1. INLEIDING:
In
die vorige hoofstukke van Sagaria is daar getuig van die grootse werk wat God
in die midde van Sy volk gedoen het en ons het verlede Sondag gesê dat ons nou verder aan sal sien dat die volk se behoefte aan fisiese
bevryding nie alleen bevredig is nie, maar dat hulle insgelyks, innerlik
bevredig sal word.
Wat
nou gaan gebeur word pragtig deur Esegiël in
Eseg.39:29 beskryf ~ Ek sal hulle nooit weer verwerp nie; Ek het my
Gees uitgestort op Israel,” sê die Here my God. Joël 2:28-29
beskryf dit as volg ~ Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees
laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome
droom, julle jong mans sal visioene sien. 29In daardie tyd
sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie.
2. SKRIFLESING:
Sag.12:10-13:1
~ Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners
van Jerusalem bring Ek ’n
gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle
doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos ’n
mens treur oor ’n
enigste kind, hulle sal oor hom huil soos ’n
mens oor ’n oudste seun huil.11Daardie
dag sal daar in Jerusalem meer getreur word as wat daar oor Hadad-Rimmon
getreur is in die Megiddovlakte. 12Die
land sal treur, die mans in elke familie afsonderlik, en hulle vrouens
afsonderlik: die familie van Dawid en hulle vrouens, die familie van Natan en
hulle vrouens, 13die familie
van Levi en hulle vrouens, die familie van Simi en hulle vrouens, 14en
al die ander families, die mans afsonderlik en hulle vrouens afsonderlik.
13 Daardie dag sal daar ’n fontein
oopgemaak word om die koningshuis van
Dawid en die inwoners van Jerusalem te reinig van hulle sonde en hulle vuilheid.
3. GENADE EN SMEKING (v.10a):
In
v.10 sien ons dat daar ’n gees van welwillindheid en van berou oor die koningshuis van Dawid en
die inwoners van Jerusalem uitgesort sal word.
Die
twee uitdrukkings, “welwillendheid” en “berou” word in die OAV korrek vertaal met “genade” en “smeking” en hierdie “smeking” word mooi omskryf in die ESV met “pleas for mercy”. Kom ons kyk egter na die OAV ~ Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek
uitgiet die Gees van genade en smekinge. Wie of wat is hierdie Gees waarna Sagaria
verwys? Die wortelbetekenis van hierdie woord is beide in
die Grieks en die Hebreeus, “wind” [רוּחַ
(ruwach /roo·akh/)]. Ons lees in Joh.3:8 die volgende t.o.v. die Heilige Gees ~ Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar
hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.
Hierdie
verwysing van Sagaria is dus ’n bae duidelike verwysing na die Heilige Gees. As ek dan die vers mag
parafraseer, kan dit as volg lees: Maar oor die huis
van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek die Heilige Gees van genade
en smekinge uitstort. Voor ons na die betekenis van die utdrukkings “genade” en “smeking” in hierdie
konteks kyk, moet on ook net weer vir mekaar sê wat of wie die “huis van Dawid” is. Ons het verlede week (12:1-9) gesien dat Sagraia van baie duidelike apokaliptiese taalgebruik maak in
hierdie profesie en dan spesifiek hier van hoofstuk 12 af en verder. Sy
skryfstyl en boodskap is dus vol beelde met diepere betekenis (net soos Openbaring) en moet sy
boodskap gesien word teen die agtergrond van die wederkoms.
Wanneer
Sagaria dan praat van die “huis van Dawid” weet ons dat hy verwys na alle gelowiges van alle tye
en nou kom hy hier in v.10 met ’n profetiese belofte van die Heilige Gees wat uitgestort gaan word oor
alle gelowiges en wat ons weet, in vervulling gegaan het op Pinksterdag (Hand.2) en soos ook geprofeteer deur o.a.
Jesja (44:3); Joël (2:28-29) en natuurlik
Jesus self (o.a. Matt.3:11).
Sagaria
gaan egter verder en spesifiseer twee baie belangrike dinge wat uitgegiet gaan
word en dit is “genade” en “smeking.” Wat is die
betekenis en implikasie van hierdie twee woorde wat as belofte aan ons gegee
is?
• Genade: Kom ons kyk
eerstens na “genade.” In hierdie geval word die woord gebruik,
wat ons in die teolgie as “toegespitste genade” sal noem. Hierdie genade is dus nie dieselfde as God se “algemene genade” wat Hy oor alle mense uitstort (heiden sowel as gelowige) in bv. die
vorm van reën;
werksvoorsiening; ens. nie. Wat dan is God se “toegespitste genade”, of te wel die genade waarna Sagaria hier verwys? As ek ’n kort en eenvoudige definisie van toegespitste genade kan gee, sal ek
dit as volg definieer: Toegespitste genade is daardie eensydige geskenk van
barmhartigheid, liefde en verlossing wat die soewereine God uit genade aan
verloregaande mense skenk, wie Hy vooraf uitverkies het. Ef.2:5 ~ Deur Sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam
met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered.
Sagaria
sê dus dat die gelowiges - alle gelowiges (die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem), deur die genadewerking van die Heilige Gees
wederbaar (gered) word en
terselfdertyd werk dit ’n innerlike oortuiging in die verloste, van sy natuurlike en geestelike
rebellie teen God en dit laat hom met ’n sondebesef. Die genade waarvan hy dus in ons Skrifgedeelte (v.10) praat, is die genadegawe van wedergeboorte wat deur
die werking van die Heilige Gees aan alle gelowiges geskenk word.
• Smeking: Wat wil Sagaria
sê wanneer hy sê dat die Gees van smeking ook oor ons
uitgestort sal word? Wanneer hy dit sê, sê hy nie daardeur dat ons in smeking voor die Here moet kom nie, of om
smeking deel van ons lewe te maak, of iets dergeliks nie. Nee, hierdie dui
daarop, net soos die geval met genade waarna ons nou net gekyk het, dat dit
iets is waaroor die Heilige Gees beskik.
Weereens
sal dit ons help as ons na die Hebreeuse betekenis vir hierdie woord gaan kyk [תַּחֲנוּן
(tachanuwn, tachanuwnah /takh·an·oon/)]. Die Hebreeuse woord het dieselfde grondbetekenis as
dié van genade en is dus iets wat vanuit die Heilige Gees kom en wat aan ons
as gelowiges geskenk word. Wat is hierdie “smeking” wat Hy aan ons skenk? Omdat die grondbetekenis dieselfde is, is
die vrug daarvan ook dieselfde - Die Heilige Gees beskik oor iets en Hy
skenk dit aan ons en dit werk iets in ons binneste en wat is hierdie “iets”? Nadat Hy die
wedergeboorte uit genade aan ons geskenk het en ons tot diep sondeoortuiging
gekom het, werk Hy dan ook in ons die begeerte om tot God te smeek om vergifnis
en die verdere genade om die nuwe verhouding wat daar nou tussen God en ons
bestaan, nooit tot niet te laat gaan nie en daarom kan en mag ons en moet ons
Hom ook gereeld herinner aan Joh.10:28 ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore
gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
4. DIE LAND SAL TREUR (v.10b-14):
Wanneer
gelowiges die gawes van genade en smeking ontvang het, sal hulle noodwendig nou
dié Een raaksien wie hulle “doodgesteek” het. Hierdie is weereens ’n profesie van Sagaria wat dui op die lyding wat ons Verlosser, Jesus
Christus aan die kruis sou deurmaak en Hy het dit vir ons gedoen en daarom is
Sagaria reg as hy sê dat óns Jesus “doodgesteek” het, want as dit nie vir my en jou sonde was nie, sou Hy nie gesterf het
nie. Ja, dit is so dat diegene wie Jesus veroordeel en gekruisig het in die
woorde van Openb.1:7 gaan weeklaag wanneer Chirstus weer kom ~ Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom
deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.
Ja, dit is seker, maar ons was
egter ook daar; ons het Hom ook deurboor met ons sonde… “but for the
grace of God!”
Hierdie
uitspraak van Sagaria was natuurlik nie glashelder duidelik vir die mense in
wie se tyd hy geskryf het nie - enersyds is dit omdat dit juis ’n profesie was en wat natuurlik later eers in vervulling gegaan het en
die mense kon dit dus nie in hulle lewe sien en ervaar nie, maar anderyds was
dit ook die Waarheidsevangelie wat hy aan sy tydgenote gekommunikeer het, deur vir hulle te sê dat hulle vooruit moet kyk en na dié Een moet kyk en in Hom glo, wie nog in die toekoms aan
die kruis sou sterf - wat doodgesteek en deurboor sou word vir húlle sonde en hierdie feit was nie maklik om te sien en te erken nie -
maar nét soos in ons
dag!
Maar
soos gesê, Sagaria sê verder in vv.10b-14, dat wanneer gelowiges besef dat
Jesus vir hul sonde gesterf het, hulle daaroor sal treur. Hierdie is ’n eienaardige opmerking, want as gelowiges sou ’n mens dink, dat ons moet jubel en juig oor die feit dat Jesus vir ons
snde gesterf het, maar tog sê Sagaria, ons sal treur en huil oor Hom wie dood gesteek is. Trouens hy
gaan voort en sê in geen onduidelike taal hoe daar getreur sal word en ook wie almal
daaroor sal treur:
• Hoe word daar getreur (vv.10b-11)? Wanneer die
mense besef wat hulle gedoen het,
m.a.w. dat hulle die Verlosser gedood het, sal hulle treur soos wanneer ’n ouer treur wanneer sy enigste kind sou sterf. Nou ek weet genadiglik
nie wat en hoe dit moet voel om ’n kind aan die dood af te staan nie, wat nog te sê jou enigste kind. Ek kan my wel tot ’n geringe mate indink hoe dit moet voel, as ek maar net aan my kinders
dink en daaraan dink hoe ek sal reageer as ek die nuus moet ontvang dat een van
hulle gesterf het - dit moet op daardie oomblkik, verskriklik wees en sekerlik
vir ’n lang tyd
daarna ook nog.
Mense
wat weet sal vir jou sê dat wanneer so iets gebeur jy ’n klomp emosies gelyktydig ervaar en dat jou emosies lyk soos ’n gholfbal waarvan die buitenste laag afgeskil is -binne-in is daar ’n massa dun rekkies wat in mekaar verstrengel is. Baie van die emosies
wat jy ervaar is radikaal opponerende emosies - emosies soos bv. apatie;
gevoelens van verwerping; agressie; geloofskrisse wat kan uitmasel in rebellie teen God; depressie; onvermoë om enige iets te kan doen; stres; skok; vrees-aanvalle; onbedaarlike
huilsessies; uitputting en so kan ons aangaan - die “Grief Share”- kursus (p.4-5) noem ’n minimum van
159 moontlike manefestasies of reaksies wanneer daar getreur word oor die dood
van ’n geliefde.
Sagaria sê dat iemand wat besef dat Jesus vir Sy sonde gesterf het, daaroor moet
treur soos iemand wat ’n enigste kind aan die dood afgestaan het.
Sagaria
wil dus die intensiteit en omvang van hierdie besef aan ons deurgee. Waarom?
Waarom nie die vreugde en dankbaarheid nie? Wel, ek sou dink dat die finale
besef van wedergeboorte, opgevolg moet word (soos reeds netnou al gesê) met ’n diep sondebesef, want dit is my rebellie teen God; my afvalligheid; my
voortdutrende volharding in sonde en my deel aan die erfsonde (Adam se sonde), wat God
genoop het om Sy uitverkorenes te red en ten einde dít te doen, het God besluit dat Sy enigste Seun op die
altaar geplaas moes word as offer, ten einde ons te reinig - daar was geen
ander manier nie, want net ’n volmaakte Offerlam sou vir God aanvaarbaar wees om geoffer te word ten
einde volkome en permanente vergifnis vir ons te bewerkstellig en daardie
volmaakte Lam, sou maar net God se Seun kon wees, want geen ander wese is
sonder sonde en volmaak nie. Dit is dus eers na wedergeboorte en dan sondebesef
en belydenis (treur), dat die
vreugde kom.
Sagaria
vergelyk die verdriet en hartseer van die volk deur te verwys na koning Josua
se dood. Hy sê dat die mense meer sal treur as wat daar oor Hadad-Rimmon getreur was.
Nou wie of wat was Hadad-Rimmon?
Hadda-Rimmon
is in die vlaktes van Megiddo geleë en as ons na 2 Kron.35:20-25 blaai lees ons wat daar
gebeur het en waaroor die mense in Jerusalem getreur het ~ Alles wat Josia aan die tempel laat doen het, was afgehandel. Toe het
koning Neko van Egipte opgetrek om in Karkemis, aan die Eufraat, te gaan oorlog
maak. Josia het teen hom opgetrek, 21en Neko het met boodskappers vir hom laat weet: “Ons het niks teen mekaar nie, koning van Juda! My veldtog is dié keer nie teen jou nie, maar teen ’n vyand. God het gesê ek moet gou maak. Moenie in God se pad kom nie. Hy is by
my en Hy sal jou vernietig.” 22Josia het Neko egter nie met rus gelaat nie. Hy het hom vermom met die oog
op die geveg en nie geluister na wat Neko op bevel van God self gesê het nie. Hy het
vir Neko in die Megiddovlakte gaan aanval. 23Die boogskutters het koning Josia raakgeskiet, en hy het vir sy lyfwagte gesê: “Bring my uit, ek is swaar gewond.” 24Hulle het hom van die strydwa afgehaal, hom op ’n ander wa gesit en hom na Jerusalem toe gebring. Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf. Die
hele Juda en Jerusalem het oor Josia getreur. 25Jeremia het ’n treurlied oor Josia gedig, en al die sangers en sangeresse het oor Josia
gesing in hulle treurliedere. Dit word nou nog gedoen, dit het ’n gebruik in Israel geword. Die liedere is opgeteken in Die Treurliedere.
Na
hierdie veldslag waarin koning Josua gesterf het, het die volk baie getreur
soos duidelik blyk uit v.25. Waarom het die volk so verskriklik getreur oor
Josia se dood? Josia was die gom wat die herinneringe van ’n wonderlike verlede en ’n skitter toekoms aan mekaar gegom het en toe die volk se geliefde
koning sterf, het alle hoop op ’n wonderlike toekoms in die niet verdwyn. Hulle was van God verlate;
hulle was gedoem en die dreigende ballingskap het ’n al hoe groter realiteit geword - ’n tyd waar hulle vir dekades van God verlate sal voel en wees - voorwaar
iets om oor te treur.
Besef
jy - besef ons hoe lief God ons het? Ek het netnou maar net so effens gedeel
oor hoe dit moontlik voel om jou enigste kind aan die dood af te staan en
nogtans het God Sy enigste kind vrywilliglik aangebied, trouens Hy het opdrag
aan Sy Seun gegee om vir ons te sterf en wat meer is, Jesus was gehoorsaam en
Hy het Sy lewe vrywillig afgelê, sodat ons kinders van God genoem kan word!
Is
dit nie genoeg rede om te treur oor die hele situasie nie - ék was die oorsaak dat God, Sy enigste kind verloor het - aan die dood
afgestaan het! Eers wanneer ek daar is - wanneer ek my kan begin indink in God
die Vader se geweldige verlies en ek daaroor huil en ek my aandeel daarin erken
en bely en vergfnis daarvoor vra, kan ek begin jubel en juig oor die wete dat
God my deur Sy optrede; Sy reddingsplan; Sy opdrag aan Sy Seun en deur Jesus se
onbaatsugtige geskenk en -offer, gered het van ’n ewige dood.
Eers ’n “God-geskenkte” wedergeboorte, dan treur oor my sonde en wat dit tot
gevolg gehad het, en dan eers kom onuitspreeklike vreugde en onophoudelike
dankbaarheid, maar daar eindig die pad egter nie, want dan volg heiligmaking (dankbaarheidswerke) en
voortdurende sondebelydenis, omdat ons as wedergborenes steeds nie volmaak kan
optree nie as gevolg van die sondesmet wat aan ons bly kleef. Wanneer ons deur
hierdie proses gegaan het, sal ons aan die einde van ons lewe verheerlik word
en sal ons die Vader se stem hoor wat sê ~ Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou
aanstel. Kom in en deel in my vreugde! (Matt.25:21). En Luk.19:17 ~ Mooi so, jy is ’n goeie slaaf. Omdat jy in ’n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.
• Wie treur daaroor (vv.12-14)?
Nadat
Sagaria gesê het hoe die volk gaan treur, sê hy ook wie almal gaan treur en as ’n mens deur die lys lees, sien jy dat die ganse volk treur - van die
hoogste tot die laagste; van die invloedrykste tot die mindane. Die feit dat
elkeen huil en treur dui vir ons daarop dat die een nie die ander beïnvloed om te huil nie, maar dat elkeen uit eie oortuiging en op grond
van sy of haar eie persoonlike verdriet, huil en treur en dit is presies wat
gebeur wanneer gelowiges tot bekering kom - dit is elke keer ’n individuele en toegesptiste gebeurtenis en nie ’n massa-histerie soos so dikwels in sommige kringe gesien kan word nie (daarom het ek ook my bedenkinge oor massa bekerings - ek sê nie dit is onmoontlik nie, maar dit is iets wat net
tydens groot herlewings gebeur en nie sommer elke nou en dan met elke veldtog
wat gehou word nie) - jy kom nie tot bekering omdat ek
tot bekering kom nie en ek kom nie tot bekering omdat my vrou tot bekering kom
nie. Nee, elke gelowige (ware
gelowige) kom op unieke wyse tot wedergeboorte nadat die
Heilige Gees op unieke en persoonlike wyse in hom gewerk het om hom tot
oortuiging van sonde gebring het.
Ek
kan nie oor jou sonde huil omdat ek opregte berou daaroor het nie en jy kan ook nie oor my sonde treur nie - dit is ’n baie persoonlike en intieme saak tussen jou en die Here alleen.
Spreuke 14:10 sê ~ Net
’n mens self ken
die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan niemand anders
voluit deel nie.
5. REINIGING (13:1):
Hierdie
gedeelte van Sagaria sluit nie af met net slegte, of hartseer woorde nie. Soos
altyd die geval met die Blye Boodskap, sluit ook hierdie gedeelte af met goeie
en vreugdevolle nuus - 13:1 ~ Daardie dag sal
daar ’n fontein oopgemaak word om
die koningshuis van
Dawid en die inwoners van Jerusalem te reinig van hulle sonde en hulle vuilheid.
Daar
is vir elke sondaar reiniging beskikbaar. Esegiël het al in Eseg 36:25 gesê dat vergifnis beskikbaar is ~ Ek sal
reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle
reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Hierdie feit was geïllustreer deur die verwydering van Josua se besmette klere ~ …en die engel het vir sy helpers gesê: "Trek uit dié liederlike vuil klere van hom." Vir Jesua het hy gesê: "Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir
jou skoon klere aantrek” (Sag.3:4, 9).
Vir
die sondige en afvallige volk van Israel word vergifnis (weereens) aangebied, want met hierdie woord
wil Esegiël vir die volk
sê dat die lang verwagte Messias binnekort sou kom en dat hulle na Hom moet
kyk en in Hom glo, want in en deur Hom is daar vergifnis beskikbaar -
permanente en ewige vergifnis - reinigingswater wat hul sonde sal afwas.
6. AFSLUITING:
Hierdie
belofte geld ook vir elke mens wat die knie sal buig voor Jesus Christus as
Verlosser en in Hom glo en Hom navolg as dissipel - soos wat die Israeliete
vooruit moes kyk, moet ons terugkyk na die reeds afgehandelde offer aan die
kruis op Golgota en glo in Jesus Christus as Verlosser ~ Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien
oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy
het gedink die gevangenes het ontsnap. 28Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.”29Toe het die bewaarder ’n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” 31Hulle antwoord
hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Hand.16:27-31).
[Boodskap: Kobus van der Walt (Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente, 02 Augustus 2015)]