Monday, January 18, 2010

Boodskap deur Kobus van der Walt (17 Januarie 2010)

Die Brief aan die Efesiërs - 13 ('n Nuwe Lewe) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.4:17-24 ~ In die Naam van die Here doen ek ’n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, 18 hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard. 19 Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ’n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen. 20 Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie. 21 Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is. 22 Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. 23 Julle gees en gedagtes moet nuut word; 24 lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. 

2. INLEIDING:
Iets wat ons baie dikwels die afgelope twee jaar gehoor het, is dat ’n gelowige nie pragmaties moet of mag optree nie, m.a.w. jy sê een ding, maar jy tree anders op, of as jy wil, jy glo ’n bepaalde ding maar wanneer dit by die praktyk kom, tree jy nie dienooreenkomstig op nie. Ek is ook dikwels al gekonfronteer met die feit dat myself die vraag afvra, nl. of dit nie tog dalk beter is om soms kompromie met die waarheid aan te gaan en soos die wêreld op te tree nie.

Daar is ’n Engelse spreekwoord wat sê: When you are in Rome you do as the Romans do. Dit mag miskien baie goeie raad in die wêreld wees, want dan staan jy nie uit soos ’n seer duim nie, of aan die anderkant, as jy soos die massas optree kan jy baie makliker “in” wees – deel wees van die groep; kan jy gewild wees. As gelowiges is dit egter nie goeie raad nie, want vir iemand wat bely dat Jesus Christus die Here is, geld daar totaal ander standaarde as vir diegene wat in die wêreld is. Paulus sê in vers 17 ~ Moenie langer soos heidene lewe nie... en in vers 22 sê hy ~ Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Dit is waarom die Evangelie wat ons verkondig, nie gewild is in die godsdienstige wêreld nie. MAAR om prakties uit te leef wat ons glo en wat die Woord leer – dít is die WARE Evangelie!

Die Efesiërs was voorheen heidene en het soos al die heidene rondom hulle gelewe, maar na hulle bekering het hulle geheel en al anders geword. Hulle is opgeroep tot dissipelskap en ’n heilige lewe in Christus – hulle moes dus lewe soos wat Jesus gelewe het. Hulle moes dus in die wêreld wees, soos wat ons in die wêreld is, maar hulle moes (nes ons), nie van hierdie wêreld wees nie. Hoe moes hulle dan lewe? Hoe moet ons dan lewe?

3. INDELING VAN EFESIËRS:
Efesiërs 4:17 lui ’n nuwe gedeelte en daarom ’n nuwe tema, maar ook die finale gedeelte van die brief aan die Efesiërs vir ons in.

Soos wat ons reeds in die verlede gesien het, kom Paulus ook nou op sy tipiese wyse en begin hy sy skrywe eers met ’n stuk teologie of leerstellinge of dogma, waarna hy dit opvolg met die praktiese toepassing daarvan. So het Paulus bv. in die eerste drie hoofstukke van Efesiërs, die aard en oorsprong van die gelowiges se redding bespreek, nl. God se genade en hoe hierdie genade in en deur die Kerk sy beslag gekry het. In hoofstukke 4 tot 6 (die tweede helfte van die brief) pas Paulus hierdie beginsels toe op die lewe van die gelowige in ’n sekulêre wêreld – hy raak dus prakties.

Hoofstuk 4 word egter verder verdeel in twee onderafdelings, nl. 4:1-16 en verse 17-31. Verse 1 tot 16 was die leerstellige gedeelte, waar Paulus ons geleer het dat God alle gelowiges vanuit alle volkere en uit al die vlakke van die samelewing geroep het om in eenheid in die kerk saamgevoeg te word. Daar was egter ook ’n tweede leerstuk gepreek in hierdie eerste gedeelte van die tweede helfte van die brief, nl. dat God se kinders te alle tye, ’n heilige lewe moet najaag.

Hierdie heilige lewe wat nagejaag moet word, is ’n geweldig belangrike oproep, want nie net is ’n goeie morele lewe goed in sigself nie, of dat ’n goeie lewe ’n mens gelukkig kan maak nie, maar ’n heilige lewe moet primêr nagejaag word op grond van wat God vir ons gedoen het – op grond van wat ons weet, God deur Jesus Christus vir ons gedoen het. Ons word dus nié geroep om soos die “Romeine in Rome” te leef nie. Nee, ons word geroep om anders as die “Romeine van hierdie wêreld” te leef.

4. DIE ROMEINE VAN HIERDIE WÊRELD:
Voor ons dan kan vasstel hoe ons as gelowiges moet lewe, moet ons gaan kyk hoe die wêreld van die “Romeine” (die heidene) lyk en Paulus spreek dit juis aan in verse 17-19.

Hy sê eerstens dat...:
· Hulle gedagtes lei tot niks (v.17): Dit is baie interessant om te sien dat Paulus hier op die mens se verstand en gedagtes fokus (ons sal dit ook in die volgende kenmerke van wêreldse mense sien wat ons weldra sal aanspreek) Paulus sê dus dat sover dit geestelike en morele sake betref, ’n verlore persoon se gedagtes tot niks lei nie – hulle dink anders as gelowiges en daarom tree hulle anders op en daardie optrede van hulle lei uiteindelik tot niks, want hulle denke en hulle optrede bestaan sonder Christus en word oorheers deur sonde en lei uiteindelik tot die dood.

· Hul verstand is verduister (v.18): Die tweede karaktereienskap van “mense van hierdie wêreld”, is dat hulle verstande verduister is. Die wêreld sê dat geleerdheid alles in die lewe is. Matriekleerlinge is voortdurend in die media die afgelope vakansie aangemoedig om verder te studeer, en ek sê nié dat dit verkeerd is nie, inteendeel. Maar, 2Tim.3:7 sê dat ongelowiges, soos ... vroue (is) wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie. Die gevalle mensdom het ’n “ingeboude” onvermoë om die waarheid aangaande God te leer ken. Wat is die rede vir hierdie onvermoë? Wat is die rede vir die feit dat hul gedagtes tot niks lei nie? Ons vind die antwoord in vers 18b (en die O.A.V. stel dit pragtig en korrek) ~ ...vanweë die verharding van hulle hart – die E.S.V. sê ~ ...due to their hardness of heart. Hulle maak dus ’n doelbewuste keuse om in sonde te bly. Hulle maak ’n doelbewuste keuse om hul rug op God gedraai te hou. Rom.1:21-22, 24 stel dit as volg ~ ...omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. 22 Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. ..... 24 Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle, hulle liggame onder mekaar onteer.

Hierdie mense gee hulself oor aan die satan en hy sorg dat hulle verblind bly – 2Kor.4:4 ~ Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie.

· Hulle het afgestomp geraak (v.19): Derdens sien ons in vers 19, dat onwedergeborenes, afgestomp en ongevoelig raak. Wanneer hy afgestomp raak, raak hy onsensitief vir alle standaarde vir geregtigheid, m.a.w. hy gee net nie meer om wat die ewige gevolge van sy onheilige gedagtes en optredes is nie. As ons na die wêreld rondom ons kyk, sien ons presies dít waarvan Paulus hier praat – mense gee nie om of hulle God belaster in hul taalgebruik nie; mense is nie meer skaam om wellustig op te tree nie; homoseksualiteit is openlik en word al meer en meer deur die samelewing aanvaar as ’n alternatiewe lewenstyl, en so kan ons aangaan. Hoor wat sê Rom.1:32b sê ~ ...en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen. Ongelowiges is, en raak al meer en meer afgestomp.

· Hul onversadigbare drang na losbandigheid (v.19b): Laastens sê Paulus in vers 19b ~ ...hulle (het hulself) met ’n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen. Die woord “losbandigheid” word in die E.S.V. vertaal met “sensuality” en in die O.A.V. met “onreinheid”. Die Grieks vir hierdie woord is "aselgeia" wat dui op “onbedwingbaarheid” – iets wat dus gedoen word wat die vlees net nie kan keer nie – as jy sien het jy dit gedoen. Hierdie selfde woord word in Gal 5:19 gebruik en die O.A.V. stel dit weereens korrek (dit is tog so jammer dat die N.A.V. so dikwels, o.a. sonde saggies stel – so asof die N.A.V. te skaam is om dit te sê). Gal.5:19 dan... En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid. Die wêreld het altyd ’n drang na die sonde en in hierdie geval spesifiek na seksuele sonde, inteendeel die Woord sê, hulle het ’n onversadigbare drang daarna. En hoekom is dit onversadigbaar? Omdat dit hulle net vir die oomblik bevredig – daar is nooit langdurige bevrediging en tevredenheid nie, want in die wêreld is dit nie te vinde nie.

Hoe dan, sien die wêreld daar uit?
· Hulle gedagtes lei tot niks;
· Hulle verstand is verduister;
· Hulle het afgestomp geraak;
· Hulle het ’n onversadigbare drang na losbandigheid.

Christus was ook versoek deur die satan om te kompromitteer, m.a.w. om toe te gee aan die vlees, maar Jesus het die staan weerstaan, om sodoende vir ons ’n voorbeeld te stel, van hoe ons versoekinge moet weerstaan.

5. DIE EFESIËRS:
Paulus sê vir die Efesiërs in vers 17 ~ In die Naam van die Here doen ek ’n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Paulus sê dus hierdeur vir die Efesiërs (en vir ons): Julle is wederbaar; julle is nie meer soos die heidene nie. Julle is nou medeburgers en –erfgename van Jesus Christus – julle is nou deel van die heiliges en moet derhalwe nie meer langer soos die heidene leef nie. “Nie meer langer” impliseer dus dat hulle eens op ’n tyd soos die heidene geleef het, maar nou moet hulle daardie leefwyse afsweer en dit verwerp en toesien dat hulle daaglikse wandel sal ooreenstem met hulle nuwe identiteit en hulle nuwe verhouding met Jesus Christus.

Paulus sê, dat hoe die heidene van hierdie wêreld lewe, is nie hoe ons Jesus Christus leer ken het nie.

Om Christus te leer ken is ’n direkte verwysing na ons wedergeboorte (die werkwoord hier, “om te ken” is in die aoristus, aktief, indikatiewe vorm – verwys ook hier na Joh.6:45 waar dieselfde werkwoord gebruik word en waar dit na reddingskennis verwys – ’n eenmalige aksie dus). In Matt.11:29 sê Jesus ~ Neem my juk op julle en leer van My. Hier word die werkwoord “leer” ook op so ’n wyse gebruik (in die aoristusvorm), dat dit op ’n eenmalige aksie dui. Om Christus dus eens en vir altyd te leer ken – wedergeboorte dus.

Ons vind hierdie selfde Griekse werkwoord in vers 21 ~ Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is. “Gehoor” en “onderrig” – beide hierdie woorde dui op die reddingsoomblik toe die skille van ons oë geval het en ons Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker ontmoet het – leer ken het – ’n eenmalige gebeurtenis in die verlede dus.

Die waarheid dan wat in Jesus is, is die waarheid t.o.v. redding – dit is dan ook in ooreenstemming met Ef.1:13a ~ Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. Johannes verduidelik hierdie kennis verder in 1Joh.5:20 ~ En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe.

Paulus sê egter ook in vers 21 ~ Julle het tog van Hom (dit is Jesus) gehoor.... Toe Hy ons wederbaar het, het ons geleer dat ons lewe nou nie meer selfgesentreerd moet wees nie, maar Christusgesentreerd. Ons het geleer dat ons gedagtes vernuwe moet word. Rom.12:2 leer ons ~ Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Waarom moet ons gedagtes vernuwe word? Anders dink ons soos die wêreld en tree ons op soos die wêreld – m.a.w. as ons anders wil optree, moet ons anders begin dink, daarom dat hy in vers 23 sê ~ Julle gees en gedagtes moet nuut word. Ons kan nie en mag nie meer vleeslike dinge bedink nie; ons kan nie en mag nie meer sondige gedagtes koester nie – ons moet dit neerlê en gedagtes wat ewigheidswaarde besit, bedink.

Ons moet onthou, dat godsdiens in die verstand begin, voordat dit oorgaan tot optrede, maar sonde volg presies dieselfde roete.

Hoe moet ek en jy as gelowiges lewe, indien ons nie soos die heidene mag lewe nie?

· Breek met die ou sondige mens: In vers 22 sê Paulus ~ Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Hier het ons weer met die deurlopende tema van die Nuwe Testament te doen wat ons in Engels noem: Die putting off en putting on beginsel. Ons moet neerlê wat sondig en van hierdie wêreld is en ons moet dit wat ons geleer is deur die Woord opneem en ons daarmee beklee.

Wat Paulus hier vir die Efesiërs sê, is dat hulle soos wat hulle tydens hul wedergeboorte gestroop was van hul “ou vuil klere”, hulle dit voortdurend in hierdie nuwe lewe wat hulle ontvang het, moet doen – dít is om ’n heilige lewe te leef. Die probleem is net dat die “ou klere” al so gerieflik en natuurlik geraak het, dat ons baie moeilik afstand daarvan doen. Dit is waarom die Heilige Gees ons gedurig herinner aan sonde.

· Vernuwe gees en gedagtes: Tussen hierdie proses van neerlê en om beklee te word met... (putting off and putting on), vind ons vers 23 “ingetoebroodjie” ~ Julle gees en gedagtes moet nuut word. Ons kan dus nie ons “nuwe klere” aantrek, as ons nie ons denke verander nie ~ Julle gees en gedagtes moet nuut word. Hierdie is ’n ego van Rom.12:2 ~ ...Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Hoor u wat staan hier aan die einde van die vers ~ ... Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is. En hoe kry ons dit reg? Deur God se Woord op gereelde basis te lees en te oordink en in gehoorsaamheid daaraan op te tree en die Heilige Gees te vra om Sy vernuwingswerk in jou voort te sit. Dit is nodig, nee, dit is van kardinale belang, dat ons God se Woord met afwagting moet lees en die Gees van God vra om dit vir ons oop te maak.

Wat beteken dit prakties om “neer te lê” en “op te neem”, of te “vernuwe”? Kom ek gee vir jou ’n praktiese voorbeeld: Jy verloor jou humeur teenoor jou vrou. Nou lê jy dit neer, deur vergifnis teenoor die Here te vra, asook vir jou vrou. Die proses is egter nog nie voltooi, voor jy nie nuwe denkpatrone aangeleer het nie. In hierdie geval kan jy dus daarop konsentreer en daaraan werk om meer liefde en geduld aan die dag te lê, deur doelbewuste optrede, memorisering van toepaslike teksverse, deur gereeld daaroor te bid; deur bv. jou vrou te vra om jou toerekenbaar (accountable) te hou vir jou gedrag, ens. Is jy ernstig om ’n heilige lewe voor God te LÉÉF? Dan sal sulke optrede nié te veel gevra wees nie. Natuurlik geskied al hierdie optredes deur die genade van God en daarom moet jy vra daarvoor en Hom dank daarvoor.

Jy mag dalk nou vra of dit dan nou nie “goeie werke is waarvan die Woord praat nie? My antwoord is, nee, want onthou jy wat staan in Fil.2:12 ~ My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13 want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. Die Ou Vertaling sê ~ Werk julle eie heil uit.

As “kinders van die genade” moet ons dus selfdissipline toepas en ons Christelike wandel (of lewens) beplan en uitwerk – ons kan en mag nie maar net voort ploeter en dink dat ons die hemel “binne kan dryf” soos iemand op ’n opblaasmatras nie. Dit is waarom Paulus in 1Tim.4:7 sê ~ Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.

· Leef as nuwe mens: Die laastens punt wat Paulus vir ons in vers 24 ophaal, sluit baie nou aan by dit wat ons so pas gesê het, nl. ~ ...lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. Nuwe mense! Hierdie woord “nuut” [in die Grieks: kainoõ (kainos)] beteken nie dat ons gedeeltelik verander word wanneer ons Jesus Christus leer ken nie. Nee, ons kry nie, by wyse van spreke, net ’n gedeeltelike nuwe baadjie nie – nee, ons kry ’n totaal nuwe baadjie – ons word geheel en al nuwe mense – ánder mense! Ons kry nuwe name – die “heilige Trudie” en die “heilige Marius” en die “heilige Wendy-leigh”, ens. – nuwe mense! Daarom dat Paulus in Gal.2:20 sê ~ ...en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.

Ons is nuut, maar nie heeltemal nuut nie. Ons is regverdig verklaar en heilig verklaar, maar nog nie volkome regverdig en volkome heilig nie. Paulus sê in Rom.7:25b ~ So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde. Werk daarom jou eie heil uit! En hoe doen ons dit? Deur...
· Te breek met die ou sondige mens;
· Deur ons gees en gedagtes te vernuwe;
· Deur as nuwe mense te leef.

6. TOEPASSING:
Sukkel jy met sonde? Kla jou “gewete” jou gedurig aan oor sonde in jou lewe? Koester en vertroetel jy ’n bepaalde sonde, of sondes in jou lewe – sondes waarvan net jy en jy alleen weet? Veg jy ’n hopelose stryd om los te kom van sulke sonde? Voel jy moedeloos daaroor? Wil jy moed opgee? Voel jy God het jou nie meer lief nie a.g.v. die feit dat jy nie loskom van sulke sonde nie? Voel dit vir jou asof jy die onvergeefbare sonde gepleeg het? Begin jy selfs voel asof jy nie meer wedergebore is nie?

Luister na die woorde in Jes.59:2 ~ Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.

As daar sonde is waarin ons volhard en waarmee ons nie breek nie, sal ons vind dat ons geestelike lewe een groot gesukkel is, dat ons gebede onbeantwoord bly, dat ons kort-kort twyfel oor ons wedergeboorte. Kol.1:21 sê dat ons vyande word van God as ons volhard in sonde.

Maar dan kom verse 29-31 van Deut.4 ~ As julle die Here julle God dáár aanroep, sal Hy julle gebed verhoor as julle Hom nader in onverdeelde trou. 30 “Wanneer julle in nood verkeer deurdat hierdie dinge in die toekoms oor julle kom, moet julle terugkom na die Here julle God, en sy woord gehoorsaam. 31 Die Here julle God is ’n genadige God. Hy sal julle nie in die steek laat of om die lewe bring nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met ’n eed aan julle voorvaders bevestig het nie.

Waar lê ons oplossing dan? Ons vind ons oplossing in Kol.1:22 ~ Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. Wat beteken dit? God die Vader het ons herenig met Hom, deurdat die Vader al ons sonde geneem het en dit op Jesus geplaas het. Hy het Jesus aan die kruis hanteer as ’n persoon wat kort-kort sy humeur verloor. Hy het Jesus hanteer as ’n dronkaard; as iemand wat verslaaf was aan pornografie; as ’n God-hater; as ’n lui persoon; as iemand wat lieg; ens. Die Vader het Sy Seun hanteer, asof dit ons was wat daar aan die kruis gehang het, ten einde ons terug te bring na Hom – Hy het al my en jou sonde reeds op Jesus uitgestort en Hom namens ons vir AL ons sonde gestraf. Jesus het aan die kruis ál daardie sondes wat skeiding (ewige skeiding) tussen die Vader en ons bewerkstellig het, op Hom geneem – 2Kor.5:21 ~ Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees!

Die oplossing vir my en jou probleem, is dus Jesus Christus! Is jy in eenheid met Christus? Indien dit die geval is, is Kol.2:23 van toepassing op ons lewe ~ Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie.

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 17 Januarie 2010