Die Brief aan die Efesiërs - 12 (Opbou en Toerusting van die Liggaam) [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. SKRIFLESING:
Ef.4:11-16 ~ En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12 Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13 So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. 14 Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. 15 Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16 en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.
2. INLEIDING:
Ons het verlede week gesien dat die Here verskillende gawes aan die kerk gegee het en wel volgens vers 12, apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Ons het dan ook gekyk na die verskillende funksies van hierdie onderskeie gawes.
Paulus gaan egter nou voort in vers 12 en hy sê vir ons wat die Here se doel was met die uitdeel van hierdie gawes, nl. ...om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.
Wat ’n mens onmiddellik tref wanneer jy hierdie teksvers lees, is dat die hele gedagte van ’n kerk of gemeente, of denominasie waar die predikant of die moderator of die Pous, die oppergesag van die kerk vorm, geheel en al misplaas en selfs onbybels is. Luister mooi wat staan hier ... om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. Die gelowiges, m.a.w. die lidmate word toegerus, sodat hulle, die lidmate, die gemeente – die ander broers en susters in die gemeente, kan opbou. Die gedagte is dus nié, dat die gemeente passief moet wees en net agteroor sal sit en gevoed en gelei en opgebou en herstel word deur die Herder/Leraar nie – en hy alleen nie. Nee, die lidmate (elke broer en Suster) is medeverantwoordelik hiervoor. Die Herder/Leraar gee slegs die toerusting in die vorm van die Woordverkondiging aan die lidmate.
Hierdie gawes wat uitgedeel word aan die kerk, is almal “diensbaarheidsgawes” om die gemeente toe te rus ten einde diensbaar te wees. Hierdie gawes strek dus tot seën van beide diegene wie dit uitdeel, as vir diegene wie dit ontvang, sodat dit uiteindelik lei tot ’n gesonde en geseënde gemeente.
Die doel dan met hierdie gawes is om diensbaarheid te bewerkstellig en nié vir selfgesentreerde redes nie of om selfs in ongehoorsaamheid daarmee om te gaan nie. Elkeen van die lyste in die Nuwe Testament wat die “charismata” (Gawes van die Heilige Gees) bevat, beklemtoon hierdie feit, nl. dat die gawes, “diensbaarheidsgawes” is en daarom is die prediking van die Woord van kardinale belang in die kerk, omdat niks anders die gemeente so kan opbou as die Woord van God self nie en daarom is die primêre gawe vir die kerk, dié van prediking en lering.
3. TOERUSTING VAN DIE LIGGAAM:
Wat dan is die doel met die uitdeel van die gawes? Eerstens, vers 12 ~ ... om die gelowiges toe te rus.... U sal met my saamstem dat die toerusting van gelowiges en die opbou van die Liggaam nie ’n oefening is wat oornag afgehandel kan word nie, maar dat dit ’n lang proses is en uiteraard word so ’n proses nog langer uitgerek en vertraag namate lidmate nie gewillig is om saam te werk en bereid is om hul gawes in te span en die res van die Liggaam daarmee te bedien en te seën nie en dit impliseer dus dat elkeen van ons in een of ander vorm van bediening in die gemeente betrokke sal raak.
Wanneer ons dan praat van die toerusting van die gelowiges, is dit nie net ’n individuele saak nie, maar ook ’n korporatiewe, of gemeenskaplike saak.
Die Here Jesus het aan die Kerk, basies vier “stukke gereedskap” gegee waardeur ons opgebou en toegerus kan word:
· Eerstens dan en die belangrikste, soos ons reeds gesien het, is deur die Woord en die prediking en uitleg van die Woord – 2Tim.3:16-17 ~ Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17 sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. En in Joh.15:3 sê Jesus ~ Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Die eerste taak van die Herder/Leraar is dan om homself en die kudde te voed met die Woord en hulle te leer om hulleself vanuit die Woord te voed.
· Ons vind ’n tweede “stuk gereedskap” in die proses van toerusting en opbou in Handelinge. Hier het die Apostels te doen gekry met allerlei onderonsies in die gemeente en is hulle aandag daardeur afgetrek van dít waaroor dit eintlik moes gaan en het hulle uiteindelik diakens aangewys om, om te sien na hierdie “ander take” in die gemeente – en hulle motivering? Hand.6:4 ~ Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee. Die tweede dan, is gebed. Die Herder/Leraar is verantwoordelik om homself voor te berei deur gebed, maar die gemeente moet ook gelei word om hulself voor te berei deur gebed en voorbidding. Epafras was toegewyd in hierdie taak om sy medegelowiges op te bou en toe te rus, deur sy voorbidding vir hulle – Kol.4:12 ~ Epafras, wat een van julle is, stuur vir julle groete. Hy staan in diens van Christus Jesus en bid altyd ernstig vir julle dat julle staande mag bly, geestelik volwasse en in alles volkome gehoorsaam aan die wil van God.
Dit is belangrik dat ons daarop sal let dat die toerusting en opbou van elke gelowige nou reeds hiér op aarde geskied en nié eendag in die hemel nie. Die werkwoord wat Paulus hier gebruik is in die Grieks, “katartizo”, wat die gedagte deurgee van geestelik sterk gelowiges wat swakker broers en susters en veral diegene wat in sonde verval, help herstel (L.w.: Nie noodwendig dus net die Herder/Leraar nie, maar lede van die Liggaam).
· ’n Derde “stuk gereedskap” is beproewing en ons kan ’n vierde daarby voeg, wat baie dieselfde is, nl. lyding. Hierdie is primêre suiweringsmiddele of –ervarings, wat meehelp om ons as gelowiges te slyp en te help opbou tot verdere heiligmaking in ons lewe. Jakobus skryf in 1:2-4 die volgende ~ My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3 want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4 En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. Wanneer ons in gehoorsaamheid en afhanklikheid en vertroue reageer op die toetse wat God op ons weg plaas, sal ons “geestelike spiere bou” en geestelik toegerus word en sodoende opgebou word in die allerheiligste geloof en toegerus word vir dienswerk aan God en tot opbou van die Liggaam. Petrus sê in 1Pet.5:10 ~ God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Ons moet besef dat om Christus te volg, nie nét impliseer dat ons deur en in Hom opgebou sal word en toegerus sal word nie, maar dat ons ook in Sy lyding sal deel hê. Dit is waarom Paulus in Fil.3:10 sê ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood. Paulus het homself verheug in al sy lyding en swaarkry. Hoor wat sê hy in 2Kor.1:4-6 ~ In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, 5 want net soos daar vir ons ’n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ’n oorvloed van bemoediging deur Christus. 6 As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur. Hoor u wat sê Paulus hier? Let veral op na die dinamika van gemeente-wees hier en let verder ook op na die toerusting en opbou van die Liggaam in hierdie proses:
· Lyding en beproewing lei tot ’n oorvloed van bemoediging deur Christus (v.4 en 5);
· Ons beproewing lei daartoe dat ons, ons broers en susters kan bemoedig (v.6).
· Wat gebeur as ons bemoedig word? Ons word versterk en opgebou (v.6), sodat ons later weer ons beproewing en lyding op die regte wyse kan hanteer en verduur (v.6). Die een lei dus tot die ander.
4. DIENSBAARHEID AAN DIE GEMEENTE:
In die tweede gedeelte van vers 12 staan daar ~ (... om die gelowiges toe te rus) vir hulle diens.... Diensbaarheid is dus ’n tweede doel met uitdeel van die gawes aan die Liggaam. Let weer hier op: Wie word hier toegerus? Die gelowiges. Waarvoor? Vir hulle diens. Wie se dienswerk? Hulle – die gemeente dus. Dit is dus weereens nie die Herder/Leraar se dienswerk nie, maar elke lidmaat (wat natuurlik ook die Herder/Leraar of die leierskap/ouderlinge insluit). Die hele gemeente moet dus aktief betrokke wees by die werk van die Here in die Liggaam. En dit is nie in die eerste plek die Herder/Leraar se verantwoordelikheid om die gemeente te motiveer en aan te moedig en selfs te smeek om betrokke te raak nie. Nee, sy werk is bloot net om die toerusting vanuit die Woord te verskaf en die lidmaat moet self sy eie verantwoordelikheid voor die Here besef en aktief betrokke raak deur te dien. 1Kor.15:58 ~ Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie. En 1Pet.4:10-11 ~ As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien. 11 As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen. Hierteenoor sê Paulus in 2Tes.3:11 ~ Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei.
Geestelike werk en diensbaarheid is dus die werk van elke gelowige – blote bywoning van eredienste is dus nié deelname aan die bediening van gelowiges en diensbaarheid aan medegelowiges nie.
5. OPBOU VAN DIE LIGGAAM:
Ons vind ’n derde doelwit met die uitdeel van die gawes in vers 12, nl. ~ ( Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens) ...en vir die opbou van die liggaam van Christus. Behoorlike lering en prediking lei tot die opbou van die gemeente. Hierdie woord “opbou”, verwys letterlik na die bou van ’n huis. Dit behels dus die geestelike opbou en ontwikkeling van die Liggaam waarvan Paulus hier praat en weereens geskied dit deur die prediking van die Woord. Paulus doen ’n ernstige beroep op die ouderlinge in die gemeente van Efese en dit beklemtoon juis hierdie proses, wanneer hy sê ~ Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het (Hand.20:32).
Wanneer Paulus dan praat van hierdie opbouproses, het hy ’n vyfvoudige doelwit in gedagte met hierdie proses:
· Vers 13 ~ So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof. Die geloof waarvan Paulus hier praat, is nie die handeling van geloof, of gehoorsaamheid nie. Dit verwys na die Christelike leerstellinge. M.a.w. die doel met hierdie opbouproses is om almal “op dieselfde teologiese bladsy” te kry – en weereens kom dit deur die gepredikte Woord. Wanneer eenheid kortkom in ’n Liggaam, is dit heel dikwels a.g.v. leerstellige onkunde en/of geestelike onvolwassenheid. Wanneer ’n gemeente dus behoorlik geleer word vanuit die Woord en die gemeente hul dienswerk getrou doen en die gemeente na geestelike volwassenheid gelei word, sal daar eenheid wees. Die oplossing vir die verdeeldheid in die gemeente van Korinte was dat hulle tot dieselfde leerstellige oortuigings moes kom (1Kor.1:10). Baie keer is dit dan ook nodig dat die Here eers mense moet wegneem uit ’n gemeente, ten einde hierdie eenheid in ons geloof te bewerkstellig.
· Die tweede doelwit in die proses van die opbou van gelowiges, is om kennis van Christus te bekom – vers 13b ~ (So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof) en in ons kennis van die Seun van God. Paulus praat nie hier van reddingskennis nie, maar van ’n diep en vol kennis van die waarheid wat verkry word deur ’n opregte verhouding met Jesus Christus. So ’n verhouding word slegs bekom deur gebed en die getroue bestudering van en gehoorsaamheid aan God se Woord. Na etlike jare in diens van Christus het Paulus in Fil.3:8a gesê ~ ...ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Om kennis van die Seun van God te bekom, is ’n lewenslange proses wat nie afgehandel sal wees, voor ons Christus van aangesig tot aangesig in die ewigheid sien nie.
· Derdens het Paulus geestelike volwassenheid in gedagte wanneer hy praat van die opbou van die Liggaam van Christus. Vers 13c ~ Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. God se begeerte vir Sy Kerk, is dat elke gelowige, sonder uitsondering, aan Sy Seun Jesus Christus gelykvormig sal word ~ Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is (Rom.8:29). Indien ons dus sê dat ons gelowiges is, moet ons ag slaan op die woorde in 1Joh.2:6 ~ Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het. Ons strewe moet dus dié van 2Kor.3:1 wees ~ Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.
Dit is wel so, maar dit mag nooit ’n verskoning wees nie, nl. dat ons nooit volkome soos Christus kan word nie – primêr a.g.v. die waarheid soos opgeteken in Rom.7:14 ~ Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos ’n slaaf aan die sonde verkoop. Ons strewe moet egter wees om meer en meer volwasse in Christus te word.
· In die vierde plek moet die kerk van die Here Jesus Christus altyd, suiwer dogma/leer/teologie nastreef, sodat ons nie, in die woorde van vers 14, ... meer kinders(sal) wees nie; en ons nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger (sal) word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. Paulus se punt hier, is dus dat ons nie sal toelaat dat ons deur die dwaalleer van vals leraars en die slinksheid van die satan mislei sal word nie, maar dat ons teologies en Bybels goed genoeg onderlê sal wees om hierdie aanslae af te weer. Ons moet besef dat ons as gelowiges voortdurend in die visier van die vyand is. Die Nuwe Testament is vol waarskuwings dat ons wakker moet wees, bv. Rom.16:17-18 ~ Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. 18Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense. En 2Tim.4:3 ~ ...want daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.
· Laastens sien ons in vers 15, dat Paulus sê, dat ons ...in liefde by die waarheid (moet) bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hierdie uitdrukking, om in liefde by die waarheid te bly, is baie moeilik vertaalbaar. Die enigste ander plek in die Nuwe Testament, waar hierdie uitdrukking gebruik word (in die Grieks), is in Gal.4:16 ~ Het ek dan nou julle vyand geword deurdat ek die waarheid aan julle voorhou? Dit gaan dus hier oor die verkondiging van die suiwere waarheid. En onthou - hier gaan dit nie nét oor die verkondigers van die Woord van God nie, maar alle gelowiges en daarom kan ons sê dat elke gelowige dus ’n liefdevolle getuie vir Jesus Christus moet wees.
Paulus sluit hierdie gedeelte af deur vir ons te sê dat Christus die Hoof van die Kerk is en dat ons, ons moet onderwerp aan Sy gesag en leierskap. En nie net is Hy die Hoof nie, maar ook die Bron van alle gawes en ons moet die gawes wat ons van Hom ontvang, aanwend tot Sy eer, maar ook tot opbou van die gemeente en tot uitbreiding van die Koninkryk hier op aarde.
6. AFSLUITING:
U mag nou ter afsluiting vir my vra: “Hoe kan ek my gawe ontdek ten einde mee te help om die gemeente op te bou?” Ja ek weet dat daar allerlei boekies en kursusse ens., bestaan wat ons oënskynlik hiermee kan help, maar dit is nie wat ek in gedagte het nie. Ek wil 4 punte met julle deel ten einde julle te help om jul gawe(s) wat die Here reeds aan julle geskenk het, te ontdek.
· Eerstens kan jy begin deur die Woord te bestudeer en te kyk wat die Woord alles te sê het oor geestelike gawes. Dit is deur die Woord dat God met ons praat en die Woord is die primêre bron vir ons geestelike groei en heiligmaking. Ons moet ook terwyl ons die Woord bestudeer, baie deeglik kennis neem van die doel met die uitdeel van die gawes en dit is nl. om die gemeente te dien – dit word nie vir ons eie voordeel gegee nie.
· In die tweede plek moet ons bid. Om vas te stel d.m.v. watter gawes ek die gemeente kan help opbou, is nie ’n ligtelike saak nie, daarom moet ons ernstig hieroor bid. Ons kan nie maar net ons eie oordeel vertrou in hierdie gewigtige saak nie. Jer.17:9 sê nie verniet ~ Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? Ons kan baie maklik ’n gawe begeer wat ons eie belang dien, of wat ons belangrik kan laat voel en dít is beslis nie die gawe wat die Here vir ons in gedagte het nie. Dit kan ook gebeur dat ons juis daardie gawe wat God vir ons gegee het of wil gee, weerstaan omdat dit ons dalk nie pas nie. Die enigste manier om werklik vas te stel wat die Vader vir ons in gedagte het, is om ons eie harte in gebed te ondersoek en Sy wil in en deur gebed te vra.
· Derdens kan ons, nadat ons die Woord bestudeer het en ernstig oor die saak gebid het, ’n waardebepaling maak van ons eie motiewe, talente, vermoëns en geestelike sterkpunte, want baie dikwels gebruik die Here juis hierdie eienskappe, maar ons kan en mag nie die eerste twee stappe ignoreer en direk met hierdie stap voortgaan nie.
· Laastens moet ons dít wat ons ervaar en wat die Here aan ons openbaar, met medegelowiges toets en vir hulle vra wat hulle dink jou gawe(s) is.
Die kerk van die Here Jesus Christus is baie dikwels nie die “stad op ’n berg”, waartoe dit geroep is nie, omdat broers en susters nie hul gawes aanwend in diens van die Koninkryk nie. Hoe en waar dien jy die gemeente deur jou gawes?
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 20 Desember 2009