Sunday, September 12, 2010

Openbaring Ontsluit - 24 [1]

(“Meet die Tempel”)

1. INLEIDING:

Ons beleef al vir baie jare (trouens vir eeue al) hoedat “geestelikes” na vore tree en die einde van die wêreld voorspel, om maar net weer stil-stil te verdwyn nadat daar van hul “profesie” dadels gekom het – Goeie voorbeelde is bv. dié van Charles Taze Russel, wat die vader van die Jehova-getuies is wat die einde op 1844 gestel het en toe ná hierdie datum, dit aangepas het na 1874/75 en weer ’n keer na 1914. Die skokkende is dat daar steeds aanhangers van sulke “profete” is en nie kan insien dat hul vals profete was nie, want wat het geword van die datums wat hulle voorspel het? Ons vind talle soortgelyke voorbeelde, veral onder die charismatiese groepe, wat oor jare heen ook sulke voorspellings gemaak het – voorbeelde is dié van Hal Lindsay, Kevin R. Swift en talle ander. Die jongste datum wat die wêreld se aandag getrek het, is dié van 2012!

In teenstelling hiermee sê ’n Post-Millennialis by name David Chilton, die volgende: Die vroeë Christene wat eerste die boek van Openbaring gelees het, veral die van Joodse afkoms, het die verwoesting van Jerusalem verstaan, want hulle het gesê dat die val van die ou Israel nié “die begin van die einde” was nie. Inteendeel, dit was eerder ’n teken dat Christus se wêreldwye Koninkryk waarlik ’n aanvang geneem het en dat die Here Jesus, die nasies van die wêreld, vanaf Sy troon in die hemel regeer en dat die gevolglike oorwinning van al die nasies, deur die hemelse mag van Christus, ’n sekerheid is. Vir hierdie nederige, lydende gelowiges, het die beloofde era van die Messias se heerskappy aangebreek. En wat hulle binnekort sou ervaar met die val van Israel, was die einde van die Begin.

Chilton heeltemal reg met wat hy sê. Die val van Jerusalem soos voorspel deur Openbaring, was nie “die begin van die einde nie”, maar die “einde van die begin”. Net soos wat die einde van die 40 jaar swerftog en beproewing in die wildernis, die binnekoms van die Israeliete in die Beloofde Land en ’n nuwe begin beteken het, net so het die einde van die groot onderdrukking deur Nero, die begin van die era van die kerk onder ’n Nuwe Verbond geïmpliseer.

Soos wat ons reeds die afgelope tyd by meer as een geleentheid gesien het, is dit duidelik dat die Groot Verdrukking waarvan die Woord o.a. in Matt.24:21 en Openb.2:22 en 7:14 praat, ’n tyd is waartydens die kerk van die eerste eeu getoets is. Net soos wat een geslag (40 jaar) ’n tydperk ervaar het waartydens hulle in die woesteny getoets is, voor hulle die Beloofde Land kon binnegaan, net so het een geslag (40 jaar) die toets van die Groot Verdrukking ervaar, voor hulle die seën van die Nuwe Verbond kon ervaar en binnegaan.

Die val en vernietiging van Jerusalem het dus die begin van die Nuwe Era (die een waarin ons steeds leef) binnegelei: die era waarin Christus vanuit die hemel regeer.

Daar is waarskynlik geen belangriker les wat ons as gelowiges kan leer as dat Jesus Christus tans, vanaf die regterhand van God die Vader, oor die ganse heelal regeer. Vir baie jare is gelowiges geleer dat die kerk alleenlik ín oorwinning kan wees, indien Christus fisies hier op aarde teenwoordig is en hier regeer (en dit word vandag nog steeds geleer – daarom dat soveel mense tans Hebreeus leer omdat hul Christus se wederkoms binnekort verwag en dan gaan Hy fisies vanuit Jerusalem, die ganse aarde regeer). Dit is so ironies dat hierdie selfde mense leer dat Satan nie hier op aarde, fisies teenwoordig hoef te wees om die oorwinning te behaal nie, maar deur hul e.g. oortuiging, moet Christus fisies hier teenwoordig wees om die oorwinning te behaal – hoe ’n stuk Godslastering is dit nie, want daar word meer mag aan Satan gegee as waaroor Christus beskik!

Daar bestaan talle bewyse vanuit die Skrif dat Jesus vanaf die regterhand van die Vader, reeds oor die aarde regeer (sonder dat Hy fisies hier teenwoordig is). Dink o.a. hier aan Petrus se wonderbaarlike ontsetting uit die gevangenis – in antwoord op gebed van die kerk en dit ten spyte van die feit dat Christus nie fisies hier teenwoordig was nie (Hand.12). Die Bybelse waarheid, is dat Jesus Christus, nou Koning is en daarom kan die kerk oorwinning in hierdie huidige wêreld ervaar.

Hierdie heerskappy van Christus oor alles en almal, is die oorheersende tema van Openbaring 11. Ons hoor ook die sewende trompet in hierdie hoofstuk, waarop Johannes hierdie wonderlike woorde hoor ~ Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid” (Openb.11:15). Hierdie woorde het ’n realiteit geword met die verwoesting van Jerusalem en die Joodse Tempel.

Die verwoesting van die Tempel was en is steeds ’n wonderlike gebeurtenis vir die Christen gelowige, want dit het die formele begin van die ewige heerskappy van Christus ingelui.

Ongelukkig is dit so dat talle gelowiges ’n uitgesproke en onbybelse gesindheid t.o.v. die val van die tempel handhaaf. Twee gesindhede is teenwoordig. Eerstens, sommige betreur die val van die Tempel, asof dit ’n geweldige en jammerlike geestelike tragedie was. Tweedens, is daar diegene wat die herbou van die Tempel iewers in die toekoms, voorsien.

Dit is interessant om te sien dat die Jode tot vandag toe nog, jaarliks die val van die Tempel gedenk (Tisha B’Av, the fast of the Ninth of Av). Hierdie herdenkingsvas word gehou, omdat die Jode geen hoop het sonder die fisiese struktuur van die Tempel nie. Net so is daar talle gelowiges wat die verwoesting van die Tempel betreur, terwyl dit eintlik iets is waaroor ons fees moet vier, omdat dit ’n “verlossende verwoesting” vir alle Christene was, want dit het eens en vir altyd, al die hindernisse wat in die pad van die eerste eeuse kerk gestaan het, uit die weg geruim en daarmee saam ’n baie duidelike onderskeid getref tussen Judaïsme en die Christendom.

Hoofstuk 11 is waarskynlik een van die moeilikste hoofstukke in Openbaring om te verklaar. Die grootste probleem lê in die verklaring van die twee getuies in verse 3-14. Die openingsverse (vv.1-2) is egter nie so moeilik om te verklaar nie.

Hoofstuk 7 van Openbaring het vir ons ’n tussenpouse aangekondig tussen die breek van die sesde en die sewende seëls. Hierdie tussenpouse, het ons gesien, was om tyd daar te stel vir God om Sy kinders te bewaar voor Hy Sy volle wraak sou uitstort. Die openingsverse van hoofstuk 11 dui ’n soortgelyke tussenpouse vir ons aan. Voor ons egter hierdie vers ontleed, moet ons eers enkele vooraf opmerkings maak. Eerstens: Wat Johannes ook al bedoel wanneer hy skryf van die tempel, moet ons besef dat beide Jerusalem en die Tempel nog nie verwoes was toe hy hier geskryf het. Hierdie is terloops nog ’n bewys dat Johannes die brief voor 70 n.C. geskryf het en nie na 90 n.C. nie, want waarom sou hy oor die Tempel skryf as die Tempel al verwoes was (wat wel die geval na 90 n.C.). ONTHOU: Die korrekte datering van Openbaring is van die uiterste belang ten einde die “eksegetiese bril waardeur ons na Openbaring kyk” te bepaal – as jy nié ’n vroeë (<70>datum huldig nie, kan jy nie Post-Millennialisties wees nie en natuurlik is teenoorgestelde ook baie waar! Aan die anderkant, indien die Tempel reeds verwoes was en Johannes >90 n.C. geskryf het, sou hy tog sekerlik oor die verwoesting geskryf het – en hy doen dit nie! Hoofstuk 11 dan, is waarskynlik een van die sterkste getuienisse van ’n vroeë datering van Openbaring.

Baie mense (bv. Charles Ryrie en Robert L. Thomas) beweer dat die Tempel weer herbou sal word, wat impliseer dat die Joodse volk se nasionale lewe soos vantevore weer heringestel sal word, asook die herbou van die Tempel en hulle grond hulle standpunt op vv.1-2. Hoe moet ons hierop reageer? Ek (en talle ander) glo dat die herbou van die Tempel in hierdie twee verse wel gesien kan word op een van twee voorwaardes. Eerstens: ’n Blatante ignorering van dit wat hier in hierdie twee teksverse staan. Die teks praat bloot van die Tempel van God en daar word hoegenaamd geen aanduiding gegee van die herbou van die Tempel nie, maar dat die Tempel steeds daar staan terwyl Johannes geskryf het. Tweedens. ’n Vooronderstelling wat op die teks afgedwing word. Daar is nêrens anders in die ganse Skrif enige aanduiding dat die Tempel herbou gaan word nie en daarom word so ’n voorveronderstelling af geforseer op hierdie verse. Waarom sou ’n verenigde nasionalistiese Joodse nasie met ’n herboude Tempel nodig wees vir die bekering van die Jode? Die vraag is of ’n bekeerde Joodse volk dan nie sal insien dat Christus die vervulling van die Ou Verbond en die begin van die Nuwe Verbond is nie? En indien hulle dit wel sien, waarom is die Tempel weer nodig? Net om weer te verval in allerlei offerandes en rituele – dit is tog waarvoor Christus gekom het – om die volmaakte en finale offer te wees! Die skrywer van Hebreërs het juis die Jode tereggewys op hul verwerping van die Messias en hul volgehoue Tempel offers? Sal ’n bekeerde Joodse volk nie juis hul geweeklaag en treur oor die Tempel voor God bely as sonde nie? Sal hulle nie juis die vervulling van die Ou Verbond in Christus verkies ver bo die instandhouding van die Ou Verbond nie?

Om alles nog meer deurmekaar te maak, sien hierdie voorstanders van die herbou van die Tempel (hulle staan bekend as dispensasionalistiese premillennialiste) inderwaarheid die herbou van twee tempels in die toekoms. Die eerste herboude Tempel is veronderstel om dié Tempel te wees wat sg. deur die Antichris ontheilig en verwoes sal word tydens die Groot Verdrukking. Die tweede Tempel sal gedurende die Millennium herbou word, want ’n Millennium Tempel word benodig vir die Hoë Priester om toesig te hou oor die offerandes. Hierdie Hoë Priester (volgens die Dispensasionaliste) is natuurlik Jesus Christus wat fisies hier op aarde gaan wees om oor die ganse aarde te regeer vir ’n 1 000 jaar (in werklikheid gaan Hy fisies, volgens die Dispensasionalistiese Premiullennialiste, vanuit Jerusalem regeer) en daarom moet die Tempel vir Hom herbou word. Gary deMar sê hieroor die volgende: Such a Millennial Temple would require Jesus to officiate over the very animal sacrifices that He shed His blood to replace. Sulke teologie maak tog hoegenaamd nie sin nie!

Kom ons plaas onsself vir ’n oomblik in Johannes se skoene. Met die ontvangs van hierdie visioen en dan spesifiek die boodskap oor die verwoesting van die Tempel, moes hy onwillekeurig terug gedink het aan Jesus se Olyfberg gesprek – Matt.24:1-2 ~ Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig. 2 Maar Hy antwoord hulle: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.” Verder het ons ook al gesien dat Jesus gesê het dat hierdie gebeure nog in “hierdie geslag” sou plaasvind, m.a.w. die geslag wat op daardie stadium in Jesus se tyd geleef het (Matt.24:33-35). Terwyl Johannes aan Openbaring skryf, het die 40 jaar tydperk waarvan Jesus gepraat het (’n Bybelse geslag was bereken op 40 jaar), vinnig sy einde genader. Johannes, wat met “Tempel” (“naos”) verseker die Here Jesus se woorde geglo het, sou dus die spoedige val van die Tempel verwag het en daarom sou dit ook dít gewees het wat hy in gedagte gehad het toe hy hier geskryf het.

Ons sien dus ondubbelsinnig hier dat dit gaan oor die verwoesting van ’n fisiese Tempel en die vestiging van ’n ware geestelike Tempel, of te wel die Kerk van die Here Jesus Christus (sien bv. 1Kor.3:16 ~ Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?; 2Kor.2:16 ~ Vir dié wat verlore gaan, is dit ’n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit ’n lewensgeur wat lewe wek. En wie is tot sulke dinge in staat?; Ef.2:19-20 ~ Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20 Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is; 1Pet.2:5-7 ~ Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. 6 Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion ’n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” 7 Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword”).

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.11:1-2 ~ Toe is daar vir my ’n meetstok gegee wat soos ’n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die mense wat God daar aanbid. 2 Maar die voorhof, wat buitekant die tempel is, moet jy heeltemal uitlaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is, en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap.

Johannes kry opdrag om die Tempel te meet. In die Woord van God word die woord “meet” gebruik om grense vas te stel en dit word primêr gedoen om eiendom te beskerm. Dit kan beskryf word as ’n simboliese optrede in die Woord om die heilige en die onheilige van mekaar te skei en sodoende Goddelike beskerming te bied teen verwoesting. Hierdie beskrywing stem ooreen met die Ou Testamentiese visioen wat Sagaria ontvang het ~ Ek het weer ’n gesig gesien. Daar was ’n man met ’n maatlyn in die hand, 2 en ek het gevra: “Waar gaan u heen?” Hy het vir my gesê: “Ek gaan Jerusalem uitmeet om te sien hoe breed en hoe lank hy moet wees.” 3 Die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gaan toe vorentoe en kry ’n ander engel wat na hom toe kom. 4 Hy het vir dié engel gesê: “Hardloop en sê vir daardie jongman: Jerusalem gaan ’n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees. 5 Die Here sê: Ek sal ’n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.” (Sag.2:1-5). Hier in Sagaria is dit duidelik dat die meting, op God se beskerming dui. Juda het teruggekeer vanuit hul ballingskap in Babilon en die stad word herbou en God belowe dat Hy ’n muur van vuur rondom die stad (sal) wees. Sy volk sal geen leed aangedoen word nie, want Hy sal hulle beskerm.

In Num.35:5-8 het die Leviete afmetings ontvang waarvolgens hulle sekere stede sou besit. Om te meet was dus in die Ou Testament ’n simbool van beskerming en eienaarskap. En die meting in Openb.11 het besliste Ou Testamentiese ooreenkomste ~ ...die tempel van God en die altaar en die mense wat God daar aanbid (v.1) word dus Goddelik beskerm.

Dit mag dalk paradoksaal (teenstrydig) klink, want hoe kan die Tempel beskerm word, terwyl dit verwoes gaan word? Ons moet egter die simboliek van hierdie visioen verstaan. Die Griekse woord vir Tempel is naoõ (naos). In die Nuwe Testament word twee woorde vir Tempel gebruik: naoõ (naos) en ieron (hieron). “Hieron” verwys na die Tempel as struktuur, insluitende die buitehof en die mure (bv. Matt.21:14 ~ Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak), maar “Naos” soos gebruik hier in Openb.11 verwys egter na die “Allerheiligste” (bv. 1Kor.6:19a ~ Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie). Ons kan dus ook sê dat die “Tempel” waarna verwys word in 11:1, verwys na die Ware Tempel soos o.a. beskryf in Hand.17:24 (God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hy is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie). Hieruit kan ons dus reeds aflei dat die Nuwe Testamentiese skrywers hierdie term “Naos” ook gebruik het wanneer hulle na gelowiges verwys het (bv. 1Kor.3:16 ~ Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?). Alhoewel die fisiese tempel deur die Romeine verwoes gaan word, word die ware tempel van God, nl. al sy gelowige kinders in Jerusalem, beskerm en bewaar deur God.

Ons het reeds vantevore gesien dat daar ’n pouse was tussen die breek van die sesde (6:12-17) en sewende seëls (8:1-6). Die tussenpouse soos gevind in Openb.7 was daar gestel om geleentheid te gee sodat die gelowiges in Jerusalem beskerming kon ontvang. In Openb.7 sien ons dan die verseëling van God se getroue oorblyfsel (die 144 000) sodat hulle beskerm kan word teen die oordeel wat gaan losbars teen Jerusalem. Openb.11:1 is ’n verdere bevestiging van hierdie waarheid. God hou dus Sy oordele terug ten einde Sy kinders te beskerm teen die komende oordeel. In Openb.7 word hierdie feit gekenmerk deur die seël wat die gelowiges ontvang en hier in Openb.11 word dit gekenmerk deur die meting van die Tempel.

In wese is Openbaring ’n weerspieëling van God se “egskeiding” van die Ou Testamentiese verbondsvolk, omdat hulle nie daarin kon slaag om die Ou Verbond in stand te kon hou nie. Openbaring is egter ook terselfdertyd ’n weerspieëling van die “huwelik” tussen God en Sy nuwe bruid – die Nuwe Testamentiese kerk. Hierdie huwelik is moontlik gemaak omdat Jesus Christus die voorwaardes van die Ou Verbond volkome kon nakom en daarmee die Nuwe Verbond ingelui het. Die Ou Verbond sou nou ten einde loop en die Nuwe Verbond gaan ingelui word. Dit is belangrik dat ons daarop sal let dat God nie die Ou Verbond gekanselleer het nie, maar dat dit Israel was wat die Ou Verbond verbreek het (sien Lev.26 en Deut.28).

Openb.11:1 vertel dus vir ons van die afvallige Israel en die groot verdrukking en die verwoesting van die fisiese tempel in Jerusalem. Die ware “naos” van die Ou Verbond word dus verwoes en dit is wat in 11:2 vir ons beskryf ~ Maar die voorhof, wat buitekant die tempel is, moet jy heeltemal uitlaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is, en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap, terwyl die “hieron” verseël en bewaar word en dit is presies wat in 11:1 vir ons gesê word ~ Toe is daar vir my ’n meetstok gegee wat soos ’n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die mense wat God daar aanbid. Die verwoesting van die fisiese Tempel word vir ons ook in Matt.24:1-2 beskryf word ~ Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig. 2 Maar Hy antwoord hulle: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.

Die woord “uitlaat” in v.2 is ’n baie interessante woord. Die Grieks hiervoor is ekballw (ek-bal'-lo) en word op verskeie plekke in die Nuwe Testament gebruik – bv. waar Jesus demone uit mense gedryf het (Matt.7:5, 22, ens.). Dieselfde woord word gebruik waar Jesus in Joh.9:34 uit die Tempel uitgeban is. Ook in Hand.7:58 word Stefanus uit die stad gedryf, voor hy gestenig is. In Joh.12:31 word die satan uitgedryf tydens die kruisiging van Jesus. Hierdie selfde woord (ek-bal’-lo) is dieselfde woord dan wat hier in v.2 gebruik word en wanneer Johannes dan opdrag ontvang om die buitekant van die Tempel heeltemal uit te laat, is dit ’n profesie oor die pendulum wat wegswaai van die Ou Verbond na die Nuwe Verbond – die beëindiging van Tempel en die Ou Verbond dus en die aanvang van die Nuwe Verbond.

Die fisiese Tempel het ’n area gehad wat bekend gestaan het as die “Hof vir die heidene”. Die heidene was toegelaat om in hierdie binnehof of binneplaas te kom, maar hulle was nie toegelaat om nader te kom aan die heiligdom nie. Inderwaarheid het God dus aan die Jode van daardie geslag gesê: Julle is niks beter as die heidene wie julle so lank uitgesluit het nie. God sou dus nie toelaat dat die Jode meer in Sy teenwoordigheid sou kom nie en daarom sou hulle sonder ’n heiligdom gelaat word. Hy sou hulle dus op dieselfde wyse hanteer as wat hulle die heidene hanteer het – Hy gaan hulle uit die Tempel uitdryf en die Tempel verwoes.

Daar word ook aan Johannes gesê dat die heidene die stad Jerusalem vir 42 maande sou “vertrap” (v.2). Hierdie is natuurlik ’n herhaling van Jesus se profesie tydens die Olyfberggesprek in Luk.21:19-24 ~ Deur julle volharding moet julle julleself red.” 20 “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21 Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22 want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid. 23 “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf. 24 “Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is.

Beide Lukas en Johannes vertel dus van Jerusalem wat deur die heidene vertrap gaan word (Luk.21:24; Openb.11:2). Lukas verwys weliswaar na “daardie dae” of “daardie tyd”, terwyl Johannes spesifiek sê hoe lank hierdie tyd gaan wees, nl. 42 maande (3½ jaar). Volgens Josefus (die geskiedskrywer) se verslag, het hierdie veldtog teen Jerusalem deur die Romeine begin nadat die gelowiges die stad verlaat en na Pela gevlug het. Die “vertrapping” het presies 42 maande geduur. God het Sy kinders bewaar, presies soos wat die Here Jesus belowe het.

Wat presies het gedurende hierdie 42 maande gebeur? In 586 v.C. het koning Nebukadneser van Babilon, beheer oor Juda geneem en het hy, soos Titus baie jare later, Jerusalem en die Tempel verwoes. In Dan.2 het koning Nebukadneser ’n droom gehad wat Daniël vir hom uitgelê het. Die droom het gegaan oor die groot beeld met ’n ... kop van suiwer goud, sy bors en sy arms van silwer, sy maag en sy heupe van brons. 33 Sy bene was van yster en sy voete deels van yster en deels van klei (Dan.2:32-33). In Daniël se verklaring, het elkeen van hierdie dele ’n wêreldmag verteenwoordig. Babilon was die kop. Die Mede en Perse was die bors en arms. Griekeland was die maag en heupe en Rome was die bene en voete. Hierdie koninkryk sal die een na die ander deur die mindere koninkryk verower word. So sou Babilon deur die Mede en Perse verower word. Die Mede en Perse deur die Grieke en die Grieke deur die Romeine. En, op daardie stadium, sou Israel (op daardie stadium, die volk van God) onder beheer gestaan het van die owerheid of koninkryk van die dag en in 70 n.C. was dit natuurlik die laaste owerheid van Nebukadneser se gesig, nl die Romeine (die bene en voete).

Nebukadneser het egter ook ’n klip gesien (v.34) wat die totale beeld sou verwoes. Hierdie klip het Christus se bediening verteenwoordig. Die klip sou uiteindelik ’n groot rots word wat die hele aarde sou bedek (v.35) en dit verteenwoordig die kerk van die Nuwe Verbond.

Die tyd van die heidene (Openb.11:2) was dan die tyd wat heidennasies die volk van God beheer het. Maar, nadat Jerusalem deur die Griekse generaal, Titus verwoes is, is hierdie beheer van die heidene oor God se kinders beëindig. Nadat Judaïsme beëindig is, het die Christendom begin “blom” en slegs ’n paar eeue daarna, het Nebukadneser se beeld se voete ook verkrummel. In 410 N.C. het die paganistiese (heidense) Romeinse Ryk geval – grootliks a.g.v. die invloed van die Christendom. Stadig maar seker het die kerk en is die kerk van die Here Jesus Christus besig om te groei en vandag is die kerk voorwaar ’n groot rots wat die wêreld oordek en die kerk is die koninkryk wat nooit verwoes sal word nie – Dan.2:44 ~ In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur ’n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan.

Die tydperk van die heidene het dan in 70 n.C. ten einde geloop met die vernietiging van die Tempel en ons leef nou in die era van die Messias en Sy Koninkryk.



[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 15 & 22 Augustus, asook 12 September 2010