Sunday, February 2, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 27 (“Moses die Geloofsreus”)

1.     SKIRFLESING:
            Hebr.11:23-29 ~ Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy ’n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie. 24Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. 25Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. 26Die smaad ter wille van die Christus het hy ’n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het. 27Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien. 28Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie. 29Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.

2.     INLEIDING:
       Moses was ’n fenomenale mens – die Jode beskou hom as die grootste van alle mense en die grootste profeet van alle tye. Hy was meer as eenkeer in die teenwoordigheid van God soos geen ander mens ooit was nie (die brandende doringbos – Eks.3:2; op die berg Sinai – Eks.19, ens.). God het direk met Moses gepraat – dit is waarom sy gesig gestraal het toe hy van die Sinaiberg afgekom het, nadat hy veertig dae in die teenwoordigheid van God was (Eks.34:29)

       Moses was ook indirek die Israeliete se wetmaker, want bykans al die wette wat die volk moes onderhou, het Moses se “vingerafdrukke” op gehad. Moses was die Israeliete se groot historikus, want dit is hy wat alles rondom die volk van God se vroeë geskiedenis neergeskryf het – van Genesis tot Deuteronomium.

       Dit is egter nie net die Jode wat Moses besing nie, ook die Woord doen dit in bv. Num.12:3 ~ Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem. Met alles wat hy vermag het, was hy steeds ’n sagmoedige mens! Miskien is dit omdat hy terselfdertyd ’n voormalige moordenaar was en hy sy gebrokenheid en afhanklikheid voor God besef het.

       Nie generaal Moshe Dayan, of kol. Benjamin Netanyahu, of genl. Arieêl Sharon was groter bevryders van die Israelse volk as Moses nie – hy het die ganse Israelse volk uit Egipte na die Beloofde Land gelei – sekerlik een van die grootste optredes van geloof van alle tye, want hierdie nagenoeg veertigjaarlange gebeurtenis, het geloof en uiterste geloof van dag een af geverg en Moses was die man wie hierdie geloof aan die dag gelê het – geloof wat hy van God ontvang het, ten einde God se belofte aan Abraham ’n paar honderd jaar vantevore, in vervulling te bring.

3.     MOSES SE OUERS SE GELOOF:
       Kom ons begin egter by die begin van ons Skriflesing – v.23 praat van Moses se ouers se geloof. Wie was Moses se ouers? Hulle word aanvanklik met die begin van Moses se geskiedenis, nie spesifiek vermeld nie. Ons sien in Eks.6:17 dat hulle Amram en Jogébed (Amram se tante) geheet het. Amram was die agterkleinseun van Levi en sy en Jogébed se oudste kind was Miriam en die tweede was ’n seun, Aäron.

       Hulle woon in Egipte tydens die geboorte van Moses en op daardie tydstip het die Farao die Israeliete geweldig onderdruk, soveel so dat hy in Eks.1:15-16, die volgende opdrag gee ~ Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: 16“As julle ’n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit ’n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ’n dogter is, mag sy bly lewe.” Waarom het hy hierdie opdrag gegee? Net ’n paar verse vroeër – vv.8-10 ~ Toe ’n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, 9het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons? 10Kom ons bedink ’n plan teen hulle sodat hulle nie kan vermeerder nie. Anders kan dit gebeur dat as daar oorlog uitbreek, hulle dalk by ons vyand aansluit om teen ons te veg en ons land te oorweldig.” Die Israeliete het die Farao begin bedreig.

       Ons ken die verhaal van Moses in die biesiemandjie en hoe hy deur die dogter van die Farao gevind is en hoe Moses in die paleis groot geword het. Dit is ook interessant om in Eks.2:2 te lees, dat een van die redes waarom sy ma hom aanvanklik weggesteek het en later in die mandjie op die Nyl weggesteek het, was omdat hy so ’n mooi seuntjie was! Hierdie mooi seuntjie was egter nie net mooi nie, Stefanus het in Hand.7:20 gesê dat hy ook lieflik was in die oë van die Here (beide Afrikaanse vertalings is ongelukkig hier baie gebrekkig vertaal en meld nie hierdie feit nie – sien oorspronklike teks).

       Die feit dat Moses egter mooi was, was nie die primêre rede waarom Jogébed hom weggesteek het nie – kom ons kyk weer na v.23 ~ ...Omdat die ouers van Moses geglo het. Hulle het geglo - dit is die rede waarom hulle hom weggesteek het - omdat hulle geglo het. Wat het hulle geglo? Hulle het geglo dat Moses geoormerk was vir “groter dinge” en omdat Antieke Hebreeus baie moeilik is  om te vertaal, dink ek dat ’n mens meer moet lees in die uitdrukking dat Moses ’n baie mooi babatjie was, nl. dat sy ouers gesien het, of net geweet het, of nog nader aan die waarheid, gelei was deur die Heilige Gees om te weet dat hierdie babatjie deur die Here gebruik gaan word – dat hierdie babatjie die voortsetting was van die heilige lyn wat na Christus sou lei. Hulle het saam met hul voorvader Abraham vasgehou aan God se beloftes soos wat Jesus self in Joh.8:56 getuig het ~ Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms (dit is Jesus se koms) sou sien, en hy het dit gesien en was bly.

4.     MOSES SE GELOOF:
       Wat verder wonderlik is, is die feit dat die Here die voortreflikhede in die sondige Egiptiese koningshuis uitgebuit het, om sy dienskneg Moses by uitnemendheid op te lei om die volk te kon lei en wat meer is, sy eie moeder voed hom in die koningshuis op – ’n absolute wen-wen kombinasie (Eks.2:1-10)!

       Teen die ouderdom van veertig moes Moses ’n keuse uitoefen: óf hy word ’n volbloed Egiptenaar met bepaalde voordele, trouens geweldige voordele; óf hy skaar hom by sy volksgenote, die Israeliete en ons lees in v.24 ~ ...toe hy groot geword het, (het hy) geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter.

       ’n Mens sal geneig wees om te dink dat Moses met ’n eie-ma wat hom opgevoed het, nie eintlik ’n keuse gehad het, as om ’n Israeliet te wees nie – ja dit is so en dit het beslis ’n belangrike rol gespeel, maar v.24 begin deur te sê ~ Omdat Moses geglo het.... en ja, daarin het sy ma verseker ook ’n reuse rol gespeel, maar soos ons verlede week gesien het, is dit God wat geloof aan die mens skenk (o.a. Rom.12:3; Hebr.12:2a en 1 Tim.1:13-14) en hierdie geloof in die enige ware God, is deur God self aan Moses geskenk en omdat Moses geglo het, het hy gekies om na sy “wortels” terug te keer en te weier om die ...seun van die Farao genoem te word.

       In teenstelling met Josef, het Moses besluit dat dit beter sou wees om sy volk te dien deur nié in die koningshuis aan te bly nie en in geloof, die swaarkry en veragting van sy volk deur die Egiptenare, te verduur en in geloof en gehoorsaamheid God se roeping op te neem en die volk deur die wildernis na die Beloofde Land te lei. Josef was nie verkeerd en in sonde deurdat hy in Egipte aangebly het en al die weelde en status te geniet wat hy wel geniet het nie, maar die verskil tussen hom en Moses was dat hy deur God geroep was om onder daardie omstandighede God en sy volk te dien, terwyl Moses geroep was om onder heeltemal die teenoorgestelde omstandighede God te gehoorsaam en sy volk te dien.

       Ek het vroeër melding gemaak van die Jode se hoë aansien van Moses, maar wat egter wel waar is van Moses, is die feit dat hy ook gesien kan word as ’n tipe van Christus. Lukas skryf in Handelinge dat die Here Moses geroep het as redder van die volk (v.35). Moses beskou homself egter nie as redder van die volk nie, maar hy sien Christus as die komende Messias, wanneer hy in Deut.18:15 sê (en Lukas herhaal hierdie woorde ook in Hand.7:37 wanneer hy getuig oor Moses) – Moses het gesê ~ Die Here jou God sal ’n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. Daar is egter meer aan Moses wat ’n mens herinner aan Christus en wat hom daarom ook verder ’n tipe van Christus maak – sy lewe was net so bedreig as baba, soos Jesus se lewe – beide dreigemente het gekom van heidense regeerders; deur die gehoorsaamheid van beide Amram en Jogébed (wat Moses betref) en Josef en Maria (wat Jesus betref), is die lewens gespaar van beide Redders. ’n Verdere merkwaardige ooreenkoms is dat beide Moses en Jesus skuiling gevind het in Egipte (Matt.2:13).  Beide Moses en Jesus het gelowig groot geword en deur hul geloof, getrou gebly aan die Vader en gevolglik die uiteindelike bestemming van God se volk bepaal het – in Moses se geval die Israeliete, Abraham se fisiese nageslag en in Jesus se geval, Abraham se “geestelike nageslag”. Moses het sy volksgenote vanuit fisiese slawerny gelei na fisiese vryheid in die Beloofde Land; Jesus lei ons vanuit geestelike slawerny na geestelike vryheid in die geestelike Beloofde Land.

       Moses kon ook ewe maklik die rykdom en gemak en menslike sukses verkies het wat hy sou kon hê as hy gekies het om die seun van Farao se dogter genoem te wees, maar hy het geweet dat God hom geroep het en daarom was hy bereid om alles prys te gee t.w.v. sy gehoorsaamheid aan God en daarom word daar deur die Hebreërskrywer in v.25 gesê ~ Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê.

       Ons moet begryp dat Moses geweldige geloof nodig gehad het om die onmoontlike taak wat op hom gewag het, te volvoer (en die onmoontlike Israeliete), maar ook terwyl hy homself in die situasie bevind het. God het egter die nodige geloof aan hom geskenk. Moses het ook geweet dat die moeilikheid en swaarkry wat op hande was, hoegenaamd nie vergelykbaar is met die ewige heerlikheid wat wag op hulle wie hul geloof en hoop in Jesus Christus die Verlosser plaas nie. Paulus stel dit baie mooi in 2 Kor.4:17 wanneer hy sê ~ Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Moses het hierdie selfde ewigheidsperspektief gekoester.

       Iemand van geloof kies dus ’n pad van gehoorsaamheid en as daar swaarkry mee gepaard gaan, dan kies hy ook dit, maar hy doen dit nie uit dwang nie, maar met ’n gewillige en blymoedige hart. Ons as gelowiges moet bereid wees om Christus te volg te midde van en ten spyte van swaarkry.

       Waarom het Moses kans gesien om die skatte van Egipte prys te gee? V.26 ~ Die smaad ter wille van die Christus het hy ’n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het – ter wille van Christus, omdat hy na die beloning uitgesien het. Nie net het Moses dit gedoen t.w.v. die beloning nie, maar ook t.w.v. Christus en dit opsigself is belangrik, want ook hier word dit beklemtoon dat Moses ’n toekomsvisie en ewigheidsperspektief gehad het – Moses het vooruitgekyk na die komende Messias, soos wat ons ook voortdurend terug moet kyk na die “reeds-gekome” Messias. Moses was dus bereid om swaar te kry t.w.v. Christus en daardeur geïdentifiseer te word met sy Verlosser ~ Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie (Matt.10:38).

       Ons lees in v.27 van Moses wat Egipte verlaat het sonder dat hy bang was vir die woede van die koning. Ons weet dat hy Egipte by twee geleenthede verlaat het – die eerste keer was nadat hy die Egiptenaar vermoor het (hoor julle – vermoor! Sonde! Geloofshelde was nie volmaakte mense nie!). Die tweede keer was toe hy die volk uit Egipte gelei het. Die vraag is, na watter geleentheid verwys die Hebreërskrywer hier – die eerste of die tweede keer dat Moses, Egipte verlaat het?

       Hierdie eksodus van hom verwys na die tweede eksodus – die keer toe hy die volk uit Egipte gelei het. Toe hy egter die eerste keer weggegaan het, het dit gepaard gegaan met vrees, want hy het pas ’n Egiptenaar vermoor en hy vlug weg. Die vraag is of hy dan mensevrees gehad het? Het hy die Farao gevrees? Die antwoord hierop is, nee. Hy het nie die Farao of die regstelsel van Egipte “per se” (as sodanig) gevrees nie, maar hy het gevrees dat sy optrede tot gevolg kon hê dat hy nie meer as verlosser van sy volk kon optree nie, want sou hy gearresteer word en tereg gestel word, sou hy nie meer sy roeping, nl. om die volk uit Egipte te lei, kon volvoer nie – dit is waarvoor hy gevrees het, want v.27a sê baie duidelik dat ...hy Egipte verlaat (het) sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Selfs die feit dat Moses gevlug het, was vir hom ’n daad van geloof ~ ... Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien (v.27b).

       Dit is so dat Moses eers sowat 40 jaar later geroep was om die volk uit Egipte te lei, maar op hierdie stadium dat hy die eerste keer gevlug het, moet ons besef dat hy hoogs waarskynlik reeds ’n intieme en besondere (ten spyte van sy moorddadige optrede) verhouding met God gehad het en dat hy dalk alreeds ’n roeping t.o.v. sy volk in sy gees ervaar het – hoor bv. wat God self van Moses gesê het ~ Luister na wat Ek sê: As daar ’n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en praat Ek met hom in drome. 7Maar met my dienaar Moses is dit anders Hy is die betroubaarste in my diens. 8Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte van die Here. Waarom was julle dan nie bang om só met my dienaar Moses te praat nie?” (Num.12:6-8). Moses het ’n buitengewone verhouding met die onsienlike God gehad en was die onsienlike God vir hom ’n groter realiteit as die sienlike Farao.

       Moses se ballingskap het 40 jaar geduur, maar ook dit kon hy geduldig hanteer en verduur, want hy het geweet dat God in beheer van sy lewe is, maar veral omdat hy in God die onsienlike geglo het (1 Tim.1:17). Die feit dat hy gevlug het uit Egipte was dus nie gemotiveer deur mensevrees nie, maar juis sy geloof in God en die wete dat God, “’n plan vir sy lewe gehad het”.

       Na veertig jaar se ballingskap en die bevestiging van God se roeping op Moses se lewe (die vuurvlam uit die doringbos – Eks.3) keer Moses terug na Egipte en ervaar hy uiteindelik weerstand van sy eie mense  deurdat hulle hom as leier verwerp het – hoor wat sê hy in Eks.6:11 vir die Here ~ Die Israeliete luister nie eens na my nie, hoe sal die farao nog na my luister? Hy het nou beide die Farao en sy volksgenote wat teen hom is, maar hy vrees nie een van die twee nie en hy volhard deur te doen wat God vir hom gesê het om te doen.

       Hierdie gehoorsaamheid van Moses se geloof lei tot optrede – v.28 ~ Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie. Moses tree in geloof op. Hy neem God op Sy Woord en hy glo dat God die lewens sou spaar van die eersgeborenes van dié families wie die Paaslam se bloed aan hul huiskosyne geverf  het.

       Moses het egter ook in hierdie geval, weer vooruit gekyk na die Offerlam wie se bloed jare later op Golgota sou vloei t.w.v. die vergifnis van die sonde van diegene wie in Christus glo en daarom stel hy die Pasga in, daarom dat hy in Eks.12:14 sê ~ Hierdie dag moet vir julle ’n gedenkdag wees. Julle moet dit as ’n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit ’n vaste instelling wees wat hulle moet vier. Dit herinner ’n mens aan die instelling van die Nagmaal deur ons Here Jesus en die gereelde gebruik van die Nagmaal deur die vroeë kerk, nie waar nie (Luk.22:14-20; Hand.2:42; 20:7; 1 Kor.10:16)?

       Die instelling van die Pasga was dus nie vir Moses bloot net ’n stuk seremoniële optrede nie, maar ’n instelling wat voortgespruit het uit gehoorsaamheid aan God se opdrag, maar ook opregte geloof en vertroue in die belofte dat die doodsengel nie die Israeliete sou aanraak nie.
      
5.     DIE ISRAELIETE SE GELOOF:
Moses het na die instelling van die Pasga en die dood van die Egiptenare se eersgeborenes, die Israeliete uit Egipte gelei, maar hulle was skaars onder die dwingelandy van die Farao uit, toe sit sy weermag hulle in hulle strydwaens agterna. Die Israeliete word gestuit deur die Rooisee en die Egiptenare is aan die kom – vir hulle was dit nou tyd dat God Homself moet bewys as die God van die onmoontlike, want sonder Sy ingrepe was daar geen kans om die naderende soldate te ontduik nie – die volk het begin twyfel en vreesbevange geraak, maar dit was Moses wat hulle bemoedig en aanspoor om in God te glo, toe hy gesê het ~ Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. 14Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg (Eks.14:13-14) – weereens Moses se geloof, wat sy mede-Israeliete bemoedig, sodat ook hulle kon glo.

Moses het, soos ons nou net in vv.13-14 gesien het, hulle aangespreek en bemoedig en dan v.29 ~ Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het. Ongelukkig was dieselfde gelowige Israeliete se geloof later maar wankelrig en het almal wat uit Egipte getrek het, a.g.v. hul ongeloof, in die woestyn gesterf en derhalwe nie in die Beloofde Land ingegaan nie.

Hierdie gebeurtenis by die Rooi See is ’n wonderlike voorbeeld vir ons van hoe een persoon se geloof andere kan motiveer om ook te glo. Ons sien hierdie feit ook regdeur die kerkgeskiedenis met mense soos bv. Martin Luther, Calvyn en vele ander, wie se geloof duisende ander se geloof verander, versterk en gebou het. Ons moet dus nooit die krag en impak van geloof onderskat nie, ook nie die invloed van ons geloof op andere en andersom nie.

       Dit is interessant hoe ons parallelle kan trek tussen die Rooi See-gebeure en die doop van gelowiges. Vir die Israeliete was die Rooi See se water, simbool van geloof en redding, maar vir die ongelowige Egiptenare was dit simbool van dood. Dieselfde geld natuurlik vir Noag en die ongelowiges wat in die groot vloed omgekom het. Wat die doop betref, is die water teken van die gelowige se geloof en redding. Paulus vergelyk dan ook die Israeliete se deurgang deur die Rooi See met die doop ~ Broers, ek wil julle daaraan herinner dat ons voorvaders almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het. 2Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop (1 Kor.10:1).

6.     AFSLUITING:
       Wat beteken al hierdie feite rondom Moses se geloof vir ons vandag?

       Ons het vandag gesien en geleer dat geloof behels om God op Sy Woord te neem en uit te stap in vaste vertroue dat Hy getrou aan Sy Woord sal bly – geloof aanvaar dus God se beloftes (in Sy Woord) onvoorwaardelik. John MacArthur het op ’n keer gesê: “When we have nothing but His promise to rely on, His help is the nearest and His presence the dearest to those who believe.” 

       Moses was juis die mens wie hy was, omdat hy gekies het om op God te fokus en nie op die Farao nie en dit is presies waar ons ook moet wees – wanneer ons bang is vir die wêreld – bang is wat ander mense mag dink en sê van ons, kan ons nie God se seën en beskerming verwag nie en kan ons selfs Sy dissipline in ons lewe verwag, maar wanneer ons ons situasie aan Hom toevertrou en in Hom rus en getrou aan Hom bly, is die wonderlike belofte in Openb.2:10 ook op ons van toepassing ~ Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.

       Die les van geloof is dus gehoorsaamheid. Wanneer God praat, reageer die gelowige en tree hy op – hy doen wat God van hom verwag, anders bedrieg hy homself en daarom moet ons gereeld vir die Here vra om ons gehoorsaam te maak en te hou en ons moet mekaar aanmoedig om gehoorsaam te wees.

       Net soos wat Moses presies geweet het wat God se wil vir sy lewe was omdat God direk met hom gepraat het, weet ons ook wat God se wil vir ons lewe is, want ons het Sy Woord en ons moet dit net “hoor” (die Woord lees en bestudeer) en daarop reageer, deur te doen wat Hy van ons verwag.

       Die wêreld het niks om aan vas te hou nie – hulle kan nie die lewe met vaste vertroue binnetree nie, maar ons kan, want ons het die beloftes van God om op te staan – wat ’n wonderlike troos en bemoediging!

       Moses het die geloof wat hy nodig gehad het vir ’n menslik gesproke onmoontlike taak, van God ontvang – net so sal God altyd getrou wees, soos in die geval van Moses en ook aan ons geloof skenk wanneer ons dit nodig mag hê – of dit nou vir ’n bepaalde roeping is of om ’n terminale siekte te hanteer, of wat ook al. Sommige van ons word geroep om God onder beter omstandighede as andere te dien (dink aan werksomstandighede; dink aan luukshede, of gebrek), maar maak seker dat jy wel in die omstandighede verkeer waartoe God jou geroep het en maak seker dat jy tevrede en vergenoegd is met jou omstandighede – solank jy binne God se wil is, sál Hy aan jou die nodige geloof gee om jou bepaalde omstandighede te hanteer en te verduur (goed of sleg) – jy moet net seker maak dat jy binne Sy wil is, maar ook met die regte gesindheid en afhanklikheid, binne Sy wil is (goed of minder goed).

       As die paaslam se bloed die Israeliete se eersgeborenes kon beskerm, hoeveel te meer nie die bloed van die volmaakte Paaslam, Jesus Christus nie, want Sy bloed was nie teen ons deurkosyne gesprinkel nie, maar in ons siel! Chrysostom het gesê, “For even now the destroyer is still moving around in the depth of night; but let us be armed with Christ’s sacrifice, since God has brought us out from Egypt, from darkness and from idolatry.”  

       Is ons bereid om alles prys te gee t.w.v. ons gehoorsaamheid aan God?

       Kom sing met gelowige harte die pragtige lied wat Daniel Brink Towner (1850-1919) geskryf het en wat deur John Henry Sammins (1846-1919) getoonset is:
“TRUST & OBEY”
WHEN WE WALK  WITH THE LORD                                     
IN THE LIGHT OF HIS WORD,
WHAT A GLORY HE SHEDS ON OUR WAY!
WHILE WE DO HIS GOOD WILL HE ABIDES WITH US STILL,                         
AND WITH ALL WHO WILL TRUST AND OBEY!

Chorus
TRUST AND OBEY!  FOR THERE’S NO OTHER WAY                           
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO TRUST AND OBEY

NOT A SHADOW CAN RISE, NOT A CLOUD IN THE SKIES,               
BUT HIS SMILE  QUICKLY DRIVES IT AWAY;             
NOT A DOUBT NOR A FEAR NOT A SIGH NOR A TEAR,                       
CAN ABIDE WHILE WE TRUST AND OBEY!

Chorus
TRUST AND OBEY!  FOR THERE’S NO OTHER WAY                           
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO TRUST AND OBEY

NOT A BURDEN WE BEAR, NOT A SORROW WE SHARE,                 
BUT OUR TOIL  HE DOTH RICHLY REPAY:
NOT A GRIEF NOR A LOSS NOT A FROWN NOR A CROSS,               
BUT IS BLESSED IF WE TRUST AND OBEY!

Chorus
TRUST AND OBEY!  OR THERE’S NO OTHER WAY                           
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO TRUST AND OBEY

BUT WE NEVER CAN PROVE THE DELIGHTS OF HIS LOVE                                
UNTIL ALL ON THE ALTAR WE LAY; FOR THE FAVOUR HE SHOWS,                   
AND THE JOY HE BESTOWS,
ARE FOR THEM WHO WILL TRUST AND OBEY

Chorus
TRUST AND OBEY! FOR THERE’S NO OTHER WAY                          
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO TRUST AND OBEY
THEN IN FELLOWSHIP SWEET  WE WILL SIT AT HIS FEET,                          
OR WE’LL WALK BY HIS SIDE IN THE WAY;                                                 
WHAT HE SAYS WE WILL DO, WHERE HE SENDS WE WILL GO;                 
NEVER FEAR, ONLY TRUST AND OBEY!

Chorus
TRUST AND OBEY!  FOR THERE’S NO OTHER WAY                           

TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO TRUST AND OBEY

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 02 Februarie 2014

Sunday, January 26, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 26 (“Gunsgenote van God”)

1.     SKIRFLESING:
       Hebr.11:20-22 ~ Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms. 21Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun. 22Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.

2.     INLEIDING:
       Johannes de Koning (my voorganger) het op ’n keer in sy Blog gesê: ”’Ag, as my geloof maar net sterk was, dan sou dit darem wonderlik gewees het...as ek hoofpyn kry, dan bid ek net gou en voila...die hoofpyn is weg, as ek bang is vir môre se wiskunde toets , dan glo ek net, en ek kry tagtig persent, as ek reën wil hê dan bestel ek sommer by God presies soveel millimeter ek dink nodig is... Geloof gaan my beskerm teen alle gevare...’ Dis hoe baie mense dink oor geloof. Geloof is ’n towerstaffie om my lewe gemakliker en geriefliker te maak.” (http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.com/)

       Ons moet egter verstaan en daarmee stem Johannes de Koning ook saam, dat indien dit ons uitgangspunt is, mis ons die punt baie ver, trouens as dit ons uitgangspunt en omgaan met geloof is, is ons besig met ’n mensgesentreerde godsdiens en is ons nie besig met ’n Godgesentreerde teologie nie. Johannes gaan voort en sê dan o.a. ook dat God natuurlik ons gebede verhoor as dit gaan oor “onbelangrike” dinge soos bv. ’n hoofpyn, maar dit is nie die hoofsaak van geloof nie.

3.     DIE PATRIARGALE SEËN:
Ons het in ons Skriflesing gelees van Isak wat sy seuns geseën het, ens. en ons sal nou verder daarna kyk, maar ek wil net eers vlugtig enkele gedagtes t.w.v. agtergrond met julle deel oor die “Patriargale Seën” wat so belangrik in die Ou Testamentiese era was, daarom dat Rebekka en Jakob so angstig was dat Jakob sy pa se seën eerste moes ervaar. 

As ons na Gen.27:26-29 en 39-40 kyk, kry ons ’n beter prentjie van die belangrikheid van hierdie Patriargale seën ~ Isak het vir hom gesê: “Kom nader en soen my, my seun!” 27Hy het nader gekom en hom gesoen, en toe hy die reuk kry van die klere wat Jakob aanhet, het Isak hom geseën en gesê: “Kyk, die reuk van my seun is soos die veld se reuk, die veld wat deur die Here geseën is. 28God gee aan jou dou uit die hemel, die rykdom van die aarde: koring en wyn in oorvloed. 29Volke sal jou dien, nasies sal voor jou buig; oor jou familie sal jy heers, jou broers sal voor jou buig. Wie ’n vervloeking oor jou uitspreek, sal self vervloek wees, wie jou seën, sal geseën wees” (Gen.27:26-29). Hiermee saam dan ook vv.39-40 ~ ...Toe Esau daarna begin huil, 39sê sy pa Isak vir hom: “Jou woonplek sal ver van die aarde se rykdom af wees, en ook ver van die dou uit die hemel af. 40Jy sal van oorlog leef en jy sal jou broer dien, maar as jy jou kans afwag, sal jy sy juk van jou nek afgooi.”

’n Patriargale seën was nie bloot maar net ’n gebed wat die ou vader gebid het, waarna hy geglo het dat dit so sou wees nie. Ook was dit nie bloot maar net ’n wens wat die ou vader uitgespreek het nie – deur die loop van die Ou Testamentiese geskiedenis sien ons dat hierdie seën wat uitgespreek was, altyd net so vervul is. In die geval van Isak se seën hét Juda bv. later vir Israel regeer (Gen.49:9-10) en Jakob hét Isak se opvolger in die lyn van Abraham geword, al was die seën vir Esau bedoel. Isak se nageslag was die nageslag van Abraham wat gedeel het in God se belofte dat Abraham se nageslag in die Beloofde Land te ruste sou kom – en dit was so – hulle het die vettigheid van die land gesmaak – nié Esau se nageslag nie, ens. (Gen.15 en 27).

          Al het Jakob en sy seuns nie altyd daarin geslaag om dankbaar te wees vir God se guns nie, was God se liefde groot genoeg vir hulle, om Sy belofte van die Messias wat uit hul nageslag gebore sou word, gestand te doen en die Patriargale seën van hul voorgeslagte kan derhalwe nie té gering geag word nie.

          Die Woord is baie duidelik daaroor dat die Patriargale seën uiteindelik sy vervulling in Christus, die ware Seun van Abraham bereik het en in God se groot genade, het Hy hierdie seën uitgebrei, sodat ons as gelowiges vandag nog steeds daarby ingesluit is ~ En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God (Gal.3:29)..

4.     ISAK SE GELOOF:
       Die Hebreërskrywer help ons om juis te verstaan waaroor hierdie Patriargale seën, maar dan veral ook waaroor geloof werklik gaan en hy doen dit aan die hand van voorbeelde van geloofshelde, soos Isak en Jakob en Josef.

       ’n Verdere interessantheid wat ons in ons Skriflesing vandag sien, is die feit dat die skrywer van hierdie brief fokus op hierdie afstammelinge van die geloofsreus Abraham, se geloof aan die einde van hul lewe en dan spesifiek om seker te wees van die dinge waarop hulle hoop en om oortuig te wees van die dinge wat hulle nie kon sien nie (Hebr.11:1). Hulle het almal geglo dat die dood nie hulle geloof sal teleurstel nie en dat al God se beloftes in vervulling sál gaan.

       Ons sien in v.20 vir Isak – Isak ’n ou man wat aan die einde van sy lewe gekom het. Gewoonlik wanneer mense in hulle ou dag kom, dink hulle en tob hulle en praat hulle baie oor hulle vroeëre lewe – oor hulle kinderdae; oor hulle jongmensdae; oor die vroeë dae van hul huwelik met klein kindertjies ens., want daar is vir hulle geen vooruitsig op iets anders; iets beters na hul dood nie. Hulle klou aan hierdie lewe vas met alles wat hulle het en daarom beleef hulle hul lewens weer oor en oor in hul gedagtes en gesprekke met andere.

       Hierteenoor sê die bekende Matthew Henry, “Though the grace of faith is of universal use throughout the Christian’s life, yet it is especially so when we come to die. Faith has its great work to do at the very last, to help believers to finish well, to die to the Lord so as to honour Him, by patience, hope and joy so as to leave a witness behind them of the truth of God’s Word and the excellency of His ways.

       Isak stel vir ons as gelowiges presies hierdie voorbeeld waarvan Matthew Henry praat – ’n ander voorbeeld as dié van die wêreld – wat doen hy? Hy kyk vooruit en hy glo dat daar ’n toekoms is. Hoor net wat sê die Psalmis in Ps.116:15 (OAV) ~ Kosbaar is in die oë van die Here die dood van sy gunsgenote

       As ons net weer ons gedagtes kan verfris, sal ons onthou dat Isak, in sy ouderdom, mislei was deur sy vrou (Rebekka), deur Jakob te laat optree asof hy Esau was, sodat hy sy vader Isak se seën kon ontvang wat die oudste seun Esau moes ontvang het (Gen.27). Al het Rebekka hom mislei en al het Jakob gelieg, het Isak nie sy seën terug getrek nie, omdat hy aanvaar het dat die seën wat hy afgebid het op sy jonger seun, wel die wil van God was en daarom was sy seën bindend (Gen.27:33; Gen.28:1-4) en al het hy Esau ook later geseën, is die hoofsaak dat Isak geglo het in ’n toekoms en dat sy seën in die toekoms vervul sou word al sou dit nie deur sy eersgeborene wees nie.

       Die kultuurgebruik van destyds was dat die pa die eersgeborene sou seën en dat hy die primêre erfgenaam sou wees, maar God laat Hom nie in die spreekwoordelike en met groot piëteit gesê, menslike blik indruk nie – Hy het reeds die heilige lyn waaruit Christus gebore sou word, van Abraham af bepaal en dit sou deur Jakob loop en nié deur Isak se eersgebore Esau nie – net so sien ons ook heelwat later in die boek Rut, hoe dat God die eerste heiden (die Moabitiese vrou Rut) insluit in die heilige lyn wat na die Verlosser lei – daardeur het Hy natuurlik reeds die “deur oopgemaak” vir heidene (wat ons insluit) om gered te kan word. Al wou Isak dus sy oudste seun seën soos dit die gebruik was, laat God dit nie toe nie en deur Sy soewereine ingrepe wil Hy dit só, dat Jakob geseën word, want dit is die bloedlyn wat God gekies het.

       Philip Hughes stel dit soos volg: “The line of the promise is not the line of the flesh but the line of faith; the true heir is not the outward heir but the inward heir.” Paulus sê in Rom.2:28-29 ~ Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. 29Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God. Hierdie verse het ook ’n verdere implikasie, want indien ons “geestelike Jode” is op grond van wat Paulus hier in Romeine sê, dan is die woorde in Gal.3:29 net so van toepassing op ons en is ons ook deel van Abraham se geestelike nageslag (ons het netnou ook na die teksvers gekyk) ~ En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God. As ons deel is van Abraham se geestelike nageslag, dan is al God se beloftes aan Abraham ook waar van ons en is, o.a. die Beloofde Land ons erfenis.

       Om hierdie feit verder te motiveer, kan ons ook kyk na die verhaal van Saggeus (die hooftollenaar) wat tot bekering gekom het, nadat Jesus hom in die boom raak gesien het en by hom tuisgegaan het. Nadat Saggeus homself oorgegee het aan Jesus, het Jesus hierdie woorde gespreek ~ Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ’n kind van Abraham (Luk.19:9). Waarom sou Jesus vir Saggeus sê dat hy van daardie dag af ’n kind van Abraham is, want Saggeus was tog immers ’n Jood? Dit is omdat Saggeus as gelowige, van daardie dag af deel geword het van Abraham se geestelike nageslag.

       Terug na Isak. Wat was die kruks van hierdie seën en geloof van Isak? Sy vader Abraham het bepaalde beloftes van God ontvang, waaronder die belofte van ’n Verlosser – die Messias wat uit Abraham se nageslag gebore sou word, nl. Jesus Christus en Isak het onwrikbaar geglo dat hierdie beloftes van God deur die nageslag van Jakob vervul sou word – deur die bloedlyn van die “eersgeborene” – in hierdie geval die “eersgeseënde”.

       Ons moet onthou dat Isak in Hebreërs vermeld word as ’n geloofsheld en daarom kan ons aanvaar dat hy ook deur die Here beskou word as ’n  “gunsgenoot”, soos Ps.116 dit uitdruk. Waarom sê ek dat ons dit moet onthou? Omdat Isak, net soos ons, nie altyd ’n onbesproke lewe gelei het nie (ons het ’n vorige keer al gekyk hoe hy o.a. in Gerar oor sy vrou gelieg het en gesê het dat sy, sy suster is – Gen.26:6), net soos sy pa Abraham wat twee keer oor Sara gelieg het (Gen.12:13; 20:2). Hierdie geloofshelde was nie sonder sonde nie (dit gee natuurlik nie vir ons die vrypas om maar te sondig soos ons wil nie, inteendeel!) en net soos Abraham en na hom Isak en ook Jakob en Dawid en vele ander, gebuk gegaan het onder sonde, word ons ook voortdurend besoedel deur sonde en “onvolmaakte” lewens, maar soos ons so dikwels die Engelse uitdrukking gebruik het, “...but for the grace of God!”, het Isak ook genade in die oë van die Here gevind, omdat hy vooruit gekyk het na die komende Messias en die vrede wat Hy sou bring tussen Isak en sy God. Netso kyk ons terug na die Messias, Jesus Christus en omdat ons Jesus se woorde in Matt.20:28 (en ook talle ander Skrifgedeeltes) van harte glo, sal ons en is ons ook gunsgenote in die oë van die Vader ~  So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.

       Christus hét Sy lewe as losprys gegee vir alle sondaars en verloregaandes en dié wie in Hom glo word gunsgenote van God genoem. God laat steeds toe, ten spyte van Isak se beperkinge en onvolmaakte lewe, dat die Messias uit sy nageslag gebore sou word. Isak het geglo – onwrikbaar geglo en daarom het sy geloof as geregtigheid vir hom gedien.

5.     JAKOB SE GELOOF:
       Dieselfde beginsel wat gegeld het met Isak se seën, sien ons by Jakob se seën. Terwyl Jakob op sy sterfbed lê, bring Josef sy twee seuns, Efraim en Manasse na hul oupa, om die Patriargale seën in ooreenstemming met tradisie te ontvang.

       Manasse was die oudste van die twee, maar dit is opmerklik dat Gen.48:13, sy naam tweede noem, maar daar is ’n baie goeie rede daarvoor. Toe Josef se seuns by Jakob kom, is Manasse (die oudste) volgens gbruik, aan Jakob se regterhand geplaas – daardie hand waardeur die “hoofseën” aan die eersgeborene oorgedra is, terwyl die jonger Efraim aan die linkerkant van Jakob stelling ingeneem het. Iets baie interessants gebeur egter tydens hierdie geleentheid en weer kan ons God se soewereine ingrepe hier sien – Jakob kruis se hande, sodat sy regterhand op die kop van Efraim rus en sy linker op die oudste en seën hy m.a.w. eerste vir die tweede oudste, Efraim (Gen.48:14). Dan gaan Gen.48:20 voort ~ ...So het Jakob vir Efraim bo Manasse gestel.
      
       Waarom word Efraim bo Manasse gestel? Net soos in die geval van Isak, wat die tweede seun Jakob geseën het, het Jakob in sy oudag ook onwrikbaar geglo en geweet dat die Messias deur die bloedlyn van die “eersgeborene” – in hierdie geval die eerste geseënde, gebore sou word en gelei deur die Heilige Gees het hy geweet dat die eersgeborene in hierdie geval, nie deel is van die “heilige bloedlyn” waaruit die Messias gebore sou word nie en daarom in weerwil van die tradisie en o.l.v. die soewereine ingrepe van God, kruis hy sy hande en seën hy die tweede oudste, Efraim uit wie se nageslag Jesus Christus later gebore sou word.

       Jakob het nie alleen die “regte seun” geseën nie, maar hy het voortgegaan en presies vertel hoe elkeen van sy kleinseuns se lewe vorentoe sou verloop en hoe God se doel in en deur hul lewens verwerklik sou word (Gen.49). Jakob het nie meer lank oor gehad om te lewe nie, maar steeds kyk hy vooruit en was God vir hom ’n realiteit en God se beloftes het vir hom vas en seker gestaan – Jakob was ’n man van onwrikbare geloof, net soos sy pa Isak en sy oupa Abraham en soos wat die geval met sy seun Josef, die eerste geseënde die geval sou wees.

6.     JOSEF SE GELOOF:
       In v.22 van ons Skriflesing sien ons dat ook Josef aan die einde van sy lewe is en hy maak melding van die uittog van sy volksgenote uit Egipte en hy rig ’n bepaalde versoek tot hulle t.o.v. sy beendere na sy dood. Ons sien in v.22 dat hy so oortuig was dat die Israeliete sou terugkeer na die Beloofde Land, dat hy opdrag gee dat sy beendere saam met hulle terug sal gaan sodra hulle Egipte verlaat. Waarom rig hy hierdie versoek en op grond waarvan het hy geglo dat die Israeliete uiteindelik sou terugkeer na die Beloofde Land? Josef is as jong seun deur sy broers verkoop en het hy in Egipte groot geword; hy was ’n baie ryk en invloedryke man. Hy kon ’n grafkelder gekry het wat gelykstaande, of baie na aan die Farao s’n was. Hy was met ’n Egiptiese vrou getroud – hy het m.a.w. eintlik geen saak met die Beloofde Land meer gehad nie (my een skoondogter is ’n Amerikaanse burger, sy het hier in RSA groot geword; sy’s getroud met ’n Boerklong en sy het geen s’n om terug te keer VSA toe nie – en dit is ook presies wat ’n mens van Josef sou verwag).

       Waarom wou Josef ten minste net sy beendere in die Beloofde Land laat herbegrawe? Primêr op grond van sy geloof in God, wat met sy oupagrootjie Abraham ’n verbond aangegaan het, nl. dat Abraham se nageslag in die Beloofde Land sou bly en hy het vas geglo dat sy nageslag sou terug gaan en hy wou net in hierdie vervulling van God se belofte deel – al was dit dan ook net sy beendere wat daar begrawe sou word en eeue later – let wel, eeue later, ís sy beendere wel in die Beloofde Land herbegrawe (Eks.13:19; Jos.24:32).

       Hierdie gebeure toon aan ons dat Josef onwrikbaar geglo het in God se belofte, nl. dat die Messias uit sy nageslag gebore sou word en daarom die versoek aan Jakob, om ook sy seuns te seën.

7.     AFSLUITING:
       Soos die geval met Josef se voorgeslag, het ook Josef geleef en gesterf sonder om die vervulling van God se beloftes aan Abraham te kon sien, maar dit het hom nie sinies, of gevul
met allerlei vertwyfeling, of aarseling gelaat nie. Nee, Josef se geloof het ver vooruit gekyk – ver verby sy dood – wat God belowe het sál gebeur. Al hierdie ou patriarge het geleer om God te vertrou en Hom op Sy Woord te neem, wat meer is, hierdie manne se geloof het juis vooropgestaan, terwyl hulle op die rand van die graf gestaan het .

            Al drie hierdie geloofshelde het hul onwrikbare geloof in die aangesig van die dood gedemonstreer – ja, hul geloof was soms deur hul lewe wankelrig, maar dit was sterk en onwrikbaar voor hul dood, daarom dat mense sê dat die dood die lakmoestoets vir jou geloof is en daarom word dinge wat op iemand se sterfbed gesê word, ernstig opgeneem, omdat ’n sterwende nie sommer sal lieg nie, want in die skadu van die dood is daar nie meer tyd vir valsheid en voorgee nie, want so ’n sterwende weet dat hy op die drumpel van die ewigheid staan.

       Wat behels hierdie “Hebreërs 11-geloof” van ’n Abraham en Isak, Jakob en Josef?
·           Ons sien deur hierdie geloofshelde se lewe dat geloof, optrede uit oortuiging behels, m.a.w. dit wat ons glo wat in die Woord staan, word die norm vir ons lewe – ons leef daarvolgens.
·           Geloof is om in vertroue op te tree – vertroue dat indien my optrede in ooreenstemming met die Woord geskied, dit reg sal wees en dat God mét my in my optrede sal wees.
·           Geloof behels dat ons God se wil in ag sal neem en ons daarby sal berus.
·           Geloof hou bepaalde beloftes vir ons in, waaronder die ewige lewe – glo jy dit – glo jy dit regtig? Glo jy regtig dat ’n ewige lewe na hierdie aardse lewe op jou wag?
·           Geloof impliseer dat ons deel is van Abraham se “geestelike nageslag” en daarom het ons ook deel aan die beloftes wat God aan Abraham gemaak het t.o.v. die Beloofde Land (in ons geval, ’n geestelike Beloofde Land), asook God se belofte aan Abraham en sy nageslag van die komende Messias (in ons geval, die reeds gekome en opgestane Messias, Jesus Christus) – glo jy dít régtig?

       Abraham en Isak en Jakob en Josef het nie die koms van die Messias beleef nie, maar hulle het steeds onwrikbaar vasgehou aan God se beloftes – sal ons steeds vashou daaraan dat Christus waarlik gaan terugkom, al is dit nie in ons tyd nie?
·           Die ou aartsvaders het God se Woord geglo – geloof impliseer dat ons God op Sy Woord sal neem – doen jy dit? Doen jy dit altyd?

       Geliefdes, glo jy en ek ook onvoorwaardelik in God en op Sy Woord? Waar gaan ons staan t.o.v. ons geloof as ons op die rand van die dood staan? Glo jy dat jy ook ’n gunsgenoot van God is soos Abraham en sy nageslag?
·           Laastens moet ons verstaan en dit is baie belangrik, nl. dat God soewerein is en in beheer van ons lewe is, maar ook van ons geloof – ons kan nie ons geloof bloot net opklits nie – dink daaroor. As ons dink aan Abraham – hy het uit ’n totaal heidense omgewing gekom en hyself was ook ’n heiden, maar God het hom soewerein uitgekies en met hom gepraat en geloof aan hom geskenk ten einde in God te kon glo.

       Verskeie Skrifgedeeltes is duidelik daaroor, nl. dat geloof ’n geskenk van God is en nie iets wat onsself kan bewerkstellig nie – o.a. Rom.12:3 ~ Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming (en dan hierdie woorde) met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. Hebr.12:2a ~ ...die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof; 1 Tim.1:13-14 ~ ...al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. 14Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.


       Laat ons daarom die Here dank vir die gawe van geloof, maar Hom terselfdertyd vra om ons geloof in stand te hou en ons in geloof te laat groei.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 26 Januarie 2014