Sunday, November 7, 2010

Die Eerste Brief van Petrus - 17 (Petrus se Laaste Oproep)

1. SKRIFLESING:

1Pet.5:1-9 ~ As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word, dring ek by die ouderlinge onder julle daarop aan: 2 Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; 3 ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ’n voorbeeld vir die kudde te wees. 4 En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang. 5 En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” 6 Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. 7 Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. 8 Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. 9 Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.

2. INLEIDING:

Petrus was in Rome toe hy hierdie eerste brief van hom geskryf het. Ons het ook vantevore reeds gesien dat hy die brief gerig het aan gelowiges (waarskynlik in Klein-Asië) wat gebuk gegaan het onder erge vervolging en beproewing. Ons het ook gesien dat die brief tussen 60 en 68 n.C. geskryf is en hy is kort daarna, onderstebo gekruisig in Rome.

Hy sluit nou hierdie brief af met enkele oproepe wat hy tot hierdie gelowiges rig. Eerstens sien ons dat hy ’n oproep rig aan die ouderlinge van die gemeentes en tweedens rig hy bepaalde oproepe tot die gemeentelede, waarna hy sy brief afsluit met enkele groetewoorde.

3. OPROEP GERIG TOT DIE OUDERLINGE:

In verse 1 tot en met 4 rig Petrus ’n baie sterk oproep tot die ouderlinge van die onderskeie gemeentes en sê hy aan hulle dat hulle die gemeentes wat God aan hulle toegewys het, moet op pas en toesig oor hulle hou. Petrus gaan egter ook voort, deur vir die ouderlinge te sê met watter gesindheid hulle dit moet doen. En ten slotte sê hy dat indien hulle dit op hierdie wyse doen, daar ’n beloning vir hulle wag.

· Pas die kudde op en hou toesig oor hulle:

Wanneer ek so ’n brief ontvang, sal ek as ouderling onmiddellik wil weet wat Petrus bedoel met sy woorde ~ Pas die kudde van God ..., goed op, en ...hou toesig oor hulle, want Petrus spel nie sy bedoeling daarmee, hier uit nie.

Die woorde wat Jesus tot Petrus in Joh.21:16 aan hom gerig het, moes ’n geweldige indruk op Petrus gemaak het en dit is hierdie woorde wat in sy gedagtes moes gemaal het, toe hy hierdie brief afgesluit het ~ Jesus vra hom weer ’n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op. As ons dan wil weet wat Petrus bedoel as hy vir die ouderlinge van die gemeente sê dat hulle die kudde goed moet op pas en toesig oor hulle hou, moet ons sekerlik eers gaan kyk of ons kan verstaan wat Jesus bedoel het, toe Hy hierdie woorde nagenoeg 30 jaar vantevore tot Petrus gerig het.

Jesus het vir Petrus as Apostel, opdrag gegee om, om te sien na die kerk van die Here Jesus Christus. Ook Lukas sê vir ons in Hand.20:28, dat Paulus hierdie selfde opdrag aan die leiers van gemeentes gegee het, toe hy gesê het ~ Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. Hier het Paulus die voorgangers gewaarsku dat hulle waaksaam moet wees oor hul eie geestelike lewe, maar ook dat hulle die gemeente moet lei en leer en beskerm teen geestelike aanvalle. In Hand.6:4 stel Paulus self die voorbeeld vir wat die taak van voorgangers is ~ Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee.

Voorgangers moet besef dat die kerk kosbaar is vir die Here Jesus en daarom het Hy Sy gemeentes aan Petrus en aan al Sy ander onder-herders toevertrou. Daar rus dus ’n geweldige en verantwoordelike taak op die skouers van voorgangers van gemeentes.

Petrus sê in v.2 dat die voorgangers, die kudde wat aan hulle toevertrou is, moet op pas. Hierdie uitdrukking “op pas” word in die Engels vertaal met “shepherd the flock”. In die Grieks is dit poimainō, wat letterlik beteken om die kudde te lei – hoe, of waarheen? Na groen weivelde! Die kudde moet opgepas en gelei word, deur hulle te voed met die Woord. Die ouderling pas dus die kudde op, deur te waak oor hul siele en toe te sien dat hulle voedsel ontvang wat hul siele sal voed.

Wanneer ons dít verstaan, verstaan ons ook dadelik beter wat Petrus in gedagte het wanneer hy skryf oor die motiewe waarmee ouderlinge die kudde moet op pas:

o Nie uit dwang nie:

Eerstens sê hy, dat ouderlinge hierdie opdrag – hierdie roeping wat hulle van Christus ontvang het, nie vervul, terwyl hulle voel dat hulle gedwing word om dit te doen nie (v.2). Paulus sê in Filemon 14 vir Filemon ~ Maar ek wou niks sonder jou instemming doen nie, sodat jou weldaad nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse. Dit moet ’n ouderling se keuse en voorreg wees om sy amp in blydskap uit te voer. Natuurlik moet hy huil oor die gemeente of individue se sonde. Natuurlik moet hy intens bekommerd wees oor gemeentelede wat terugval. Natuurlik moet hy sonde aanspreek in die kudde. Natuurlik moet hy waak oor die siele van die gemeentelede. Maar, hy mag nooit voel dat die Here hom gedwing het om hierdie taak te vervul nie, trouens sy gesindheid moet altyd een wees van vrywillige onderwerping aan God se wil.

o Nie om eie gewin nie:

Tweedens sê Petrus, dat hierdie roeping wat Christus op Sy onder-herders se harte gedruk het, nooit mag geskied met ’n motief van “wat kan ek hieruit kry nie” (v.2). Dit is so tragies om te sien hoeveel herders alles in hul vermoë doen om hul finansiële posisie te verbeter en selfs geld te maak uit die Evangelie (ek weet van talle “dominees” wat bv. meer as R1000 vra om mense – selfs vreemd aan hulle – in die huwelik te bevestig. Daar is selfs van hulle wat visitekaartjies net vir hierdie doel laat druk het!).

o Nie deur baas te speel nie:

In die derde plek sê Petrus in v.3 dat ouderlinge nie hul taak moet vervul met ’n baasspelerige gesindheid en houding nie. ’n Mens wonder of Petrus die woorde van Eseg.34:4 in gedagte gehad het toe hy hier geskryf het ~ Julle het nie die swakkes gehelp nie, julle het nie die siekes gedokter nie, julle het nie die wonde van dié wat seergekry het, versorg nie, julle het nie dié wat weggedwaal het, teruggebring nie, julle het nie dié wat weggeraak het, gesoek nie. Julle was harde en wrede regeerders? Of dalk Jesus se woorde in Matt.20:25-27 ~ Jesus roep hulle toe nader en sê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. 26 Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 27 en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees? Nederigheid en diensbaarheid moet dus aan die basis lê van ouderlinge se roeping en taak wat hulle in diens van God moet verrig. Ouderlinge, sê Petrus, moet voortdurend ’n voorbeeld wees vir die gemeente en daarom nooi ek julle – nee, ek pleit by julle, dat julle my as voorganger van hierdie gemeente, toerekenbaar sal hou. Ek verwag van julle en pleit by julle, dat julle my daarop sal wys as ek nie die nodige voorbeeld aan julle stel nie, of as ek my roeping nie in diensbaarheid en nederigheid vervul nie.

o ’n Onverganklike kroon as vergoeding:

Vers 4 begin met die woorde: En dan.... Hiermee wil Petrus sê, dat indien die ouderlinge gemelde voorwaardes nakom, hulle beloon sal word met ’n wonderlike geskenk ~ En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang (v.4). Indien ouderlinge die kudde op pas en toesig oor hulle hou en dit nie doen uit dwang nie of om eie gewin nie en ook nie deur baas te speel oor die gemeente nie, sál hulle die heerlikheid as “onverganklike kroon” ontvang.

Wat ’n verstommende belofte! Sal ouderlinge wat nie heeltemal aan hierdie bepaalde beloftes voldoen, oor die hoof gesien word en nié die ewige lewe beërf, omdat hulle dan nie ’n kroon gaan ontvang nie? Die antwoord is nee, want daar is verskillende krone wat toegeken gaan word. Die kroon wat hier ter sprake is, is die “onverganklike kroon”. Alle gelowiges gaan bv. die “kroon van geregtigheid” ontvang (2Tim.4:8). Gelowiges wat bekendstaan as martelaars (hulle wat ly en/of sterf vir hul geloof), ontvang die “kroon van die lewe” (Jak.1:12). Ouderlinge wat dus getrou aan hul roeping is, ontvang ’n “onverganklike kroon”.

Geen herder (of gelowige in die algemeen) moet egter ooit werk om hierdie kroon of krone te ontvang nie. Nee, ons gesindheid moet wees om Christus in vreugde en dankbaarheid te dien vir die voorreg van redding en ook die voorreg om Hom te mag dien en daarom sal dit vir ons ’n onuitspreeklike vreugde wees om met hierdie kroon of krone te doen waarvan ons in Openb.4:9-11 lees ~ Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, 10kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe. Hulle sit dan hulle krone voor die troon neer en sê: 11 “Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.”

4. OPROEP GERIG TOT DIE GEMEENTELEDE:

Petrus verskuif nou sy aandag weg van die ouderlinge en hy rig ’n laaste woord tot die gemeente en hy doen dit met twee temas in gedagte, nl. om te leef as diensknegte en tweedens, om te leef as soldate.

· Leef as diensknegte:

o Onderwerp jou aan jou leiers:

Die eerste gedagte wat Petrus dan met die gemeente deel, vind ons in vv.5-7 – ek lees net eers v.5 ~ En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Ons sien dus dat Petrus vir die gemeentes sê dat hulle soos diensknegte moet leef en die gesindheid van diensknegte moet inneem, deur hulle eerstens te onderwerp aan die ouer mense. Hierdie ouer mense is in die Grieks, presbyteros en dit is die naam vir die ouderlinge in die gemeente, wat gewoonlik ook bestaan het uit die ouer manne in die gemeente. Die res van die gemeente moet hulle dus onderwerp aan hul leiers en hulle moet dit met ’n gesindheid van nederigheid en as diensknegte doen.

Die woord onderdanig word in die oorspronklike teks gebruik as ’n woord (hypotassomai) wat dui op gehoorsaamheid. Lidmate moet dus in nederigheid en in gehoorsaamheid, hulle onderwerp aan die leierskap van die ouderlinge.

Ek dink Paulus vat hierdie hele saak van onderwerping die beste saam in Rom.13:1-2 ~ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. 2 Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry.

o Onderwerp jou aan jou Verlosser:

In v.6 sê Petrus dat die gemeente hulle nie net aan die ouderlinge moet onderwerp nie, maar ook aan Christus hul Verlosser. Hy sê ~ Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. In Jak.4:6 sê Jakobus dat God die hoogmoediges weerstaan, maar dat Hy genade aan die nederiges gee (sien ook Spr.3:34). Dit is presies dieselfde gedagte wat Petrus aan sy lesers wil deurgee en daarom sê hy dat ons, onsself moet beklee met nederigheid teenoor mekaar en natuurlik het Jesus vir ons die volmaakte voorbeeld van nederigheid gedemonstreer, toe Hy in Joh.13, Sy dissipels se voete gewas het (vv.4-5) en dan sê Hy in v.14 ~ As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.

Dit is baie duidelik dat hierdie “voetewas-episode”, ’n geweldige indruk op die dissipels moes gemaak het, want net soos wat Petrus sy lesers waarsku, het Jakobus dit ook gedoen toe hy in Jak.4:6 gesê het ~ God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.

Petrus gaan egter voort deur te sê dat ons, ons moet onderwerp aan Christus ons Verlosser en ons kan dit net doen, deur die woorde van v.7 toe te pas in ons lewe ~ Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Petrus sê nie alleen dat ons dit móét doen nie, maar Jesus nooi ons ook in Matt.6:26-34 uit om dit te doen, wanneer Hy sê ~ Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27 Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28 En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29 Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30 As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? 31 “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. 34 “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie. Ons moet dus ons trots in ons sakke steek en ons in alle omstandighede na Christus wend en ons sorge op Hom werp.

Ons moet dus as gelowiges optree soos diensknegte, deur ons te onderwerp aan die ouderlinge en ook aan ons Verlosser.

· Leef as soldate:

o Herken jou vyand:

Petrus roer egter ’n tweede saak aan waaraan die gemeente aandag moet gee. Hy sê in v.8-9 dat hulle soos soldate moet leef en hy begin deur vir ons te sê dat ons, ons vyand, die duiwel, moet herken. Waarom moet ons hom herken? Petrus verskaf aan ons die antwoord in v.8b ~ Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Daar is waarskynlik niemand beter as Petrus om ons te waarsku teen die aanslae van die bose nie, want Jesus het hom ’n paar keer gewaarsku dat die satan op sy spoor is en nogtans het Petrus (die Rots op wie Christus die kerk sou bou – Matt.16:18!) hierdie waarskuwings verontagsaam. Te veel gelowiges (van ons?) raak “aan die slaap” (Matt.13:25, 39) en gee derhalwe ’n opening aan die satan om sy bose werk in ons lewens te doen.

o Weerstaan die vyand:

Volgens Openb.12:10 is die satan die aanklaer wat ons by God aankla (sien ook Job1-2; Sag.3:1-5), maar hy is ook voortdurend daarop uit om ons te “verskeur en te verslind” en daarom moet ons waaksaam wees sê Petrus en aanslae verwag en nie laat slap lê nie – dink maar aan Dawid wat ontspan en die oorlogsfront verlaat het en toe in sonde geval het (2Sam.11). Ons moet nooit dink dat ons alleen staande kan bly nie – ons het mekaar ook nodig in hierdie stryd – daarom dat Jesus ons ook waarsku en sê dat ons nie die onderlinge byeenkomste moet versaak nie (Hebr.10:25), want in die woorde van Hebr.10:24, sien ons om na mekaar en spoor ons mekaar tot liefde en goeie dade aan. Wanneer ons die onderlinge byeenkomste versaak, verkeer ons nie in ’n gees van nederigheid soos wat Petrus sê ons moet wees nie, want dan sê ons eintlik dat ons mekaar nie nodig het nie. En dit is o.a. net hier waar die satan vir ons lê en wag om ons te verskeur en te verslind.

Ons moet derhalwe, in die woorde van v.9, die duiwel teëstaan en vashou aan ons geloof, anders kan ons wankel in ons geloof wanneer ons vervolging en beproewing ervaar (1Tes.3:3).

Gemeentelede word dus opgeroep om hulle te onderwerp aan die leierskap wat in die gemeente daargestel is om hulle te “herder”, maar ook moet hulle, hul te alle tye aan Christus onderwerp en laastens moet ons as gemeentelede, soos soldate leef, deur die vyand te herken en weerstand teen hom te bied.

5. AFSLUITING:

Petrus bemoedig sy lesers ten slotte, dat hulle nie die enigste gelowiges is wat gebuk gaan onder beproewing nie, maar dat ander broers en susters ook beproewing ervaar – broers en susters wat ons kan ondersteun en voorbidding vir ons kan en wil doen, omdat hulle verstaan waardeur ons gaan, want hulle het ook al soortgelyke beproewing ervaar en met die hulp van die Here, “suksesvol” aan die anderkant uitgekom.

Petrus het waarskynlik ook die woorde van 1Kor.10:13 in gedagte, nl. ~ Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.

Wat Petrus dus vir ons wil sê, is dat ons nie alleen moet voel nie, want daar is broers en susters wat rondom ons is en wat ons wil bystaan – die voorwaarde is natuurlik dat ons, ons beproewing in die ope sal bring en dit met hulle sal deel. Verder is ons beproewing (soos reeds vantevore gemeld) vir ons ’n teken dat God bemoeienis met ons maak, al is dit dan ook soos in die geval met Job, dat God die satan toelaat om ons te beproef.

Die doel met satan se aanvalle teen ons, is om ons tot op ’n punt te bring waar ons God die rug keer en daarom moet ons hom weerstaan met alles in ons en daarom het ons die hulp en ondersteuning van medegelowiges nodig om staande te bly. En ons moet te alle tye onthou, dat Christus getrou is en dat Hy nooit sal toelaat dat ons bo ons vermoë versoek sal word nie.