beproewing of lyding reg hanteer.

Amen.



Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 17 Oktober 2010