Monday, July 19, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 18 Julie 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 29 (Ons Geestelike Geveg - 09) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING:
Ef.6:10-18 ~ Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. 14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. 19Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak. 20 Ter wille van hierdie evangelie is ek ’n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is. 21 Tigikus, die medegelowige wat ek baie lief het, die getroue dienaar in diens van die Here, sal julle alles vertel, sodat julle ook kan weet hoe dit met my gaan en wat ek doen. 22 Ek stuur hom juis hiervoor na julle toe, sodat julle kan hoor hoe dit hier by ons gaan en, sodat hy die kommer in julle gemoed kan wegneem. 23 Vrede vir die broers, en liefde en geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus! 24 Die genade sal by almal wees wat vir ons Here Jesus Christus met onverganklike liefde liefhet.

2. INLEIDING:
Die swaard waarna Paulus hier in v.17b verwys is ’n "machaira" –swaard wat so tussen 15 cm. en 46 cm. in lengte was – ’n kort swaard dus. Hierdie was ’n algemene swaard wat deur die Romeinse voetsoldate gebruik is en was uiters geskik vir hand-tot-hand gevegte. Hierdie swaard was in ’n skede aan die gordel van die soldaat gedra en was altyd byderhand en gereed vir gebruik. Dit was dieselfde swaard wat die soldate gedra het toe hulle Jesus in Matt.26 in hegtenis kom neem het en wat Petrus gedra het toe hy die Hoë Priester se slaaf se oor afgekap het. Jakobus is ook deur Herodes se laksmanne met hierdie tipe swaard tereggestel (Hand.12:2).

Wanneer Paulus verwys na die swaard van die Gees, verwys hy eerder na die Bron van hierdie wapen, as na die aard van die swaard. Uit die konteks weet ons dan ook dat dit ’n geestelike wapen is wat gebruik word in ons stryd teen die bose. Wat sê ek dus? As Paulus praat van die swaard van die Gees, sê hy, dat die Gees, of te wel die Heilige Gees, die Bron en Oorsprong van die swaard is. Volgens Joh.14:17, is Hy die Gees van die waarheid. En sien ons in v.26, dat ~ Hy (ons) alles leer en (ons) herinner aan alles wat (Jesus) vir (ons) gesê het.

Die kern van Paulus se opmerking dus in v.17 van Ef.6, is dat ons as gelowiges sal weet hoe om hierdie swaard van die Gees te gebruik. Dit is nie ’n fisiese wapen wat deur mensehande gemaak is nie, maar ’n geestelike wapen wat sy oorsprong by God self het. Net soos wat ons te alle tye die helm van verlossing en die skild van geloof in gereedheid moet hê, moet ons ook die swaard van die Gees gereed en byderhand hê.

Dit is ook interessant om te besef dat die swaard, wat die laaste stuk van die gelowige se gevegsmondering is, die enigste offensiewe stuk mondering is. Die ander stukke was defensief van aard, maar nie die swaard nie. Ons sien in Joh.8:44 dat die satan, ’n leuenaar en die vader van die leuen is en dat daar geen waarheid in hom is nie. Wat is dan die mees effektiewe wapen wat ons moet gebruik teen die vader van die leuen? Daar is maar net een wapen wat ons teen die leuen kan gebruik en dit is die waarheid

3. DIE SWAARD:
Daar bestaan geen onduidelikheid oor wat die swaard van God is nie. Paulus gee onmiddellik, nadat hy praat van die swaard, vir ons ’n verduideliking van wat dit is – v.17 ~ ...dit is die woord van God – die Heilige Gees geïnspireerde woord (die Bybel) dus.

Wanneer ons na die Grieks kyk, sien ons dat daar meer as een woord is wat vir die woord van God gebruik word. Die een is "logos" wat bv. in Joh.1:1 gebruik word ~ In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hierdie woord verwys dus na Jesus Christus self – Hy ís die Woord.

Die ander Griekse woord wat gebruik word, is "rhema". Hierdie woord, nl. "rhema" is die woord wat Paulus hier in Ef.6:17 gebruik. “Rhema” verwys egter na ’n gedeelte van God se geskrewe openbaring. So is Joh.3:16 bv. ’n “rhema”- woord ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Ook is Rom.3:23 ’n goeie voorbeeld van God se “rhema”- woord ~ Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie. So is elkeen van die ander Skrifgedeeltes dus “rhema”-woorde. Anders gestel: Die Bybel (“rhema”) is Jesus Christus (“logos”) se Woord (“rhema”).

4. CHRISTUS ONS VOORBEELD:
Paulus sê dus vir ons in ons gelese gedeelte, dat ons God se Woord (die Bybel) moet opneem in ons geveg teen die bose. Wanneer ons die Woord van God gebruik as gevegsmiddel, of as swaard in ons geveg teen die satan, moet ons besef dat ons die kragtigste wapen van alle wapens in die hand het in ons stryd teen die magtigste vyand wat daar nog ooit was. Wat meer is, hierdie “Swaard” van ons, is nie net geskik vir ’n defensiewe geveg nie, maar ook vir ’n offensiewe geveg.

Gedurende die stryd tussen Christus en die satan in die wildernis, soos opgeteken in Matt.4, het Satan vir Jesus drie keer versoek (of aangeval) en Christus het elkeen van hierdie aanvalle afgeweer met aanhalings uit die Woord van God – daarom dat Hy elke keer gesê het ~ ...daar staan geskrywe en dan het Hy aangehaal uit die Ou Testament (Deut.8:3; 6:16; 6:13). Christus Jesus is die Meester Swaardvegter en Sy offensiewe optrede teen die satan, het die satan bedroë daarvan laat afkom, want die Woord is duidelik daaroor – Matt.4:11 ~ Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg. Net so het Jesus ook die vyand finaal aan die kruis oorwin, toe Hy gesê het ~ ...dit is volbring (Joh.19:30).

Mag hierdie les wat Jesus in die wildernis vir ons geleer het, nie by ons verbygaan nie, want indien Jesus, die volmaakte mens, in Sy geveg met die bose, die Woord as swaard gebruik het, hoeveel te meer moet ons as onvolmaakte mense, nie hierdie volmaakte swaard gebruik nie! In hierdie verband is dit uiters betekenisvol dat Moses in Deut.32:46-47 (dieselfde boek as wat Jesus gebruik het om die satan in die wildernis teen te staan), die volgende aan die volk gesê het ~ Neem al die woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte. Julle moet julle kinders beveel om dit te gehoorsaam en te lewe volgens hierdie hele wet (dit is de Woord van God). 47 Dit is nie ’n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle, en deur hierdie gebod te onderhou, sal julle julle verblyf verleng in die land wat julle in besit sal neem wanneer julle die Jordaan deurtrek.

Ons moet die voorbeeld van die Psalmdigter ter harte neem wanneer hy in Ps.119:11sê (en ek lees uit die E.S.V.) ~ I have stored up your word in my heart, that I might not sin against you.

Hoe werk dit om God se Woord as wapen – as swaard, teen die satan te gebruik? Ons moet besef dat God se Woord, Sy gedagtes openbaar en God se gedagtes kan nie onderwerp word aan sonde nie, omdat God heilig en volmaak is. Daarom, indien ons God se Woord in ons harte bewaar, kán sonde en versoekings nie ons lewe oorheers nie – dit kan net eenvoudig nie, want 1Joh.2:14b bevestig dit ook, wanneer dit sê ~ ... omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het.

Die Woord van God is ’n dodelike wapen teen die vyand. Hoor net hoe beskryf Hebr.4:12 die “Swaard” ~ Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Hoe kan “die vader van die leuen” (die satan) enige iemand wie hierdie swaard in die hand het, mislei en versoek, want met hierdie wapen in die hand ontbloot jy die vyand oombliklik.

Niks in die wêreld is meer kragtig as die Woord van God nie.

5. VAT DIE SWAARD:
Paulus sê in v.17 ~ ... vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Hy sê nie: As jy wil, neem die swaard nie. Hy sê ook nie: As jy daaraan dink om dit te gebruik nie. Nee, hy sê: Vat dit, m.a.w. gebruik dit; dit moet byderhand wees; dit moet altyd in die hand wees. Dit is m.a.w. ’n opdrag. En as dit ’n opdrag is, moet ons weet hóé om dit te gebruik.
· In die eerste plek moet ons die Woord lees ten einde hierdie wapen doeltreffend te gebruik. Dit is ondenkbaar dat enige persoon wat homself ’n Christen noem, nie die Bybel gereeld lees nie. Die mens se verstand is nou maar net een maal so dat ons nie iets wat ons een keer lees, vir altyd kan onthou nie en daarom moet ons dit gereeld lees.
· Tweedens moet ons die Woord gereeld oordink. Dit was die geheim van “groot manne” in die kerkgeskiedenis – manne soos Hudson Taylor, John Bunyan en talle ander. Ps.1:1-3 sê ~ Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, 2 maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.
· Derdens word die swaard die gouste gegryp en vir aksie gereed gekry, deur die Woord te memoriseer.
· Vierdens word ons kragtige swaardvegters as ons die Woord bestudeer. 2Tim.2:15 (O.A.V.) ~ Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.

6. GEBED:
Laat ons die swaard stewig vasgryp in die hand deur die Woord doelgerig en met toewyding te bestudeer en te memoriseer, want ons is in ’n hewige en lewenslange oorlog gewikkel. Ons moet die volle wapenrusting aantrek en dit permanent aan hou.

Paulus sluit egter nie sy beskrywing van die wapenrusting af met die swaard van die Gees nie. Nee, hy gaan voort deur ’n uiters belangrike faset van ons oorlogvoering in vv.18-20 te beskryf – so ’n belangrike faset, dat ons daarsonder met al die gevegsmondering op hul plek, nie staande sal kan bly nie en dit is gebed.

Hoe belangrik Paulus gebed sien, word vir ons pragtig beklemtoon in v.18 ~ Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. Wanneer ons na die Engelse vertaling van hierdie vers kyk, word dit nog mooier uitgelig ~ ...praying at all times in the Spirit, with all prayer and supplication. To that end keep alert with all perseverance, making supplication for all the saints (E.S.V.). Vier keer gebruik Paulus die woord “all”. In Grieks is die woord wat Paulus hier gebruik, paõ (pas) en dit beteken o.a. altyd; elke keer; daagliks; so veel as moontlik. Wat Paulus dus hier t.o.v. gebed sê, is dat ons te alle tye moet bid; dat ons met allerlei soorte gebede moet bid; dat ons volhardend moet bid en laastens, dat ons vir alle gelowiges moet bid.
· Eerstens dan: Bid te alle tye. Wat bedoel Paulus hiermee? Presies dit wat hy sê – te alle tye; oral; enige tyd; enige plek; onder alle omstandighede. M.a.w. ons moet in alle situasies en onder alle omstandighede bid.

Wanneer ons gelukkig en opgewonde is moet ons, ons geluk en opwinding uitdruk teenoor God en Hom dank daarvoor. Wanneer ons terneergedruk en hartseer is, moet ons bid en ons hart deel met God. Ons moet by die werk bid en oppad en ook wanneer ons met vakansie is – te alle tye! Daar moet en mag geen situasie in die lewe wees waar en wanneer God nie deel is van ons gebedslewe nie.

Ons moet egter gebed, soos wat Paulus dit hier beskryf, in verband bring met die konteks waarbinne Paulus dit sê, nl. die wapenrusting en ons stryd teen die bose. Hoe kan ons die gordel van waarheid om ons heupe aansit en in plek hou sonder gebed? Hoe kan ons die borsharnas van vryspraak aansit sonder gebed? Wat sal die skild van geloof in ons hand hou, as dit nie vir gebed is nie? Of ons verlossing? Net God kan en sal dit alles uit genade vir ons doen, maar dan moet ons Hom deur gebed daarom vra, want uit eie krag kan en sal ons nooit as te nimmer daarin slaag om dit self reg te kry nie.

Ons sal nooit ons geloof kan laat seëvier tydens vervolging en beproewing as ons dit nie in geloof van God die Vader vra nie. Nee, ons moet te alle tye bid.
· Tweedens sê Paulus: Bid allerlei soorte gebede. Nou wat beteken dit? Ons moet daarop fokus dat ons gebedslewe nie net uit een soort gebed moet bestaan nie.

So baie gelowiges se gebede is deurspek met versoek op versoek. Ek dink dat die Engelse akroniem, wat ek al van tevore met julle gedeel het, ’n pragtige en maklike manier is om na gebed te kyk en dit te gebruik wanneer ons bid, nl.: ACTS wat staan vir “Adoration” (aanbidding en verering), “Confession” (belydenis), “Thanksgiving” (danksegging) en “Supplications” (smeking en voorbidding).
- Aanbidding is die eerste faset waarmee ons altyd ons gebede mee moet begin. Ons sal nooit werklik bewus wees van met Wie ons te doen het en wat se hulpbronne God tot ons beskikking stel, indien ons nie ons gedagtes laat wentel om wie en wat God waarlik is nie. Alle lof en eer kom Hom te alle tye toe en daarom is dit reg dat ons gebede altyd sal begin met aanbidding – aanbidding van ’n genadige, liefdevolle, almagtige, maar ook heilige God.
- Die tweede woord in ons akroniem is “confession”, of te wel, belydenis. Hierdie is ’n baie belangrike tipe van gebed, want om in die teenwoordigheid van die heilige God neer te buig en Hom te aanbid as ’n almagtige en soewereine God, sal en behoort ons noodwendig intens bewus te maak van ons sondige verlede (in gedagtes, dade en woorde) en dit behoort ons te dryf tot sondebelydenis. Jes.59:1-2 sê ~ Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. 2 Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.
- Die derde soort gebed of die derde faset van ons gebed moet bestaan uit danksegging (“thanksgiving”). Ons is altyd maar té haastig om dinge van ons Hemelse Vader te vra en ons vergeet so maklik om dankie te sê vir dit wat ons reeds in die verlede van Hom ontvang het en selfs vir daardie dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Wanneer ons God dank is daar veral een ding waarvoor ons Hom moet dank en dit is vir redding en vergifnis wat ons reeds ontvang het.
- Laastens is smeking (“supplication”). Die laaste faset en laaste tipe van gebed, is dié van smeking, waar ons, ons behoeftes aan God bekend maak. Jesus het ons immers self geleer dat ons van Hom mag vra, toe Hy in Matt.6:11 gesê het dat ons vir ons daaglikse brood moet vra. Indien ons in gebed na God gaan en van Hom vra wat volgens Sy wil is, kan ons die versekering hê dat Hy dit aan ons sál skenk (1Joh.3:21-22).
· In die derde plek sê Paulus: Bid volhardend. In die Engelse vertalings staan daar – “Pray always”. Daarmee wil Paulus nié sê dat ons permanent in gebed moet verkeer nie. Nee, wat hy sê, is dat ons te alle tye van die dag of nag, die vrymoedigheid moet en mag neem om te bid én ons moet gebruik maak van die geleentheid om dit te doen (dank Hom bv. kort-kort vir allerlei dinge deur die dag wat rondom jou gebeur of waaraan jy dink, ens.). Gebed moet dus ’n natuurlike deel van ons lewe word. Ons moet dus die vrymoedigheid neem om selfs tydens ’n gesprek vir iemand te sê dat jy nou eers wil bid; of terwyl jy bestuur; of in jou bed; of by die werk, ens. Gebed word dus nie afgesonder net vir spesiale gebedsgeleenthede, of sekere tye van die dag nie.

Ons moet onthou, dat die duiwel alles in sy vermoë doen om te keer dat ons bid (ook in ’n groep, of in die gemeente) – hy sê so maklik vir ons dat ons nie kan bid nie, want “so en so” is ’n gebedsreus en wie is ek om voor hom te bid – en ons “val” telkens vir sy leuen. Kan ek dit maar sê? Wanneer ons in ’n groep bid en ek nie saam bid nie, moet ek myself gaan ondersoek en vra waarom ek dit nie doen nie – wie vrees ek die meeste: My boers en susters? Die satan? Of vrees ek God die meeste? Indien my antwoord God is (en dit behoort die geval te wees as ek wedergebore is), dan mag ek nie stilbly nie – dan móét ek by elke geleentheid bid! Dan móét ek volhardend bid!
· Laastens sê Paulus: Bid vir alle gelowiges. Hoe is dit moontlik om vir alle gelowiges te bid – ons ken nie eens almal nie? Die gedagte wat Paulus hier het, is dat ons in die algemeen vir onbekende gelowiges moet bid en dan spesifiek ook vir bekende gelowiges. Dit impliseer “huiswerk” of navorsing, want as ons bv. vir die Kazakhstanse gelowiges wil bid, moet ons iets van hulle weet. Ten einde dit te kan doen kan jy bv. na ons gemeente Blog gaan (http://www.diewaarheidmaakvry.blogspot.com/) – daar verskyn elke dag ’n foto van ’n inwoner van ’n bepaalde volksgroep met besonderhede waaroor gebid kan word. Of skryf in vir ’n Sendingorganisasie se nuusblad, want daarin sal jy ook inligting t.o.v. gebedsversoeke vir volksgroepe en gelowiges in daardie land ens. vind. ’n Ander handige boek is "Operation World" van Patrick Johnstone (of hulle Webtuiste: http://www.operationworld.org/) en ’n uitstekende Webtuiste waar talle inligting verkry kan word is: http://www.joshuaproject.net/. Ek wil jou uitdaag om voortaan, weekliks saam met my te bid vir gelowiges in vreemde lande (ek sal ook voortaan ’n blaadjie oor die groep waarvoor ons gedurende die week kan bid, in ons Bulletin plaas).

Ek het gesê dat ons gebede egter ook spesifiek moet wees. Paulus gee vir ons ’n voorbeeld hier, deurdat hy in v.19 sê, ...Bid ook vir my. Dit impliseer twee dinge: Eerstens moet ons as broers en susters by mekaar betrokke raak, sodat ons kan weet en die vrymoedigheid kan neem om vir ’n broer of suster te vra waarvoor ons kan bid, MAAR, dit impliseer ook dat ek as gelowige soos Paulus moet maak en die vrymoedigheid moet neem om my broers en susters te vra om vir bepaalde behoeftes te bid.

7. VREDE VIR ALMAL:
Paulus se gedagtes was waarskynlik nog steeds besig met gebed, toe hy sy brief aan die Efesiërs afgesluit het. En hy skryf in sy slotparagraaf aan hulle en sê dat die draer van die brief, nl. Tigikus vir hulle sal vertel hoe dit met hom gaan, sodat hulle vir hom en sy medewerkers kan bid. Hy gaan egter voort en hy bid vrede en liefde en geloof op hulle af. Dit is interessant dat hierdie drie onderwerpe dan ook die hoekstene was waarop Paulus hierdie bepaalde brief gebou het en daarom bid hy dit ook vir sy lesers toe en mag elkeen van ons ook hierdie drie hoekstene vir mekaar bid, maar ook ervaar ~ Vrede en liefde en geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus (vir julle)! 24 Die genade sal by (julle) almal wees wat vir ons Here Jesus Christus met onverganklike liefde liefhet. Amen.

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 18 Julie 2010