Thursday, August 12, 2010

Boodskap deur Kobus van der Walt (08 Augustus 2010)

Geduld en God se Doel met ons Lewe [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:

Ons het verlede Sondagaand gepraat oor die feit dat baie gelowiges getrou en in geloof vir hul kinders se bekering bid en dat baie van hulle nooit die vrug van daardie gebede ervaar nie, omdat van hierdie kinders eers ná hulle dood tot bekering kom.

Daar is baie soortgelyke voorbeelde waarvan ons al gehoor het – voorbeelde van gelowiges wat allerlei vorme van toetse en beproewing in hul lewe ervaar het en omdat hulle getrou op die Here gewag het, het hulle dan ook uiteindelik God se vrug op hul geloof en geduld ervaar.

Een so ’n verhaal is dié van ’n man met die naam Samba. Op ’n dag in 1939 het Samba tot bekering gekom onder die bediening van ’n Ierse sendeling genaamd Charles Bennington, wat in Bo-Volta onder die Birifor-stam gewerk het. Samba was die enigste bekeerling onder die stamlede en het geweldige vervolging ervaar. Hy het egter een brandende passie gehad en dit was dat die Here vir Hom iemand sou stuur om hom te leer, sodat hy eerstens meer van die Evangelie kon leer, maar ook kon leer hoe om die Evangelie onder sy stamlede te verkondig. Sestien jaar later het ’n ander sendeling by name Ian Rees op antwoord van Samba se gebed in die stat opgedaag waar Samba gebly het. Later sou Rees uitvind, dat hy sy roeping na Bo-Volta gedurende dieselfde tyd gekry het, toe Samba vir die Here begin vra het vir iemand om hom te kom leer. Vir sestien jaar het Samba geduldig gebid en gewag op die Here!

Ons vind ook talle soortgelyke verhale van gebed en geduld, in die Woord van God. Een so ’n verhaal is bv. dié van Josef in Gen.37-50 – kom ons lees daarvan en ons gaan na verskeie Skrifgedeeltes kyk.

2. SKRIFLESING:

Gen.37:1-28 ~ Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het. 2 Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob. Josef was nog jonk, sewentien, toe hy kleinvee opgepas het saam met sy broers, die seuns van Bilha en Silpa, sy pa se vrouens. Josef het slegte stories oor sy broers by hulle pa aangedra. 3 Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak. 4 Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle ’n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie. 5 Op ’n keer het Josef gedroom en dit vir sy broers vertel. Daarna was hulle afkeer van hom nog groter. 6 Hy het vir hulle gesê: “Luister na die droom wat ek gehad het. Ons was op die land besig om gerwe te bind 7 en skielik gaan staan my gerf regop en julle gerwe gaan staan daar rondom en hulle buig voor myne.” 8 Toe sê sy broers vir hom: “Jy verbeel jou jy sal oor ons koning word. Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?” Oor sy drome en sy praatjies het hulle ’n nog groter afkeer van hom gekry. 9 Hy het ook nog ’n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.” 10 Toe hy dit vir sy pa en sy broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir ’n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?” 11 Sy broers was afgunstig op hom, en sy pa het aan die droom bly dink. 12 Josef se broers het hulle pa se kleinvee gaan oppas in Sigem. 13 Toe sê Israel vir Josef: “Kyk, jou broers pas die kleinvee op in Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.” Josef het geantwoord: “Goed, Pa!” 14 Toe sê Israel vir hom: “Gaan kyk of alles nog reg is by jou broers en met die kleinvee en kom vertel my alles.” Israel het hom van die laagte by Hebron af gestuur na Sigem toe. 15 Hy het daar in die veld rondgesoek, en toe kom ’n man by hom en dié vra vir hom: “Wat soek jy?” 16 Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. Kan jy my dalk sê waar hulle die kleinvee oppas?” 17 Toe sê die man: “Hulle het van hier af versit. Ek het gehoor hulle sê hulle wil na Dotan toe gaan.” Josef is toe agter sy broers aan en hy het hulle by Dotan gekry. 18 Hulle het hom al van ver af gesien en voor hy by hulle gekom het, het hulle ooreengekom om hom dood te maak. 19 Hulle het naamlik vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom die ou dromer aan. 20 Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n put. Ons kan sê ’n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.” 21 Ruben het hulle hoor praat en omdat hy vir Josef wou red, het Ruben gesê: “Nee, ons moet hom nie doodmaak nie. 22 Moenie moord pleeg nie. Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld. Moenie sy lewe neem nie.” Ruben het dit gesê sodat hy vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon terugstuur. 23 Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, 24 en vat hom en gooi hom in die put. Dit was ’n droë put, sonder water. 25 Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar ’n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai. 26 Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou? 27 Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.” Juda se broers het na hom geluister, 28 en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat.

Gen.39:1-4 ~ Josef is na Egipte toe gebring. Potifar, ’n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, ’n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat hom Egipte toe gevat het. 2 Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly. 3 Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag, 4 was Potifar hom goedgesind. Hy het Potifar se persoonlike slaaf geword en Potifar het hom aangestel oor sy hele huishouding, en al sy besittings is onder Josef se sorg geplaas.

Gen.42:1-3 ~ Toe Jakob verneem dat daar graan in Egipte is, sê hy vir sy seuns: “Waarom sit julle vir mekaar en kyk?” 2 Hy het verder vir hulle gesê: “Ek het gehoor daar is graan in Egipte. Gaan soontoe en koop daar vir ons koring dat ons aan die lewe kan bly, anders sterf ons.” 3 Tien broers van Josef is toe weg na Egipte toe om koring te gaan koop.

Gen.42:6 ~ Josef was in beheer van Egipte en hy het self die graan aan die mense verkoop. Sy broers het dus na hom toe gegaan en diep voor hom gebuig.

Jak.5:7-11 ~ Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. 8 Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. 9 Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur. 10 Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld. 11 Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.

3. GEDULD:

Ek wil graag vanoggend met julle deel oor geduld en God se doel en wil in ons lewe. Om ongeduldig te wees is ’n vorm van ongeloof. Dit is wat ons begin ervaar wanneer ons twyfel oor die wysheid van God se tydsberekening of God se leiding wanneer ons daarom vra en Hy anders lei as wat ons dit graag sou wou hê. Die teenoorgestelde van ongeduld is egter ’n volwasse gewilligheid om geduldig op God te wag en Sy tydsberekening en uitkoms een honderd persent te aanvaar en jou daaraan te onderwerp. Die sleutel is dus geloof in die genade wat God iewers in die toekoms en wel op Sy tyd, oor ons gaan uitstort – al is dit ook eers ná ons dood.

Geduld is dus die vermoë om geduldig te wag sonder om te murmureer en ontnugter te raak. Sulke geduld is geloof – of sal ons sê: Geloof is gelykstaande aan geduld. John Piper praat van “our hope in future grace”. Hierdie geduld is ook niks anders as ’n innerlike krag waaroor ons moet beskik. Dit is dan ook presies hierdie innerlike krag en hoop op toekomstige genade wat die Apostels gedra het in tye van vervolging en swaarkry – dink aan Paulus se woorde in 2Kor.4:16-18 ~ Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17 Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. Die apostels het oor ’n innerlike krag van geduld beskik.

Ons moet egter in gedagte hou, dat hierdie geduld en geloof en innerlike krag net van God kom – ons kan dit nie in onsself opklits nie. Dit is presies ook waarvoor Paulus gevra het, toe hy vir die gemeente in Kolosse gebid en gesê het ~ Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard (Kol.1:11). As ons dit in gedagte hou kan ons ook die een vrug van die Gees nl. geduld, beter verstaan (Gal.5:22). Ek het vir baie jare gedink dat hierdie geduld wat ’n vrug van die Gees is, verwys na geduld wat ek aan die dag moet lê in troebel verhoudings met ander mense – dit sekerlik ook ja, maar dit gaan eerder oor hierdie geduld waarvoor Paulus vra wanneer hy vir die gemeente in Kolosse bid – geduld om op God te wag in die uitwerking van Sy doel met ons lewe.

Ons moet leer om geloof in God se krag en wysheid te hê en dat Hy ons as Sy kinders wil seën. Hierdie beloftes van seën vir God se kinders, vind ons op verskeie plekke in Sy Woord. So kan ons bv. na 2Kron.16:9 kyk ~ Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Jes.64:4 ~ Van ouds af het niemand so iets gehoor nie, het niemand so iets verneem nie, het geen oog ’n god gesien wat vir dié wat op hom vertrou, doen wat U doen nie. Ons moet leer om God te vertrou hiervoor en dat ons geduldig moet wag op die vervulling van hierdie beloftes en enige ander versoek wat ons volgens God se wil van Hom gevra het.

Ons het netnou gelees van Josef en een van die belangrikste lesse wat ons moet leer uit die verhaal van Josef, is dat ons geloof in die soewereine God moet hê. Wanneer ons Josef se verhaal lees kan ons maklik dink dat sy lewe buite beheer was. Hy word in ’n put gegooi en vir dood agtergelaat. Hy word as slaaf verkoop en word weggevoer na Egipte. Hy beland in die tronk nadat die Farao se vrou (Potifar) hom valslik beskuldig van teistering en so kan ons aangaan. Maar, aan die begin van Gen.37 (nog voor hy weggevoer word as slaaf) openbaar God Homself aan Josef in ’n paar drome en sien Josef o.a. dat sy broers nog voor hom gaan kniel. Josef het hierdie drome aan sy familie vertel en waarskynlik het hierdie drome sy broers se haat teenoor hom aangeblaas.

Hierdie drome het egter van God gekom en alhoewel God nie detail aan Josef gegee het oor hoe alles gaan verloop nie, het hierdie beloftes vir Josef uitgestaan soos bakenligte vir ’n vliegtuig wat inkom om te land. En Josef het hieraan vasgehou regdeur sy lewe – van die oomblik dat hy in die put gegooi is en regdeur sy beproewing in Egipte.

Aan die einde van die verhaal kyk Josef terug en gee hy eer aan God, omdat hy toe kon sien dat die soewereine God al die tyd met hom was en alles ten goede laat meewerk het ~ Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het (Gen.50:20). Trouens, Josef het nie net gesien dat sy broers voor hom sou kniel nie, maar dat God selfs nog ’n groter plan gehad het met sy lewe in Egipte, nl. dat hy lewe (in die vorm van kos) aan sy familie kon skenk, wat gebuk gegaan het onder hongersnood en ’n naderende hongerdood.

Daar was egter nog ’n doel met Josef se beproewing waarvan hy waarskynlik eers ná sy dood van kennis geneem het en dit is dat hy as losser vir sy familie opgetree het en dit het van hom ’n tipe van Christus gemaak, want dit was ’n heerlike en duidelike heenwysing na Jesus die Christus wat eeue later sou kom om as Verlosser aan die kruis op Golgota te sterf ten einde “sy broers” (elkeen wat deur God uitverkies is) te verlos van ’n ewige, geestelike dood.

Josef het vasgehou aan God se beloftes en nou na al sy beproewing en swaarkry kan hy sien dat God hom nooit alleen gelaat het nie, maar dat God die heeltyd, wonderlik in beheer was en selfs die swaarste en slegste momente van Josef se lewe gebruik het, sodat God hom op die ou einde kon seën en dat alles ten goede en tot eer van God, kon uitwerk.

Josef se lewenspad het alles behalwe ’n reguit en sorgvrye roete geneem (sy lewenspad kon nie met ’n tolpad vergelyk word nie, maar eerder met die Sanipas), maar dit maak nie saak hoe sleg dit met ons gaan, of hoe graag ons ook al bepaalde omstandighede dalk anders wil hê nie (die bekering van ’n verlore seun dalk?). Die les wat ons uit Josef se lewe moet neem, is dat ons deurentyd moet vashou aan God se beloftes in Sy Woord en glo dat God Sy soewereine wil ten uitvoer sál bring, ten spyte van oponthoude, of oënskynlike doodloopstrate, of teenstand, of geleenthede waar ons planne in die wiele gery word,. Die sleutel is geduld.

Ons kyk so dikwels net vas teen die eindpunt, of einddoel van ons gebed en vergeet ons van Josef se verhaal – Voor ons “eerste minister van Egipte kan word”, of voor God se beloftes vir en Sy doel met ons lewe in vervulling kan kom, moet of kan ons ook eers deur ’n “put en ’n Egipte en vals beskuldigings en die tronk” gaan. Ons moet eerder in geloof en met blymoedigheid deur hierdie ander “putte en tronke” in ons lewe gaan en sodoende “saamwerk” met God, ten einde in oorwinning en in blymoedigheid aan die einde te kom en God se wil in vervulling sien kom. So dikwels sien ons die einddoel en vergeet ons baie gou daarvan en staar ons, ons blind teen die “putte en tronke in ons lewe.”

Ons het voorverlede week gesien hoe dat God in Sy soewereine genade en op ’n tyd wat die Israeliete dit glad nie verwag het nie, hulle terug geneem het na hul Beloofde Land, nadat God, menslik gesproke, uit die bloute vir koning Peres, deur Sy Gees aangevuur het om ’n Tempel vir God in Juda te laat bou. Die belofte hieroor is reeds vroeër deur die profeet Jeremia gemaak (Jer.25). Die einddoel was dus die terugkeer na Juda en die herbou van die Tempel, maar tussen Jeremia se profesie en die realisering van hierdie profesie het die volk swaar gekry terwyl hulle in ballingskap verkeer het en in die tussentyd het hulle glad nie in geloof en met blymoedigheid hul lot aanvaar en “saam met God gewerk” terwyl hulle die einddoel (die profesie van Jeremia) in gedagte gehou het nie.

U ken die verhaal van Charles Simeon wat predikant was in die Church of Engeland in Cambridge tussen 1782 en 1836. Hy was teen die wil van die lidmate deur ’n biskop as predikant in hierdie gemeente aangestel – nie omdat Simeon ’n swak prediker was nie, maar omdat hy ’n Evangeliese prediker was – hy het in die Woord geglo en het mense opgeroep tot bekering en heilige lewens en ook wêreld evangelisasie. Vir twaalf jaar het lidmate hul sitplekke toegesluit en nie kerk toe gekom nie (destyds het mense hul sitplekke gekoop en daar was deurtjies voor die ry sitplekke wat aan hulle behoort het). Simeon het die eerste twaalf jaar van sy bediening dus gebuk gegaan onder fel vervolging en teenstand. Simeon het egter voortgegaan en getrou en met groot geduld die Woord Sondag na Sondag verkondig aan ’n handjie vol mense wat in die rye gestaan en luister het. Dit word ook vertel dat van die lidmate wat sy dienste geboikot het, hom met eiers gegooi het as hy na die erediens uit die kerk gestap het! Hoe het hy dit reggekry om te volhard en soveel geduld aan die dag te lê? Simeon het die einddoel in gedagte gehou en “saam met God gewerk”, deurdat hy gedurende hierdie twaalf jaar die Woord getrou verkondig het aan dié wat wou hoor. Hoor wat sê hy van daardie tyd in sy lewe: “In this state of things I saw no remedy but faith and patience (let op hoe dat hy geloof en geduld hier met mekaar verbind). The passage of Scripture that subdued and controlled my mind was this, ‘The servant of the Lord must not strive.’ It was painful indeed to see the church, with the exception of the aisles, almost forsaken; but I thought that if God would only give a double blessing to the congregation that did attend, there would on the whole be as much good done as if the congregation were doubled and the blessing limited to only half the amount. This comforted me many, many times, when without such reflection, I should have sunk under my burden”.

Waar het Simeon die versekering gekry dat indien hy die weg van geduld navolg, daar ’n seën op sy werk vir hom wag en dat dit sou vergoed vir al die frustrasie wat hy op daardie stadium (vir 12 jaar) ervaar het? Hy het dit uit die Woord van God gekry – uit gedeeltes soos bv. Jes.30:18 wat sê ~ Welgeluksalig (of geseënd) (is) almal wat op Hom wag! (O.A.V.). Die rede waarom Simeon so kon optree, was omdat hy homself daarin geskool het om die beloftes in die Woord sy eie te maak en daarvolgens te lewe. Hy het geleer om die Swaard van die Gees te gebruik om ook ongeloof en ongeduld en pyn en frustrasie te beveg, maar hy het sy werk gedoen soos wat die Here dit van hom verwag het en vir 12 jaar geduldig gewag op die Here om Sy doel met die gemeente en sy persoonlike bediening aan die Here te bereik – hy het nie moed opgegee nie. Saam met die Psalmis het hy gesê ~ Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord (Ps.130:5). En Klaag.3:25-26 ~ Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; 26 dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.

4. GOD SE TYD EN SY WERKSWYSE:

Ons moet altyd in gedagte hou dat God se tyd, nie ons tyd is nie. Wanneer die uitkoms van ons gebede en visie nie gou genoeg vervul word nie, dink ons dat God ons óf nie gehoor het nie, óf dat hy nie betrokke is nie, óf die wyse waarop Hy te werk gaan is nie vir ons die regte manier nie. Ons moet egter moed hou en nie alleen voel nie, want keer op keer hoor ons in die Woord, uitroepe soos dié in Ps.13:2 ~ Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?, of Ps.79:5 nl. ~ Hoe lank sal dit nog aanhou, Here?

Iemand het eenkeer gesê dat ons baie dikwels wil hê dat God volgens ’n horlosie moet werk, terwyl Hy besluit het om volgens ’n kalender te werk. Vir Simeon het dit 12 jaar geneem. Abraham het in Gen.15 ’n belofte van ’n nageslag ontvang en dit het nagenoeg 25 jaar geneem voor Isak uiteindelik vir hom en Sara gebore is. Abraham het al moed opgegee, want tussen die belofte en die geboorte was daar baie “stil-jare” aan God se kant.

Ons moet rekening hou met God se tydsberekening, maar ons moet egter nog iets in gedagte hou en dit is dat God op Sý manier werk en nié volgens ons vooropgestelde idees en werkwyses nie. Josef het geweet dat sy broers in die toekoms erkenning aan hom sou gee en voor sou hom buig, maar hy het nie in sy wildste drome kon dink dat dit so lank sou neem voor dit gebeur nie en nog minder sou hy kon dink dat hy die pad só sou moes loop soos dié waarop die Here God hom gelei het – deur ’n put en ’n tronk na Egipte toe. God se tyd en God se werkswyse is nie ons tyd en ons werkswyse nie.

5. AFSLUITING:

Ons moet besef en ook altyd in gedagte hou, dat God geen verduideliking aan ons verskuldig is t.o.v. hoe lank Hy neem om Sy doel met ons lewens te bereik nie en ook is Hy geen verduideliking aan ons verskuldig oor hoe Hy te werk gaan om hierdie doel of doelwitte te bereik nie.

Mag ons die Hebreërskrywer se woorde in Hebr.6:12 en 15 ons eie maak en daaraan vashou ~ Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.  15 En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is.

God die Vader het Sy Seun Jesus Christus geroep om, in die oë van die mensdom, ’n oënskynlike rampspoedige sending na die wêreld te onderneem. Jesus het Sy dissipels geroep net om Hom ’n paar jaar later aan ’n kruis te sien sterf. Jesus se ganse sending en aardse lewe het vanuit die mens se oogpunt na ’n mislukking gelyk, maar God se doel met Jesus se sending was nié die mens se doel nie. Die Jode wou ’n aardse koning gehad het om hulle te verlos van die Romeinse onderdrukking, maar God het ’n gans ander doel in gedagte gehad – Hy wou Sy verlore, maar uitverkore kinders kom red deur Sy Seun as volmaakte offerande te stuur en sodoende versoening vir ons te bewerkstellig.

Die toets wat vir ons as gelowiges aangelê word, is om te glo dat God presies weet wat Sy doel met ons lewens is en dat ons derhalwe geduldig sal wag op die uitkoms van hierdie betrokkenheid van Hom by ons lewens – al vind die vervulling hiervan ook eers na ons dood plaas. Ons moet egter net onthou dat geduld nie ’n passiewe “agteroor sit” is nie, maar volgehoue en geduldige vertroue, gebed, “samewerking met God” en om te doen waartoe ons geroep is.

Afsluitingseën:

Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is ’n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou. 19 Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor (Jes.30:18-19).



[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 08 Augustus 2010

Monday, August 2, 2010

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 01 Augustus 2010

Openbaring Ontsluit - 23 [1]

(“Die Oop Boekie”)

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:

Openb. 10 is net soos Openb.7, ’n kernhoofstuk in die profesie van Openbaring Die oordele wat in Openbaring beskryf word, begin in hoofstuk 6, met die opening van die eerste ses seëls. Openb.7 vorm iets van ’n tussenpouse in afwagting op die opening van die sewende seël. Die sewende seël was in Openb.8:1 oopgebreek, waartydens doodse stilte vir ’n halfuur geduur het.

Op dieselfde wyse het ons in Openb.8:6-9:21 gelees van die eerste ses trompette, daarom kan ons verwag om die geskal van die sewende trompet hier in Openb.10 te hoor, maar ook hier sal die trompet steeds stil wees, want ons vind in Openb.10 weer ’n tussenpouse, soos in Openb.7 en ons sal die sewende trompet eers in Openb.11 hoor. Na die sewende trompet sal ons van die sewe bakke van oordeel lees, maar tussen hierdie sewende trompet en die bakke, sien Johannes sewe donderslae-oordele, maar hy word verbied om meer besonderhede daaroor weer te gee.

Openb.10 is verder belangrik, omdat dit ons by die einde bring van die fokus wat geval het op die verwoesting van die stad Jerusalem. Van Openb.11 af en verder, val die primêre fokus meer op die verwoesting van die Tempel, alhoewel daar van tyd tot tyd tog na die val van die stad verwys word, maar dit is nie meer die primêre fokus nie.

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

· Openb.10:1 ~ Toe het ek ’n ander engel, ’n sterke, uit die hemel uit sien afkom. Hy het ’n wolk om hom gehad en ’n reënboog bokant sy kop. Sy gesig was soos die son en sy bene soos vuurpilare.  Die engel word hier in groot detail beskryf.

Die Engel wat hier beskryf word is Jesus Christus en ek sê dit omdat ons ’n soortgelyke beskrywing in Openb.1:12-16 vind waar die gedeelte ’n onteenseglike beskrywing van Christus is ~ Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien 13 en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het ’n lang kleed aangehad en ’n goue band om sy bors gedra. 14 Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. 15 Sy voete was soos geelkoper wat in ’n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van ’n groot watermassa. 16 In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en ’n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn.

Die stelling dat hier van Jesus Christus gepraat word en dat hierdie ’n beskrywing van Hom is, word ondersteun deur ander Skrifgedeeltes: In Openb.1:14 word gesê dat Jesus se oë soos vuur gevlam het. In Openb.10 word gesê dat die Magtige Engel se gesig soos die son is en Sy bene is soos vuurpilare en dat Hy ’n reënboog oor Sy kop gehad. Ook word Jesus se voete vergelyk met geelkoper wat in ’n smeltoond gloei. Openb.4:3 ~ Om die troon was daar ’n reënboog (sien Eseg.1:27-28). In Openb.10 word Hy beskryf as die magtige Engel. Openb.1:7 sê dat Jesus op die wolke gaan kom. In kort sien ons dus dat beide Openb.1 en Openb.10 na Jesus Christus verwys en nie maar net na ’n engel nie. ’n Beswaar hierteen is dat daar nêrens anders in die Nuwe Testament van Jesus as engel gepraat word nie, maar daar word telkens in die Ou Testament verwys na Jesus as die “Engel van die Here” (Gen.16:7-13; 22:15-18;Eks.3:1-4; ens.).

· Openb.10:2 ~ 2 In sy hand het hy ’n oop boekie gehad. Hy het toe met sy regtervoet op die see en met sy linkervoet op die land gaan staan. Die eerste keer dat Openbaring praat oor ’n “boek” was in Openb.5:1-9. Daar het Johannes geween, omdat niemand gevind kon word wat waardig genoeg was om die boek te kon lees nie. Maar dan het die Lam van God egter gekom en Hy het die sewe seëls kom breek, wat geweldige oordele oor Jerusalem bloot gelê het. Indien ons konsekwent in ons interpretasie met Openbaring wil wees, moet ons aanvaar dat die twee boeke waarvan daar in Openb.5 en Openb.10 gepraat word, een en dieselfde boek is. Die enigste verskil is egter dat daar nou gepraat word van ’n “oop boekie”. Die vraag is of dit nou werklik betekenisvol is of veronderstel is om te wees? Waarom is hierdie boek in hierdie hoofstuk “klein”? Die waarskynlikste verklaring hiervoor, is dat die meeste van die oordele oor Jerusalem reeds ontsluit en openbaar gemaak is. Die sewe seëls is gebreek en ses van die sewe trompette het reeds geblaas en daarom is dit nou ’n “boekie”, hoewel dit steeds dieselfde boek is. Die res van die boekie handel oor die verbond, wat ingestel is, maar wat eers wettig van krag sal word met die vernietiging van die Tempel en die Judaïstiese aanbiddingsisteem.

Toe die Engel met die boekie in Sy hand, vanuit die hemel neergedaal het, het Hy met Sy regtervoet op die see gaan staan en met Sy linkervoet op die land. Ons het al vantevore gesien dat die see en die land die ganse bewoonde aarde verteenwoordig. Dit is egter ook moontlik dat die verwysing hier in Openb.10 na die land, ’n verwysing na Israel is (soos wat die geval al meer male in Openbaring was), terwyl die see ’n moontlike verwysing na die heidennasies is (Openb.17:5). Die punt wat hier gemaak word is dat die Magtige Engel (Christus), in beheer is van alles wat op land en op die see gebeur. Of anders gestel ~ Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt.28:18).

Die beeld van Christus as soewereine God was betekenisvol op daardie stadium van die Wêreldgeskiedenis, want Hy moet en sal gesien word as soewerein oor alle volke – ook sal hulle (Israel) wat Hom verwerp het dit sien wanneer die Tempel en Jerusalem verwoes word. Dit sal dus duidelik word dat Hy Heerser en finale Gesag oor alle mense en volke is.

In teenstelling met die Ou Testamentiese verbond, sluit Christus se Nuwe Verbond alle mense in (gekwalifiseerd) – beide Jood en heiden. Openbaring gaan dan ook oor die Groot Opdrag, want dit is dan ook een rede (indien nie die belangrikste) waarom ons hier op aarde gehou word. Voor die Groot Opdrag egter van stapel gestuur kan word, moet die Ou Verbond eers verwyder word.

Christus sê in Openb.1:8 vir Johannes ~ Ek is die Alfa en die Omega, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige en dan gaan Hy voort in v.11 en sê vir Johannes ~ Skrywe wat jy sien in ’n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.

· Openb.10:3-4 ~ En (die engel het) met ’n harde stem uitgeroep soos ’n leeu wat brul. Toe hy uitroep, het sewe donderslae geantwoord. 4 En toe die sewe donderslae praat, wou ek dit opskrywe, maar ek het ’n stem uit die hemel hoor sê: “Hou geheim wat die sewe donderslae gesê het; moet dit nie opskrywe nie.”  Die Leeu van die stam van Juda het nou die oordele oor ’n verbond verbrekende volk “uitgebrul”! Tesame met die “Leeu” se gebrul word sewe donderslae ook gehoor. Soos ook reeds vantevore gesien, word die aankondiging van God se oordele dikwels in profetiese literatuur, aangekondig deur die gebrul van ’n leeu.

Donderslae word in Openbaring gebruik om God se soewereine oordele aan te kondig. Toe die Leeu brul, het die donderslae hul onderwerp aan Sy gebrul. Weereens is die getal sewe betekenisvol. Ons moet onthou, dat die oordele in Openbaring, altyd in die lig van die verbond gesien moet word. M.a.w., die oordele het gekom, omdat die toenmalige volk van God geweier het om die verbond wat hulle met God aangegaan het, in stand te hou en daarom kom God se verbond ook in vervulling, nl. om hulle te straf vir hul ongehoorsaamheid aan die verskillende verbond oordele waarteen Israel gewaarsku is in Lev.26, asook Deut.28. Wat van belang is, is dat God by vier geleenthede, ’n sewevoudige oordeel oor die volk belowe, indien hulle, hulle nie hou by die verbond nie (Lev.26:18 ~ As julle ná al hierdie dinge nog nie na My luister nie, sal Ek julle nog swaarder straf oor julle sondes. En dan weer in vv.21, 24, 28). Die getal “sewe” word 54 keer in Openbaring gebruik en staan dikwels in direkte verband met God se verbond oordele wat belowe word aan diegene wat hulle nie sou hou by die Ou Verbond nie.

In die lig van hierdie opdrag wat Johannes hier ontvang het, is dit dus belangrik dat ons Openb.10:4 teen hierdie agtergrond moet lees. Hier in v.4 sê Christus vir Joannes ~ Hou geheim wat die sewe donderslae gesê het; moet dit nie opskrywe nie. Later in Open.22:10 sal ons egter sien dat Christus vir Johannes keer om nie nou alles te skryf nie, want Hy sê ~ Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby. Waarom sê Hy in 22:10 nou anders? Omdat die eindtyd – die tyd van vervulling op hande was – daarom moet Johannes wel openbaar maak wat hy gesien het, maar dit wat Hy eksplisiet verbied word om openbaar te maak, moet hy verswyg (sien ook Dan.12:4 ~ En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die eindtyd toe. Baie mense sal oor die gebeurtenisse navraag doen om begrip daarvan te probeer kry).

Ons kan dus op hierdie stadium net wonder wat hierdie donderslae se betekenis is. Sommige spekuleer dat dit in verband gebring moet word met Matt.24:22 ~ En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort. Dit is egter blote bespiegeling en daarom mag ons nie verder aandag aan sulke bespiegelings gee nie en wil die Here ook nie hê dat ons verder hieroor “wakker lê” nie, omdat dit nie belangrik vir ons is om te weet nie en daarom moet ons rus in God se woorde in Deut.29:29 sê ~ Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet. Die kern van hierdie saak is, dat indien God wou hê dat ons moet weet wat hierdie oordele behels, Hy dit aan ons sou openbaar. Wat ons wel weet is dat hierdie donderslae bepaalde oordele impliseer en dit is genoeg dat ons dit weet en niks meer nie.

As daar een ding is wat ons vanuit hierdie vers kan leer, is dit dat die Woord swyg oor baie dinge wat ons graag meer van sou wou weet. Ons moet egter weet – en die Woord verseker ons daarvan – dat Jesus in volkome en volmaakte beheer van alles is – dat Hy Here van alles is en daarom moet ons Hom vertrou met die uitrol van alles hier op aarde en ons moet maar net ons verantwoordelikheid nakom en dit is om Hom te gehoorsaam in alles.

· Openb.10:5-7 ~ 5 Die engel wat ek op die see en die land sien staan het, het toe sy regterhand na die hemel toe opgelig 6 en ’n eed afgelê by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel en wat daarin is, die land en wat daarop is, die see en wat daarin is, geskep het. Hy het met ’n eed bevestig: “Daar is geen tyd meer oor nie. 7 Op die dag wanneer die sewende engel op sy trompet gaan blaas, sal God se verborge bedoeling met alles bereik word, soos Hy die blye tyding aan sy dienaars, die profete, bekend gemaak het.” Ons het gehoor van die opdrag dat Johannes niks mag neerskryf oor die sewe donderslae nie. Hier in v.5-7 kom die engel wat op die see en die land gestaan het en hy lê ’n eed af. Met hierdie eedaflegging, sien ons ’n tipiese Ou Testamentiese beeld, nl. dié van ’n regterhand wat opgesteek word wanneer ’n eed afgelê word – baie interessant word hierdie gebruik vandag nog steeds o.a. in ons howe toegepas (ek wonder hoeveel mense wat betrokke is by eedafleggings in o.a. die howe, is bewus van hierdie feit?). Ons lees bv. in Gen.14:22-24 van so ’n situasie waar Abraham ’n eed afgelê het om niks van die koning van Sodom te neem nie ~ Die koning van Sodom het vir Abram gesê: “Gee my net die mense en vat die besittings vir jou.” 22 Maar Abram het hom geantwoord: “Ek het my hand opgelig en ’n eed afgelê voor die Here, voor God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde, 23 dat ek niks van jou sal vat nie, nie eers ’n garingdraad of ’n skoenveter nie, sodat jy nie kan sê: ‘Ek het vir Abram ryk gemaak’ nie. 24 Afgesien van wat my manskappe geëet het, kan jy my buite rekening laat. Maar die manne wat saam met my gegaan het, Aner, Eskol en Mamre, hulle moet hulle deel kry.”

As ons terugkeer na ons verse onder bespreking en in gedagte hou dat ons by die bespreking van 10:1 gesê het dat die Engel wat hier onder bespreking is, na Jesus Christus verwys, is daar mense wat dit in twyfel trek of Jesus ’n eed sou aflê. Ek kan egter nie sien waarom dit nie die geval moet of kan wees nie, want God het self ’n eed afgelê teenoor Abraham ~ Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê ’n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. 18 In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam (Gen.22:16-18). Indien God die Vader ’n eed kon aflê, waarom nie Jesus Christus die Seun nie? Natuurlik is hierdie voorbeeld uit Gen.22 ook nie die enigste getuienis van God wat ’n eed aflê nie – sien gerus ook Eks.6:8 en Deut.32:39-40. Toe Jesus geweier het om die Hoë Priester te antwoord in Matt.26:63-64a het die Hoë Priester die volgende gesê ~ Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” 63 Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder ’n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” 64 Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.... Dit is dus duidelik dat argumente dat die Engel van Openb.10:5 nie Jesus kan wees nie, op grond van die feit dat Jesus nie ’n eed sal aflê nie, dus ongegrond.

Wat behels die eed wat Jesus dan hier aflê? Hy sê ~ Daar is geen tyd meer oor nie (v.6). Wat Hy dus letterlik hier sê, is dat daar geen uitstel meer sal wees nie. Nog eenvoudiger gestel: Die verwoesting van die Tempel en daarom die uitrol en begin van die Nuwe Verbond is op hande – dit gaan binnekort plaasvind!

In Openb.6:9-11 het die martelare uitgeroep ~ Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde? En die antwoord was ~ ...nog ’n klein rukkie.... Hierdie “rukkie” is nou bykans verby, want die profesie van hoofstuk 6 gaan binnekort volbring word. Dit is dan ook in die volgende hoofstuk van Openbaring, dat ons begin lees van die verwoesting van die Tempel ~ Toe is daar vir my ’n meetstok gegee wat soos ’n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die mense wat God daar aanbid. 2 Maar die voorhof, wat buitekant die tempel is, moet jy heeltemal uitlaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is, en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap (Openb.11:1-2).

Ons lees in v.7 hierdie woorde ~ Op die dag wanneer die sewende engel op sy trompet gaan blaas, sal God se verborge bedoeling met alles bereik word... Wat word bedoel met die woorde, God se verborge bedoeling (in Engels: the mystery of God)? Laat die Woord hierdie vraag vir ons beantwoord – Ef.3:1-7 ~ Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, ’n gevangene deur my diens aan Christus Jesus. 2 Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. 3 Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, 4 en as julle dit lees, sal julle ’n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. 5 Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6 En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het. 7 Van hierdie evangelie het ek ’n dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. Die geheimenis van Christus, sê Paulus dus vir ons, is dat ook heidene voortaan mede-erfgename van dieselfde Liggaam gaan wees en deelgenote in dieselfde belofte van die Evangelie.

Die geheimenis van God, of die verborge bedoeling van God (v.7) was dus dat Jood en heiden, in een liggaam saamgevoeg sou word – rasse skeiding sou dus nie meer in Christus se Liggaam bestaan nie. Waarom sê ek dit? Omdat daar deur die eeue aanvaar is (met enkele uitsonderings – dink bv. aan Rut) dat slegs God se Verbondsvolk (die Jode/Israeliete) deel uitgemaak het van Christus se Liggaam. Hierdie feit sou nog duideliker word ná die verwoesting van die Tempel en dan sal God se geheimenis ten volle opgeklaar wees.

Jay Adams skryf: The predominantly Jewish nature of the church was to be ended by the destruction of the Temple, the distinctive feature in which it centered. David Chilton som God se bedoeling as volg op: Dit is die eenwording, sonder uitsondering, van Joodse- en heidense gelowiges in een kerk. Ten einde hierdie eenwording te bewerkstellig, moet die grootste hindernis tot eenwording, eers verwyder word, nl. Judaïsme en die Tempel. Eers wanneer die Tempel afgebreek en Judaïsme vernietig is, sal dit duidelik wees dat heiden en Jood deel is van dieselfde Liggaam.

Die skrywer van die Hebreërbrief dring daarop aan dat sy Joodse lesers daarteen moet waak om nie weer in Judaïsme te verval nie. Joodse Christene moet dus daarteen waak dat hulle nie hul Christenskap sal verruil vir Judaïsme nie, maar om Christus te omhels as die vervulling van Bybelse Judaïsme. Joodse gelowiges moet hulleself dus distansieer van die Judaïstiese rituale, want al daardie rituele gaan met die val van die Tempel beëindig word en die Joodse vervolging van die kerk sal terselfdertyd eindig en al die Joodse-gelowiges sal dan sien dat die heidense gelowiges ook nou deel uitmaak van die kerk van die Here Jesus. Dit is interessant om te sien dat die Romeinse historikus, wat oor daardie dae geskryf het, gesê het dat die verwoesting van die Tempel ook die vernietiging van die Christendom sou beteken, want vir die Romeine was die Christendom niks anders as ’n Joodse sekte nie. Wat ’n verrassing (of dalk eerder skok?) moes dit nie vir die Romeine gewees het, toe hulle sien hoe dat die Christendom met rasse skrede uitbrei na 70n.C. nie!

Die Magtige Engel het dan gesê dat die geheimenis opgeklaar sou word met die blaas van die sewende trompet – en dit is presies wat gebeur het – Openb.11:15 ~ Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.” Die Nuwe Verbond is amptelik ingelei met Christus se kruisiging. Die stort van Jesus se bloed het die Nuwe Verbond wettig bekragtig en almal uit alle volke en tale wie God uitverkies het, het hiermee die versekering ontvang dat hulle verlos is. Hierdie verbond sou egter eers ten volle en formeel geïmplementeer word wanneer Judaïsme wat ’n bedreiging vir die Christendom was, verwyder is. Die Evangelie van Christus kon nou vrylik verkondig word en versprei oor die aarde.

Jesus het Sy reputasie op die spel geplaas toe Hy in Matt.24:34-35 die val van Jerusalem voorsien het (Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 35 Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit”), maar Jesus het ’n belofte gemaak aan Sy dissipels dat Hy die oorwinning sou behaal en trou aan Sy Goddelike karakter, het Hy woord gehou, want Hy het inderdaad oorwin!

· Openb.10:8-11 ~ 8 Die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het toe weer met my gepraat en vir my gesê: “Gaan kry die oop boek daar in die hand van die engel wat op die see en die land staan.” 9 Ek het na die engel toe gegaan en vir hom gevra om die boekie vir my te gee. Hy sê toe vir my: “Neem dit en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees.” 10 Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword. 11 Toe het hulle vir my gesê: “Jy moet weer God se boodskap aangaande baie volke, nasies, tale en konings verkondig.” Dit mag komies voorkom, maar daar was niks snaaks verbonde aan Johannes se ervaring toe hy die boekie moes eet nie. Soos reeds genoem het die boekie die oorblywende oordele van God bevat wat moes plaasvind voor die volledige en finale implementering van die Nuwe Verbond. Die Engel gee opdrag aan Johannes om die boekie te eet en sê daarmee saam dat dit sy maag bitter sou maak, maar sy mond sal soet wees. Toe Johannes gehoorsaam en die boekie eet, was dit presies soos wat dit vir hom gesê is.

Die Ou Testamentiese agtergrond is hier baie interessant. In Eseg.2:8-3:14 ontvang die profeet presies dieselfde visioen. Beide hierdie visioene het essensieel dieselfde betekenis. In Esegiël se geval, het dit gegaan oor die val van Jerusalem en die tempel deur Nebukadneser en die Babiloniërs. In Johannes se geval gaan dit oor die val van Jerusalem en die tempel in 70 n.C. onder die hand van Titus die Romeinse bevelvoerder. Hoe kan ons nog twyfel oor hierdie verklaring en allerlei ander verklarings vir Openb.10 en Matt.24 verskaf as hierdie gedeelte so pragtig ooreenstem met Esegiël se visioen – waaroor daar geen verskille oor die verklaring bestaan nie!

Beide profete het gemengde gevoelens gekoester oor hierdie visioene. Beide was bly (soet) oor die verbond verbrekende volk wat geoordeel word deur ’n regverdige God, en beide was hartseer (bitter) oor die dood en verwoesting wat sou plaasvind tydens die uitvoering van hierdie oordele.

Hierdie bitter/soet situasie van hierdie visioene is vandag nog net so ’n realiteit (veral vir predikers) wanneer gesien kan word hoe dat die Woord gepreek word (soet) aan ’n gemeente, maar dat daar van die gemeentelede, baie keer nie die Woord van God ter harte neem nie (bitter).

Ten spyte van hierdie donker en bitter prentjie wat vir Johannes geskilder word, ontvang hy ’n wonderlike opdrag ~ Jy moet weer God se boodskap aangaande baie volke, nasies, tale en konings verkondig (v.11). Ons moet onthou dat Johannes ’n gevangene op Patmos was toe hy hierdie visioen ontvang het, maar nou weet hy dat hy nie daar sou sterf nie – hy sou vrygelaat word ten einde sy bediening voort te sit.

Net soos Johannes (en Esegiël) sal die Groot Opdrag, waarby elkeen van ons betrokke moet wees, ook vol, beide soet en bitter momente wees – hulle wat die Evangelie van verlossing aanvaar en hulle wat hul rug daarop keer – soveel te meer met ons eie kinders en familie.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 18 Julie & 01 Augustus 2010

Boodskap deur Kobus van der Walt (01 Augustus 2010)

Die Eerste Boek van Samuel - 01 [1]

(Werp jou sorge op Jesus)

1. INLEIDING:

Ons gaan van vanoggend af kyk na die Eerste Boek van Samuel. Mense vra baie keer waarom ’n mens nog die Ou Testament lees en daaruit preek – die punt is dat die Christelike geloof gewortel is in die openbarings en die magtige dade van God in die lewens van werklike mense deur die eeue heen. Dit is dan een van die redes waarom dit so belangrik is dat die kerk van die Here Jesus óók die Ou Testament sal bestudeer.

1 Samuel is ’n boek wat hoofsaaklik handel oor twee manne, maar dit boekstaaf ook vir ons die tydperk van die Rigters, tot en met die tydperk van die teokratiese regeringsisteem in Israel. Teokrasie is natuurlik ’n monargie waar konings wat deur God aangewys word, namens God regeer. Die twee manne wat die “hoofrolle” speel in 1 Samuel, is Samuel die profeet, wat die konings namens God aanwys en Saul, die volk se keuse as koning.

Dit is betekenisvol om daarop te let, dat die verhaal wat in 1 Samuel ontvou, nie net polities of sosiaal van aard is nie, maar ook teologies, geestelik en eskatologies. Teologies, omdat dit handel oor God se gesag en voorskrifte t.o.v. Sy volk. Geestelik, omdat dit handel oor die geloof van diegene wie die Here lief het en wat hul lewens as dissipels aan Hom wy. Hierdie boek het egter ook eskatologiese waarde, omdat dit direk heenwys na die koms van God se Seun, Jesus Christus, wat as Messiaanse- en Middelaarskoning sal kom regeer totdat Hy al Sy vyande aan Hom onderwerp het (1Kor.15:25).

God se soewereiniteit en Sy geregtigheid word ook baie duidelik weerspieël in hierdie boek.

Die tydperk waarin hierdie verhaal afspeel, is nagenoeg 110 jaar wat strek van Samuel se geboorte in 1100 v.C., tot en met Saul se dood op Berg Gilboa in 1010 v.C.

2. SKRIFLESING:

1Sam.1:1-20 ~ Daar was ’n man uit Ramatajim, ’n Suffiet uit die Efraimsberge. Hy was Elkana seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf uit Efrata. 2 Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna en die ander s’n Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie. 3 Elkana het elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, was in Silo priesters van die Here. 4 Elkana het gewoonlik op die dag wanneer hy geoffer het, dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee. 5 Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het, kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly. 6 Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het. 7 So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie. 8 Dan sê haar man Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?” 9 Op ’n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het. 10 Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil. 11 Sy het ’n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ’n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.” 12 Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk. 13 Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk. 14 Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!” 15 Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net ’n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here. 16 Moet tog nie dink ek is ’n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.” 17 Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” 18 En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.” Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie. 19 Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe. Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink. 20 By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het ’n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: “Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!”

3. ELKANA EN SY GESIN:

1 Samuel begin met die verhaal van een bepaalde familie – ’n uitsonderlike familie – ’n Vader met die naam van Elkana wat ’n Leviet was en wat getroud was met twee vrouens, met die name Hanna en Peninna. Elkana en sy gesin het in die dorpie Ramatajim gewoon, wat beter aan ons bekend is as Arimathea (Matt.27:57).

Hanna het geen kinders gehad nie, terwyl Peninna wel kinders gehad het. Elkana was ’n goeie man wat die Here God lief gehad het en hy was ’n voorbeeldige vader vir sy kinders. Wanneer ons na Deut.21:15-17 kyk, sien ons dat veelwywery aan die orde van die dag onder die Israelitiese was, ten spyte van die feit dat dit teen God se geopenbaarde wil was (Gen.2:24). Nie net was hierdie ongehoorsaamheid van die volk ’n probleem en ’n aanduiding van die geestelike toestand van God se verbondsvolk nie, maar dit was ook die wortel van Elkana se gesinsprobleme. Elkana het dus kompromie gemaak met die sondige gebruike en -kultuur van die volk en dit behoort ook ’n waarskuwing vir ons te wees, dat ons nie ook kompromie maak met ons 21ste eeuse volkskultuur en –gebruike wat onaanvaarbaar en onbybels is nie.

Die hoogtepunt van Elkana en sy gesin se jaar, was wanneer hulle na die jaarlikse volksfees en offerande geleentheid in Silo gegaan het. Hierdie geestelike pelgrimstog van Elkana en sy gesin is ’n positiewe voorbeeld van hulle getrouheid en Goddelike lewenswyse. Dit het in skrille kontras gestaan met die priesters van daardie tyd, wat bekend was vir hulle skandalige en slegte lewens en voorbeeld wat hulle voorgeleef het (1Sam.2:12-17). Ons sal wel later in meer besonderheid kyk na die priesters en hul gewoontes maar die kollig val nou eers hier in hoofstuk 1 op Elkana en sy gesin en die ongelukkige verhouding wat daar tussen Hanna en Peninna bestaan het.

Ons het in ons Skriflesing gesien dat Peninna haar verlustig het in Hanna se verleentheid wanneer lg. net een porsie van die offervleis ontvang het, terwyl Peninna baie meer ontvang het – en die rede? Omdat Peninna kinders gehad het en Hanna kinderloos was – ’n groot verleentheid en skande in die kultuur van destyds. Peninna het dan ook die situasie uitgebuit en Hanna gereeld daaroor gespot. Die vrolikheid om die gesinstafel en Peninna se gespot moes elke keer vir Hanna soos ’n dolksteek in die hart gevoel het – hoe het sy nie gesmag na ’n kindjie nie! So gebeur dit dan ook dat Hanna meer male hartseer van die tafel af opgestaan en die vertrek verlaat het. Elkana het haar probeer troos, maar sonder sukses, want Hanna se verlange na ’n kind was allesoorheersend.

4. HANNA SE GEBED EN GELOFTE:

Met Hanna wat weer saam met die gesin in Silo vir die feesvieringe is en sy weer hartseer van die etenstafel gevlug het, lees ons in v.9 en 10 dat sy na die tempel is om daar te gaan bid. Sy was waarskynlik so ontsteld terwyl sy haar hart voor die Here uitgestort het in gebed, dat sy nie eers die priester Eli by die tempel se deur sien sit het nie. Hanna het vas geglo en geweet dat God haar Vader haar gebed sou hoor en verhoor en aan haar ’n seun sou gee. Sy het terselfdertyd belowe dat sy haar seun sou terug gee aan die Here.

Wanneer ons na Hanna se gebed kyk, sien ons dat daar geen sprake van verwyte was nie – sy het niemand verwyt oor haar kinderloosheid nie en veral nie die Here nie. Dit is dan ook een van die groot toetse waar voor ons ook in ons lewe te staan kom. Ons maak so maklik beswaar teenoor God se voorsiening – so asof ons iets beters verdien – so asof die Here beter moes geweet het toe Hy toegelaat het dat bepaalde beproewinge oor ons pad kom.

Hanna het egter as gelowige, geweet dat God se doel met haar lewe een van seën was – selfs te midde van swaarkry en allerlei beproewinge. Hanna het egter haar hart uitgestort teenoor die Here en soos in Ps.107:6, het Hy (haar) gered uit (haar) ellende.

Hanna was egter nie alleen ’n vrou wat in geloof gebid en God ten volle vertrou het nie – sy was ook ’n nederige vrou. Toe die swaksiende Eli haar sien bid het hy gedink dat sy dronk was en nadat hy haar daaroor berispe het, het sy hom op so sagte en nederige wyse geantwoord, sodat hy op sy beurt ’n ongehoorde ding gedoen het, deur haar te seën – iets wat ongehoord was vir ’n priester. Hierdie is dan ook die enigste getuienis in die Ou Testament van ’n priester wat ’n individu geseën het – Hy seën haar met hierdie woorde ~ Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het (v.17).

Ons sien dan in v.11 dat Hanna ’n gelofte afgelê het en vir die Here gesê het ~ Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ’n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie. Nie alleen belowe Hanna dat sy haar seun permanent terug sal gee aan die Here nie, maar sy belowe ook dat sy hare nie afgesny sou word nie. Hierdie gelofte was in ooreenstemming met die nasireërgelofte soos opgeteken in Num.6:1-5 ~ Wanneer iemand, ’n man of ’n vrou, ’n besondere nasireërgelofte aflê om hom aan die Here te wy, 3 moet hy hom weerhou van wyn en bier. Hy mag geen druiwe-asyn of ander asyn drink nie, geen druiwesap nie en ook nie druiwe of rosyntjies eet nie. 4 Die hele tydperk van sy wyding mag hy hoegenaamd niks eet wat die wingerdstok voortbring nie, selfs nie druiwepitte of-doppe nie. 5 “Vir die volle duur van sy nasireërgelofte mag hy nie sy hare of sy baard skeer nie. Hy is iemand wat vir die Here afgesonder is, en hy moet sy hare vrylik laat groei totdat die tyd van sy wyding aan die Here verby is. Die verskil tussen die Num.6-nasireërs en Hanna se verwagte kind was dat die Num.6-nasireërs se toewyding ná ’n bepaalde tydperk verstryk het – maar nie Hanna se ongebore kind nie – ons lees in v.11 ~ ... ek (sal) hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie. Hanna offer dus haar ongebore kind as ’n lewenslange Nasireër wat eksklusief vir die Here se diens afgesonder sal word.

Nadat Hanna haar hart uitgestort het voor die Here het sy vrede gekry en kon sy weer eet en was sy nie meer bedruk nie (v.18).

As ons na die priesterlike gebruike in die ou Israel kyk, was dit nie so uitsonderlik vir Hanna om haar ongebore seun aan te bied vir diens in die Tabernakel nie, want ons moet in gedagte hou dat Elkana ’n Leviet was en dit het impliseer dat enige een van sy seuns ook as Leviet diens in die Tabernakel sou moes doen. Wat egter uitsonderlik van Hanna se gelofte was, was dat sy beloof het dat haar seun van sy vroegste jare af in die Tabernakel diens sou verrig en dat hy van die begin af ’n Nasireër sou wees. Om ’n lewenslange Nasireër te wees, was ’n teken van die mees intense vorm van toewyding en godvresenheid en daar was nie baie sulke Nasireërs nie – Simson is een voorbeeld van so ’n lewenslange Nasireër.

Vir hierdie eenvoudige plattelandse vrou wat desperaat was om ’n seun te kon hê, was hierdie gelofte dus van lewenslange diens aan die Here, ’n wyse om haar geloof in God en haar opregte dankbaarheid byvoorbaat te betoon.

Ons word ook deur die Woord van God aangemoedig om ons hartsbegeertes voor God te bring – Fil.4:6 is ’n voorbeeld hiervan ~ Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. Ons moet egter altyd in gedagte hou dat ons in ooreenstemming met God se wil moet bid. Ook is daar nêrens in die Skrif opdragte dat ons beloftes, of geloftes aan God moet maak wanneer ons Hom om iets vra nie, behalwe dat ons gehoorsaam sal wees aan Sy geopenbaarde wil soos in Sy Woord vervat. Indien ons egter ’n eed wil aflê t.o.v. bepaalde optrede wat ons in die toekoms sal onderneem, moet ons, onsself egter die volgende vrae afvra:

· Sal die gelofte bevorderlik wees vir ons geestelike lewe?

· Is dit ’n behoorlike uitdrukking van opregte godvrugtigheid.

· Is dit in ooreenstemming met die beginsels van die Woord.

· Is dit ’n uitdrukking van my dankbaarheid teenoor die Here, of is dit ’n poging om Sy “arm te draai”?

· Kan ek verwag om hierdie gelofte, met die hulp van die Here, uit te leef en te eerbiedig?

· Kan ek van God verwag om my hiermee te help?

Ons moet besef dat wanneer ons bid, ons op “heilige grond” staan en dat ons gebed tot verheerliking van God moet wees.

5. HANNA VIND VREDE:

Die seën wat Eli oor Hanna uitgespreek het, het vrede in Hanna se gemoed gebring en dit is presies wat gebeur het – Hanna het vrede gekry en die bewys daarvoor was die feit dat sy van die offervleis wat die priesters aan hulle gegee het tydens die fees in Silo, geëet het – iets wat sy nie in die verlede gedoen het nie. Sy eet nou hierdie vleis en dít terwyl haar seun nog nie eens verwek is nie. Maar God het haar gebed verhoor en sy het God se liefde en vrede in haar lewe ervaar. Dit is die vrug van alle gelowige gebede. En hierdie feit behoort tot gevolg te hê dat God se kinders innerlike én uiterlike vreugde behoort te ervaar.

Hanna se lewe is vir altyd verander. Die familie het huiswaarts gekeer en kort voor lank sou Hanna die lewe skenk aan ’n seun en hom Samuel noem – Samuel, wat volgens v.20 ~ ...van die Here het ek hom afgesmeek, beteken. Met hierdie naamgewing het Hanna, eer aan God gebring. Ps.113:9 was so waar van Hanna ook ~ Aan die kinderlose skenk Hy ’n huisgesin, sy word ’n gelukkige moeder van kinders. Prys die Here!

In ons dae word kinders so dikwels gesien as ’n las. Hanna se optrede daag egter alle ouers uit wat so voel, om weer te besin oor hul gesindheid. Hanna spreek moeders aan wat hul ongebore kinders laat aborteer. Hanna se lewe en haar dankbaarheid herinner ons aan Ps.127:3 wat sê ~ Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.

God het aan Hanna gedink en Hanna het vergeet van die hartseer wat haar jare lank bykans vernietig het. Hierdie verhaal van Hanna bevestig aan ons die waarheid dat God nooit Sy gelowige kinders vergeet nie. As ons stukkend en hartseer voel; as ons deur een of ander vorm van beproewing gaan, of jy ervaar iets wat só ’n skadu oor jou lewe werp, dat die Lig en Liefde van Jesus Christus bykans onsigbaar is, dan moet jy saam met Hanna aan die woorde van Ps.55:22 vashou ~ Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.

Ons moet ook onthou dat die geboorte van Samuel die koms van die Here Jesus Christus, nog ’n stappie nader gebring het vir die Ou Testamentiese gelowiges wat op die koms van die Messias gewag het en ons kan weer terugkyk en weet dat Hy reeds vir ons gekom het – Hy wat al ons sorge op Hom geneem het. Hy wat in ons plek gesterf het, sodat genesing en redding ’n realiteit vir ons geword het. Hy nooi ons steeds uit om na Hom te kom en ons sorge aan Hom oor te laat, sodat ons rus kan kry. Hy roep ons steeds om in Hom te glo en op Sy Naam te vertrou, sodat ons die ewige lewe kan beërwe.



[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 01 Augustus 2010