1. INLEIDING:
Ons
gaan vanoggend kyk na Sagaria 13 en hierdie kort hoofstuk is baie nou verwant
aan hoofstuk 12, beide chronologies en teologies. Op teologiese vlak, hanteer
hoofstuk 13 die reiniging van die sonde wat in hoofstuk 12 bely is.
Hierdie
twee hoofstukke word ook verbind deur dieselfde uitdrukking, nl. “daardie dag” kort-kort te gebruk - so bv. sien ons in 12:11 dat daar staan ~ Daardie dag sal
daar in Jerusalem meer getreur word as wat daar oor Hadad-Rimmon getreur is in
die Megiddovlakte. Hoofstuk 13 begin ook met die woorde, daardie dag. Dieselfde geld vir die uitdrukkings,
koningshuis van Dawid (12:10 en 13:1).
Hierdie
herhaling van woorde en uitdrukkings wys vir ons daarop dat hierdie twee
hoofstukke nie net ’n eenheid vorm nie, maar dat dit ook oor
dieselfde mense en tyd handel en chronologies dui dit daarop dat vergifnis en
reiniging altyd volg op berou en belydenis - hierdie is dan ook die punt van 2
Kron.7:14 ~ …en my volk oor
wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van
hulle bose weë af, sal Ek
luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.
2. SKRIFLESING:
Sag.13:1-9
~ Daardie dag sal daar ’n
fontein oopgemaak word om die koningshuis van Dawid en die inwoners van
Jerusalem te reinig van hulle sonde en hulle vuilheid.
2Daardie
dag, sê die
Here die Almagtige, laat Ek die gedagtenis aan die afgode verdwyn uit die land.
Daar sal nie meer aan hulle gedink word nie. Ek gaan ook die profete en die
gees van onreinheid uit die land verwyder. 3Wanneer
iemand nog profeet probeer wees, sal sy eie pa en ma sê: “Jy
mag nie lewe nie, want jy praat leuens in die Naam van die Here.”
So ’n
man se eie pa en ma sal hom doodsteek omdat hy profeet probeer wees.
4Daardie
dag sal elke profeet in die verleentheid wees met die gesigte wat hy as profeet
sien, en hy sal nie meer harige profeteklere aantrek om met sy bedrog aan te
gaan nie. 5Hy sal sê: “Ek
is nie ’n profeet nie, ek werk op die
lande, iemand het my
verkoop toe ek nog jonk was. 6En as iemand vir die profeet sê: “Wat
se wonde het jy dan op jou bors?” sal
hy antwoord: “Iemand
het my so geslaan in die huis van my vriende.”
7Kom,
swaard, tref die herder in my diens, sê die
Here die Almagtige, tref die man wat so na aan My is. Maak dood die herder, dat
die skape uitmekaargejaag kan word. Ek sal self optree, ook teen die kleinstes
onder hulle. 8Dwarsoor
die land, sê die Here, sal twee derdes van
hulle uitgeroei word en omkom. Daar sal net ’n
derde van hulle oorbly in die land, 9en
dié
derde sal Ek met vuur louter soos silwer gelouter word.
Ek sal hulle suiwer soos goud gesuiwer word. Hulle sal My aanroep, en Ek sal
hulle gebede verhoor. Ek sal sê: “Hulle
is my volk.”
En hulle sal sê: “Die
Here is ons God.”
3. DIE FONTEIN VAN REINIGING (vv.1-2):
Vers 1 begin
met die uitdrukking, “daardie dag”. Watter dag
is “daardie dag”? Dit is die dag waarop die finale oordeel
sal plaasvind en God se uitverkorenes finaal gered en verheerlik sal word. En
wat gebeur op daardie dag? Op …daardie dag sal
daar ’n fontein oopgemaak word om die koningshuis van Dawid en die inwoners van
Jerusalem te reinig van hulle sonde en hulle vuilheid.
Die
woord “fontein” in v.1 verwys na ’n waterbron
van skoon, helder en vars water wat spontaan uitbars en reiniging tot gevolg
het. Die reiniging wat hier ter sprake is, is egter ook deurentyd beskikbaar - ’n fontein wat
nooit ophou vloei nie.
Hierdie
uitdrukking kom gereeld in die Skrif voor, so lees ons bv. in Ps.36:9-10 die
volgende ~ Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit
die stroom van u genietinge. Want by U is die
fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig. In Jer.2:13
lees ons ~ Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende
water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te
kap, gebarste reënbakke wat geen water hou
nie. In Spr.14:27 lees ons hiedie pragtige woorde ~ Die vrees van
die Here is ’n fontein van die lewe, om
van die strikke van die dood af te wyk. Joël sê in Joël 3:18 ~ En op dié dag sal die
berge drup van mos en die heuwels vloei van melk en al die spruitjies van Juda
stroom van water; en uit die huis van die Here sal daar ’n fontein uitkom
om die dal Sittim te besproei. Selfs Jesus
het hierdie uitdrukking in Joh.4:14 gebruik ~ …maar elkeen wat
drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie,
maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van
water wat opspring tot in die ewige lewe.
Die doel met ’n fontein in
Bybelse terme is dus om te reinig van onreinheid. Hierdie reiniging was in die
Ou Testament gesimboliseer deur die reinigingsrituele en -offers en die doel
met hierdie rituele was om diegene wat daaraan deelgeneem het te herinner aan
die belofte van ’n beter verbond, die Nuwe Verbond, wat deur
Jeremia in Jer. 31:34 belowe is ~ En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here;
want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want
Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie. Ook Esegiël belowe dit
in Eseg.36:25 ~ Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat
julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle
reinig.
Waarvan word
die mense gereinig? Deut.9:18 sê dat dit ongehoorsaamheid
is aan God se Wet. Reiniging van sonde beteken dus dat die oortreders van God
se Wet - van God se wil; dit wat God ons beveel om te doen en nie te doen nie -
om ons derhalwe skoon te was van al ons
skuld teenoor God - om ons eens onrein en besmette lewe te reinig, sodat ons
rein en geheiligd voor God kan staan en dit doen Hy natuurlik deur Sy Seun se
soendood aan die kruis - Jesus Chirstus se dood, wat versoening tussen God en
elkeen wat in Jesus Chirstus glo, te bewerkstellig.
In
die Ou Verbondstydperk moes die mense gereing word met water (natuurlik
ook die Hoë Priester voor hy in die Allerheiligste een
maal per jaar op die groot Versoendag, gegaan het) en daarna
moes hulle ’n bloedoffer gebring het vir die versoening van hul sonde. Dit is
wonderlik om te sien hoe dat beide hierdie opdragte van reiniging en vergfnis
in Jesus vervul is toe Hy aan die kruis gesterf het - ons lees daarvan in
Joh.19:34 ~ Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en daar het
dadelik bloed en water uitgekom.
In
v.2 is daar weer sprake van “daardie dag” en dan sien ons dat die afgode en die profete en die onrein gees uit die
land sal trek. Daar gaan dus op die “Dag van die
Here” ’n skeiding plaasvind
tussen God se kinders aan die eenkant en alles wat boos is aan die anderkant en
dit móét gebeur, sodat God se kinders finaal gereinig en verheerlik kan word.
Alle gelowiges sal derhalwe op daardie dag finaal gereinig word van hulle
sondeskuld, maar ook van die mag van die sonde wat hulle so lank deur die loop
van hulle lewe geteister het.
4. DIE AFGODE EN VALS PROFETE VERWYDER (vv.2-6):
In
v.1 het Sagaria veryws na die innerlike reiniging van die volk, maar in vv.2-6
sonder hy twee booshede uit waar reiniging gaan plaasvind. Daar is sprake van
profete wat verwyder sal word; wat om die lewe gebring sal word; wat nie meer
harige profete-klere sal aantrek nie, ens., maar daar word ook verwys na die
reiniging van afgodery.
Beide
vals profete en afgodery was aan die orde van die dag onder volk net voor die
noordelike koninkryk voor die Assiriërs in 721
v.C.- en die suidelike koninkryk voor die Babiloniërs in 586
v.C. geval het.
In
v.2 sê Sagaria dat die afgode verwyder sal word en
dit sal so deeglik geskied dat die mense nie eens sal terug dink aan hulle nie.
As gelowiges is hierdie goeie nuus vir ons, want vir elkeen van ons wat worstel
met sonde in ons lewe, weet dat dit iets is wat baie lank na ons vergifnis
daarvoor ontvang het - lank nadat ons gereinig is daarvan, steeds terugdink
daaraan en dat ons baie dikwels wat baie van hierdie sonde betref, selfs nog
terug verlang daarna. Ek sê dat dit goeie
nuus is vir ons, want daar gaan ’n dag aanbreek (“op daardie
dag”) wanneer ons gedagtes en verlange na van ons sonde, finaal verwyder sal
word en ons nooit, ooit weer daaraan sal dink of daarna sal hunker nie.
Die
vals profete waarna Sagaria verwys, is sg. profete wat profesië uitgespreek het namens vals gode, maar ook mense wat hulle voorgedoen
het as profete van God Almagtig wat vermetelde, verwaande en vals, of onwaar
profesië gebring het. Lg. is in ooreenstemming met
Deut.18:20-22 ~ ’n Profeet wat hom dit
aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf. Dit
geld ook van ’n profeet wat in die naam
van ander gode praat. Volgens die
Mosaïse wette moes so ’n vals profeet deur die
swaard gedood word. Enersyds sal hiedie vals profete dus die ewige dood sterf,
maar dit is ook nodig dat hierdie profete verwyder sal word onder die heiliges,
sodat die uitverkorenes volkome gereing kan word.
Die
heilige en heerlike teenwoodigheid van God op “daardie dag” sal so oorweldigend wees - so skrikwekkend vir die onheiliges dat hulle
sal wil wegvlug van die aangesig van God - so ook die vals profete en daarom
sal hulle weier (beeldspraak) om die tradisionele
profetedrag te dra wat bestaan uit velklere en ’n velgordel om sy middel (2 Kon.1:8), omdat hulle
te bang sal wees vir die straf wat gaan volg op valsprofete. Trouens hulle sal
so bang wees dat hulle sal lieg oor die wonde (v.6) aan hul
liggame wat hulle tydens vals
godsdienstige rituele aan hul eie liggaame veroorsaak het [dink hier aan
die Suid-Amerikaners wat hulleself laat kruisig; ander weer wat hulself met
kettings en spykers slaan, ens. - die Hebreeuse woord wat
hier gebruik word, is baie onseker, daarom dat sommige vertalngs verwys na
wonde op die bors (NAV); tussen die hande (OAV); op die rug (ESV); tussen die
arms (NASB); ens.]. Wanneer hulle gevra sal word waar hierdie wonde
vandaan kom, sal hulle sê dat dit by hulle
vriende se huis opgedoen is.
5. DIE DEURBOORDE MESSIAS (vv.7-9):
Sommige
teoloë trek die lyn van v.6 na Jesus se kruisiging
en sê dat hierdie wonde in v.6 heenwys na die
wonde wat Jesus aan die kruis opgedoen het, maar dit is nie goeie eksegese wat
toegepas word as jy dit wil sê nie, want die
konteks waarin v.6 geskryf staan, verwys baie duidelik na vals profete en kan
dus nie na Jesus verwys nie, maar Sagaria maak wel hierdie sprong in die
volgende drie verse (vv.7-9) en is dit waarskynlik
een van die duidelikste sketse wat in die ganse Ou Testament gemaak is van
Jesus en Sy Bruid, die Kerk - hierdie drie verse het ‘n duidelike
Messiaanse boodskap.
In
vergelyking met die voorafgaande verse waar die Ou Testamentiese volk van God
verstrooi en gestraf is vir hul sonde (o.a. afgode en vals
profete) beweeg Sagaria nou na ’n toekomstige era waar
Israel weer gesuiwer sal word soos goud en silwer (vv.8-9) en die
oorblyfsel, God se nuwe volk sal wees (v.9).
In
v.7 is God self aan die woord en sê Hy dat Sy swaard, Hom wat in Sy diens staan, met ’n swaard gaan
tref. ’n Swaard weet ons, is simbool van dood. Wat verstommend hier is, is dat
God Sy eie Herder met die dood gaan slaan en hierdie herder van God, is Sy Seun
Jesus Christus. Hierdie is in ooreenstemming met Jesaja se profesie in
Jes.53:10 ~ Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat
ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy 'n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die
Here sy doel bereik.
Ons
sien dus reeds in die Ou Testament dat Jesus se dood aan die kruis op Golgota,
God se plan was om Sy Seun te offer, sodat die wie in Hom glo, gered kan word.
Wat egter interessant is, is dat Sagaria voortgaan en sê dat die Herder se dood tot gevolg sal hê dat die skape uitmekaar gejaag sal word. Hoe moet ons dit verstaan? Baie
mense glo dat hier na die volk Israel verwys word, wat nie lank na Christus se
dood en opstanding en hemelvaart, of gedood, of uitmekaar gejaag is gedurende
70 n.C. met die val van Jerusalem, maar dit kan nie wees nie, want in Joh.10:26
was Jesus baie duidelik daaroor, dat hulle nie Sy skape is nie, omdat hulle
nie glo nie. Wie dan is hierdie skape waarna Sagaria verwys? Verder weet ons
ook dat die die eertydse volk van God - Israel, vervulling gevind het in die
Nuwe Testamentiese Israel, nl. al die uitverkore gelowiges in Jesus Christus.
Hierdie skape is dus die gelowiges. Maar waarom word hulle uitmekaargejaag?
Eerstens het Jesus dit reeds voorspel in Joh.16:32 toe Hy gesê het ~ Kyk, daar kom 'n
tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie
koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat
die Vader by My is.
In
Hand.8:1-4 lees ons wat met die gelowiges na Stefanus se marteldood gebeur het
~ Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur. Daardie dag het daar 'n hewige
vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die
apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria.
Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou.
Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en
vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit. Die gelowiges wat
uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie
verkondig. Beide Jakobus (Jak.1:1) en Petrus (1 Pet.1:1) verwys ook
na die Kerk as …vreemdelinge in
die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies. Petrus sê ook in 1 Pet.2:11 ~ Geliefdes, in die wêreld is julle
vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan
sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe.
Waarom
moet die gelowiges vervolg word en “uitmekaar
gejaag” word? Waarom word hulle “veroordeel en
uitgeroei” (baie mense sal hier praat van ’n “wrede God” waarmee hulle niks te doen wl hê nie) - wat gee aanleiding tot hierdie optrede van God? Jesus sê in
Matt.16:24-25 ~ Toe sê Jesus vir sy dissipels: "As iemand
agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis
opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy
lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. In Matt.10:38 het Jesus gesê
~ Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort
nie. Waarom moet ons, ons kruis opneem om Jesus na te volg; waarom moet ons
swaarkry; waarom moet ons vreemdelinge in hierdie wêreld wees;
waarom moet ons vervolg en uitmekaar gejaag word? Wel, eerstens omdat ons
Meester al hierdie dinge deurgemaak het en wanneer ons ook swaarkry,
identifiseer ons met Sy swaarkry. Is dit egter genoeg rede? Wat meer is, alle
mense (ook heidene, kry swaar)? Wat Jesus hiermee bedoel, is dat ons ons
lewe moet toewy aan Hom en gehoorsaam moet wees aan Hom - selfs tot die dood
toe. Vir Jesus om aan die kruis te gesterf het, was nie kinderspeletjies nie,
trouens dit was geweldig pynlik en vernederend en die implikasie daarvan vir
ons as gelowiges, is dat ons bereid moet wees om te alle tye gehoorsaam aan Hom
te wees, al het dit pyn en lyding - ja selfs die dood, tot gevolg.
V.9
verskaf aan ons die antwoord, nl. dat die klein oorblyfsel (een derde), deur vuur
gelouter sal word soos silwer gelouter word en soos silwer en goud gesuiwer
word. Gelowiges word vergelyk met silwer en goud, maar ons kort suiwering. Aan
die “einde van die dae” sal elke
gelowige gesuiwer wees van alle dros wat nog aan ons mag kleef en sal ons
heilig en vlekkeloos voor God kan staan ~ Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie
bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle
geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat
vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid
van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer
waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus (1 Pet.1:6-7).
Terwyl
ons gelouter word sê Sagaria sal
ons die Here aanroep en Hy sál ons hoor (v.9). Hierdie is ’n belofte wat
regdeur die Skrif aan God se kinders gegee word - o.a. Ps.91:15 ~ Wanneer hy My
aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red
en hom in sy eer herstel. Trouens Jesaja sê in Jes.65:24 ~ Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl
hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor. Wat ’n belofte!
Wat ’n vreugde!
7. AFSLUITING:
Reeds in die
Ou Testamentiese tyd het die mense geweet dat hulle verlore is; dat hulle
onrein voor God staan en daarom het hulle reiniging nodig gehad. Ongelukkig het
talle en talle Jode bloot net deur die rituele gegaan en nooit hulle vertroue
en geloof in die beloofde Messias Jesus Christus geplaas nie - hulle was dus
nooit deel van die uitverkorenes nie - net so is daar miljoene wat ná Christus ook nie deel van die uitverkorenes was, of is nie, omdat hulle
nie in die reeds gekome Verlosser, Jesus Christus geglo het nie.
Indien jy
vandag dalk wonder of jy uitverkies is; of jy “op daardie
dag” - die Dag van die Here verheerlk sal word -
luister dan na Martin Luther se woorde: Are you elect? If you follow this
advice, if you first recognize that you are a child of wrath by nature, guilty
of eternal death and damnation, from which no creature, either man or angel, is
able to save you, and if you then grasp God’s promise,
believing that He… has sent
Christ, His only Son, to render satisfaction for your sin, to give you His
innocense and righteousness, and finally to redeem you from all danger and
death, then do not doubt that you belong to the little flock of the elect.
Erken
jy dat jy van nature boos en onrein is? Verdien jy op grond daarvan die ewige
dood waaruit jy nooit sal kan ontsnap nie? MAAR, glo jy in die Woord van die
Here wanneer dit in Hand.13:38-39 sê ~ Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van
sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen
wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle
deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie. As jy dit
glo, is jy gered en is jy deel van die uitverkorenes - Leef nou daarvolgens en
as dit gepaard gaan (en dit sal) met vervolgng oor jou
gehoorsaamheid, weet dat Hy identifiseer met ons swaarkry, want Hy het self
daardeur gegaan en daardeur word ons gesuiwer, ten einde vlekkeloos voor die
heilige God te kan staan!
[Boodskap: Kobus van der Walt (3Riviere Baptiste Kerk,
23 Augustus 2015)]