Sunday, July 11, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 11 Julie 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 28 (Ons Geestelike Geveg - 08) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING:
Ef.6:10-18 ~ Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. 14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

2. INLEIDING:
Die vyfde stuk van God se wapenrusting word verteenwoordig deur die Romeinse soldaat se helm – ’n item waarsonder geen soldaat ooit in ’n gevegsituasie betrokke sou raak nie. Hierdie helms was gewoonlik van, óf dik leer, óf swaar gegote, of uitgeklopte metaal gemaak en dit het gewoonlik ook oor wangstukke beskik, ten einde die gesig behoorlik te beskerm.

Die doel met hierdie helm was natuurlik om die kop en gesig teen beserings te beskerm en spesifiek teen die gevaarlike breë en lang swaarde wat veral deur die perderuiters gebruik was. Hierdie perderuiters het hierdie lang swaarde, wat nagenoeg 1.3 m lank was, gebruik om hul opponente se koppe af te kap, of hul skedels oop te kloof.

Die feit dat die helm in verband staan met geloof, kan maklik geïnterpreteer word dat ons gered is of nie – ja, dit is dit ook, maar 1Tes.5:8 gee egter vir ons meer inligting oor hierdie saak ~ Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. Hier praat Paulus van die hoop wat opgesluit lê in ons verlossing en saligheid. Paulus praat dus hier in Ef.6:17 van die gelowige se uiteindelike bestemming, eerder as ons onmiddellike situasie. Hy sê dus m.a.w. dat ons vooruitsig op ons uiteindelike bestemming (die ewigheid), ons sal beskerm en sal deurdra in die hitte en verwarring van die stryd teen die bose.

Daar word vertel dat die troepe wat onder Lord Cromwell, “die Beskermer” geveg het, nooit ’n geveg verloor het nie, omdat hulle as Calviniste geweet het dat hulle uiteindelike bestemming vas en seker was en dat hulle geveg het omdat God hulle gelei het om daardie vaste vertroue in hul uiteindelike bestemming te kan hê. In ’n sekere sin moet dit ook waar wees van ons ten spyte van die feit dat ons dikwels terugslae beleef. Genadiglik kan ons ook weet dat Paulus self, terugslae beleef het gedurende sy aardse stryd – daarom dat hy in 2Kor.4:8-9 sê ~ In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 9 ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Hy sê dus dat hy soms verdruk word; dat hy soms terneergedruk is; dat hy soms sonder raad is; dat hy soms vervolg word en dat hy soms op die “grond neergegooi word”. MAAR, hierdie tydelike terugslae is nie die einde nie en ook is dit nie doodskote nie, want Paulus sê, dat ons nie terneergedruk is nie; ook is ons nie radeloos nie; of deur God verlaat nie; of vernietig nie... en daarom verloor ons nie moed nie. Al vergaan ons uiterlik, innerlik word ons dag vir dag vernuwe, want sê Paulus in 2Kor.4:17-18 ~ Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. Ons moet dus te alle tye en veral tydens aanslae van die bose, ons oë gerig hou op Jesus Christus wat hierdie ewige sekuriteit waarvan Paulus praat, vir ons bewerkstellig het.

Hoor net wat sê die Hebreërskrywer in Hebr.2:5 ~ Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. Die hiernamaals is nie voorberei vir die engele nie, maar dit word voorberei vir ons (Hebr.4)! Ook Petrus in 1Pet.5:10 bevestig dit wanneer hy sê ~ God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Wat ’n wonderlike en onbeskryflike vooruitsig!

Die helm van verlossing is dus ons hoop op die uiteindelike en finale redding wat bemoediging aan ons verskaf, nl. om te weet dat ons stryd hier op aarde net tydelik van aard is. Ons is dus nie in ’n wedloop gewikkel waar ons kan verloor nie, want ons weet dat die woorde in Rom.8:30 ook waar is van ons ~ Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. Nie ’n enkele siel wat uitverkies is, sal dus verlore gaan nie.

3. ONS ANTWOORD:
Om dus die helm van verlossing op te sit, beteken dat wanneer ons deur die bose aangeval word; wanneer ons versoek word; wanneer ons beproef word, en wanneer hy vir ons sê dat daar geen waarde in ons Christenskap steek nie en dat die Bybel vol leë en vals beloftes is en dat ons net sowel kan opgee, kan ons hom antwoord deur vir hom te sê dat ons nie sal toelaat dat hy ons mislei met sulke valshede nie en dat ons weet dat daar verskillende stadia op ons geloofspad is. Ons kan verder vir hom sê, dat ons weet dat ons uit genade en deur ons geloof in Jesus Christus gered is en dat ons oppad is na ons ewige en hemelse tuiste, daardie oomblik wanneer ons redding volkome sal wees – afgehandel sal wees. Soos wat Paulus reeds in Ef.5:27 vir die Efesiërs gesê het ~ ...sodat Hy die kerk (dit is ons as gelowiges) in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. Ons kan dit verder sê, omdat Jesus dit reeds in Joh.10:28-29 aan ons belowe het ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.

4. DIE KWALITEIT VAN MY HELM:
Wanneer ’n mens oor naweke op die paaie ry, sien jy dikwels groepe motorfietsryers van verskillende klubs wat op sg. “breakfast runs” gaan. Een so ’n klub is die Harley Davidson-klub. Mense met eksklusiewe en baie duur motorfietse met ’n kenmerkende gedreun – so eksklusief is dit, dat daardie besondere klank van die H.D. blykbaar gepatenteer is. Hoe dit ook al sy – jy sal nie sommer ’n H.D. ryer met ’n helm op sy kop sien wat lyk soos die ander motorfietsryers se helms nie. Ander motorfietsers se helms is hoë kwaliteit helms wat die hele kop en selfs die kakebeen beskerm, maar nie H.D.- ryers se helms nie – hulle gebruik meestal ’n kadotjie wat die ore; die hele gesig en selfs die kakebeen blootstel – ’n uiters gevaarlike en “effense” helm dus, wat ek glo, nie aan SABS standaarde voldoen nie.

Baie gelowiges is ook tevrede met ’n “goedkoop” helm, of ’n helm wat nie ordentlike beskerming bied nie en daarom is dit noodsaaklik dat ons sal vasstel of ons ’n helm op ons kop het wat duursaam is en voldoen aan al die vereistes en of dit ook maar net ’n kadotjie is, want ons wil tog sekerlik nie hê dat daar dieselfde van ons gesê word as van Job se vriende nie ~ ... hulle hoop word beskaam, hulle kom by die spruit, en daar is niks (Job 6:20). Ons moet dus hand in eie boesem steek en vir onsself, eerlike vrae vra t.o.v. ons verhouding met Christus Jesus en dan onsself baie eerlik antwoord. Indien ons besef dat ons ’n helm op die kop het wat nie behoorlike geestelike beskerming bied nie, moet ons ernstig en spoedig werk maak daarvan ten einde dit reg te stel. Jy het twee verantwoordelikhede ten einde die helm stewig te hou. Vra jouself die volgende om vas te stel of jy hoop het op die ewige saligheid:
· Dankbaar vir redding: Is ek werklik dankbaar vir my redding? Leef ek ’n dankbaarheidslewe? Indien my dankbaarheid onder verdenking is, moet ek bekommerd wees oor my lewende hoop en is my helm nie van goeie kwaliteit nie en dus nie stewig op my kop nie en is ek ’n oop skyf vir die vyand. Hoe gereeld dank jy God die Vader vir verlossing deur Jesus Christus aan jou geskenk? Hoe gereeld bid jy 1Pet.1:3-4 ~ Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop 4 op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word? As ek en jy God gereeld dank vir “kos en klere”, hoeveel te meer moet ons Hom nie dank vir redding verkry nie!
· Lewe ’n dankbaarheidslewe: Daar moet te alle tye ’n korrelasie wees tussen jou beginsels en oortuigings en jou praktiese lewe – jou hoop op ’n ewige lewe en jou daaglikse lewe hier en nou op aarde. Kan mense sien dat jy iemand is wat oor ’n lewende hoop beskik? As ons nie ooreenkomstig ons roeping leef nie, is ons besig om Jesus Christus te verraai en die Woord is baie duidelik daaroor dat ons lewenswandel te alle tye Christusgesentreerd moet wees – Fil.1:27a ~ Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. Ons moet te alle tye met die woorde van 2Pet.3:11-12 in ons gedagtes leef, nl. ~ Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. 12 Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt.
· My verhoudinge: As ons dan praat van ons lewenswandel wat in ooreenstemming moet wees met ons roeping waartoe ons geroep is as gelowiges, wat behels dit? Die mens is geskape om in verhoudinge met andere te staan. Eerstens moet ons onsself afvra, met wie moet ons in verhouding staan? Uiteraard net diegene wat dieselfde hoop as ons koester. Toe Petrus en Johannes die tronk verlaat het, is hulle heel eerste na hul broers en susters in die geloof (Hand.4:23). Dit impliseer egter nié dat ek geen kontak met ongelowiges mag of moet hê nie, máár, wanneer ek kontak met hulle het, moet ek bepaal wie kompromie maak – word ek soos hy, of wil hy word soos ek? Bepaal ek die atmosfeer en die inhoud van die gesprekke, of bepaal hy dit? Leef ek my sending opdrag teenoor hom uit, of nie?
· Vreesloos vir die dood: Soos reeds verlede week gesê, behoort ons geen vrees vir die dood te hê nie, omdat ons as gelowiges weet dat die dood maar slegs die begin van die ewige heerlikheid is. William Gurnall het in sy boek oor die wapenrusting wat in 1655 verskyn het, die volgende hieroor gesê: Why should you be afraid to die when you hope to live by dying? Is the runner afraid of coming to his goal too soon? Does the betrothed virgin grieve when her wedding day approaches? Death is all this and more. When it comes, your jubilee comes. You are free. Your race is run and the crown won – God will place it on your head as soon as the soul goes out of your body!
· Vreugde: Iemand wat depressief en terneergedruk voel, sal dit moeilik vind om ’n lewende hoop te koester. Christus het Goeie Nuus aan ons gebring – nuus wat ons opgewonde en vol blydskap moet maak. Ons moet waak daarteen om ons nie blind te staar teen die sorge van die lewe nie, want as ons terneergedruk is, is ons helm van verlossing nie behoorlik op sy plek nie – ons moet ’n ewigheidsperspektief ontwikkel en ons ganse lewe – swaar kry en goeie tye, teen die agtergrond van die ewigheid sien.
· Vrees God: Ps.147:11 leer ons dat ~ ...die HERE ’n welgevalle (het) in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop. Te midde van ons vreugde en vreesloosheid vir die dood, moet ek steeds onthou dat ek God as heilige en volmaakte God, moet vrees en eer. Baie mense wat tot redding kom, is baie dankbaar en waarskynlik opgewonde oor hul redding, maar in die proses verloor hulle ook baie dikwels perspektief en word God (en ek sê dit met groot piëteit) hulle “pêl” en klap hulle hul vingers en God moet net voorsien. Hulle sal ook sonder respek van Hom praat, deur bv. te praat van die "Ou Kêrel daarbo", of hulle sal sê: Ek het vir die Here gesê, Here JY moet.... Nee, ons moet God altyd vrees en eerbied hê vir Hom, want Hy ís God en ons is maar net skepsele, wat onverdiend en uit genade gered is.

5. VERSTERK JOU HOOP:
Ons het verlede week gekyk na swak en sterk geloof – net so vind ons wankelende hoop en daarom is dit noodsaaklik dat ons, ons hoop sal versterk. Hebr.6:11-12 is baie duidelik hieroor ~ Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is. 12 Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.
· Hieruit blyk dit dus duidelik dat ons ’n plig het om ons hoop te versterk. En let op wat die Hebreërskrywer in v.12 sê ~ Julle moet dus nie traag word nie. Die implikasie met hierdie opmerking is dus dat daar ’n sterk moontlikheid bestaan dat ons slap in die knieë kan raak en ons moet bedag wees daarop.
· Tweedens, is ’n weiering, of traagheid om ons hoop te versterk, ’n mosie van wantroue en ’n aanduiding van disrespek teenoor Christus en Sy versoeningswerk. Dit is dus niks anders as minagtende optrede van ons kant, want hoe kosbaarder iets is, des te harder sal ’n mens tog werk om dit in besit te neem en as ons dus nie hard werk daaraan om ons hoop te versterk nie, is ons besig om Christus se soendood aan die kruis te minag.
· Hebr.3:6 ~ ...as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop. ’n Derde rede dus waarom dit noodsaaklik is dat ons, ons hoop sal versterk, is omdat ons ernstig getoets mag word. Ons weet nie hoeveel beproewing oor ons lewenspad gaan kom nie, maar wanneer dit kom, moet ons vashou aan ons hoop en nie moed opgee nie. Natuurlik wil die satan hê dat ons hoop sal opgee, want dan wen hy die stryd, maar indien ons te midde van beproewing, steeds vashou aan ons lewende hoop, sal ons sterk in die geloof bly staan.

6. HOE OM JOU HOOP TE VERSTERK:
Hoe moet ons, ons hoop dan versterk?
· Ons moet God se Woord toegewyd bestudeer. Paulus bevestig hierdie feit in Rom.15:4 wanneer hy sê ~ Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. Die satan weet dat wanneer ons nie God se Woord toegewyd bestudeer nie, ons ’n oop skyf vir hom is. Wanneer ons die Woord bestudeer, moet ons drie doelwitte najaag:
- Ons moet die Woord verstaan.
- Ons moet die voorwaardes vir redding verstaan – m.a.w., ons moet verstaan wat die verskil is tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond – die wet en genade. Ons totale hoop hang tog af van sondebesef en bekering en geloof. Ons moet dus verstaan wat dit beteken wanneer Jes.53:4-5 sê ~ Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. 5 Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
- Maak seker dat jy ’n berouvolle en gelowige sondaar is.
· ’n Tweede wyse om ons hoop te versterk is ’n heilige lewenswandel. Volgens Tit.2:12-13 gaan ’n heilige lewe en ’n strewe na ’n lewende hoop, hand aan hand ~ Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, 13 terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Wanneer ons afgestomp raak t.o.v. sonde, sal ons vind dat ons hoop op die hiernamaals ook afneem.
· Derdens moet ons voortdurend vir God vra dat Hy hierdie hoop in ons gees sal aanwakker – soos wat die Psalmdigter dit stel ~ Die leeus brul op soek na prooi: hulle vra hulle kos van God (Ps.104:21). Ons moet altyd onthou, dat God presies weet wat ons behoeftes is, maar Hy wag vir ons om daarvoor te vra.
· Liefde het ’n geweldige inpak op ons hoop. Hoe meer ons aandag skenk aan ons liefde vir Christus, hoe sterker sal ons hoop groei en sal ons geduldig op Hom wag. Judas 21 som dit pragtig op ~ Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee. In die vierde plek, moet ons dus, ons liefde laat toeneem.
· Wanneer ons hoop op ’n ewige lewe vervaag, moet ons, onsself herinner aan genadegawes uit die verlede. Wanneer ons dit doen word ons hoop weer versterk. Dawid het hierdie gewoonte vir homself aangeleer en dit het hom versterk, veral in tye van beproewing en swaarkry ~ Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër. 13 Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins. 14 Alles wat U doen, is heilig, o God. Waar is ’n god so groot soos God? (Ps.77:12-14).

7. AFSLUITING:
Kom ons som net op wat ons tot nou gesê het:
· Eerstens moet ons kyk na die kwaliteit van ons helm – en ek doen dit deur vas te stel of ek:
- Dankbaar is;
- ’n Heilige lewe lei;
- In die regte verhoudinge staan;
- Of ek vreugde het;
- Of ek gereed is vir die dood;
- Of ek God waarlik vrees.
· Tweedens kan ek my hoop versterk, deur:
- Die Woord te bestudeer;
- ’n Heilige lewe te leef;
- God te vra vir hoop;
- My liefde vir Christus te verinnig;
- Myself te herinner aan al die genade wat ek reeds van God ontvang het.

Ons as gelowiges het ’n wonderlike lewende hoop waaraan ons kan vashou in tye van beproewing en swaarkry en in tye wanneer die satan jag op ons maak. Vertroetel jy hierdie hoop in jou lewe? Kom jy dalk hierdie hoop kort. Jesus Christus het vir ons aan die kruis gesterf om hierdie helm van geloof en hoop aan ons te skenk – wy jou lewe aan Hom en jy sál oor hierdie lewende hoop beskik.

Rom.15:13 ~ Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 11 Julie 2010