Tuesday, June 2, 2015

Die Heilige Gees - 01 (“Vervulling met die Heilige Gees”)

1.   INLEIDING:
      Die Kerk van die Here Jesus vier vandag wêreldwyd Pinksterdag - die dag waarop die Heilige Gees oor Jesus se dissipels afgekom het, nadat Hy in Hand.1:4-5 vir hulle gesê het ~ Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.

      Kort nadat Jesus opgevaar het na die hemel, is Sy dissipels na Jerusalem terug en na n tydjie, tydens die Paasfees het iets merkwaardigs gebeur - kom ons hoor wat Lukas sê wat gebeur het ~ Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van' n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen (Hand.2:1-4).

      Die vraag waarna ek vandag wil kyk, is wat dit beteken om vervul te wees met die Heilige Gees en daarvoor wil ek n gedeelte van die Apostel Paulus in 2 Korintiërs lees, asook een vers uit Efesiërs.

2.   SKRIFLESING:
      2 Kor.3:1-9 ~ 1) BEGIN ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe nodig aan julle of van julle? 2) Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; 3) omdat julle duidelik n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart. 4) So n vertroue het ons deur Christus by God. 5) Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, 6) wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. 7) En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, 8) hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie? 9) Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid.

      Ef.5:18 ~ Moenie dronk word van wyn nie daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul (OAV).

3.   DIE PRAKTIESE LEWE VAN N GELOWIGE:
      Die Apostel Paulus was n merkwaardige man. Behalwe dat hy n vlymskerp verstand gehad het, was hy terselfdertyd evangelis en prediker, asook kerkplanter; skrywer en leraar, maar hy was ook n sagmoedige en simpatieke herder. Ook kan geen ander teoloog deur al die eeue heen, se geskrifte en lering vergelyk word met Paulus se leersukke oor die Christelike geloof nie.

      As ons na ons Skriflesing kyk (en talle ander Skrifgedeeltes - dink maar net aan Efesiërs en Korintiërs), is dit duidelik dat Paulus net so besorgd was oor die toepassing van die Woord in die alledaagse lewe, as wat hy was oor die suiwere leer van die Woord van God. Daarom het hy dan ook gesê dat gelowiges hul geloof moet lééf en dit nie net as blote filosofie moet beskou nie.

      Paulus het egter nie net die praktiese uitleef van die Woord beklemtoon nie - hy het ook in die lig van die Skrif, enige praktiese probleem eers op n leerstellige wyse benader en daarom plaas hy altyd eers n praktiese probleem in die konteks van die Waarhede van die Woord en daarna sal hy eers by n oplossing kom, of n oplossing aan die hand doen.

      Dit is waarom hy dan ook in Ef.5:18, die gelowiges daaraan herinner dat hulle, hul praktiese lewe (dit sluit in alle fasette van hul lewe - hul persoonlike lewe; hul huwelikslewe; hul gesinslewe en ook hul werk) in oënskou moet neem en dit op só n wyse moet lééf, dat dit n getuienis van hul geloof, wat gebaseer is op die Waarhede van die Skrif, sal wees. M.a.w. hule lewe in alle praktiese sfere van die lewe moet daarvan getuig dat hulle vervul is met die Heilige Gees.

4.   KONTRAS, OOREENKOMS EN VERGELYKING:
      Wanneer Paulus die Geesvervulde lewe teenoor dronkenskap in Ef.5:18 stel, wil hy nie daarmee insinueer dat hulle dronklappe is nie - ja, dronkenskap word óók deur Paulus afgekeur en veroordeel, maar die klem val nie hier op die misbruik van alkohol nie, maar op n geesvervulde lewe en die praktiese uitlewing van  die Bybelse Waarhede in en deur so n Geesvervulde gelowige se  lewe.

      Paulus wil deur ons Skriflesing vanoggend, n nóg meer positiewe kykie gee na die Christelike lewe. In die vooraf gedeeltes van Korintiërs het hy meer gekonsentreer op o.a. die negatiewe verskille tussen die oumens en n nuwe lewe in Christus. Paulus wil egter nou vir sy lesers op n positiewe wyse bewus maak van die nuwe lewe in die Gees. Die vraag is egter waarom hy n nuwe lewe in die Gees kontrasteer met dronkenskap - n mens kan amper sê dat dit grens aan die absurde.

      Op die oog af lyk dit asof Paulus vir sy lesers wil sê, dat n kenmerk van die ou lewe buite Christus Jesus, een van o.a. dronkenskap is en dat die nuwe lewe in Jesus Christus, een is van Geesvervuldheid. Wanneer ons hierdie afleiding maak, is ons nie heeltemal van die spoor af nie, want daar word in die tweede helfte van Rom.1, asook in Ef.4:19 verwys na die heidene se losbandige lewe en wil Paulus dus die kontras baie duidelik maak aan sy lesers, nl. dat hule nie soos die heidene moet leef nie, omdat hulle nuwe skepsele in Jesus Christus geword het. Soos so dikwels die geval is met Paulus, val die klem dus op die maar in die vers ~ Moenie dronk word van wyn nie daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul (Ef.5:18 - OAV).

      ’n Ander rede vir hierdie vergelyking kan wees dat Paulus die Pinkstergebeure in herinnering roep, nl. waar die ongelowiges, ná die uitstorting van die Heilige Gees, die volgelinge van Jesus gespot het en gesê het dat hulle dronk is ~ Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn (Hand.2:13 - OAV).

      Ons lees verder in Hand.2 van vers 14 af dat n groot menigte mense saamgedrom het om te sien wat aan die gebeur was nadat die Heilige Gees op Christus se dissipels uitgestort is, waarop Petrus opgestaan het en o.l.v. die Heilige Gees die mense toegespreek het en vir hulle die volgende gesê het ~ Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege- uur in die môre. Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree. Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee:bloed en vuur en rookwolke. Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. So sal dit dan wees:elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word (Hand.2:14-21).

      Paulus het hoogs waarskynlik hier n element van kontras beklemtoon, maar ook n element van ooreenkoms. Wat die kontras betref - wanneer ons na die Grieks kyk, sal ons sien dat hierdie gedeelte in die imperatiewe vorm (bevelsvorm) geskryf is en daarom sê Paulus dat wat die dronkenskap aan betref  - so moet dit nooit met ons wees nie en wat die wandel in die Gees betref - so moet dit altyd wees.
     
      Dit is dus baie duidelik dat Paulus hier sê dat die emosionele manefestasies in watter vorm ookal, wanneer ons met die Gees vervuld is, nié dieselfde ervaring is soos iemand wat beskonke van soetwyn is nie.

      Net so ietsie oor emosies en die Heilige Gees - ons moet besef dat emosies altyd deel van ons wandel met die Here sal wees - emosies sal altyd teenwoordig wees wanneer ons Geesvervuld is, maar ons moet besef dat hierdie emosies nié noodwendig altyd ekstase is nie; uitbundige vreugde nie; gevul om halleluja te skree, ens nie. Ja, dit kan dit ook wees, maar om stil tevrede te wees; om dankbaar te voel; om ernstig te wees - dit is alles ook emosies - emosies wat gepaard gaan met Geesvervuldheid.

      Wat ons moet besef is dat ons nie emosies moet soek nie; dat ons nie emosies moet opklits, ten einde n atmosfeer te skep; of om allerlei soorte goed-voel gevoelens te ervaar nie - ons as Geesvervulde gelowiges, moet die aangesig van God soek en in ons lofprysing en aanbidding; in ons lewenswandel, die eer van God soek en dán sal ons emosies beleef - emosies, soos gesê, wat nie noodwendig dié van eksatse sal wees nie - dit kan selfs n oortuiging van sonde wees - sondebesef dus wat ook gepaard kan gaan met emosies - emosies soos huil - huil oor jou sonde.

      Die punt is dat ons nie emosies moet soek deur bv. n gig te hou nie, maar om in die eerste en laatse plek God te verheerlik - eenvoudig gestel, ons fokus moet op Hom wees en nie ons emosies nie - en as jy nooit emosies van uitbundighed ervaar nie, is daar nie noodwendig iets verkeerd met jou verhouding met die Here nie, trouens ek wonder soms hoe gereeld, indien ooit het Calvyn en die Puriteine en Spurgeon en meer kontemporêre gelowiges al uitbundigheid ervaar, eerder as erns en n gees van aanbidding - moenie dat die vyand (satan) jou aankla oor n sogenaamde gebrek aan uiterlike, uitbundige emosies nie - dis n leuen wat hy aan jou opdis! 

5.   WAT BEHELS N GEESVERVULDE LEWE?
      Toe Wycliffe die Bybel destyds vertaal het, het hy Ef.5:18 as volg vertaal ~ Be not filled with wine, but be filled woth the Spirit. Die hele gedagte is dus om aan te toon dat n dronkaard nie net n mondjievol wyn geneem het nie, maar hy is vol van wyn - en dit maak van hom n ander mens, n mens wie hy nie regtig self is nie.

      Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik vir dronk is μεθύσκω [methyskō], wat letterlik deurweek beteken. Wanneer die mense in Paulus se tyd n stuk vel wou gebruik en dit graag wou rek en brei, het hulle die vel in n verskeidenheid van olies en vette geweek en in die proses het die vel soepel en rekbaar geraak en kon hulle met die vel doen wat hulle wou - spantoue, riempies, of wat ookal.

      Paulus wil dus eintlik sê dat n dronkaard so vol en deurweek is van wyn, dat hy nie meer beheer oor homself het nie - só mag ons nie wees nie, maar ons moet so vol en deurweek raak van die Heilige Gees, dat Hy beheer oor ons sal kry (soos die breier van velle, beheer kry oor die vel wat hy brei)

      In Ef.5:15-17 sê Paulus ~ Wees baie versigtig hoe julle lewe:nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. Ons sien dus hier, dat n Geesvervulde lewe, n beheerde lewe en n gesonde geordende lewe is. Dit is dus net die teenoorgestelde van dié van n dronkaard se lewe. Hoe lyk n dronkaard se lewe? Hy het beheer oor homself verloor; sy lewe raak buite orde en chaoties, want hy word deur die soetwyn beheer.

-     Daarteenoor sê Paulus dat een van die hoogste prioriteite in n
gelowige se lewe, juis beheer en orde is ~ Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing (2 Tim.1:7). Net so tussen hakies - is alle eredienste in kerke waar daar geesdrywery plaasvind, of waar daar n gig plaasvind met bands, flikkerende ligte en n geskreeu, selfbeheersd?

-     Tweedens sê Paulus dat n Geesvervulde lewe nie n lewe is wat vermors word nie, maar dat dit n produktiewe lewe is, want soos wat n dronkaard sy lewe weggooi; sy tyd verspil en sy energie en sy geld en baie dikwels ook uiteindelik sy gesin verkwis en verloor, so gooi hy ook sy reinheid en sy moraliteit baie dikwels in die proses weg. Die gelowige se lewe daarenteen, is presies die teenoorgestelde - dit bewaar; dit bou op; dit voeg waarde by en dit put nie die gelowige, sy gesin en sy hulpbronne uit nie. In teenstelling met n dronkaard, is die gelowige se lewe positief en gelukkig, want dit skenk nuwe lewe in en deur Jesus Christus. Die Geesvervulde gelowige sien uit na n opwindende lewe hier op aarde en veral na die ewige lewe.

      Die vraag wat ons nou dadelik kan vra, is: Hoe is dit moontlik om n geordende- en beheerde lewe te lei? Hoe is dit moontlik om positief en gelukkig te wees, want ons sit met allerlei probleme en frustrasies rondom ons - in ons werksmilieu; in ons land en ja, ook soms en in sommige gevalle, selfs in ons huwelike en/of gesins opset en soms selfs ook met mede-gelowiges? Is dit moontlik en hoe is dit moontlik om te leef soos wat ons as Geesvervulde gelowiges kan en behoort te lewe?

      Wanneer ons na ander Skrifgedeeltes kyk wat deur o.a Paulus geskryf is, sien ons hoe hy praat oor allerlei probleemsituasies en probleemverhoudings. So suggereer hy bv. in Ef.4:25-32 dat wêreldlinge vals optree en maklk kwaad word; wat steel; wat lui is; wat vuiltaal gebruik en vloek en skel; wat skinder en afbrekend praat oor andere; wat nie hartlik is teenoor andere nie, ens. In Ef.5:1-18 praat hy verder oor soortgelyke dinge waaraan die wêreld hulleself skuldig maak - dinge soos leuens wat aan die orde van die dag in die wêreld is, ens. en dit is asof hy ook aan die Efesiërs (net soos aan die Korintiërs) wil sê: Moenie ontvlug in drank soos die wêreld nie - nee, dank die Here, want ten minste is daar vir ons as gelowiges, n oplossing en daarom moet julle hierdie oplossing wat ek nou vir julle gee, in die praktyk begin toepas, nl. word met die Gees vervul.

      Ten einde ons geloof dus prakties uit te leef, moet ons met die Gees vervul wees en natuurlik - ten einde met die Gees vervul te wees, moet ek deel hê aan die Koninkryk van God - moet ek wederbaar wees.

6.   BETEKENIS:
      Wat beteken dit om met die Gees vervul te wees? Kom ons kyk eerstens na Ef.1:13 ~ Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël

      Paulus sê hier dat ons wedergeboorte deur die Heilige Gees plaasgevind het, maar in Ef.5:18 sê hy dat ons met die Gees vervul moet word - hoe klop dit? Ten einde n antwoord hierop te kry, moet ons ook na ander Skrifgedeeltes kyk:
Ef.1:23 ~ Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
Ef.3:19 ~ Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Ef.4:10 ~ Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.

      Ons sien ook in hierdie teksverse dat die woorde volheid en vervulling dui op eenheid met die Drie-Enige God - n eenheid, of eenwording tussen ons en God en wat afgehandel word tydens wedergeboorte.

      Ten einde dan vervul te wees met die Heilige Gees, is om daardie spesifieke eenheid met God te beleef en daarvolgens te leef. Ons moet derhalwe toelaat dat ons lewe n getuienis sal wees van die teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees.

      Wat beteken dit? Ef.5:18 (word vervul met die Gees) is in ooreenstemming met Ef.1:16b-17 ~ Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.

      Dit is ook in ooreenstemming met Paulus se ander gebed in Ef.3:16 ~ Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word.

      In beide hierdie gevalle word die klem geplaas op ons verantwoordelikheid om oop en ontvanklik te wees vir die Heilige Gees. Ons kan dus nie God die Heilige Gees manipuleer nie, maar ons moet wel betrokke wees.

      Ons moet ook in gedagte hou dat Paulus hierdie brief nié aan individue geskryf het nie, maar aan die gemeente korporatief en daarom moet ons as gemeente ook gevul wees met die Heilige Gees. Die gebruik van die werkwoord in Grieks vir vervul in hierdie geval, is een van voortdurende vervulling met die Gees (nie net hier in hierdie gebou nie, maar ook daarbuite in ons privaat lewens, want ons is ook daar gemeente).

      Ons het n keuse tot watter mate ons betroke wil wees by die Gees se werk in ons lewe - in ons gemeente. Van die vyf deelwoorde wat in Grieks gebruik word om n lewe in die Gees te beskryf, het drie dinge te doen met sang (lofprysing) ~ en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here (Ef.5:19). Sang is een van die natuurlike wyses waarop die gelowige uitdrukking gee aan sy vreugde en dankbaarheid vir wat God in Hom deponeer en aan hom geskenk het.

      Dit is ook interessant om te sien dat die doel met sang in die gemeente, beide lofprysing, maar ook onderrig is - onderrig in die sin dat gelowiges deur hul sang, mekaar en hulself aan God se goedheid; Sy genade; Sy verlossingsdade; Sy wederkoms; Sy grootsheid, ens. herinner. Deur sang bring die gemeente ook dank aan die Here en pleit die gemeente by die Here, ens. - dit is dus n ander vorm van korporatiewe gebed en daarom moet ons dit met erns bejeën.

      Die vierde deelwoord wat vir vervul gebruik word, het te doen met dankbaarheid - n dankbaarheidslewe teenoor God dus - dankbaarheid oor en vir alles. Die Efesiërbrief se susterbrief, nl. Kolossense, is vol van hierdie tema van dankbaarheid - bv. Kol.3:15-17 ~ En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom (sien ook Kol.4:2).

      Die vyfde deelwoord vind ons in Ef.5:21 ~ Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Mense wat dus vervul is met die Heilige Gees, is mense wat aan mekaar onderdanig is. Hierdie woord onderwerp beteken letterlik om onder mekaar te rangskik.

      Ons vind hierdie selfde woord o.a. in Rom.8:7 (sien ook Ef.1:22; 1 Pet.5:5; 1 Kor.14:32). Onderwerping is n kritiese bestanddeel van die Christelike lewe. Christus self het hierdie beginsel aan ons gemodelleer - geen wonder dan dat Hy in Matt.23:12 sê ~ Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.

      Net baie kort - Wat beteken dit om aan mekaar onderdanig te wees? Wel, ek dink een teksvers som dit pragtig op, nl. Fil.2:3 ~ Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homselfag die een hoër as dia jouself.

      Die basiese beginsels vir Christelike onderwerping, of onderdanigheid wat die gemeentelwe moet rig, geld ook vir alle ander sosiale verhoudings en daarom spreek Paulus dit ook aan in Ef.5:22-33 waar hy die verhouding tussen vrouens en mans omskryf. In Ef.6:1-4 gaan dit oor kinders en ouers en Ef.6:5-9, slawe en hul meesters, of in ons konteks, werkgewers en werknemers.

7.   AFSLUITING:
      Om op te som dan: Hoe word ons vervul met die Heilige Gees?
-     Leef n beheerde en geordende lewe.
-     Leef n produktiewe lewe.
-     Leef n positiewe en gelukkige lewe.
-     Deur sang en lofprysing.
-     Deur n dankbaarheidslewe.
-     Deur aan mekaar onderdanig te wees.


      Mag dit ook ons gesindheid wees ten einde as gemeente vervul te wees met die Heilige Gees en mag ons met heilige jaloesie waak oor ons korporatiewe vervulling met die Heilige Gees, deur mede-gelowiges in liefde aan te spreek oor sonde in hul lewe - sonde wat die Gees in die midde van ons gemeente kan bedroef en as dit gebeur kan ons nie vrug in en deur ons gemeente verwag nie - waak dus gesamtlik oor ons vervulling met die Gees en as ons in sonde is - word met die Gees vervul - opnuut en by herhaling!

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 31 Mei 2015