Tuesday, June 8, 2010

Openbaring Ontsluit - 22 (Die Romeinse Ruitery) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:
Die Joodse Oorlog gedurende 66-70 n.C., asook die vooraf gebeure, was rigtinggewend t.o.v. wêreldgeskiednis, want nie net alleen het God deur hierdie gebeure, die “verbond-verbrekende” Joodse volk vernietig nie, maar ook op ’n unieke wyse Sy Nuwe Verbondvolk “gelanseer”.

Hierdie weergawe van die geskiedenis van die Here Jesus wat in aantog is, is van uiterste belang, ook vir ons vandag en wel om ’n paar redes:
· Eerstens waarsku dit ons as Kerk van die Here Jesus teen die gevaar van geloofsversaking en die geweldige gevolge wat op sulke afvalligheid volg. Paulus sê in 1Kor.10:1-12 dat die geskiedenis van Israel moet dien as voorbeeld vir gelowiges, dat dieselfde lot op ons wag, indien ons die Nuwe Verbond met God, op dieselfde wyse sou verbreek as wat die Joodse volk gedoen het met die Ou Verbond.
· Tweedens dien hierdie geskiedenis as bemoediging vir ons, omdat dit vir ons bevestiging is daarvan dat Jesus Christus waarlik Here is.
· Die Joodse leiers het gedink dat hulle Jesus uit die weg geruim het toe hulle Hom gekruisig het, maar Jesus het net voor Sy kruisiging in Matt.24-25; Mark.13 en Luk.21, belowe dat Hy Sy oordele oor die volk wat Hom verwerp het, sal laat losbars en dat Hy ’n nuwe volk vir Hom gaan kies en ’n Nuwe Verbond met hulle sal sluit. Hierdie waarskuwingswoorde van Jesus was dus nie bloot net leë woorde nie en dit kry veral vir ons betekenis wanneer ons die vervulling van Jesus se profesieë oor Israel in Openbaring lees en ons sien en besef dat die Nuwe Testamentiese Kerk (waarvan ons as gelowiges, deel is) nou God se volk is en die Nuwe Verbond met óns gesluit is.
· Insig in Openbaring dien as ondersteuning en bemoediging vir ons gebedslewe, want uit Openbaring blyk dit baie duidelik dat God die Vader die uitroepe van Sy kinders nie ongehoord verby laat gaan nie. Verder is dit ook duidelik dat God nie toelaat dat wêreldse hindernisse in die pad van die voortgang van die Evangelie sal staan nie, of in die pad van die vestiging van Sy Kerk op aarde.

Hierdie gedeelte in Openbaring bring ons nou by die sesde Trompet geskal en God se oordele wat oor Jerusalem uitgestort word. Ons het met die eerste vyf Trompet-oordele (Openb.8:1-13) gesien dat Israel se “ligte” al meer en meer uitgedoof is. Israel se afvalligheid en verbreking van die Ou Verbond het gelei tot hul verwerping en vernietiging deur God. In Openb.9:1-12 het ons gesien hoe dat Israel oorgegee is aan demoniese aktiwiteite en een derde van die stad se inwoners was gemartel sonder dat hulle gesterf het en dit het vyf maande lank geduur. Hierdie was die vyf maande (Mei tot September van 66 n.C.) wat die Joodse Oorlog vooraf gegaan het. Gedurende hierdie tydperk het die verskriklikste dinge denkbaar in die stad plaasgevind.

Hierdie verskriklike gebeure het egter tot ’n einde gekom met die geskal van die sesde trompet. Die sesde Trompet het ’n heel nuwe oordeel na vore laat kom.

Nou, met die sesde Trompet, verander dinge egter radikaal en word duisende inwoners deur mede-inwoners op die aakligste wyses vermoor net om kos in die hande te kry.

In 66 n.C. het die Joodse Selote (’n Joodse politieke party met godsdienstige ondertone, wat nie gehuiwer het om die ergste geweld te gebruik om hul doelwitte te bereik) in opstand gekom teen Gessius Florus (die Romeinse Saakgelastigde vir Judea op daardie stadium). Nero stuur vir generaal Vespasius met sy weermag om die opstand te onderdruk. Vespasius bereik die stadspoorte dieselfde tyd as wat die Joodse Fees van die Trompette begin het – baie interessant en nie toevallig dat dit ooreenstem met die “trompet-oordele”! Hierdie is dan ook in ooreenstemming met Jesus se Olyfberggesprek in Luk.21:20-22 ~ Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21 Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22 want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid. So erg as wat die demoniese aktiwiteite was wat gepaard gegaan het met die eerste vyf trompette, so is die uitvoering van die oordele van God wat voortgespruit het uit die sesde Trompet, ’n vulletjie.

Tydens die opstand van die Joodse Selote het hierdie einste Selote verkriklike dade gepleeg en het onskuldige Jode erg onder hierdie groep Jode deurgeloop. Hierdie Selote het hulle begin grimeer en aantrek soos vrouens en homoseksuele dade gepleeg, maar terselfdertyd ook vrouens misbruik en mede-Jode op strepe gemartel en gedood. Veral ou mans is gemartel en dood geslaan. Vrouens se hare is uit hul koppe geruk en babas is op die grond dood gegooi. Lyke is net oor die stadsmuur gegooi met die gevolglike besoedeling van die stad se waterbronne. Sommige inwoners het hul laaste stukkies goud ingesluk net om te verhoed dat dit gesteel word, maar toe hierdie praktyk aan die lig kom, is hulle mae bloot oopgesny – so is daar bv. in een nag nagenoeg 2 000 mense gedood.

Soos Josefus dit stel in sy skrywe: Hell was in session in Jerusalem. Demonic forces tormented those who had not repented and turned to Christ. The only ones exempt from this demonic activity, were the remnant – the 144 000. God’s hand mercifully protected them as it had protected those few in the wicked cities of Sodom and Gomorrah just before its utter annihilation. Wanneer ’n mens na hierdie verhale luister van wat in Jerusalem gebeur het, dan herinner dit ’n mens aan die woorde van Jesus in Matt.24:21 ~ ... want in daardie tyd sal daar so ’n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie.

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Kom ons kyk dan eerste na die sesde Trompet.
· Openb.9:13-15 ~ Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ’n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. 14 Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.” 15 Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat om ’n derde van die mensdom dood te maak. In hierdie teksverse lees ons weereens van die altaar en dit is heel gepas ook, want u sal onthou dat dit juis by die altaar was dat die Ou Testamentiese Martelare uitgeroep en gesmeek het dat God Sy oordele moes laat losbrand op hul martelaars. Aangesien dit ook Jesus Christus is wat God se oordele uitoefen, kan ons aanvaar dat die stem wat hier roep, dié van Christus is en Hy gee opdrag aan die sesde Trompetblaser om die vier Engele wat vas gebind was by die Eufraatrivier, los te laat.

Wanneer ons hier in v.14 kyk na die woord “loslaat”, dan is dit in ooreenstemming met Judas 1:6 ~ Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag. Ons kan derhalwe aanvaar dat hierdie “vier engele”, gevalle engele is. Demoniese magte was reeds aan die werk tydens die vyfde Trompetoordeel, maar dit was nog nie verby nie, want vier verdere demone gaan ook nou ingespan word tydens die sesde Trompetoordeel.

Hierdie “engele” was deur God voorberei vir hierdie uur en dag en maand en jaar. Hierdie uitdrukking impliseer nie dat dit God, een jaar en een maand en een uur geneem het om hulle voor te berei nie. Dit beteken bloot dat God hulle vir ’n baie spesifieke doel en tyd voorberei het. Verder beteken dit ook dat God hulle nie net vir ’n vae tyd van nagenoeg ’n jaar en ’n bietjie voorberei het nie, maar vir ’n baie spesifieke uur wat deur Hom bepaal is. Hulle was voorberei vir ’n baie spesifieke doel. En hierdie doel? Om ...’n derde van die mensdom dood te maak. Vroeër tydens die vyfde Trompetoordeel het die sprinkane toestemming gekry om die mense seer te maak, maar nie te dood nie (9:4-6), maar hierdie demone ontvang ’n baie spesifieke opdrag om ’n derde van Jerusalem se inwoners dood te maak.

Dit is ook interessant om te weet dat die meeste van Israel se vyande in die verlede van oorkant die Eufraatrivier gekom het. Die grootste bedreiging vir die Romeinse Ryk het ook van dié kant gekom en veral van die Spartane. In die lig hiervan het die Romeinse weermag, baie troepe op die grens langs die Eufraatrivier gehad en Josefus skryf dat die eerste plek vanwaar Vespasius, troepe opgeroep het om na Jerusalem te gaan, juis van die Eufraatrivier af was. Toeval? Ek glo allermins!

Dit is betekenisvol om te sien dat “vier engele” groot invloed uitgeoefen het oor die Romeinse weermag. Profetiese literatuur vergelyk baie dikwels, volkere met bose geeste. So word die koning van Babilon (Jes.14:4-17) en die prins van Tirus (Eseg.28:1-19) bv. vergelyk met Lucifer. Daniël ontvang ’n boodskap van ’n engel wat in geveg met die prins van Persië en die prins van Griekeland was (Dan.10:18-21). Hierdie was dus klaarblyklik, demone wat geassosieer was met daardie spesifieke lande. Soos wat ons heel waarskynlik spesifieke demone (Ef.6:12) kan koppel aan spesifieke menslike regerings of lande, net so kan hierdie vier engele van Openb.9, gekoppel word aan die Romeinse Ryk.

Satan was dus oorspronklik van plan om Jerusalem te vernietig en sodoende pragtig in die hand van God te speel, deur God se wil uit te voer t.o.v. Jerusalem en in die proses ook sy eie ondergang en finale vernietiging “onder die hakskeen van die Saad van die vrou” te vervul.

Ons sien dus dat God die demone loslaat ten einde die Romeinse soldate te stuur teen Jerusalem. Die val van Jerusalem in 70 n.C. is waarskynlik dié beste getuienis van wat in die geesteswêreld gebeur wanneer ’n oorlog plaasvind. Ons leer ook hierdeur dat God ook ’n God van die geskiedenis is. Niks in die ganse heelal gebeur sonder Sy soewereine wil, of buite Sy beheer nie.

· Openb.9:16-19 ~ Die aantal perderuiters van hulle leërs was miljoene der miljoene en nog ’n keer soveel. Ek het hulle getal gehoor. 17 En in hierdie gesig het die perde en hulle ruiters só gelyk: hulle het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Die perde se koppe was soos die koppe van leeus, en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael uitgekom. 18 Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgekom het, is ’n derde van die mensdom doodgemaak. 19 Die perde se vermoë om skade te doen, is in hulle bekke en ook in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee pynig hulle die mense. Die getal perderuiters wat hier genoem word kom neer op 200 miljoen en kan sekerlik tog nie letterlik vertolk word nie, want daar was maar slegs, nagenoeg 200 miljoen bewoners op aarde gedurende die eerste eeu en daarom kon die Romeinse weermag nie uit soveel perderuiters bestaan het nie. Ons moet egter onthou dat getalle in Openbaring selde letterlik geïnterpreteer moet word. In die lig hiervan kan ons dus sê dat hierdie geweldige getal wat Johannes hier noem, ’n manier is om te verwys na ’n geweldige groot leërmag.

Ons sien egter ook weer iets van God se genade in hierdie toneel en skrywe, want Jesus het die waarskuwing t.o.v. Jerusalem se verwoesting aan Sy dissipels gerig en hulle het hierdie boodskap beslis verder uitgedra en is dit natuurlik ook in die Evangelies gedokumenteer, maar nou word hierdie waarskuwing weer op skrif gestel deur Johannes en word daar verdere genade tyd deur God aan die mense van Jerusalem gebied, sodat hulle hul kan bekeer.

Let ook daarop dat hierdie weermag bestaan uit ’n kavallerie en die ruiters sit op hul perde. Die Jode het nie ’n kavallerie geken nie (net voetsoldate) en dit het hulle nog meer die skrik op die lyf gejaag. Die ruiters het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Josefus het in sy skrywes ook bevestig dat die Romeine met ’n kavallerie aangeval het.

Die beskrywing van die perde is hoogs waarskynlik simboliese taal om te dui op die geweldige skade en doodslag wat hierdie kavallerie verrig het (beslis nie supersoniese kernmissiele soos Hal Lindsay e.a. in die 70 & 80-er jare aangevoer het nie). ’n Kommentator uit die 1800’s het beweer dat perderuiters hul koppe langs die van die perde geplaas het toe hulle aangeval het en dit het aan die perde die voorkoms van ’n leeu met maanhare gegee (dit mag waar of onwaar wees – net gedink dat dit ’n interessante opmerking was).

Ek glo dat hierdie prent wat Johannes hier skilder, eerder ’n profetiese beeld van God se oordeel is. Wat meer is, hierdie standpunt dra weereens Ou Testamentiese ondersteuning en ons vind dit in Jer.4:6-7 ~ Swaai die vaandel: Na Sion toe! Soek veiligheid, moenie talm nie! Ek, die Here, laat onheil uit die noorde kom, ’n groot ramp. 7 Die leeu het opgestaan uit sy lêplek, die vernietiger van die nasies is op pad, hy het uit sy blyplek uitgegaan om jou land te verwoes. Jou stede sal in puin lê, sonder inwoner (sien ook Amos 3:1-8 en Hos.11).

Die vernietiging van Jerusalem sou dus verskriklik wees en niemand behalwe die 144 000 wat geluister het na die woorde van die Here Jesus en hulle bekeer net, sou dit ontsnap nie. Dit is wonderlik om te sien hoe dat presies dieselfde situasie hom afgespeel het in die lewe van Noag én Lot. Beide Noag en Lot het hul volksgenote gewaarsku oor God se naderende oordele en beide was geïgnoreer. Hulle was egter beide reg, want God se oordele het losgebras en die ongelowiges of goddeloses was uitgedelg.

Ons lees verder in v.18 ~ Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgekom het, is ’n derde van die mensdom doodgemaak. Volgens Josefus was daar ten tyde van Pinksterdag, nagenoeg 3,3 miljoen inwoners in Jerusalem en Josefus skryf ook dat nagenoeg 1,1 miljoen Jode gedood is tydens die Joodse Oorlog - ... ’n derde van die mensdom doodgemaak! ’n Derde van 3.3 is 1.1!

In al die oorloë waarin die Romeine betrokke was, het hulle ’n voorhoede gehad, asook ’n agterhoede. Die ruitery was in die val van Jerusalem, die voorhoede en daarom verwys v.19 na die perde se vermoë wat in hul bekke geleë was, maar dan sê v.19b, dat die perde ook ’n agterhoede gehad het ~ ... want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee pynig hulle die mense. Waaruit het hierdie agterhoede bestaan? Weer vertel die geskiednisboeke vir ons, by monde van Josefus: Vespasius het, nadat die ruitery amok gesaai het, 160 reuse katapulte (ou werptuie om swaar klippe en bakke vlammende olie in ’n beleërde plek te skiet – dit het amper op dieselfde manier gewerk as ’n kettie). Josefus skryf voorts dat van die klippe wat tot ’n talent swaar was (ongeveer 28-30 kg.), wit geverf was en het dit die indruk van reuse haelstene geskep (Openb.16:21 ~ Groot haelstene, elkeen omtrent vyftig kilogram swaar, het van die hemel af op die mense geval).

Die punt van hierdie hele gedeelte is dat verwoesting en vernietiging seker is en ontsnapping onmoontlik.

· Openb.9:20-21 ~ Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie. Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode wat hulle self gemaak het van goud, silwer, koper, klip en hout, en wat nie kan sien of hoor of loop nie. 21 Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie. Dit word algemeen aanvaar dat mense wat hulle verhard teen die Evangelieboodskap se einde baie dikwels een van geweld en verwoesting is. Die Jode het dit op die harde manier geleer en laat ons terselfdertyd leer uit hulle foute en sodoende geweld en verwoesting in ons eie lewe, voorkom.

Hierdie verse moet ons egter ook aanspoor om mense wat afgedwaal het en in die proses is om hulle te verhard, oor te haal om terug te draai na Jesus Christus, want Johannes sê dat geloofsversaking, ’n sonde tot die dood is (1Joh.5:16). Daar is sóveel seën wat wag op diegene wat hul bekeer, dat dit vir ons ’n passie behoort te wees om die evangelie van verlossing te verkondig aan ’n ieder en ’n elk wat nie die Here Jesus Christus as Verlosser dien nie – Jak.5:20 ~ ...weet dan dat hy wat ’n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ’n menigte sondes vergewe word.

Ons moet bemoedig word deur die wete dat die Groot Opdrag, vrug sál dra en daarom moet ons bly bid, ywerig die Evangelie verkondig en self waak teen afvalligheid. Kom ons neem die Vader se belofte ernstig op, nl. dat Hy beheer oor hierdie wêreld gaan neem en sy eer en heerlikheid sál seëvier – Ps.46:1-12 ~ Vir die koorleier. Van die Koragiete. Op die wysie van “Jong Vroue”. ’n Lied. 2 God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. 3 Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, 4 al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela 5 Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste. 6 God is daar; die stad sal nie wankel nie. God sal hom help nog voor die môre kom. 7 Nasies kan raas en koninkryke wankel, maar as God sy stem laat hoor, smelt die aarde weg. 8 Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting. Sela 9 Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring: 10 die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur. 11 Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. 12 Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting. Sela.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 23 Mei & 06 Junie 2010