Monday, September 14, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (13 September 2009)

“’n Swaar Gelaaide Gebed” [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
’n Teksvers waarmee ek as kind groot geword het en baie gereeld gehoor het en ook ’n teksvers wat u gereeld hier in ons gemeente hoor, is dié van 2Kor.13:13, nl.: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Amen.

Hierdie seënbede, of te wel benediksie, of as u wil seënwens, hoor ons baie gereeld aan die einde van ’n erediens en selfs, soms ook vóór ’n erediens. Ek het gedink dat dit daarom ook nodig is dat ons na hierdie seënwens sal kyk, anders kan dit bloot maar net ook ’n gewoonte of ’n kerklike ritueel word – selfs hier in ons gemeente. Wat meer is, ek dink daar is ook baie mense wat nie eens besef dat dit ’n aanhaling uit die Bybel is, wanneer hulle dit hoor nie.

Wanneer ons na hierdie teksvers kyk, vind ons ’n swaar gelaaide beskrywing van die Goddelike Drie-Eenheid in een kort teksvers vasgevang – dit is teologie op sy beste! En tog, wanneer ’n mens na kommentare gaan kyk, vind ’n mens bitter min hieroor geskryf.

Paulus sluit sy tweede brief aan die Korintiërs af met hierdie seënbede, omdat hulle eerstehandse ervaring gehad het van die werking van ’n Drie-Enige God in hul lewens. Deur God die Seun as Middelaar en Redder, het hulle na God die Vader gedraai en die uitstorting van die Heilige Gees in hul harte, het hulle in staat gestel om oor hierdie versoening te jubel en te juig. Dit is deur die genade van God die Vader in Christus Jesus die Seun, dat hulle die liefde van die Vader kon ervaar én gemeenskap met die Heilige Gees kon ervaar. Hierdie drieledige en tog enkelvoudige gebeurtenis het hul lewens letterlik, vir ewig verander. En indien hierdie gebeurtenis nie ’n blywende gebeurtenis was nie, was dit nie ’n reddende realiteit nie. Daarom dat Paulus in sy slotwoorde aan hulle, die bede en hoop uitspreek sodat hulle die realiteit van hierdie reddende genade van ’n Drie-Enige God in hulle lewens sál ervaar.

Wanneer ons dan kyk na hierdie baie bekende en besonderse seënbede, sien ons dat Paulus elkeen van die drie Persone van die Goddelike Drie-Eenheid, koppel aan ’n baie spesifieke eienskap of hoedanigheid van elkeen van die Persone van die Drie-Eenheid.

Wat verder opmerklik is, is dat hierdie seënbede se volgorde, dieselfde volgorde volg soos wat ons as gelowiges, die reddingsgenade van Christus ervaar, want dit is deur die genade van die Here Jesus Christus, dat ons bewus raak van God se liefde en sodoende deel kry aan ’n ewige lewe, deur die werking van die Heilige Gees. Natuurlik kom genade nie alleen net van Christus nie, maar ook van die Vader, en die liefde is nie net beperk tot die Vader alleen nie, want dit is ook ’n baie besliste karaktereienskap van Christus, en gemeenskap is nie alleen gesetel in die Heilige Gees nie, maar ook in Christus.

Hierdie onderskeid van Paulus is egter baie spesifiek van toepassing op die reddingsproses.

Kom ons kyk dan na hierdie drie frases afsonderlik

2. CHRISTUS SE GENADE:
Die eerste frase van die seënbede verwys dan na die ...genade van die Here Jesus Christus. Hierdie seënbede het in die oorspronklike Grieks, geen werkwoord bevat nie en daarom kon hierdie seënbede ewe maklik gesien word as ’n gebed wat gebid word en waarin gevra word dat Christus se genade vaardig sal wees en word in elkeen se lewe vir wie dit gebid word. Aan die anderkant kan dit ook ’n blote uitspraak wees wat sê dat die genade van die Here met julle ís. Dit is egter ook moontlik dat beide hierdie gekombineer kan word en dit is waarskynlik die beste om dit so te sien en te hanteer.

Kom ons kyk na die genade waarvan hier sprake is:
o Genade van Christus:
Hoe moet ons die uitdrukking “genade” verstaan? Wat lê agter hierdie woord wat ongeveer 155 keer in die Nuwe Testament voorkom?

“Charis” spruit voort uit die Griekse woord “char” wat in kontemporêre Griekse geskrifte verwys na dinge wat welwillendheid voortbring, soos bv. “goedheid”, “skoonheid”, “dankbaarheid” en “guns”. Die Griekssprekende Jode wat die Ou Testament in Grieks vertaal het, het hierdie woord “charis” so vertaal, dat dit gedui het op die goedhartigheid van ’n gesaghebbende persoon wat iemand “benede” hom gehelp het. ’n Goeie voorbeeld hier, is die lewensreddende kos wat die Eerste Minister van Egipte (Josef) aan sy honger familie gegee het. Of die onverdiende eer wat koning Saul aan Dawid gebied het. Of die guns wat Boas teenoor Rut bewys het, toe hy haar toegelaat het om koringare op sy lande op te tel.

In die Nuwe Testament word hierdie selfde woord gebruik om die krag en guns te beskryf wat vanaf die Vader na mense toe vloei, ten einde hulle in staat te stel om te kan glo en gered te word. Paulus gebruik hierdie woord ongeveer ’n 100 keer (100 uit die 155 keer in die Nuwe Testament) en elke keer gebruik hy dit om die redding te omskryf wat deur Christus aan verloregaande siele geskenk word. Hierdie genade word geheel en al onverdiend aan mense geskenk, waardeur hulle gered word. Hierdie genade is persoonlik en dit kom van Jesus en raak mense diep, intens en persoonlik en verander hulle lewens permanent. Dit is dieselfde tipe genade wat die “verlore seun” terug verwelkom het by die huis (Luk.15:11-32) en dit is dieselfde genade wat sewentig maal sewe keer vergewe (Matt.18:22).

- Eerstens werk hierdie genade van Christus in elke gelowige ten einde geloof in hom of haar te bewerkstellig. Ef.2:5,8 ~ Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! .....8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Die meeste gelowiges beskou hierdie gebeurtenis as die hoogtepunt van hul geestelike lewe, nl. toe hul lewend gemaak is deur die genade wat God aan hulle geskenk het. Redding is dus geheel en al ’n geskenk van God – ons glo ja, maar selfs hierdie geloof is ’n geskenk van God soos Paulus tereg ook sê.

- Tweedens word hierdie genade van Christus, enersyds met rykdom vergelyk. Volgens Ef.1:7-8 word dit met oorvloedige rykdom vergelyk. Ef.2:7 beskryf dit as goedheid en Ef.32:8 beskryf dit as onpeilbare rykdom. Genade is so kosbaar dat die wyse man en vrou, absoluut alles sal gee ten einde hierdie genade van Christus te kan ontvang.

Hierdie genade van Christus is egter andersyds, al is dit kosbaar en onpeilbaar duur, heeltemal gratis en word dit eensydig deur God geskenk.

Ons moet egter altyd onthou dat hierdie gratis geskenk van God, met geweldige koste gepaard gegaan het – dit het die dood van Sy Seun, Jesus Christus gekos en daarom kan en moet hierdie gratis geskenk met onuitspreeklike dankbaarheid in ontvangs geneem word.

- In die derde plek is Christus se genade, alles omvattend. Dit beteken dat Sy genade voldoende is om ons volkome te red. Sy genade is ook voldoende vir alles wat ons nodig het vir hierdie lewe en vir alle omstandighede. Niks is buite die sfeer van God se genade nie.

- Paulus verbind genade so intiem en eksklusief met Christus, dat ons tereg kan sê dat Christus, self genade is. En dan lees ons lees in Joh.8:19 die volgende ~ Toe vra hulle vir Hom: “En waar is die vader van jou?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” En in Joh.10:4 ~ Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. En Joh.8:31-32 lees as volg ~ As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; 32 en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak. Ons sien dus dat Christus se genade tot gevolg het dat ons Hom en die Vader mag en kan ken.

- Laastens ontvang elke uitverkorene, redding en geloof deur Christus se genade – Ef.2:5 ~ Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

3. DIE VADER SE LIEFDE:
Die genade wat in en deur Christus gereflekteer word, openbaar God se oneindige liefde vir ons. Eenvoudig gestel: God het jou lief en Christus bewys dit! Hierdie liefde van God, is dan ons tweede frase van Paulus se seënbede en met hierdie tweede frase spreek Paulus dan ook die tweede Persoon van die Goddelike Drie-Eenheid aan.

Om mense se liefde te ervaar is een ding, maar om God se liefde te ervaar beteken om deur Hom versterk en bemagtig te word.

Met hierdie tweede gedeelte van Paulus se seënbede vorder hy ’n entjie verder in sy teologie wat hy t.o.v. die Drie-Eenheid van God vir die Korintiërs wil leer.

Hierdie liefde van God is dan ook die hart van die Christen se teologie t.o.v. God, want hierdie liefde van die Vader, is die hart van die Evangelie en die grondslag vir alle menslike liefde – 2Kor.5:14 ~ Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het.

Daar is soveel wat ’n mens oor God se liefde kan sê. Die volgende vier eienskappe van God se liefde is moontlik die mees fundamenteelste van almal, nl.: God se liefde is ewig; God se liefde is magtig en vol gesag; God se liefde is onveranderlik en God se liefde is persoonlik.

- Eerstens dan: God se liefde is ewig. Omdat dit die kern van God se karakter is en omdat God ewig is, is Sy liefde dus ook ewig. Na aanleiding hiervan sê Paulus dan ook aan die Korintiërs in 1Kor.13:8, dat die liefde (nooit) vergaan nie. Ons moet ook verstaan dat liefde nie eensydig kan bestaan nie – liefde vereis ’n verhouding – dit moet dus deur een uitgedruk word en deur ’n ander ontvang word en daarom kan liefde nie bestaan as net God die Vader bestaan het nie – hierdie liefde kom dus volmaak tot uiting in die verhouding tussen die Drie Persone van die Goddelike Drie-Eenheid. En ons as kinders van God het die voorreg om hierdie liefde van die Drie-enige God te kan ervaar.

- Die mees fundamentele eienskap van die ewige liefde van God, is dat dit volmaak onselfsugtig is en net die beste vir ons as mense wil hê, daarom dat Hy Sy Seun gegee het om volmaakte versoening vir ons te bewerkstellig. God se liefde is instaat om uit te reik na ons wat nie in staat is om enige liefde terug te gee aan God nie. Dit is onselfsugtig eensydig en breek deur enige “muur van weerstand”.

Hierdie liefde van God vind sy beslag in die Kruis van Jesus Christus en is beskikbaar vir almal wat in Hom glo. 1Joh.4:10 ~ Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

- In die derde plek is God se liefde onveranderlik en konstant. God se liefde verander nooit nie en omdat ons as mense blootgestel word aan andere, en ons eie “emosionele wipplank ryery”, is dit vir ons moeilik om altyd te glo dat God se liefde ewig en onveranderlik konstant is. Ons liefde vir mekaar en vir God is so onvoorspelbaar – dit kom en gaan, soos die getye van die see. Dan verloor ons, ons Eerste liefde en dan bekeer ons onsself en groei ons weer in heiligmaking – ons is sulke patetiese wesens in vergelyking met God, wie se liefde nooit verander nie (1Joh.4:10-11).

Hoe dikwels maak ons nie ook die fout om te dink dat wanneer dit nie geestelik en emosioneel goed gaan met ons nie, dit is omdat God ons minder liefhet nie. Dit is natuurlik nie waar nie, want dit is óns liefde vir God wat afneem. Ons moet egter moed hou, want God het die moontlikheid van herstel en groei vir ons gegee – Hebr.13:20-21 ~ God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. 21 Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. Christus Jesus is juis gegee sodat hierdie liefdesverhouding tussen ons en God reggestel kan word en kan groei.

- Ons sien in die vierde plek dat God se liefde persoonlik van aard is. God red individue. God het individue dus lief en daarom is God se liefde persoonlik gerig op jou en my. Geen liefdesverhouding kan egter eensydig bestaan nie – ja, dit is so dat God nie afhanklik is van ons liefde nie, maar omdat Hy persoonlik lief is vir jou en vir my, impliseer dit ook dat ons Hom moet liefhê, anders kan daar nie sprake wees van ’n verhouding nie. Paulus se seënbede (2Kor.13:13) vra dus nie alleen dat God se liefde met ons sal wees nie, maar dit is ook ’n oproep wat tot ons gerig word, dat ook óns God sal liefhê.

4. DIE GEMEENSKAP VAN DIE GEES:
Soos wat genade dié uitstaande eienskap van Jesus is en liefde dié van die Vader, is gemeenskap of deelgenootskap (“fellowship”), dié uitstaande eienskap van die Heilige Gees, daarom dat Paulus sê ~ ...en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal!

Met die byvoeging van hierdie derde frase word hierdie seënbede ’n unieke seënbede in teenstelling met die ander seënbedes van Paulus. In sommige gevalle sal hy sy briewe begin of afsluit met bv. die woorde, ...die genade van die Here Jesus Christus (sal) met julle wees. Die meeste kere maak Paulus egter gebruik van ’n tweeledige seënbede of –groet, soos bv. in 2Kor.1:2, nl. ~ Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

In 2Kor.13:13 voeg Paulus egter ’n derde en finale frase by, waar hy bid dat die Heilige Gees met die Korintiërs sal wees. Wat beteken hierdie uitdrukking, gemeenskap van die Heilige Gees?

- Eerstens sien ons dan dat die Heilige Gees, “koinonia”, of te wel gemeenskap, of deelgenootskap bewerkstellig. In die alledaagse omgangstaal, word hierdie woord bv. gebruik om die gemeenskaplike besit van ’n vissersboot deur Simon en Jakobus en Johannes te illustreer. In ’n meer spesifieke Christelike sin, kan hierdie woord egter verwys na drie aaneengeskakelde verhoudings. Eerstens kan dit verwys na die wyse waarop God bestaan, nl. genade en liefde. Tweedens kan dit verwys na die gemeenskap wat gelowiges met God ervaar deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees en laastens kan dit verwys na die gemeenskap wat gelowiges onderling met mekaar geniet deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees.

Ons sien dus telkens dat die funksie van die Heilige Gees is om te verenig en gemeenskaplikheid te bewerkstellig. Die Heilige Gees, kan ons dus sê, is die Derde Party wat tussen ons en andere staan; of tussen ons en die Vader staan en wat ons bewus maak van ons eenheid met mekaar. Primêr maak Hy dus ons geloofsoë oop vir Christus Jesus en maak Hy ons oë spreekwoordelik oop vir ons broers en susters in Christus en vir bv., die nood waarin ons medemens verkeer.

- Tweedens skenk die Heilige Gees lewe. Iemand het eenkeer gesê dat, “die lewe ’n oorerflike siekte is waaraan ons almal uiteindelik sal sterf”. Sonder om te deel in God se lewe, sal almal van ons voorwaar uiteindelik sterf. Lewe is dus ’n geweldige geskenk, maar wat ons eintlik ontvang, is gemeenskap aan God se lewe. Hierdie “deel aan God se lewe” word vir ons pragtig beskryf deur Paulus in Romeine 6 en 8; deur Petrus in 2Pet.1:4 en deur Johannes in die bekende gedeelte in Joh.6:53-57 ~ Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. 54 Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 55 My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. 56 Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57 Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.

Hierdie “deel” in God se lewe, is ’n baie moeilike begrip vir ons om te verstaan, want ons ervaar dit tog nie in ons verhoudinge met ander mense nie – ja, ons ervaar hulle hartseer en vreugde ens., maar hulle leef afsonderlik en los van ons. Wat dit egter beteken, is dat ons deur die Heilige Gees, deel kry aan God se lewe, deurdat ons die ewige lewe deur Christus van die Vader erf. Is dit nie onuitspreeklike genade nie!

- Laastens moet ons besef dat die Heilige Gees ook die gemeente van Christus bou. Hy fokus ons op Jesus Christus en daarna plant Hy ons in, in ’n plaaslike gemeente en dit is deur die gemeente dat Hy ons lei en leer. Ons moet besef dat die Heilige Gees primêr vir die Liggaam gegee word en nie primêr vir individue nie

5. SAMEVATTING:
Hierdie seënbede van Paulus word afgesluit met die woorde ~ ...die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Hier staan nié, “mag die gemeenskap van die Heilige Gees met elkeen van julle individueel wees nie.” Nee, hier staan ...maar met julle almal – almal korporatief dus.

Al het Paulus die gemeente in Korinte hier in gedagte gehad toe hy hierdie seënbede uitgespreek het, word hierdie gebed al sedert die vroegste tye beskou as ’n samevatting van die Evangelie en daarom is dit ook op ons van toepassing.

Hierdie seënbede som ons aanbidding pragtig op en is die fondasie van ons Christelike teologie. Dit beteken dus dat ons verhouding met die Drie-enige God, ’n dinamiese en persoonlike verhouding van liefde is wat moontlik gemaak word deur die genade van Jesus Christus en middellik gewerk word deur die gemeenskap van die Heilige Gees.

Dit is voorwaar ’n gebed wat ons teologie pragtig saamvat en wat tot seën vir elkeen van ons strek en wat ons herinner en die vele fasette van God die Vader en van die Seun Jesus Christus en van die Heilige Gees se karaktereienskappe wat met ons gedeel en aan ons geskenk word. Hierdie seënbede is voorwaar ’n swaar gelaaide gebed!

Elke keer wanneer ons dan vir mekaar sê ~ Die genade van die Here Jesus Christus sy met jou, weet dan dat hierdie genade van Christus wat met my is, geloof in my werk. Dit herinner my daaraan dat ek volkome deur Christus gered is en deur hierdie genade ontvang ek ook kennis van God – Genade dus vir jou!

Elke keer wanneer ons dan vir mekaar sê ~ Die liefde van God sy met jou. Sê ons vir mekaar dat ons moet onthou dat God ons persoonlik, oneindig lief het en dat hierdie liefde elke oomblik met ons is, inteendeel dit is vir ewig met ons en dit is hierdie liefde van God wat my eensydig gered het en dat hierdie liefde nooit sal verander nie

Elke keer wanneer ons dan vir mekaar sê ~ Die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal, sê ons vir mekaar dat dit die Heilige Gees is wat aan hierdie feit tot gevolg het dat ons lewe – dié ewige lewe ontvang en dat die Gees ons in die lewe hou.

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging), op Sondag 13 September 2009