Monday, June 14, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 13 Junie 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 24 (Ons Geestelike Geveg - 04) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING:
Ef.6:10-18 ~ Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. 14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

2. INLEIDING:
Die geveg wat Paulus hier in hoofstuk 6 beskryf, is primêr ’n geveg tussen God Almagtig en die satan en sy gevalle engele, maar omdat ons as gelowiges aan God deur Jesus Christus behoort, word ons by hierdie geweldige geestelike geveg betrek en rig die satan sy aanslae hoofsaaklik teen ons, omdat hy weet dat hy magteloos staan teen God. En omdat hierdie geveg nie, in die woorde van 6:12, teen vlees en bloed is nie, kan ons ook nie hierdie geveg met ons eie fisiese wapens veg nie – trouens, 2Kor.10:3-5 sê dit ook vir ons ~ Natuurlik leef ons in ’n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. 4 Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies 5 en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Hierdie geveg is dus in die eerste plek God se geveg en kan daarom alleenlik in Sý krag gevoer word.

Ons kom nou by die wapenrusting wat Paulus vir ons sê, ons moet aantrek. Die eerste stuk van hierdie gevegsmondering is ...die waarheid (wat ons) as gordel om (ons) heupe moet aantrekdie waarheid!

3. DIE WAARHEID:
Wanneer Paulus praat van die waarheid, moet ons sekerlik eerstens vir onsself afvra, wat ís hierdie waarheid waarvan hy praat? In Joh.14:6 lees ons dat Christus die weg en die waarheid en die lewe is. Dit is wel so dat Christus, waarheid is, maar in ons gelese gedeelte ken Paulus bepaalde betekenisse toe aan elkeen van die onderskeie stukke van die gelowige se gevegsmondering en ons kan tog sekerlik nie Christus nét beperk tot een van hierdie stukke nie, want in Rom.13:14 sê Paulus ook vir ons ~ Maar beklee julle met die Here Jesus Christus (O.A.V.). Christus is dus die totale bekleding in wie ons volkome is – Hy kan dus nie beperk word tot net een stuk van die gevegsmondering (in hierdie geval, die “waarheid”) nie.

’n Ander verklaring, is dat hierdie waarheid waarvan Paulus hier skryf, verwys na die totale Bybelse waarhede soos geopenbaar in God se Woord. Jesus sê in Joh.8:32 ~ ... julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak. En later sê Hy in Joh.17:17 ~ ... U woord is die waarheid. En Paulus sê in Ef.4:21 ~ Julle het tog van Hom (dit is Christus) gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is. Hierdie waarheid is dus die waarheid t.o.v. God – van Sy karakter; Sy eienskappe; Sy genade en liefde, ens., maar ook handel dit oor die groot teologiese waarhede wat voortspruit vanuit die Woord en wat deur die eeue in die kerk van die Here Jesus gepreek is (ons noem dit dogma). Die vyand se missie is dan ook om hierdie kennis in ons te vernietig.

Daar is egter nog ’n derde faset van die waarheid wat geweldig belangrik is en wat baie nou aansluit by die vorige twee fasette. Ons moet onthou dat die sondige mens, God nié wil ken nie. Die kennis van God is beskikbaar vir hom, trouens hy kan nie daarvan ontsnap nie, dit is waarom Ps.19:2-4 sê ~ Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. 3 Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. 4 Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. Dit is hierdie kennis wat die vyand van die mensdom wil weerhou – die kennis wat kan lei tot redding en verlossing deur Christus Jesus.

Dit is ook betekenisvol dat Paulus begin met die waarheid. Dit suggereer dus dat indien ons suksesvol wil wees in enige skermutseling met die bose, dit dus nie net genoeg is om nét die Woord aan ons kant te hê nie – dit moet ín ons harte wees – ons moet dus oor kennis van die Woord en die Waarheid beskik ten einde ons te rig na die uiteindelike en finale oorwinning. Sonder kennis van die Woord, maar ook die toepassing van die waarhede van die Woord, gaan ons gordel loshang.

Die vraag is dus of ons gereeld omgaan met die Woord en die Woord se waarhede in en deur ons lewe toepas? Bestudeer ons ook die ander waarhede of te wel leerstellinge (dogma) wat voortspruit uit ons Gereformeerde oortuigings en wat gegrond is op die Woord?

Soldate van destyds, moes hul gordels styf om hul heupe vastrek, anders was hulle borsharnas nie behoorlik op sy plek nie en het dit openinge gelaat waardeur die vyand se pyle kon dring – ook was sy swaard nie presies op die regte plek, sodat hy instinktief daarna kon gryp en dit die eerste keer raak gryp nie – sonder die soldaat se gordel presies op die regte plek, was hy dus uiters kwesbaar in die geveg. Net so moet ons ook toesien dat ons die waarheid behoorlik vas gegespe het.

Paulus sê dus dat ons die waarheid om ons heupe moet aantrekons heupe? Wat bedoel hy met heupe en waarom moet ons die waarheid om ons heupe aantrek? Petrus verskaf aan ons die antwoord in 1Pet.1:13 ~ DAAROM, omgord die lendene van julle verstand (O.A.V.). Dit is dus duidelik dat die heupe waarna Paulus verwys, niks anders as ons verstand en gees is nie.

4. DIE VYAND SE AANSLAG:
Ons het in die weermag, altyd die uitdrukking gehad, dat ’n mens vuur met vuur moet beantwoord. Hierdie selfde uitdrukking is van toepassing in ons geveg teen die satan.
Petrus, in 1Pet.5:9 waarsku ons, om die vyand te weerstaan in die geloof – hy sê ~ Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. Omdat ons geloof gebaseer word op die waarheid sê Petrus (en Paulus) dus in effek, dat ons die vyand met die waarheid moet teëstaan en as ons die ou gesegde, antwoord vuur met vuur in gedagte hou, impliseer dit dus ook dat satan ons met dieselfde vuur aanval – met die waarheid dus, of dan ten minste met ’n verdraaiing van die waarheid, of ’n poging om die waarheid waaroor ons beskik te vernietig en sy aanslag vind op ’n verskeidenheid van maniere plaas – hy doen dit óf direk, óf indirek en subtiel:
· Die eerste wyse waarop die satan poog om ons kennis te ondermyn, is om God se karakter in twyfel te trek. Dit is waarom hy vir Adam en Eva gesê het ~ Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie? En ~ ...maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken (Gen.3:1,5). Die satan se hoofmotief is om ons daarvan te oortuig dat God nie vertrou kan word nie en dat ons God se Woord in twyfel moet trek – m.a.w., dat God ’n leuenaar is. Dit is waarom Johannes in 1Joh.5:10 sê ~ Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. Satan, die vader van die leuen (Joh.8:44), projekteer dus se eie perverse beeld as leuenaar, op God.

Wanneer ons as gelowiges twyfel in God se goedheid; in Sy liefde; in Sy genade; in Sy verlossing; in Sy mag, ens. speel ons pragtig in die hand van die satan. Wanneer ons angstig en uitsigloos en wanhopig raak, skaar ons, onsself dus by die satan deur God se karaktereienskappe in twyfel te trek en maak ons Hom ook tot leuenaar.

Wanneer ons God se karakter in twyfel trek, het ons nie die waarheid as gordel om (ons) heupe nie, want die waarheid t.o.v. God se karakter, is juis die teenoorgestelde, want Hy ís Elohim (God die Skepper – Gen.1:26); Hy ís El Elyon (God die Allerhoogste – Gen.14:20); Hy ís El Roi (die God wat oral kan sien – Ps.139:7-12); Hy ís El Shaddai (die Algenoegsame – Gen.17:1-3); Hy ís Adonai (die Here – Luk.6:46); en so kan ons aangaan, maar die oomblik as ons twyfel aan hierdie en aan al Sy ander karaktereienskappe, is ons besig om die waarheid te ontken en twyfel ons in die waarheid en is ons ’n oop skyf vir die satan.

· Tweedens ondermyn Satan ons kennis, deur ons gehoorsaamheid te ondermyn. Hy bring óf beproewing oor ons pad wat dit moeilik vir ons maak om gehoorsaam te wees aan God se standaarde en roeping vir ons lewe, óf hy maak die lewe vir ons só maklik dat ons nie nodig het om aan God se vereistes te voldoen nie, want ons het Hom nie nodig nie. Verder dryf Satan ons daartoe om ongehoorsaam te wees aan die Woord.

· In die derde plek val Satan ons aan, deur leerstellige verwarring en valsheid by ons te bewerkstellig. Satan se strategie is dus om die waarheid te misbruik ten einde ons aan te val en hy doen dit deur misleiding. Die satan sal allerlei misleiers oor ons pad bring (op die kansel; in die media – waar ook al) – predikers wat nie die volle waarheid preek nie – wat vals leer verkondig. Daarom is dit van die uiterste belang dat ons deeglik onderlê sal wees in die Woord én die waarhede van die Woord. Terselfdertyd moet ons voortdurend bedag daarop wees dat ons gekonfronteer kan word met halwe waarhede, of vals leer en daarom moet ons onderskeidend luister na elkeen wat sê dat hy in die naam van Jesus Christus praat – daarom moet u my ook voortdurend aan die Woord toets! En hoe kan ek onderskei of dit die waarheid is wat gepreek word? Deur die Woord en die waarhede van die Woord te ken. Ons moet toesien dat ons sal wees soos wat Paulus in Ef.4:14 sê dat ons moet wees ~ Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.

· Ons sien op verskeie plekke hoe dat Paulus bv. verhinder was en ondermyn was deur die vyand, om sy roeping en diensbaarheid ten volle uit te leef, deurdat hy bv. vir Paulus ’n doring in die vlees gegee het (2Kor.12:17) en sy werk ondermyn en teëgestaan het (1Kor.16:9; 1Tes.2:18). Ons moet egter met die krag wat daar in Christus beskikbaar is, doen wat Paulus gedoen het en hierdie swakplekke juis aanwend om nóg meer diensbaar te wees in God se Koninkryk, deur ons afhanklikheid van God bekend te maak, eerder as om toe te laat dat die satan ons pootjie in ons diensbaarheid.

· Eenheid onder gelowiges is ’n baie hoë prioriteit vir die Here Jesus, daarom dat Hy in Joh.17:11 en 21-23 bid vir eenheid. In Matt.5:24 sê Hy ook dat ons vrede moet maak met ons broers indien daar verdeeldheid bestaan. Satan wil dus voortdurend hierdie waarheid van die Woord misbruik en ondermyn, deur verdeeldheid tussen gelowiges te bewerkstellig. Daarom dat Paulus dan ook in Ef.4:3 sê ~ Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

· Satan verlei gelowiges in die sesde plek om in hulleself en hul eie vermoëns te vertrou, eerder as om op God te vertrou. ’n Klassieke voorbeeld uit die Woord van hierdie taktiek van die vyand, is dié van Dawid in 1Kron.21:1-8 ~ Satan was teen Israel. Hy het Dawid aangehits om ’n sensus van Israel te hou. 2 Dawid het vir Joab en die gesaghebbers van die volk gesê: “Gaan maak ’n opname van Israel van die suide tot die noorde en doen aan my verslag dat ek kan weet hoeveel hulle is.” 3 Toe sê Joab: “Selfs al sou die Here by sy volk honderd keer soveel byvoeg as wat hulle nou is, sal u mos nog koning wees! Hulle is mos almal u onderdane. Waarom wil u dit doen, U Majesteit? Waarom moet dit nou ’n sondelas op Israel word?” 4 Maar die koning se bevel aan Joab het bly staan. Joab het vertrek, die hele Israel deurgegaan en na Jerusalem toe teruggekom, 5 waar hy die resultaat van die volkstelling aan Dawid oorhandig het. Israel was in totaal een miljoen een honderd duisend weerbare man en Juda vier honderd en sewentig duisend. 6 Die Leviete en die Benjaminiete het hy nie bygereken nie, want die bevel van die koning het vir Joab ’n gruwel gebly. 7 In die oë van God was die saak verkeerd en Hy het Israel dan ook daaroor swaar gestraf. 8 Dawid het teenoor God bely: “Ek het swaar gesondig toe ek hierdie ding gedoen het. Vergewe tog nou my oortreding! Waarlik, ek het baie dwaas opgetree.”

Dit is baie maklik vir ons as gelowiges om op ons kennis van die Woord staat te maak, eerder as om op die Outeur en die Sentrale Figuur (Jesus Christus) van die Woord staat te maak. Dit maak nie saak hoe stewig ons teologie en ons oortuigings en ons kennis van die Woord is nie, indien ons nie elke oomblik van die dag op God se leiding en Sy voorsiening staatmaak nie, is ons gordel van waarheid nie stewig om ons heupe nie. Menige gelowige wat beskik het oor al die kennis van God se Woord en al die leerstellinge wat daaruit voortspruit, het al gesneuwel in hul geveg met die satan, net omdat daar geen teken van afhanklikheid en gehoorsaamheid aan die Heilige Gees in hul lewens teenwoordig was nie. Die regte doktrine, sonder die nodige toewyding is ’n gevaarlike plek om te wees.

Spr.3:5 sê ~ Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Dít is presies wat nié met die kerk in Efese gebeur het nie, want ’n paar jaar na Paulus se waarskuwing het hulle verval in koue, meganiese ortodoksie, met geen diep toewyding aan die Here Jesus nie en is hulle uiteindelik oorweldig deur die magte van die hel, want vandag is slegs die ruïnes van die eertydse gemeente daar sigbaar.

· In die sewende plek val die satan gelowiges aan deur hulle te lei tot geveinsdheid (vroomheid). Een van die grootste suksesverhale van die satan is sy vermoë om deur die eeue, die kerk te vul met lidmate wat nie waarlik ’n lewende verhouding met die Here Jesus gehad het, of steeds het nie, óf om gelowiges daartoe te dryf om geveinsde lewens te voer waar hulle voorgee wie en wat hulle nie werklik is nie – daardie geheime sondes dus – en hulle sal jaar in en jaar uit daarmee loop, sonder om op ’n punt te kom om dit in die lig te bring en vergifnis daarvoor te kry. Die satan hou so ’n persoon dus weg van die waarheid en stewig vasgepen in sy greep.

· Die Woord van die Here sê in Rom.12:2 dat ons ...nie aan hierdie sondige wêreld gelyk (moet) word nie, maar (dat ons moet toe-)laat (dat) God (ons) verander deur (ons) denke te vernuwe, (sodat ons) ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Hoeveel keer laat ons nie toe dat die vyand ons fokus vestig op hierdie wêreld en sy materiële verlokkinge en ’n wêreldsgesindheid, want die dinge van hierdie wêreld is só lekker en só mooi en só gerieflik, maar die waarheid van die Woord waarsku ons ook hierteen – ons lees in 1Joh.2:15-16 ~ Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 16 Die wêreldse dinge-alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit-kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld.

5. AFSLUITING:
Kom ons kyk net kortliks na ’n persoon en na ’n gemeente wat die Woord en die waarhede van die Woord geken het, maar dit ook gelééf het:
· Daniël: Daniël het gedoen wat reg was ten spyte van wat die koning wou hê en elke keer het die Here tot sy redding gekom. Dink aan die keer dat Daniël besluit het om homself nie te verontreinig deur die kos te eet wat die koning voorgeskryf het nie – die Here hom tot sy redding, deur die hoofpaleisbeampte, gunstig en simpatiek teenoor Daniël te maak (Dan.1:8-9). Daniël se hele lewe het getuig van gehoorsaamheid en getrouheid aan God en Sy Woord en op grond daarvan sien ons telkens hoe dat God, Daniël help en red en lei.
· Die Gemeente in Tessalonika: 1Tes.1:1-10 ~ Van Paulus, Silvanus en Timoteus. Aan die gemeente van die Tessalonisense, wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort. Genade en vrede vir julle! 2 Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou 3 bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. 4 Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, 5 want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil. 6 En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom. En luister nou na wat die gevolg van hierdie gemeente in Tessalonika se geloof en kennis en onderskeiding was: Vers 7 en verder ~ So het julle ’n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. 8 Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. 9 Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10 en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.

Ons moet ook wees waar hierdie gemeente in Tessalonika was – vol van die waarheid – so vol dat dit ons noop om ook in die waarheid te wandel!

Die Here Jesus sê in Luk.14:31 ~ ... watter koning wat met ’n ander koning in ’n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie? Ons kan nie presies weet wanneer, waar en hoe die vyand ons gaan aanval nie, daarom moet ons te alle tye God se volle wapenrusting stewig in plek hê. Wanneer ons as gelowiges die wapenrusting aan het, hoef ons nie presies te weet wat die satan se strategie is nie – trouens daar sal baie kere wees dat ons aangeval word, maar omdat die wapenrusting op hul plek is, sal ons nie eens bewus wees van die aanval nie.

Laat ons, ons oë gevestig hou op Jesus Christus en Hom vertrou om die geveg vir ons te veg, terwyl ons toesien dat ons gevegsdrag stewig in plek is!

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 13 Junie 2010