Monday, June 28, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 27 Junie 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 26 (Ons Geestelike Geveg - 06) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING:
Ef.6:10-18 ~ Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. 14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

2. INLEIDING:
Paulus noem vir ons in v.15 die derde stuk van die Soldaat van Christus se gevegsmondering, nl. die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Die beeld wat Paulus hier gebruik, is dié van die gevegstewel van ’n Romeinse soldaat, genaamd ’n “caliga”. Dit was ’n oop-toon-stewel van leer, met bande wat om die enkels en skene vasgemaak was en met ’n klomp klinknaels, of metaal knobbels aan die onderkant op die sool. Hierdie was nie skoene om mee te hardloop nie, maar om mee voort te beur – nie omdraai nie; nie terug hardloop nie, maar steeds in die woorde van die leuse van my ou Hoërskool op Aliwal-Noord – “Audentior Ito” – steeds dapper vorentoe. Hierdie stewels was spesifiek gemaak om voort te marsjeer – die vyand tegemoet. Hierdie stewels is egter verder ook so gemaak dat dit nie kon gly nie en was ideaal vir hand-tot-hand gevegte. Ons moet dus ook “caliga”- stewels aan die voete hê wat tekenend daarvan is dat ons gereed is en dat ons stewig geplant staan, maar dat ons ook moedig en doelgerig vorentoe beweeg.

3. DIE EVANGELIE VAN VREDE:
Kom ons kyk in meer besonderheid na v.15 ~ ...die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Paulus sê hier dat ons voete bedek moet wees met bereidheid. Dit is belangrik dat ons presies sal verstaan wat hierdie woord “bereidheid” regtig beteken. In die oorspronklike teks bedoel dit eenvoudig, “om gereed te wees vir...”, of “om toegerus te wees met...”. Letterlik staan daar dus, dat jou voete gereed gemaak moet word, of bereid moet wees en wel deur dit met die regte skoeisel of skoene te bedek. Ons vind hierdie selfde uitdrukking ook in Titus 3:1 ~ Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Die gedagte hier, is dus om gereed te wees; om voorbereid te wees; om toegerus te wees. Ons voete moet dus behoorlik toegerus wees vir die geveg.

Baie mense en kommentators, interpreteer hierdie vers asof die gelowige gereed en bereid moet wees om die evangelieboodskap van vrede te gaan verkondig. Hulle kry hierdie gedagte uit Rom.10:15, waar Jes.52:7 aangehaal word ~ En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? En dan veral hierdie gedeelte ~ Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring. En Jes.52:7 ~ Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” Daar bestaan geen twyfel daaroor dat die Evangelie van Vrede verkondig moet word en dit wat Rom.10 dan ook vir ons sê, maar dit is nié wat Ef.6:15 van praat nie. Ef.6 het niks met prediking of evangelisasie te doen nie.

Wat is die heel eerste woord in v.14? Bly. Dit gaan dus oor staan en nie gaan nie. Die punt in hierdie gedeelte en die konteks waarin hierdie vers geskryf is, gaan dus nie daaroor dat ons die evangelieboodskap aan ’n ongelowige wêreld moet verkondig nie, maar om die satan te weerstaan en teen hom te veg. Dit gaan dus oor die konflik waarin ons as gelowiges gewikkel is. Hierdie gedagte word beskryf in 1Kor.16:13a, waar daar staan ~ Wees waaksaam, staan vas in die geloof... Waarom? Ef.6:11b ~ sodat julle op julle pos kan bly.... Dit gaan dus alles oor “staan” en nie “gaan” nie.

Kom ons kyk ook na die uitdrukking die evangelie van vrede. Die woord “Evangelie” beteken “Goeie Nuus”. En “vrede” beteken “vrede”. Dit is dus die “Goeie Nuus van Vrede”. En wat is hierdie “Goeie Nuus van Vrede”? Ons vind die antwoord hierop in Rom.5:6-9 ~ Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7 ’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. (Geen mens sal in die plek van ’n slegte of onregverdige mens wil sterf nie. Die implikasie in v.6 is dus dat ons swak is en in v.8 is die implikasie dat ons nie geregverdig is nie – niemand anders sal dus in ons plek wil sterf nie – en dan kom v.8) 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9 Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. Uit hierdie verse kry ons dus ’n pragtige definisie van die mens. Vers 6 – hy is swak; v.7 – onregverdig en sleg; v.8 – vol sonde; v.9 – ongeregverdig, ongered en ’n voorwerp van God se toorn. Dít is wie die mens is! En die somtotaal van dit alles vind ons in v.10 ~ ...toe ons nog vyande was.... Ons is dus vyande van God en daarom die voorwerp van God se oordele en toorn. In wese is die mens en God dus aan twee verskillende kante. Moet dus nie toelaat dat enige iemand vir jou vertel dat God die Vader van alle mense is nie en dat Hy lief is vir alle mense en almal verduur of dat alle mense deel is van God se familie nie. Hoor wat sê Neh.1:8b ~ As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi. Omdat God heilig is, is Hy dus ook ’n God van wraak en ’n God van reg en geregtigheid. Indien die mens dus vyand van God is, sal hy die wraak en oordele van God beleef. En dit is presies wat aan die gang is – daar bestaan vyandskap tussen God en die mens.

Wat het God egter gedoen om hierdie situasie te verander? Kom ons kyk weer na verse 6-8 ~ Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7 ’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8 Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. God sê dus dat die mens, ’n vyand van Hom is, maar dat Hy dit regstel deur Christus se soendood en dan gaan Hy in v.9-10 voort deur van diegene wat in Christus Jesus glo, die volgende te sê ~ Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10 Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word.

Wat is die evangelie dus? Die mens was gewikkel in ’n “oorlog” teen God, maar Christus Jesus het vrede tussen God en Sy uitverkorenes bewerkstellig – dít is die evangelie van vrede.

Kom ons gaan terug na Rom.5:1 ~ God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Dit wat hier staan – dít is die evangelie. Voor Jesus se soendood aan die kruis, het God en die mens weerskante van mekaar gestaan het – onthou, Jesus het gesê ~ As jy nie vir My is nie, is jy teen My. In die boek van Openbaring lees ons dat God sal kom en teen ons sal veg met die swaard wat in Sy mond is, Die mens is dus ’n vyand van God, maar Christus het vrede ’n realiteit kom maak. Die Goeie Nuus is dat ons in vrede staan met God. Ons en God is nie meer aan teenoorgestelde kante nie – ons is nou aan dieselfde kant! Ons is herenig met Hom! God is dus nou aan my kant en dít is die evangelie!

Wat beteken dit alles? Dit beteken dat ek as verloste in Christus Jesus, die volgende kan sê: Kyk, Satan, jy kan maar kom met al die magte tot jou beskikking – ek het skoene aan my voete wat my so stewig in die grond vasanker, dat ek nie deur jou beweeg kan word nie en die rede hiervoor is omdat God aan my kant is. Dít is wat ons staande hou! As ek die satan met al sy magte op my eie sou aanpak, sal ek sonder twyfel verloor en soos verlede week gesê, bedroë daarvan afkom.

Kom ons kyk ter illustrasie na Joh.18:3-6 ~ Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4 Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?” 5 “Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom. “Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle. Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. En dan veral vers 6 ~ 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval. Toe Jesus praat, het die soldate geval soos domino-teëls. Net die noem van Sy Naam (“Dit is Ek!”) het die hele afdeling soldate (ongeveer 500) op die grond laat val! Dit is waarskynlik waarom Simon Petrus sy swaard uitgepluk het en die slaaf van die hoëpriester se oor afgekap het (v.10), want hy het God se krag in aksie gesien – die krag wat aan hulle kant was en daarom het hy kans gesien vir hierdie oënskynlike oormag. Simon Petrus het hoogs waarskynlik ook nie vir die slaaf se oor gemik nie – hy wou waarskynlik sy kop afkap, want hy wou die hele Romeinse afdeling soldate aanval! Waar het hy die moed gekry om dit te doen? Hy het pas God se krag in aksie gesien! Hy het geweet Wie aan sy kant was!

Dink aan Rigters 6 waar die Here vir Gideon gesê het dat hy die Midianiete moes aanval en verslaan. Die vyand was geweldig baie in getal – hoor net hoe beskryf Rigters 7:12 hulle ~ Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat die vlakte ingeval het, was so baie soos sprinkane, en die kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos die sand aan die see. En omdat hulle so ’n oormag was, het Gideon 32 000 soldate byeen gekry om die opdrag uit te voer, maar God het vir hom gesê dat hy met net 300 soldate die magtige Midian sal verslaan – en boonop sê God vir hom, dat elke soldaat net ’n leë erdekruik saam moes neem! Dit klink alles só onmoontlik, veral nadat ons die volgende in Rigters 7:19-22 gelees het ~ Gideon en die honderd man by hom het tot by die onderpunt van die kamp gegaan. Dit was in die nag, aan die begin van die middelste wagaflos, en die wagte was net klaar omgeruil. Toe blaas Gideon-hulle die ramshorings en breek die erdekruike. 20 Al drie afdelings het dit gedoen: hulle het die fakkels in die linkerhand gehou en die ramshorings met die regterhand om dit te blaas. Toe roep hulle: “Die swaard van die Here en Gideon!” 21-22 Hulle het rondom die kamp gestaan, elkeen op sy pos. Toe die drie honderd man die ramshoring blaas, het die hele kamp op die vlug geslaan, hulle het geskreeu en gehardloop, en toe het die Here dit bewerk dat hulle mekaar daar in die kamp doodmaak. Die kamp se mense het gevlug tot by Bet-Sitta na Sereda se kant toe, tot by die grens van Abel-Megola naby Tabbat. Gideon het nie een oomblik getwyfel oor die “absurditeit” van die opdrag nie, want hy het geweet Wie aan sy kant was!

Petrus en Johannes het die Sanhedrin binne gegaan en sonder vrees gesê dat hulle nie omgee wat die Sanhedrin vir hulle sê nie, want hulle gaan nog steeds vir God aanbid – hulle het geweet Wie aan hulle kant was! Paulus het dieselfde gedoen, want hy het geweet Wie sy Hulpbron was. Net so kan ons ook sê dat die satan maar met al sy magte teen ons kan kom, want ons het geen vrees nie, omdat God aan ons kant is.

4. AFSLUITING:
As gelowige is oorwinning beskikbaar in ons lewe. Daar is egter ’n paar voorwaardes aan so ’n oorwinning verbonde en daarom moet ons die volgende vrae vir onsself beantwoord:
· Wil ek regtig wen? Het ek m.a.w. die gordel van toewyding en verbintenis aan?
· Begeer ek om ’n heilige lewe te lei? Het ek derhalwe die borsharnas van geregtigheid aan?
· Is ek dapper in hierdie veldslag, omdat my voete stewig geplant is in vertroue op Hom wat aan my kant is?

As jy rond hardloop en twyfel aan God se krag, gaan jy beslis verloor, maar as jy “ja” kan antwoord op bg. drie vrae, dan is jy ’n wenner en gaan God opwindende dinge en revolusionêre dinge met jou en deur jou doen – tot Sy eer!

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 27 Junie 2010