Tuesday, June 1, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 30 Mei 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 22 ("Ons Geestelike Geveg" - 02) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.6:10-18 ~ Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. 14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

2. INLEIDING:
Ons het verlede week inleidend gekyk na ons geestelike geveg teen die bose. Ons het gesê dat ons hierdie geveg in oorwinning kan afsluit, indien ons aandag skenk aan verse 10 en 11:
· Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.
· Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.

Ons het daarna ook oorsigtelik gekyk na wie ons vyand is en ook kortliks na die oorlog waarin ons gewikkel is.

Ek wil egter vanoggend ons fokus op v.13 vestig, wat ’n oënskynlike herhaling van v.11 is ~ Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

3. GESPE VAS:
Waarom sou Paulus hierdie vers herhaal? Wel, een rede waarom herhaling nodig is, is om ’n bepaalde punt te beklemtoon – en dit word nie net hier gedoen nie, maar op talle ander plekke in die Woord.

Wat wil Paulus regtig vir ons hier beklemtoon en weer uitlig? Ten einde hierdie vraag te beantwoord moet ons kyk na die werkwoord in hierdie vers en dit is in die Grieks, “analambano”. Dit is interessant om te sien dat die voorvoegsel by hierdie werkwoord, nl. ana (“ana”), dui op ’n herhaling. Wat Paulus dus hier wil sê, is dat die volle wapenrusting weer en weer aangetrek moet word. Dit dui dus direk daarop, dat iets herwin moet word wat voorheen verloor is, of om ’n onderneming wat vantevore gemaak is en nie nagekom is nie, weer na te kom.

Ons moet in gedagte hou dat Paulus sy brief aan gelowiges in Efese rig en daarom is hy nie besig om vir hulle te sê dat hulle hul moet bekeer, deur die volle wapenrusting aan te trek nie, maar eerder om hierdie wapenrusting weer stewig vas te gespe, omdat dit dalk los geraak het en indien daar stukkende plekke aan enige deel van die mondering is, moet dit herstel word.

Waarom is dit dan nodig om die wapenrusting stewiger vas te gespe en stukkende plekke
te herstel? Ons moet onthou dat wapenrusting net gedra word tydens ’n geveg en ons het reeds gesien dat ons in ’n voortdurende, of onophoudelike geveg betrokke is, totdat die Here Jesus ons kom haal. As Paulus dan sê dat ons die volle wapenrusting moet aantrek, impliseer dit dat hy vir ons laat blyk dat al die elemente van die wapenrusting nie altyd heeltemal in plek is, of om die analogie te gebruik wat ek pas gebruik het – al die dele is moontlik nie heeltemal styf genoeg en heeltemal op hul plek nie.

Ons gaan beslis nie die vyand afskrik as ons net ’n deel van ons gevegsmondering aan het nie (dit laat my dink aan die spotprentjie wat ek eenkeer gesien het – hierdie powere soldaat het net sy helm op die kop en sy swaard om sy lyf, terwyl die res van die gevegsmondering op die grond lê) – as die volle wapenrusting nie in plek en stewig in plek is nie, is ons ’n oop skyf vir die vyand. Ons moet besef dat hierdie geveg nie speletjies is nie – dit is ’n geveg om lewe en dood! Dink ’n bietjie aan die verhaal van Jakob in Gen.27-29. Jakob het vir ’n oomblik sy “gordel van waarheid” afgehaal en sy leuen gebruik om sy vader Isak se seën op ’n slinkse manier te ontvang. Uiteindelik het hy die wrang vrugte van onopregtheid en leuens gepluk toe Laban hom belowe het dat hy vir Ragel as vrou kan kry, maar eers het Laban vir hom gelieg en Lea vir hom gegee. Dink net hoeveel verdriet kon Jakob homself gespaar het, as hy sy volle wapenrusting aangehad het, toe Isak vir Esau wou seën.

Hierdie geveg teen die bose is ’n geweldige geveg – óf hy troef ons omdat ons nie die volle wapenrusting te alle tye aan het nie, óf ons troef hom, omdat die wapenrusting stewig in plek is. Ons moet nie toelaat dat daar een enkele oomblik is dat ons slap lê en daar ’n opening is waardeur die vyand se vurige pyle ons kan tref nie.

Kom ons kyk net vir ’n oomblik na die gevolge wanneer ons nalaat om die wapenrusting ten volle aan te trek:
· Oswald Chambers sê in sy boek, My Utmost for His Highest (25 Mei): The great enemy of the life of faith in God is not sin, but the good which is not good enough. God se eer is intens afhanklik van Sy gelowige kinders se eer aan Hom. Wanneer wêreldlinge die talente wat God aan hulle in Sy algemene genade geskenk het, ten volle gebruik deur hul eie bankrekenings te laat groei, dan beroof hulle Hom slegs van Sy materiële geskenke, maar wanneer ons as gelowiges, God se genade misbruik of dit nalaat, beroof ons God van Sy eer en heerlikheid. – ons “good” moet te alle tye, “good enough” wees. Ons kan dit vergelyk met ’n man wat sy geld in die sorg van een persoon (kom ons noem hom “A”) laat en sy kind in die sorg van ’n ander (kom ons noem hom “B”). Sekerlik sal die misbruik van sy kind deur “B” hierdie man baie, baie dieper raak as wanneer “A” sy geld misbruik het – so is dit presies dieselfde met God. Dit bedroef God dus veel meer wanneer ons as Sy kinders Hom teleurstel as wat dit die geval sal wees met ’n sondaar.
· Tweedens kom ons, ons medegelowiges te na wanneer die vyand ons wond, omdat ons nie ons volle wapenrusting aan het nie. Wanneer ’n deel van die fisiese liggaam siek is, benadeel dit die res van die liggaam – geen rugbyspeler met longontsteking het genoeg krag in sy bene om in die Super 14-finaal te speel nie. Presies dieselfde beginsel geld vir die geestelike liggaam (die gemeente) ~ As een lid ly, ly al die lede saam... (1Kor.12:26). Wanneer ons dus God se gebooie nalaat, of anders gestel, wanneer ons ’n opening vir die vyand gee om ons raak te skiet, verdwyn genade en is dit uitdrukking van ons ongeërgdheid jeens die res van die liggaam van gelowiges (as ek sondig ly die res van die Liggaam – die gemeente – ook daaronder)– 2 Johannes 5 leer ons dat ons mekaar moet liefhê. En hoe demonstreer ons, ons gehoorsaamheid aan hierdie gebod? Net die volgende vers verskaf aan ons die antwoord ~ En liefde beteken dat ons volgens die gebooie van God lewe. Soos julle van die begin af gehoor het, is dit sy gebod dat julle in die liefde moet lewe (2Joh.6). Ons moet dus gehoorsaam wees aan die opdragte van die Skrif. En as Paulus in v.13 sê dat ons die wapenrusting ordentlik moet aantrek, is dit ’n gebod – ’n opdrag – ons móét dit doen!

Daar is altyd ’n oorsaak-en-gevolg verhouding tussen ’n veragtering in genade en sonde aan die anderkant. Wanneer veragtering plaasvind, neem sonde toe. As sonde dus toeneem, neem veragtering in genade in dieselfde verhouding toe.
· Wanneer ons besef dat ons veragter in God se genade en ons doen niks daaraan om dit reg te stel nie, sal ons persoonlik ook die gevolge daarvan ervaar – wanneer ons dus ongehoorsaam is en nie die volle wapenrusting aan het nie, kom ons, onsself in die proses te na.

Wanneer ’n gelowige veragter in die genade en geloof, word hy altyd ’n gelowige wat twyfel. Satan is baie vinnig om te sien wanneer ons in die geloof veragter en hy sal op daardie kwesbare plek in ons mondering fokus en al sy vurige pyle daarop korrel en sal ons in allerlei vorme van vertwyfeling verval.

’n Ou Puritein het op ’n keer die volgende gesê: Verbeel jou dat jy die volle vruggebruik van ’n baie ryk man se skatte en eiendom sou verkry, omdat jy na sy enigste kind omsien, maar wat jy alles weer sal verloor as die kind sou sterf. Jy sal tog sekerlik alles in jou vermoë doen om daardie kind so gou moontlik by ’n dokter te kry as hy die geringste teken van ’n siekte toon.

Die enigste aanspraak wat ons het op ons hemelse erflating is die “Kind van Genade” wat in ons harte kom woon het, nadat ons Jesus Christus as persoonlike Saligmaker ontvang het. Wanneer ons dan veragter in die genade en geloof, moet ons na hierdie “Kind van genade” gaan en moet ons alles in ons vermoë doen om die situasie reg te stel.

Indien ons veragter in die genade, sal ons nie veel geluk en vreugde in hierdie lewe, nou of in die toekoms, ervaar nie. Iemand met ’n chroniese siekte put geen plesier uit die lewe nie. Sy kos proe na niks nie; hy slaap sleg en hy het geen energie nie. Indien die beeld van Christus in ons vervaag het, is ons ook chronies siek en sal ons ook nie die heerlikheid van Sy beloftes ervaar nie en sal ons ook nie enige rus in Hom kan geniet nie. Ons sal ons voortsleep deur hierdie lewe en jou hele wese sal uitroep om hulp. In die proses kry jy swaar, maar jy belas ook die liggaam en jy tree tot oneer van God op.

Hoe hartseer is dit nie dat ons so dikwels deur ons eie agterlosigheid die satan geleentheid gee om ons seer te maak en ons oorwinningslewe te verander in ’n lewe wat gekenmerk word deur vreugdeloosheid en energieloosheid en ’n lewe sonder visie. Maar, in teenstelling hiermee – Hoe wonderlik is dit nie wanneer ons paraat is en ons sterk staan in die geloof! Dan is die juk wat ons moet dra, baie sagter! Wanneer ons op die regte plek is wat betref ons verhouding met Jesus Christus, trek die hele liggaam voordeel daaruit en ontvang God die nodige eer!

4. ONS GEESTESGESTELDHEID:
Ek dink nie daar bestaan enige twyfel by ons dat ons geestelik paraat moet wees nie en dat ons alles in ons vermoë moet doen om ’n veragtering van God se genade in ons lewe, teen te staan. Hoe kan ek egter weet of daar iewers ’n “stukkende plek” aan my gevegsmondering is – of ek die volle wapenrusting aan het of nie? Kom ons kyk na bepaalde simptome wat ons geestesgesteldheid bepaal. Eerstens moet ons kyk na enkele misleidende simptome wat, indien ons dit verkeerd verstaan, ons kan mislei t.o.v. die toestand van ons geestesingesteldheid:
· ’n Gevoel dat daar ’n toename van sonde in jou lewe is. Wanneer dit vir jou voel dat jy baie meer sonde in jou lewe het, beteken dit nie noodwendig dat God se genade minder teenwoordig is in jou lewe nie. Wanneer ons meer bewus raak van sonde, is Satan se aanslag juis ook op sy ergste, want dan pak hy skuldgevoelens in ’n ongekende maat op ons skouers en gaan ons só gebuk onder ons skuldgevoelens dat ons onder ons sonde bly lê.

Ons moet egter onthou, dat sonde nog altyd in ons lewe teenwoordig was en wanneer ons meer intens bewus daarvan raak, is dit juis ’n teken van God se genade wat teenwoordig is in ons lewe, omdat Hy juis daardie genade beskikbaar wil stel om ons te bevry van daardie sondeskuld en –las, deur Jesus Christus wat daardie sonde reeds aan die kruis op Hom geneem het en geregtigheid vir ons by God bewewerkstellig het.
· ’n Tweede misleidende simptoom kan ’n gevoel wees waar ek glad nie God se genade ervaar nie. Wanneer het genade juis die grootste oorwinning van alle tye behaal? Toe Jesus aan die kruis uitgeroep het ~ My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mark.15:34). Ons kan en mag nooit die teenwoordigheid en die realiteit van God se genade baseer op emosies of gevoelens nie. God se genade is altyd beskikbaar en teenwoordig. Soms voel dit vir ons donker, maar ons moet onthou dat sommige van die mooiste blomme, juis in die skaduwee groei.
· Derdens kan ’n toename in versoekings in ons lewe, vir ons laat voel dat God se genade nie meer deel is van ons lewe nie en dat ons verder “weggegly” het van God af. Enersyds moet ons besef dat versoekings ook altyd in en rondom ons teenwoordig is – ons is net nie altyd ewe bewus daarvan nie en andersyds is dit ook in hierdie geval, dieselfde as met ’n gevoel van ’n toename in sonde, nl. dat God juis Sy genade vir ons beskikbaar stel om hierdie versoekings te weerstaan en te oorkom in Christus Jesus.

Kom ons kyk nou na ’n paar egte simptome t.o.v. ons geestesgesteldheid – simptome waarop ons moet ag slaan, maar ook simptome wat vir ons rooi flikkerende ligte behoort te wees, omdat dit vir ons ’n aanduiding moet wees dat ons veragter in die genade:

· Ongeërgdheid t.o.v. versoekings. Aanvanklik het Dawid se gewete hom daarvan weerhou om Saul dood te maak toe hy kon, maar later het hy sou ongeërgd geraak oor Satan se versoekings, dat hy nie ’n oog geknip het toe hy na Batseba gekyk het nie en hy in sonde met haar verval het – sonde wat tot verdere sonde gelei het.

Wanneer versoeking oor ons pad kom en ons dit nie met alles in ons weerstaan nie, kan ons weet dat die sonde in ons, die oorhand gekry het.

Ek moet terselfdertyd waarsku en sê dat indien ons versoekings suksesvol weerstaan, is dit nie noodwendig omdat God se genade sterker in ons teenwoordig is as sonde nie, want dit kan wees dat ek die versoeking in my eie vlees suksesvol weerstaan het, bloot omdat ek my eie reputasie wil beskerm en nie omdat die oorwinning oor sonde vir my daaroor gaan dat God verheerlik moet word nie. Ons motief met geestelike oorlogvoering moet dus wees om God te verheerlik en die dank en eer aan Hom te gee vir die oorwinning, want dit is God se eer wat gekrenk word wanneer ons sondig.

· Die tweede egte en betroubare teken om te bepaal of ons geestesgesteldheid gesond is of nie, noem ek “slap knieë”, of ’n verskuiwing van fokus. Op ’n stadium in jou lewe – dalk nie so lank gelede nie, het jy in die woorde van Ps.27:8 uitgeroep ~ Ek is hier om U te dien, Here. Jy kon nie wag om die Here te dien en te aanbid nie. Jy kon nie genoeg vir Hom doen nie. ’n Week was te lank vir jou voor die volgende geleentheid dat jy na die huis van die Here kon gaan, of dat jy gemeenskap met medegelowiges kon hê. Maar nou? Nou is jy nie lus vir enige iets nie. Jy dink verskonings uit om die onderlinge byeenkomste vry te spring. Jy staan met ’n mond vol tande wanneer daar gesing word – jou hart is net nie daarin nie. Jy sukkel om te bid en jy sien net eenvoudig glad nie daarvoor kans om voor ander te bid nie, omdat jy meer bewus is van wat hulle van jou gebed sal dink as wat jy bekommerd daaroor is dat die Here daarna verlang dat jy ook moet bid (ook in gemeentelike verband).

Daar is net nie meer dieselfde toewyding aan die Here en aan jou broers en susters as in die verlede nie. Jou berou oor sonde is bykans afwesig. My “stiltetyd” het “droog geword”, of heeltemal “opgedroog” – en so kan ons aangaan. Wanneer ons knieë slap raak, moet ons bekommerd wees – intens bekommerd wees, oor ons geestesgesteldheid.

5. DIE GENEESMIDDEL:
Ons gevegsmondering begin slap aan ons hang, of kry swak en selfs stukkende plekke, op twee maniere. Die eerste is wanneer ons in ’n intense oorlog gewikkel geraak het en ons deur die versoeking om te sondig, oorval is. Die tweede manier is d.m.v. nalating, m.a.w. wanneer ons nié doen wat ons veronderstel is om te doen.

Wanneer ons dus vasgestel het of ons gevegsmondering “krake toon” en ons dit wil regstel, moet ons vasstel of dit veroorsaak is deur sonde van daad of sonde van nalating. Indien dit veroorsaak is deur sonde van daad, moet ons die volgende doen ten einde genesing te ontvang:
· Openb.2:5 verskaf aan ons die eerste remedie ~ Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! Ons moet dus ons harte ondersoek en ons sonde bely. Hosea 14:2-4 sê ~ Keer terug na die Here jou God, Israel, want jy het geval deur jou sonde. 3 Bely julle sonde en kom terug na die Here toe. Sê vir Hom: “Vergewe tog al ons sonde en neem ons belydenis aan. Ons bely teenoor U.........By U alleen is daar liefde vir ’n weeskind.
· Tweedens moet ons, ons geloof en vaste vertroue in die feit dat God ons volkome vergewe, herbevestig ~ Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1Joh.1:9).
· In die derde plek moet ons, ons bekeer. Ons moet daardie sondes wat lei tot ons ondergang, met wortel en tak uitroei. Ons moet bedag wees daarop dat dit weer oor ons pad gaan kom en dalk gouer as wat ons dink en daarom moet ons paraat wees om dit onmiddellik uit te roei wanneer dit weer kop uitsteek.

Wat staan ons te doen wanneer ons gevegsmondering “krake” toon as gevolg van nalating?:
· Die antwoord: Lees die Woord van God. En as jy sê dat jy wel die Woord lees, is die antwoord – lees dit nóg meer en met groter aandag en gehoorsaamheid.
· Tweedens moet jy die Woord oordink. Dink die heeldag oor wat jy gelees het en pas dit toe in en deur jou lewe. Dink aan al die genade wat jy van God ontvang het deur die dag en dank Hom daarvoor. Oordink jou eie optrede en gedrag deur die dag – hoe het jy teenoor God en teenoor jou naaste opgetree? Wat het jy deur die loop van die dag vir die Here en vir jou naaste gedoen?
· Derdens is gebed. Iemand het eenkeer gesê dat oordenking die hout is wat ’n vuur laat brand, maar die vlam wat die hout aan die brand steek, kom van God en die enigste manier om daardie vlam in die hande te kry is d.m.v. gebed. Dawid is vir ons ’n pragtige voorbeeld en bemoediging – Telkens wanneer hy begin bid is alles om hom donker, maar wanneer hy klaar gebid was, was daar weer lig.
· Laastens moet ons ernstig werk maak van ons gemeenskap met medegelowiges. Hebr.10:23-25 is baie duidelik daaroor dat ons nie ons gemeenskap met medegelowiges mag versaak nie.

6. AFSLUITING:
Geliefdes, ek het dit verlede week gesê en ek wil dit weer vandag sê: Ons kán staande bly teen die aanslae van die satan en sy bose magte, wanneer ons dit doen in en met die krag wat daar in die opstandingskrag van Jesus Christus is en waarin elke gelowige deel het.

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 30 Mei 2010