Friday, December 25, 2009

Kersboodskap deur Kobus van der Walt (25 Desember 2009)

MAAK CHRISTUS ’N VERSKIL IN JOU LEWE? [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Verskeie Skrifgedeeltes.

2. INLEIDING:
Waarskynlik die mees omvattende en mees gevierde vakansiedag reg rondom die wêreld, is Kersfees. Kersfees is díé vakansiedag wat die meeste publisiteit regoor die wêreld kry; waartydens die meeste geld spandeer en verdien word; wat die meeste kulture en selfs geloofsoortuigings verenig, ens.

Die meeste mense op aarde, vier Kersfees, maar so weinig verstaan werklik waaroor dit gaan. Baie mense het waarskynlik al gehoor van die Kindjie wat in die krippie lê en wat deur die Wyse Manne uit die Ooste besoek is, maar bitter min van hierdie mense verstaan werklik waaroor dit gaan en sommige Christene dink self ook nie op hierdie dag wat die ware betekenis van die Christusfees is nie.

Ja, ons weet dat die 25ste Desember hoogs waarskynlik níé die ware geboortedatum van Christus is nie, omdat daar geen Bybelse ondersteuning vir so ‘n datum is nie, maar die wêreld vier hierdie dag as Jesus (Wie Hy ook al vir hulle mag wees) se geboortedag en daarom voel ek dat dit ‘n ideale tyd vir ons as gelowiges is, om opnuut ons fokus op Christus Jesus se geboorte te vestig, want die satan het die wêreld en selfs ons begrip van Christus se geboorte, so vertroebel, deur allerlei parafernalia, dat ons nie altyd die geboorte van Jesus sien as ‘n Goddelike gebeurtenis nie – ‘n Goddelike ingrype in die wêreld om die uitverkorenes in Christus se erfsonde te verwyder, deur die Lam van God na die aarde te stuur, ten einde God se wraak op die sonde op Hom te neem.

Die gedagte aan die 25ste as Kersdag, het sy oorsprong in die Roomse kerk en wel gedurende die 4de eeu n.C. Die rede waarom hulle hierdie datum gekies het, was omdat die meeste mense op daardie stadium in die wêreld, die son as god aanbid het. Gedurende die noordelike halfrond se winter (rondom Desember), wanneer die sonnige dae kort was, het hierdie mense ‘n fees ter ere van die songod gehou. Hulle het groot vure gemaak ten einde die songod warm te maak, sodat hy weer lewe kon kry en die dae weer langer en sonniger kon word. T.w.v. ‘n teenvoeter het die Roomse dan besluit om Christus se geboorte gedurende hierdie tydperk te vier. Hierdie tydperk (spesifiek dan 17-24 Desember) was vir die Romeine ‘n baie belangrike tydperk, want dit was gekenmerk deur die Fees van Saturnalië – een van hulle mees algemene gebruike gedurende hierdie fees, was om op die laaste aand van die fees (die 24ste), geskenke aan mekaar te gee en hoogs waarskynlik, is dit die herkoms van die hedendaagse gebruik om geskenke aan mekaar te gee en dan spesifiek ook op die 24ste Desember (in Duitsland bv. word dit “Weinacht” genoem).

3. CHRISTUS MAAK GEEN VERSKIL:
Die vraag is egter: Waarom maak die ware betekenis van Christus se geboorte geen indruk op die mensdom nie? Waarom maak dit geen verskil in hul lewens nie? Wel, daar is verskeie redes daarvoor. So, is daar bv. deur die eeue heen, mense wat Christus se maagdelike geboorte ontken en baie van hulle grond dit op allerlei wetenskaplike gronde. Of, hulle kan nie insien dat Christus, God is nie, ens. Ek wil egter dat ons na enkele Bybelse redes kyk waarom dit die geval is, nl.:
* ‘n Selfgesentreerde lewe;
* Jaloesie;
* Ongeërgdheid;
* Godsdienstige rituele;
* Afgodery, en
* Familiariteit.

* ‘n Selfgesentreerde Lewe:
Eerstens dan: ’n Selfgesentreerde lewe. Ons lees in Luk.2:7 ~ Sy (Maria) het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. Die eerste persoon na wie ons kan kyk, op wie Christus se geboorte geen indruk gemaak het nie, was die herbergier by wie Josef en Maria oornag het. Maria was op haar laaste wat haar swangerskap betref en ons sien duidelik uit hierdie vers dat sy self haar Eerstelingseun in die wêreld gebring het – daar was niemand anders wat haar gehelp het nie, nie eens die herbergier nie – hy laat Josef en Maria in ‘n stal oornag, ten spyte van die feit dat sy enige oomblik geboorte kan skenk.

Die mense van die Midde-Ooste is gewoonlik gasvrye en gawe mense wat omgee – hulle is níé die tipe mense wat ‘n vrou aan haar eie lot sou oorlaat om haar baba self in die wêreld te bring nie – maar in hierdie geval gebeur dit wel, want die herbergier laat kom nie eens ‘n vroedvrou nie. Maria draai die pasgebore Jesus self toe in doeke – ‘n taak wat gewoonlik deur die vroedvrou vervul is!

Ons weet ongelukkig nie veel van die herbergier nie, omdat die Woord nie meer as dit wat in vers sewe gesuggereer word, sê nie. Waarom het hy hierdie grootse oomblik by hom laat verbygaan? Hoogs waarskynlik is dit omdat hy té besig was, met ‘n oorvol herberg en hy moes net regstaan vir al sy kliënte – hy was dus net te besig – besig met sy eie belange en sy eie wêreld – hy was dus selfgesentreerd.

Baie mense is net soos die herbergier – hulle is net té besig met allerlei onbenullighede en die gevolg is dat hulle geen gedagte gee aan Christus nie.

Mense sien Christus nie raak gedurende “Kersfees” nie, omdat die wêreld rondom hulle, vír húlle dink en vír húlle besluite neem. Hulle word gebombardeer met allerlei soetsappige Kersliedjies waar hulle ook al kom, deur kunstenaars wat waarskynlik nie eers weet wie Christus waarlik is nie – hulle word emosioneel gemanipuleer om geskenke te koop en pragtige flikkerende liggies oral in bome en op mure aan te bring.

Soos die herbergier word mense se gedagtes in hierdie dae, in beslag geneem deur allerlei aardse en ‘n wêreldse gejaag na wind en sien hulle Christus Jesus nie raak nie. Die herbergier was waarskynlik nie eens bewus van die geboorte van die Kindjie nie en beslis nie dat Hy die Verlosser was nie. Net so weet die wêreld van vandag ook nie wie Christus is nie, want hulle lewe is vol van wêreldse- en verbygaande dinge.

* Jaloesie:
In Matt.2 vind ons nog ‘n persoon wat nie deur Christus se geboorte ten goede verander is nie. Vers 1-3 ~ Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2 en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.” 3 Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. En vers 7-8 ~ Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8 Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys”.

Die heerser van die land waarin Josef en Maria hulle saam met Jesus bevind het, was Herodes en hy was uiters suksesvol in die onderdrukking van die Joodse gorilla vegters in die gebied waarvoor hy verantwoordelik was. Toe hy hoor van ‘n Joodse koning, het dit hom onmiddellik bedreig en wou hy die “Koning van die Jode” om die lewe laat bring.

Herodes was ‘n wrede en ongevoelige heerser, maar hy was ook intens jaloers en enige persoon wat ‘n bedreiging vir sy posisie kon wees, het hy net eenvoudig uit die weg geruim en daarom moes Jesus ook vermoor word en daarom vaardig hy ‘n dekreet uit wat bepaal het dat alle seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe gebring moes word (Matt.2:16).

As ons dink dat daar nie meer jaloerse “Herodesse” in hierdie wêreld is nie, maak ons ‘n groot fout. Mense is ook vol vrees dat hulle, hul bepaalde planne en prioriteite en waardes en voorkeure en gebruike en besittings, prys sal moet gee, indien hulle Jesus Christus sou aanbid. Die wêreld leer ons dat ons, ons eie ding moet doen; dat ons, ons eie lot bepaal, ens. Die wêreld is vol “Herodesse” wat nie bereid is om die knie voor Christus te buig nie.

Wat van jou? Sê jy ook “nee” vir Jesus omdat jy bang is dat jy afstand sal moet doen van jou eie troontjie en koninkryk?

* Ongeërgdheid:
In Matt.2:4-6 lees ons ~ Hy (Herodes) het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5 Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe: 6 En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ’n leier voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.” Herodes het al die kenners ingeroep om hom te adviseer. Die priesterhoofde het bestaan uit die Hoëpriester; die hoof van die Tempelpolisie en die ander priesters wat beskik het oor besondere talente. Hulle was hoofsaaklik Sadduseërs, maar daar was ook Skrifgeleerdes onder hierdie priesterhoofde (wat hoofsaaklik Fariseërs was) en hierdie priesterhoofde het geweet dat Jesus, die Messias, een of ander tyd gebore sou word, want hulle het die woorde van Miga 5:2 geken ~ Hy sal sy mense ’n kort rukkie prysgee, so lank as dit ’n vrou neem om ’n kind in die wêreld te bring. Dan sal dié uit sy familie wat die ramp oorleef het, terugkom na die Israeliete toe. Hulle het dus heeltyd (en dit is so ironies – tot vandag toe) die verwagting gehad, dat die Messias een of ander tyd sou kom.

Hierdie priesterhoofde was egter ongeërg en wou nie eens die moeite doen om die paar kilometer na Bethlehem te reis, om vas te stel of die pasgebore Jesus werklik die Messias is nie. Hulle het al die feite gehad en die volk van Israel het die verwagting gekoester vir ‘n Messias, maar hulle was heeltemal ongeërg. Waarom? Omdat hulle eiegeregtig was. Hulle het hulle self gesien as volmaakte nakomelinge van die Wet van Moses. Daar was dus géén plek vir, of nood aan Jesus Christus in hulle gemoed en lewe nie – so veel so, dat toe Jesus as jong volwassene op die toneel verskyn, hulle Hom verag en gehaat het en daarom het hulle uiteindelik Sy moord beplan en gemanipuleer.

Jesus het hierdie ongeërgdheid van hulle baie mooi saamgevat in Matt.9:10-13, toe Hy gesê het ~ Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet. 11 Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” 12 Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. 13 Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” Jesus het dus gekom vir mense wat Hom nodig gehad het, nl. tollenaars en sondaars.

Christus se geboorte maak geen indruk op talle mense nie, omdat hulle nie glo dat hulle sondaars is nie – hulle het dus geen belang en behoefte in en aan Christus as Redder nie, omdat hulle nie verstaan dat ...Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here (Rom.6:23).

* Godsdienstige Rituele:
Luk.2:8-9 dui vir ons nog ‘n groep mense aan, op wie Christus se geboorte geen blywende indruk gemaak het nie ~ Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9 Meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. ‘n engel van die Here het die geboorte aan die skaapherders bekend gemaak en hulle het na Bethlehem gegaan om Hom te sien. Vers 20 sê vir ons dat, Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.

Van al die mense in Jerusalem, het God eenvoudige skaapherders uitgesonder om die wonderlike nuus van die geboorte van Christus te verneem. Daar is gewoonlik neergesien op skaapherders. Hulle kon bv. nie altyd die seremoniële aktiwiteite en reiniging aksies wat daarmee gepaard gaan, nakom nie. En tog, het niemand anders gekom om na die Christuskind te kom kyk, behalwe die vuil en eenvoudige skaapherders nie.

Daar was egter nog twee ander baie besondere mense wat wel kennis geneem het van die koms van die Kind na die stad, nl. Simeon en Anna. In Luk.2:25-26 sien ons dat Simeon, ...getrou (was) aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon 26 en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Luk.2:36-38 verwys na Anna ~ Daar was ook ’n profetes, Anna, ’n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood 37 het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. 38 Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.

Vir die res van die inwoners van Jerusalem en Bethlehem het die geboorte van Jesus egter nie veel beteken nie, want hulle was so besig met hul eie godsdienstige rituele – Jesus het nie ingepas in die godsdienstige sisteem van die dag nie. Dit was eers ná Sy Bergrede dat meer mense Jesus herken en erken het.

Slegs ware aanbidding van die ware drie-enige God sal die mens, die Verlosser Jesus Christus laat raak sien. So baie mense in ons dag (net soos destyds in Israel) hou hulle besig met allerlei godsdienstige rituele en mis hulle die Verlosser.

* Afgodery:
Ook vir die Romeine het Christus se geboorte geen betekenis ingehou nie.

Keiser Augustus het beveel dat daar ‘n sensus gehou moet word – noodwendig was die baba Jesus se naam ook opgeskryf, maar vir die Romeine het Sy Naam geen betekenis ingehou nie. Regdeur Jesus se aardse bediening het die Romeine met Hom skouer geskuur. Voor Jesus se dood, verskyn Hy voor Pilatus, die Romeinse goewerneur van Judea (Joh,.18:28-40). Hy was tereggestel deur Romeinse soldate (Matt.27:27-36). Romeinse soldate het gelieg oor Jesus se opstanding, deur ‘n storie daaroor op te maak (Matt.28:11-15).

Vir die Romeine het Christus as Verlosser ook geen waarde ingehou nie, a.g.v. hul afgodediens.

Vandag aanbid mense rondom ons ook hul eie afgode – of dit nou geld of seks of sport is, of status, of eiendom, of godsdiens, of wat ook al. Hierdie is die heidense afgode van ons dag. En daarom hou Christus se geboorte ook vir hierdie moderne afgodedienaars, geen betekenis in nie. Ja, hulle versier hul huise met kersbome en liggies; hulle deel presentjies uit, maar Christus is nêrens te sien in hul feesvieringe nie.

* Familiariteit:
Waarskynlik die hartseerste van alles, is die feit dat Christus se geboorte vir die mense van Nasaret self, geen betekenis ingehou het nie. Luk.2:39-40 lees as volg ~ Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret. 40 Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

Nadat Josef en Maria teruggekeer het na Nasaret, was Jesus alles behalwe soos die res van die kinders van Sy tuisdorp. Hy het saam met Sy ouers, die Paasfees bygewoon; Hy het die geleerde teoloë as twaalfjarige kind gekonfronteer en met hulle geredeneer (Luk.2:41-47). Hy het dertig jaar van Sy lewe in Nasaret spandeer en kop en skouers uitgestaan bo die ander kinders en jongmense, maar selfs dit was nie genoeg, sodat Christus die Verlosser enige waarde ingehou het vir die inwoners van Nasaret nie.

Luk.4:16-22,24 onthul hierdie raaisel vir ons ~ Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, 17 is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: 18 “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, 19 om die genadejaar van die Here aan te kondig.” 20 Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. 21 Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” 22 Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?” En vers 24 ~ Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie.

Nasaret se inwoners het Jesus gesien soos wat hulle al die ander kinders van hul dorpie gesien het – maar net nog ‘n kind – niks spesiaals nie, inteendeel, nadat Jesus in die sinagoge gepraat het, lees ons in Luk.4:29-30 die volgende ~ Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi. 30 Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.

Familiariteit is ‘n gevaarlike saak. So baie mense sê dat hulle in ‘n Christelike huis groot geword het, maar self is hulle nie gelowiges nie. Hulle weet van Jesus; hulle vier selfs Kersfees, maar die ware betekenis van Christus se geboorte verander nie hulle harte en lewens nie. Jesus sê self van hierdie mense die volgende in Mark.6:6a ~ Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense.

4. TEN SLOTTE:
Daar is baie maniere waarop Christus se koms na hierdie wêreld by ons verby kan gaan en daarom geen betekenis vir ons inhou nie, nl.:
* Selfgesentreerde lewens;
* Jaloesie;
* Ongeërgdheid;
* Godsdienstige rituele;
* Afgodery, en
* Familiariteit.

Maar, die sonde wat aan die wortel van hierdie probleem lê, is ONGELOOF. Miljoene mense weier net eenvoudig om in Jesus Christus te glo. Die Apostel Johannes sê in Joh.1:10-12 ~ Hy wás in die wêreld-die wêreld het deur Hom tot stand gekom-en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Indien Kersfees vir jou nie enige ware betekenis inhou nie, moet jy weet dat dit kán verander, indien jy Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser aanneem en in Hom glo. Hierdie Kersdag van 2009 kan jou ewige bestemming verander, as jy jouself verootmoedig voor die Here God en jou sonde bely en jou daarvan bekeer en in Jesus Christus glo.

Rom.10:8-11 leer ons die volgende ~ “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9 As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10 Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11 Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 25 Desember 2009