Sunday, August 9, 2015

Liefde en die Waarheid (Bid teen die Plesier van Sonde)*

1.   INLEIDING:
      Paulus is baie duidelik daaroor dat n wêreldwye rebellie teen God in die openbaar en regdeur die geskiedenis sal plaasvind. Dit sal wêreldwyd gesien kan word deur die openlike en regeringgesteunde afbreek van morele waardes; wetteloosheid, ens. wat alledaags sal raak. Ons wat die nuus lees en luister en kyk, sien die realiteit hiervan elke dag, meer en meer. Hier kan ons maar net dink aan Obama van die VSA se openlike steun vir Planned Parenthood wat befonds word uit die staatskas en waardeur nagenoeg 1 miljoen babatjies (fetusse) jaarliks, wettig" geaborteer word. Trouens dit word aangemoedig en die VSA en Obama in persoon, oefen druk uit op ander lande om dieselfde weg te volg - so bv. plaas die VSA tans geweldige druk op Bolivië toe om aborsie te wettig.

      As daar een gebed is wat ons kan bid wanneer dit kom by aborsies is dit dat ons kan bid dat die Republikeine die volgende Presidentsverkiesing sal wen, want al tien die kandidate wat tans in die wedloop is om die Republikeine se presidentskandidaat te wrd, is ten gunste daarvan dat die staat hulle finansiële steun vir Planned Parenthood sal staak.

      In hierdie kosmiese drama is daar twee hoofrolspelers. Aan die eenkant is dit Satan en aan die anderkant is dit die God van Waarheid.

      Die Woord van God is baie duidelik daaroor dat die mensdom verdoem is a.g.v. hul rebellie teen God en een van die belangrikste vrae wat ons kan vra is hoe ons, maar ook diegene wie in rebellie teen God verkeer, God se toorn kan afweer?

      Ten einde n antwoord op hierdie vraag te kry wil ek hê dat ons vanoggend na 2 Tess. 2 sal blaai en ek wil dat ons uit die OAV lees.

2.   SKRIFLESING:
      2 Thes 2:1-12 (OAV) ~ 1MAAR ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 2om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word niedeur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou weesasof die dag van Christus al daar is. 3Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, 4die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 5Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 6En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 7Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 9hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 10en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 11En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 12sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.

3.   TEKSVERSE:
      Ek wil as teksverse neem, vv.9-12 en hier sal ons kyk na waarskynlik een van die mees beskrywende gedeeltes in die ganse Bybel oor die aard van geloof en ongeloof.

      Kom ons lees ook ons teksverse in die ESV ~ 9The coming of the lawless one is by the activity of Satan with all power and false signs and wonders, 10and with all wicked deception for those who are perishing, because they refused to love the truth and so be saved. 11Therefore God sends them a strong delusion, so that they may believe what is false, 12in order that all may be condemned who did not believe the truth but had pleasure in unrighteousness.

4.   ANALISE VAN TEKSVERS:
      Kom ons werk stelselmatig deur hierdie gedeelte. Ten einde dit te doen wil ek hê dat ons hoofsaaklik na die OAV sal kyk. In v.9 sê Paulus ~ hy wie se koms is en die ESV sê ~ The coming of the lawless one Al klaar het ons hier n beter begrip van wie aan die kom is, of wie gekom het. Wie is hierdie hy, of te wel die Lawless one? Hierdie is n verwysing na o.a. 2 Tess.2:3-4 waar daar geskryf staan ~ Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. Ook Daniël praat van hom in Dan.7:25 ~ En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende n tyd en tye en die helfte van n tyd (sien ook Openb.13).

      Hier het ons dus n duidelike verwysing na die satan self - hy is die een wat volgens v.9b, oor allerhande kragtige dade beskik. DIe ESV vertaal dit met all power. Dit impliseer natuurlik nie dat hy oor alle mag in die letterlike sin van die betekenis beskik nie - hy is m.a.w. nie almagtig soos God nie, maar hy kom met al die mag wat hy tot sy besikking het - in volle geweld dus teen die Kerk van die Here Jesus.

      Ons sien verder in die laaste gedeelte van v.9, dat hierdie krag van hom gepaard gaan met allerlei dade en tekens (signs and wonders), maar let op wat Paulus sê, dit is vals tekens en wonders. DIe OAV sê tekens en wonders van die leuen. Die Griekse woord wat hier gebruik word [ψεῦδος (pseudos)] beteken letterlik, n doelbewuste valsheid en Paulus omskryf dit self nog verder in v.10 wanneer hy sê dat hierdie doelbwuste vals tekens en wonders, verleidelik van aard is. Die satan gebruik dus hierdie vals tekens en wonders om mense te verlei tot valsheid.

      Wie is die mense wat verlei word tot valsheid? V.10 ~ die wat verlore gaan. n Nog belangriker vraag egter is waarom gaan hierdie mense verlore? Wat doen hulle om verlore te gaan? Dan kan n mens sekerlik terselfdertyd ook vra, wat moet jy doen om nié verlore te gaan nie?

   Redes waarom mense verlore gaan:
      -     Ons sien eerstens in die res van v.10, dat hierdie mense verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die Waarheid nie aangeneem het nie. Die ESV stel dit baie mooi en duidelik ~ because they refused to love the truth. Dan gaan Paulus voort en hy sê dat omdat diesulkes die Waarheid verwerp, word hulle nie gered nie.

      In v.11 vind ons n baie interessante reaksie - n reaksie van God. Omdat hulle, hulle steur aan allerlei doelbewuste vals tekens en wonders en hulle daadeur op n punt kom waar hulle weier om die Waarheid lief te hê, lewer God hulle oor aan n dwaling om die leuen te glo - Die ESV omskryf hierdie dwaling wat oor hulle sal kom, nog beter - die ESV sê ~ Therefore God sends them a strong delusion Hy bring dus misleiding oor hulle - hulle word mislei deur valsheid en daarom tree God se oordeel (judgement) in werking en handig Hy hulle letterlik oor aan misleiding.

      Dit is ook interesant om daarop te let, dat hierdie oordeel van God, reeds in hierdie lewe begin.

      Hierdie misleiding waaronder hierdie mense nou staan, het tot gevolg dat hulle die leuen glo.

      Die eerste rede dan waarom hierdie mense verlore gaan, is hulle weiering om die Waarheid te glo.

      -     Tweedens gaan hierdie mense verlore, omdat hulle die leuen glo, of te wel, omdat hulle glo wat vals is (v.11b).

      Met die eerste rede het ons gesien dat God hulle oorgee aan misleiding en a.g.v. die tweede rede, nl dat hulle die leuen glo, word hulle geoordeel (v.12a).

      -     In v.12b vind ons n derde rede waarom hulle verlore gaan, nl. dat hulle nié die Waarheid glo nie.  

      -     In in die laaste gedeelte van v.12 vind ons n vierde rede waarom hulle verlore gaan, nl. dat hulle n behae het in die ongeregtigheid. Die ESV vetaal dit met ~ but had pleasure in unrighteousness. Wat is hierdie ongeregtigheid? Sonde! Sonde is ongeregtigheid, of te wel, ongeregtigheid is sonde. As mense dan die ongeregtigheid lief het, beteken dit dat hulle alles wat verkeerd is; alles wat sondig is, lief het.

      As n mens vinnig deur hierdie paar verse lees dan is dit baie duidelik dat hier n goue draad deur die redes loop waarom mense verlore gaan (miskien is die kleur goud nie die korrekte nie en moet n mens dalk eerder praat van n swart draad). Wat is die verband dan tussen hierdie oorsake? Hulle het geweier om die Waarheid lief te hê, want hulle het geglo wat vals is, of te wel die leuen en hulle glo nie in die Waarheid nie, omdat hulle n behae het in ongeregtigheid.

      Daar is n baie belangrike woord in v.12, wat v.12a en v.12b met mekaar verbind, nl. maar - die Engels, but. Hierdie woord dui n kontras aan tussen die eerste en die tweede stelling, nl. dat hulle nie glo in die Waarheid nie, maar dat hulle n behae of plesier vind in die ongeregtigheid. Die implikasie hiervan is dat mense, of ons, nie die Waarheid aanneem nie - nie glo omdat daar nie genoeg fiete, of genoeg Lig beskikbaar is nie, maar omdat hulle n behae het in ongeregtigheid. Jesus het in Joh.3:19 gesê ~ En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Onderliggend dus aan ongeloof, is n liefde vir ongeregtigheid en dit neem ons terug na die eerste rede waarom mense verlore gaan, nl. n weiering om die Waarheid lief te hê - die eerste rede (v.10b) en die vierde rede (v.12b) kan dus verbind word - beide gaan oor n gebrek aan liefde, en negatiewe voorkeur vir n bepaalde liefde.

      Die diepste rede dus vir ongeloof, is nie die onvermoë om feite/kennis te verstaan en bymekaar te maak nie, maar die primêre rede waarom verloregaande mense gedoem staan, is omdat hulle nie die Waarheid lief het nie, maar eerder die ongeregtigheid (v.12b)

      Hoe kan ek en jy dan verhoed dat ons nie verlore sal gaan nie (v.10a), of hoe kan ons ander mense help om nie verlore te gaan nie?

      As ons na Paulus se redenasie hier in 2 Tess.2:9-12 kyk, sien ons dat dit dus nie nét daaroor gaan dat verloregaande mense vol van die Waarheid gepomp moet word nie - ja, daar is teksvers op teksvers wat die noodsaak van kennis beklemtoon ten einde te glo en gered te word - dink maar net bv. aan 1 Tim.2:3-4 ~ So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom, of 2 Tim.3:15 ~ en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus

      Paulus sê egter vir ons dat daar n baie belangriker ding, of n baie groter hindernis is wat mense verhoed om kennis van die Waarheid te bekom, of om te glo, en dit is die plesier wat hulle put uit die ongeregtigheid (v.12b). Dít is waarteen ons in die heel eerste plek moet bid wanneer ons die Evangelie met mense wil deel, nl. dat die Heilige Gees hulle voorliefde vir die ongeretigheid - vir sonde, sal afbreek; dat die Here die skille van hulle oë sal laat afval soos wat met Paulus gebeur het ~ Ananias het toe gegaan en in daardie huis gekom. Hy het Saulus die hande opgelê en gesê: Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word. 18Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien. Toe het hy opgestaan en hy is gedoop (Hand.9:17-18).

      Solank as wat ons plesier vind in sonde sal ons nie instaat daartoe wees om die Waarheid te glo wat die sonde in ons lewe sal openbaar nie en die openbaring van sonde is n baie belangrike en noodsaaklik faset van die wedergeboorte. Kom ons kyk net weer na v.12 ~ sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.

      Ons kan v.12 dus as volg parafraseer en illustreer:
Ons kan die Waarheid nie glo nie,
omdat ons plesier vind in die sonde (ongeregtigheid)
en daarom moet ons bid
teen die plesier (behae) van sonde (ongeregtigheid),
sodat die Waarheid die sonde in ons lewe kan openbaar.

      Ons probleem en dan veral ook mense wat steeds in die duisternis vasgevang sit, put
vreugde uit die ongeregtigheid en solank as wat ons en die wêreld vreugde in sonde vind, sal ons nie n liefde vir die Waarheid kweek nie en kan die Waarheid nie geglo word nie - en as ons en die wêreld nie die Waarheid lief het nie en verkies om eerder plesier in die sonde te vind, kan ons en die wêreld nie die sonde in ons lewe raaksien nie, trouens die wêreld (en ons moet versigtig wees dat ons nie ook self daar beland nie) - die wêreld sal dus elke moontlik rede soek om nié die Waarheid te glo nie en n saak daarvoor uit te maak dat die Waarheid, nie die aller-Waarheid is nie.

      Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar: Indien ek n liefde vir die Waarheid het, sal ek die sonde begin haat en my daarvan bekeer. In 1 Kor.13:6 sê Paulus dan ook dat die liefde hom nie verheug in ongeregtigheid nie, maar die liefde verheug hom in die Waarheid.

      Die kontras hier in Tessalonisense lê dus nie tussen geregtigheid en ongeregtigheid, of die Waarheid en die leuen nie, maar tussen ongeregtigheid van v.12 en die Waarheid in v.10. Verder, wanneer ons liefde van God ontvang, sal ons n behae hê in, nie meer die ongeregtigheid nie, maar in die Waarheid en dit lei weer tot geloof in die Waarheid, of te wel die Woord (v.12a).

5.   TOEPASSING:
      Ons moet in die eerste plek onsself ondersoek en vasstel waar  die wortel vir ons ongeloof, of gebrek aan geloof, en/of ons gebrek aan liefde vir die Woord, gesetel is - die wortel daarvoor is n liefde vir ongeregtigheid, maar gaan doen biddend ondersoek in jou lewe en probeer vasstel watter sonde vertroetel jy in jou lewe en stel dit reg en fokus al meer en meer op die Woord - die Waarheid, sodat jou geloof kan groei en jy sonde kan identifiseer en meer en meer haat en jou liefde terselfdertyd groter en intiemer kan raak vir die Waarheid - hier het ons dus te doen met n heilige kringloop in plaas van die vorige bose kringloop

      En wat diegene betref met wie jy die Evangelie deel of wil deel - bid eers dat die Heilige Gees sy of haar voorliefde vir die sonde sal aanspreek en vewyder en daarna n verlange sal gee na die Waarheid van God se Woord en eers dan moet jy in gesprek tree met so n persoon.


*Met dankbare erkenning aan John Piper en sy Labs.

(Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente op 09 Augustus 2015)