Sunday, June 21, 2015

Die Handelinge van die Apostels - 02 (“God se Koninkryk”)

1.   INLEIDING:
      In die eerste paar verse van die inleidende gedeelte van Handeling, het ons verlede week gesien dat Lukas twee verse (vv.1-2) wat histories van aard is, as n inleiding geskryf het. Daarna het hy verwys na die veertig-dae tydperk voor Jesus hemelvaart waarin Jesus aan Sy volgelinge verskyn het (vv.3-5).

      In die volgende gedeelte gaan Lukas voort en verwys hy na n spesifieke vraag wat die elf dissipels aan Jesus gevra het gedurende hierdie 40-dae tydperk, asook Jesus se gelaaide antwoord op hierdie vraag.

      Vandag gaan ons kyk na Jesus se veelseggende antwoord op die dissieples se oënsynlike dom vraag en ons sal ook sien hoe dat Jesus in n baie kort sinnetjie vir ons presies vertel wat die Koninkryk van God is en wat ons verantwoordelikheid t.o.v. God se Koninkryk is.

2.   SKRIFLESING:
      Hand.1:6-8 ~ Toe hulle 'n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?" 7)Hy het hulle geantwoord: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8)Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld."

3.   DIE VRAAG EN ANTWOORD (vv.6-8a):
      Gedurende die laaste dae (40 dae) wat Jesus saam met Sy volgelinge op aarde was, het Hy oor baie onderwerpe met hulle gedeel en hier in vv.6-9 vind ons nog so n onderwerp.

      In v.6 word die vraag aan Jesus gevra, of die tyd aangebreek het dat Hy nou weer Israel se koninkryk gaan oprig? Wie presies die vraag gevra het, weet ons nie, maar die werkwoord vra, is in die Grieks op so n wyse gestel, dat die implikasie is dat die dissipels eensgesind was in die vraag wat aan Jesus gestel is.

      Steeds is die dissipels gepla met die hier en die nou - gaan hulle Messias hulle nou verlos van die Romeinse onderdrukking; gaan daar weer n koning in Jerusalem sit? Jesus se reaksie hierop is kort en kragtig, met die klem op die kragtig - n kort antwoord, maar n swaar gelaaide antwoord. Hy sê vir hulle dat hulle, hulle nie moet bekommer oor sulke detail nie - oor die nou; die hier; die Romeine; Jerusalem, ens. nie - nee, daar is n veel-veel groter prentjie wat hulle nie nou sien nie, maar hulle sal dit weldra verstaan en sien.

      Net soos die dissipels moet ons, ons nie bekommer oor die Vader se planne en wil nie, soos wanneer en hoe Hy gaan kom nie; hoe my toekoms gaan uitrol; ens. nie  Nee, ons moet die detail aan Hom oorlaat - Hy is soewerein; Hy is alwys; Hy is almagtig; Hy is alomteenwoordig, trouens Hy is God van die heelal en daarom sal Hy tog immer volkome en tot in die fynste besonderhede in beheer wees en die detail in volmaakte besonderhede in plek laat val - ook in my en jou lewe. Hou net jou oë gefikseer op die Here en vertrou Hom vir die hier en die nou, maar vertrou ook jou toekoms aan Hom toe - Hy wás en ís en sál tot in ewigheid in volkome beheer van die ganse skepping wees - ook van jou lewe. Dit is vir ons baie maklik om God vir die groot dinge te vertrou (bv. dat Hy die sterre in hul bane hou), waarom nie ook vir die kleine nie - vir jou?

      Terug by die dissipels se vraag: Gaan U nou weer Israel se koninkryk oprig? Die fout wat die dissipels gemaak het, was dat hulle beide die aard van die Koninkryk en die verband tussen die Koninkryk en die Heilige Gees verkeerd verstaan het. Hierdie vraag van die dissipels het Jesus waarskynlik ontstel, want hoe kon die dissipels na so n intensiewe paar jaar onder Sy lering, nogsteeds nie oor die nodige insig beskik nie.

      Die werkwoord, die naamwoord en die bywoord in hul vraag het hul leerstellige en gebrekkige insig en verwarring blootgelê, want die werkwoord oprig of in die ESV, restore (v.6) dui daarop dat hulle n politieke en territoriale koninkryk verwag het. Die naamwoord Israel dui daarop dat hulle n baie spesifieke nasionale koninkryk verwag het en die bywoordelike sin, is dit nou die tyd, dui weer daarop dat hulle dit baie binnekort verwag het, of dalk eerder, soos in onmiddellik.

      In Jesus se reaksie op hierdie vraag, spreek Hy vyf sake aan:
   God se Koninkryk is geestelik van aard: Ons ken almal koninkryk in terme van n territoriale gebied wat deur n aardse monarg regeer word - soos bv. die Britse koninkryk, of die Hindu koninkryk van Nepal, ens. Die Koninkryk van God is egter nie n bepaalde grondgebied nie - dit kan m.a.w. nie gekarteer word nie, want dit is n geestelike koninkryk. Die dissipels, was net soos Josef van die Joodse dorpie Arimatea (Luk.23:51), of die Emmausgangers (Luk.24:21), wat n fisiese; aardse en gekarteerde koninkryk verwag het.

      Die groot probleem met die meeste Israeliete wat Jesus as aardse koning begin volg het, is dat hulle geweldig verward en ontnugterd geraak het na Jesus se kruisdood. Toe die dissipels Jesus weer lewend sien en ervaar, het hulle meer hoop as ooit tevore gehad dat dit nie anders kan as dat Jesus die Israelitiese koninkryk totstand gaan bring nie, maar die vraag is: Wanneer? Dit is wat hulle Hom nou gevra het.

      In Sy antwoord gaan Hy terug na die onderwerp oor die Heilige Gees wat Hy in vv.1-5 aangehaal het, nl. dat hulle krag sal ontvang wanneer hulle gedoop sal word met die Heilige Gees. Hierdie verband tussen die Heilige Gees en die dissipels se vraag oor die koninkryk, is belangrik om in gedagte te hou, want die bemagtiging met krag van Bo is inherent deel daarvan om burgers van God se Koninkryk te wees (m.a.w. dit is slegs wedergeborenes wat die Heilige Gees ontvang) en hierdie krag waarvan Jesus praat is totaal en al anders as die krag wat gesetel is in aardse koninkryke en hul burgers, want die uitbreiding van die koninkryk waaraan die dissipels dink, gaan gepaard met menslike krag en mag, terwyl die uitbreiding van die Koninkryk wat Jesus in gedagte het - die Koninkryk van God, geskied o.l.v. die krag van die Heilige Gees en gaan gepaard met gehoorsame en gewillige soldate (gelowiges) wat gedrewe deur die Heilige Gees, die Evangelie van vrede en vergfnis en genade uitdra en daarom sonder mag en geweld.

      Die feit dat God se Koninkryk nie gerig word deur enige menslike stelsels en wette nie, hou dit steeds vir ons as gelowiges, geweldige implikasies in t.o.v. ons politieke en sosiale lewe en optrede. Ons as gelowiges moet derhalwe versigtig wees om nie die aardse regeringstelsel te minag en in opstand kom daarteen nie, net omdat ons glo en vashou aan en optree namens en in die lig van die geestelike- of hemelse Koninkryk nie. Ons moet altyd n gesonde- en Bybelse balans handhaadf en o.a. Jesus se lering oor die keiser (Matt.22:19-21) in gedagte hou en soos goeie burgers van God se Koninkryk ons ook hou by die landswette en ons onderwerp aan die gesag wat oor ons gestel is - natuurlik net tot so n mate dat God se wil en eer nie aangetas word nie.

   God se Koninkryk is n kragtige Koninkryk: Ons lees in v.8 dat Jesus sê dat die dissipels krag sal ontvang. Die Griekse woord wat hier gebruik word is δύναμις (dynamis) en dui op n kragtige ontploffing, m.a.w. wat Jesus hier gesê het, is dat die Heilige Gees wat ná Sy hemelvaart sou kom, n lewens veranderende krag sal wees, wat deur die verkondiging van die Evangelie mense vir altyd sal verander - n krag wat eens verlore mense op n punt sal bring waar hulle, hul sonde sal bely en God se geretigheid vir hul lewens sal soek en wat daarna hulle daarvoor sal beywer om Jesus Christus te dien en na te volg - “’n kragtige ontploffing in n nuwe lewe in!

      God se Koninkryk is n Koninkryk van Waarheid: Ons lees in Joh.18 dat Jesus daarvan beskuldig is dat Hy Homself voorgedoen het as koning van die Jode en Hy uiteindelik deur Pilatus verhoor is. Pilatus het Hom gevra of Hy die koning van die Jode is, waarop Jesus geantwoord het ~ My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie (v.36). Hierop het Pilatus gesê ~ Dan is jy tog wel 'n koning? (v.37), waarop Jesus toe antwoord ~  Dit is soos u sê: Ek is' n koning. Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê (v.38).

      Presies dit wat Jesus vir Pilatus gesê het, is wat Hy hier in Handelinge vir Sy dissipels gesê het en steeds vir ons sê.

      Jesus praat ook hier van die Waarheid, maar dan impliseer Hy dat ons getuies moet wees - hoe kom ons daarby uit? Die Engelse woord vir getuie, is witness en die voorvoegsel wit kom uit die antieke Engels wat om te weet (to know) beteken. Daarmee saam beteken a wit dus iemand wat oor kennis beskik en daarom is n witness of n getuie dan iemand wat oor kennis van die Waarheid beskik en hy mag nie stilbly daaroor nie - nee, hy móét daaroor getuig. Ons moet derhalwe in opdrag van Jesus getuig oor en van die Waarheid wat Hy aan ons gegee het en waaroor ons beskik.

      In die verlede - en ek sê, in die verlede omdat dit grootliks, tot gladnie meer n realiteit is nie, kon ons die Evangelie m.b.v. wetgewing bv. met die inwoners van ons land deel, maar daardie dae is verby en ons moet uit ons gemaksones beweeg, waar ons dink en aanvaar dat ons n Christelike land is en dat die staat en skole en Radio Suid-Afrika (nou RSG) en koerante, ens. die Evangelie openlik of subtiel met die landsburgers deel - nee, ons moet wakker skrik en ons roeping begin vervul - ons roeping soos deur Jesus net voor Sy henelvaart aan ons opgedra.

      Hoor wat skryf Johannes in Openb.12:11 waar dit gaan oor die gelowiges wat die oorwinning oor die satan behaal het ~ En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. Hulle het oorwin deur die Bloed van Jesus EN deur hulle getuienis teenoor die wêreld. As ons staande wil bly teen die aanslae van die bose, móét ons ook getuig!

      In die boek van Handelinge word die uitdrukking vervul met die Heilige Gees, veertien keer gebruik, waarvan tien verwys na die huidige era waarin ons leef en in elke geval waar n persoon of persone vervul is met die Heilige Gees, het dit onmiddellik gepaard gegaan met n kragtige getuielewering van Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker - n absolute merkteken van wedergeboorte! Getuig ek en jy teenoor die wêreld van Jesus Christus die Verlosser en Saligmaker?

      Ons moet - nee, kan ek eerder sê, ons moet wil getuig en ons kan watter verskoning onder die son ookal aanbied - dit sal nie afgaan nie, want dit is nie ons wat getuig nie, maar die Heilige Gees in en deur ons - ons moet net die gewillige en gehoorsame instrumente in Sy hand wees en Hom volkome vertrou, dat Hy die werk sal doen.

   God se Koninkryk beskik oor n veelvuldige burgerskap:
      Die dissipels het net een nasie en een volk in gedagte gehad met hul vraag aan Jesus, maar Jesus verbreed hul horisonne en Hy belowe hulle dat hulle onder leiding van die Heilige Gees, getuies vir Hom sal wees vanaf Jerusalem tot aan die uiteindes van die wêreld. Sy Koninkryk sou ver oor aardse landsgrense strek en burgers van Sy Koninkryk sal saamgestel wees uit God se uitverkorenes onder elke ras, volk en taal oor die wêreld heen. God se Koninkryk is nié eksklusief gereserveer vir witmense nie en nog minder net vir die Afrikaner - die Koninkryk van God is n Koninkryk van veelvuldige burgerskap.

    Die dissipels het uiteindelik na Sy hemelvaart, hierdie feit verstaan en hulle het die Evangelie verkondig aan alle mense en rasse en so moet ons dit ook doen en as ons nie na verre plekke kan gaan nie, moet ons op een of ander wyse ook by mense betrokke raak wat wel daar op die voorpunt is (ek sal dit later verder toelig).

   God se Koninkryk brei geleidelik uit: Die dissipels se vraag het spesifiek n tydskedule daaraan gekoppel gehad ~ Here, is dit nou die tyd (v.6)? In Luk.19:11 lees ons ~ Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog 'n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom. Waarom vertel Hy hier in Lukas, csnog n gelykenis? Omdat die mense steeds gedink het, dat Hy die volgende koning van Israel gaan wees en Hy vir hulle daarop wys dat hulle growwe aannames maak en dat hulle net na hulle eie vleeslike begeertes en ideale luister en nie met geestelike ore na Hom luister nie.

      Met dieselfde gesindheid en vooropgestelde idees dink die dissipels steeds dieselfde as die res van die mense - die aardse koninkryk gaan gevestig word, maar Jesus gee vir hulle n tweevoudige antwoord:
-     V.7 ~ Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Jesus maak dit duidelik aan hulle dat beide tyd [χρόνος (chronos)] en die geleentheid of omstandighede [καιρός (kairos)], deel uitmaak van God se plan en dat net Hy weet wanneer en onder watter omstandighede dit sal plaasvind en daarom moet die dissipels hulle nuuskierigheid onderdruk en tevrede daarmee wees dat hulle nie insae in God se geheimenis wat hierdie saak aan betref, sal hê nie, trouens Jesus het dit alreeds vantevore vir hulle in Mark.13:32 gesê ~ Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.

      Eerstens het ons dan gesien, het Jesus in reaksie op Sy dissipels se vraag t.o.v. die vestiging van n nuwe aardse koninkryk vir die volk, gesê dat hulle nie so n vraag moet vra nie, want niemand weet wat die Vader se besluit hieroor is nie. Jesus laat hulle egter nie met ontnugterde harte oor hul onbeantwoorde vraag gelaat nie, want Hy gee
      -     in die tweede plek vir hulle iets om oor opgewonde te wees en na uit te sien ~ julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom (v.8a). Wat is die doel in hierdie konteks met die belofte van die Heilige Gees? Sodat Sy dissipels - alle gelowiges dus, van die uitstorting van die Heilige Gees, tot en met Sy terugkeer na die aarde, bemagtig en bekragtig sal wees om Sy getuies te wees; om die Evangelie uit te dra  ~ in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.

5.   DIE OPDRAG (v.8b):         
      Toe Jesus in v.8b gesê het ~ en julle sal my getuies wees - het Hy geprofeteer, of het Hy n opdrag gegee? Het Hy gesê, julle sál my getuies wees, of het Hy gesê, julle moet my getuies wees? Die antwoord is beide. Jesus het in Sy soewereiniteit dit so verodineer dat Sy dissipels om Sy getuies sou wees (profesie dus), want hulle sou (tot vandag toe) die Blye Boodskap oor die lengte en die breedte van die aardbol uitdra, maar terselfdertyd het Hy dit ook as opdrag aan Sy dissipels gegee - julle móét dit doen!

      Indien hierdie belofte en opdrag ook op ons as 21ste eeuse gelowiges van toepassing is (en dit is), dan moet ons besef dat húlle Jerusalem, ons onmiddellike omgewing is waar ons Christus dien - ons bure; ons kollegas; ons ongeredde vriende en familie. Ons Samaria sal die groter Vaaldriehoek wees en verder - vreemdelinge in ons omgewing en buite ons dorpsgrense dus. Ons uiteindes van die wêreld sal die res van die wêreld wees, waarheen van ons geroep kan word, of waarheen ons as gemeente iemand kan uitstuur, of iemand wat vanuit n ander gemeente na n ander wêrelddeel uitgestuur is en by wie ons finansieel en/of materieel betrokke kan raak, asook d.m.v. korrspeondensie ten einde sulke sendelinge te bemoedig, asook voortdurende voorbidding vir hulle en hul bediening.

      Wat ons Jerusalem aan betref, is daar iets waarop ons baie spesifiek moet let en dit is dat ons motief nooit mag wees om in die eerste plek lidmate vir die gemeente te werf nie, maar om die Blye Boodskap van genade, vergifnis, verlossing en redding aan n verloregaande wêreld te verkondig - indien e.g. ons motief is, sal ons nooit menslik gesproke, sukses ervaar nie - uiteindelike lidmaatsakp is sekondêr. Kom ek maak dit bietjie meer duidelik. Ons móét die Evangelie verkondig en wanneer iemand tot wedergeboorte kom, móét so iemand deel word van n lewende Kerk, of -gemeente ten einde dissipelskap en lering te kan ontvang en gemeenskap met ander gelowiges te kan geniet en dan kan en moet so n persoon genooi word na ons gemeente, maar lg. mag nooit ons primêre uitgangspunt wees nie (l.w. ek praat nie van gelowiges wat in kerke sit waar die Waarheid nie verkondig word nie - hulle kan en moet genooi word)

      Wat baie interessant is, is dat Jesus se laaste twee opdragte en Sy laaste belofte aan Sy dissipels, alles te doen het met die uitdra van die Evangelie - so asof Hy wou hê dat Sy laaste woorde vir die res van Sy dissipels se lewens in hul ore moes weerklink. As jy vandag afskeid moet neem van n geliefde wat jy weet, jy nooit weer gaan sien nie - dalk lê hy of sy in jou arms en is besig om te sterf - wat dink jy sal sy of haar laaste woorde aan jou wees - hoogs waarskynlik die heel belangrikste woorde wat daardie persoon wil hê jy vir die res van jou lewe moet onthou? Miskien, nee hoogs waarskynlik sal jy ook vir die res van jou lewe daardie woorde in jou ore hoor weerklink en daarom wil ek dit waag deur te sê, dat Jesus Sy heel belangrikste opdrag aan Sy dissipels gehou het vir laaste.

      Kan ek dit nog verder waag deur te sê dat ons dalk ons eie geestelike toestand kan meet aan ons gehoorsaamheid (of ongehoorsaamheid) aan hierdie heel laaste opdrag van Jesus en as dit waar is, kan ons dit verseker ook meet aan die stand van ons gemeente se geestelike lewe - Geliefdes, waar staan jy - waar staan ons? Waar staan ons régtig?

6.   AFSLUITING:
      Die probleem met baie gelowiges - en ons moet ons hieraan toets om vas te stel of ons nie op presies deselfde plek is nie, is dat hulle vir hulleself sê dat hulle gered is; dat hulle in n goeie of lekker en gawe kerk is - alles is aangenaam, in plek en geroganiseerd en daarom fokus ek nou op my eie heiligmaking; my geestelike groei; my gemeenskap met my broers en susters en ek wag met groot opgewondenheid op die koms van Christus.  Of hulle sal sê dat die Here hulle nie geroep het nie - nie spesifiek geroep om n evangelis of sendeling te wees nie.   Baie dikwels is dit n hele gemeente se gesindheid - n totale afwesigheid en apatie as dit kom by Jesus se Groot Opdrag.

      Jesus Christus moet ons primêre fokus in leer en lewe wees en dan moet ons in afhanklikheid van die Heilige Gees, utreik en die Evangelie met verloregaande mense deel. Ons moet bid en vra dat Hy ons meer en meer met die Gees sal bemagtig en dan moet ons in vertroue en geloof uitstap en begin doen. Is dit werke - goeie werke? Nee en ja. Christus het vir ons die opdrag gegee om dit te doen en daarom moet ons dit doen - dit is werke ja - gehoorsaamheidswerke, maar ook dankbaarheidswerke - dankbaarheid dat Hy Homself aan my geopenbaar het en my verlos het en my persoonlike verlossing moet soveel dankbaarheid in my lewe tot gevolg hê dat ek die Evangelie met andere moet en wil deel. Hoe dankbaar is jy en ek oor ons verlossing?

      Ek wil aflsuit deur twee verse aan te haal: Hos 4:6 ~ My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis., asook Rom.10:14-15 ~ Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Ons het Hom gehoor en ons het Hom aangeroep. Ons is almal geroep om te preek en ons is almal gestuur, daarom mag ons nie die Blye Boodskap weerhou van hulle wat Hom nog moet en wil aanroep nie; daarom mag ons nie toelaat dat mense rondom ons ten gronde gaan weens n gebrek aan kennis nie - kom ons maak Christus Jesus weer opnuut die middelpunt van ons lewe en wees gehoorsaam aan Hom, sodat daar dan ook van ons gesê kan word ~ Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 21 Junie Mei 2015